Wie is jy om te kla?

Kla, kla, kla. Deur die jare het die klagtes net al hoe meer en al hoe erger geword, voel dit my.

Mense is ongelukkig oor hulle werk, hulle gebrek aan geld, die regering, die regstellende aksie en BEE, die skeidsregter by die rugbywedstryd,  die duur studiegelde, die swak diens van die munisipaliteite, ESKOM, en deesdae, die grendeltyd, die verbod op sigarette en drank , Corona.

As ‘n mens so in die algemeen luister en hoor, het ons mense in Suid-Afrika verander in ‘n regte klomp brompotte. Suid-Afrika ly aan depressie, het ek ook al gesê.  En as mens aan depressie ly, is niks lekker nie, en kan die geringste dingetjie jou dag ontsier.

Hoe jammer tog. Dis so belangrik om na die positiewe kant van ‘n saak te kyk. In elke nadeel is daar ‘n voordeel. Elke sleg het sy eie goed. Elke wolk het sy goue randjie. Ook met Corona lockdown is daar die spatsels suiwer goud wat die wêreld laat blink en mens opnuut moed gee vir die toekoms, die goedheid van die mensdom en die besondere voorregte wat ons het.

So is daar dadelik die wonderlikste grappies oor sosiale afstand, bv haarkappers wat kamstig met harke hare kam, stout prentjies wat verduidelik hoekom jy jou masker soos jou onderbroekie moet dra, ens. Dis maklik om sulke grappies as ligsinnig af te maak, want daar is dan nou so baie mense wat swaarkry. Ja, daar is hongesnood en swaarkry en siekte, maar daar is ook humor, positiewe denke en veg teen depressie. Hierdie grappies gee ons iets om oor te glimlag, dit lig die gemoed en help ons tot positiewe denke.

Daar is sopkombuise en mense wat onbaatsugtig hulle tyd ( en geld) opoffer om ander ( mense sowel as diere) te help.  Watter groot stof tot dankbaarheid het ons nie – dat daar soveel in ons gemeenskap is wat uitreik na ander, wat hulle ontferm oor mens en dier. Hierdie slegte Coronatyd bring ook die beste in baie mense uit!

Tegnologie het ‘n  hupstootjie gekry, aanlyn klasse,  koerante en winkels ontstaan. Daar word pragtige aanlyn konserte gehou wat jy in jou eie huis kan kyk en vandag het ons plaaslike VLV glad ‘n aanlynvergadering gehad.

Gesinne kon weer begin kommunikeer, speletjies speel, stokperdjies beoefen soos brei, hekel, lees, houtwerk, tuin, of nuwe reseppies beproef. Watter voorreg het ons gehad om hierdie ekstra tyd te hê.

Die meeste van ons het ‘n redelike blyplek waarin ons nou vir ‘n lang ruk as’t ware opgesluit was – wat ‘n voorreg om ‘n dak oor jou kop te hê, veral noudat die winter kom kuier het.

Watter voorreg om hier op ‘n dorpie te wees waar misdaad  en ook Coronamouna min is, mense werklik omgee vir mekaar, mekaar bemoedig en almal dadelik by is om te help as hulp benodig word. Hoe op aarde kan ons nog negatief en depressief wees?

Sondag het ek en my man vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd op die plaaspaaie gaan ry – wat ‘n wonderlike wydheid en rustigheid is nie hier rondom ons nie. Watter Goddelike vrede! Hoe bevoorreg was ons  om die landerye met die nuwe groen plantjies te sien – die boodskap dat die lewe voortgaan, dat die koring, gars en canola  weer sal groei en sal ryp word en tot oes kom.

So sal coronamouna ook groei grootword en weer verdwyn. Maar die goedheid van die mens sal bly – en ook die genade en liefde van God ons Vader.

Mag ons almal vandag ons seëninge tel en dankbaar wees.

reseppie vir die lus 001

 

Posted in Die Overberg: my wereld., die tale wat ons praat, Los opdrifsels | Tagged , , | 17 Kommentaar

I BELIEVE I CAN FLY. 10 The plight of many pet birds

From the inside of the gaol……

https://m.facebook.com/story.php?story_fbid=978656138976908&id=100004975934466&sfnsn=scwspmo&extid=XaUFJmYkA4C9E4In

This thoughtfull piece above says so much about the lack of respect for the plight of pet birds that humans have. Please read it with an open mind.

BIRDS SHOULD NOT BE PETS! And if we cannot rule that out, there should be strict laws and regulations concerning cage size etc as well as a ban on wingclipping, and taking babies from the nest.

Posted in English blogs, Voels en beginsels: I believe I can fly | Tagged , , | 8 Kommentaar

SUIDERNUUS en ek.

ek en suidernuus 00130 Jaar gelede het ek as  voortvarende groentjie by SUIDERNUUS ingestap. Ons het sopas van Pretoria af hierheen getrek, en ek het gedink dat ek dalk ‘n vryskut verslaggewer kan word.

Jannie Marais, destyds eienaar en redakteur, het, gaaf soos hy is, ingestem dat ek maar kan probeer skryf.  Ek sou selfs ‘n betaling kry: 40c per kolom sentimeter, R5 vir elke geplaaste foto en ‘n gratis klein advertensietjie (small) in elke koerant!  So het my liefde vir SUIDERNUUS begin. In die  meer as   7 jaar wat ek by SUIDERNUUS gewerk het, het ek nooit ‘n verhoging gekry nie!

Tannie Magda Bellingham was destyds die hoofverslaggewer, en het beslis gefrons oor hierdie groentjie. Tog het sy my onder haar vlerk geneem en mooi die moets en moenies vir my geleer. Sy het ook vir my die ingewikkelde werking van die ou swart en wit kamera gewys waarmee die persfoto’s geneem moes word.

Nicolene ( destyds Otto) het baie geduldig altyd my artikels getik, want my tikwerk was pateties. Ongelukkig was my skrif nog erger, en  daar het dikwels foutjies ingesluip omdat niemand my skrif kon uitmaak nie.

Destyds moes Jannie nog die bladuitleg met die hand doen, met ‘n ligtafel en die oulikste masjientjie wat die papier aan die agterkant met warm was smeer, sodat dit mooi vassit waar jy dit wil hê, maar ook sodat jy dit maklik kan losmaak en skuif. Ek glo dat dit vandag met die rekenaar soveel makliker is.

Gewapen met die kennis wat ek in ‘n tweedehandse joernalistiekboekie opgedoen het, het ek die onbekende wêreld van die koerantwese aangedurf. Hoe weet mens van alles wat gebeur? het ek gewonder.

Ek was heel verbaas om uit te vind dat die koerant meestal nie na die nuus toe gaan nie, maar dat die nuus sommer na die koerant toe kom. Ons hulpvaardige lesers het gebel as daar enigiets van belang was om oor te skryf. Ek voel nou nog baie sleg omdat iemand eenkeer gebel het oor haar pragtige uitermate groot daisiebos, oortrek van die daisies. Ek wou regtig baie graag ‘n foto gaan neem, maar daar was letterlik regtig vir my geen tyd nie,  die kamera was buite werking en so het ek‘n goeie R5 en ‘n pragtige foto gemis.  As u dalk hier lees, dame, vergewe my asseblief.

Suidernuus het destyds ‘n streng reël gehad dat dit ‘n kontreikoerant is met interessante en positiewe nuus oor die omgewing. Slegte dinge soos bv kindermolestering,  ernstige misdaad, ens. is gelaat vir die Burger. Destyds, op ‘n klein dorpie, waar almal familie is van almal, was dit waarskynlik die beste opsie. Buitendien was daar baie goeie nuus!

Dit was in die beginjare van Krygkor en die Lugmag hier. Dit was ook in die jare wat die naam Overberg nog gevestig moes word, en by elke groot vergadering het dr Pierre Rabie die grense van die Overberg verduidelik. Ons het ook almal baie hard probeer om vir die res van die wêreld te laat weet dat die Suidpunt van Afrika by Kaap Agulhas is en nie by Kaappunt nie, asook dat hier ook ‘n lieflike stukkie see is. Stephen Brown en Lydia het Struisbaai toe gekom, en Struisbaai motel het verander in ‘n hotel. Die skuur het ontstaan, toe die Kerksaal en Siebies. Ek glo met die jare het Struisbaai, Agulhas en Waenhuiskrans wel bekend, gewild en geliefd geraak

Ek  het ook eenkeer ‘n onderhoud gevoer met die jong, mooi Steve Hofmeyer wat by die landbouskou kom sing het. Ons het in die ou landbousaal saam middagete geëet en Steve het, behalwe sy eie, ook  my frikadelle letterlik uit my bord uit geëet, en verklaar dat die landboutannies se frikadelle die lekkerste is wat hy nog ooit geëet het.

.Een van die intressante goed waaroor ek moes skryf, was die bou van die hawemuur op Struisbaai. Ek was baie bekommerd oor hierdie ingryping in die natuur, maar die ingenieur het al my bekommernisse afgelag. Dit het toe tog later geblyk dat so ‘n muur ernstige probleme kan veroorsaak en dat ek nie heeltemal verkeerd was nie.

Ek en my man was nog aan’t huis soek op Bredasdorp en een huis het my aandag getrek, maar ons het nog getwyfel. Nicolene het my gerusgestel – dit was hulle huis! Ons het gekoop en woon nou al 30 jr lekker in hierdie heerlike huis.  Nog ‘n voordeel was die klein advertensietjie wat ek aanvanklik nie gebruik het nie. Toe my dogtertjie egter vir my vra om ‘n roomyskoek te maak wat soos ‘n kat lyk, en ek dit regkry, het ek vir die grap ‘n advertensietjie geplaas dat ek roomyskoeke kan maak. En so word ek toe Bredasdorp se roomyskoektannie.

Dit was vir my heerlike jare by SUIDERNUUS, waar ek die ou Bredasdorpers en my ouers se vriende weer leer ken het, asook die nuwe Bredasdorpers, al die pad van Transvaal af. Ek het by SUIDERNUUS geleer dat ons mense van hier uitsonderlik is en as hulle iets doen, doen hulle dit uitstekend. Ek het wonderlike leiding van Jannie en Nicolene gekry en ek en Jannie en Alta is vandag nog goeie vriende.

Vandag behoort Suidernuus aan Louis Koen, alles is rekenaar gemeganiseerd en hier is ek sowaar weer by die splinteruwe aanlyn koerant.

SUIDERNUUS het diep spore in my lewe getrap en ek glo ook in die lewe van baie Overbergers hier aan die Suidpunt.  Lank lewe SUIDERNUUS!

 

 

 

Posted in Los opdrifsels, Overberg | Tagged , , , | 18 Kommentaar

Die Towerinne en Coronamouna: HOOFSTUK 1

Hier is die eerste hoofstuk van ‘n nuwe bloguitdaging : Die storie oor die Towerinne en Coronanmouna. Soos gewoonlik by ‘n vervolgverhaal, moet almal wat wil deelneem ‘n inskrywingsvorm voltooi – kry die vorm hier: https://forms.gle/spN3EwV1kt5wGW9F9

Bloggers sal skryf in die volgorde waarin hulle inskryf – kyk na HIERDIE vorm (spreadsheet) wat outomaties op datum gehou word om te sien wanneer dit jou beurt is om te

NB! Hierdie uitnodiging is oop vir alle bloggers op alle platforms – ons soek altyd “nuwe bloed” om deel te neem aan ons uitdagings. As jy in Afrikaans skryf, sluit gerus aan by die Towerinne en neem deel aan hulle avonture. As jy nog nooit deelgeneem het aan een van ons uitdagings nie, besoek die volgende skakels Lê-Jou-Eier: Reëls en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? Laasgenoemde blogpos bevat ook al die onderwerpe en skakels na vorige uitdagings.

Onthou ook die addisionele reëls vir vervolgverhale – (1) wag jou skryfbeurt af, (2) wanneer ‘n nuwe blog geplaas word en jy is volgende aan die beurt – gee net eers ‘n dag of wat kans sodat almal die blog kan lees en kommentaar lewer voordat jy jou bydrae plaas en (3) plaas jou bydrae binne die volgende drie tot vyf dae sodat ons nie die vloei van die verhaal belemmer nie.

Ons InLinkz skakel vir hierdie uitdaging is:

https://fresh.inlinkz.com/p/c0342166738644c9875c54b4f5669017

coronamona hoostuk 1 001

“Kom ons gaan Rhebusfontein toe!” Seegogga praat met bravade . Sy het nou genoeg gehad van Covid watookal. Al meer berigte doen ook die rondte dat die siekte dalk mensgemaak is. Sy wonder wie dit kan wees wat so gemeen is.

Toorts is dadelik entoesiasties. Sy het mos ‘n permit – en alreeds ‘n polisie-rekord. Wat kan sy dan nou nog oorkom? Buitendien deel sy Seegogga se bekommernis oor haar Rhebusfonteinhuisie en ook die vooruitsig van avontuur.

Toorsie wil sommer die volgende oggend 5vm wegspring, maar Seegogga het gewoond geraak om eers so 10vm op te staan tydens die grendeltyd.. Agt uur die volgende oggend val hulle in die pad. Toortsie ken al die plaaspaaie en agterpaaie en hulle ry sonder voorval tot so duskant Jacobsbaai, toe daar skielik ‘n mannetjie met ‘n uniform uitspring en hulle tot halt roep.

Seegogga sak dadelik terug in die sitplek en begin hyg. ” Ek is op pad hospitaal toe! Ons het reeds gebel” sê Toortsie en hulle sien hoe die dapper verkeerskonstabeltjie verbleek. Toorts wil vir hom van haar heerlike kaaskoek gee, maar die mannetjie skud sy kop wuif hulle haastig weg met ‘n vermaning dat hulle veilig moet ry.

Die res van die pad vlieg verby. Rhebusfontein lyk pragtig soos altyd in die laatmiddagson. Hulle pak gou af en vaar die kombuis in. Daar staan sowaar nog ‘n botteltjie Franjeliko langs die wasbak.

“Dis snaaks” mymer Toortsie. ‘Ek is byna seker ek het alles in die spens weggepak. En die bottel was nog nie oopgemaak nie. Maar hierdie een is halfpad – en kyk hier le die shotglasie in die wasbak. Kan die waar wees? Was hier ‘n inbreker in haar Rhebushuisie? Ons deursoek die huis maar kan niks verder verkeerd sien nie..

“Jy seker maar net vergeet Toorts. Ons was ook so lanklaas hier”, maar Seegogga se hare rys. Die tweetjies laat hulle egter nie afsit nie. Met ‘n glasie Franjeliko en Toortsie se heerlike banting southappies en kaaskoek gaan sit hulle op Seegogga se blou stoepie in die laaste lig, en neem gou ‘n selfie wat hulle op die Dameskringwhatsup groep sit. ” Kom! Rhebus is leeg sonder julle!”tik hulle onderaan.

” Jy weet, vandat jy dit daardie eerste keer genoem het, dink ek altyd aan dameskring as dameskroeg!” lag Seegogga.

Die volgende oggend stap die twee in die pragtige straatjie af tot aan die rand van die bos. ‘n Entjie verder skyn ‘n sonkolletjie deur die bome . Onder groei die mooiste varings en blomme. ” Kyk hoe mooi! ” fluister Toortsie. Die twee stap nuuskierig nader. Die opening tussen die bosse lyk soos ‘n paradys. Eenkant is ‘n blou poeletjie tussen mosbegroeide rotse en weggesteek tussen die bome sien hulle die buitelyne van ‘n mooi houthuisie.

” Wie sou daar woon? Kom ons gaan klop”, sê Seegogga. ” Ek is doodseker dis baie gawe mense want kyk hoe mooi het hulle alles gemaak!”

“Help! skree Toorts en begin terughardloop. “SSSSPINNEKOP!”

‘n Groot swart spinnekop het reg voor haar voete uit die boom geval. Seegogga wikkel haar beentjies om by te bly. Gelukkig is Toortsie ook nie so vinnig nie , maar die twee doen hule bes om so vinnig moontlik weer uit die bos te kom.

Skielik stop Toortsie. “Kyk daar!” sê sy saggies. Agter die een Rhebushuisie sien hulle ‘n donker skaduwee van iemand wat gebukkend vooroor sluip

Posted in feeverhale en ander stories, goue vroue, rhebusfontein | Tagged , , , , , | 49 Kommentaar

Die Skaalmodel deur Anneli Groenewald : ‘n Boekbespreking

die skaalmodel

Die skaalmodel deur Anneli Groenewald was die debuutwenner in die NB-Uitgewers se GROOT Afrikaanse Romanwedstyd 2015, en met reg so.

In die roman word Juffrou Berdina Visagie, argivaris van die Skeepswrakmuseum op Bredasdorp, deur lede van die plaaslike publiek van verskeie dinge aangekla. Sy word op vepligte verlof geplaas en tydens die ondersoek moet sy haar gedrag verduidelik aan die voorsitter van die Museumraad.

Uit hierdie gesprek hoor die leser onder andere die hele storie van die verpligte onteiening en ontruiming van Skipskop, die klein dorpie naby Waenhuiskrans in die Overberg. Dis dieselfde dorpie en dieselfde gebeurtenis waaroor David Kramer se roerende liedjie gaan.

Maar die boek gaan oor meer as dit. Dit gaan ook oor ‘n skrywer as argifaris, historikus en gewete van die gemeenskap. Dit gaan in groot mate ook oor vooroordeel, randfigure en bekrompe denke.

Al hierdie en nog meer word meesterlik en kleurvol geïllustreer in hierdie uitsonderlike roman, wat nie ‘n alleenspraak is nie, maar waarin Juffrou Berdina tog die enigste spreker is wat aangehoor word. Haar karakter word pragtig uitgebeeld deur haar relaas.

Anneli se ouers en voorgeslagte was self Skipskoppers wat moes wegtrek. Sy het o.a. op Struisbaai grootgeword en op Bredasdorp skoolgegaan.. Sy hou vol dat die roman as suiwer fiksie beoordeel moet word, en vir buitestanders is dit ook volledig so, met die ware gebeure van Skipskop as agtergrond.

Vir my as Bedasdorper het ek egter verskeie ander ware gebeurtenisse en karakters herken, en Juffrou Berdina se uitsprake daaroor baie geniet. Sy lewer haar eie opinies oor sake wat ons as Bedasdorpers baie raak, en gooi ook ‘n goeie skoot humor daarby ten spyte van ‘n baie hartseer gebeurtenis. Die Skaalmodel is myns insiens ‘n boek wat elke Bredasdorper en inwoner van Kaap Agulhas munisipale area moet lees.

Sy gebruik pragtige kleurvolle taal wat die lees van die boek heerlik maak. Vergelyk hierdie sinnetjie: “As Edwin eers begin praat, Mnr. die Voorsitter, dan vloei sy woorde soos ‘n bergrede.”

Om die storie te vertel, word die Bredasdorp Skeepswrakmuseum as beginpunt en agtergrond gebruik. Deur die woorde van Juffrou Berdina word die besondere museum in die boek groot lof toegeswaai.

 Ek kan  Die Skaalmodel deur Anneli Groenewald  met sy ongewone  en lekker vertelstyl sterk aanbeveel by almal. Dit lees vir my lekker en die prys wat hy gekry het is welverdiend. 

 

 

https://kyknet.dstv.com/program/binnelanders/video%E2%80%99s/kwela-anneli-groenewald/videos

 

 

 

 

 

 

 

 

Posted in Boeke en flieks, Los opdrifsels, Overberg, Seestories | Tagged , , , | 7 Kommentaar

Lockdown moedersdag

20200220_163352

Ten spyte daarvan dat die lewe soms hard is, is daar altyd rede om te glimlag!

2020 is beslis ‘n jaar van eerstes. Wie sou in sy wildste drome ‘n grendeltyd vir 2020 kon uitdink? Het enigeen van julle al voorheen ooit so ‘n lockdown beleef?

Aanvanklik het ons dit positief met allerlei vrolike idees aangepak. Kamp in die agterplaas, straatbraaie met die bure, vrolike grappies ens. Ek lees van ‘n ooievaarstee in die grendeltyd, waar die toekomstige mamma se vriende vir haar ‘n hoop pakkies by haar voorhekkie gelaat het.

Maar hoe langer die grendeltyd aanhou, hoe meer depressief raak die facebook boodskappe, die nuus en die algemene gevoel oor die ekonomie, die regering se onvanpaste beperkings en veral die negatiewe reaksies op die verbod op sigarette. Ons kan dat dit ons onderkry. Of ons kan doelbewus konsentreer op die positiewe en vrolik wees. Daar is steeds soveel om voor dankbbaar te wees. Kom ons konsentreer daarop.Kom ons lag ten spyte van swaarkry!

Ja, daar is regtig in hierdie lockdowntyd rede om fees te vier. Sondag is MOEDERSDAG! Dit kan ‘n dag wees soos geen ander nie!

Dit is ‘n dag om jou Mammie te laat geliefd voel , en in hierdie spesiale tyd is dit ‘n kans om haar te verras op ‘n oorspronklike manier waaraan jy dalk nog nooit voorheen gedink het nie. Dit hoef geen geld te kos nie, want wat ‘n mamma wil hê is ‘n bietjie tyd en waardering. Maak hierdie moedersdag ekstra vrolik en spesial vir jou ma!

Kinders en Pappa tuis het baie ekstra tyd om mooi kaartjies te maak, spesiale ontbyt uit te dink en dalk die tafel of skinkbord mooi te dek. Wat van ‘n skattejag as julle dalk tog vir haar ‘n verrassing erens het? Dit kan selfs net ‘n blommetjie uit julle eie tuin wees – of ‘n paar koekies wat jy self gebak het.

Kinders wat reeds uit die huis is kan natuurlik ‘n whatsup video call maak, kort- kort ‘n vrolike herinnering met ‘n whatsup boodskappie versend wat vertel hoekom jy die dag vier. Om presente of blomme af te lewer is dalk moeilik, want dit is mos Sondag en coeriers is waarskynlik toe. Maar wat daarvan om ‘n wegneem ete vir haar te bestel as ‘n verrrassing? Wat van ‘n e-moedersdagkaartjie? Nog ‘n moontlikheid is ‘n kaartjie vir ‘n e- konsert of ‘n inskrywing vir ‘n goedkoop aanlynkurses.

Het jy nie meer ‘n moeder nie? Dalk kan jy ‘n telefoonoproep maak na ‘n paar ouerige persone wat alleen woon? Jy maak dalk net hulle dag!

Ek daag almal uit om hierdie moedersdag so vrolik en betekenisvol as moontlik te maak. Versprei die vreugde!

Posted in Kossies vir 'n seegogga en ander resepte, Los opdrifsels | Tagged , , , | 12 Kommentaar

I believe I can Fly 9

 

bekkie 3

Ek is Bekkie en ek is die baas van die plaas, né!

Ag my blou voëltjie, Bekkie, is vir my baie mooi. Hy is nou 15 jaar oud, ken sy area en sou nou en dan glip hy deur ‘n oop venster, sommer net om ons ‘n bietjie te laat regop sit.

Maandag was dit weer sulke tyd, deur die badkamervenster wat oop vergeet is. Toe ek hom soek, sit hy doodstil op die balk van die afdak. Op sulke tye antwoord hy nie – hy sit doodstil en geniet dit dat ons hom soek, en lyk baie skuldig. Die oomblik wat ek hom kry, klim hy stroopsoet op my hand af, of vlieg dadelik terug kombuis toe- baie verlig dat ons hom gekry het en die speletjie oor is.

bekkie

Bekkie op die balk onder die afdak. as jy hom goed ken sal jy sien dat su gesigsuitdrukking hier heel anders as op die foto heel bo. ” Ek sit nou hier buite en wat nou?

Baie sogenaamde papagaailiefhebbers veroordeel my vreeslik omdat ek nie sy vlerkies knip nie. Ek glo egter voëltjies is geskape om te kan vlieg. As jy nie wil hê jou voël moet vlieg nie, koop vir jou ‘n volstruis.

Ringnekke vlieg soos swaeltjies en om hulle dit te ontneem, is om hulle hele voëlwees aan te tas, te ontken, en te beskadig.

Die vliegoefeninge is vir hulle nodig vir ‘n langer lewe, dis noodsaaklik om te vlug van gevaar en ek glo voëls wat nie kan vlieg nie, ly baie meer aan stres as die wat wel kan beweeg soos hulle geskape is.

Ja, natuurlik kan hy wegvlieg. Natuurlik kan ‘n valk hom vang – of hond, kat of mens.

Maar netso kan die geknipte voëltjie ook uitkom ( want hy verbeel hom steeds hy kan vlieg, hy skrik ook soms en partykeer wil hy ook graag die wereld sien)- met die verskil dat hy eintlik geen kans het om te ontvlug van gevaar af nie. Of hy val en beseer hom ernstig sommer in sy eie huis – van sy stokkie af, van ‘n stoel af of enige ander plek, omdat sy balans versteur is. Hy kan nie vlug van ‘n hond of kat af nie. Hy fladder in goed vas; hy verduur baie keer baie pyn, agv die verkeerde knip van vere, sommige vere se skag is oop en baie pynlik.

Voëlliefhebbers verkies egter om nooit hierdie nadele te noem nie – dit word stilweg verswyg.

Verskillende diere het verskillende reaksies op gevaar. Voëls het die vlug reaksie. Die vlerke is essensieel om vinnig weg te vlug, want hulle kan nie vinnig hardloop soos die meeste ander diere nie. Ek glo hulle voel baie weerloos en gestres as hulle skrik of bang is, omdat hulle nie vinnig kan vlug nie.

Die knip van vlerke is veronderstel om die band tussen eienaar en voël te versterk, omdat die papagaai dan meer afhanklik is van sy eienaar. Dit laat my baie dink aan die leeus in sirkusse se tande en naels wat getrek word sodat hulle nie die eienaar kan byt nie, en totaal afhanklik is van die eienaar.

Hopelik kom daar eendag ‘n wet teen die selfsugtige knip van vlerke, maar kom, laat ek nie te veel wroeg nie, ek sit liewer ‘n paar foto’tjies op van die papagaai in my huis wat ek die afgelope ruk geneem het.

As julle mooi kyk sal julle sien dat Bekkie al die blik se deksel ‘n bietjie bewerk het om dit oop te maak.

 

Posted in Voels en beginsels: I believe I can fly | Tagged , , , , , | 18 Kommentaar

Boere-sushi – iets nuuts

20200407_181734

Op hierdie foto sien jy ons eerste poging boeresushi. Daar is brood- sowel as pap- sushi, en sommige goedjies soos agurkies is sommer sonder ‘n stysel bedekking geplaas want dit kan ook met of sonder ‘n sousie met stokkies geeet word. Volgende keer sal ek ham – sushi ook bysit.

BOERE- SUSHI!

Ons het mos nou ‘n bietjie tyd om te eksperimenteer, né! Hierdie idee van Suzelle DIY beloof om ‘n wenner te word en is ook ideaal om die oorskiet braaivleis van die vorige aand te gebruik.

Dis ook ‘n lekker manier om ‘n ligte onthaaltjie te hou ( eeeeendag as grendeltyd verby is), want jy maak alles vooraf en hoef nie op die tippie rond te draf nie.

Een ding is seker van Suzelle, sy het beslis idees. So het sy Suid Afrika jare gelede bekend gestel aan die braaipaai, ( https://www.youtube.com/watch?v=caB5VTueduQ )

Nou die dag het sy weer ‘n nuwe idee gekry: Boere -Sushi!

En met haar idee in my agterkop, het ons dit probeer, op ons eie manier, en it was heerlik! Dis ook iets lekkers om vir vriende te maak want jy kan alles vooraf doen, en net die aand geniet as hulle kom.

Hier is ‘n paar idees, sommige hare, sommige myne, en ek glo julle sal ook heerlike idees hê. Die moontlikhede is eindeloos!

  1. Mieliepap sushi. (Mmm hierdie idee is dalk meer vir die mense noord van die Oranjerivier – die papeters, né)

Maak stywerige mieliepap ( of gebruik gisteraand se oorskiet.)

Gebruik kleefplastiek en druk die pap plat daarop, genoeg om ‘n worsie buiteom met ‘n dun lagie pap te bedek. As jy ‘n sushi matjie het, nog beter. Bedek dit net eers met kleefplastiek.

Sit ‘n langerige gaar dun boerewors bo-op jou lagie pap. ( of ‘n repie biefstuk, skaapvleis, ens).

Gebruik nou die kleefplastiek ( of jou sushi matjie) wat onder lê, om die pap om die wors te rol sodat dit soos ‘n lang worsrolletjie lyk.

Indien jy so voel kan jy nou die rol versier soos jy wil, bv met ‘n bietjie paprika, gerasperde kaas , gerasperde biltong, dun avocado skyfies of ‘n strepie tamatiesous wat op die pap gesmeer word.

Variasies: gebruik gebraaide weense worsies of “Russians”,groenetestokkies, bv heel gaar wortels, tamaties ens.

Daar kan ook repies groente bygesit word, bv gaar wortel, gaar broccoli en enigiets kleurvol.Sny nou die rol in ringetjies, ongeveer so groot soos sushi stukkies.

2. Brood sushi (Mmmm, hierdie sal dalk meer in die smaak val van die Kapenaars – die braaibroodjie-eters, né)

Neem ‘n sny brood en sny die korsies af.

Plaas die brood op kleefplastiek, en smeer met waarvoor jy lus voel. Roomkaas werk hiervoor baie goed.

Vul met repies gaar hoender, ham of ander koue vleis, avokadopeer , tamatie, soetrissies, komkommer of wat jy ookal voor lus voel, reg in die middel van die snytjie brood.

Jy kan ook ‘n snytjie ham met roomkaas smeer en vul met ‘n repie brood of agurkies of iets, en oprol. ,

Rol nou die brood op met die kleefpastiek en plaas dit met plastiek en al in die yskas. Dit maak dat die brood sy vorm hou.

Na so ‘n uur of meer, is die brood gereed, en kan die plastiek afgehaal word en die broodrolletjie in skywe gesny word.

Weereens kan jy vooraf die rolletjie versier indien jy so voel. Indien jy ‘n dun lagie botter aan die buitekant wil sit kan jy dit bv in gerasperde biltong rol. Dit is egter nie noodsaaklik nie.

Opdiening

Pak jou sushi skywe mooi uit op ‘n bord. Jy kan op sommige skyfies ‘n klein bietjie mayonnaise spuit.

Maak vir elke gas klein bakkies, met een of meer van die volgende souse:

  1. Tamatie en uiesous ( soos die wat jy oor jou mieliepap sou eet) of sommer gewone tamatiesous sal ook werk.
  2. Balsamiese asyn .Dis veral heerlik saam met die brood sushi.
  3. Chutney.
  4. Enigiets anders wat jy dink sal werk as ‘n dippie.

Gee vir elke gas ‘n kleinbordjie, vooraf versier met ‘n hopie mostert en ‘n stelletjie Chinese eetstokkies.

Ou Matie, en dan geniet jy dit!

As jy graag na Suzelle se idees wil kyk, klik hier: https://www.youtube.com/watch?v=9cIwfj61m0g

Posted in Kossies vir 'n seegogga en ander resepte, Los opdrifsels | 6 Kommentaar

Die UPSIDE van die DOWNSIDE van LOCKDOWN

3 weke van LOCKDOWN! Wie sou dit ooit kon dink? En aangesien ons nou mos moes dink aan iets waarin ons nooit ons kon indink nie, dink ons nou sommer ook aan ander goed waaraan ons nooit sou gedink het nie!

Planne! Planne om die inperking pret te maak ( en ja, ook hoe om te oorleef sonder om kens te raak of dalk ons lewensmaat te vermorsel). En ons boerevolkie is mos mense met planne. Elke dag lees ek op facebook van die snaakste planne, liedjies en grappies. Alles is nie sak en as in Suid Afrika nie!

Ook my kinders en ons het die geleentheid aangegryp om iets anders as die gewone te doen. So het hulle eers begin met koekies bak met hulle eie spruite, gekamp in die tuin, kompleet met tent, slaapsakke ens, geteken, geverf, en selfs ‘n whatsup konsert gehou vir ‘n maatjie wat verjaar het. Hulle het ‘n whatsup video-call kitaarles gehad by Martjie, ‘n oud-Bredasdorper wat nou musiekjuffrou is. Hulle het ook ‘n straatbraai gehou: al die bure voor in hulle eie erf, met eie kossies, maar almal saam in gees – en musiek vir die hele straat. Daar word ook whatsup tema- etes gehou, met my kinders wat eenkeer soos die Adamsfamilie aangetrek het.

Ook hier by Paleishuis op Bredasdorp, woeker en woel dit. Donderdag voor LOCKDOWN is daar vinnig woes planne beraam en die nodige aankope gedoen.

Die eerste 3 dae het my man my elke dag verras met ‘n blommetjie uit die tuin, nogal op sy knieë oorhandig. Toe begin die groot verf – ons HET mos nou tyd! Ons het ook ‘n straatbraai gereël. Nouja, die stormsterk wind het sommige bure laat uitdraai en dis te verstane. Die wind het darem later gaan lê, en ons en ons buurman oor die straat het heerlik gebraai, elkeen in sy eie erf en ons het heerlik in ons tuinpaadjie en op die gras gedans met oor-die-straat se musiek.

Nou is Paleishuis se sitkamermuur helder turkoois ipv wit, die tuinmuur is vol blommetjies, en gisteraand het ons boeresushi geëet, n.a.l.v. van Suzelle (en ek glo dit gaan ‘n nuwe manier van onthaal word in die toekoms, want dis heerlik). Die rakke en die kaste word uitgepak en reggepak en sodra die weer beter is, gaan ons kamp!

Liewe lesers, ek glo altyd dat dinge nooit net sleg is nie. Elke donker wolk het ‘n goue randjie. Elke sleg het sy eie goed. Daarvoor moet ‘n mens soek. Dit is die goed wat die mat onder jou uitruk, wat maak dat jy anders dink, nuwe planne maak en dinge ontdek wat in die toekoms dalk van groot waarde kan wees. Nuwe aanlyn studiekursesse, afstandsonderrig, aanlyn winkels, virtuele koerante en selfs internetkonserte word nou meer en meer . Een van die dae werk ons almal van die huis af – lekker in ons pajamas in die winter, of dalk in ons adamsgewaad in die somer!

Die DOWNSIDE het ook ‘n groot UPSIDE!

Doen julle iets spesiaal in hierdie spesiale tyd? Vertel ons asseblief daarvan!

voor LOCKDOWN:

0_img-20200327-wa00783994352019345370175.jpg

Nou:

IMG-20200403-WA0048

voor LOCKDOWN

img-20200402-wa00436843396344798575350.jpg

NOU

20200403_18542120200403_110246

Posted in Die Overberg: my wereld., Los opdrifsels, Overberg | 19 Kommentaar

Love comes softly deur Janette Oke, uitgegee deur Bethany House Publishers, beskikbaar by Cum Boeke

Hierdie klassieke boek is as volg beskryf deur my dogter, wat dit gelees en geniet het.

Marty en Clem is pasgetroud. Hulle is op pad na die ( wilde) Weste om ‘n nuwe tuiste te skep. ‘n Fratsongeluk laat Marty alleen en swanger, met geen geld, skuiling of ‘n manier om terug te keer na die beskawing nie.

Op dieselfde dag as Clem se begrafnis, kom Clark tevore met ‘n voorstel. As sy met hom trou, in naam alleen, en ‘n mamma sal wees vir sy dogtertjie, sal hy vir haar voorsien deur die komende winter. Indien sy nie gelukkig is nie, sal hy vir haar betaal sodat sy in die lente die trein kan terugneem vanwaar sy gekom het. Het sy enigsinds ‘n keuse?

Janette Oke skep ‘n prentjie van geluk en hartseer, vriendskap en omgee in ‘n klein gemeenskap waar mense bereid is om mekaar te help ten alle koste. Ook Marty moet aanpas by die plaaslewe en werp haar voluit in die nuwe , onbekende rol as boervrou en ma.

Loves comes Softly is ‘n klassieke verhaal wat na 40 jaar weer nuut uitgegee is. Dit lees maklik en is ook geskik vir jong lesers. Die leser leef saam met Marty deur haar routydperk en al die onbekende uitdagings op die plaas. Die leser word vasgevang in Marty en Clark se aanvanklik formele verhouding waar daar slegs gepraat word wanneer dit uiters noodsaaklik is, tot dit ontvou waar hulle mekaar begin verstaan en ‘n hegte omgee ontwikkel.

Love comes Softly is geskryf deur Janette Oke en is nou weer beskikbaar by Cum Boeke.

Posted in Los opdrifsels | 19 Kommentaar

In die wynboetiek- ‘n foto-uitdaging

Hier is die laaste foto wat ek geneem het. Ek stuur dit in vir die “photo challenge ” wat ek by Toorts gesien het. Die kleine seuntjie sit diep en dink in die vensterbank van ‘n wynboetiek terwyl sy ouers n wynproe bywoon. Die foto is onveranderd geplaas. Ek is geen fotograaf nie, maar dit was vir my mooi.

Posted in Die Overberg: my wereld., Los opdrifsels, Overberg, Seestories | Kommentare af op In die wynboetiek- ‘n foto-uitdaging

Struisbaai special

Dis die einde van 2019. En op Struisbaai is dit baie spesiaal, veral vandag.

Miskien is die belangrikste dat vandag n baie mooi dag was- die eerste een hierdie vakansie sonder ‘n stormsterk wind! Ons kon saam met skoonseun op sy jetski ry; vir Parrie (gemeenskaplike naam vir Skuitbaai se mak pylsterte) loer; met kleinseun op die strand speel; ‘n drankie gaan drink by die ou wrak….

Vandag is ook die dag van die rubberducks. Elke jaar op 30 Des kom die rubberducks volspoed hier aangejaag – deel van die Trans Agulhas resies van Nature’s Valley tot op die Gordonsbaai. Dis groot opwinding vir die jaers en ook vir vakansiegangers om te sien hoe die ouens jaag, uitspring en hardloop om eerste by die eindpunt te kom.

Terwyl ek hier tik, breek my man houtjies vir ons braai en hier op ons gras het nou sopas n ” brassband” aangekom. Elke jaar stap hulle so van huis tot huis om ons te “serenande” met Kersfees of Nuwe jaar. Dit is ‘n tradisie hier op Struisbaai wat al van my kinderjare af aankom en is sooo spesiaal. Dit vertel van gemoedelikheid, vrede en vakansie!

Moreaand is daar weereens ‘n onbeplande vuurwerkvertoning om van te droom op Struisbaai se sandplaat, en waarskynlik soos altyd ‘n paar jong manne wat in die lig van die vuurpyle gaan kaalnael see toe om te “skinnydip.”

Daar is waarskynlik ook soos altyd ‘n middernagdiens om die nuwe jaar in te lei.

Mag julle die ou jaar met ‘n lied in die hart uitgaan en die nuwe jaar met ‘n Nuwe Lied in die hart ingaan!

Groete en vrede in die jaar 2020 vir jou wat hier lees.

Posted in Die Overberg: my wereld., Kersfees, Los opdrifsels, Overberg, Seestories | 18 Kommentaar

Kersfees, vakansietradisies en verandering.

gert se hawefoto

My ma was die tweede oudste van 11 kinders. Al 11 is getroud en al elf het kinders gehad. En elke jaar het hierdie groot familie in ‘n groot halfmaan van tente vakansie gehou dat dit klap, daar tussen die bosse op ou Struisbaai voordat dit ontwikkel het.

Dit was nie sommerso nie, hoor! My oupa, Tom Falck, het elke jaar ‘n groot vragmotor0 gehuur. Daarin was ‘n groot swaar seiltent vir elke gesin, ‘n tent vir die niggies, ‘n tent vir die nefies, ‘n tent vir die huishulp en haar seun en ook die groot kombuistent ( dws ten minste 16 tente?) Daarin was ook ‘n regte ysterbed en matras vir elke persoon,( dus meer 30 beddens en matrasse, want sommige nefies en niggies moes nog gebore word). Daar was opslaan tafeltjies, outydse parafienstofies, van die soort met ‘n glasvenstertjie in, olielampe, waterhouers, lang koekblikke, potte, panne, braairoosters, ‘n “safe” ( wat die kos onder ‘n boom koud hou), ‘n hok met eende en hoenders, en goeters. Dit was ‘n toe vragmotor en hy was tot byna teen die dak gelaai. Aan die eenkant was ‘n klein venstertjie, en ek en my niggie, Annette, het een jaar die voorreg gehad om saam te ry. Van Robertson tot op Struisbaai het ons met ons neuse by die venster op die matrasse gelê en uitloer met ons sitvlak teen die dak. Daar was nie plek om regop te sit of selfs eintlik te draai nie.

Vir my as enigste kind, was die vakansies ‘n absolute fees, met die hordes niggies en nefies as speelmaats. Elke Oom en Tannie het ook hulle eie unieke baie sterk individuele karakter gehad en dit was ‘n belewenis om saans na hulle eksentrieke idees, stories en goedige geredekawel te luister. Soms het dit vir my geklink asof elkeen gelyk sy eie storie vertel terwyl hulle terselfdertyd nog kommentaar lewer op die ander se stories ook. Die ” aangenaaide lappe” se familie is Kerfees nie besoek nie. Al die Falcke en hulle gades was Desembers op Struisbaai by my ouma en oupa.

Soggens moes ons eers met die emmer gaan water haal. Die hele Struisbaai het net 1 kraan gehad en dit het ‘n pennie ‘n emmer water gekos.

Na ontbyt is ons af strand toe en in die see, tot ons honger geword het. Dan terug kombuistent toe , waar die groot koekblikke gewag het met die heerlikste tuisgebakte koekies in. Gewoonlik was dit egter al byna middagete. My ouma was nogal kwaai dat middagete stiptelik 12h moes wees.

Dit was sorgvrye jare, waar klein kindertjies alleen see toe kon gaan, of sandduine toe as die gier ons pak, of omstap Skuitbaai toe, (soos ons toe Struisbaai hawe genoem het) , sonder dat ons vir iemand hoef toestemming te vra. Saans met volmaan het ons as gesinne op die wye sandplaat gaan stap terwyl die maan op die water blink.

Hoeveel mense het al besef dat Struisbaai waarskynlik die veiligste strand in die land is? Daar het nog nooit ‘n swemmer verdrink nie en niemand is nog deur ‘n haai gevang nie! Elke jaar hoor ons van iemand wat kamstig verdrink het, maar dit het nog nooit gebeur nie. Dis amper soos die haai in die L’Agulhas swembad. Elke jaar vertel die kinders met groot oë dat daar ‘n haai in die gety poel is, maar dit het het nog nooit gebeur nie, behalwe eenkeer. Maar dit was ‘n ander storie, wat jy hier kan lees.

Na ete moes ‘n mens ‘n uur rus voor jy weer see toe gegaan het, want anders “sal jy ‘n kramp kry in die water”. Gelukkig was dit baie pret in daardie niggietent, maar ai, ‘n uur is baie lank! Daarna see toe, tot dit skemer raak en tyd raak vir braai – gewoonlik, vis wat die mans gevang het, soms seekat, witmossels en natuurlik allekruk wat ons met springetye van die rotse gaan afhaal het en nou en dan perlemoen. Daar was oorvloed van alles.

Toe ek 6 was, het ons op Sasolburg gaan woon, maar elke jaar, 24 Des, het my pa sy winkel gesluit en dan het ons in die pad geval en dwarsdeur die nag gery om op Struisbaai te kom. Dit was vir my wonderlik en ek en hy het nagte om gesels en gesing. Hy het altyd graag gesing terwyl hy ry en het ‘n pragtige stem gehad.

So 1960 het Struisbaai ontwikkel en ‘n ( treurige) kampplek op die wit sand te na aan die see probeer bou, waar die bome nie wou groei nie, en ons tente in wind en weer gestaan het met geen bosse om dit te beskerm nie. (Dit is vandag 60jr later, steeds so!). Maar ons kamp te lekker. Hier en daar het van die 11 kinders vir hulle karavane gekry, en die niggie en nefietente het in die slag gebly. Dit was die dae van die “bob” en my oudste niggies en jongste tannies, het gebob dat die sand so spat rondom die braaivuur. Gewoonlik was daar erens iemand wat trekklavier gespeel het.

Kersfees was ‘n groot storie. Ons het die stranddienste se kerk bygewoon. Hulle het gewoonlik ‘n pragtige preekstoel van seesand gebou en versier met oranjerooi duinebessies, seegras en skulpe. Dan het ‘n mens daar op die strand se wit sand gesit met die soet soutgeur van die see in jou neusvleuels, terwyl die wind jou hare in jou oë waai, die son jou rug lekker warm kielie en die blou see lieflik in jou ore ruis . Die jong student se boodskap was altyd begeesterd en uitsonderlik. So naby aan die Here het ‘n mens gekom by daardie stranddienste!

Vir kersete het elk van die 12 gesinne ( my oupa-hulle was mos ook daar), dan ‘n heerlike spesiale gereg gemaak,( op primusstofies want Struisbaai het eers in die laat 80er jare krag gekry) wat op die tafels uitgepak was sodat ons kon skep wat ons wil. Die poeding was altyd Struisbaai se doekpoeding met vla. Dit is ‘n poeding met baie droëvrugte en speserye in wat in ‘n doek in die water gekook word. En erens in daardie poeding was ‘n tiekie of twee. Gelukkig is jy as jy dit in jou bakkie poeding kry!

Van kersfeespresente kan ek nie by die see onthou nie. Ek onthou tog die Kersboom en die kussingsloop wat ek elke jaar saans moes ophang sodat Krismisvader sy presente daarin kon sit, maar dit was by ons huis in Sasolburg, so ek glo ons het vroeër as wat dit moes, ons Kersboom daar gehou. As jy klein is, weet jy nie veel van datums af nie, behalwe dat ons elke jaar op 24 Desember vir 3 weke lank Struisbaai toe is.

Nog later, toe my ouma en oupa te oud raak vir kamp, het hulle Rus ‘n Bietjie op Agulhas ( eintlik maar deel van Struisbaai of andersom) gehuur – die einste huisie wat nou aan my en my man behoort. Waar almal in die klein huisie geslaap het, weet ek nie, ek weet net ek en my niggie moes saam met my ouma en oupa in die een kamer slaap en ek het elke nag lê en luister na die wysies wat my oupa gesnork het. Kersfeesete was nog groter as voorheen, ‘n fees.

Nou is die groot anker wat almal saamgebind het, my ouma en oupa, lankal weg, en van die 11 kinders is daar nog net 4 oor. Op ‘n stadium het 8 van die 11 kinders en hulle gesinne egter hulle eie strandhuise op Struisbaai en Bredasdorp gehad Die kinders van die oorspronklike 11 is almal al getroud en baie van hulle se kinders ook. Baie van my ouma en oupa se kleinkinders is nou ook oumas en oupas. Deesdae gaan die kinders en kleinkinders ook soms na die skoonfamilie toe, maar gereeld hou ons ‘n familiebraai of samekoms op Struisbaai of Agulhas, ons familieplek. Struisbaai bly maar baie van ons se hartsplek.

In my 69 jaar is daar slegs 4 keer waarvan ek weet, wat ek nie op Struisbaai of Agulhas was met Kersfees nie. Vanjaar sal dit die 5de keer wees: Ons gaan Worcester toe na die kinders wat nie verlof kan kry nie. Maar oum matie, volgende jaar, as die Here ons spaar, is dit Rus ‘n Bietjie en familiefees!

Hierdie is nie ‘n woordsnoer nie, maar tog geskryf in opdrag van Scrapy.

Om nog kersstories deur te lees, klik hier. En plaas jou eie skrywes ook hier.

VLUU L210  / Samsung L210

m.

000031

20181031_131205.jpg

Rus ‘n Bietjie, L’Agulhas

Posted in Die Overberg: my wereld., Kersfees, Los opdrifsels, Overberg, Seestories | Tagged | 13 Kommentaar

Om op Rebusfontein te woon

In my wildste drome het ek dit nooit kon dink nie: Dat ek eendag op Rebusfontein sal woon nie.

“Maaar woon jy dan nie meer op Bredasdorp nie?”

Natuurlik woon ek nog hier – en sommer op Struisbaai ook. Ek woeker hier en ek werk. Ek jaag rond van bakboord na stuurboord. Ek moet kos maak en veral tonne en tonne wasgoed was. Ek moet bel en reëlings tref en organise, en veral geld betaal – baie baie: huishulpe, munisipaliteit, karre, huise, petrol, instandhouding, kos, goeters.

Maar ek woon ook op Rebusfontein. Hier sit ek op my pragtige stoepie en kyk na die oorvloed lieflike blommetjies , met ‘n glasie Frangelico en ‘n pragtige bordjie met Toortsie se tiramiso. Ek drink tee uit blommetjieskoppies en eet Lorenzo se heerlike soetkoekies. Ek lag en gesels en gooi wye verbeeldingsdraaie met my bure.

My Rebusfontein bure is almal pragtig en dierbaar, en ek moet bieg ook die snaakste klompie vriendinne bymekaar. Ons lag ons gereeld slap vir mekaar se manewales. Soms kry ons bevliegings en gaan kruip in grotte en tonnels rond en los moordraaisels op. Soms spring ons op ‘n giggelgroen bus en toer die land vol. Ons het eenkeer amper in ‘n sirkus deelgeneem, en ek praat nou nie eers van daardie perfekte misdaad wat ons so ‘n ruk gelede gepleeg het en hoe ons die polisie ontduik het nie. Dis juis agv daardie skreeusnaakse avontuur dat dat ons die Towerinne genoem word. Nee, ons toor nie, maar ons het mos Towerkop se raaisels opgelos – dus Towerinne.

Ag, en as julle nou dink ek het die kluts heeltemal kwytgeraak – elke liewe woord is waar. Regtig! Sowaar as padda manel dra! Ons het daai goud en diamante gekry en in tannie Frannie se broodjie versteek, en ek dink oom Paul was nogal bly dat sy miljoene uiteindelik gevind is. Daarna hét ons gaan toer, op pad vir die pragtige Lorenzo raakgeloop (ag en ook die nuuskierige minder-pragtige Broodina), en uiteindelik hier op Rebusfontein nesgeskop. Ons het al ‘n dinee gehad vir ‘n paar baie spesiale en beroemde mense ( sien onder) en selfs internasionale aandag daarmee getrek.

Lees gerus hier oor ons dinee en ook oor Rebusfontein en sy spesiale inwoners:

https://sevencircumstances.com/2019/09/29/what-is-it-about-rebusfontein-and-the-king-louis-viii/

Ons het ook hard geoefen aan ons sirkusdansie, pragtige woordsnoere gemaak en uiteindelik Eden se biblioteek se geheim opgelos – altans ek dink so. Ons sit nog lekker en gesels daaroor.

Maar die lewe gaan aan, en een van die dae is die Novemberskryf’nroman verby en dan lê Kersfees mos voor – en ook waarskynlik ons volgende avontuur, want op Rebusfontein is dit nooit te lank stil nie . Die koek, tee en frangelico is lekker, maar as jy weer sien, kom die volgende avontuur hier aangehuppel.

En wat kan ons doen?

Ons lag!

En ons gryp daardie nuwe avontuur en dans met hom, al die pad die toekoms in.

towerin huisie

towerin huisie

Om nog rebosinskrywings, asook ander Rebossers se vertelling oor ons wonderlike dorpie te lees, klik hier:

https://fresh.inlinkz.com/party/942da9e9f0524c6b982439c66cceced1?visitor3

 

 

Posted in blogspeletjie, blogspeletjie diegroen giggelbus, blogspeletjie:towerbus,, feeverhale en ander stories, goue vroue, rhebusfontein | Tagged , , , | 47 Kommentaar

Die vervalle biblioteek: Slot

Hier is die slot van ‘n vervolgverhaal .Hierdie inskrywing vorm deel van ‘n bloguitdaging wat ‘n groep dames, bekend as die towerinne van Rebusfontein, uitgedaag het om ‘n storie saam vertel. Elke episode is deur iemand anders geskryf.

Kliek HIER om die verhaal van die begin af te lees.

‘n Babelse lawaai bars skielik los en al die Rebusfonteinhonde storm blaffend na buite. Die katte gee verskrikte miaaus en laat spaander in alle rigtings. Seegogga se Bekkie fluit hard en vlieg vinnig kombuis toe.

Hester en Vuurvliegie spring vinnig agter die honde aan en is net betyds om te sien hoe Broodina se motortjie om die hoek verdwyn, met sersant Gigaba se motorfiets agterna.

Seegogga spring op en af. ” Ek weet wat ons moet doen!” roep sy opgewonde. “Ons moet almal ouetehuis toe gaan!”

Nog ‘n lawaai bars los soos die Towerinne almal gelyk uitbars.

” Nooit! Ek is nog te jonk!” roep Virgo C ontsteld.

“Waddehel. Is jy bedinges?” vra Hester.

“Ek loop en val, maar dis darem nie sooo erg nie!” Kameel glimlag valerig.

“Gaan vlieg!” sê Trommeltjies.

“‘n Ouetehuis het sy voordele, maar…”sê Toortsie versigtig.

“Nee, nee , ons gaan nie daar wóón nie, ons gaan net daar kuier… of wag: Ek en Christa gaan. Perdebytjie en Hester, gaan julle weer watervalle toe . Kyk of julle enige bewyse kry. Neem foto’s van enigiets wat verdag lyk.

“Vuurvliegie en Frannie, kontak asb tog weer daardie vriendin van die argiewe. Soek koerantberigte oor Eden. Enigiets.

Una, en Bondels, ondersoek asb daardie horlosie , sleutel en juwele deeglik. Ek weet sulke goed het oral geheime wegsteekplekkies en met julle ondervinding, kry julle dalk iets.

“Scrapy, praaat tog asb weer met die diere. Dalk vind jy nog iets uit.

“Woordnoot, Positief en Toorts, sal julle asb die fort hier hou? Maak vir ons lekker kos. Virgo, die kan witblits is daar agter in my kombuis. Maak solank ‘n lekker kaggelvuurtjie en kry die glasies reg. Ek vermoed ons gaan dit nodig kry. Ek weet jy het bestanddele vir lekker tiramiso en ander lekkernye, Toorts, en dan ontmoet ons mekaar vannaand hier in my huisie. Kameel, dalk kan jy en Camilla konnek met die dode… of iets. “)

“Ja-nee, hierdie geheime moet nou finaal ontrafel word!” sê Vuurvliegie. “Dis nou tyd vir NanoWriMo 2019! “‘n Hele paar Towerinne knik instemmend. Seegogga kyk hulle bietjie groenerig aan.

“Wat gaan ons by die ouetehuis doen? vra Christa toe sy en Seegogga alleen is.

“Wel Toortsie se ouma het mos ‘n tannie Kokkie daar geken. Sy is lankal oorlede, maar ek is amper seker Broodina se oumagrootjie was ook daar – en na haar was haar ouma of oupa seker ook daar. Ons moet gaan uitvind…”

Dit is skemer toe die towerinne weer in Seegogga se sitkamertjie vergader. In die kaggel brand ‘n gesellige vuurtjie.

Toe almal agteroor sit met ‘n klein frangelico’tjie om die tonge los te maak, begin hulle vertel.

Perdebytjie en Hester vertel opgewonde van die versteekte graf met die ou houtkruisie op, en Perdebytjie wys die foto. Daar is egter geen naam by nie.

“Ons het toe tog ‘n koerantberig gekry!” Vuurvliegie lees die berig wat Frannie in haar hand stop:

“TRAGISH ONGEVAL OP EDEN HEEFT EEN LEVEN GEKOST

Isabelle Angelwood crashte tragisch op Vrijdag 13 November 1865 toen ze zogenaamd bovenop de Eden-krans gleed. Ze stortte neer met de waterval. Isabelle heeft een psychishe stoornis sinds de onverklaarbare verdwijning van haar broers jaren geleden. Ze liep vaak rond de klif. Er wordt geen misdrijjf vermoed.”

“My vriendin by die argiewe het dit vir ons in Afrikaans vertaal.”, sê Frannie.

“TRAGIESE ONGELUK OP EDEN EIS LEWE.

Isabelle Angelwoord het Vrydag 13 Nov1865 tragies verongeluk toe sy vermoedelik gegly het bo-op die Edenkrans. sy het saam met die waterval na benede gestort. Isabelle het volgens gerugte aan ‘n geestelike versteuring gely sedert haar broers se onverklaarbare verdwyning jare gelede . Sy het dikwels by die krans rondgedwaal. Geen misdaad word vermoed nie.”

“Dan is dit haar graf daar by die waterval. Ek wonder wie sou die kruisie daar gesit het?” Vuurvliegie frons.

Una en Bondels kan nie wag om hulle ontdekking te wys nie – ‘n klein dik opgevoude papiertjie.

“Dit was agter die foto’tjie van Charlotte in die ou horlosie”, vertel Bondels. “Una het geweet dat daar ‘n groot holte moes wees, want die foto is mos reguit en die horlosie se agterste dekseltjie is mos gerond.”

Una vee ‘n traantjie af, en dan lees sy:

My liefste liefste Leonard. Ek het jou lief met my hele hart. Jou huweliksaansoek is die mooiste ding wat ooit met my gebeur het. Al die jare wat ek deur Joseph misbruik is, en deur my pa, Isabel en Sophia afgekraak en afgebreek en gevange gehou is, verdwyn soos mis voo r die son as ek aan jou dink. Leonard, dankie dat jy my aanvaar, ten spyte van my treurige verlede. Jy is die eerste persoon wat my sien vir wie ek is. Maar ek is bang vir Sophia. Sy is baie jaloers. Wees asb versigtig Leonard! Ek smag na jou arms om my en ons lewe saam, veilig en ver van hier. Versigtig my liefste! Jou Charlotte.”

Una snik nou soos sy huil en Kameel, Bondels, Woordnoot en ‘n paar ander vee ook trane af.

“Julle weet nie hoe erg dit is nie!” huil Bondels. “Die arme, arme Charlotte!”

“Dis wat ek wou vertel,” sê Scrapy. “Die uile was daar toe Sophia vir Leonard doodgesteek het! Nou nie my uile nie, né! Maar uile onthou en vertel mekaar en dra kennis oor. Dit s hoekom hulle so wys is.”

“Soos olifante” sê Perdebytjie.

Scrapy knik.

“Ek dink jy moet vir hulle vertel, Seegogga!” sê Christa. “Maar ek dink ons het regtig nou witblits nodig. Frangelico is lekker , maar ons hou die res liewer vir na ete. Ons het nou krag nodig!” Virgo skink, Toorsie bring heerlike kasies, biltong, Lorenzo se mini pizza’s en van tannie Frannie se broodjies en suurvytjiekonfyt. Eenkant staan Toortsie se tiramisu en wag, met die Frangelico daarnaas.

Christa maak keel skoon, “Ons het Broodina se oupa en ouma opgespoor! Hulle albei leef nog en haar oupa ken ‘n paar van die stories wat sy ma, Broodina se oumagrootjie, vir hom vertel het. Sy vrou het altyd gedink hy skiet spek, maar ons weet van beter né!”

“Kom ons begin by die begin.” Seegogga pluk haar aantekeninge uit en frons. ” Soos ek die saak ontleed het…

” Soos Hercule Poirot

“Of Sherlock Holmes!”

“of Monk!””

“en wat van miss Marple?” Die Towerinne se gesigte is vol duiweltjies.

“Nee, eee …Soos Seegogga!” kry Seegogga haar kop weer agtermekaar. “…het ou oom Angelwood, vader van Leonard en Isabelle, met Joseph se ma getrou na hy wewenaar geword het en Joseph as sy eie aangeneem. Joseph was egter van kleinsaf afgunstig op op sy stiefbroer en suster. Hy was gewoond om die enigste kind te wees en sy ma se oogappel. Die fout wat die oom gemaak het, was om vir sy nuwe vrou ‘n pragtige opaal armband, met ‘n hele klomp hoë gehalte opaalsteentjies te gee.”

“Die armband wat Camilla dra?”

“Ja, Kameel. Isabella het die armband by haar ma ge-erf , en dit weer later vir haar dogtertjie gegee , maar die kind is dood aan breinvliesontsteking. Toe vat Broodina se oumagrootjie dit maar. Maar moenie bekommerd wees nie, Camilla is veilig. Ek sal later vertel van die armband.”

Toe die kinders grootword en die twee oumense afsterf, het dit waarskynlik alreeds baie swaar gegaan op Eden. Isabella, met haar hooghartige houding, het Joseph gedwing om met Sophia te trou. Volgens die argiewe was Sophia was ‘n weeskind, ryk agtergelaat deur haar vermoënde ouers. Dit het die Eden landgoed gered.

“Mev Marks en mnr Hardy het daar kom werk en hulle dogter, Charlotte, het in die kombuis kom help. Joseph was gefassineer deur die pragtige jong meisie. Soos julle weet, was hy nie lief vir Sophia nie, en sy het ook gou agtergekom dat die huwelik net oor haar erfporsie gegaan het. Sy het verlief geraak op die enigste eerlike man, Joseph se halfbroer, Leonard. Leonard was ‘n kunstenaar en het graag geskilder. Geld en aansien het nie vir hom saak gemaak nie.”

” Maar wat dan van sy verhouding met Sophia?” vra Toortsie.”It takes two to tango”.

“Wel, Leonard, was jonk en enkellopend en Sophia, as meer ervare vrou, was baie verleidelik. Sy was mal oor hom. Hy het geval vir haar strikke en geglo dat hy ook op haar verlief is, maar het later besef dat dit maar slegs oppervlakkig is en dat hulle eintlik niks in gemeen het nie. Boonop was sy getroud.”

”Soos in The Graduate” knik Hester.

“Ja, maar sy wou dit nie aanvaar nie – soos daardie fanatiese vroue wat mens soms kry.”

Play Misty for me” knik Woordnoot.

“Die draaipunt het gekom toe Charlotte Joseph se babatjie begin verwag”,gaan Seegogga voort.”Soos baie landhere van die tyd, het Joseph hom op Charlotte afgedwing en sy, diensmeisie, het nie ‘n sê in die saak gehad nie. As sy haar sou teësit, sou haar ouers hulle werk verloor en hulle sou op straat sit. Toe raak sy swanger. Leonard was baie verontwaardig toe hy dit hoor, maar meer nog toe sy suster die arme Charlotte in die kelder begin toesluit. Sy het hom die dood voor die oë gesweer as hy sou probeer om Charlotte daar uit te kry.

“Leonard het begin om vir Charlotte in die kelder te besoek, en het met haar gesels. Soms het hy haar uitgeneem na die grot toe, en vandaar na buite, sodat sy darem ook vars lug en son kon kry. Hulle het soms in die poel geswem , en hy het begin besef dat sy die vrou van sy drome is. Dit is hý wat die skilderye van die twee vroue in sy lewe gemaak het – die vermoënde Sophia en die sagte Charlotte. Daardie seuntjie, klein Thomas, was eintlik sy en Charlotte se liefdesbaba, maar niemand het dit geweet nie.”

“MMM Ek het geweeet! snik Kameel. ‘”Leonard was so edel!”

“Leonard hét Charlotte gevra om met hom te trou” vertel Seegogga verder. “Hulle twee het beplan om saam êrens, ver van Eden af te gaan woon, maar die probleem was dat hulle niks gehad het om van te leef nie. Ek vermoed dat Leonard sy broer, Joseph, gekonfronteer het oor Charlotte en hom ook om sy deel van die erfporsie gevra het, sodat hy haar kon wegneem. Hulle het aan die stry geraak en Joseph het begin handgemeen raak. Leonard het hom weggestamp en Joseph het perongeluk met sy slaap teen die skerp hoek van die swaar ou bedkassie geval. Joseph het so gesterf..

“Mnr Hardy en sy seun, Karel, het Joseph se liggaam uitgedra en net buite die grot weggesteek. Hulle het dit nie begrawe nie – ek weet nie hoekom nie, maar ek vermoed hulle het gedink dat daar nooit iemand kom nie, en dat die jakkalse en aasvoels gou van die liggaam sou ontslae raak.”

“Dis baie erg! ” Woordnoot gril.

“Ja, Leonard het verskriklik sleg gevoel en die volgende dag na Joseph se liggaam gaan soek.”

“En dit toe gekry ook” vat Christa oor. “Op daardie oomblik, toe hy by sy broer se lyk staan en weën, het Sophia hom gekry – en doodgesteek.”

“Hell hath no fury like a woman scorned,” sug Hester.

“Wel, Sophia het koelbloedig aangegaan of niks gebeur het nie, maar sy wou ontslae raak van Charlotte, want Charlotte was die persoon wat haar Leonard van haar af gesteel het. Toe sit sy die slang in die grot.”

‘Dinge het egter nie heeltemal gebeur soos sy beplan nie nie,” vertel Seegogga verder.

“Charlotte het van die leer afgeval en haar nek gebreek. Om seker te maak dat sy dood is, het Sophia haar met die mes ook gesteek- maar die slang wat sy vir Charlotte daar geplant het, het haar kinders doodgebyt. Hardy het die slang vermorsel en sou haar dalk ook aangeval het, omdat hy weet dat dit sy was wat die oorsaak van die kwaad was, maar Sophia was te vinnig vir hom en het met haar skerp mes ook vir hom doodgesteek. Mev Marks het van vrees weggekruip, en Sophia het haar nie gesien nie, anders was sy ook seker weg. Toe vlug Sophia weg van Eden af.”

“Dis absoluut verskriklik!” Frannie ril.

“Die hoë ideale wat Isabella vir Eden gehad het, was in skerwe.” vertel Seegogga verder.

“Daar het vir haar niks oorgebly nie. Sy het die armband vir haar dogtertjie gaan gee en ek vermoed sy het toe van die krans gaan afgespring.”

“Of Sophia het haar daar afgestamp” – sê Vuurvliegie nadenkend. “Julle, Eden is ‘n bose plek – en om te dink ons het daar rondgesnuffel!”

“Dit het natuurlik al so ‘n honderd jaar gelede gebeur, maar ek het rillings teen my ruggraat afgekry toe ek weer daar in die biblioteek gaan ondersoek instel het. Ek voel doodseker dat die geeste nog daar ronddwaal in die gange van daardie ou huis!” Kameel ril.

“Maar wat dan van mev Marks?”vra Positief. “En Karel?”

” Mev Marks sou seker ook gesterf het, maar sy het weggekruip van vrees en Sophia het haar nie gesien nie.” vertel Christa. “Sy het weggehardloop en later as tannie Kokkie by ander mense werk gekry. Karel het sy vader se liggaam gaan begrawe, ons weet nie waar nie, en beplan om met sy dogtertjie ‘n ander heenkome te soek. Ongelukkig het sy breinvliesontsteking gekry en gesterf. Hy het weggetrek, niemand weet waarheen nie.”

Dit is stil in die Rhebushuisie. Almal sit verslae.

‘Maar waar kom die armband dan in?” vra Frannie. “Wel”, sê Seegogga, “Broodina se oumagrootjie het toe maar die armband geneem en later vir haar seun se vrou, Broodina se ouma, gegee. So het dit toe het Broodina s’n geword. Maar ai dat ‘n armband nou soveel ongeluk kan bring! ”

“Volgens oorlewering is Opaal mos Oktobermaand se geboortesteen.” sê Woordnoot nadenkend.

“Ja, dit is ongelukkig vir iemand om opaal te dra as jy nie in Oktober gebore is nie.” sê Seegogga. “Die armband was die groot fout. Isabella en nie een van de ander Angelwoods was in Okt gebore nie!” Seegogga sug. Sy is skoon uitgeput van al die draaie en kinkels wat sy moes uitpluis.

Net toe kom Camilla haastig die vertrek ingewaai. “‘Kom kyk!”

“Haal af daardie armband!” gil die towerinne almal deurmekaar.”

“Ontspan julle! Camilla verjaar in Oktober” sê Kameel bedaard, “né, Camillatjie? ”

“Ja, 24 Oktober”, sê Camilla verbaas, “maar kom kyk hier buite!”

Sy storm weer na buite. Die naghemel is helder verlig deur ‘n vlammegloed. Eden brand af! Verslae kyk ons almal na die vuurvlamme op die horison. Dis duidelik dat daar van die huis niks gaan oorbly nie en dat dit tot op die grond gaan afbrand.

“Daar gaan ons biblioteek”. se Kameel.

“Ek gee glad nie om nie – ek wil nooit weer daarheen gaan nie!” sê Positief. Al die towerinne beaam dit stilweg. Ten spyte van die vuurgloed ril ons.

Toe hoor ons dit: Die lang onaardse geluid wat deur murg en been gril- ‘n lang uitgerekte tjankhuilgil van ‘n vrou.

Posted in feeverhale en ander stories, goue vroue, rebusfontein, perfect day, vriende, nostalgie, rhebusfontein | 69 Kommentaar

die misterie van die vervalle biblioteek

Hierdie inskrywing vorm deel van ‘n bloguitdaging wat ‘n groep dames, bekend as die towerinne van Rebusfontein, uitdaag om ‘n storie saam vertel.

Jy moet eintlik die vorige 10 hoofstukke (dit is nie so lank nie) lees om myne te verstaan. Kliek HIER kliek om die verhaal van die begin af te lees.

Die tonnel is klam en benoud.

“Julle, ek kan nie meer nie – ons moet nou omdraai!” Positief ril en haar stem bewe..

“Ek stem!” koor Hester en Kameel agterna.

“Nooit!” sê Seegogga en Toortsie gelyk.

Seegogga loop sommer vinniger vorentoe. “Daar moet erens nog ‘n uitgang wees!”

“Hou net moed ouens,  Daar is lig aan die einde van elke tonnel.  Ek is seker ons sal hier uitkom” Toortsie se stemmetjie klink maar dun.

Sy het skaars klaar gepraat, of Virgo maak haar stil. “Sjuut julle! Luister daar!” Ons staan almal doodstil. Dan hoor ons dit: Die veraf gefluit van ‘n voëltjie.

“Dit beteken mos hier moet erens lig wees! Voëls fluit nie in die donker nie!” sê Perdebytjie .”Kom julle!”

Almal strompel so vinnig as wat hulle kan, vorentoe. Scrapy laat haar  selfoonliggie dwaal oor die klipwande van die grot en is so ernstig besig om te soek na ‘n opening, dat sy struikel. Vuurvliegie en Woordnoot gryp haar vas voor sy val, maar die selfoon spat uit haar hand uit en lê liggie na bo in die stof.

“Kyk daar!” Christa wys  na die liggie se straal bo teen die dak. Daar links!” Almal staar na die donker gat. Dit lyk sowaar of daar kliptrappies daarheen lei. Die gat lyk egter vir almal te klein en te nou vir ‘n mens om deur te gaan.

Seegogga is die kleinste, en besluit om te gaan onderoek instel. Dit IS trappies! Die gat is sowaar nog ‘n tonnel  – nou, maar tog begaanbaar. Sy skuifel versigtig vorentoe .. en toe.. “Eureka!” roep sy af ondertoe. “Kom julle!”

Voor haar lê ‘n pragtige groot saal, skemerig, maar   verlig deur helder sonlig wat  deur die ruie plante by die opening na binne stroom. Aan die eenkant is daar ‘n blink poel  water, met gladde plat klippe. Die wande van die rotse is mosbegroeid en pragtig. In die een hoek is daar iets wat lyk soos ‘n tafeltjie – ja! Dit moet wees – ‘n Rowwe plank op twee boomstompe en op hom staan ‘n kersblaker met ‘n uitgebrande kers. Alles is baie vol stof. Hier was duidelik baie lanklaas iemand.

“Iemand het eenmaal hier  gewoon of dalk geskuil”, ek voel dit.”sê Una beslis. “Kyk – hier op hierdie klip lê   kwassies  en ‘n paar buisies waterverf. ”

“En hier lê twee skilderytjies!”  Woordnoot vat die twee stowwerige papiere en bekyk dit krities. “Mmmm  nie watwonders nie – lyk of dit baie vinnig gedoen is. Maar dis lyk mos na Sophia!

rhebusfontein 002.jpg

“En dit is mos Charlotte, dan nie? Wel, wel, wel….!”rhebusfontein 001.jpg

Die towerinne  kloek effens geskok om die twee skilderytjies.

“En hier in die donkerste hoek is ‘n ou donskombers! Sjoe, bo stukkend van ouderdom, maar dit is mooi netjies opgevou.” Dis Hester was saaklik verder soek.

Wie sou hier gebly het? Was dit dalk Leonard en Sofia se liefdesnessie? Of dalk Charlotte en Joseph s’n? Dis hulle seuntjie Thomas se prentjies wat teen die mure van die tonnel hang.

Die towerinne soek oral rond, en kry op ‘n kliprakkie ‘n vroue stola van ragfyn deurskynende swart kant en om die rante met die hand omgesoom met die fynste, mooiste  stekies.

“Dit lyk so….. mmmm……verleidelik . Die Camilla in my sou hierdie kantlappie goed kon gebruik!” Kameel streel bewonderend maar versigtig oor die sagte kant.”Ek wonder nou…was Joseph ooit Charlotte se enigste liefde? Wie sê sy was nie dalk tog ‘n prostituut nie? Of dalk net ‘n los meisie nie? Sy het geen probleme gehad om ‘n verhouding met ‘n getroude man te hê nie. En daardie skildery!”

“Sy lyk tog….gaaf” sê Una versigtig.

“Die feit dat Mev Marks die ouma  van Thomas is, laat my ook wonder”. Vuurvliegie se joernalis neus ruik nou behoorlik lont. ” Wie sê mev Marks het ooit haar van verander? Wie sê Charlotte is nie ook ‘n produk van ‘n  vebode liefde nie? Dink nou net:  Mnr Hardy-hulle  was eens baie vermoënd. Hulle het mev Marks as jong getroude meisie as kok in die kombuis. Mnr Hardy en sy raak verlief en sy raak swanger.  Hy verloor sy vrou en al haar geld, Mev Marks  kry ander werk en sorg dat Hardy  ook daar werk kry sodat hy naby haar kan wees. Aanvanklik gaan dit goed, maar….” Vuurvliegie se oë blink van opgewondenheid.” Ons sal nog in daardie dagboek moet gaan lees”

Toe almal  klaar alles bewonder het, tree hulle versigtig na buite. Aah! Sonlig! Heerlik!

Voor hulle lê ‘n pragtige ruigbegroeide klofie, met daaragter ‘n berg.

“Hoekom lyk dit dan so bekend?” Toortsie knip haar oë teen die skerp sonlig. “Kyk daar is ‘n waterval! En daar ook!”

“Dit is mos dieselfde as die skildery!” Trommeltjies is baie opgewonde.”Ek sê julle daardie watervalle het iets met die saak te doen.”

Hester trek skielik haar asem skerp in.. “En hier is deel van die tragedie, ” sê  sy saggies.. Onder ‘n oorhangende klip  lê daar wit beendere . Dit is twee witgebleikte geraamtes. Almal gil en ril. ” Ek is bang!” Positief kerm saggies.

Vlenters klere hang nog hier en daar om die geraamtes. Op ‘n klip langsaan  blink ‘n goue sakhorlosie wat uit die stukkende baadjiesak geval het.

20191020_173406

 

Tannie Frannie buk versigtig vorentoe en tel die holosie op. ” mmm 18 karaat. “En hier is geen wysters nie.” Sy knip die horlosie oop. Binne is ‘n naam gegrafeer: Leonard Anglewood. Op die teenkant is ‘n verbleikte foto: “Maar, maar dis nie van Sophia nie, dis mos…dis mos Charlotte hierdie!” Tannie Frannie vryf versigtig die stof af.  “Hier staan nog iets gegrafeer:  ‘Ware liefde is tydloos’.’

“Ag, hoe hartseer!” snik Kameel. Una probeer haar troos , maar haar oë is ook vol trane.

Sal jy ons asseblief verder vertel Hester?

 

 

 

Posted in blogspeletjie, feeverhale en ander stories, goue vroue, Los opdrifsels, rebusfontein, perfect day, vriende, nostalgie, rhebusfontein | Tagged , , , , | 71 Kommentaar

Skewe en ander prentjies – Rhebusfontein kunsuitstalling vervolg.

Liewe land. Wat vat jy saam en wat los jy?

Ek is eintlik lus en vat sommer al my prentjies saam en hang hulle in my Rhebushuisie.

Ek kan mos! En nog ‘n paar ekstra ook – die wat ek wou hê maar gemis het: my varsity vriendin Hermien Spies se mooi waterverf bome, of die ongelooflike mooi olietjie van jong seuns wat in die see met ‘n trekkerbinneband speel. Sjoe Die lewensvreugde het uit daardie skilderytjie gestraal!

Maar hier is my skewe prentjies wat my vriendin so laat lag het.

20190904_072626.jpg

20190905_092424.jpg

Bo is die foto’s van ons voorportaal en raampleksitkamer met die skewe prentjies.

20190904_114843.jpg

20190905_095258.jpg

Hierbo is twee prentjies van my oudste dogter toe sy nog op skool was. Die silhoëtte het ek gebruik as voorblad van Ma se seksboek. Vandag maak sy die mooiste mooiste verjaardag – en troukoeke as sy nie besig is om superma te wees nie.

Hieronder is twee prentjies van my tweede dogter. Julle kan sien dat sy effe aweregs is, soos dit ‘n linkshandige en boonop ‘n middelkind betaam. Vandag is sy modeontwerper en ook juweliersontwerper en dink die mooiste goed uit.

20190902_094544.jpg

20190905_095400.jpg

Hierdie onderste twee prentjies is van my jongste dogter toe sy op nog in die laerskool was. Die boonste een het ek en sy prentjies op ons palmboom se leervelle geverf met stokkies as kwaste en die onderste het sy gemaak toe sy 7jr oud was. Ek is mal oor die glaspot, die skewe blomme wat lyk of die wind hulle waai en die son bo. Vandag is sy skooljuffrou wat die mooiste stories kan vertel.

20190904_114804.jpg

20190905_094947.jpg

Hieronder is my pogings: Rose wat my man my present gegee het toe ons nog verlief was, en my jongste by ons eendedammetjie voor in ons tuin.

20190905_094817.jpg

20190905_095029.jpg

20190905_092756.jpg

Hierbo het my ma, Annie van Graan haar Ogieskat by ons klipvissies in die visbak geskilder. Die blomme het uit my tuin gekom.

En kan enigiets kers vashou by die grootste kunstenaar van almal : ons Vader en Skepper? Hier is ‘n paar wilde veldblommetjies van Struisbaai en natuurlik: die see!!!

IMG-20190904-WA0001.jpg

20190904_125058.jpg

Posted in blogspeletjie:towerbus,, feeverhale en ander stories, goue vroue, Los opdrifsels, rebusfontein, perfect day, vriende, nostalgie, rhebusfontein | 20 Kommentaar

Kunsuitstalling op Rhebusfontein – wonderlik!

O my Word – noot! Dis mos so in my kraal! Wil julle kuns he? Ek het baie!!! (BAIE!).Hoekom?Wel, my ma het geskilder, en ek, en my 3 kinders, en ek het ‘n raambesigheid… en ook ‘n voëtjie wat los in die huis rondvlieg…

Nou die dag kom ‘n goeie vriendin hier sit en tee drink. Sy sit nog so sedig, en toe bars sy skielik uit van die lag. Ja?

” Ai, Anna-Marie , jy met jou skewe skilderye!” lag sy . “Nie een hang reguit nie!”

Ek beskou hulle…Sy is sowaar reg. Dis net, ek kom dit glad nie agter nie. Met ‘n voëltjie wat graag op die rame gaan sit, en met die dat ek na die prentyjie kyk en nie na die netheid nie, kom ek glad nie agter dat hule skeef hang nie en dat pla my ook glad nie.

My skewe prentjies.

Ek vertel haar dat ek dit al oorweeg het om doelbewus al die prentjies woes skeef te hang om die klakouse grys hare te gee. Dit was egter te veel moeite. My voëltjie doen dit sommer vir my.

Ons besluit dat ek dalk bo teen die muur ‘n kennisgewing moet opsit – iets soos: “Is jy ‘n square, of is jy ‘n kunstenaar?”of “Hang hy reguit of hang hy skeef? Dis die prentjie binne wat leef.” of…Maar nou moet ek prentjies kies vir ons wonderlike kunsuitstalling.

Hier is ‘n paar.

003

kersfees 001

matriek uitnodiging 2018-03-14 001

Hier is ‘n paar. Bo is n bestelling wat my ma, Annie van Graan, gemaak het vir n vrou wat rooi rose wou hê. My ma het gevoel net donkerrooi doen dit nie vir haar nie en het toe verskillende skakerings rooi rose gemaak. Die vrou was nie beïndruk nie, maar ons was! Toe koop my man dit.

In die middel is my 5 minute prentjie wat d hele wereld seker al nou gesien het. Ek het hom vinnig A5 grootte geverf vir my eerste kersfees as blogger, en in n vlaag van ” aan d kant maak- get rid of clutter” my oorspronklike prentjie wat hier rondgelê het, weggegooi. Die volgende jr het ‘n bekende SA tydskrif d prentjie vd internet af gegaps en gepubliseer sonder om my erkenning te gee. Toe ontdek ek dat die prentjie ongeveer 2 jr lank heel eerste op die lys is as jy ” mooi kersfeesprentjies” tik. Nou is dit nie meer eerste nie,, maar steeds taamlik bo.

Die derde prentjie is ook een van my 5 min prentjies van ons rowwe strandhuisie, Rus ‘n Bietjie. Ek het dit geverf vir die uitnodigingskaartjie van ons matriekreünie. Dis nie wonderlik nie, maar die huisie is! En ek is mal oor daardie ou huisie!

Maar wag, hier is nog ‘n paar:

Hieronder is die prentjie, nee prent, wat ek in opdrag van my jongste geverf het vir haar troue. Dit is 4m by 6 m en die voorste geboue is lewensgrootte. Ongelukkg is die sye van die foto weerskante afgesny.

IMG-20190903-WA0005.jpg

Die volgende prentjie is met bordkryt geteken op ‘n volle sheet hardboard wat met swartbordverf geverf was, en teen die buitemuur van ons destydse restourant gemonteer was. Ek moes op ‘n tafel staan om by te kom en dit was ‘n advertensie vir ‘n motorfiets byeenkoms wat by ons sou kom ontbyt eet. Ek was self verbaas dat die fiets darem soos een gelyk het.

In wind en weer het ek gereeld op daardie tafel gaan staan en teken. Daar is iets spesiaals aan die verganklikheid van bordkrytprente. Eenkeer het ek ( vir my nogal ‘n baie mooi ) landskap gemaak van die landerye met die ronde bale wat so lê, om die einde van die oes te gedenk. Net voor ek klaar was, het die eerste druppels begin val. ‘n Halfuur later was my prentjie afgereën en niemand het dit gesien nie, behalwe my man se broer, wat gelukkig ‘n foto daarvan geneem het.

IMG-20190903-WA0009.jpg

As ek nou net in die dag daaraan kan dink, plaas ek nog prentjies- van my skewe prente en my kinders se skilderytjies ens. Ek sal darie kunsuitstalling sommer alleen alleen volmaak!”

Posted in feeverhale en ander stories, goue vroue, Kersfees, Los opdrifsels, rebusfontein, perfect day, vriende, nostalgie, rhebusfontein | 50 Kommentaar

I believe I can fly 8.

Is dit nodig dat ek nog ietsie sê oor die hartseer lot van papagaaie in gevangeneskap in mense se huise, opgesluit in klein hokkies met geknipte vlerke?

https://animalogic.ca/blog/parrots-are-not-pets

28 Kommentaar

Of wat van hierdie? Ons oefen vir Rhebuskloof sirkuskonsert

Ek weet nie. Ons twist dat di3 beenhare bewe, maar is dit genoeg vir n sirkus? Ek het nog n bietjie gaan grawe:

Hierdie pas mooi by Una se beenhare.

Maar ek dink vir n mooi vertoning is hierdie dalk die ding:

Wat sê julle? Hoe ookal, wikkel daardie boudjies, want ons ga dans dat die dak lig!

8 Kommentaar