Liewe leser, hierdie hoofstuk vorm deel van ‘n bloguitdaging waarin die Goue Vroue van Rebusfontein uitgedaag word om ‘n vervolgverhaal te skryf waarin ons items op mekaar se emmerskoplysies uitleef. Soos gewoonlik, is een of meer van die res van ons karakters in die vervolgverhaal. Elke hoofstuk word afgesluit met ‘n emmerskoplysie en ‘n spesifieke vrou word uitgedaag om die verhaal verder te vertel …
Jy kan dus ten minste 13 hoofstukke verwag. Die res van die verhale kan hier gelees word, onthou om gereeld terug te kom om nuwes te lees. Dit is ‘n werk in wording …
https://fresh.inlinkz.com/p/901334e664234152a8107aad817a73bb.
Seegogga glipgly die berg af. Dit was heerlik om onder die waterval te staan. Sy is mos mal oor water.
Sy kyk na Alsie se emmerskoplysie. Dis nogal baie dieselfde as haar eie.
Musiek met lirieke komponeer: Seegogga het dit al gedoen! En nou le die liedjie in die laai en wag om ontdek te word, want mooi sing is nie seegogga se sterkpunt nie. Mmm…Miskien moet Aalsie eendag die liedjie sing….
Kinderboek skryf! Ja Seegogga het al! Maar sy wil weer! Miskien kan hulle saam ‘n boek maak? ‘n Boek met wonderlike stories! En as hulle genoeg stories kry, maak elkeen sy eie boek!
Naaldwerk is nie seegogga se forte nie, maar sy sal die prentjies teken.
en dan: Italie besoek!
“Aalsie,Dames , ons het weer daardie silwer blitz nodig. Ek hoop julle goud skitter. Ons gaan teater toe!”
Seegogga kan haar opgewondenheid skaars beteul.
“Ons gaan Italie toe op die goedkoop manier, ne! jippie! ” gil sy – “Milano! La Scala !”
Die Silwer Blitz stop eers vlugtig in Firenze. “Ek moes net eers gou ou Michelangelo se beelde vir julle kom wys. Kyk nou maar vir ou Dawid. Lyk hy nie vir julle soos Lorenzo nie?” Die towerinne oe en aa. “Ek hou egter die meeste van die beelde wat so vasgevang is in die rowwe klip.” Maar daar is nie baie tyd nie. Milano wag.
“La Scala! Die beroemdste operahuis in die wereld! Dit was een van my emmerskop goed!” vertel Seegogga. ”Luister nou goed. Ek het vir ons staanplek kaartjies gekoop.. Dis goedkoop en word nie vooraf bespreek nie. Maar ek waarsku julle : Veg vir julle regte of….”
Die Goue vroue hoor nie die res nie, want die hek het oopgemaak en soos ‘n trop wilde beeste storm al die mense die trappe op tot bo. Die goue vroue is nie links nie en storm saam. Hulle sien sommer as hulle nie vinnig roer nie, gaan hulle nie plek kry nie.
Heel bo is daar sterk dwarspype waaraan mens kan vashou. Hulle kry lekker plek, maar dis nie lank nie of iemand stoot Aalsie so hard weg dat sy byna weer by die trap afval. Seegogga is nie links nie en le haar goue knypers in. Sy staan wydsbeen, en knyp links en regs almal wat haar en Aalsie se plek wil afvat. Die Italianers druk, maar die goue vroue het nou agtergekom dat hulle hulle stukkie pyp met ‘n ystergreep moet vashou. Elmboe het handige afskrikmiddels geword. En ‘n goue vrou laat haar nie afskrik nie!
Die Opera begin – La Boheme van Puccini. Die Goue Vroue word meegevoer deur die pragtige musiek die uitstekende choreografie. Maar wat se geluide hoor hulle?
Terwyl die uitstekende sangers sing, is daar mense wat hande klap, nog voor die areas klaar is! Daar is hier en daar iemand wat “boe!” skree. Daar is hier en daar iemand wat “bravo” skree. Daar is ‘n gedurige ge-shhh en ‘n gesis soos die een die ander probeer stilmaak. Die gehoor is alles behalwe stil, soos dit in ‘n Opera betaam! En tussendeur word die goue vroue die heeltyd weggedruk en moet hulle die heeltyd terugdruk om hulle staanplekkie ( en uitsig!) te behou. ‘n Mens kan nie help om te lag nie. Dis pret! Maar die einde van die opera, waar die arme Mimi sterf, het almal in trane. Dis soo hartseer en soo goed gedoen!
Na die vertoning is die towerinne effens uitgeput, terug na die silwer blitz.
”WOW Seegogga, Italie is nie vir sissies nie, ne!” Se Aalsie moeg, maar gelukkig. En wat is daarop jou lysie wat nie op myne is nie?”
“Wel, ek wou nog altyd Kilimanjaro klim, maar het nou besef dat ek liewer moet afkom aarde toe. Ek wil nog eendag van Waenhuiskrans tot op Struisbaai loop -seelangs en een nag in die duine slaap. Toortsie moet nog vir my vertel.
En ek wil daar wees as die olifante deur daardie restourant hier iewers in Afrika loop. Ja! En Gorongosa!
Ek wil nog leer kitaar speel en agapantus op my muur se pilaartjies verf !

En eendag wil ek nog ‘n boek skryf!”
“Ja? Waaroor? ” vra Christa.
Seegogga strek haar behaaglik uit. Sy dink daaraan dat sy al baie goed op haar emmerskoplysie gedoen het, en dat sekere goed, soos Kilimanjaro, nie meer belangrik is nie., want daar het ‘n paar ander goed bygekom.
“Oor ons!” se sy tevrede.
Nouja, Frannie, hoe lyk dit? Gaan jy ons ‘n bietjie meer vertel?