Skryf safari: deur die venster

In opdrag van Kameel loer ons vannaand deur Struisbaai en Agulhas se huisvensters.

Tog snaaks hoe landstreke se gewoontes verskil. In die Vystaat en Transvaal ( ag wat is al daardie nuwe name nouweer?) word vensters bedek met gordyne sowel as kantgordyne. Niemand mag asseblief sien wat binne aangaan nie. Alles moet vreeslik privaat wees. Die braaiarea is in ‘n lapa, mooi omring en privaat. Die erwe het hoë mure om met dure elektroniese hekke. Die tuine meestal ‘n lushof met kunsmis, fonteintjies en netjiese -netjiese akkertjies. Maar o, solank alles tog net asseblief privaat is.

Hier op Bredasdorp en veral op Struisbaai en Agulhas is die lewe heeltemal anders. Die tuine is meestal so -so.  Naweke word see toe gegaan, nie in die tuin gewerk nie.  Kantgordyne, veral by die see, is heeltemal uit. Ons wil mos die see sien! Niemand gee ‘n duit om vir privaatheid nie.

Op Struisbaai en Agulhas is dit glad nie snaaks om mense voor in hulle tuin of op hulle stoep te sien braai nie: Geen muurtjie om hulle private kuiertjie privaat te maak nie, sommer so daar reg langs die straat braai hulle , oop en bloot vir almal om te sien. In die somer is dit is gewoonlik eers so 9-9.30nm saans, want voor die tyd is dit lekker om langs die see te wees. Die wind het ook daardie tyd meestal gaan lê en die aand is dan op sy lekkerste. Sodoende sien mens die pragtige sonsondergang, waai soms vir verbygangers, maar meestal is almal besig om baie joviaal te wees.

In die begin het hierdie “publieke braaiery”  my man, ‘n stoere Transvaler en BlouBul ondersteuner, baie gepla. Nou het hy bekeer en gee nie meer om nie. So het my kinders een aand heerlik in die pad gedans omdat die erf van die skoonfamilie te skuins was om lekker te dans. (Ok, nou nie die hoofpad nie, ‘n stil paadjie bokant die vuurtoring, maar tog in digbewoonde area. Die onbekende bure het sommer kom saam kuier).  As jy sommer so oop en bloot braai, sê jy ook iets. Jy sê: Ek is met vakansie! Kyk hoe lekker hou ek vakansie! Dis lekker by die see! Ek geniet myself en gee nie om wie dit sien nie! Ons is vrolik en gelukkig. Yes!

Die ander ding wat die mense op Struisbaai graag doen ( of juis nìe doen nie): Hulle trek nie saans hulle gordyne toe nie. Ek dink dit is net eenvoudig te veel moeite. Hulle sit dalk in hulle sitkamers en kyk na die see en sonsondergang , en later moet hulle die ligte aansit, maar kyk nog so ‘n bietjie na die maan op die water en later vergeet hulle dalk daarvan, maar niemand dink daaraan om die gordyne toe te trek nie. ‘n Mens ry dus in die hoofpad en sien hoe die mense in die een huis na die ander kuier, hier ‘n glasie klink, daar ‘n aansit ete het of voor op die stoep staan en braai. So net voor Kersfees is dit ekstra interessant om in die pad te ry en te kyk wat in die huise aangaan. Dit is niks snaaks om een tot twee Kersvaders in die verskillende sitkamers te sien nie. En die mense binne-in daardie sitkamers geniet hulleself so dat hulle nie omgee dat die wereld dit sien nie! En dis vir my lekker – soort van ‘n oorblyfsel uit die ou tyd toe die wereld nog veilig was, almal ontspanne is en niemand so erg gestres was oor hule eie persoonlike tyd en ruimte nie.

Dus geniet ek dit, as ek dalk saans skemertyd hier rondom Kersfees in Struisbaai se strate rondry, om deur die vensters te kyk na ander se geluk. Ons kry natuurlik die ‘odd’ Transvaler hier en daar wat fout vind met alles, maar ons steur ons nie te veel nie. Ons is te besig om die strand te geniet!

Want, en Toortsie sal kan saampraat: is ons nie hier op die lekkerste plek op aarde nie?

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=781709

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

glasie by suidpunt v Afrika.jpg

 

WP_20151225_11_43_47_Pro.jpg

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in Die Overberg: my wereld., Los opdrifsels, Seestories and tagged , , , . Bookmark the permalink.

26 Responses to Skryf safari: deur die venster

  1. Kameel sê:

    Ag dis nou so lekker, ek is skoon jaloers. Sal heerlik daar gaan rondstap en deur die vensters na die lewe binne kyk.

  2. Toortsie sê:

    Jy praat waar. My pa het my geleer om met sonsondergamng die gordyne toe te trek, sodat iemand jou nie dalk dophou nie. Veiligheid, jy sien, maar op Struisbaai trek ons regtig nie die gordyne toe nie. Die slaapkamer wel, sodat die son nie te vroeg inskyn nie. Die groot ou melkhoutboom gee genoeg privaatheid vir die aantrekslag in die oggend. 😁

    • seegogga sê:

      Ja, dit het ons veral in die begin baie gefassineer, dat almal se gordyne so oop is – nou nie die slaapkamers nie, maar die sitkamers. Laat saans sien jy nog die mense in hulle sitkamers sit en gesels. Vir my is dit nogal spesiaal van Struisbaai en Agulhas.

      • Toortsie sê:

        Daar is ‘n sorgvryheid. Tot kort gelede het ons voordeur nog wawyd oopgestaan tot laataand. Ongelukkig kan dit nou nie meer so gebeur nie.

      • seegogga sê:

        Sorgvryheid! Ja dis die regte woord.! Ja dis rerig jammer dat die sorgvryheid besig is om gestremd te raak. Skielik van so Augustus verlede jaar af het dinge begin verander….

  3. Ek is ook nie ‘n gordyne en mure persoon nie. As my buurman dan nou so ‘n begeerte het om my af te loer, sal ek nie in sy pad staan nie. My slaapkamergordyne is daar om die lig uit te hou as ek wil slaap.

  4. Moet sê ek is glad nie ń gordyn toe trek in die aand mens nie. In Wellington het ek geleer bedags die gordyne toe trek vir die hitte, maar die oomblik as die son sak gooi ons alles oop. Ek slaap nou nog met my gordyne oop, maak nie saak waar ek is nie. Ek voel beklemd as alles so toe is.

    • seegogga sê:

      Ek ken daardie Wellington hitte! My dogter het eers daar gebly voor sy Paarl toe getrek het. ( nie juis koeler nie!) Ek dink die vrede vd platteland is seker ook nog daar.

  5. Kameel sê:

    Seegogga het jy jou skrywe op Inlinkz gesit?

  6. lizamroux sê:

    Dit was lekker lees. Dankie. Ek wil nou dadelik see toe gaan.

  7. travel460 sê:

    Erg jaloers, dis wat ek is! Ek hou self niks van kantgordyne nie, het nie ñ enkele een in die huis nie. Julle lewe daar klink heerlik, Seegogga. So sonder pretensies.

  8. Ons lewe maar so agtertoe in ons huis…privaat! Skelms het ons lewens kom verander. Ek kry sommer ‘n hartseer gevoel as ek lees van die sorgvryheid wat julle beleef. Mooi, mooi!

  9. seegogga sê:

    Dit laat my nou ook dink aan die ou Struisbaai- toe daar nie soveel huise was nie, maar wel n motel. Die motel het n danssaal gehad. Saans was die helfte van die mense daar binne, besig om heerlik te dans. En die ander helfte was buite, besig om deur die vensters te loer om te kyk hoe die mense binne dans! Sowaar! In die goeie outyd. Is daar dalk iemand wat dit nog onthou?

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s