Seegoggas se dae verander saam met die getye , die wind , die weer, en die ander gediertes wat dalk hulle pad kruis.
Daar is dus min patroon in die lewe van ‘n seegogga, behalwe dat hulle lief is vir knibbel – aan enigiets wat enigsinds lyk of dit geëet kan word. Slaaptye is ook anders as die van ander seegediertes, Soms is dit in die middel van die dag, soms in die middel van die nag, afhangende van omstandighede.
Om te illustreer, word net een dag, vandag, in die lewe van ‘n seegogga beskryf:
Ons noem maar hierdie seegogga Krappie, hoewel sy soms meer gogga as krap is.
Vanoggend het Krappie swaar wakker geword omdat sy gisteraand sommer baie laat gaan slaap het, en omdat Spottie, haar knorhaan, in die middel van die nag haar kom wakker maak het. Hy wou graag uitgaan om te kyk of alles nog veilig is en of daar nie vreemde seekatte is om te jag nie.
Krappie lê nog so in haar onder haar seegraskombersie in haar sandhuisie, toe sy skielik besef: Sy moet op! Daar’s baie werk om te doen! Sy moet strand toe!
Sy bid vanoggend vinniger as gewoonlik haar oggendgebedjie, spring op en skarrel gou rond in haar huisie, gee haar troetel seekatjies kos, haal haar blou seevoëltjie uit sy hok sodat hy kan rondvlieg, kry skoon beddegoed wat sy in krapmandjies pak en maak vir haar en haar man, mnr Krap, warm bruin oggendsap wat darem bietjie krag vir die dag gee. Mnr Krap benodig iets by sy werkklip, en omdat hulle net een seeperd het, moet hulle gou eers daar aangaan. Toe moet sy eers weer by die blaarbank aangaan. Ai, daar is ‘n hele spul krappe , visse en ander goggas en sy moet lank wag voor hulle haar kan help.
Nou is Krappie regtig laat. Sy jaag op haar seeperdjie strand toe. Dit neem so ‘n halfuur om daar te kom. Daar is 3 strandskulphuisies wat moet skoon sodat die hermietkrappies daar kan kom vakansie hou, maar vandag is daar net tyd om een skoon te maak,waarin 2 hermietkrewe gaan kom bly, omdat sy vroeg weer terug moet wees vir die seeskool.
Die een skulphuisie waarin die hermietkrewe kom, is net mooi amper reg, toe haar seeskulp suis in haar ore. Dis twee verliefde hermietkrappe wat tog asseblief vannaand in een van haar skulphuisies wil bly, want dis mos Valentynsdag. Krappie moet nou ekstra vinnig woel, want nou het sy twee huisies wat moet skoon voor 1 nm en sy het eintlik net beplan om die vuil seegraskomberse te kom haal.
Sy woel en wikkel en werk. Die seeskulp suis weer. Dis mnr Krap wat haar herinner dat sy nie moet laat wees nie. As Krappie so strandskulphuisies toe gaan, gaan kuier sy gewoonlik na die tyd eers by Parrie, die pylstert, voor sy teruggaan, of so nie, gaan loer sy na die groot vuurtoring, Toortsie se liggie, maar vandag is daar nie tyd nie. Krappie spring op haar seeperd en nadat sy hom lekker kossies gegee het, laat waai hulle teen dubbele spoed terug na haar blyplek. Daar gryp sy net haar boeke en laat waai skool toe.
Dis Dinsdagmiddag en deesdae leer sy die skool visse van die brein , die sintuie , neurone en allerhande snaakse goed. Sy moet net so hard soos hulle leer, want sy het al so ‘n bietjie vergeet net soos daardie heksie wat ons mos ken. Van 2-3.30nm is Krappie net besig met die Biologie. Toe jaag sy huis toe, want die raam-krewel wat vir haar werk, is net tot 4nm daar en hulle moet gou ‘n raamprobleempie oplos. Krappie het mos haar eie klein besigheidjie by die huis. Sy sit prentjies van die ander goggas en visse se kinders in mooi raampies.
By die huis gekom, sê Krappie se man dat hy darem nou baie honger is, wat van ‘n lekker seeburger met seeslaai by? Krappie spring weer op haar seeperdjie en jaag na die haaie se winkel toe. Daar kry sy seeblare, en ronde sponsies waarmee sy burgers gaan maak. Sy het mos nog bietjie seekossies om binne-in te sit.
Krappie gooi die eerste bondel wasgoed in die maalgat en toe maak sy seeburgers. Maar ai, sy mors! Haar blou voëltjie het ook intussen ‘n paar potjies seesout omgestamp. Hy was mos heeldag alleen in haar kombuisie en het lekker gespeel met al die allekruk en mosselskulpe.
Na ete raak Krappie baie lui, maar tyd vir stilsit is daar nie vandag nie. Die eerste bondel wasgoed moet oor die klippe gegooi word dat dit kan droog, die blou voëltjie moet sy aandkossie kry en in sy hokkie gesit word, die 2 troetel seekatte soek ook alweer kos en Spottie, die grunter, ag ek bedoel, knorhaan, wil ook graag iets lekkers eet. Die tweede bondel wasgoed kom in die maalgat en nou gaan knip Krappie gou 60 hartjies uit rooi seegras. Dis mos vandag Valentynsdag en by mnr Krap se werk is daar ‘n spesiale Valentynsaamswem. Een van haar kinderkrappies wil graag uitvind hoe ‘n mens Valentynkossies maak, en Krappie druk haar seeskulp so met een knyper vas terwyl hulle praat.
Krappie gaan help mnr Krap by die Valentynsaamswem , maar toe dit stil word, neem hy haar huis toe sodat sy verder kan klaarkry met alles wat sy nog moet doen. Die tweede bondel word oor die klip gegooi, die derde bondel word in die maalgat gegooi, die kombuisie, wat ‘n groot gemors is, word skoongemaak; skottelgoed, die eetskulpe, die koraalkassies, die perlemoenvloer, alles word skoongemaak sodat daar darem bietjie orde kan wees.
Die derde bondel is intussen klaar gewas, maar Krappie is nou lui. Sy haal hom uit sodat die vierde bondel in die maalgat kan kom, maar sy gaan nie nou in die donker die wasgoed oor die klip gooi nie. Dit kan maar kan maar lê tot moreoggend, want daar is iets wat Krappie nou baie graag wil doen voordat sy in haar warmwaterpoeletjie gaan ontspan en onder haar seegraskombersie gaan slaap- en dis eintlik al die volgende dag!
Sy gaan na haar spesiale boksie kommunikasieskulpe. Met haar voorste knypertjies tik sy vinnig op die swart perriwinkle skulpies.
Daar tik sy:” ‘n Dag in die lewe van ‘n seegogga”.
Genade! Ek’s uitgeput en ek lees net wat jy alles gedoen het!
Ek wonder hoe gaan ‘n dag in die lewe van ‘n mamma? ‘n NETJANE mamma?
Hierdie Krappie se 3 meisiekinderkrappies is darem gelukkig al almal groot! ( en dis darem nie elke dag so woes nie, net so 1 of 2 keer per week.)Toe hulle klein was, het sy vir niks anders kans gesien nie, behalwe om met hulle te speel en so nou en dan prentjies te teken nie.
Wat ‘n besige lewe. Lyk my mense kyk hierdie streek se vroue vlak. Jy en Toortsie maak my moeg om net te luister!
og og og…. stokflou is ek ook nou!
En terloops, Maankind! Jy werk NET SO HARD!
Op hierdie oggend is ek bly ek is nie ‘n seegogga nie…. die see is groot, en daar kruip en swem eienaardige wesentjies rond, waarmee jy moet deel. Dink ek gaan wraggies nou in die bed klim vir jou part. 😆
Terug pieng: Sondagaand – nie blues nie | Seegogga se Bloggie
Dis nou so oulik geskry!Mal hieroor!
Dankie Bytjie!