Wie is jy om te kla?

Kla, kla, kla. Deur die jare het die klagtes net al hoe meer en al hoe erger geword, voel dit my.

Mense is ongelukkig oor hulle werk, hulle gebrek aan geld, die regering, die regstellende aksie en BEE, die skeidsregter by die rugbywedstryd,  die duur studiegelde, die swak diens van die munisipaliteite, ESKOM, en deesdae, die grendeltyd, die verbod op sigarette en drank , Corona.

As ‘n mens so in die algemeen luister en hoor, het ons mense in Suid-Afrika verander in ‘n regte klomp brompotte. Suid-Afrika ly aan depressie, het ek ook al gesê.  En as mens aan depressie ly, is niks lekker nie, en kan die geringste dingetjie jou dag ontsier.

Hoe jammer tog. Dis so belangrik om na die positiewe kant van ‘n saak te kyk. In elke nadeel is daar ‘n voordeel. Elke sleg het sy eie goed. Elke wolk het sy goue randjie. Ook met Corona lockdown is daar die spatsels suiwer goud wat die wêreld laat blink en mens opnuut moed gee vir die toekoms, die goedheid van die mensdom en die besondere voorregte wat ons het.

So is daar dadelik die wonderlikste grappies oor sosiale afstand, bv haarkappers wat kamstig met harke hare kam, stout prentjies wat verduidelik hoekom jy jou masker soos jou onderbroekie moet dra, ens. Dis maklik om sulke grappies as ligsinnig af te maak, want daar is dan nou so baie mense wat swaarkry. Ja, daar is hongesnood en swaarkry en siekte, maar daar is ook humor, positiewe denke en veg teen depressie. Hierdie grappies gee ons iets om oor te glimlag, dit lig die gemoed en help ons tot positiewe denke.

Daar is sopkombuise en mense wat onbaatsugtig hulle tyd ( en geld) opoffer om ander ( mense sowel as diere) te help.  Watter groot stof tot dankbaarheid het ons nie – dat daar soveel in ons gemeenskap is wat uitreik na ander, wat hulle ontferm oor mens en dier. Hierdie slegte Coronatyd bring ook die beste in baie mense uit!

Tegnologie het ‘n  hupstootjie gekry, aanlyn klasse,  koerante en winkels ontstaan. Daar word pragtige aanlyn konserte gehou wat jy in jou eie huis kan kyk en vandag het ons plaaslike VLV glad ‘n aanlynvergadering gehad.

Gesinne kon weer begin kommunikeer, speletjies speel, stokperdjies beoefen soos brei, hekel, lees, houtwerk, tuin, of nuwe reseppies beproef. Watter voorreg het ons gehad om hierdie ekstra tyd te hê.

Die meeste van ons het ‘n redelike blyplek waarin ons nou vir ‘n lang ruk as’t ware opgesluit was – wat ‘n voorreg om ‘n dak oor jou kop te hê, veral noudat die winter kom kuier het.

Watter voorreg om hier op ‘n dorpie te wees waar misdaad  en ook Coronamouna min is, mense werklik omgee vir mekaar, mekaar bemoedig en almal dadelik by is om te help as hulp benodig word. Hoe op aarde kan ons nog negatief en depressief wees?

Sondag het ek en my man vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd op die plaaspaaie gaan ry – wat ‘n wonderlike wydheid en rustigheid is nie hier rondom ons nie. Watter Goddelike vrede! Hoe bevoorreg was ons  om die landerye met die nuwe groen plantjies te sien – die boodskap dat die lewe voortgaan, dat die koring, gars en canola  weer sal groei en sal ryp word en tot oes kom.

So sal coronamouna ook groei grootword en weer verdwyn. Maar die goedheid van die mens sal bly – en ook die genade en liefde van God ons Vader.

Mag ons almal vandag ons seëninge tel en dankbaar wees.

reseppie vir die lus 001

 

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in Die Overberg: my wereld., die tale wat ons praat, Los opdrifsels and tagged , , . Bookmark the permalink.

17 Responses to Wie is jy om te kla?

  1. Ja,Seegogga,positiwiteit gee boon-op jou immuunsisteem ‘n hupstootjie.

  2. Kla word ‘n lewenswyse…

  3. Toortsie sê:

    Ai, dis pragtig en met soveel wysheid. Dankie liefste Seegogga. Soos jy sê, het ons baie om voor dankbaar te wees. 😁❤️

  4. Ag, maar ek hou daarvan om so nou en dan ‘n klaagsessie aan te hef. Dan kry al my vriende my jameer en stuur bemoedigende boodskappies en cyber hugs. Dit sit ‘n huppel in my stap. En dan glimlag ek weer breed – alle bekommernisse en frustrasies skoon vergete.

  5. Dankie vir jou inspirerende rigtinggewende gedagtes.
    In my nuutste post is daar juis so corona grappie met ‘n tong in die kies toepassing oor ouderdom

  6. Pragtig Seegoggatjie. Ek dink ook ons ly aan depressie. Dalk selfs iets soos post-traumatiese stres.

  7. aj vosse sê:

    Ja… kom ons raak ‘n bietjie meer dankbaar!
    Ek het op Engels die volgende kwyt geraak… a little gratitude goes a long way to restoring balance in life!
    Mooi bly daar onder… pasop vir die haaie! 😁😁

  8. Blootvoetpieter sê:

    Ek verwonder my altyd daaraan: partye se statusse lees “net positiewe gedagtes” om net daarna, met steak onder die arm, te klaar oor onbeskofte klante, beurtnag, inperking, oordat dit te warm/koud/nat/droog/verwaaid/windstil en duidelik donkermaan is. En dan die negatiewe goed wat mense mekaar aandoen.

    As mens mooi kyk, sien jy die son kom nog in die ooste op 👍🙃😉🌹☕

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s