SUIDERNUUS en ek.

ek en suidernuus 00130 Jaar gelede het ek as  voortvarende groentjie by SUIDERNUUS ingestap. Ons het sopas van Pretoria af hierheen getrek, en ek het gedink dat ek dalk ‘n vryskut verslaggewer kan word.

Jannie Marais, destyds eienaar en redakteur, het, gaaf soos hy is, ingestem dat ek maar kan probeer skryf.  Ek sou selfs ‘n betaling kry: 40c per kolom sentimeter, R5 vir elke geplaaste foto en ‘n gratis klein advertensietjie (small) in elke koerant!  So het my liefde vir SUIDERNUUS begin. In die  meer as   7 jaar wat ek by SUIDERNUUS gewerk het, het ek nooit ‘n verhoging gekry nie!

Tannie Magda Bellingham was destyds die hoofverslaggewer, en het beslis gefrons oor hierdie groentjie. Tog het sy my onder haar vlerk geneem en mooi die moets en moenies vir my geleer. Sy het ook vir my die ingewikkelde werking van die ou swart en wit kamera gewys waarmee die persfoto’s geneem moes word.

Nicolene ( destyds Otto) het baie geduldig altyd my artikels getik, want my tikwerk was pateties. Ongelukkig was my skrif nog erger, en  daar het dikwels foutjies ingesluip omdat niemand my skrif kon uitmaak nie.

Destyds moes Jannie nog die bladuitleg met die hand doen, met ‘n ligtafel en die oulikste masjientjie wat die papier aan die agterkant met warm was smeer, sodat dit mooi vassit waar jy dit wil hê, maar ook sodat jy dit maklik kan losmaak en skuif. Ek glo dat dit vandag met die rekenaar soveel makliker is.

Gewapen met die kennis wat ek in ‘n tweedehandse joernalistiekboekie opgedoen het, het ek die onbekende wêreld van die koerantwese aangedurf. Hoe weet mens van alles wat gebeur? het ek gewonder.

Ek was heel verbaas om uit te vind dat die koerant meestal nie na die nuus toe gaan nie, maar dat die nuus sommer na die koerant toe kom. Ons hulpvaardige lesers het gebel as daar enigiets van belang was om oor te skryf. Ek voel nou nog baie sleg omdat iemand eenkeer gebel het oor haar pragtige uitermate groot daisiebos, oortrek van die daisies. Ek wou regtig baie graag ‘n foto gaan neem, maar daar was letterlik regtig vir my geen tyd nie,  die kamera was buite werking en so het ek‘n goeie R5 en ‘n pragtige foto gemis.  As u dalk hier lees, dame, vergewe my asseblief.

Suidernuus het destyds ‘n streng reël gehad dat dit ‘n kontreikoerant is met interessante en positiewe nuus oor die omgewing. Slegte dinge soos bv kindermolestering,  ernstige misdaad, ens. is gelaat vir die Burger. Destyds, op ‘n klein dorpie, waar almal familie is van almal, was dit waarskynlik die beste opsie. Buitendien was daar baie goeie nuus!

Dit was in die beginjare van Krygkor en die Lugmag hier. Dit was ook in die jare wat die naam Overberg nog gevestig moes word, en by elke groot vergadering het dr Pierre Rabie die grense van die Overberg verduidelik. Ons het ook almal baie hard probeer om vir die res van die wêreld te laat weet dat die Suidpunt van Afrika by Kaap Agulhas is en nie by Kaappunt nie, asook dat hier ook ‘n lieflike stukkie see is. Stephen Brown en Lydia het Struisbaai toe gekom, en Struisbaai motel het verander in ‘n hotel. Die skuur het ontstaan, toe die Kerksaal en Siebies. Ek glo met die jare het Struisbaai, Agulhas en Waenhuiskrans wel bekend, gewild en geliefd geraak

Ek  het ook eenkeer ‘n onderhoud gevoer met die jong, mooi Steve Hofmeyer wat by die landbouskou kom sing het. Ons het in die ou landbousaal saam middagete geëet en Steve het, behalwe sy eie, ook  my frikadelle letterlik uit my bord uit geëet, en verklaar dat die landboutannies se frikadelle die lekkerste is wat hy nog ooit geëet het.

.Een van die intressante goed waaroor ek moes skryf, was die bou van die hawemuur op Struisbaai. Ek was baie bekommerd oor hierdie ingryping in die natuur, maar die ingenieur het al my bekommernisse afgelag. Dit het toe tog later geblyk dat so ‘n muur ernstige probleme kan veroorsaak en dat ek nie heeltemal verkeerd was nie.

Ek en my man was nog aan’t huis soek op Bredasdorp en een huis het my aandag getrek, maar ons het nog getwyfel. Nicolene het my gerusgestel – dit was hulle huis! Ons het gekoop en woon nou al 30 jr lekker in hierdie heerlike huis.  Nog ‘n voordeel was die klein advertensietjie wat ek aanvanklik nie gebruik het nie. Toe my dogtertjie egter vir my vra om ‘n roomyskoek te maak wat soos ‘n kat lyk, en ek dit regkry, het ek vir die grap ‘n advertensietjie geplaas dat ek roomyskoeke kan maak. En so word ek toe Bredasdorp se roomyskoektannie.

Dit was vir my heerlike jare by SUIDERNUUS, waar ek die ou Bredasdorpers en my ouers se vriende weer leer ken het, asook die nuwe Bredasdorpers, al die pad van Transvaal af. Ek het by SUIDERNUUS geleer dat ons mense van hier uitsonderlik is en as hulle iets doen, doen hulle dit uitstekend. Ek het wonderlike leiding van Jannie en Nicolene gekry en ek en Jannie en Alta is vandag nog goeie vriende.

Vandag behoort Suidernuus aan Louis Koen, alles is rekenaar gemeganiseerd en hier is ek sowaar weer by die splinteruwe aanlyn koerant.

SUIDERNUUS het diep spore in my lewe getrap en ek glo ook in die lewe van baie Overbergers hier aan die Suidpunt.  Lank lewe SUIDERNUUS!

 

 

 

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in Los opdrifsels, Overberg and tagged , , , . Bookmark the permalink.

18 Responses to SUIDERNUUS en ek.

  1. Baie interessant! Ek geniet plaaslike koerante, hulle vertel van die lewe op daardie plek.

  2. Dis lekker om so naby die middelpunt van jou gemeenskap te leef en een van die eerstes te wees wat die nuus kry!

  3. Toortsie sê:

    Van my klasmaats op skool het nog vir jare later ingeteken op die Suidernuus.

  4. Die Suidpunt van Afrika is by Kaappunt 🙂 🙂
    Lekker gelees aan jou Suidernuus. Dit herinner my aan die keer toe ek die voorblad van die koerant uit Una se wereld die Kormorant nuutgeskep het met adverstensies en al… https://abriejoubert.wordpress.com/2018/09/19/ek-is-wesenlik-getraumatiseer/
    Naaste wat ek aan verslaggewer gekom het

    • seegogga sê:

      Ja sowaar! Abrie daar is mense wat steeds so dink en wat ook glo fie 2 oseane ontmoet daat ipv by zzkssp Agulhas, daarom di foutiewe 2oseane marathon, die 2 oceans akwarium ens
      10 uit 20 vir jou voorblad!

  5. seegogga sê:

    Ek bedoel 10 uit 10

  6. woordnoot sê:

    Ag dis lekker om sulke positiewe goed te lees. Ons kontreikoerant is amper soos die Son….vertel net van al die slegte goed.

  7. Nou sal ek met respekte na Suidernuus kyk as ons in daai omgewing kuier, wat ons nogal graag doen.

  8. seegogga sê:

    Liewies Suidernuus is nou n aanlynkoerant agv grendeltyd. https://www.suidernuus.com/22-may-2020

  9. Dit was sommer nou lekker lees, ek sien die hawe voor my oë.

  10. Ek het nou al te lekker gekuier dankie!

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s