Vandag nog moet ek skryf oor water. Daar is nog 33 minute oor voor die dag om is. Ek besef ook weldeeglik dat ek nie Herriemerrie en julle ander se wonderlike skrywe oor water sal kan oortref nie.
So wat kan ek se na al julle mooi skrywes? Miskien moet ek vertel van die dag toe daardie groot stad, Johannesburg, se water opgeraak het.
Ek het mos daar gewoon, eendag, lank gelede, in ou Johies. (Dit was lekker dae, toe ons nog snags so 2vm by Fontana in Hillbrow gaan hoender koop het as ons honger was, maar dis nie waaroor die storie gaan nie.)
Dis 1982, die begin van die grootste droogte sedert 1933, maar ons weet nog niks daarvan nie. Dis warm. Onuitstaanbaar. My eersteling babatjie is so 4 maande oud en daardie middag tap ek vir ons ‘n heerlike bad koel water waarin ek en sy salig speel en lekker ‘bond’. Toe manlief net daarna tuiskom, is ons afgekoel en verfris.
Nie lank daarna nie, tap ek water- seker om kos te maak of iets-geen water nie! Nie ‘n druppel nie! Ons gaan al die krane na- niks! Probeer die geyser- dis mos ‘n opgaartenk- byna niks.
Die mense van Johannesburg het seker almal dieselfde idee as ek gehad en toe raak die watertoring leeg, maar ook die opgaarplek wat hom voed raak onklaar. Ons het vir meer as ‘n week sonder water gesit- ja, in daardie groot moderne stad, Johannesburg. Elke dag het die weermaglorries met opgaartenks gekom en dan moes ons met emmers die vuil rivierwater by hulle gaan tap. Elke huis kon een emmer kry. Ons is gewaarsku dat ons eers die water moes kook voor gebruik.
Dit was ook die dae voordat weggooidoeke algemene gebruik was. Hoe was jy ‘n doek sonder water? Kan jy glo dat dit in Johannesburg kon gebeur? En dit was nie eers oorlog nie!
Maar nou woon ek by die grootste en mooiste water op aarde. ‘n Plek van sielerus.
Die foto hierbo is van Struisbaai Hawe, Parrie se huis. Die foto hieronder het ek ook self geneem. Die walvis, die grootste van alle soogdiere, is ook die saggeaardste, lyk dit my. Ons bootjie, ‘n rubberduck wat 7 passassiers op ‘n slag kon vat, het ver van van hom af gestop toe ons hom raaksien. Hy het ons vermaak met toertjies met sy reusagtige stert en toe het hy nader geswem en ons bekyk. En toe – swem hy onder ons bootjie deur! Watter wonderlike ervaring – hier in my waters. Ek is mos ‘n seegogga, onthou!
Ek sal my voortande gee vir so ‘n walvis foto.
Deesdae as daar nie water in die kraan is nie, word die munisipaliteit blameer. Ek neem aan gebottelde water was nie juis ‘n opsie in 1982 nie. Dit moes regtig erg gewees het.
Wel, dit was nie net die droogte nie, daar het iets gebreek ook, dis die dat daar ‘n week lank nie water was nie. Ek kan glad nie onthou of daar in 1982 gebottelde water was nie.- miskien daardie duur water wat uit Frankryk ingevoer was……
Jip, daai waterprobleme gebeur maar nou nog! Gelukkig darem gewoonlik nie vir ‘n hele week nie.
Sjoe, ek dog hulle het al opgradeer. Dis dan so ‘n moderne stad.