Deesdae is mense tog so besig en dit is soveel makliker om kinders voor die TV te laat neerplak as om die moeite te doen om vir hulle te lees, maar glo my, selfs in hierdie tegnologiese eeu, is LEES die ding wat sukses aanhelp – sukses op akademiese gebied, en ook op geestelike gebied. Daarom is een van die beste presente wat jy ooit vir ‘n kind kan gee, ‘n BOEK.
Om kinders op prettige wyse meer van God ons Vader, Jesus, Sy Seun, en die Heilige Gees te vertel, het CUM BOEKE oulike nuwe boekies uitgegee.
Die eerste is die lekker ‘n Doogle dagboek vir kinders deur Nancy Taylor.
Ek het hierdie boeke aan my tweeling kleinkinders van 8 jaar gegee. As mens die boekie oopmaak, is daar ‘n Bybelstorie op die linkerkant se bladsy en aan die regterkant is daar ‘n bladsy waar die lesertjies die gedeeltelike prentjie op sy eie kan klaar teken. Soms is daar prentjies om in te kleur en soms prenteraaiesels. OULIK! Hulle illustreer dus as’t ware hulle eie boek! Die tweeling is in Graad 2 en dit is dus raadsaam om die storie vir hulle te lees, en daarna kan hulle mal gaan op die bladsy langsaan, waar daar ‘n mooi raampie geteken is waarin hulle nou hulle eie prentjie kan teken op lekker stewige papier. Hulle kan ook die raampie mooi inkleur en verander soos hulle wil.
Ek wou nog so ‘n boekie koop, sodat elke kind sy eie kan hê, maar Paarl Mall se boekies was uitverkoop – nog ‘n aanduiding van die gewildheid van die boek. ‘n Mens kan dit egter by hulle bestel.
‘n Oulike en praktiese belewing van die Bybel.
******
Nog ‘n oulike boek, maar vir die ietwat ouer kind, is My eie klein BelofteBybel, deur Dave Strehler.
Hierdie boekie leer deur ‘n klein beskrywing, ‘n Bybelteks en ‘n mooi illustrasie verskillende beloftes wat God aan ons maak deur sy woord. Die boekie verduidelik op eenvoudige wyse dat God beloftes aan sy kinders gee sodat ons kan weet wat sy plan met ons is en sodat ons hom kan vertrou en weet dat Hy vir ons lief is.
Dit is meer ‘n boekie vir kinders wat al goed self kan lees, maar dit is ook baie geskik vir ouers en kinders om saam die beloftes te lees, die teksies op te soek of sommer net te lees en te bespreek.
Lekker presente vir Kersfees, Paasnaweke, verjaardae, of sommer net, omdat dit ewigheidwaarde het!
‘n Boek as geskenk bly die allerbeste
Dardie doodleboekies is regtig baie oulik en sal kinders vir ure besig hou. 😊
Ja die kleintjies geniet dit baie!
Dis ou oulik, en dink net as hulle die boek jare later as grootmens oop maak watter waarde gaan hulle weer daarin vind..
Dis wat ek ook gedink het. En kinders teken die mooiste prente!
Gaan beslis soek….het besluit dat elke kleinkind van hierdie jaar af boeke kry…basta met speelgoed!
Dis regtig die beste. Hulle kry hopeloos te veel speelgoed.
Die doodle dagboek lyk baie oulik, gaan kyk of ek dit vir my tweeling in graad 2 kan kry… Dankie vir die idee!