Liewe Kinders en ook ander mammas van babatjies
Ai, ek het nou darem so lekker by die tweelingetjie gekuier. Leanie, jy het sommer vir my ook iets belangriks oor babas en verkoue geleer, wat ek nou hier in my bababoek wil skryf vir ander mammas.
‘n Klein babatjie kry sy immuniteit van sy mamma af, maar op ‘n stadium is dit uitgewerk en dan is hy vatbaar vir allerhande siektes, waarvan verkoue seker die mees algemene siekte is.
Ek het reeds gesê dat ‘n mens vir ‘n babatjie nooit slymopdroogmiddel moet gee nie. Dit veroorsaak oa oorprobleme en jy sit op die ou einde met groter probleme as wat jy gehad het. Spoel gereeld sy neusie met soutoplossing deur dit met ‘n druppertjie in te drup. Jy kan klaargemaakte oplossing by die apteek koop., of jou eie maak deur 1 liter afgekoelde water te neem en daarin 1 telepel sout en 1 telepel koeksoda te gooi. Let tog op dat dit ‘n baie flou oplossing is wat jy skaars kan proe. Die idee is nie om die neus slymvlies te brand nie, maar net baie liggies te ontsmet om sekondere infeksies te voorkom en die slym sag te maak sodat dit makliker uitkom.
‘n Mens gee ALTYD slymlosmaakmiddels, NIE opdroogmiddels nie.
Die probleem is dat die ou slympies loop en soms maak dat die babatjie onrustig drink of slaap omdat sy neusie toe is. Solank die slym helderkleurig is en die kindjie maklik asemhaal, hoef jy nie bekommerd te wees nie, dis bloot ongemaklik. Toortsie noem ook hieronder dat dit help om die outjie op sy sy te laat le, ipv rug, omdat hy dan makliker asemhaal en minder hoes agv slym. Verder help dit om die koppenent van die bed effens te lig deur bv iets onder die pote van die cot in te sit, of ‘n kussing ONDER die boonste deel van die matras, sodat die kop hoër as die res van die lyfie is.( let asb op, babas mag NIE op kussings slaap nie, die gevaar van versmoring is te hoog). As die kop hoër as die res van die liggaam is deur die matras so te lig, haal die babatjie ook makliker asem.
Maar hoe gemaak met al die oortollige slym? Babatjies weet mos niks van blaas af nie?
Nou die dag het Goggabyt, nog ‘n blogger, juis geskryf oor haar klein seuntjie se verkoue. Sy het sy neusie skoongemaak deur ‘n dingetjie wat die slym uitsuig, ‘n nose frida, te gebruik. Dis ‘n handige apparaatjie. Maar in Holland het julle mos nog ‘n beter plan!
Daardie suigdingetjie is mos hard en die babatjie lê mos nou ook nie stil nie, ‘n Mens is mos bang jy maak hom dalk seer. Maar toe leer jy my iets wat ons nie in ons dae gedoen het nie, Leanie, en ek vra myself af: hoekom nie? Was ons nog meer vasgevang in die ou reels van die stiff upper lip en die oordadige “beskaafdheid” van daardie tyd? Vandag doen al die Hollandse mammas dit.
Mammas, en ander wat hier lees, die oplossing is heel eenvoudig: Sit jou mond oor jou babatjie se neusie en suig die snotjies uit!
Babatjie lê mooi stil in sy mamma se arms, haar mond is sag en kan hom nie seermaak nie, en siedaar, die neus is skoon! Die slym spoeg jy eenvoudig in die wasbak uit, en Leanie, jy verseker my dat dit nie grillerig is nie. Ek glo dit. As mens doek kan ruil, is hierdie sommer niks, en jy help jou babatjie op die natuurlikste manier denkbaar.
Is ek agter die tyd? Is daar Suid Afrikaanse mammas wat hulle babas se neusies so oopmaak? Of wat dit destyds gedoen het? Ek sal graag wil hoor!
Ten slotte wil ek net se dat groen slym dui op moontlike sekondere infeksie. As jou babatjie kriewelrig is en die slympies nie gesond en helder lyk nie, of as hy swaar asemhaal, neem hom dadelik dokter toe. Stoom werk baie goed in hierdie gevalle en as jy enigsinds kroeperighied vermoed, stoom!
Nouja, verkoue gaan hulle kry en dis ook nie heeltemal sleg nie. Verkoue is die relatief skadelose siekte wat babatjies se lyfies leer om weerstand op te bou . Hulle het hierdie weerstand nodig om ernstiger siektes te beveg. ons as ouers moet maar net sorg dat die verkoue skadeloos bly!
En op hierdie effe glibberige noot, sê ek nag en lekker slaap.
Baie liefde
Mamma
Om die volgende brief te lees, klik hier.
My stiefskoonma het haar kinders se oë so uitgelek as daar iets in was toe hulle klein was. Ek moet sê, dis bietjie dierlik vir my smaak. Maar to each his own, né!
Ek weet nie of ek ooit die moed gehad sou gehad het om die uitsuig-ding te doen nie! Gelukkig kan myne darem al self hulle neuse blaas en hoef ek nie meer daaroor te dink nie! 🙂
Ek moet bieg, ek het nooit aan so ‘n moontlikheid gedink toe my kinders klein was nie, maar ‘n mens is nooit te oud om te leer nie. Gelukkig is dit die ma se werk, nie die ouma s’n nie!
Nee o jinnetjie tog!
Ja, sowaar! Almal in Holland doen dit!
Ek is lief vir my seuntjie maar is nog nie dit voorgestel nie. Ook maar gelukkig my outjie mind nie so baie die suigpypie nie
Ek was ook eers geskok, maar toe ek mooi daaroor dink, maak dit baie sin. My dogter se dis glad nie grillerig nie, sy voel sy help haar kind en sien ook hoe hy daarna makliker asemhaal.
Ek is maar dankbaar daardie kennis het ons nog nie bereik toe my kinders klein was nie!! 😉 Die dokter het destyds vir my gesê dat ek die kinders op hulle sye moet laat lê, met ‘n kussing onder die dramandjie sodat die koppie effens hoër as die lyfie is. Dan haal kleinding deur die “boonste” neusgat asem, terwyl die slym deur die “onderste” neusgat uitloop.
Ag, dankie dat jy dit noem, Toortsie, skoon vergeet om dit in te sit- as jy my vewrskoon, gaan ek dit gou byvoeg. Wat jy noem, werk natuurlik vir grootmense ook. ‘n mens hoes minder en haal beter asem op jou sy..
Natuurlik kan jy!
Het toe bygesit. Kyk maar of dit reg is. Dankie Toorts!
Haha, ek het dit gedoen toe die twincessies nog newborn was! Ek kon eendag net op geen manier Bekkie se neus oopkry nie en toe dink ek maar ek kan hom mos oopsuig! Nooit kon dink daar is mense wat dit actually doen en oorvertel nie!
Nou tot nou – Good for you! Toe vind jy dit sommer self uit! Ek wonder of daar nog Suid Afrikaanse mammas is wat dit doen? as julle weet, laat weet asb.
Terug pieng: Ouma se bababoek . Brief 10. Babas en dokters | Seegogga se Bloggie
Terug pieng: Ouma se bababoek brief 15 :’n Spesiale slaapliedjie | Seegogga se Bloggie
Nee kyk… gelukkig kan oupa weg neuk as die kleinkinders snotsiekte het! 😉