Skryfsafari – Una gered en skryfgedagtes oor blog

Kyk, die pad hier van die Suidpunt af na daar in die Noorde, is ‘n lang-lang, lang-lang pad. Dis ‘n pad met draaie en kinkels en diep dink. Tannie Frannie het gevra hoekom ons blog, en ek oordink toe my redes vir blog wat ek so lank lank gelede geskryf het.

Ek dink vir my het die rede met die jare dalk bietjie verander. Blog is speel, dis verbeel, dis ontslae raak van bekommernisse, praat oor goed wat jy met niemand kan praat nie, meelewing met wonderlike blogvriende, dis die neerskryf van jou stories  voordat jy alles vergeet. O dis ‘n wonderwêreld – die wereld van blog!

Kyk, hier ry ek toe nou sowaar saam met Toortsie al die pad na daardie gevaarlike Transvaal toe, ag ek bedoel seker Gautengeleng of so iets onheiligs, en dit om ‘n medeblogger te gaan red. Ons het selfs seekos , tiramishu, en ‘n paar ander goedjies saamgebring vir ekstra hulp.

Wel, so spoed ek en die Liggie toe voort deur die nag en ek dink my dinke.  Deur die jare het blogvriende gekom en gegaan. Ek self skryf ook baie minder. Maar as jy eenmaal ‘n blogger is, bly jy verlang na jou blog, al kom jy dalk nie altyd by die skryf uit nie – tot die skryflus jou pak en jy skryf waar die hart van vol is – en soms, as jy nie durf waag om te skryf waarvan jou hart vol is nie, skryf jy dalk ‘n feeverhaal of sommer iets heeltemal anders.

En die skrywe help. En erens lees iemand iets en lewer positiewe en ondersteunende kommentaar. Dis vir my die wonderlikste van die bloggers wat ek hier in die ruimte ontmoet het.  Hulle verstaan jou hart! Hulle kritiseer nie jou skrywe nie, hulle ondersteun jou en so gee hulle jou selfvertroue, praat jou moed in en voel saam met jou. en so raak hulle wel en weë ook jou hart en julle deel vreugde en smart soos die mense naby aan jou soms nooit doen nie. En hulle nooi jou op ongelooflike  reise soos wat Hester onlangs gedoen het.

Na ‘n paar kinkels, papwiele ens  word ek en Toorts toe mos amper gekaap! ( maar hoe kan jy nou Kapenaar kaap, vra ek jou met trane in my oë . Ons is mos reeds gekaap!)

Ewentwel, by ‘n rooilig daar in Johies, ruk daar skielik ‘n man met ‘n belaklawa aan my deur ( wat gelukkig gesluit was) en die volgende oomblik kyk ek vas in die loop van ‘n geweer . Ek wil nog gil, maar Toorts is my een voor. Sy draai sowaar die ruit AF!

” Dé, hier is vir jou  iets lekkers!’ sê sy met ‘n vriendelike glimlag en druk byna die hele tiramisu teen die geweerloop vas. Voor die skelm van sy skok kon herstel, het sy die ruit weer opgedraai ( alles is mos deesdae outomaties) en met ‘n vaart weggetrek – oor die rooilig, reguit Harties toe!

Ek kan nou nie sê ons het nie gebewe na die tyd nie, maar na ‘n doppie witblits sommer so in die ry, het ons weer  moed gehad vir die res van die pad.

By Una gekom, sou ons agterkom dat sy darem nog nie in die tjoekie is nie.  Toe pak ons maar die seekos uit en bel die polisie,  en nooi die speedie wat ons agtervolg het ook binne. Man, en ons eet en kuier saam met daardie mooi uniform manne. Dis mosselsop en sjerrie, perlemoen en wit muskadel, kabeljou en  koue chenin, allekruk  en  rooiwyn, viskuite en witblits. Dit gaan hoe later hoe kwater, en die witblits doen sy ding. Ons raak dik vrinne met daardie polisie.  Gelukkig het ons genoeg witblits vir hulle, want ons het toe mos nie meer tiramishu nie, ne!

Una is veilig en gered en ek en Toorts is weer veilig hier onder in die Kaap. Daar is net een dingetjie wat ons nogal laat giggel het.  Die manne het eintlik glad nie in ons belanggestel nie – het ons net die heeltyd uitgevra oor  rooi stiletto’s en of ons dalk iemand ken met die naam van Camilla. En as hulle haar naam noem, kry hulle  so ‘n glasige uitdrukking in hulle skaapoë!

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die volgende InLinkz-skakel:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=787126

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

 

 

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in Ongekategoriseerd. Bookmark the permalink.

31 Responses to Skryfsafari – Una gered en skryfgedagtes oor blog

  1. travel460 sê:

    Julle is stêrre, Seegogga. Selfs midde-in ons anders-as-die-Kaap wêreld, het julle my in my noods-ure kom red. En het ons nou lekker geëet! Net weer ń bewys van hoe ons klompie bloggers mekaar ondersteun.

  2. Ag dankietog vir die Kaap, seekos, wyn en dapper bloggers!

  3. Toortsie sê:

    Ag hoe lekker kry ek nou, hoe lekker kry ek nou, hoe lekker kry ek nou 😁 Daai witblits doen sy ding, hoor!

  4. Lyk my dit was ‘n reddingsPARTYTJIE! Briljant geskryf,Seegogga en dankie vir die video. Ek het al vergeet hoe snaaks Jerry Lewis was, veral as hy sy oë so skeel laat kyk.

  5. Kameel sê:

    Julle twee Kapenaars wil mos vroualleen hier kom rondry 😊 Ek het dit nou geniet… al het ek ook hoe probeer om Toorts terug te laat draai huis toe. Wonder wie het groter geskrik… die kapenaar of die Kapenaars vir daardie onderonsie 😀😀😀😀 Bly om te hoor julle is weer veilig by die huis…. seker baie dikkop… maar veilig. Ek sal Camilla laat weet dat die poliesie na haar uitvra 😗

  6. Positief sê:

    En dit is hoekom ek blog – want julle klomp laat my elke dag smile, glimlag, kliphard skater. Wat ‘n verhaal

  7. Haha ou gogga jy is n doring as dit by vertellings kom. Skitterend. Bly jul is veilig terug in die besneeude Kaap.

  8. seegogga sê:

    ek het toe comment!

  9. O liewe aarde, dis geen wonder ek het die afgelope maand myself so oor al die bloggers bekommer nie. Ook maar goed ek lees nou agterna eers van al julle manewales.Ek is bly almal is nou weer veilig. Die Camilla nè? Die vrou het omtrènt ‘n reputasie.

  10. BB sê:

    Só lekker gelees hieraan 😀

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s