Meer as ‘N jaar lank is daar gedink, gewoel, beplan, idees neergeskryf, mini -senu-ineenstortings gekry, hoera-idees uitgedeel, herdink, herkou en gewerk, en veral gestres. Om jou oud-matriekklas se 50-jarige reünie hier op die Suidpunt van Afika te beplan, was vir my ‘n eer, ‘n uitdaging en ‘n vinnige manier om 10 – 20 jaar ouer te word.
Eerstens was daar die weer. As ‘n mens by die see kom kuier, moet mens die see ervaar. Dus: wat van ‘n boottrippie in Struisbaai se pragtige baai? ( ag seker easy peazy, om te reël, né?) En wat van sjampanje by die Suidpunt van Afrika- ons eerste en allebelangrikste clame to fame? En hoe sal dit wees as ons daar 50 duiwe loslaat vir die 50 vervloë jare? ( hier is seker tog baie duiweboere?) En natuurlik moet ons daar ‘n kanon ook skiet. Hoe dan anders? Het ons Sasolburg Hoërskool dan nie ou Grietjie, ons eie kanon gehad wat vir ons ere-saldo’s geskiet het as ons goed doen in iets nie? En dan moet ons ‘n aanddinee hê- met mooi 60s musiek, né? Ah- Sasolmannetjies moet mos plek aanwys soos in die ou dae!

Sasolmannetjies as plekaanwysers
Beligting? Ek het mos nog Sasol – was van ‘n kersmaakgier 50 jr gelede. Allekruk-kerse op die tafels en 4 groot lang kerse om die Sasolskoorstene te verteenwoordig moet gemaak word. En waaraan dink jy as jy aan ons dorp dink? Die fabriek natuurlik. Hy moet daar wees! Daar moet ‘n kitty wees – en goodiesbags! En presentjies, en spesiale sjampanjeglase en wyn met spesiale etikette! En ons spesiale Sasolvlae! En….

50 goodiesbags geverf

50 Allekruk kerse

Vrydagaand by Seashack met hulle heerlike gratis port om die koue te verdryf
Liewe Trudie maak pragtige vlae, en my liewe man Gert speel heeljaar kanon- kanon totdat hy 50 kleintjes gemaak kry vir die tafels, 2 kleinjties wat kan skiet vir ons tweelingkleinkindes, en ‘n groot speelgoedkanon wat darem ‘n knal moet kan gee by die suidpunt van Arika.
Maar ai, met 4 seisoene op een dag en ons beroemde yskoue winters in September, was daar net een genade: bid en glo en bid weer. Ten spyte van al die gebede om reën in hierdie drooggeteistede gebied, het daar ‘n ou yl, wanhopige gebedjie opgegaan. Laat dit asseblief nie reën op 15 Sept nie. Laat die wind tog asseblief nie waai nie. Laat dit tog asseblief ‘n mooi dag wees.
Op die ou einde was die weer die maklikste: al wat jy kan doen is bid en glo en vertrou. En dit het gewerk! Wonderlik!
Die boottrippie was ‘n ander storie. Niemand het genoeg bote nie, niemand kan 50 passasiers gelyk hanteer nie, maar die booteienaars is ook nie bereid om saam met ander te werk nie. Na maande wat ek hand en mond beloof is deur verskeie rolspelers en daar dan verder niks gebeur het nie, het ek op die ou einde besef dat ek self individuele eienaars sal moet opspoor en huur. Dit het ek ook so gedoen. Die een man kon 20 gaste neem op 3 bote @ R400 per persoon. Die ander eienaar kon 20 gaste neem op 2 groter bote @ R300 per persoon. Alles duur, maar klopdisselboom – of so het ek gedink.. Ons kry n borg wat onderneem om die hele boottrip te betaal! Dankie Wim!
Maar met baie sielkunde, paai en geld onder die tafel deur, was ek die dag voor die trippie steeds nie seker of ons op ‘n leë hawe sou afkom nie, want die een eienaar wil nie ry as die ander een ook ry nie ens ens. Weer is my baie gebede verhoor. Die bootjies was daar, die see was wonderlik en die walvisse het ook besluit om in die baai te baljaar.
Dan was daar die duiwe sage. Die een boer vlieg nie, die ander het nie genoeg duiwe nie. ‘n Ander een verhuur sy duiwe teen R 2 elk en ek huur gretig, maar toe ek hom so 2 maande gelede herinner, het hy al sy duiwe permanent verkoop en die nuwe eienaar vlieg nie. Na maande se rondbel was ek dus weer waar ek begin het. Gelukkig het my nefie duiweboer kontakte en so ‘n maand voor die funksie kry ek hulle: 50 duiwe en wit op die koop toe daarby. Hulle was wit en pragtig teen die donker see, en het hopelik almal veilig weer huis toe gevlieg.
Tussen die duiwe en bootsoekery deur, het my man besluit om ‘n kanon te bou en ek ‘n batik gemaak van die Sasolfabriek . Die kanon was ‘n glorified aartappelgun, maar met baie eksperimente en probeerslae en baie gebede het hy ook op die ou einde perfek gewerk – en ‘n appel geskiet dat hy daar trek! Die kanon tradisie is iets wat net ‘n oud Sasolleerling sal verstaan, en ek hoop dat my medematriekmaats sal besef dat hierdie kanon met liefde vir hulle geskiet het, en ook vir mnr Pellissier, ons geliefde oud-onderwyser wat op 93jarige ouderdom ons funksie kon bywoon.
Daar op die suidpunt van Afrika het ons toe die duiwe losgelaat, die kanon geskiet, die spietse gemaak en toe ‘n glasie sjampanje geklink – op onsself, op die Suidpunt en op die geleentheid. En alles was wonderlik, kompleet met caterer Alida se heerlike eetgoed.
Die aand het ons gewine en dine in style, met ons wonderlike 60’s musiek en die volgende oggend het TINA vir ons ‘n baie besondere dankseggingdiens in Struisbaai se ou kerkie aangebied. Lord, for all that has happened – Thank you. For all that is about to happen -Yes!
End goed, alles goed en vriendskapsbande is opnuut versterk.

En nou is dit tyd om die huis op te ruim, die waskerse te bere, die foto’s te liaseer, en terug te keer – back to reality!











Op ‘n skryf-safari gaan die paadjies met kronkels en draaie – soms glad en glibberig, soms opdraand en moeilik.








Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.