Dit het my lank geneem om hieroor te skryf , maar dit moet uit.
Hieronder sit Pollie, my bure se ringnekpapagaaitjie, en ek is so bly ek kon die spesiale oomblik tussen haar en my Grietjie-kat vasvang.

Pollie en Grietjie deel ‘n spesiale oomlikkie
Pollie het as verkrikte en versigtige voëltjie so ‘n jaar gelede na ons toe gekom omdat die bure haar nie meer wou hê nie. Sy was baie hokgebonde, al het hulle vir my gesê dat hulle die deurtjie sluit omdat sy dit self kan oopmaak.
Ek het nooit die deurtjie gesluit nie, en bedags oopgemaak omdat ek juis wil hê dat sy uit die hok moet kom en rondvlieg. Sy het ook nooit by my huis haar deurtjie oopgemaak nie, omdat sy meestal net snags toegemaak is in die hokkie. Ek het dus heeltemal vergeet dat sy dit kan doen.
Dit het lank geneem voor Pollie begin uitklim het, want sy het verseg om op my vinger te klim. Sy het wel later self uit haar hok geklim en nog later met vertroue in my kombuis begin rondgevlieg. Sy het toe ook sommer al my kleinkinders se prentjies van die kasdeurtjies afgeskeur, die papierborde versnipper, en die houtrame van die kasdeurtjies heeltemal voos gekou! Ja, Pollie het groot skade in die kombuis veroorsaak, maar dis ou deurtjies, waaroor ek nog nooit mal was nie, hulle sou tog een of ander tyd vervang moes word en who cares?

Pollie se werk
Pollie het my eie ringnekkie, Bekkie, heeltemal verskrik. Hy het van haar af weggevlug. Hulle wou regtig niks met mekaar te doen hê nie. Tog was sy nie kwaai nie, eerder net versigtig en effe bang. Sy het later meer tuis geraak in die huis en beter begin vlieg en die hele huis begin ken. Sy het meer selfvertroue gekry en selfs een of tweekeer op my skouer kom sit. Ek was so bly dat sy begin selfvertroue kry het en tuis begin voel het. Sy het egter steeds volstrek geweier om op my vinger of arm te kom sit, en sou eerder ‘n lekkerny mis as om die “step up” roetine te doen.
Ek is so spyt dat ek nie baie meer tyd spandeer het om haar dit te leer nie, maar dit was vir my ‘n besige jaar en tyd min.
Soos gewoonik het ek die voëltjies veilig in hokkies, buite toe geneem en die sproeiers aangesit vir hulle gereelde badsessie. Bekkie het ‘n spesiale badhokkie, maar Pollie het gebad in die enigste hok wat sy ken. Pollie het ook ‘n spesiale voëlbad in haar hokkie en sy geniet altyd haar bad baie. Ek het ‘n draai deur die tuin gestap en toe ek weer by die voëltjies kom, sit Pollie bo-op haar hokkie . Sy was rustig en het op haar een been gesit en rus, maar ai! Sy is buite!
Ek, wat nou al met die jare geleer het om nie paniekerig te raak as Bekkie uitvlieg nie, raak toe paniekerig! Ek het nooit met Pollie om die huis gestap soos ek altyd met Bekkie doen nie – haar hok is vir my eenvoudig te swaar, en sy laat nie toe dat ek haar vashou nie. Sy ken nie die omgewing soos Bekkie nie, sy ken nie ons huis soos Bekkie nie, en haar regte huis is oor die straat, waar hulle toe besig was om die hele huis oor te doen -dis bouers en lawaaierige masjienerie en alles wat ‘n voëltjie sal verskrik.
En in plaas daarvan dat Polllie skrik, skrik ek en my brein slaat bottoe.
Nogtans probeer ek my reëls onthou. Praat kalm en rustig. Doen alles gemaklik en stadig. En Pollie is rustig en kalm. Maar hoe om haar terug in haar hok te kry?
Liewe land, hoe kon ek vergeet het van lekker grondboontjiebotter of ‘n broodjie of ‘n pekanneut?? ‘n Lekkerny is noodsaaklik! Waar was my verstand? Ek het gou haar kos gaan haal en ingesit, maar geen spesiale lekkerny nie!
“Hok toe! Hok toe” het nie gehelp nie, want daar was niks lekker in die hok om na uit te sien nie. Toe besluit ek, (FOUTIEWELIK!!!) om stadig die hok op te tel en na binne te dra. (NEE, NEE NEE JOU IDIOOT!).
Pollie was rustig, maar met elke tree na die voordeur het sy meer ongemaklik begin voel, begin rondskuiwe, en net voor ons binne is, trek sy daar weg, vlieg oor die straat na haar ou huis toe, draai om, en weg is sy saam met die sterk wind.
Ek het geroep en gesoek – dae lank, noodoproepe op Facebook gemaak, plakkate op strategiese plekke opgesit, belonings belowe, maar niks. Pollie het soos ‘n groot speld verdwyn. Ek het haar nooit weer hoor roep nie, niemand het op my plakkate gereageer soos destyds toe Bekkie deur die buurman gevange geneem is nie, niks.
EN DIS ALLES MY SKULD.
LIEWE POLLIE – EK HET JOU GEFAAL. EK IS JAMMER.
Dis nou al ‘n paar maande later. Ek luister steeds saans of ek dalk ‘n ringnekkie hoor. enetjie wat “Hallo Pollie!” kan sê, of sommer net fluit. Maar dis net ander wilde voëltjies wat ek hoor. Pollie is weg, omdat ek my eie reëls oortree het.
Slotsom: Vertroosting.
Pollie se vlerke is nie geknip nie en sy kan goed vlieg. Ek glo sy sal kan oorleef en ek hoop van harte sy is nog iewers daar buite en veilig.
Bekkie is beslis baie gelukkiger vandat Pollie weg is. Hy het begin om meer te speel as ooit tevore. In plaas van waaksaam erens op ‘n veilige plek te sit, speel hy nou graag weer met sy bal, wegkruipertjie en is duidelik ‘n vrolike voëltjie vol selfvertroue. ‘n Mens sien soms hoe lekker hy speel as hy alleen is, met niemand om hom stop te sit nie. Hy kou nie kasdeure nie, maar hou daarvan om al my servette uit te gooi; papiere of boeke wat rondlê ‘n bietjie te knibbel; margarien- en ander plastiese bakkies, grondboontjiebotter botteltjies en asynbottels ea met sagte plasiekproppies ens oop te maak. Een oggend toe ek see toe is, het hy AL my speserybotteltjies een vir een van die rak afgestamp, en natuurlik dit baie geniet as hulle met ‘n harde slag die teëlvloer tref. Genadiglik het net 4 gebreek.
My man is nou besig om vir my pragtige nuwe kasdeurtjies te maak van vloerplanke. Jippie!
.
Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.