OGGENDTEE

Dis kunsuitstalling by Marina Blight se gallery. Om die teetafel in die agtertuin sit ‘n groepie van so 7 of meer pragtige dames. Elkeen is keurig en vrolik aangetrek en ja, middeljarig. Dit gons soos hulle gesels. Of liewer: Die Goue Vroue gesels en die VLV en ander dames luister geїnteresseerd.
“Daar is ‘n klomp troeteldiere, hoor, selfs ‘n seekoeitjie!”
“Ons het ook mos Jumani gespeel,” vertel Toortsie met oorgawe.
“Ja, en onthou ek het mos nog ‘n blouwildebeeskalfie!” Trommetjies.
“Sy het op die blouwildebees gery en toe kalf sy – die blouwildebees, nie sy nie,” verduidelik Seegogga.
“En Seegogga het ons mos gered deur ‘n ketting met ons buffies te maak en toe swaai ons daarmee oor ‘n groot afgrond.” Trommeltjies vat-vat aan Seegogga se buffie ter verduideliking.
“En ons het ook saam met Tarzan deur die bome geswaai, né.”
“Erens is daar altyd ‘n baie aantreklike hunk, betrokke,” mymer Toortsie.
“Ek het so gelag vir tannie Frannie! Sy sit toe mos en verdwyn en verskyn die heeltyd,” lag Aalsie.”Nes ‘n flikkerlig, toe ons daar in die buitenste ruimte was.”
“Ek het die ruimtepakke ontwerp en ‘n verdwyn-verskyn knoppie ingesit vir ingeval, maar toe weet Frannie nie hoe dit werk nie en druk dit die heeltyd,” beaam Seegogga.
“Maar toe, toe gaan tango sy mos op die maan!”
“Saam met Silwer op sy motorfiets!” almal lag van verwondering.
“En nou was ons op die mooiste troue van Camilla en Lorenzo by Lake Como in Italië.”
‘En ons het almal dieselfde rooi rok aangehad, die een na die ander !”
Aalsie vertel hoe ons in die tronk was in die 18de eeu en hoe hulle die Goue Vroue se hare afgeskeer het en hoe ons toe nie tyd gekry het om trou-uitrustings te koop nie.
“Maar wat van die verskillende groottes?” kry een van die ander dames ‘n woord is.
“ Nee, die rok het het vir almal gepas. One size fits all!”
Eddie, Marina se aantreklike man – ‘n lewensafrigter en terapeut, sluit by ons aan.
Ons gesels oor die waarde van ons saamwees avonture, oor Rebusfontein en die wonderlike onderskraging wat die Goue Vroue vir mekaar bied. Ons vertel hoe Una op die maan gaan sit as sy ongelukkig voel en hoe ons dan ook daarheen gaan om haar te ondersteun.
Ons vertel hoe ABBA by ons kom optree het en hoe Pierce Brosman per ongeluk van die groen blare ingekry het.
“En moenie ons bont koei vergeet nie!” Aalsie. “Hoe het dit nou weer gebeur?”
“Ek het mos met ‘n klomp verfblikkies die trappies opgestap terwyl Blommetjie daar langs my stoep gewei het. En toe haak my voet aan die boonste trappies vas…. Nou het ons ‘n bont koei en ek het ‘n bont stoep vol koeispore. Ek het net met die kwassie die verf bietjie rigting bygegee.”
Iemand vertel hoe ons met ‘n vlieënde tent die wêreld platgetoer het en hoe ons vroeër jare deur Suid-Afrika gereis het met die giggelgroen bus. Trommeltjies dink dat dit ‘n goeie idee sal wees as die Goue Vroue weer op ‘n toer deur Suid Afrika gaan.
Die oggend is om. Trommeltjies gee vir elke goue vrou ‘n pragtige hangertjie en oorbelle wat sy self gemaak het. Die patroontjies daarop is pragtig kleurvol, vry en ongebonde, nes die Goue Vroue is.
Op die oog af was dit ‘n gewone groepie dames wat ‘n gewone oggenteetjie saam geniet het en oor gewone goed gesels het.
Maar dit was nie!
En ek dink elkeen wat om daardie tafel gesit het, sal dit beaam!



















Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.