Daar is baie antwoorde op hierdie vraag. Ja Ons weet dit is God, ons Hemelse Vader. Maar as ons nou van gewone aardse wesens praat: wie reël en beheer lewe?
Daar is diegene wat beweer dat die president van die land dit doen – of die eerste minister. Of dalk doen die burgemeester van ‘n groot stad dit. Of jou man, as hoof van die huis. Dalk al die wonderlike geniale wtenskaplikes in ons tegnologies eeu, die dokters, die regsgeleerdes.
Maar ek kan julle verseker die wereld word nie deur hulle beheer nie. Nee! Die wereld word beheer deur die klerke, die kaartjiesverkopers, die telefonistes en soms ook die sekretaresses. Die ouens wat reeds st 8 of vroeër uit die skool is( jy is gelukkig as jy een met matriek kry) en erens in ‘n klein kantoortjie sit met ‘n spul stowwerige lêers en wat nooit geleer het om hulle eie dinke te dink en eie afleidings te maak nie.
Nou is ‘n hele klomp oulike sekretaresses vir my smoorkwaad. Ek weet daar is baie oulike, pragtige en hulpvaardige mense onder julle. Maar julle wat super oulik is, beheer ongelukkig nie die wereld nie.
Kom ek gee gou-gou ‘n paar voorbeelde.
1. My man het ‘n tegniese kwalifikasie en wil graag HOD tegnies by UNISA swôt , met metodiek van Wiskunde as een van sy vakke. “Nee”, sê die klerk. Hy het nie naskoolse opleiding in Wiskunde nie. My man wys hom daarop dat hy Calculus 2 het , wat gelykstaande is aan 2 jaar naskoolse opeiding in Wiskunde. Maar die klerk het nog nooit ooit van Calculus gehoor nie. Hy gaan ook nie nou uitvind nie. Hy word geweier. En daar is niemand hoër op wat hy kan raadpleeg nie. Sy hele skoolloopbaan as onderwyser word daardeur verrander.
2. Jare gelede wou ons met die trein van Pretoria na die Kaap ry, met die motor ook op die trein,sodat ons hier vervoer het.( Ons kon dit gratis doen omdat my man toe nog by die spoorweë gewerk het). Dit is snikheet en ek staan met 2 peuters ‘n driekwartuur in ‘n lang ry om ons kaartjies te bespreek. Die kinders is moeg en moeilik en my arm wil breek van moegheid, want die jongste sit daarop en weier om rond te kruip of in die stoorwaentjie te sit. By die kaartjieskantoor deel die dame my mee dat die motor se besprekings af in die gang is en die tweede of derde deur regs, asook dat die motor eerste bespreek moet word voor sy ons kan bespreek . Ek veduidelik dat ek al ‘n driekwartuur hier staan en wag om gehelp te word, dat my kinders moeg en honger is en ek gaar, en dat ek nou hier by haar is, en eerste vir ons wil bespreek voordat ek die gang gaan afstap op soek na die motorbesprekings. Ek soebat en vra mooi dat sy ons asseblief net moet bespreek en klaarkry. Sy weier. Die motor moet eerste bespreek word en klaar. By hierdie tyd het ek begin om te verstaan hoe klerke se koppe werk.
“Weet jy wat?”, sê ek vir haar. “Ons vat nie meer die motor saam nie. Bespreek asseblief ons kaartjies.” Sy kyk my ongelowig aan. Wil ons nie meer die motor saamneem nie? “Nee!” sê ek met ‘n soete glimlaggie. “Ons gaan nie meer die motor saamneem nie. ” Sy is ‘n bietjie verbaas, maar bespreek pligsgetrou ons plekke. Kaartjie veilig in my doekesak, stap ek die gang af en gaan bespreek die motor sonder enige moeite.
3. My man het jare gelede al vrystellng van die weermag gekry agv ‘n ernstige motorongeluk wat hom effens kreupel gelaat het. Op ‘n goeie dag, seker 10 jr later, lui die telefoon. Dis een of ander troep of iets in Pretoria. Waar is my man? Hulle soek al 2 jr lank na hom. Hy is in groot moeilikheid , want hy moes al lankal nog 3 maande op die grens gedoen het. Hoe meer ons verduidelik dat hy vrystelling het, hoe minder luister hy. My man moet onmiddellik die volgende oggend by die kasteel in Kaapstad aanmeld, want die dag daarna vertrek hulle grens toe. “As julle my dan wil hê, met julle my maar self kom haal”, sê my geliefde. En die weermag doen dit ook – en neem hom met ‘n bussie al die pad van Bredasdorp af Kaap toe. Teen hierdie tyd het ons al die afskrifte van sy vrystelling erens uitgegrawe, en ek het begin bel. Die vrystellingpapiertjie was tweede van bo af in sy lêer, maar niemand het dit gesien nie. En so kry hy toe ‘n onverwagte 2 dae “verpligte” verlof, en moes ek hom daardie aand weer by die kasteel gaan haal.
4. My man kry jare gelede ‘n pos by ‘n skool, maar die onderwysdepartement kan hom eers aanstel in die pos as hy as onderwyser geregistreer is. ‘n Ander afdeling van die einste onderwysdepartement kan hom eers registreer as hy aangestel is in ‘n pos ( hy het nog nie ‘n onderwysdiploma nie). So word hy van bakboord na stuurboord gestuur en die onderwysdept vat 3 maande om dit uit te sorteer.
5. Die lugredery gooi my tas weg op London se lughawe. Niemand weet waar hy is nie, self nie na ‘n gebellery van elke ander land af vir die volgende 30 dae nie. Terug in Londen kry ek op Heathrow ‘n groot kamer met groot letters gemerk: Lost Luggage. Daar staan my ewe goedgemerkte verlore tas.
6. My vriendin is hoogs ontsteld omdat sy in die tonnel moet gaan vir ‘n scan en aan engtevrees ly. Sy vra die dame “in beheer” by die hospitaalspreekkamer of daar geen ander metode is nie, en hoe lank dit duur. “Ten minste 2 en ‘n halwe uur” en daar is geen ander metode nie. Hoogs ontsteld vertel sy my, en ek weet mos noual. Ek raai haar aan om weer te bel en met die dr self te praat. Sy word genadiglik deurgesit na die radiografis. Die vertel haar dat dit ‘n baie kort prosedure is en dat haar kop meestal buite is en stel haar gerus dat sy haar oor niks hoef te bekommer nie. Dankie tog!
6. ‘n Vrou kraam by die hek van die hospitaal omdat die hospitaal ( lees: admin. Want dit was beslis nie ‘n dokter nie!) geweier het om haar toe te laat.
7. Om dieselde rede het ‘n man onlangs gesterf. I rest my case.
Nouja, deesdae is alles egter gemeganiseerd en gerekenariseerd.. Is dit nou beter en makliker? Nee!
Bel jy, gee die masjientjie ‘n opsie van omtrent 5 knoppies waaruit jy kan kies om te druk. Nie een vd knoppies gee vir jou waarvoor jy vra nie en elke knoppie skakel jou net deur na ‘n ander een. Jy spandeer ure om ‘n baie basiese antwood te kry wat ‘n mens, al is dit nou ook ‘n klerk, sommer dadelik vir jou kon gesê het.
Jy koop iets aanlyn, want dit is nie plaaslik beskikbaar nie. Die produkbeskrywing sê nie wat jy wil weet nie. Is dit ‘n vertaalde boek? Het die Italiaanse fliek wel Engelse onderskrifte? Die Jesus of Nazareth fliek is meer as 6 uur lank. Hoeveel dvd’s is in daardie kassie? Is dit presies dieselfde weergawe wat jy in 1978 in die flieks gesien het of is daar dele uitgesny? Hulle wil aflewer in die week wat ek nie hier is nie. Daar is geen manier om vir hulle te sê hulle moet ‘n week later aflewer nie. Wat gaan van my pakkie word as ek nie hier is nie? Presies hoe groot is die kashandvatseltjies wat jy nou met die katalogus wil bestel? Hoe, waar, watter kleur , hoekom wat???
Ek dra hierdie op aan almal wat al met die rompslomp van die daaglike lewe te doen gekry het.
Kom ons gaan klink ‘n glasie wyn in Rhebusfontein , en lag ‘n slag !
Hierdie is omtrent ń mondvol, Seegogga, en by elke punt moet ek ook sê ja, het ook al so iets beleef en nog meer.
Vertel jou stories, Una!
Janee, soos skrywer Chris Barnard gesê het: “Die Hun is nog met ons”!
Jy kry vol punte vir hierdie ene. Ek stem een honderd persent saam. Dis waar waar waar…..
Dankie Bondels.
Nou hoekom voel ek nou so moeg?
Ai Kameel, kom drink wyn op Rebusfontein! Jy sal gou beter voel.
Ek is op Rebus Seegogga en hier gebeur wonderlike dinge. Nie nou tyd vir rus nie…. ons moet Una gereed kry vir haar groot dag.
Ja-nee, ek stem sommer saam. En natuurlik: probeer bietjie ‘n mediese fonds probleem tussen ‘n groot mediese fonds en ‘n hospitaal uitsorteer! ‘n Klompie jare gelede moes my man ‘n biopsie van die prostaat kry. So kry ons ‘n rekening van amper R2 000 van die hospitaal af – die mediese weier om vir die apparaat te betaal wat die biopsie gedoen het. Ek weet dis nie moontlik nie, want alles wat gedoen was, was gemagtig en binne die normale prosedures. Einde ten laaste kry ek dit reg om by die mediese fonds se rekening afdeling uit te kom en vra vir hulle om vir my te lees wat die rede is van die amper R2 000 se bybetaling. O, reken die dame, dit is die amniosintese masjien wat hulle afgewys het vir betaling. (Amniosintese is mos wanneer hulle vrugwater uit die baarmoeder uittrek om seker te maak die ongebore baba is orraait). Ek sê toe dankie en bel die hospitaal. Weet jy hoe lank neem dit om ‘n hospitaal se rekeninge afdeling te oortuig dat die biopsie van die prostaat beslis nie deur amniosintese gedoen is nie? En dat die vrou nog met my stry ook en sê dat dit is wat deur die teater deurgegee is en dit is wat hulle op die rekening sit? En hoe meer ek probeer verduidelik dat jy ‘n vrou moet wees én verkieslik swanger om ‘n amiosintese te ontvang, hoe minder glo sy my. Op die ou end moes ons die spesialis skakel om met die teater personeel te gesels om vir die rekening afdeling die korrekte masjien se besonderhede te gee wat die biopsie gedoen het, sodat dit mediese fonds dit kan goedkeur vir betaling! Ek het net my kop geskud.
Nou het ek baie lekker gelag! Amniosintese!
Jy slaan die spyker op sy kop met hierdie skrywe.
Ek kan AMEN skree op veral die punt van die masjiene wat antwoord. Ek moet gereeld fondse bel om voordele uit te vind vir pasiente. As ek Medscheme bel wat Polmed, Fedhealth en Bonitas insluit, is daar presies elf “stemme” wat sê wat ek volgende moet doen om by ‘n agent uit te kom. Vier minute voor jy eers met ‘n asem kan praat…..en dan moet daardie asem ook net bietjie nuut op die job wees….glo my vry. Ek weet hoe dit voel.
En voor jy kan asem skep, besluit daardie “stem” om jou oor te plaas na n ander afdeling. En dan moet jy alles van vooraf verduidelik en allerlei “security questions” van vooraf antwoord, en dan plaas hulle jou weer oor….
Ek sê mos…ek het ‘n hele nuwe persoon ontdek in myself toe ek met hulle begin werk het…bitsig!
Moenie in hulle kraal speel nie! Hulle hou daarvan om jou te ontsenu
Ek kan ‘n blog skryf oor DHL klerk wat nie Canary Islands kan spel, verstaan of opspoor sodat ek dokumente kan stuur nie. ‘n Uur se ek jou. Ek spel later soos die army mense, maar niks. Op die ou einde met ‘n ander een gepraat wat se eerste taal engels is voor ek reggekom het.
Ai tog. Bly jy het toe darem reggekom!
Ek hoor jou en hierdie dinge is hoogs frustrerend. Maar op ‘n ander positiewe noot. Wanneer die baba haar vuisie om jou vinger klem verander jou prioriteite en lewe. In die gesin konteks dink ek kinders beheer die lewe en ouers aanvaar dit so
Ja Abrie, dis natuurlik heeltemsl waar! Daar is erens so n prentjie van n baba met n rattle en dummy en die onderskrif lui: Ruler of the world! En dan geniet ons ook nog hierdie heerskappy! Bly om weer n slag van jou te hoor.
Terug pieng: Roem wag vir die Towerinne – toortsie.com