

Die Falck familie kom ‘n lang, lang pad, van jonkheer Willem Adriaan Falck af, wat in die vroeë jare van die Kaap hom hier gevestig het. Maar in ons koppe is my oupa, Tom Falck van Robertson, die vader van ons uitgebreide familie, want dis by hom wat ons storie begin.
Oupa Tom was eintlik Jonkheer Falck, want ja, hy was van die Nederlandse adelstand en sy hele nageslag, met die van FALCK, erf hierdie titel: Jonkheer of jonkvrou. Oupa Tom was ‘n kopersmid, die laaste van die ou Kaapse kopersmede en sy koperwerk, veral sy koffiekonfore, is versamelaarsitems en word uitgestal in museums. Hy was ‘n besonderse man, een wat in die eerste wereldoorlog gaan veg het en gelukkig genoeg was om terug te keer. Op Robertson was hy volgens oorlewering die eerste man met ‘n motorkar. Hy en my ouma Hannie, was ook besonder produktief en het 12 kinders gehad. Die enetjie is as babatjie oorlede, maar die ander elf het almal grootgeword, getrou en hulle eie kinders gehad. Hulle het almal hoë ouderdomme bereik. My ma was die tweede oudste van hierdie 11 kinders, elkeen ‘n karakter op sy eie en elkeen baie talentvol en besonder intelligent. Dis van hierdie familie wat ek wil vertel.
Elke jaar het oupa Tom en ouma Hannie en hulle 11 kinders Desembermaand gaan kamp, eers op Kleinmond en later op Struisbaai, wat destyds nog woes en leeg was.
As enigste kind was vakansies met al die nefies en niggies vir my wonderlik. Ek besef nou na jare dat daar nie ‘n ding was soos Kersfees by die skoonfamilie nie. Elke Desember was al 11 die kinders en hulle gades by Oupa en Ouma. Die “aangenaaide lappe” het Falcke geword, soms byna meer familie as die familie self. En Struisbaai en Agulhas word ons hartsplek.
Die tyd stap aan en my oupa en ouma raak te oud vir kamp. Hulle huur nou elke jaar ‘n klein vissershuisie, Rus ‘n Bietjie, op Agulhas, van oom Toekie Badenhorst.
Elke jaar sak die familie op Rus ‘n Bietjie op toe. Die met karavane bly in die karavaanpark, maar ons ander bondel saam by die klein huisie met sy gekraakte sementvoere, buite emmertoilet en deurtjies wat van ou visserskuite af kom. Maar “Daar is niks verkeerd met Rus ‘n Bietjie nie!” verklaar tannie Liefie, die oudste suster. Geskiedenis word gemaak – van groot visse wat gevang is, tot die emmer wat een nag oor die trappie af see toe gedra moes word omdat die nagwa ‘n bietjie stadig was, en die mense by Rus’n Bietjie bietjie baie. Die jonges en hulle geliefdes beloof daar trou aan hulle toekomstige gades en elke Desember is ‘n groot familiefees.
Die jare gaan verby en oupa en ouma, die groot samebindindende faktor, is nie meer daar nie. Die gesinne kry Kersfees hulle eie koers, steeds, meestal op Struisbaai, elkeen nou in hulle eie strandhuis. Ek self ontmoet ook my trouman – ‘n Regte Johburg joller.
Toe ons hier kom woon, vra my man my ma of sy Badenhorsts van Agulhas ken. Daar was ‘n outjie saam met hom in HTS Langlaagte wie se ouers ‘n huis op Agulhas het. My ma weet net van oom Toekie Badenhorst. Dis toe altyd sy vriend se oupa, en die Rus ‘n Bietjie huisie behoort nou aan sy vriend se pa!
En so kom dit toe dat ons ‘n paar jaar later vir die einste Rus ‘n Bietjie koop!
Ek en my oudste dogter kom in die gewoonte om ons vroegoggend koffie te maak en dan af te stap see toe om dit op een van die bankies daar te sit en drink. Die gedagte aan ‘n eie bankie begin posvat.
In 2023 kom my tannie Miriam, die jongte van die 11 Falck kinders, uit Amerika om haar man se as voor Rus ‘n BIetjie in die see te strooi. Geen ander plek is reg nie, want Rus ‘n Bietjie was die plek waar hulle deur die nag opgesit het en besluit het hulle is lief genoeg vir mekaar om te trou.
In 2024 hou ons ‘n groot Falck Familie saamtrek op die einste kleine Rus ‘n Bietjie, want “ ‘n Ander plek sal die hele atmosfeer bederf,” aldus Miriam. En dit werk! Meer as 100 mense daag op vanuit alle uithoeke van die land asook 7 van Amerika af. En ons hou makietie! Dit was ‘n onvergeetlike ervaring.
Ek het lankal gedink aan ‘n eie bankie vir eendag, maar met die Falcke se noue verbintenis, was ‘n familiebankie dalk ‘n beter idee. En die familie stem saam! Geen ander plek sou egter deug nie. Die bankie moes daar by die soldatepoel wees, daar voor Rus’n Bietjie.
Ongelukkig mag geen nuwe bankie gebou word nie, maar: daar is twee stukkende bankies!
Die munisipaliteit is baie behulpsaam en uiteindelik is ons so gelukkig om reg voor die soldatepoel ons bankie te kry!
As gevolg van my man se hartaanval is ons bietjie vertraag, maar nou is hy gebou, en ek hoop die Rus-‘n-Bietjie-bankie vat al die familiestories vas, van oupa Tom en Ouma Hannie af, tot ver in die toekoms in!














Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.