Sondagaand – nie blues nie

Vannaand sit Seegogga nou stoksielalleen en speel hier met haar bloggie – iets wat sy so lanklaas gedoen het.

Mnr Krap het aan’t slaap geraak in die sitkamer, RSG speel die mooiste operamusiek, die skulpbakkies is gewas, die seekatte lê opgekrul  en die seevoëltjies slaap lankal soet. Seegogga sit hier by haar eetkamertafel met haar swart boksie vol perriwinckle skulpies en speel sonder enigiemand wat pla!

Seegogga weet sy moet ‘n paar boeke bespreek, idioomstories skryf, woordsnoere maak, en baie baie goeters doen. Maar sy ISSIE LISSIE! Sy is lus om sommer te tokkel op die skulpies, lekker nonsens te  tokkel, en nie om te gee of dit wat sy skryf enige sense maak, hogere taal is, of enigiets vir enige iemand beteken nie.

Ja, Seegogga is lus vir speel en niksdoen! Dis immers Sondagaand en sy is alleen met haar geliefde ou bloggie wat in die laaste tyd al te veel na werk begin voel het. Sy verlang na die dae toe die woorde sommer so maklik gevloei het, en sy nie verplig gevoel het om iets te doen nie.

Dus vat sy nou bietjie vakansie, kielie sy nou die skulpies en lag lekker, want dit voel ‘n bietjie soos die outyd. Sy drink ‘n bietjie rooi seegrastee, en weet sy gaan nou- nou verder in haar warmwaterpoeletjie lê  en ontspan. Ai, sy is darem soo bevoorreg!  En dan gaan sy inkruip in haar skulpbedjie en lekker soet slaap onder haar seegraskombersie.

Sy dink ‘n bietjie hartseer daaraan dat haar spotted grunter noual lankal nie meer hier is om die ander seekatte te jaag nie. Maar sy troos haar daaraan dat hy al baie oud was en dat sy hom die rus gun. Hy het sy spesiale plekkie in haar hart.

Seegogga dink aan al die skulphuisies wat more weer moet skoon kom vir die hermietkrappe wat wil kom kuier. Maar dit is gelukkig eers more se stories, en hopelik het sy genoeg hulp – Ja die tye stap aan, dink sy en gaap. Dis baie jare sedert sy alleen so hard gewerk het soos daardie een dag waaroor sy geskryf het, so lank gelede.

“Dit gaan goed met my,” dink sy gelukkig. “Die liefde is soos ‘n klein voëltjie,” sing Carmen, op die radio. “More, net more, gaan ek weer werk en verantwoordelik wees en dink en organize. Maar nou gaan ek op maat van die mooie musiek  lekker in my poeletjie lê en skommel en droom van verre en wye strande.”

Seegogga sug tevrede, sit die laaste liedjie wat sy op die radio gehoor het, op haar bloggie en maak haar kissie met sy swart perriwinkle skulpies toe.

 

 

 

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in branders van emosies: musiek vir die siel, Los opdrifsels, Seestories. Bookmark the permalink.

22 Responses to Sondagaand – nie blues nie

  1. Toortsie sê:

    Ag hoe lekker is dit om hierdie te kees. Blogging moet nooit werk wees nie, net lekker. En Seegogga mag op haar bloggie skryf net wat sy graag wil. ❤️

  2. Hier by my skarrel ek ook alte vreeslik, jou aand klink vir my perfek

  3. travel460 sê:

    Is dit nou te lekker om my oggend saam met jou te begin, en saam met al jou see-vrinne. My Maandag voel sommer nou doenbaar. Hoop jy het heerlik onder jou seegras kombersie geslaap.

    • seegogga sê:

      So lekker! Vanoggend is die see koel en stil. Ek het vir Parrie gaan hallo sê en drink noy my bruin oggendsappies terwyl die krewels die skulphuisies van kant tot kant skoonmaak. In die een het die hermie5krappies besluit om nog 2 aande te bly, en in die qnder een kom daar later vaoggend ook tweetjies intrek vir n paar dae. Segogga is baie dankbaar want die lang winter lê voor die deur en dan wil hermietkrappe nie rondtrek nie.

  4. Ek hou baie van jou storie.Mens se beste skryfsels is wanneer dit nie geforseerd is nie. Lekker gelees, dankie!

  5. woordnoot sê:

    Ek is so bly ek is nie die enigste een wat nie nou woorde vind om neer te pen nie…geniet jou skulpies!

  6. Dit het lekker gelees amper soos n feeverhaal .. bly dit gaan goed met seegoggie

  7. Olga sê:

    Ek ken daardie Ïssie lissie” baie goed. Al gewonder as ek dr toe gaan of hy iets sal kan voorskryf.

  8. Ek gaan ook deur so ‘n issie lissie fase, maar hier by my het dit te doene met die son en sand en see wat my weglok van werk af. Ek verstaan dus alte goed hoe lekker so ‘n aandjie af is – geniet dit.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s