I believe I can fly nr 1

BEKKIE POSTER 001Nege jaar gelede het ek ‘n voëltjie present gekry: ‘n Blou Indiese ringnek papagaaitjie op presies te wees.

Soos alle jong voëltjies, het Bekkie ook probeer vlieg. Die probleem was dat hy dit nie kon regkry nie, want hy was gebreklik: sy  vlerke was geknip, juis sodat hy NIE  moet kan vlieg nie.

Dink ‘n bietjie aan jou eie mens-kinders. Kap jy hulle been af sodat hulle nie kan hardloop en seerkry nie? Sluit jy hulle in hulle kamer toe sodat hulle nie kan uitgaan en die wereld verken nie, en dalk in die proses verlore raak, doodgaan in motorongelukke of ander tragedies nie?

Ek het die gestremde voël baie jammer gekry. Hy het nie gevra om saam met mense in ‘n huis te woon nie, en die een ding wat ons almal so graag sou wou doen, die een ding wat hy regtig goed sou kon doen en waarvoor hy geskape is, is hom ontneem. Daarom het ek besluit om nooit ooit weer sy vlerke te knip nie.

Bekkie het na die eerste verveer stadium verander in ‘n normale voëltjie- ‘n sterk vlieër wat soos ‘n swaeltjie hoog deur die lug kon klief as hy so voel. Goed-goed, ek het hom maar verkieslik net in die huis laat rondvlieg soos hy wil, maar op gereelde basis het hy soms uitgeglip, gewoonlik as ek ook buite is, en dit dan vreeslik geniet om in die hoogste takke van ons hoë jakarandaboom te sit, oor die dak te vlieg na die boom voor op die sypaadjie, soms oor die straat na die bure se boom en soms oor die rolbalbaan tot aan die  oorkant van die agterste straat. Bekkie is nou nie die slimste ringnek wat ek al gesien het nie- hy het nooit geleer om sy eie hok oop te maak soos ander wat ek ken nie, en hy het nooit Afrikaans bemeester nie, maar hy kon darem wegkruipertjie speel en hy het beslis geweet waar sy huis is.

Bekkie bo in die bure se jakarandaboom

Bekkie bo in die bure se jakarandaboom

In die begin was ek paniekerig en het elke keer die ergste gevrees, maar met die jare het dit duidelik geword dat Bekkie nou al sy omgewing ken, dat hy weet waar sy huis is, en dat hy nie wil wegvlieg nie, maar sommer net ‘n bietjie buite wil wees en ja, bietjie aandag wil he, want as hy weer ingekom het, het hy met opgewonde geselsgeluide vir my vertel van al sy avonture. Een nag het hy selfs buite geslaap omdat ‘n kwaai bui reën geval het net toe hy wou inkom. Die heelnag het dit gestortreen, maar die volgende oggend het hy luidkeels van hom laat hoor, vroeg-vroeg die kombuis ingevlieg en die heeloggend gesit en slaap na al sy ontberinge.

Tot verlede week. Ek moes  Struisbaai tot om huise te gaan skoonmaak, toe meneertjie besluit dat dit tyd is om uit te vlieg. Hy het geskrik vir ‘n swart spreeu in die vyeboom en is om die huis en weg. Ek het geroep, maar toe ek hom nie kry nie, het ek gereël dat iemand in die huis sit sodat al die deure kan oop bly en is gou Struisbaai toe. Dit is ‘n feit dat papagaaie so twee dae lank naby hulle huis bly as hulle dalk uitkom en Bekkie ken die area.

Teruggekom, vertel die meisie my dat hy wel weer ingevlieg het, maar vir haar geskrik het en toe weer by die deur uit is voordat sy die deur kon toemaak. Ek het geroep en gesoek  , maar Bekkie was weg – ‘n hele week lank, en ek het begin glo dat hy dood is – ‘n valk het hom gevang, ‘n kat of dalk  het hy erens vasgevlieg.

Beloning is beloof, met pamflette op elke supermark en kafee muur asook oral op Facebook, maar Bekkie het soos ‘n groot speld verdwyn.

My tuinman benodig die beloning en doen navrae. Hy vind uit dat ‘n vriend van hom by die garage op die hoek gesien het hoe iemand ‘n papagaai vang  op dieselfde dag dat Bekkie weggeraak het.  Die persoon het hom blykbaar uit die boom uit natgespuit todat hy op die grond geval het en toe het hulle ‘n lap of kombers oor hom gegooi om hom te vang.

Hulle gaan wys my die huis, ek bel rond, en daar vind ek  weer my voëltjie (jippiee!)- by die bure agter my, vlerke kort geknip en doodstil van skok. ( hy is nou nog buitengewoon stil – post traumatiese stres?)

Nouja, ek is só bly en dankbaar Bekkie is weer terug! My gebede is verhoor! Ek glo ook hy sou self teruggekom het as hy nie gevang was nie. Ek kan ook nie die mense kwalik neem nie, ek sou ook ‘n papagaai probeer vang het as ek een in my boom kry.

Maar : Waarom het hulle nerens probeer navraag doen wie het ‘n mak papegaaitjie verloor nie??? Het hulle sowaar my nooit hoor roep nie? En waarom wou hulle die hele beloning he en nie ‘n derde afstaan aan die manne wat my gehelp het om hom op te spoor nie? (Die manne het dit beslis baaie meer nodig as hy. Dit kos my nou taamlik dubbeld, want reg is reg.) Ons was immers goeie kennisse en het vroeër jare baie saam gekuier? En as hy nie geweet het my voëltjie is weg nie, waarom het hy die naam”Bekkie” op hom getoets en toe geglo dat hy geen reaksie kry nie? Sowaar?

Meneer, waarom het jy hom natgespuit elke keer as hy sy harde fluite gee? Besef jy nie dat voeltjies soggens moet fluit nie – dis hulle natuur en het jy regtig nie geweet of gedink dat hy eintlik vir my, sy regte baas,  roep nie? Bekkie het my probeer antwoord as ek hom roep, maar jy het hom elke keer verskrik sodat hy nou soggens doodstil in sy boksie wegkruip ipv van om die dag toe te juig. Skaam jou! En waarom het jy dadelik sy vlerke so kort geknip?

Bekkie probeer nog vlieg, want hy hoop nog hy kan, maar land dan ongelukkig op die grond- tussen my 3 katte. Hy sal moet wag tot so April se kant wanneer hy hopelik klaar verveer het om weer te kan doen waarvoor hy geskape is : vlieg!

Om oor die beginsels oor die knip van vlerke te lees, klik hier.

Om van Bekkie se avontuur op Worcester te lees, klik hier..

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in feeverhale en ander stories, Los opdrifsels, Voels en beginsels: I believe I can fly and tagged , , , . Bookmark the permalink.

15 Responses to I believe I can fly nr 1

  1. Toortsie sê:

    Ek is SOOOO bly jy het hom teruggekry. Maar ja, ek sal ook die vrae vra as ek jy was… Dit was ook geen geheim in die dorp dat die voëltjie weg is nie. Baie bly vir jou! 🙂

  2. Toortsie sê:

    Na regte behoort hulle nie die beloning gekry het nie, hulle het mos nie vir jou die voëltjie gebring nie???

  3. Spokie sny spoor sê:

    Aaag – dis ‘n pragtige storie, en baie mooi geskryf. Bekkie klink omtrent na ‘n oulike voeltjie.

  4. seegogga sê:

    Dankie Spokie. Hy is oulik, maar kan ook lekker stout wees – kou graag aan my boeke en prentrame. Maar hy is dierbaar en liefdevol.

  5. Kameel sê:

    Pragtige storie. Baie bly Bekkie is by jou en nie die bure nie.
    Voel ook soos Toortsie; hulle moes nie die beloning gekry het nie.

  6. seegogga sê:

    Ai Kameel, ek is so bly hy is terug, maar ek is erg bekommerd oor hom. Hy is baie stil, dooierig en slaperig. Ek hoop nie hy het seergekry in die vang en verknip proses nie!. Ek glo mar dat hy na ‘n paar dae weer sy ou self sal wees.

  7. Terug pieng: Gee fantasie vrye teuels | Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie

  8. Sparkle sê:

    Bekkie is so ou mooi dingetjie, ek is sommer nou vies vir die buurman wie hom so stief behandel het.

    Hoe gaan dit nou met hom, is hy nog steeds so stil?

    Ek ken glad nie voels nie, maar kan mens nie ‘n kontakbesonderhede ringetjie om sy pootjie bind vir “in geval” nie?

  9. seegogga sê:

    Hallo Sparkle, Dankie vir jou belangstelling. Bekkie is woes besig om te verveer, en kan al mooi vlieg. Daar is ‘n paar geknipte veertjies wat nog moet uitval en dan is hy reg! Hy is egter steeds stil soggens en dooierig. Ek dink darem die verveer het ook iets daarmee te doen, en as hy daarmee klaar is, hoop ek regtig hy is weer sy ou self. Gewoonlik word ringetjies opgesit as die voeltjies klein is, sover ek weet. Ek is self nie baie op hoogte daarvan nie, maar ek dink so ‘n ringetjie om so ‘n klein pootjie moet maar soms hinderlik wees.

  10. Dis nou wel ‘n ou pos van jou,maar ek het dit geniet om hier te lees.Is Bekkie nog in jul midde en vlieg hy weer buite rond?

    • seegogga sê:

      Hallo Perdebytjie, welkom hier. Bekkie is nog hier en was al so 2- 3 keer weer buite, maar gelukkig net so onder die afdak en in die vyeboom. Ek dink hy het net so groot geskrik soos ek.

  11. Terug pieng: I believe I can Fly nr 2: ‘n Saak van beginsel | Seegogga se Bloggie

  12. Terug pieng: I believe I can fly 3 ( ofterwel: Die dag toe ek op Worcester se sypaadjie kampeer het) | Seegogga se Bloggie

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s