Die draad: ‘n kinderherinnering of twee

“Wat is jou heel lekkerste kinderherinnering?” vra Sonel.

Die heel gelukkigste herinnering? Ek probeer dink. Daar is te veel. En daar is ook niks besonder uitstaande nie. Ek was ‘n gelukkige kind met gewone ervarings, meestal baie lekker.

Die lewe was ‘n avontuur en ek het elke oombik geniet en beleef, veral met ‘n bietjie van ‘n alternatiewe pa. Of sal mens liewer sê: eksentriek? Individualisties? Way -out anders?  So prim en propper my ma was, so anders was my pa. Ek onthou hoe ons elke liewe jaar die 24ste Des in die pad geval het en dwarsdeur die nag van Sasolburg na Struisbaai toe gery het. My ma het agter lê en slaap, maar ek het die heelnag deur kiertsregop langs hom gesit, en dan het ons gesing dat die dak lig. Vandag nog is ek baie lief daarvoor: die ‘Voortspoed deur die nag’. Die lig stoot die pad voor jou oop en die donker vou hom agter jou toe. Daar is iets magies daaraan.

Ek onthou hoe my pa my leer harders vang het op een van die skuite in Struisbaai se Skuitbaai, met ‘n visstok ( hulle eet net aan vislewer), en  hoe hy my o.a. leer seekat en skilpad eet het.

Ek onthou hoe my ma vir my die pragtigste rokkies gemaak het. Ek was beslis die dogtertjie met die mooiste rokkies op die hele Sasolburg en ek moes gereeld aan klein modeparadetjies deelneem. My ma het selfs ons skool se skooldrag ontwerp. Toe ek as sub A’tjie na die AJ Jacobs laerskool toe is, het die skool nog nie ‘n skooldrag gehad nie en almal het gedra wat hulle wil. My ma het vir my ‘n pinafore gemaak wat ‘n mens bo-oor ‘n skoolhempie kan dra. Nie lank nie, toe roep die onderwysers my. Ek moet pouse in die personeelkamer om die tafel kom stap. Ek was heel skrikkerig en het gewonder wat ek verkeerd gedoen het. Maar daardie middag het die hoof my ma kom sien en haar gevra om so ‘n patroon op te trek, wat toe die skooldrag geword het. Dit het nooit verander in die 18 jaar wat ons daarna nog op Sasolburg gewoon het nie. Ek sien haar voor die naaimasjien in die kamer, of elders in die huis, besig om die mooiste goed te maak: Klere, kunsnaaldwerk, bedoortreksels,  blommerankskikking, skilder, kos, daar was niks wat sy nie absoluut uitstekend kon doen nie. Ek onthou ook hoe lekker ons saam duete op die klavier gespeel het en hoe sy soms weggetrek het met die eerste 2 dele van die Maanligsonate , Liebestraume of Invitation to the dance.

Maar my arme ma moes dalk heimlik teleurgesteld gewees het dat ek, haar enigste kind, eintlik ‘n vreeslike tomboy was,  wat nie kon omgee oor hare, klere of netheid nie, want die ding wat die meeste hier in my kop spring, is die draad.

Die draad tussen ons en die bure was afgerem  – met een groot uitgetrapte gat reg in die middel en langs een van die regop paaltjies.  Dit is hier waar ek en Tertius en Louistjie elke liewe dag kort-kort heen en weer oorgeklim het om in ons erf of in hulle erf te speel. Vandat ons daar ingetrek het toe ek 5 was, totdat ons 13 jaar later uit die skool is, was hulle my heel beste maatjies en was ons heeltyd bymekaar. As ons nie in ons populierboom rondgerits het nie (en ons het geglo die boom kan met ons praat), het ons bollemakiesie geswaai in hulle druiwepriëel. As ons nie wegkruipertjie of blikaspaai gespeel het nie, het ons onder hulle vrugtebome paadjies en plase gebou vir ons dinkytoys en plaasdiertjies. As ons nie op hulle garagedak telefoontjie gespeel het met kondensmelkblikkies en tou nie, het ons huis-huis gespeel onder ons grenadilla priëel op my pa se Austin bakkie. As die grenadillas nie ons kos was nie, het hulle mossies geskiet wat ons gebraai en geëet het – of ons het ons fietse gevat en spoorsny gespeel, al die pad laerskool toe en na die park met die swaaie en speelgoed.

(Vandag nog sal ek heel smaaklik aan ‘n rou aartappel eet. Met my potte en pannestelletjie het ons kos gemaak in die leë erf aan die anderkant van ons huis. My ma het gewoonlik vir ons ‘n aartappel of wortel gegee, wat ons dan entoesiasties geskil en in soutwater gekook het. Maar as jy met gras ‘n vuurtjie maak, en jy is klein, vat so ‘n aartappel eenvoudig te lank. Sodra die water louwarm was, was ons moeg gewag, en het dan sommer besluit dat die kos nou gaar is. Menige louwarm souterige  rou aartappel is so geëet.)

Ons het ook dikwels Cowboys en kroeks gespeel. Elkeen se speel-speel perd het altyd diesefde naam gehad ( myne was Black Beauty, Tersie s’n Tigerfish, en Loekie, wat nog baie klein was, s’n was Bles). Ons almal was cowboys. Die kroeks was denkbeeldig en ons het hulle links en regs platgeskiet.

Ek onthou die modderdamme wat ons in die grondpad agter ons huise gebou het as dit gereën het, die kaskarre wat ons gebou het, en die vlieënde rysmiere wat ons soms vir my pa moes vang vir sy visaas.

Al hierdie dinge en soveel meer word saamgevat in daardie ou afgeremde draad. Ten spyte van  die grootmense se gereelde vermanings, was dit net eenvoudig te veel moeite om hek-om na mekaar toe te stap. Dit was baie vinniger en veel lekkerder om oor die draad na mekaar toe te wip, en met die jare het die draad aangepas asof hy spesiaal so vir ons gemaak is.

Ek wens iemand het daaraan gedink om ‘n foto van die ou draad te neem. So ‘n foto sou my gelukkige kinderjae in een prentjie kon saamvat.

die draad 001.jpg

 

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die

paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=781922

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in Los opdrifsels, skoolstories. Bookmark the permalink.

29 Responses to Die draad: ‘n kinderherinnering of twee

  1. Mooi man, dis nou n lekker vertelling hierdie. Baie van die dinge wat jy noem het ek ook ondervind. Ons is net drie meisiekinders maar oorkant ons het drie seuntjies gebly en ons het ook te heerlik oor en weer gespeel.Daardie langs my Pa sit as daar langpad gery word was vir my ook lekker. Ons het ook allerhande raai-raai speletjies gespeel. Of eerste volkswagen wat jy sien is joune. Ook registrasie no waar hul vandaan kom.

  2. dromer777 sê:

    Wonderlike kinderjare wat jy gehad het. So bevoorreg

  3. Voorwaar idilliese kinderjare.

  4. Terug pieng: Die draad: ‘n kinderherinnering of twee | Seegogga se Bloggie

  5. Toortsie sê:

    Joe! ‘n Hele mondvol!
    Skilpad eet!
    Sjoe, jou ma was fenominaal. In my huis hang nog een van haar skilderye.

  6. VirgoC sê:

    Wonderlike herinneringe en so lekker vertel. Dankie vir deel van dit🌻

  7. travel460 sê:

    O, ek weet sommer jy het heerlik hieraan geskryf, Seegogga! Jou kleintyd herinneringe is wonderlik.

    • seegogga sê:

      Ja dit was so lekker, Una. Sommer gewone kinderdae, maar hulle was lekker. Ek het nie plek gehad om van die jaarlikse uitstappie Paasskou toe ook te vertel nie, maar jy weet self hoe lekker dit ook was.

  8. sonell sê:

    Ek kry sommer saam jou lekker. Dit is behoorlike lekker herinneringe.

  9. Ai, ek het nou so lekker saam met julle driemanskap gespeel!

  10. Maar daar is dan ‘n foto seegogga! As ek joune gelees het voor ek myne geskryf het, het myne anders gelyk. Ek het ook so ‘n draad geken en ‘n Okkerneut en Appelkoosboom by die bure in Transvaal. Baie mooi geskryf en geniet om te lees

  11. Kameel sê:

    Ek het nou heerlik aan jou kinderlewe gelees. Jou ouers klink na twee pragtige mense.

  12. Dit was nou ‘n heerlike lees, Seegogga!

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s