betyds of laat agter 3?

Betyds

Saar Minnaar kners op haar tande. Braam se vrolike gefluit irriteer haar. Waar sy kalmte geanker is, sal sy nie weet nie. Die droogte is allesverterend – veld, vee, water, selfs menswees verskrompel tot niks.

“Ons het ‘n wonderwerk nodig,” sê Saar mistroostig.

“Nee, my lief, ons het geloof en vasbyt nodig, en miskien ‘n bietjie toevallige geluk,” sê Braam terwyl hy die possleutels en sy loterykaartjie in sy hempsak druk. Hy sluk sy koffie en soen haar voorkop.

“Ek gaan gou dorp toe. Daar kom vandag lusern van die Hoëveld. Ons sal maar swaar trek as die land se mense nie so hulpvaardig is nie.”

“Gmmf, gekkebelasting. Dis al wat daai loterykaartjie van jou is. Die kanse dat die hemel val en ons blou mussies gaan dra is meer waarskynlik. So van hulpvaardig gepraat. Hier is my dorpslysie. Asseblief, moenie vergeet om by Tannie Malie by Dokter Soois aan te gaan nie. Sy het laat weet ons moet daar draai,” vra Saar.

Braam kla: “Ag Saar, Tant Malie praat so baie, kom saam.”

“Ek het goed wat ek moet doen, en ek sien nie kans vir die rit in die lorrie nie. Wie is nou hulpvaardig?” kom dit snipperig.

Braam haal sy skouers op en glimlag skeef.

Gou is die lorrie se gedreun ‘n herinnering, en die stilte sak soos die versengende hitte op die werf neer. Saar begin met haar dag se sleurwerk.

Die hoenders kry kos, eiers word uitgehaal. Die stoof voel koud, en sy gooi hout op die vuur. Saar pieker oor aandete, Braam gaan rasend wees van die honger na die dag op die dorp.

Sy begin water tap om wasgoed te was. Die kraan drup enkele druppels water in die wasbak.

Die tenk is leeg. Saar stap uit na die windpomp by die sementdam. Sy trek die handpomphefboom op en af sodat die watertenk kan vol word. Die boorgatpomp het die gees gegee en daar is nie geld vir herstel nie.

Die waterpomp se handvatsel hang opeens swaar in haar hand. Morsaf gebreek. Daar is geen manier om water te pomp nie. Moedeloosheid stroop haar van alle rede.

“Nou is ek klaar,” snik Saar en storm die huis in. Sy haal haar kerkpakkie en hakskoene uit die hangkas en verklee. Sy smyt haar tandeborsel, pajamas, smuktas, ‘n skoon stel klere en haar handsak in ‘n tas.

Met ferm tred stap sy eetkamer toe en haal die Familiebybel uit die buffet en haak die trouportret van die muur af. Braam glimlag uit die foto asof hy net goeie dinge in hulle toekoms sien.

Sy draai die kleinnode in ‘n blou kombersie toe. Die kombers wat bedoel was vir die seuntjie wat hulle nie het nie.

Sonder om terug te kyk, stap sy, tas in die hand en kosbaarhede styf teen haar bors geklem, by die plaashek uit.

“Klaar,klaar, klaar,” knars die klippers onder haar sole in ‘n koor.

Dit gaan sukkel op die hoë hakke, en gou loop sweet in riviere teen haar slape af. Sy sit een voet voor die ander. Omdraai is nie ‘n opsie nie. Genoeg is genoeg.

Die plaashuis word al hoe kleiner tussen die verskrompelde mielielande – soos ‘n bedremmelde geliefde in onvermoë om Saar tot inkeer te roep.

Skielik, asof in ‘n droom, voel Saar hoe die horison kantel toe haar voet swik en die tas uit haar hand vlieg. Sy klou verbete aan die kombers met sy kosbare inhoud. Glas splinter en haar arms en knieë brand soos vuur. Sy bly in die rooi stof lê.

“Ek gaan nou net hier bly lê. Iemand kan oor my ry, of die aasvoëls kan maar my kom oë uit pik. Ek verstaan nou vir Job wat sommer so in sak en as kon sit en sy sere krap!”

Saar hoor nie die donkiekar nader kom nie. Moos, haar skoonpa se bejaarde regterhand, kry haar plat op die grond, trane in leivore oor haar stofbesmeerde gesig, onbedaarlik aan die snik.

“En as Saar nou hier in die middel van die pad sit en grens?” vra Moos besorg.

“Ek wil hier weg, Moos. Ek kan nie meer nie.”

“Kom ek help jou op. Bella en Koos sal ons gou daar onder daai doringboom se koelte staanmaak. Kry nou al jou seer bymekaar en vee af die huil. Mens is nie sommer net so klaar nie. Almal kry swaar. Dit is nou tyd om geduldig te wees. Net soos Vader Abram in die Bybel. Hy was oud voor die Jirre se woord waar geword het en daar ‘n kjênd vir hom en Sara gebore is. En later toe hy Isak moes gaan offer, het hy bly glo, en die Jirre se voorsienigheid het hom gespaar. Die Jirre se tyd is Sy tyd,” raas Moos.

Saar sit kop onderstebo. Moos is reg. Wat is anders op ‘n ander plek. Stadig kom sy tot haar sinne. Sy kyk af na haar verkreukelde romp, nerfaf knieë en haar hakskoene. Wat het sy gedink?

“Ag, Moos, ek is sommer simpel. Dis net alles te veel…”

Sy kry nie kans om klaar te praat nie. Rooi stof slaan om hulle op. Dis Braam. Hy slaan remme aan toe hy hulle sien…

“Wat gaan hier aan?” Braam spring uit sy bakkie.  ” Hemel, Saar, kyk hoe lyk jy! My arme arme vroutjie. ”  Braam raap Saar op in sy sterk arms  en sit haar versigtig in die bakkie neer, maar hou sy arms beskermend om haar. Hy sien die kerkpakkie en die hakskoene, maar hy vra nie vrae nie. Het tannie Malie dan nie gesê  dat sulke vroue soms vreemd reageer nie?

“Het jy seergekry?” Saar kan nie help om opnuut verwonderd te voel oor die krag van sy arms en die teerheid van sy stem nie. ‘n Oneindige moegheid oorval haar. Wat het het haar tog besiel? Waar was haar verstand? Sy wil nerens anders wees as in hierdie veilige arms nie.

Saar probeer snikkend verduidelik, maar hy hou haar kop teen sy bors en vryf oor haar hare.Oor haar kop kyk hy na Moos  en die ou beduie met sy hande dat alles reg is. Hy moet Saar huis toe neem.  “Toemaar, toemaar,” sus hy. “Jy kan my later vertel.  En ek het vir jou baie baie goeie nuus!. Maar kom dat ons jou by die huis kry en daardie nerfaf knieë dokter.”

“Dankie dat jy Saar gehelp help het, Moos. Ek kom more bietjie daar na jou huis se kant toe”.

By die huis maak  Braam haar wonde skoon en wil tee maak, maar toe vertel sy hom van die waterpomp en begin opnuut huil.

” Saar, ek is so jammer jy moes so swaarkry hier, maar dis nou verby! Ek het twee goed wat ek graag vir jou wil vertel. Die eerste is : Ek het die lotto gewen!”

Dit vat ‘n rukkie om in te sink, maar toe sien Saar dat Braam doodenstig is. “Saar, ons gaan nie meer sukkel nie!” Ek gaan vir jou die mooiste huis bou! Met ‘n outomatties wasmasjien en …” terwyl hy praat, soek Braam na die kaartjie wat flussies nog in sy bo-sak was.

Ag, nee! Braam dop sy sakke om, hardloop bakkie toe , soek oral. Die kaarjie moes uitgeval en weggewaai het toe hy vir Saar opgetel het!

“Ag Saar, dis weg!’ sê hy uiteindelik moedeloos.

Dit is Saar se beurt om te troos.” My liefste man, ek wil nie ‘n nuwe huis of enigiets anders hê nie – net vir jou! Ek het jou oneindig lief! ” Saar raak sommer weer tranerig. ‘”Maar het jy dit dan nie by die poskantoor ingegee nie?” vra  sy verwonderd. “Dis dan hoekom jy dorp toe is!”

“Nee, Saar”, sê hy hartseer,” die ding is, ek was eers by tannie Malie aan. En toe sy my nuus gee, het ek eers dadelik teruggekom om dit vir jou te sê:” Sy oë kry skielik nuwe sprankel en ‘n vrolike glimlag kom lê om sy mond.

“Saar, dit maak nie saak of dit blou of pienk is nie, maar geld of nie geld nie: Ons gaan ‘n nuwe kombersie koop!”

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=777222

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

 

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in Ongekategoriseerd. Bookmark the permalink.

25 Responses to betyds of laat agter 3?

  1. Toortsie sê:

    Net so verskriklik mooi!

  2. Hi Seegogga weet nie net of dit via my is nie maar daar is ‘n paar posts gekoppel aan joune o.a. Lekkervurid s’n wat niks met hierdie onderwerp uit te waai het nie?

  3. travel460 sê:

    Dis so pragtig geskryf, Seegogga!🌸🌸🌸

    • seegogga sê:

      Baie dankie – teen ‘n wilde spoed. Ons moes half 6 ry en toe maak ek gruwelike foute. Was geskok om te sien die ding is klaar- gedog ek het tyd tot moreoggend 12h. Ek het darem nou ‘n paar foute reggemaak.

  4. Ja jy was ongelukkig ‘n bietjie laat, maar ek het jou skakel gaan byvoeg op InLInkz. Die “stemlokaal” sluit eers om 12:00 vanmiddag, so jy kan nog ‘n paar stemme gaan werf!

  5. Toortsie sê:

    Dit het hierdie keer vroeër gesluit oor daar ‘n stemming is. Ek sien darem iemand het joune bygesit op die lys.

  6. Pragtig geskryf. Ek kon nie help om te lag nie – na aanleiding van my antwoord op jou kommentaar by my blog – daar laat Braam so wraggies die kaartjie val vir my om te gaan optel. Ek is op op pad om te gaan soek. PS. Waar is Braam se plaas?

  7. Hi Seeggogga jou oorspronklike weergawe het my verwar (nie oor storie nie, die skakel en dinge). Ek het nou storie gelees en hierdie laat my geweldig baie dink aan my eie lewe dink Dalk moet ek die storie skryf. Nie as deel hiervan nie maar my eie storie oor my kinders. Dinge gebeur nou maar net eenvoudig vreemd in my lewe (dalk is dit ons almal se belewenis). Ek het hierdie nou baie waardeer en ja weereens in ‘n konteks soos hierdie is lotto nie die antwoord nie (alhoewel my kind gaan volgende jaar universiteit toe!)

    • seegogga sê:

      Abrie jy sal asb moet vertel. En weet jy ‘n mens moet hierdie stories ook neerskryf sodat jou kiinders dit eendag kan besit – in hulle pa se eie woorde. Ek is natuurlik nou soo nuuskierig. En ja, truth is stranger than fiction. Het jy dalkies die lotto gewen? Of amper?

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s