Die Juffrou. Deel 5

Twee  jaar nadat sy begin skoolhou het, is die juffrou weg na ‘n ander skool; haar ingenieur is weg, oorsee;  maar die geur van John het gebly.  Sy  verbeel  haar sy kan dit vandag, 40 jaar later, nog steeds onthou –  die geur van hom in daardie ou baadjiejas.

Vakansies het hy, nou in matriek en prefek, steeds kom kuier, en sy by hulle gesin. Dit was sy ma, die lieflike Katie, wat voorgestel het dat hy die juffrou nou maar op haar naam begin noem – sy is mos nie meer sy “miss” nie. Het sy geweet, Katie, van die onuitgesproke toegeneentheid? Sy was ‘n slim vrou. Het sy meer gesien as wat hulle wou?

So het die juffrou geleidelik verander van ‘n “miss” na  Willemien. Sy het vir hom Peter Pan gegee om te lees, en hy vir haar ‘The Hobbit”.  Sy het siek geword, en hy het haar kom ‘opcheer.’ Hy het longontsteking gekry en sy het vir hom in die hospitaal gaan kuier. Hulle het sy klein boetie en sussie (asook die skoonheidskoningin) fliek toe geneem om na ‘n Walt Disney tekenprent te gaan kyk, en hulle twee het dit meer geniet as al die ander, wat nie kon verstaan hoekom hulle so lag nie.

Toe die juffrou twee jaar later Johannesburg toe gaan vir ‘n onderhoud, was dit John (toe op Wits) wat vir haar plek gekry het in ‘n hotelletjie en haar later kom haal het vir ete.

Sy het die werk gekry, blyplek gekry en ook vir  Wouter Kabouter. Maar John was altyd daar. Soms het sy en Wouter vir hom uitgeneem vir ete, soms het hy gebel, soms het hulle twee gaan fliek, tweekeer het hulle na Cliff Richard gaan kyk, en soms is hulle saam kerk toe.

Toe die ingenieur terugkom en hy en Wouter  haar albei gelyk finaal wou opeis,  het  dit  uitgeraak tussen haar en Wouter en  daarna het die ingenieur  toe ook besluit om weer weg te gaan. Haar lewe het gevoel asof die bodem uitgeval het,  maar dit is hý wat enkele oomblikke na die ingenieur se vertrek  aan haar deur kom klop het, asof gestuur: John.

Teen hierdie tyd het die juffrou dit al baie  sterk vermoed: Twee honde baklei oor ‘n been, maar die derde stap daarmee heen.

Dis net, die derde wou  nie die been hê nie.

Hoe diep ookal hulle vriendskap, hulle toegeneentheid, hulle  aangetrokkenheid; in ‘n mate was hulle steeds onderwyser en leerling. Juffrou- skoolkind liefde is net nie iets wat gedoen word nie en ouer meisies en jonger ouens is totaal uit.  In die jare daarna het die juffrou dikwels gewonder waarom hulle albei so eties korrek opgetree het, en waarom dit hulle so gepla het. Die vriendskap was daar, die aantrekkingskrag, die behoefte aan mekaar, die saamverstaan, maar verder het alles, alles verskil. Sy universiteitsvriende en sy pa het geglo dat hulle toegeneentheid nie behoort te wees nie. En selfs hulleself het ook so gedink – diep in hulle agterkoppe.

En dalk behoort dit ook nie te gewees het nie. Sy was tog immers meer as 5 jaar ouer as hy. Maar die hart praat ‘n eie taal, en ten spyte van teenstand, ook van hulleself af, het hulle steeds nader beweeg.

Moeilike akademie, ‘n liefdesteleurstelling van lank gelede, die eensaamheid van immigrant wees in ‘n vreemde land, en wie weet dalk selfs sy skildklier wat in sy latere jare probleme gegee het, het hom depressief gemaak.  Die juffrou was die trooster, die veilige hawe in tye van storms.

En vir haar was daar geen beter plek, geen veiliger hawe nie, as by hom: John.

Vir opvolg, klik hier.

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in Vertelling: Die Juffrou en John. Bookmark the permalink.

7 Responses to Die Juffrou. Deel 5

  1. dit is wat liefde is!!!!! onstuitbaar en sonder grense.
    toe ek nog kinnes was het ek om een of ander rede altyd gedink ek sal nooit ‘n man kry nie, miskien omdat ek so arm groot geword het, of miskien omdat mammie se man haar dan steeds gelos het, al doen sy wat, ek sal nie kan sê nie, maar soos die liewe Vader is, het hy vir hierdie skewe potjie ‘n ongelooflike deksel gebring, sommer net so eendag toe en sopnat gereën was, met dik brille en al, mannas en ek is vandag 26jaar getroud, en ek dank daagliks my Hemelse Pappa dat Hy my goed genoeg geag het om mannas op my paadjie uit te reën……..

  2. Kameel sê:

    Dis ‘n mooi liefdesverhaal seegogga. Dit gaan hier oor meer as hormone.
    My vriendin se dogter het met haar klasonderwyser – tien jaar ouer as sy, en op wie sy smoorverlief was – getrou. Toe hy haar op die matriekafskeid vra om te dans het sy besef die aantrekkingskrag kom van beide kante.
    Nou sug ek ook sommer “John.” .

  3. Terug pieng: Die Juffrou. Deel 4 | Seegogga se Bloggie

  4. seegogga sê:

    Ja, dinge gebeur soms op ongewone maniere. Ek sug sommer saam met jou!

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s