I believe I can fly 6: veg of vlug? Tips as jou voeltjie wegvlieg.

20181119_101730

Hier sit Bekkie heelbo op ‘n mandjie naby die dak in die kombuis, en hy voel baie tevrede met homself. Hy weet hy is King of the Castle!

bekkie

Bekkie op die balk onder die afdak. as jy hom goed ken sal jy sien dat sy gesigsuitdrukking hier heel anders as op die foto heel bo. ” Ek sit nou hier buite en wat nou?”

Hierdie week lees ek van mense se African Grey wat weggevlieg het. Allerlei raad word gegee. Ook ek het my stuiwer in die armbeurs gegooi. Het ek nie self  klein BEKKIE nie? Hy is mos my ringnek wat tog te lief is om ‘n bietjie uit te vlieg om die wye wêreld te verken.

Hier is my raad wat ek graag vir papagaai -eienaars wil gee om groot hartseer te voorkom.

  1. Baie belangrik: Stap gereeld vandat jy jou papagaaitjie gekry het, met hom in jou tuin rond en rondom jou huis. Gesels met hom sodat hy dink dit is veilig buite. Wys vir hom die blommetjies, die bome ens. (My Bekkie kyk altyd baie belangstellrnd en lewer selfs kommentaar!) Dit is om jou voëltjie te leer om sy omgewing goed te ken sodat hy hom nie doodskrik as hy dalk buite kom nie. (Hou hom natuurlik vas of hou hom ‘n ‘n draagbare hokkie!)
  2. Leer hom gereeld om op bevel op jou hand of arm te klim ( step up)  en oefen hom om op bevel afdraende te klim en prys baie en gee beloninkies. Dit is vir hulle moeilik om afdraend te klim, en daarom is dit goed as jy hom daaraan gewoond maak.
  3. Goeie raad is om hom van kleins af te leer om op ‘n stok te klim wat jy na hom uithou. Ek het ongelukkig te laat hierdie raad raakgelees en my Bekkie wil niks van ‘n stok af weet nie, maar as jou voëltjie gewoond is daaraan, kan jy ‘n lang stok hoog in ‘n boom opsteek waar hy dit kan bykom, sou dit nodig wees en so kan jy hom maklik in die hande kry.
  4. Dit sal natuurlik ideaal wees as jy hom van kleinsaf kan leer om op bevel na jou toe te vlieg. Daar is instruksies daaroor op die internet en ek wens ek het dit met Bekkie gedoen toe hy jonk was, maar hy is nou al 15 jaar oud en het nou taamlik sy eie idees en besluit self wanneer hy dit wil doen, dankie!
  5. Laat hom buite bad, verkieslik op verskillende plekke in die tuin, ook om hom bekend te maak met die omgewing. Gaan wys hom ook veranderinge wat jy dalk in jou tuin aangebring het, sodat vreemde strukture ens hom nie laat skrik nie.
  6. Ons probeer almal ons bes, maar as jou voëltjie vry in jou huis is ( soos hy behoort te wees), kan daar soms ‘n ongeluk gebeur en hy kan uitkom. Wees bedag daarop en weet altyd waar hy is, en wat die stand van jou vensters is.
  7. Om sulke ‘ongelukke” te voorkom, knip sommige eienaars die vliegvere in die foutiewe aanname dat die voëltjie nie sal kan ontsnap nie. DIT IS ‘N FOUTIEWE AANNAME! Die feit is dat baie van die papagaaie wat so ontsnap se vliegvere  geknip is. Al  verskil  is dat ‘n geknipte voël baie weerloos is as hy buite kom, omdat hy nie sal kan wevlug van gevaar af nie.
  8. Jou papagaaitjie het die beste kans op oorlewing as hy kan vlieg soos hy geskape is, MET ONGEKNIPTE vliegvere. Dink daaraan voor besluit om dit vir hom te ontneem
  9. Ek het al dikwels gelees dat die voëls vir 2 dae of meer in die omgewing van hulle huis bly en nie te ver vlieg nie. Hou dus jou deure en vensters oop sodat hy maklik kan terugkom.
  10.  Die groot fout wat eienaars maak as ‘n voëltjie uitvlieg, is om ontsteld te raak. Moenie! Jou voëltjie hoor jou ontsteltenis en raak dan self ontsteld. ( jou hart mag bewe, maar nie jou stem en liggaam nie!) Dis uiters belangrik om te maak asof niks besonders gebeur het nie, en dat alles Ok is.
  11. Kry vinnig ‘n bederf eetdingetjie, gaan loop om jou huis en gesels met jou voëltjie soos gewoonlik. Luister aandagtig of hy antwoord.
  12. Ek probeer maar binne -in my erf bly, en meestal vlieg Bekkie na ‘n rukkie nader na die huis, want hy geniet aandag, en hy geniet iets lekkers! Ek glo jy kan hom dalk verwar as jy oral rond en bont roep. Roep verkieslik van jou eie erf af. sodat hy weet waar sy huis is.
  13. As hy nou spoorloos verdwyn, sit oral pamflette op, sit dit ook op facebook en belowe ‘n groot beloning en hou sy hokkie buite met lekker kossies in.
  14. Sterkte!

VEG OF VLUG

Hierdie skrywe bring my nou weereens by die nare praktyk om vlerke te knip. Wanneer gevaar dreig, het diere ( en mense)  veskillende reaksies: veg of vlug.

‘n Leeu, renoster of olifant sal waarskynlik aanval en veg. ‘n Voëltjie sal vlug. Daarom is hulle vermoë om te kan vlieg so belangrik. Hulle instinktiewe reaksie as hulle skrik, is om weg te vlieg en nie om te veg nie.

Hoeveel stres verduur ‘n huisvoëltjie wat nie kan vieg nie, wanneer hy skrik of bang word?  Wat gebeur met hom as hy wel skrik en op sy lomp wyse uitvlieg? Hy kan nie homself verdedig teen honde, katte of valke nie, hy kan nie op die hoogste takke wegvlug van gevaar af nie en as hy nie gevind word nie, is sy kans op oorlewing uiters skraal.

Verlede week het vabond Bekkie weer uitgeglip en aangedryf deur die wind, gevlieg tot by die bome 2 huise van ons af. Daar het die mannetjie gesit en luidkeels geantwoord as ek met hom gesels. Die wind was sterk en ek was onseker of hy sterk genoeg kon vlieg tot by die huis, daarom het ek maar na hom toe gegaan, al is dit eintlik teen my beginsels. Gewoonlik sal ek na hom stap, groet en al etend huis toe loop. Dan is dit nie lank nie, of hy vlieg terug en is baie bly om weer in die kombuis te wees en sy beloning te kry. Nou wou hy dit egter nie waag nie. Dit het ‘n goeie halfuur geduur, maar op die ou einde  het hy soet afgeklim tot op my hand, waarskynlik net so bly soos ek dat ek hom kom red het.

End goed alles goed!

20181120_140052

Hier maak Pollie en Grietjie nader kennis. Grietjie is ‘n kat met “survival skills” wat gered is toe sy so halfmas uitgegroei was. Ten spyte van allerlei grusame voorspellings het sy darem nog nie ‘n papagaaitjie probeer vang nie, en sy is nou reeds 10 jr oud. Pollie is die bure se ringnek, wat die afgelope jaar by ons woon. Sy is nie so mak nie en wil nie die step-up ding doen nie. Sy sal bepaald nie na my toe vlieg as sy per ongeluk uitkom nie, maar hou darem daarvan as ek haar koppie krap. Ek sal regtig meer tyd met haar moet spandeer.

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in Los opdrifsels, Voels en beginsels: I believe I can fly and tagged , , , , , , . Bookmark the permalink.

15 Responses to I believe I can fly 6: veg of vlug? Tips as jou voeltjie wegvlieg.

  1. Toortsie sê:

    Uitstekende raad. Jy weet duidelik waarvan jy praat.

  2. woordnoot sê:

    Sjoe…hierdie raad moet op ‘n pamflet vir alle voornemende voël aanskaffers kom. My kinders het n wit Cockatoo wat al baie weggevlieg het, maar hulle het hom nog elke keer darem terug gekry. Hulle knip gereeld sy vere. Gaan nou dadelik vir hulle së om te stop. Dankie hiervoor.

    • seegogga sê:

      o gaats. As hy nou wegvlieg en nie terugkom nie, is dit my my skuld nie, hoor! Hoe het hule hom gekry? het hy geroep? Of het hy self probeer terugkom soos Bekkie doen? Ek wens meer mense wil lesse gee in die afrigting van voels. Daar is ‘n wonderwereld wat wag om ontgin te word.

      • woordnoot sê:

        Die 1e keer het n netcare ambulansman hom uit die hemelhoë boom gered. Ek weet nie eers hoe hulle die ander kere teruggekry het nie. Sondae middae is sy jailbreak tyd….maar hulle was gelukkig om hom terug te kry. Ek dink die hadedas jaag hom terug want hy doen n aaklige version van die hadedas se skree😅😅😅

      • seegogga sê:

        Gelukkig kom hy terug!!!

      • woordnoot sê:

        Ek het nou jou instruksies gedruk en gaan dit in my lêer bêre vir as die kleinkinders weer voëltjies kry!

      • seegogga sê:

        As dit iemand kan help, is ek bly.

  3. travel460 sê:

    Seegogga, jy weet waarvan jy praat! Ek gaan hierdie raad mooi bêre vir die dag as die kinders voëltjie wil aankoop.

    • seegogga sê:

      ai, hopelik gaan hulle nie een kry nie – voeltjies is high maintenance of ‘n vervelige lewe in ‘n hok. Ek sukkel daarmee, veral met Pollie, was ‘n kouer is. My hele kombuis word stelselmatig opgekou.

  4. Baie goeie raad goggie, Pasella het my en Magriet die kat die naweek so laat skrik. Sy het vir iets geskrik en toe weg gefladder. Ek het soos die besetene van gedara geskreeu toe spat kat en papegaai in ander rigtings. . Eish my hart..

  5. Dis uitstekende raad vir voëleienaars. Ek het jare gelede budgies gehad as troeteldiertjies, maar altyd hul vlerkies geknip. Ek verstaan nou wat jy sê. Dit was ook maar omdat almal dit gedoen het en omdat ek nie regtig daaroor gedink het nie. Gelukkig het my voëltjies nooit in situasies van gevaar beland nie.

    • seegogga sê:

      Bekkie was n jong voeltjie toe ek hom kry
      – met kĺaargeknipte vlerkies. Hy het geskrik en probeer vlieg- ruiguit in die “sideboard” vas, want hy kon nie die nodige hoogte kry nie. Dit het my aan die dink gesit en laat besef watter onreg aan voëltjies gedoen word. Ek het nooit weer sy vere geknip nie.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s