Liewe Leanie, Annika en Lienkie 
Kom ons kom ‘n bietjie terug na die fisiese verhouding tussen man en vrou. As twee mense lief is vir mekaar, onwikkel die fisiese verhouding spontaan. Kom ons veronderstel julle het vir julle ma geluister en die ou bietjie teruggehou( en ook julleself) en stadig gegaan met die fisiese verhouding.
Soos julle verhouding groei, so sal julle fisiese verhouding groei en die behoefte na mekaar groter. Naderhand is soen net nie meer genoeg nie!( LW, Lienkie, jy is nog baie jonk. Daar le nog baie jare voor voordat jy kan dink aan trou. Op jou ouderdom is drukkies, soentjies en lekker lang omhelsings genoeg! Moenie verder gaan nie, spaar uit vir later!)
Julle sal begin wens die ou wil ‘n bietjie verder gaan. Hy wil natuurlik lankal verder gaan en sal altyd probeer, maar nou sal jy hom toelaat. Onthou tog stadig op die trappies!
Tog, jy sal ‘n verandering in jou lyf bemerk. Soos hy al lankal die drang tot seksuele omgang het, sal jy ook begin om baie opgewonde te raak. Jy sal vind dat jou bekkenvloerspiere sterk saamtrek om jou gereed te maak. Onthou egter dat jy graag wil wag tot jy getroud is.
Ek glo regtig dat kondome nie die antwoord is nie. Navorsing het ook nou bewys dat al die VIGS-voorkomingsprogramme totaal onsuksesvol was. Hierdie programme verkondig almal dat mens tog net asseblief ‘n kondoom moet gebruik, en het oral in die badkamers gratis kondome neergesit. Wel, ek glo nie daaraan nie.
Eerstens is kondome nie 100% veilig nie – en ons familie is SUPER vrugbaar( vgl. Julle oumagrootjie se 11 kinders, almal met kinders, en hulle kinders ook weer almal met kinders. Net een onbesonne misstap is genoeg om jou hele lewe te verander.
Onthou ook die hoofdoel van die seksdaad, naamlik voortplanting. Ons glo dat God wil he dit moet BINNE die huwelik gebeur. As dit nie so was nie, sou ons nie emosionele verbintenisse ( liefde!) gehad het nie, en sou seks nie iets gewees het wat ons so geweldig emosioneel geraak het nie.
Soos dit nou is, raak ‘n mens lief vir iemand en geheg aan hom en wil by hom bly. Ek glo dit is so sodat die ou babatjie wat gebore word, ‘n pa en ‘n ma kan he. Hy het albei ouers nodig om ‘n gebalanseerde volwassene te word.
Die Bybel se ook dat die man en vrou ” een vlees” word en dat dit wat God saamgevoeg het, geen mens mag skei nie. Die huwelik is die wettigmaking van hierdie verbintenis. Dit is die kroon op julle emosionele sowel as julle fisiese verhouding.. Wag dus tot jy getroud is. Moenie hierdie grootse avontuur bederf nie.
Dis makliker gese as gedoen as ‘n mens lank uitgaan. Leanie en Anika, dit kan regtig moeilik raak en later kan ‘n mens dalk voel, ag waarom nie, ons gaan tog trou?
Moenie! Hou uit, wag! Jy wil nie graag die res van jou lewe teleurgesteld in jouself wees nie. Jy wil ook graag eendag jou eie kinders met eerlikheid reg kan leer.
Dit is baie gevra, maar julle is kosbaar. Julle sal nooit spyt wees dat julle gewag het nie, glo my.
Lekker slaap en baie liefde.
Ma


























Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.