Die juffrou deel 7

Die mens wik, maar God beskik en dis eers later, met die terugblik, dat ‘n mens soms God se doel insien. En ja, ook soms sal jy dit nooit weet nie.

Die juffrou se werk het vereis dat sy honneurs moet hê, en sy, moeg van studies deur UNISA,  het besluit om dit voltyds te gaan doen- verkieslik op Wits, daardie hoogsaangeskrewe universiteit, of op Stellenbosch, die droomdorp, en naby haar ouers.

Wits wou haar nie aanvaar nie, en die juffrou is as’t ware gedwing om John agter te laat in die bose stad. En omdat John agv sy druip nie verder in die koshuis kon bly nie, het hy die juffrou se woonstel vir die jaar gehuur. Dit het dus alles goed uitgewerk. Dis net: Waarom het niemand, nie eers sy self, besef dat John te siek was om enigsinds te studeer nie? Waarom het sy ouers later daardie jaar teruggetrek Engeland toe en hom nie saamgeneem nie?

John is alleen gelaat sonder sy ouers of haar en sy gedrag was van so ‘n aard dat selfs die juffrou by tye gevoel het dat hy uit haar lewe moet uit. Maar sy kon nooit die deur toemaak nie, want erens was die ware John tog nog aan’t sukkel om te oorleef.

In Stellenbosch het sy, broos en gekneus, versigtig haar pad gevoel, oortuig dat sy as ouer student, ‘n verleentheid sou wees vir haar jonger nefie en sy vriende, wat toe daar besig was om te studeer, en ongeveer so oud soos John. Sy was verbaas as hulle haar saamnooi vir ete. Is hulle nie skaam om saam met haar gesien te word nie? Sy was  verbaas as van die ander studente haar raad kom vra het en selfs sover gegaan het om haar geselskap op te soek. Vir haar?

Gaandeweg het die die juffrou weer haar selfbeeld teruggekry, weer begin lag , die ongelooflike vryheid van student wees begin geniet. Sy het die feesjaar met albei arms aangegryp en heeljaar lank gehuppel.

Hier, jare later, dink sy steeds dat dit die lekkerste jaar van haar lewe was, en tog, hoe ironies, die lekkerste jaar van haar lewe, was die jaar weg van die grootste liefde in haar lewe: John.

Die juffrou het haar feesjaar voltooi en is terug na die leë stad toe. ‘n Stad sonder John. Ja, ook hy is uiteindelik terug Engeland toe. Sy het besef dat sy haar nooit weer so moet blootstel dat ander haar selfwaarde steel nie, en tog kon sy vir John nie kwaad wees nie. Sy het geweet hy is nog nie volwasse nie, en sy het ook geweet dat hy ernstig siek was.

Dit tref haar nou eers, soveel jare later, dat sy dalk deel van sy probleem was. John moes die groepsdruk (en dalk spot?) van sy studentevriende verduur oor sy verbintenis met die juffrou, asook waarskynlik die waarskuwings van sy pa. Hy het altyd teen sy gevoelens vir haar  gestry.

In ‘n tyd toe oorsese oproepe ongelooflik duur en skaars was, het John saans begin bel en ure op die foon met haar gesels. Hy het werk in ‘n laboratorium gekry, hy voel beter, en glo hy is besig om gesond te word. Dit was vir haar heerlik om sy stem te hoor, en ook sy verlange, al het hy dit nooit hardop gesê nie. “John”, het sy in haar dagboek geskryf, ” wanneer gaan jy ooit aan jouself erken dat jy vir my lief is?”

In 3 van sy briewe het hy haar Engeland toe genooi. Dit het haar hart gebreek,  maar die juffrou het nie gegaan nie.

En soos dit gaan in die lewe, het ander liefdes haar pad gekruis. Die juffrou het uiteindelik getrou. In die dae voor internet en e-mailadresse, het hulle kontak verloor agv trek en min kommunikasie. ( Die juffrou se nuwe man sou nie hou van oproepe uit Engeland nie)

Sy was besig met haar eie lewe: die voltydse taak van die huwelik en die grootmaak van 3 pragtige kindertjies.

Maar somtyds, op die onverwagste tye, het sy gedroom. En dan het sy wakker geword en gewonder hoe dit met hom gaan: John.

klik hier vir opvolg

Posted in Vertelling: Die Juffrou en John | 7 Kommentaar

200 LIKES

 Ha! 200 likes!!! ( in 210 posts)

Baie baie dankie aan julle  almal wat my bloggie lees! So ‘n onverwagte stats notatjie  laat ‘n mens nogal heel lekker voel. ‘n Mens skryf nie vir die’likes’ nie, maar dit is tog lekker as ‘n mense weet iemand geniet dit.

Geniet julle dag ook en lekker skryf!

Posted in Los opdrifsels | 6 Kommentaar

Om te copy en paste

Nouja, as ‘n mens jou uitgee om te blog, moet jy weet dat jy jouself vir die wêreld wys. En meestal sien hulle baie meer as waarop jy gereken het.

Tog snaaks dat die skrif tussen die lyne dikwels meer sê as die sigbare skrif op die papier ek bedoel eintlik op die blog. So kom ‘n mens soms agter wat ander se teer puntjies is, wat hulle vreugde en wat hulle hartseer, sonder dat hulle dit uitgespel het.

Hierdie naweek het twee goed gebeur. Eers het ek heerlik by Toortsie gaan teedrink, braai en kuier, saam met twee ander bloggers wat van Pretoria af hier kom vakansie hou: Plasie en Krista. Nee, sê hulle, hulle blog nie meer nie, want die rede hoekom hulle begin het, bestaan nou nie meer nie, en dus is daar nie meer rede om te voel dat hulle hulle hart moet uitpraat nie. In ‘n mate impliseer dit: aanvaarding van die self, die lewe met sy vreugde en beperkings. En dit is goed! Dit juis hoekom blog so wonderlik is. ‘n Mens kan skryf en skryf tot jy uitgeskryf is en alles gesê het wat jy wou. Sommige mense kom nooit daar uit nie!

Maar Sondagaand in die bad, gebeur daar toe nog iets. Ek blaai deur die LIG tydskryf wat ek elke maand kry en daar agter , op p110 , om presies te wees, sien ek toe mos my prentjie! Ek dag eers dit kan nie waar wees nie, maar daar is dit, klein, maar in volkleur, die prentjie wat ek verlede jaar vir julle geteken het en op my blog gesit het om almal geseënde Kersfees toe te wens.

‘Oh my word!” Waar het hulle dit gekry? Lees die Lig my blog? Is my prentjie dalk erens anders op die web tot almal se beskikking? En kan enigeen dit dan vat en publiseer? Ek weet nie of Lig nou eintlik heeltemal reg gemaak het nie, maar ek beskou dit nogal as ‘n groot eer, want sekerlik is die web vol Kersfeesprentjies. En kla sal ek ook nie, want ons liewe kerk gee my elke maand die Lig verniet, en ek lees hom van hoek tot kant. Dus kan hulle maar my prentjie met liefde gebruik en dis nou sommer my manier van betaal. Dis net: moet ‘n mense nie iewers vir iemand vra voor jy sy oorspronklike prentjies gebruik nie?

Ek is lus en bel Lig en bied aan om volgende jaar se Kerskaartjie te ontwerp. Wie weet: miskien kry ek ‘n pos as illustreerder!

Hier is dit, kyk self en ek belowe dat ek hierdie prentjie uit my kop uit geteken het en nerens van ‘n ander een afgekyk het nie.

Posted in Kersfees, Los opdrifsels | 33 Kommentaar

Aandag mense wat ‘n seevakansie soek! Attention all who needs a sea holiday this season!

Wel liewe Lesers

Hier is jou kans! Vakansie  vanaf 15 Des tot 20 Des ( 5 nagte) en weer vanaf 2 Jan in Rus ‘n Bietjie op Agulhas! Die mense wat Rus ‘n Bietjie bespreek het, het  nou gekanseleer! Daar het nuwe huureders gehhr vanaf 23 Des tot die oggend van 2 Jan, Maar die ander dae is mos nog oop vir u gebruik!.

Lees asseblief hier onder ‘accommodation’ alles wat jy in die hande kan kry oor Rus ‘n Bietjie en dan besluit jy om ‘n onvergeetlike vakansie op die Suidpunt van Afrika te kom beleef.

Koste is op ‘n glyskaal  0-5 mense: R750pd vir die huis.

6 mense: R840

7 mense: R910

8 mense: R1000.

Please check the prices above. Rus ‘n Bietjie in Agulhas had a cancellation and is available from 15 Dec – 7 Jan.  No bookings for less than 10 days at a time please, if Christmas or new year is involved.

This is a wonderful opportunity for those of you who haven’t secured your holiday plans yet.

Vir al die laatslapers, hier is julle kans om lekker by die see te kom vakansie hou!

Email asb na: seegogga@gmail.com vir navrae of besprekings.

Posted in Die Overberg: my wereld., Seestories | Tagged , , , , , , , | 3 Kommentaar

Die Juffrou. Deel 6.

Soms lei die lewe ‘n mens op vreemde paaie en die vriendskap tussen die juffrou en John was so ‘n pad.

Elke mens glo sekerlik dat die liefde tussen hom en sy geliefde uniek is. En sekerlik is dit ook, soos elke mens ook uniek is. Mike, ‘n  Duitse busbestuurder, het egter eenkeer aan haar gesê: ” People? Ze are all ze same. Ze all have ze nose in ze middle”.

Tog dink die juffrou, hier waar sy so terugkyk, dat die vriendskap/liefde van haar  en John uniek was, heel anders as die gewone en daarom is dit vir haar jammer dat hulle hulle so aan konvensies gesteur het.

Toe hulle tog uiteindelik die fyn lyn tussen vriendskap en liefde oorsteek, het dit so reg gevoel.

Maar John het reeds begin siek word, die depressie het meer en meer toegeslaan. Die “answer to a teacher’s dream” het verander in ‘n nagmerrie van alkohol, dagga en uiteindelik ‘n druip in sy derde jaar – hy, haar slimste, haar hardwerkendste oud-leerling, haar goeie vriend, haar geliefde.

Saam het sy en sy ma hulle bekommer en koppe bymekaar gesit en sielkundige hulp gekry, maar John was op sy eie missie – ‘n pad van selfvernietiging. In die proses het hy almal rondom hom weggestoot, seergemaak, net om die volgende oomblik weer in hulle arms te kom troos soek. Hoogs selfsugtig, hoogs onbetroubaar, hoogs onverantwoordelik, het hy deur die lewe geslinger op soek na sin.

Die juffrou het haar huis vir hom oopgemaak, en haar hart was mos al lankal oop en sy glo dat hy by haar ‘n plekkie gehad het om heen te vlug, ‘n veilige plek, waar hy welkom sou wees, dag of nag, in ‘n tyd toe daar nog ‘n verskil tussen die twee was.

Hy het haar oop hart gebruik en sy glo dat hy dit nodig gehad het, maar hy het dit ook vertrap en verwerp soos hy alle ander goeie goed wat na sy kant toe gekom het, vertrap en verwerp het.

In ‘n tyd toe die juffrou self byna nie meer kon staande bly teen sy siekte en negatiewe gedrag nie, het sy op ‘n ou skoolrapport van hom afgekom en al die onderwysers se lofredes gelees, ook haar eie. Kon dit dieselfde persoon wees, hierdie hoogsbegaafde, hardwerkende, verantwoordelike  gewilde,  goedgemanierde fyn opgevoede sensitiewe mens?

Soms het die lig tog deurgeskyn en haar weer moed gegee. Dan het die juffrou met hernude oorgawe vir hom gebid en haar voorgeneem dat hierdie deur moet oopbly, al gebeur wat, selfs al sou hy uiteindelik terug  Engeland toe, selfs al sou sy later trou. Haar deur sou oop bly as hy dit ooit sou nodig kry om te kom – haar beste vriend, haar geliefde, die ander deel van haarself: John.

Vir opvolg, klik hier.

Posted in Vertelling: Die Juffrou en John | 5 Kommentaar

Die taal van statistiek

Vanmiddag in die motor vang my ore mos toe so skrams ‘n paar stukkies statistiek op: Hoogs interessante statistiek vir my Afrikaanse breintjie.

Nouja, die statistiese opnames van 2011 wys toe mos dat Afrikaans steeds die taal is wat die 3de meeste in Suid-Afrika gepraat word. Zulu is eerste, Isi Xhosa tweede, en Afrikaans derde! Dit is  nou ten spyte van die onderdrukking van die taal, asook verengelsingsbeleid wat die afgelope 20 jaar op alle gebiede gevolg word!

Wat verder interessant is, is dat die Engelse taal, wat so deur Stellenbosch en die regering in almal se keelgatte afgedruk word, nie eers een van die 3 algemeenste tale in die land is nie! Ek het reeds voorheen genoem dat Engels eintlik die enigste uitheemse amptelike  taal in Suid Afrika is, en dat dit so jammer is dat die regering dit wil promoveer (is dit nou met’n lang f of ‘n kort v???), in plaas van ‘n inheemse taal.

Promoveer Frankryk, Duitsland of Italië, of enige ander land, Engels bo hulle eie inheemse taal? Nie? So wat se nonsens is dit met ons volksleiers om hulle kennisgewings , advertensies en afkondigings in Engels te gee as dit nie eers onder die 3 algemeenste tale in Suid Afrika tel nie? Gee dit dan maar uit in ZULU! ( en kyk net hoe vinnig gaan ons almal Zulu leer!)

Ag ek hou van Engels, dis ‘n mooi taal en ‘n wereldtaal en daar is nie fout daarmee nie, maar DIT IS NIE ONS LAND SE TAAL NIE!!! Kom ons praat liewer Afrikaans, Zulu of Xhosa. En ja, ek kan ook nie die laaste twee praat nie, tot my skande en armoede,  maar kom ons probeer! Kom ons veg bietjie vir ons eie kultuur . ( en die SAUK kan baie help deur onderskrifte by te sit by die nuus in ‘n Afrika taal – ons sal gou die woorde optel).

Interessant ook is dat my kinders EN AL HULLE SUID-AFRIKAANSE VRIENDE daar in die vreemde Holland net Afrikaans praat met mekaar, maar ook net Afrikaans met hulle kinders. Hollands is tog makliker, almal verstaan dit en die kinders moet dit leer. Alle boeke en koerante en TV is Hollands. Tog verkies hulle Afrikaans- want dis hulle eie.  Kom ons hier in Suid Afrika kies dan ook vir ons eie! Zulu, Xhosa of Afrikaans!

Ek is trots op ons jeug wat deesdae lustig saamsing en dans op Afrikaanse musiek,. Ek kry lekker omdat daar deesdae so baie Afrikaanse sangers, musiekmakers en filmakers is. Ek glo dat daar in die Afrika-tale ook meer bewustheid oor die waarde van hulle eie taal is. Soms is dit goed om koppig te wees!

So kom ons wees trots op ons eie en gee dit voorrang bo ‘n algemene uitheemse taal,( ‘n minderheidstaal in Suid Afrika) en beskerm ook sommmer so ons gepaardgaande tradisies. Ons is immers van Afrika!

Hier teen my muur hang ‘n ou plakkaat wat in die tweede Afrikaanse taalbeweging geskep is, maar wat vir my nou weer ongelooflik relevant is: “Die taal van die veroweraar is  in die mond van die verowerde DIE TAAL VAN SLAWE!”Woorde van gister, tydens tweede taalbeweging, is vandag weer waar. Dis nou die derde taalbeweging

Posted in die tale wat ons praat | 13 Kommentaar

creatures in my garden

Ja, dis steeds lente, alvoel dit meer na winter hier met al die reën( ai toggie, wat van ons kosbare koring, gars en canola?). Maar toe dit nog in die middel van die lente was, hier einde September, het ek weer op ‘n dag in my fynbostuin gestap met die kamera, hierdie keer op soek na die diertjies.

Ek sien een van die reuse slakke, die Skipskopslakke, soos hulle hier bekend staan, en sit ‘n vuurhoutjiedosie by om julle ‘n idee te gee. Die toktokkie is een van my gunsteling goggatjies. Tik- tik-tik vinnig met jou vinger op die grond, en hy tik entoesiasties terug! Hierdie skilpadjie woon hier op die erf en ek sien hom dikwels. Ek is so bang my huurders jaag hom weg of ry bo-oor hom. Ek waarsku hulle altyd!. Die fisante is gereelde besoekers, en die janfredrikkie het vandag besluit om te bad, maar wat soek die kat deesdae altyd hier? En daar teen die trappie, moenie miskyk nie ,loer die koggelmandertjie. Ag, en loer tog ook mooi onder die bossies. Soek en jy sal vind: mejuffrou muis!

Posted in Die Overberg: my wereld., Los opdrifsels, Overberg, Seestories | Tagged , , , , , , , , , , | 15 Kommentaar

Die Juffrou. Deel 5

Twee  jaar nadat sy begin skoolhou het, is die juffrou weg na ‘n ander skool; haar ingenieur is weg, oorsee;  maar die geur van John het gebly.  Sy  verbeel  haar sy kan dit vandag, 40 jaar later, nog steeds onthou –  die geur van hom in daardie ou baadjiejas.

Vakansies het hy, nou in matriek en prefek, steeds kom kuier, en sy by hulle gesin. Dit was sy ma, die lieflike Katie, wat voorgestel het dat hy die juffrou nou maar op haar naam begin noem – sy is mos nie meer sy “miss” nie. Het sy geweet, Katie, van die onuitgesproke toegeneentheid? Sy was ‘n slim vrou. Het sy meer gesien as wat hulle wou?

So het die juffrou geleidelik verander van ‘n “miss” na  Willemien. Sy het vir hom Peter Pan gegee om te lees, en hy vir haar ‘The Hobbit”.  Sy het siek geword, en hy het haar kom ‘opcheer.’ Hy het longontsteking gekry en sy het vir hom in die hospitaal gaan kuier. Hulle het sy klein boetie en sussie (asook die skoonheidskoningin) fliek toe geneem om na ‘n Walt Disney tekenprent te gaan kyk, en hulle twee het dit meer geniet as al die ander, wat nie kon verstaan hoekom hulle so lag nie.

Toe die juffrou twee jaar later Johannesburg toe gaan vir ‘n onderhoud, was dit John (toe op Wits) wat vir haar plek gekry het in ‘n hotelletjie en haar later kom haal het vir ete.

Sy het die werk gekry, blyplek gekry en ook vir  Wouter Kabouter. Maar John was altyd daar. Soms het sy en Wouter vir hom uitgeneem vir ete, soms het hy gebel, soms het hulle twee gaan fliek, tweekeer het hulle na Cliff Richard gaan kyk, en soms is hulle saam kerk toe.

Toe die ingenieur terugkom en hy en Wouter  haar albei gelyk finaal wou opeis,  het  dit  uitgeraak tussen haar en Wouter en  daarna het die ingenieur  toe ook besluit om weer weg te gaan. Haar lewe het gevoel asof die bodem uitgeval het,  maar dit is hý wat enkele oomblikke na die ingenieur se vertrek  aan haar deur kom klop het, asof gestuur: John.

Teen hierdie tyd het die juffrou dit al baie  sterk vermoed: Twee honde baklei oor ‘n been, maar die derde stap daarmee heen.

Dis net, die derde wou  nie die been hê nie.

Hoe diep ookal hulle vriendskap, hulle toegeneentheid, hulle  aangetrokkenheid; in ‘n mate was hulle steeds onderwyser en leerling. Juffrou- skoolkind liefde is net nie iets wat gedoen word nie en ouer meisies en jonger ouens is totaal uit.  In die jare daarna het die juffrou dikwels gewonder waarom hulle albei so eties korrek opgetree het, en waarom dit hulle so gepla het. Die vriendskap was daar, die aantrekkingskrag, die behoefte aan mekaar, die saamverstaan, maar verder het alles, alles verskil. Sy universiteitsvriende en sy pa het geglo dat hulle toegeneentheid nie behoort te wees nie. En selfs hulleself het ook so gedink – diep in hulle agterkoppe.

En dalk behoort dit ook nie te gewees het nie. Sy was tog immers meer as 5 jaar ouer as hy. Maar die hart praat ‘n eie taal, en ten spyte van teenstand, ook van hulleself af, het hulle steeds nader beweeg.

Moeilike akademie, ‘n liefdesteleurstelling van lank gelede, die eensaamheid van immigrant wees in ‘n vreemde land, en wie weet dalk selfs sy skildklier wat in sy latere jare probleme gegee het, het hom depressief gemaak.  Die juffrou was die trooster, die veilige hawe in tye van storms.

En vir haar was daar geen beter plek, geen veiliger hawe nie, as by hom: John.

Vir opvolg, klik hier.

Posted in Vertelling: Die Juffrou en John | 7 Kommentaar

Wat laat my gril?

Toortsie het gevra.

En ek dink. Vroeër jare sou ek vir julle baie goed kon opnoem. Maar na ‘n pa soos myne, wat my geleer seekat, krap,sandmossel, ystervark en ook skilpad eet het en rooiaas sowel as vislewer aan ‘n hoek laat sit het;  ‘n motorongeluk of twee; 3 kindergeboortes;  die grootmaak van 3 kinders asook verskeie honde en katte; en die uithelp in die nagklub tot 4vm met oa dronkies, is daar nie eintlik meer iets wat my gril waaraan ek nou kan dink nie.

Ek dink ek kan dit vat: Alles van snotneuse af tot by die opvee van bloed; die uithelp van slange, muise en spinnekoppe uit die huis uit; die eet van koek met ‘n kwartkoppie sout in  in plaas van ‘n kwart telepel , soos eenkeer deur my kind gebak; en ‘n koek met ‘n eetlepel koeksoda in ipv maizena, soos deur ‘n ander kind gebak. Daar was ook die keer toe ons in ‘n donker kar ‘n nuwe pakkie rosyntjies oopgemaak en geëet het. Dit was nie so lekker soos gewoonlik nie met sulke harderige droë rosyntjies in. Toe ons by die huis kom, sou ons sien dat die pakkie bestaan het uit so 60%gedroogde druiwekorrels sowel as so 40% gedroogde koffiepitjies( ‘n bruin goggatjie wat sekere tye van die jaar in oorvloed hier in die Wes-Kaap is). Nouja, na ‘n aanvanklike gril, en die besef dat dit te laat is om enigiets aan ons saligheid te doen, het ons toe niks oorgekom nie.

Maar daar is tog nog goed wat ek nie kan verdra nie: Die geluid van ‘n graaf wat op sement sleep; mense wat te veel en lelik vloek; kinders wat huil; iemand wat met vuil hande aan my raamplek se monteerborde vat( of aan enigiets, veral kos); wanneer iemand met warm koffie of  tee naby ‘n babatjie kom; en iemand wat probeer beïndruk deur hoogdrawende taal te gebruik. Dis nou waaraan ek so vinnig kan dink.

En dan is daar dalk goed wat ek doen wat ander mense laat gril: ek vergeet soms om my hare te kam; ek gee nie om om met wit sokkies by my skipants  of hande vol bruin houtkleursel winkel toe te gaan nie; en ek MORS: Alles! Dit is oa seker ‘n koördinasie-probleem, maar die kombuis ly aan post-traumatiese skok as ek klaar daarin was; ek kan nie my lewelank heeldag teen stof veg nie, ons moet besef die wereld bestaan uit stof, en daar is belangriker en lekkerder dinge om te doen as om heeldag  ‘n verlore stryd  te stry; Ek sal soms ‘n telepel skoon suiker eet vir die lekker.

briefies, Dirkie, Kameel, en Boer kan gerus vertel wat hulle laat gril!

8 Kommentaar

Die Juffrou. Deel 4

Wat is moreel, eties, en wat is nie? Die juffrou het gedog sy weet. En John het geglo hý weet. En hulle het geglo dat hulle net onderwyseres en leerling was.

Ag, en hulle wás ook net onderwyseres en leerling. Dis net dat die telepatie, die band, die begrip en die aantrekkingskrag al sterker geword het – sodat ander dit waarskynlik kon sien, en daaroor gefrons het, al het hulle dit self nie durf erken nie. Sy was tog immers verlief op haar ingenieur. En hy op die skool se skoonheidskoningin.

Waarom was hulle dan so ingestel op mekaar dat hy geweet het wat sy dink?  Waarom het albei dan geweet dat daar ‘n baie fyn lyn is wat hulle nie durf oorsteek nie? Waarom het hy soms skoolvakansies sy klein boetie en sussie gebring om vir die juffrou te kom kuier? En waarom het hy eenkeer vrylekkers in die bakkie op pad huis toe gesit?

Toe die juffrou saam met die bergklimklub Drakensberge toe gaan, het hy vir haar sy ou grys parka-baadjie geleen om saam te neem.  In die koue berglug het sy die geur van die warm baadjie diep ingeasem. Dit het vir haar so reg geruik. ‘n Lieflike geur. Die geur van John.

Kliek hier om te vervolg.

Posted in Vertelling: Die Juffrou en John | 7 Kommentaar

ons gaan toer

Jippie!!!

Toortsie het my nou mos aangesê om op vakansie te gaan- te gaan toer, saam met drie vriende.  Ek sal mos nooit nee sê nie!

Ek wil so graag Kilimanjaro gaan klim, die Serengeti en die Gorongoza gaan verken, na Heidi se oupa se huisie in die berge gaan, en ook na Peter Pan se Neverland- die land van drome, waar alles is net soos jy dit wil hê.  (ag, en sommer enige ander plek, solank  iemand my net nooi.) O ja, en dan wil ek mos nog altyd met die fiets van Johannesburg na Kaapstad ry.

Daar is twee areas op aarde wat ‘n mens se gedagtes met ontsag, ‘n bietjie vrees en verwondering vul. Rusland, en Afrika. Geen ander land of area in die wereld skep hierdie gevoel nie. En van die twee, is AFRIKA die absolute towerwoord.

AFRIKA. donker, gevaar, avontuur, oerwoud, wildernis, olifante, safari, natuur, onvergeetlike ervarings, wonder……wat kan ek nog sê? Geen ander plek kom daar naby nie.

Vir Kilimanjaro vat ek mos vir Nataniël saam, en Toortsie en Xena. Nataniël, want as hy dit kon maak, sal ek dit dalk ook regkry,en hy gaan my mos laat lag, en die Toorts vir inspirasie.  Xena sal vir ons al die feite omtrent die omgewing kan gee asook baie stof tot nadenke oor die toestande in Afrika.

Vir die res van die Afrika-belewenis, wil ek graag my 3 dogters en man ook saamneem. Ons het altyd so lekker in die Krugerwildtuin saamgery, en hulle skerp ogies mis nie ‘n dier nie. Die oudste sal ook sorg dat ons alreeds voor 6vm gestewel en gespoor in die landrover sit!

Vir die fietstoer, neem ek my goeie nefie. Hy is die enigste een wat ek al ontmoet het, wat dit ook graag wil doen. En dit kan nie te moeilik wees nie, dis mos afdraand! Ons sal darem lekker gesels tewyl ons so trap. Die enigste probleem is: hy trap vinnig en ek stadig!

Ek het jare gelede al probeer om na Heidi se oupahuisie in die berge te gaan, en was halfpad oppad daarheen, maar onverwagse sneeu, en my toermaat se sware tas (wat ek heeltyd moes help dra), en die feit dat sy nie dieselfde begeerte as ek gehad het nie, het gemaak dat ek toe nooit daar uitgekom het nie. Maar ai, Heidi is al die jare, tot vandag toe nog, een van die mooiste stories wat ek ooit gelees het en een van my gunsteling boeke wat ek nog vir my kleinkinders gaan lees, dus wil ek nog al die jare graag gaan. Boer in Ballingskap was mos eenkeer daar en het die mooiste foto’s geneem en alles gedoen wat ek nog altyd wou doen( kyk gerus daar deur op sy naam te klik), en dit het my sommer nog meer lus gemaak. My 3 dogters  moet weer saam, want hulle is ook lief vir Heidi, en op pad sal ons beslis ook by die mooi Europese winkeltjies moet inloer, want hulle hou van SHOP! O-ja, en erens moet ons gaan fondue hou en bokmelk kaas eet.

Vir die  Immer-nimmerland van Peter Pan kies ek my hartsvriend, wat eintlik alreeds saam met my daar getoer het. Maar eintlik is dit dalk nie so ‘n goeie ding om hom saam te nooi nie. Is dit die land  van drome of die land van die dood? Wie sal weet? Peter word nooit groot nie. Pan is die god van die dood. En waarom kom Peter nooit permanent terug na die hede toe nie?

Neewat, laat ons nou nie morbied word nie. Kom ons speel dis die land waar ons ewig kind bly, met al die avonture wat ons graag wil hê, met al ons mooiste drome, saam met die vriende wat ons graag daar wil hê, waar ons altyd wen en waar ons altyd kan vlieg (met feetjiestof besprinkel) en kraai van geluk. En as daar so ‘n plek is, kan julle wat hier lees almal saamgaan!

Posted in Los opdrifsels | Tagged , , , , , , , , , | 8 Kommentaar

Om te tik/trek….

Hier is bokse, daar  is sakke, die kas moet uitgepak raak, daardie een in, waarheen gaan hierdie laaikas, waarheen die bed, ag nee die prente moet af, waarheen waarheen waar waar en hoe? eina my rug nee, nie daar nie, daar!

Om te trek is nie kinderspeletjies nie, maar laat ek julle nou mooi vertel: dis makliker om van een huis na ‘n ander te trek as van een kamer na ‘n ander in jou eige huis, as jy al 22 jaar in een kamer gewoon het!

Ek raam mos prente, en is baie lekker ingerig( in my comfortzone), in die buitegeboue wat my man jare gelede spesiaal so vir my vergroot het. Nou het ons besluit dat die buitegeboue ‘n woonstel moet word wat verhuur moet word. My raamplek moet nou in die oorvol huis in – in my kamer in! Ons kamer word dan geskuif in ‘n ander ( kleiner) kamer in en die kleiner kamer se inhoud word opgedeel in twee ander kamers in. Sommige kaste gaan eetkamer toe, die een kamer se lessenaar gaan voorkamer toe, en daar is ‘n hele paar tafeltjies en goeters wat ek weet nie waarheen gaan nie.

Dis die dat ek sommer hier sit en tik ( en hier by ons is dit ‘n baie dubbelsinnige ding om te sê),  want slaap dit kan ek nie. Die bed lê hemelhoog opgestapel met klere en goeters en ook die gang daarheen is soos ‘n hindernisbaan uitgelê.

Hoe dit ooit gaan regkom weet ek nie! Miskien moet ek begin tik……

Posted in Los opdrifsels | Tagged , , | 11 Kommentaar

Ons bou Fagan se woonstel

100_1293Om te bou is nie kinderspeletjies nie. En dit kos ook nie kleingeld nie. En as jou man boonop vir jou bou, is dit nie ‘n grap nie.

Dit het ek sopas die afgelope twee maande of so uitgevind, toe ek uiteindelik sover gekom het om ‘n woonstelletjie binne in my seehuis se ekstragroot dubbelgarage in te bou.

Nadat ek ek 3 jaar lank self daar vakansie gehou het, maar in die binneplaas my buitebadkamer gehad het, het ek sonder enige geld, besluit, buig of bars, ek gaan die woonstel bou en dan in luxury lekker vakansie hou.

Maar: decisions, desisions, desisions! Waar kom die sitkamer, die kamers, die badkamer? Die groot venster wat my ma jare gelede in plek van die garagedeur ingebou het, is ideaal vir sitkamervenster, maar dan sal die een kamer nie lig hê nie, of ek sal sulke laaang, maer kamertjies moet hê!  Nie een van die kamers is gewoonweg vierkantig nie, want die huis is met ‘n snaakse punt gebou, dus is die kamers sowel as die badkamer met sulke interessante hoeke.

Agter, langs die vertrek, is daar ‘n pakkamer. Dit is eintlik ‘n stuk wat met grond opgevul moes word, omdat die erf skuins aflooop, maar my wyse ma het beveel dat hulle dit moes oophou, en liewer vir haar ‘n pakkamer daar moes insit. Moet die badkamer nou in die pakkamer kom? Die dak is  net 2 meter hoog. Of moet mens liewer nog ‘n kamer daar  insit en die badkamer vorentoe skuif?

Waarvan maak ons die vloer? Novilon? Koud. Teels? Baie koud. Gelamineerde houtvloer? Te duur en die goed kan nie water vat nie. Marine ply of shutter  board? Maar gaan dit hou?

Dry walls of baksteen mure? Gaan ek my ou pootjiesbad wat ek destyds vir R4 op ‘n vendusie gekoop het, oordoen( dit hou mos nie) of net ‘n stort insit? Maar ek hóú van ‘n bad!

Op die ou einde het my man dit so beplan dat daar 2 mooi kamers is, die een met ‘n groot venster, en ‘n lekker groot oopplan kombuis en sitkamer.  Net ‘n klein muurtjie word gebou om die pakkamer  kleiner te maak, en die pakkamer se deur verskuif om die slaapkamer groter te maak. Die badkamer is in die ander deel van die  pakkamer met stort EN my oorgedoende pootjiesbad. Oe en hy is te mooi!

Die volvloermat is uitgehaal in die sitkamer-kombuisdeel, maar behou in die slaapkamers. Op die vloer het ons marine ply gelê, wat ons baie goedkoop in die hande gekry het . ‘n Mens skroef net eenvoudig die planke op die vloer vas en vernis dit dan soos ‘n plankvloer. Ek hoop maar dit hou, maar as daar gate inkom, woodfill ‘n mens dit net, anders as teëls of  sintetiese hout, wat ook maar merke kry en waaraan mens dan niks kan doen nie.

Ons het besluit op ‘drywalls’, omdat ‘n mens dalk later eendag van plan kan verander, en ek het soos ‘n maniak rondgejaag om goed te kry om binne-in te sit- tot ‘n ou matras opgesny- om die mure klankdig te maak. Dit lyk darem of dit heel redelik werk.

Die kombuisrakke het my dierbare goeie niggie vir my present gegee! Die een het ‘n ingeboude wasbakkie in en die ander een ‘n tweeplaat stofie. Wat meer wil ‘n mens hê?

Die ligte-man moes kom drade lê,  ligte en muurproppe beplan en in dieselfde asem het hy toe sommer ook ons mooi braaiarea in die tuin van liggies voorsien . Nou is dit nie meer donker saans nie, maar lyk soos Bredasdorp se kersboom.

Die woonstel vernoem ek na my pa. Dit was immers sy garage waar sy ou visvangbakkie al die jare gestaan het en waar hy sy spesiale tinspinners ( kliek hier op die blou om die snaakse storie van die tin  te lees) en ander visvangereedskap al die jare gebere het.

Nou moet ek nog net my ou sitkamerstel weer mooi oortrek.

Ag, ek is baie opgewonde oor die nuwe woonstel! Dis net……. nou het ek nie geld om in hom vakansie te hou nie.

Ek verhuur hom nou maar hierdie Kersfees om hom eers bietjie afbetaal te kry….

As enigiemand hom wil huur, kontak my asb hier: seegogga@gmail.com

11 Kommentaar

Dis alweer lente in die Overberg!

Hier waar ek nou laataand sit, toegewikkel in my warm top, en luister na die geloei van die winterwind, is dit moeilik om te glo dat dit lente is. En tog is dit! Sowaar! Ek het selfs mooi foto’s om dit te bewys!

Sien is glo, so here goes: Al die foto’s is nou op een dag in my seetuin op Struisbaai geneem. Toegegee, hy is ‘n bietjie oorgroei, maar dis ‘n wilde fynbostuin, kompleet met sy akkedissies, bloukopkoggelmanders, skilpaaie en so nou en dan ‘n slang. Op ‘n stadium het bokkies snags die malvas kom af-eet, en die fisante ( en soms snags ‘n ystervark) kom skrop daar rond. Die streepmuisies, voëls en watnog is ewe tuis daar tussen die riete en bosse.En elke bossie het sy blommetjie.

En soms as dit donker is en  koud, is dit goed om te onthou: Na elke liewe koue winter gee ons goeie Vader weer ‘n lente! 

Posted in Die Overberg: my wereld., Overberg | Tagged , , , , , , , , , , | 16 Kommentaar

Seegogga se verjaardaggeskenk

Verlede jaar het ek dit vergeet, hierdie jaar is ek bietjie vroeg, maar ek het darem onthou: Seegogga verjaar! Op 22 Sept is Seegogga se Bloggie al 2 jaar oud.

In die afgelope 2 jaar het meer as 20 duisend mense kom lees wat hier op my blog staan, van al uithoeke van die aarde. Dit is vir my ongelooflik. Die besigste dag was in Feb vanjaar, toe 130 mense op een dag die blog besoek het. Dis is miskien maar min in vergelyking met julle groot blogs, maar ek het maar net ‘n ou bloggie, en is heel tevrede met my besoekers. Ek skryf mos omdat dit lekker is, omdat ek iets op die hart het, en het nie gedink dit sal so baie gelees word nie.Toe ek nou so die maand stats oproep, lyk dit my tog of die bloggie stadig maar seker groei, al is ek deesdae so half slap en van koers af.

Dinge wat gereeld daagliks gelees word, al is hulle lank gelede geskryf, iseen of ander hoofstuk van Ma se seksboek of van Ouma se bababoek, inskrywings oor die Overberg ,asook 2 inskrywings van lank gelede Daar is niks soos ware liefde en Die deurmekaar tale van kleur,  Die eerste is waarskynlik omdat almal maar op soek is na ware liefde, en die tweede waarskynlik omdat ek die kleurwiel bygesit het.

Behalwe een katterige opmerking, het ek regtig geen negatiewe kommentaar gekry nie, wel soms opbouende kritiek by ma se seksboek, wat ek baie waardeer het, en in die gebinde weergawe ingewerk het. Die boekie is goed ontvang deur die tieners waarvoor dit geskryf is.

Maar hierdie week kry ek toe die heerlikste verjaardag geskenk: ‘n e-mail van ‘n wildvreemde persoon: Sy is naamlik samesteller van ‘n leesboek vir gr 7 leerders van ‘n bekende uitgewery, en het my blog raakgelees, en wil een van die stories in my blog gebruik vir die leesboekie!!!

Nou gaan ‘n Seegogga bloggie dalkies in skole gelees word ! Aangesien die onderwysdepartement nog eers die boek moet goedkeur, wil ek nie noual te veel sê nie, maar as hulle dit aanvaar, sal julle beslis daarvan hoor. Ek sal mos nooit kan stilbly nie!

Maar nou is dit eers middernag, en Seegogga moet slaap ook. Dus groet ek eers al my wonderlike blogvriende tot anderdag.

Lekker slaap, en as julle wakker is, lekker skryf!

10 Kommentaar

positiwiteit blues op ‘n Sondagaand

Somtyds, as dit blues-tyd raak op ‘n Sondagaand, is dit swaar op positief te bly – oor my geldsituasie, oor die huis se instandhouding, oor die kinders se geluk, oor my sukses as moeder, oor my huwelik, oor  die toekoms, sommer oor alles. Dis dan wat ek in ‘n bolletjie wil oprol en onder die bed gaan wegkruip.

En dan skiet ek ‘n (hele) paar gebedjies op en knyp my oë toe en trek my rug regop  en besluit koppig ( ek aard mos na my pa): ek SALLIE! Ek sallie dat die lewe my onderkry nie. Ek sallie gaan lê nie! Ek sallie kyk na al die realiteite  wat my in die gesigstaar nie, ek sallie moed opgee nie en ek sallie huil nie.

Ek moet net aanhou en glo. Maar somtyds, op ‘n Sondagaand, is dit bluestyd………

Posted in Los opdrifsels | 8 Kommentaar

Die juffrou. Deel 3

So het die juffrou en haar kinders dan ‘n band gevorm, nouer as wat daar gewoonlik tussen onderwyser en leerling is. En omdat sy jonk was, en onervare, het sy dit nie as verkeerd gesien nie.

In die middel van die derde kwartaal, vra die Afrikaanse vakhoof  haar of sy besef dat haar st 8 immigrante die gewone Afrikaans tweede taal eksamen moet skryf, omdat hulle ‘n departementele st 8 sertifikaat kry.

Drama! Sy, John en Heather( sonder die H), begin meteens werskaf met ingewikkelde taal- en spelreëls, verkleinwoorde, lydende en bedrywende vorm en watnog, en ook die voorgeskrewe boek: Mof en sy mense, van Langenhoven. Dis byna so goed soos om Shakespeare vir ‘n sub A’tjie te gee, maar hulle werp hulle heelhartig daarin en so halfpad deur die boek, kom die juffrou agter dat sy nie meer hoef te vertaal nie – hulle verstaan!

Aan die einde van daardie jaar, slaag albei leerlinge hulle gewone Afrikaans tweede taal vraestelle met net so onderkant die 5o persent, tot die vakhoof se verwondering, en die juffrou se blydskap.

Intussen het die band versterk. Die juffrou ken hulle drome, hangups en liefdes. En hulle ken haar.

“Miss why are you cross” of “Miss, why are you sad today?” al het sy volgens haar geen indikasie gegee nie. En die persoon wat haar gemoedstoestand soos ‘n boek kon lees: John.

Klik hier om te vervolg.

Posted in Vertelling: Die Juffrou en John | 4 Kommentaar

Diepseeduik op die Suidpunt van Afrika.

My goeie vriend. Martin van der Merwe, is al jare lank duiker op Struisbaai en neem ook duikers uit om te gaan duik. Nou het Martin ‘n dvd gemaak van die lewe onder die water hier waar ons woon. Die video vertel ‘n bietjie van die geskiedenis van Struisbaai en Agulhas, gee interessante lugfoto’s van die twee groot wrakke, die Oriental Pioneer en die Wafra en gaan dan in in ons eintlike groot ander wereld, die wereld onder die water.

Mense, ons woon by ‘n paradys en ons weet dit nie! Die see hier onder by ons is absoluut pragtig! Ek wonder hoeveel mense wat oorsee gaan duik, weet van die paradys hier by ons suidste punt?

Martin se dvd ondersoek die wrakke onder die water, die seelewe onder die water op Struisbaai, Agulhas, Suiderstrand, die Mond en Waenhuiskrans. Kommentaar is tans slegs in Afrikaans. Die Dvd is geskik vir die plat skerm tv’s. Dit kos net R100 +R10 posgeld en kan by my bestel word. email seegogga@gmail.com , of skakel 0845874228, of lewer sommer net kommentaar hieronder.

Hier volg ‘n klein stukkie van een van sy ou videos’s by die Mond geneem. Die nuwe video se gehalte is uitstekend en meestal in HD en daar is natuurlik ook kommentaar by. http://www.twooceansdiving.com/apps/videos/videos/show/13246232-the-mond

Posted in Die Overberg: my wereld., Los opdrifsels, Overberg, Seestories | Tagged , , , , , , , | 6 Kommentaar

Reader appreciation award en sewe sondes

Nie minder nie as 3 wonderlike bloggers het vir my ‘n toekenning gegee en gevra ek moet skryf . Hulle is OLGA, wat wonderbaarlik haar ring weer tussen ‘n klomp tydskrifte gekry het; Toortsie, my baie spesiale Overberg vriendin wat my leer blog het en altyd so mooi positief is; en Maankind, ons eie Overberg e-boek spesialis.

BAIE DANKIE VIR JULLE NOMINASIES! EK VOEL GEËERD!

En nou moet ek produce! Ek weet ek het al voorheen oor die goeters geskryf, maar waar???? So hier gaat ons.

1. Vir my is niksdoen lekker. Daar is niks lekkerder as om sommer net niks te doen nie. My gedagtes dwaal hulle eie dwale of ek sit of lê sommer net in ‘n beswyming. Ek doen dit elke aand as ek ‘n halfuur lank in die bad lê totdat die water te koud word.

2. Ek is verslaaf aan soetgoed al weet ek ek mag nie dit eintlik eet nie. Sjokolade, lekkers, en mmmmmm merengues! Ek is mal oor merengues en koop soms ‘n pakkie en eet dit in een sessie op.

3. Ek glo nie in onnodige werk nie. Ek stryk nie lakens of selfs klere nie, (net soms my man se hemde) en ek glo nie ek het al ooit my nagklere opgevou voor ek dit onder die kopkussing ingedruk het nie.  Kon nog net nooit die nut daarvan insien nie. My arme ma het al die jare my tevergeefs probeer leer om netjies te wees.

4. Ek is nogal goed in Wiskunde en wiskundige probleemoplossings, maar kan geen getalle of telefoonnommers onthou nie. Ek dink my brein het besluit dis onnodige inligting, Daarvoor is my telefoonboeke en deesdae die selfoon memory mos daar. Ek onthou ook nie afsprake en  verjaardae nie. As my foon my nie inlig nie, is dit nag.

5. Gee my ‘n kwas en verf, en ek is in my element. En as ek klaar met oorgawe geverf het( mure, rame, beddens, vloere, skilderye, dekor of watookal), is daar verf aan my hande, op my klere, in my hare, op my gesig en waarskynlik op die vloer ook. Maar hoe meer vol verf ek is, hoe lekkerder het ek geverf. Ek kan ook glad nie verstaan hoekom mense so tekere gaan as ek die slag ‘n bietjie blou verf in my hare het nie. Ek self is gewoond daaraan.

6.Ek kies sommer vanself altyd die kant van die underdog, die af-vlerk eendjie, die uitgestotene die andersdenkende.  Dit het dalk te doen met die feit dat ek Maatskaplike werk studeer het, maar dit het waarskynlik ook te doen met sommer ‘n koppige teen die stroom skop. Ek kan dit nie verdra as mense snobisties is en hulle verbeel hulle is beter as ander nie.

7. Ek loop met baie drome en goeters wat ek nog wil doen, idees, ens, maar min word tot uitvoering gebring, want ek is nogal geneig op uit te stel. Tans is ek besig om ‘n liedjie te maak. Ek het hom eintlik al gemaak en ek dink nie hy is te sleg nie. Maar gaan ek nou ooit sover kom om hom vir iemand te gee om te sing en begeleiding by te maak?????

Sjoe, uiteindelik klaar! Hoop nie julle het intussen aan die slaap geraak nie,want julle moet nou hier lees of julle die  reading appreceation award gekry het! Die meeste van julle het dit nou al ontvang, maar ek sal probeer.

Eerste gaan aan Tamatieland, ‘n jonge dame met besondere idees, goggabyt, wat deesdae te besig is om mamma te wees om te blog, Karen, wat altyd vir ons sulke interessante dierenuus stuur, Dirkie , wat nog jonk in die blogwereld is, en Hanlie Green wat nou net begin het met die allerlieflikse foto en kos blog. Sy is ‘n uitstekende fotograaf en ek moet ook ‘n bietjie met haar spog, want sy is my niggie.

Hierdie is ‘n blogspeletjie en julle moet net asb die reels volg om deel te neem.                       1. Kopieër en plak die toekenning op julle blog.                                                                             2 Gee erkenning aan die wat dit vir jou gegee het deur hulle te link( of te tag of watookal met daardie kettingdingetjie)                                                                                                   3.Skryf oor 7 van jou sondes, of 7besonderse dinge van jouself, en                          4.Nomineer 5 ander bloggers vir die toekenning. 

Nou toe, daar het julle dit! Lekker blog!

9 Kommentaar

lag ‘n slag

Vandag sê ons dominee mos, dat ons meer moet lag. Hy speel selfs vir ons snaakse video’tjies om ons te laat glimlag. Volgens hom lag ‘n mens minder,  hoe meer opgevoed jy is. En dis ‘n groot fout, want lag is gesond! Vrolikheid is ook ‘n opdrag van God. “Verbly jou in die Heer. ” en ” Wees altyd deur bly”.

Ons bekommer ons oor die dag van more en ons stres en ons wroeg – alles onnodig.  Al wat ons moet doen, is om te vertrou op die Here, en te glo dat Hy vir ons sal sorg, en ons te verbly in Sy genade.

Ons kry selfs ‘n opdrag. Ons moet elke dag hierdie week met ete eers ‘n grappie vertel voor ons begin eet.

Dis nou net presies die boodskap wat ek vandag nodig gehad het in hierdie tyd wat ek my so opwerk van bekommernis en so moet stry teen die swaarmoedigheid.

Ek het my sommer net daar voorgeneem dat ek  nou , hier, gaan stop om te bekommer oor die dag van more, die klein plesiertjies is die lewe meer gaan waardeer en die lewe meer gaan geniet. Die lewe is heeltemal te kort vir wroeg!

Mag dit vir jou wat hier lees ook ‘n vrolike week wees!  En sommer net om jou ietsie te gee om dalk oor te glimlag, kyk hier onder.

6 Kommentaar