Ma se seksboek. Brief 12: Om te vry

Liewe Kinders

Kom ons gesels vannaand ‘n bietjie meer oor “vry”. In my tyd  het ons definitief nooi ge’vry’ nie. Dit was platvloers!  Ons het opgesit, gekafoefel, gekoeksister of wat ookal. Maar nouja, eintlik is vry ‘n goeie baie outydse Afrikaanse woord. En dis lekker!

Die probleem is dat ouens hou van ‘n lekker vrytjie, sonder noodwendige emosionele verbintenis. Meisies wil weer he die ou moet van hulle hou. Sommige meisies verkeer onder die waan dat die ouens meer van hulle sal hou as hulle hulle toelaat om te vry. Geensins! Die ou sal vat wat hy kan kry, ja. Hy sal dalk selfs ‘n bietjie met die meisie uitgaan – om te kry wat hy wil.  Maar die meisie vir wie hy regtig lief raak, is ook een vir wie hy respekteer.

           ‘n Man gee liefde om seks te kry,

          ‘n Vrou gee seks om liefde te kry.

Ongelukkig  is dit waar in baie gevalle.  En die meisie besef nie dat die ou wat rerig vir haar lief is, vir haar lief sou geword het sonder die vry ook nie, of selfs dalk juis omdat sy nie so maklik ingee nie ( die ewige jagter).

Die ander probleem is druk – van jou ouderdomsgroep, van die media – die pers en TV, en van die ou self.  Aangesien baie tieners baie losse sedes het en sommer vroeg-vroeg baie ernstig vry of saam slaap, kan ‘n mens maklik voel dat jy agter die tyd is, outyds of koekerig. Op die TV ontmoet die paartjie mos mekaar, soen en dan waai die klere en volg ‘n stomende ( pornografiese?) bedtoneel. Aangesien ons almal dit so baie sien ( is daar nog ‘n fliek sonder so ‘n buite-egtelike bedtoneel?), kan ons maklik begin dink dat dit maar so moet wees.

Voeg nou hierby ‘n man met normale sterk drange.  Jy voel dalk dat jy iets moet toelaat omdat dit algemeen is – almal doen dit.  Die vraag is of jy regtig gereed is daarvoor- en ons praat nie van ouderdom nie.

‘n Mens is eers gereed vir die volgende trappie as jy regtig smag daarna en al ‘n hele ruk lank wens die ou wil nou dit of dat doen. Voor jy so voel, moet jy hom terughou.

As jy iets toelaat voor jy emosioneel en fisiek daarvoor  gereed is, geniet jy dit in elk geval nie soos dit geniet behoort te word nie, en nog meer: jy doen jouself skade aan.

En na so ‘n eerste soen is ‘n meisie eenvoudig nog nie gereed vir ‘n warm vryery of seks nie, al wys hoeveel flieks dit.  Onhou, flieks is meestal deur mans gemaak ( wat nie wil weet dat meisies in trappies werk nie) en wat boonop weet dat hulle iets moet doen sodat mans ook na die fliek kyk, en dat so ‘n warm sekstoneel geld inbring.

Die oomblik dat jy oor iets skuldig voel, of ongemaklik, moet jy weet: jy het verder gegaan as waarvoor jy gereed was.

Waarom sou ‘n mens dan tog skuldig voel? Goed, ons glo ons moet wag tot ons getroud is voor ons seks het ( liefde maak, saam slaap ens). Wat voorafgaan is tog toelaatbaar? Die enigste rede waarom jy skuldig voel, is omdat jy nie emosioneel reg was nie. Jy voel dalk nie lief genoeg vir die ou nie, onseker oor jouself of oor sy gevoelens, jy voel dalk skaam of jy voel dalk nie sexy genoeg nie.

Los en vat jou tyd! En hy moet geduldig wees. As hy nie is nie, is dit ‘n groot waarskuwingsteken. Is dit die regte ou vir jou?

Lekker slaap en baie liefde.

Ma

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in Ma se seksboek. Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar