Die gelukkige haai

Eendag , lank gelede, was daar ‘n haai. ( Ek kan nou nie se presies hoe lank gelede nie, want ek kom nie by die navorsing uit nie, maar julle kan verseker wees dat dit ‘n ware verhaal is, net uit die vuis vertel, soos ek dit nou het.)

Hierdie haai was ‘n skeurtandhaai en hy het lekker daar in Natal se waters rondgeswem ( en wie weet waar oral nog – hy was lief vir rondreis). Op ‘n goeie dag swem ou Tandjies per ongeluk in die haainette van Durban vas. Hy spartel en sukkel om los te kom, maar verniet. Hy is heeltemal verstrengel in die toue.

Die haai sou net daar gevrek het, soos so baie ander haaie voor hom, maar soos sy geluk dit wou hê, het die manne wat die nette patroleer, gekom net voordat hy dood was. Die manne maak die nette skoon en verwyder dooie vis, maar Tandjies was egter nog lewendig. Hulle merk hom met hulle vismerkers wat aandui waar en wanneer hulle hom gekry het, en laat hom vry.

Kan jy glo dat hy so gelukkig was? Ek glo dat Tandjies, hoewel al swak, sommer ‘n paar bokspringe moes gegee het van blydskap, en gesorg het dat hy so gou as moontlik so ver as moontlik van die aaklige nette af geswem het.

‘n Paar jaar later, hier op Struisbaai naby die Suidpunt van Afrika, vang daar eendag 2 ouens vis op die plaat. Die plaat is die lang stuk breë sandplaat ( die langste in die land) van Struisbaai se pragtige sandstrand. Dit is ongeveer 1991-2, want dis kort nadat die Twee Oseane Akwarium in Kaapstad begin het. Omdat Kaapstad eintlik net EEN oseaan het, die koue Atlantiese oseaan, het hulle mos baie van die vis hier op Struisbaai kom vang en ook tenke vir die doel by Struisbaai hawe gehad.  Die tenke was egter nou al weg.

Ewentwel ( soos my pa sou sê), die twee ouens vang nog so vis, toe kry hulle ‘n tamaai ding aan die lyn: Dis ou Tande wat ongelukkig die verkeerde hap gevat het. Hy is vas – die keer aan ‘n vislyn.. Toe die manne vir Tande inkatrol en sien dat dit ‘n groot skeurtandhaai is, gaan hulle oor ‘n hoogste versnelling. Hulle weet dat die akwarium nog ‘n skeurtandhaai soek en hierdie een lyk net reg, maar hulle is MYLE van alles af!

Tande word op die bakkie gelaai en daar word gejaag na die naaste dam vol seewater. Die naaste plek is die Agulhas getypoel, ‘n afstand van ongeveer 10-15 Km. Ek verbeel my hulle het dalk ‘n nat handdoek om die haai gegooi en dalk die aasemmer vir water gebruik, maar hoe dit ookal sy, toe hulle so 20-30minute later by L’Agulhas se swembad kom, het Tande nog geleef: net-net.

Een van die ouens het by  Tande in die water geklim en hom gehelp en ondersteun tot hy weer  op sy eie begin swem het. Toe is die akwarium gebel. By nadere ondersoek vind hulle toe uit dat die dieselfde haai is wat ‘n paar jaar gelede uit die kloue van die haainette in Durban gered is. Die tweede keer ( waarvan ons weet) dat Tande die dood rakelings vrygespring het.

Nou moet ek eers die storie hier onderbreek. Vandat ek kan onthou ( en dis so die afgelope 57 jaar), swem klein kindertjies lekker in die poel, totdat iemand vir jou sê:” Daar’s ‘n haai in die swembad!” Jy skrik jou lam en is baie bang, al weet jy voor jou heilige siel dat dit sekerlik net ‘n bangmaakstorie is. Elke jaar is dit dieselfde storie . Iemand sweer hoog en laag dat hulle ‘n haai in die swembad gesien het. En as jy groter is, vertel jy self vir die nuwe onskuldiges dieselfde storie.

Wel, uiteindelik, hier ongeveer in 1992, is dit toe waar: Daar’s ‘n haai in die swembad! Ons gaan almal kyk na die rare verskynsel.

Die Twee Oseane het gekom, en Tande is vervoer na sy nuwe tuiste, waar hy vir iets soos veertien jaar lank gewoon het, en deur al die besoekers bewonder is.

Dit is egter nie die einde van die storie nie. Na  baie jare, besluit die Akwarium dat ou Tande nou lank genoeg gewerk het. Dis tyd dat hy weer sy vryheid terugkry. Hulle laai hom in ‘n tenk, en bring hom terug Struisbaai hawe toe. Daar by Struisbaai, in die diepsee, word Tande weereens gemerk en vrygelaat- die derde keer wat die geluk aan sy kant is.

Wie weet wat van ou Tande geword het? Ek hoop hy woon lank  en gelukkig in die grote oseaan.  En as hy weer in die moeilikheid raak, hoop ek daar is weer iemand om hom te help.

Fluit- fluit, my storie is uit.

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in Die Overberg: my wereld., feeverhale en ander stories, Seestories. Bookmark the permalink.

13 Responses to Die gelukkige haai

  1. toortsie sê:

    Dis SO ‘n mooi storie!! Ja, ek wonder wat van hom geword het?

    • seegogga sê:

      Ek wou graag eers akwarium bel om korrekte datums ens te kry, maar ek het besef dat ek nooit sover sal kom nie, en dus nooit die storie vertel nie. Daar het nou die dag iemand( die nuwe eienaar vvan Spur!) ‘n groot skeertand net langs die hawe gevang. Hy was reeds getag. Hulle het hom gelukkig teruggesit. Maar se- nou net dit was ons gelukkige haai? Dan is hy sowaar SUPER gelukkig ( maar natuurlik ‘n superwaaghals ook- hy’s aanmekaar in die moeilikheid!)

  2. BB sê:

    Dit IS ‘n awesome storie, ja!

  3. Olga sê:

    Al ie gelukkies maan van tande n meesterhaai n legende. dink net as ons nou sy kant van die storie kon hoor.

  4. seegogga sê:

    Ek moet se, hierdie storie, nes die van Parrie, is vir my wonderlik! Watter wondelike goeters gebeur daar nie in die wereld nie.

  5. Bella sê:

    Sjoe, dis ñ mooi verhaal. Kom ons hoop maar hy is nog veilig.

  6. seegogga sê:

    Hallo Bella, welkom hier!

  7. Terug pieng: Twee plesietjies en ‘n lekkerleesboek vir ‘n goeie doel. | Seegogga se Bloggie

  8. Terug pieng: Seeskatte | Seegogga se Bloggie

  9. Terug pieng: 4 jaar | Seegogga se Bloggie

  10. Terug pieng: Hoe het Seegogga gebeur? | Seegogga se Bloggie

  11. Terug pieng: die lewe is ‘n feeverhaal | Seegogga se Bloggie

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s