Eendag was daar ‘n prins. Hy was jonk en alleen, want hy moes in ‘n vreemde koninkryk in ‘n vreemde land vol vreemde mense gaan woon. Hy kon ook nie hulle taal praat nie.
Die diensmeisie wat aangestel is om hom te leer, het hard probeer om die nuwe taal vir hom te leer. Hy het hard gewerk en gou kon hy die taal praat. Sy het hom vertel van die land se gebruike en ook die land se lekker kos ( biltong en braaivleis). Hy het haar weer sy eie land se kos geleer eet. ( baked beans on toast).
Ja, hulle het vriende geraak, wat nou nie eintlik moes wees nie, want sy was mos ‘n diensmeisie en hy was mos ‘n prins. Die diensmeisie het toe later weggegaan en in ‘n ander kasteel gaan werk, maar die prins het haar gereeld kom opsoek en haar dan verras met die nuwe taal wat hy so mooi kon praat. Dit het haar hart baie bly gemaak.
Daar was egter ‘n probleem. Die prins was hartseer. Hy het baie na sy ou land verlang. Hy het ook lief geraak vir ‘n meisie van die nuwe land, maar sy het lelik gemaak met hom. Sy het natuurlik nie geweet dat hy ‘n prins is nie, en ook maar goed, want dan sou sy gemaak het of sy goed is en met hom getrou het, en dan sou die prins mos nog meer hartseer geword het.
Elke keer as die prins so hartseer word, het hy na sy ou diensmeisie toe gegaan. Vir haar kon hy vertel hoe hy verlang na baie dinge en hoe hartseer hy was. Dan het sy vir hom lekker goedjies gemaak om te eet, na sy stories geluister, en probeer om hom te laat lag. Ai, hulle kon so lekker lag.
Maar soms, as hy huil, het sy hom in haar arms geneem en sy hare gevryf en probeer troos. Hy was haar prins en sy was baie lief vir hom. En wie weet? Miskien was hy lief vir haar ook. Hoekom het hy dan aanmekaar na haar toe gegaan? Sy was mos nie meer sy diensmeisie nie?
Toe kom die dag dat die diensmeisie se nuwe werk haar ver weg stuur. Sy moes weggaan en haar prins agterlaat. Die hartseer prins besluit toe dat hy maar wil teruggaan na sy ou land toe. Wie weet? Miskien kan hy daar ‘n kasteel kry? Dalk is hy daar minder hartseer, tussen mense wat soos hy is.
In sy ou land, die land waar die prins gebore is, gaan dit toe ook sowaar beter met hom. Daar het die mense beter verstaan hoe hy dink, en hy het ook ‘n ou kasteel gekry. Hy is oorval van diensmeisies wat graag vir hom wou werk en ‘n paar prinsesse het ook hulle flikkers vir hom gegooi.
Die prins het gesond geword en was nie meer so hartseer nie! Hy het egter na sy ou diensmeisie wat hom so gehelp het in die vreemde land, verlang. Dan het hy vir haar boodskappe gestuur. Miskien wou hy weer he dat sy vir hom moet kom werk. Miskien het hy sommer net verlang om bietjie met haar te gesels. Sy het hom so goed geken, beter as al die ander mense. (Maar hy het altyd onthou dat sy net ‘n diensmeisie is, en hy ‘n prins).Wie sal weet?
Die diensmeisie het haar prins diep in haar hart gebere. Sy was so bly dat dit nou goed gaan met hom, maar sy het altyd geweet dat hy ‘n prins is, en sy net ‘n diensmeisie en dat sy eintlik nie vir hom lief moet wees nie.
Toe trou sy met ‘n boer van haar eie land, ‘n goeie man en ‘n harde werker. Hulle het 3 pragtige kinders gekry en die diensmeisie was baie gelukkig. Maar in haar hart was mos nog haar onthouprinsie ook. en ek sien nou dat dit verkeerd van haar was om hom daar te bere. Sy moes hom weggooi het, lank gelede al. Maar sy het nie- hy was mos haar prins.
Toe die prins hoor dat sy diensmeisie getroud is, het hy haar in sy hart weggebere en voortgegaan om sy koninkryk te bou. Hy het ook daar in sy eie land ‘n prinses ontmoet. Sy was pragtig en die prins het met haar getrou. Hulle het in ‘n pragtige kasteel gewoon en en twee pragtige kinders gehad- ‘n klein prinsie en ‘n klein prinsessie. Hulle was baie gelukkig. Maar in die prins se hart het hy mos sy onthou-diensmeisietjie weggebere- wat hy nie moes gedoen nie. Hy moes haar lankal weggegooi het, maar hy het nie.
Jare later, toe die kinders groot is en die diensmeisie en die prins albei al ‘n bietjie grys en vol plooie, loop die twee mekaar weer raak. Wel nou nie regtig nie, hulle is mos ‘n verskillende lande, maar ook daar waar hulle gewoon het, het daar moderne uitvindsels gekom en as hulle in ‘n kristalbal kyk, kon hulle mekaar sien en so gesels. Die prins het vertel van sy koninkryk en sy mooi kinders, die diensmeisie het vertel hoe dit met haar gaan en haar mooi kinders. Sy is so bly dat dit goed gaan met haar prins, want sy onthou hoe hartseer hy altyd was. Hulle het ook weer onthou hoe sy vir hom die vreemde taal geleer het. Hy kon die taal sowaar nog onthou!
Toe word die prinses baie kwaad. Sy slaan sommer die prins oor die kop! Hoe durf hy met sy ou diensmeisie gesels asof hulle vriende is? Sy verbied die prins om ooit weer met die diensmeisie te praat!
Die prins word baie hartseer. Hy het mos niks verkeerd gedoen nie? Hoe dan nou?
Die diensmeisie is in ‘n toestand. Niemand moet iets aan haar prins doen nie! Hy is mos ‘n prins! Dit was so lekker om weer met haar prins te gesels. Sy het nie geweet dat dit verbode is nie! Ag, die diensmeisie voel sommer baie sleg, want sy wil tog nie iets doen wat haar prins weer ongelukkig maak nie. Sy weet ook dat sy nou nooit na sy kasteel toe sal kan gaan as sy dalk eendag in sy verre land sou kom nie. ( Sy en haar boer wil so graag op reis gaan om die wereld te sien).
Die diensmeisie probeer die outhouprinsie terugdruk in haar hart in, maar hy is te groot. Sy kry dit nie reg nie. Wat kan sy doen?
En nou weet ek ook nie verder nie. Skryf julle tog asseblief vir my die einde van hierdie verhaal. En onthou: ‘n Feeverhaal moet ‘n gelukkige einde he!
Ai tog, hier kan nou iets ontwikke soos ‘n skelmpie storie…. maar ek is mos ‘n vegter vir die HUWELIK!!! En hulle altwee IS getroud!!!
Maar….
Die prinses het in daardie jaar se winter baie siek geword. Dis mos baie koud daar in die lande van die prinse!!! En die prins het haar met liefde versorg tot haar dood…. Die jare het aangeloop en die prins het maar daar in sy alleenheid gebly. Een dag kry hy toe ‘n brief…wie sal tog vir hom skryf???? Ja! Dis die ou diensmeisie van jare gelede!!! Haar man was in ‘n ongeluk en is skielik oorlede… En dis toe net genoeg rede vir die prins om op ‘n boot te klim en te kom kuier in die verre land waar hy jare gelede gewoon het. Die prins en die diensmeisie ontmoet mekaar toe weer, en, omdat daar al soveel jare verloop het, en sy lankal nie meer ‘n diensmeisie is nie, maar ‘n pragtige boervrou (wat gesien word as BOERE-ADEL!!), vra hy haar toe om met hom te trou!! Die kinders was gelukkig ook nou al almal groot en selfversorgend, daarom kon sy toe verhuis saam met haar prins na hulle kasteel, waar hulle nog vir baie jare gelukkig saamgewoon het!
Dankie, Toortsie! Dis ‘n baie mooi einde. Ek hoop julle ander gee ook ‘n paar eindes. waar is Xena en Olga?
Ja! daar moet darem ‘n paar stoutetjies ook kom!
die prinses was maar altyd bewus dat sy nie nommer 1 in haar man se hart was nie. Sy was al jare lank nydig en baie verbitterd. Nou was sy seker wie het die beste plek in haar man se hart. Haar nyd het geen perke geken nie. Sy het wraak planne gemaak wat telkens misluk het.
Toe, op n dag vind sy uit van n simposium vir boere in n ander land wat wye dekking geniet en deur boere en hul vroue van heinde en verre bygewoon word. Sy uitoorle die prins en vertrek om die boerin om die lewe te bring. Sy die saal lank bespied en uiteindelik het sy die boerin en haar aantreklike bruingebrande boer opgemerk. Met n vlymskerp hoedenaald, geweek in die dodelikste gif bekend aan die mens, het sy hulle gaan inwag op die trappe van die gebou. Die voordeel was aan haar kant. Sy weet hoe die boerin lyk.
Toe sien sy hulle die trappe bestyg. Sy het die naald versigtig uitgehaal. Net toe sy die boerin wou prik het die boer onraad vermoed. Vinnig pluk hy sy vrou uit leed se pad. Helaas. Hy kry die naald in sy arm. In haar haas om weg te kom, raak die prinses se skoen verstrengel in haar rok se soom en tuimel sy die trappe af. Haar nek gebreek nog voordat sy onder was. Na die begrafnisse, elk in sy eie land, het die prins en boerin in kontak gebly dmv die kristalballe.
1 Jaar na die tragedie het albei na die plek gereis om houtkruise te gaan oprig ter herinnering van hul gestorwe wederhelftes. Hul het mekaar op die trappe ontmoet en besef die wedersydse vriendskap was liefde. Hul is getroud in die vreemde land.
Aangesien albei se kinders oud genoeg was om hul ouers se werksaamhede oor te neem het hul lank en gelukkig in hul nuwe land gewoon.
Dankie Olga, jy’s reg, daar moet ‘n bose ook in die verhaal wees!
Uitstekend, Olga! Die hare staan glad regop op my arms!
Ek hou van Olga se einde, kan nie daarop verbeter nie.
Dis crookens!
Ja, en dan is sy gou om ander daarop te wys dat HULLE kroek!
Elke aand hou die diensmeisie, nou ‘n ou vrou, haar glasbal dop in die hoop dat sy weer haar prins kan sien. In die dag maal hy deur haar kop terwyl sy met huistake besig is. Sy sien hom in ‘n blink koperpan wat in haar kombuis hang as sy haar gesig skuins draai en haar oë op skrefies trek.
Haar man val op ‘n dag van sy trekker af en besluit daar en dan dat die twee oudste dogters moet oorneem by die plaas. Kaina neem die koue-pampoenboerdery oor en Abella kry die bokstalle. Apusti, die jongste, help met die huiswerk.
Van reisery kom niks en die boer sit afgeleef en verlep in sy wiegstoel op die stoep met ‘n pyp wat hy stop en taai biltong wat hy oopmond kou. Afgetrede boere van die kontrei kom drink knertsies pampoenpitskop en sit lang ure en praat weergalmend met mompelstemme oor die weer en die Ratelslange se afrigter wat ander spankeuses moet maak.
Soms sit die ou vrou in haar oorkantste stoel met lensiewater en sluimer in, omdat sy moeg word van dieselfde staaltjies. Dan droom sy van die swaar koperpan in haar hand en hoe sy met ‘n woeste swaai haar man teen die kop bliksem dat sy pyp doertoe deur die lug trek en hy soos ‘n sak pampoene op die grond neerfel. Dan skrik sy wakker en kry skaam vir haarself en teug verder aan haar koppie lensiewater.
>>
Intussen gaan dit ook maar beroerd met die prins wat, alhoewel hy ‘n rojale ouderdom betree het, steeds nie koning kan word nie; sy edele koningin-moeder swaai die septer verwoed ten spyte van die vergeetgriep wat sy in die groot epidemie van ’49 opgedoen het. Die prins se vrou raak vir hom kwaad en moedig hom aan om roosgif in die koningin se bokstertpastei te gooi, sodat hy tereg kan koning word. (Heimlik wonder sy of sy nie dalk die roosgif ook in sy semelpap moet strooi nie; dalk sal haar seunskind ‘n waardiger koning maak as hy.)
Die prins wroeg oor sy vrou en wroeg oor sy moeder vir wie hy nie kan oorreed om op te hou oorloë voer nie. Sy kryt hom uit dat hy geensins die ekonomiese beginsels van oorlogvoering verstaan nie: die weermag se bedryfskoste kan slegs verhaal word uit die winste wat dit inwin uit plunderseges, berispe sy hom. Dis dan ook hoekom sy hom na die vreemde land in sy jeug gestuur het, want sy is naarstiglik op soek na ‘n land met bokke en biltong om te verower ná haar sege oor Albertenië (wat teleurstelend slegs melk en heuning opgelewer het).
Gewis gryp die prins dié geleentheid aan en stem in om dié strooptog (oftewel edele vredestryd) te gaan voer in die verre land. In sy geestesoog sien hy weer sy geliefde diensmeisie en vorm hy haar naam met die lippe van sy mond.
Die koningin stem in dat hy die troepe lei en beloof om haar kroon aan hom af te staan as hy terugkom met boksterttert en biltongpoeding.
>>
Die prins se vrou gryp dié geleentheid aan en glip gif in ouma-koningin se aspersieslaai. Op dieselfde aand stuur sy haar seun om ook die weermagskip se waterbalies te besmet.
>>
Op die plaas skrik die ou diensmeisie eendag uit haar droom uit wakker; sy staan met die koperpan in haar hand en haar man se pyp trek in ‘n boog deur die lug. Die twee kuiergaste gaap oopmond die moord aan. En klap dan hande. “Good riddens!” sê hulle. “As ons nog één keer moes hoor hoe sanik hy oor reën of die Ratelslangspan, sou ons dit ook gedoen het,” sê hulle en help toe die dogters om sy lyk in die omgedolfde pampoenlande te ploeg.
>>
Op die skip raak die prins onbedaarlik siek en kan geen vloeistowwe inneem nie. Terwyl die res van die bemanning die gifwater drink, bly hy daarsonder en rol in sy kajuit rond soos hy krul van die koors. Toe hy uiteindelik beter voel, gaan hy na die dek en sien hoe sy soldate dood lê, met die kenmerkende reuk van roosgif wat hang in die lug.
“Drommedaris!” snou hy en neem die stuur van die skip oor en vaar met ‘n dolle vaart na die oorsese kus. In sy glasbal skakel hy kasteel toe, maar slegs sy prinses-dogter antwoord, hoog op gemaalde soetbasiliekruidblare wat sy skaamteloos rook.
“Ek dog jy’s dood?” antwoord sy. “Het jy dan nie van Mamma se rooswater gedrink nie?”
Met dié laai die prins sy oud-geliefde van die pampoenlande op – sy is te gretig om landuit te trek, want gerugte loop rond dat sy onwettige bemesting in haar landerye gebruik en die boervrouvereniging het grondmonsters kom haal om in die laboratorium te toets.
>>
Dolverlief, met vars water en genoeg gegiste pampoenpitsap, seil hulle terug in die diepdonker nag na die kasteel teen die kus waar hulle met ‘n rooibootjie die geheime seegrot-ingang kon invaar, die trappies kon opklim tot by die geheime ingang langs die oond in die kasteel se kombuis.
Dáár glip hulle toe in, en in die weerkaatsing van ‘n hangende koperpan sien die ou diensmeisie haar prins se gesig.
>>
Ek hou hiervan – kostelik 🙂
Sjoe! Ek beny julle wat sulke goeie verbeelding het!!
Ai, komaan, Toortsie, jy was die eerste wat ‘n einde geskryf het en ‘n pragtige einde ook- ook sonder ‘n moord, noudat ek daaraan dink….Daar kort absoluut niks met jou verbeelding of storievertelvermoe nie!!! Ek wag vir jou eie feeverhaal, hoor! .
Sjoe, julle skryf almal die mooiste eindes!( behalwe Xena wat gekroek het, maarsy is mos tydelik uit aksie of hoenouweer?) Ek is beiindruk!
Terwyl die diensmeisie se nuwe werk haar ver weg gestuur het en sy moes weggaan en haar prins agterlaat, het ‘n parallelle storie in ‘n ander tyd en ruimte plaasgevind…
Gouelokkies en die bababeertjie het baie goeie vriende geword en een maal ‘n week lekker deur die bos gestap. (Gedurende die week het die beertjie saam met ander beertjies gedoen wat bere doen – whatever – en Gouelokkies het in haar pophuis gespeel en boeke gelees). In die bos het hierdie twee maats allerlei sade opgetel, ‘n boomhuisie gebou en klippe uit ‘n bos gesels.
Albei het kos uit hul huise gebring om piekniek te hou terwyl hulle so in die bos speel, maar Gouelokkies het gou moeg geraak vir die vervelige pap wat Bruintjie Beer gebring het. Dan het sy soms kaas en wyn uit haar ouerhuis gegaps tot die beertjie se groot vermaak.
Soos wat Gouelokkies ouer geword het en die beer groter, het dit al moeiliker geword om in die boomhuisie te kom. Maar Gouelokkies het geweet iewers is daar ‘n band tussen hulle wat nie gebreek kan word nie.
Op ‘n dag het hulle ‘n spieël in die bos ontdek – waar sou dit vandaan kom? Vir die beer was dit die moeilikste om te weet wat hy sien. Toe begin Gouelokkies vir hom woorde leer om hierdie spieëltaal te verstaan. Bruintjie het hard gewerk en gou kon hy hierdie taal praat…
‘n Ander storie, waarom nie? Dankie dat jy kom deelneem het, Estelleke! Kom daar nog ‘n vervolg, of moet ek my ons onse eie afleidings maak?Bv dat die spieel lank geledeaan iemand anders behoort het?
Die spieël en die kristalbal is een en dieselfde ding… dus is daar ‘n kaleidoskoop van moontlikhede van wat ‘n gelukkige einde is.
Mmm, in my gedagtes was dit duidelik dat dit een en dieselfde storie is, en ek wou bietjie speel met die argetipes van ou sprokies wat ek met my verwagtingshorison en ervaring raaksien in julle storie.
Xena is so besig, sy behoort eintlik die delete knoppie op haar eie blog te druk. Ongelukkig kan Xena nie haar eie kinders vermoor nie.
Genadiglik HET Xena nog nie kinders nie, anders het sy nou weer idees gekry!!
Einde 1:
Die prins word meer en meer in homself gekeer. Die prinses is goed en lief, maar sy maak dinge baie onaangenaam met haar siedende jaloesie. Dit maak dit so moeilik om homself ten volle aan haar te gee. Sy raak al hoemeer soos ‘n groen monster en minder die mens wat hy as ma van sy kinders uitgesoek het.
Die prins gaan sit by die fontein van die paleis wat hom soveel plesier verskaf. Heimlik moet hy erken dat dit hom aan die put laat dink waar hy so baie taallesse van die diensmeisie gekry het. Die water trek hom aan en hy gee gewillig mee. Wat help dit tog om in ‘n leuen te lewe. Hy is kastig ‘n eerbare man, maar vir jare lieg hy vir sy vrou, sy kinders, sy geliefde en homself. Hy verdwyn geruisloos onder die water in . . . . .
Die diensmeisie besef dat die nutteloos is om die prins in haar hart te probeer terugdruk. Hy hoort nie daar nie. Haar hart moet volkome toegewei wees aan haar man en kinders. In ‘n poging om van die prins te vergeet, werp sy haar ten volle in die boerdery in. Haar man moet behoorlik sy staal wys om by haar by te hou. In die dag is sy altyd op ‘n perd en snags swoeg sy weer in die kombuis.
Eendag sien sy ‘n ou verdwaalde lammetjie by die krans waar die waterval is. Sy sluip versigtig nader om die dier van die afgrond te red. Met geduld lok sy hom weg. Dan sien sy ‘n slang en spring verwoed weg. Haar voet gly en sy stort by die waterval af.
*********
“Eina!” skree die prins en die diensmeisie gelyk en vryf hulle koppe verwoed.
Die feëkoningin lyk nie juis jammer daaroor dat sy hulle koppe met so min ontsag teen mekaar gestamp het nie. Altwee kyk haar onthuts aan.
“Julle het nou gesien waarheen julle selfopgestelde grense en reëls kan lei.” betig sy hulle streng. “Wat meer verwag julle van my?”
“U bedoel . . .” begin die prins verward
“Ons is nie oud en getroud nie?” sien die diensmeisie so ‘n effense liggie.
Die feëkoningin voel egter sy het meer as genoeg gehelp. As die twee nie na daardie vooruitsig weet wat om te doen nie, moet hulle maar in hulle eie webbe verstrengel raak.
Die prins krap sy bles, maar voel ‘n digte bos hare. Die diensmeisie kyk af na haar plooilose hande. Sy kyk vraend na die prins.
“O diensmeisie, Koningin van my Hart!” sug hy en trek haar in sy arms in. Hy het vir ‘n oomblik vergeet dat dit in sy mag is om van haar ‘n prinses te maak. Maar dit is ‘n foutjie wat baie maklik reggestel kan word.
O Xena! WOW! Die eerste gelukkige einde sonder ‘n moord! Mooi!
Ek sien dis einde 1. Sien uit na einde 2.
Fantasties!!!
Einde 2 (Alternatiewe Einde)
Die diensmeisie probeer die kristaalbal vermy, maar dit trek haar soos ‘n magneet. Die prins sit daar en wag vir haar.
“Uiteindelik! Weet jy hoe lank wag ek nou al vir jou?” roep hy bly uit.
“Jy weet ons moenie.” sê die diensmeisie hartseer, maar haar hart spring omdat hy vir haar gewag het.
“Hierdie is sommer nonsens.” kondig die Prins aan. ” Jy hoort in my arms, soos jy al jare lank in my hart is. Kom na my toe, sommer nou dadelik.”
“Sal jou land aanvaar as jy jou vrou skei?” vra die Diensmeisie hartseer.
“Die prinses bedoel jy?” betig die prins liggies.
Dit voel of ‘n skoot yswater die diensmeisie tref. Sy sal nooit goed genoeg wees nie.
“Wat presies is jou planne?” vra vir die eerste keer kwaad vir hom
“Jy kan tog nie verwag ek moet die prinses skei om by jou te wees nie?” sê hy geskok.
Die diensmeisie kyk na buite en sien hoe die plaaskinders op die Boer afgestorm kom. Soos gewoonlik gaan hy eers ‘n paar balle saam met hulle skop. Dit maak nie saak dat hulle ouers sy werkgewers is nie, hy is te dankbaar vir die hulp wat hulle hom gee.
“Diensmeisie, ek praat met jou!” raak die Prins ergelik. Hy is nie gewoond daaraan om nie iemand se onverdeelde aandag te hê nie. “Kom na my toe. Ek sal vir jou ‘n pragtige huis gee en jou in weelde versorg vir die res van jou lewe. Jy hoef net vir my lief te wees, soos jy nog al die jare is.”
“Die dag wat die hel oorvries.” antwoord die Diensmeisie sag.
“Ek kan tog nie die Prinses skei om met jou te trou nie!” roep die Prins desperaat uit. “Verstaan tog, Diensmeisie, sy het baie geld in my land ingestoot. Ek kan dit nie terugbetaal nie. En ek moet met ‘n Prinses getroud wees as ek Koning wil word. Ons kan baie gelukkig wees al is ons nie getroud nie.”
“Jy verwag dus van my om jou minnares te wees?”
“Ja. Ons kan ons liefde uitlewe, sonder dat alles verwoes moet word!” roep die Prins opgewonde uit.
Die diensmeisie sien deur die venster hoe die boer eers ‘n blommetjie vir haar pluk voor hy huis toe kom. Vir iemand is sy goed genoeg. Vir iemand is sy alles. Sy sien alles soveel helderder. Die skille het van haar oë afgeval en sy wil sing en dans. Vir die eerste keer in dekades is sy vry.
“Vlieg jy binne in jou kanon!” snou sy die Prins toe.
“Jy is nou kwaad vir my. Ek verstaan dit nie. Die Prinses is nie lief vir my nie, sy het my oor die kop geslaan.”
“Sotlik van haar. Sy moes jou uit die paleis gegooi het en jou nooit weer laat terug kom nie. Dalk dan sal jy leer dat die aarde nie om jou draai nie. Totsiens, U hoogheid. Nee, vaarwel.”
“Diensmei – ” Die Diensmeisie sit die kristalbal af en wag vir haar boer om haar met die blommetjie te kom verras.
Die Boer steek onseker vas by die deur – sy was weer by die kristalbal. Sy lyk opgewonde, sy gaan hom seker verlaat. Hy sien sy kyk vir hom en plak ‘n glimlag stewig op sy gesig. Hy wil dinge tog nie vir haar moeilik maak nie.
Die Diensmeisie spring uitbundig in die Boer se arms in. Hy moet haar vang en tol anders sou hulle altwee op die vloer land.
“Goeie nuus gekry?” vra die boer.
“Die beste ooit.” juig die Diensmeisie.
“Ja?”
“Ek het besef met watter wonderlike man is ek getroud en hoe verskriklik baie lief is ek vir hom.”
Die boer kyk versigtig-bly by haar oë af. Hy sien die waarheid van haar woorde daarin. Hy sal nooit weer tweede viool speel nie, nee, na dese is hy sommer die hele orkes. Sy vrou is uiteindelik syne en syne alleen.
wow!!! Dis al wat ek kan se! Pragtig. So moet asb nie weer proeeer kroek nie!
Bleddie prins!!! 😦 dit sal jou wys!!!
Mal oor hierdie einde, Xena!!
Die diensmeisie is reddeloos en radeloos. Uit frustrasie begin sy met ‘n virtuele tarentaalveer ‘n parallelle storie skryf van ‘n paddaprins en ‘n vuurvliegie se verdoemende liefde onder ‘n paddastoel.
Die woorde vloei soos ‘n kabbelende stroom uit haar gedagtes uit, maar dan raak sy skielik bang vir ‘n stortvloed moontlike ongelukkige eindes en sy pos dit op die kristalbalglas met die hoop dat daar iewers uit die eter ‘n gelukkige einde sal kom.
Sy wag in spanning.
Een vir een tel vroom vriende hulle vere op en doop dit druipend in hulle eie mengsel van kristalbal-ink. Hul eindes draai met fantastiese ompaaie fantasies by geluk se doodloopstraat om.
Ai, as die werklikheid maar meer soos ‘n sprokiespaddastoel was – of kon wees, snik sy. En die kristalbal word wasiger soos sy met klam oë deur haar rivierstroom kyk.
Mnr Muller, jy slaan die virtuele spyker op sy kop!
Die diensmeisie gesels eendag met ‘n goeie vriendin, en vir die eerste keer vertel sy iemand haar storie.
Die vriendin het aandagtig geluister en toe ‘n bietjie gedink. En toe antwoord sy.
“Ek dink jy maak jou lewe een lang marteling. Jy fokus op wat jy kon gehad het, in plaas van op wat jy wel het. ‘n Goeie man, pragtige kinders…’n goeie lewe. Probeer bietjie fokus op jou man se goeie eienskappe. Wend ‘n daadwerklike poging aan om die prins uit jou lewe te kry.”
Die diensmeisie was nie lus daarvoor nie. Dis lekker om aand vir aand te hunker na ‘n handsome prince. Op ‘n manier is dit mos lekker om jouself ongelukkig te maak. 😉
En so het dit aangehou tot sy haar laaste asem uitgeblaas het. Treurigheid op note. 😦
Ai, hartseer!
Terug pieng: Wie sal dit wees??? | Toortsie se Blog
HIER IS NOU OOK MY SLOT, UITGEDINK MET DIE HULP VAN JULLE ALMAL. BAIE DANKIE VIR JULLE DEELNAME!!!
Die diensmeisie kyk na die onthouprinsie wat nou so groot geword het. Sy het hard probeer om hom terug te bere in haar hart se puntjie, maar hy is nou te groot. Wat moet sy doen? Moet sy hom weggooi? Sy probeer hom optel om hom weg te gooi,maar sy kry dit glad nie reg nie. Hy is nou ook so swaar dat sy hom nie kan beweeg nie!
Sy huil eers ‘n bietjie, en toe se sy.” My liefste, liefste prinsie. Ek moet jou weggooi, maar ek kan nie. Dit was so lekker om in die kristalbal vir jou te sien en te sien dat dit nou met jou goed gaan. Ek is so bly dat jy ‘n prinses het wat so goed na jou kyk. Maar ek wil nie he sy moet so kwaai met jou wees nie! Ek wens sy het geweet hoe lief ek vir jou is. Dan sou sy geweet het dat ek vir jou net die allerbeste wil he. Dan sou sy geweet het hoe bly ek is dat jy so ‘n mooi prinses gekry het. Ek hoop sy hou jou styf vas en streel jou hare as jy dalk huil en ek hoop sy lag saam met jou as jy bly is. Daarom gaan ek nou maar ‘n lap oor my kristalbal gooi, en ek en my boer gaan maar nie by die kasteel kom kuier as ons dalk eendag om die wereld gaan toer nie. Ek is bang die prinses slaan jou weer oor die kop!
Maar liewe prinsie, wees asseblief nou soet, en klim hier in die onthoulaaitjie hier in my hart in. Ek kan jou nie daar inkry as jy my nie help nie, en ek kry jou glad nie weggooi nie.”
Die prins in die verre land het nog altyd geweet wat sy diensmeisie dink. Daarom voel hy haar woorde in sy hart. Hy weet dat sy die een is wat nooit aan haar eie geluk gedink het nie, maar so hard gewerk het om hom gelukkig te maak. Hy is baie lief vir haar. Daarom beveel hy die onthouprinsie op die tafel om soet te wees en in die onthoulaaitjie in te klim. Dit gaan maar sukkel-sukkel, want die prinsie is groot, maar uiteindelik is hy in, en terug in die diensmeisie se hart.
Toe vat die prins sy onthou-diensmeisietjie en se vir haar.” Jy was die beste diensmeisie wat ‘n prins ooit kon he. Sonder jou sou ek nooit so gelukkig gewees het nie. Baie dankie daarvoor. Weet jy dat ek nog altyd vir jou lief was? Jy sal altyd in my hart bly.”
Hy sit die diensmeisietjie terug in sy eie hart se onthoulaaitjie. Dit gaan makliker, want sy diensmeisietjie help hom om dit reg te kry.
Daarna het die prins in sy eie land nog lank en gelukkig met sy prinses in die kasteel gewoon. Soms het hy sy onthoulaaitjie uitgetrek en ‘n bietjie na sy onthou=diensmeisietjie gekyk waar sy le en slaap, en geglimlag. Op daardie dae het die prins vir sy gesin lekker kos gemaak uit die land waar hy so lank gelede gewoon het- ja, lekker braaivleis!
Die diensmeisietjie het saam met haar boer om die wereld gaan reis en baie wonderlike plekke gesien. Hulle was baie gelukkig.
Daarna het sy en haar boer ook nog lank en gelukkig saam gewoon. Maar weet julle wat? Soms, as haar kleinkinders kom kuier het, het sy vir hulle snaakse kos gegee om te eet: Baked beans on toast!
Terug pieng: Storietyd in blogland | Seegogga se Bloggie
Terug pieng: die lewe is ‘n feeverhaal | Seegogga se Bloggie