“
Dis nou jóú Beurt!
Die Goue Vroue is ‘n handjievol Suid-Afrikaanse vroue – oud en jonk – wat lief is vir skryf. Ons is geanker in die werklikheid, maar spoor mekaar met bloguitdagings aan om te fantaseer. “The Talking Stick” dien in hierdie geval as inspirasie tot wonderbaarlike stories…elke Goue Vrou kry haar beurt. Hierdie rondte pak ons in alfabetiese volgorde aan.
Dit werk so: as jy die praatstok vashou is dit jóú beurt! Jy praat en die ander moet luister sonder om jou in die rede te val. As jy klaar is met jou storie, gee jy die praatstok vir die volgende persoon aan. (Hierdie konsep is deur Stephen en Franklin Covey in hulle kursusse tot meer effektiwiteit benut om empatieke luister te bevorder).
Volg hierdie skakel as jy ons Goue Vroue se stories in volgorde wil lees:
https://fresh.inlinkz.com/party/fe16b378ba494670a41c59177986b352
Every woman needs a little black dress”- Coco Chanel .’n Kraterstorie


As ‘n mens nie ryk is nie, draai jy jou sente om. Jy koop jou swemkostuums in die herfs, as die winkels uitverkopings het. Jy koop 2 bottels koffie as daar ‘n “special by Spar” is. Hierdie is so ‘n storie…..
My oudste dogter en haar man was op hulle eerste besoek aan SA nadat hulle in Holland begin werk het.
My patriotiese dogter besluit om die winkels in Kaapstad in te vaar om ‘n paar somerrokkies te koop, want dis winter in Holland en verder “daar is niks mooi klere in Holland nie”,
Sy kom dus hier op ons klein dorpie aan met 4 piepklein peperduur Woolworths rokkies. Ek dink dit was R400 elk, ongeveer 12 jaar gelede.
Toe sy ons buurvrou oor die draad groet, gesels hulle lekker en buurvrou sê:” Ons gaan more Kaap toe, want Woolworths se uitverkoping begin mos môre. Jy weet, byna ál die klere is halfprys.”
My kind is dadelik in ‘n toestand. Sy het net 1 dag te vroeg gekoop!
Maar ‘n boer maak ‘n plan. Buurvrou sal die sak met die 4 rokkies neem, en gaan teruggee en dan weer 4 ander identiese rokkies koop teen 50% afslag.
So kom 3 vd 4 rokkies die volgende aand hier aan@ R200 ipv R400. Die 4de rokkie, die mooiste enetjie, ‘n mooi swart dingetjie met blink steentjies om die hals, se regte nommer was nie meer beskikbaar nie, dus bly hy maar R400.
‘n Week later is dit tyd om terug te keer Holland toe. Ek en sy sal eers 2 aande by haar sussie in Kaapstad oornag.
Vroeg die volgende oggend sak ek en die 2 dogters op Canal Walk toe. Hulle plan is mooi uitgewerk. As daar die regte grootte rokkie is, gee ons eenvoudig die duur rokkie terug en koop hom teen halfprys weer, maar as daar nie is nie, gee ons hom terug en wag tot hulle hom weer op die rak hang. Hoe moeilik kan dit dan nou wees?
Natuurlik is dit die ma wat die vuilwerk moet doen. Daar is ‘n lang ry by die betaaltoonbank, want dis Saterdag en uitverkoping.
Dis so ‘n oulike klein dametjie wat my help. Ek verduidelik dat my dogter besluit het om nie die rokkie te neem nie, en kry die geld terug. Die rokkie verdwyn by ‘n deur agter haar in.
Ons wag en wag en wag, maar geen swart rokkie word teruggehang op die reling nie.
Ten einde laaste moet die ma (in opdrag van die eregas en haar sussie) weer betaaltoonbank toe gaan. Ek moet nou maar die rokkie gaan terugvra en sê my kind het van plan verander en wil nou weer die rokkie hê. ( volprys of te nót).
Hierdie keer land ek by ‘n ander verkoopsdame. Sy gaan kyk agter, maar kry nie so ‘n rokkie nie.
” Dit moet hier wees, ons het dit netnou teruggee en niemand het dit op die reling teruggehang nie. Sal jy asb weer gaan kyk?” Hou ek vol.
Die dame verdwyn weer en kom terug met die rokkie, maar ‘n nommer 8.( my kind dra n nr 6, want dis ‘n groot maak).
Sy gaan pas aan. Los, effens te groot, maar gangbaar. By gebrek aan iets beter, sal sy dit maar koop, maar ek sien haar lippie hang. Toe sy wil betaal, sê die dame dat die rokkie R400 kos. Hy is nie deel van die uitverkoping items nie.
Net daar vloei die trane. Sy is bereid om so duur te betaal vir ‘n rokkie wat pas, maar nie vir een wat soos ‘n sak aan haar hang nie!
” Kom!” vat ek en sussie haar weerskante vas. “Nou gaan ons eers koffieshop toe”.
Ons gaan sit by die naaste koffiewinkel, bestel iets warms, en ons eregas snik soos sy huil.
“Hoekom is ek tog so suinig?” snik sy. “Ek is so simpel!” Sy huil, ons ons het al ons dae om haar te troos.
Versterk deur ons cuppachino’s, bied ons vir haar aan om weer terug te gaan. Daardie nr. 6 rokkie moet nog daar êrens wees.
Woolworths, hier kom ons weer!
Nee, geen ” little black number” op die rak nie. Ek besluit om weer te gaan vra, maar seker te maak dat ons weer by dieselfde vriendelike dametjie uitkom wat my die eerste keer gehelp het. In die proses moet ek ‘n hele paar mense in die ry agter my eers laat verbykom.
Uiteindelik is ons voor en by die regte klerk, R400 in die hand. Ek verduidelik weer van die swart rokkie, ‘n nommer 6, wat ons nou weer wil hê.
“Sekerlik” antwoord die meisietjie, wip na agter en kom weer terug- met die regte rokkie! Ja, ‘n nr 6! Sy lui hom weer op. “Ag, maar julle is gelukkig” sê sy. “hy is nou halfprys! Net R200 asb!”

Hiermee gee ek nou amptelik die praatstok aan vir Positief. Vertel ons, liewe Goue Vrou!
“
Ek het jou beskrywings vreeslik geniet! 👏😀Moet sê as gedetermineerde kopers het julle ongelooflike vasbyt! So bly die suinige kind het haar no 6 én haar prys gekry. Ek is ook suinig. My dogter sê eendag:”Genade Mamma, hoeveel moet ‘n bloes dan kos voor die prys reg is?” 😄😄
Jy verstaan!
Ek was lank huiwerig om hierdie storie te vertel. Maar dit was n gebeurtenis om te onthou…
Ag Seegogga, ek het dit nou so geniet.
🙈😅🤣
Daai LBD word geraam en klaar, erfstuk of so iets😄😄
😱🤣
Mmm ek het n raambesigheid….. maar hy sal waarskynlik net in die kas bly hang.
😄😄💜
Ag hoe bly is ek! En julle het pragtig gelyk.
https://seegogga.com/2013/10/24/kaalvoet-in-die-reen-n-kraterstorie/
Kraters maak die lewe interessant! 😁 Ons het tog so eenvoudig gelyk in Praag se goue teater. Glad nie opgedress nie. Al die ander mense was te mooi aangetrek.
Nou wat is dit met daardie ander mense dat hulle so overdress?
Ek weet nie! Dalk niks gewoond nie?
Dankie Toortsie, maar dit was net vir n halfuur of korter, toe tref die volgende krater met mening
O dis n heerlike storie. Dankie vir die een.
LBD, ek het een van 1986 af, pas glad nie meer nie, maar bly my beste rok! Hierdie is ń oulike storie, Seegogga.
Ek vermoed hierdie enetjie gaan ook vir altyd in die kas hang.
Ek het die storie vreeslik geniet, maar wil net weet of jy die praatstok nou gaan aangee? Jy weet dis een van die beginsels om die ding aan te gee?
Positief! Dê, hier’s hy! Jy is volgende! Dankie dat jy my herinner het om die stok aan te gee! Ek het dit darem nou in my blog ook gedoen.
Jy weet ek terg jou? Lol
Jawat man, maar ek het nou die stokkie volledig aangegee. Kan nie wag om te sien wat nog alles hier gaan uitkom nie.
Ek het my bydrae geskryf
Ek kan nou lekker ontspan met my koffie en joune gaan lees!
Hoera vir die gelukkige einde! (Daar hang twee LBD’s in my klerekas op Rebusfontein – hoe het ek hulle nie al hierdie jare gemis nie…)
Ek moet bieg- ek het nie enetjie nie! Duidelik sal ek moet gaan shop.
Ja! Hou net die uitverkopingsdatums mooi dop.
Giggel ek nou lekker!
Ja, die einde was die onverwagte cherrie op die koek na al die onnodige dramas!
EK het nie ‘n LBD nie maar n swart toppie met baie mooi kralewerk….van toeka af.
Ek glo dit werk net so goed!