Ons bou Fagan se woonstel

100_1293Om te bou is nie kinderspeletjies nie. En dit kos ook nie kleingeld nie. En as jou man boonop vir jou bou, is dit nie ‘n grap nie.

Dit het ek sopas die afgelope twee maande of so uitgevind, toe ek uiteindelik sover gekom het om ‘n woonstelletjie binne in my seehuis se ekstragroot dubbelgarage in te bou.

Nadat ek ek 3 jaar lank self daar vakansie gehou het, maar in die binneplaas my buitebadkamer gehad het, het ek sonder enige geld, besluit, buig of bars, ek gaan die woonstel bou en dan in luxury lekker vakansie hou.

Maar: decisions, desisions, desisions! Waar kom die sitkamer, die kamers, die badkamer? Die groot venster wat my ma jare gelede in plek van die garagedeur ingebou het, is ideaal vir sitkamervenster, maar dan sal die een kamer nie lig hê nie, of ek sal sulke laaang, maer kamertjies moet hê!  Nie een van die kamers is gewoonweg vierkantig nie, want die huis is met ‘n snaakse punt gebou, dus is die kamers sowel as die badkamer met sulke interessante hoeke.

Agter, langs die vertrek, is daar ‘n pakkamer. Dit is eintlik ‘n stuk wat met grond opgevul moes word, omdat die erf skuins aflooop, maar my wyse ma het beveel dat hulle dit moes oophou, en liewer vir haar ‘n pakkamer daar moes insit. Moet die badkamer nou in die pakkamer kom? Die dak is  net 2 meter hoog. Of moet mens liewer nog ‘n kamer daar  insit en die badkamer vorentoe skuif?

Waarvan maak ons die vloer? Novilon? Koud. Teels? Baie koud. Gelamineerde houtvloer? Te duur en die goed kan nie water vat nie. Marine ply of shutter  board? Maar gaan dit hou?

Dry walls of baksteen mure? Gaan ek my ou pootjiesbad wat ek destyds vir R4 op ‘n vendusie gekoop het, oordoen( dit hou mos nie) of net ‘n stort insit? Maar ek hóú van ‘n bad!

Op die ou einde het my man dit so beplan dat daar 2 mooi kamers is, die een met ‘n groot venster, en ‘n lekker groot oopplan kombuis en sitkamer.  Net ‘n klein muurtjie word gebou om die pakkamer  kleiner te maak, en die pakkamer se deur verskuif om die slaapkamer groter te maak. Die badkamer is in die ander deel van die  pakkamer met stort EN my oorgedoende pootjiesbad. Oe en hy is te mooi!

Die volvloermat is uitgehaal in die sitkamer-kombuisdeel, maar behou in die slaapkamers. Op die vloer het ons marine ply gelê, wat ons baie goedkoop in die hande gekry het . ‘n Mens skroef net eenvoudig die planke op die vloer vas en vernis dit dan soos ‘n plankvloer. Ek hoop maar dit hou, maar as daar gate inkom, woodfill ‘n mens dit net, anders as teëls of  sintetiese hout, wat ook maar merke kry en waaraan mens dan niks kan doen nie.

Ons het besluit op ‘drywalls’, omdat ‘n mens dalk later eendag van plan kan verander, en ek het soos ‘n maniak rondgejaag om goed te kry om binne-in te sit- tot ‘n ou matras opgesny- om die mure klankdig te maak. Dit lyk darem of dit heel redelik werk.

Die kombuisrakke het my dierbare goeie niggie vir my present gegee! Die een het ‘n ingeboude wasbakkie in en die ander een ‘n tweeplaat stofie. Wat meer wil ‘n mens hê?

Die ligte-man moes kom drade lê,  ligte en muurproppe beplan en in dieselfde asem het hy toe sommer ook ons mooi braaiarea in die tuin van liggies voorsien . Nou is dit nie meer donker saans nie, maar lyk soos Bredasdorp se kersboom.

Die woonstel vernoem ek na my pa. Dit was immers sy garage waar sy ou visvangbakkie al die jare gestaan het en waar hy sy spesiale tinspinners ( kliek hier op die blou om die snaakse storie van die tin  te lees) en ander visvangereedskap al die jare gebere het.

Nou moet ek nog net my ou sitkamerstel weer mooi oortrek.

Ag, ek is baie opgewonde oor die nuwe woonstel! Dis net……. nou het ek nie geld om in hom vakansie te hou nie.

Ek verhuur hom nou maar hierdie Kersfees om hom eers bietjie afbetaal te kry….

As enigiemand hom wil huur, kontak my asb hier: seegogga@gmail.com

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in Ongekategoriseerd. Bookmark the permalink.

11 Responses to Ons bou Fagan se woonstel

  1. Fagan se woonstel, ek dink aan ‘n garage vol skilderye, van proteas en see tonele, bloublink skulpe en kinders wat op die strand speel, ek dink aan baie skilpaaie, die tuin vol speldekussings, die vol garage….. ek dink aan die sement paatjies teen die bult op na die voordeur toe en die rots tuin, ek dink aan my baie jong kinderjare….. so bly Fagan se woonstel bring vir julle nog altyd soveel plesier, geniet die….

    • seegogga sê:

      Ai, Hanlie, waar is die dae? die skilpaaie is nog daar,die speldekussings het vbietjie uitgedun, maar David se hulle maak maar so en sal weer vermeerder, die sementpaadjies is nog daar…..so ook al die skilderye. Jy moet maar weer kom kuier!

  2. MaanKind sê:

    Mooi man! Ons het ook mos die B-ding gedoen, self, die badkamer ding. Wat is Marine Ply?

    • seegogga sê:

      shutterboard is dun velle dennehout wat oorkruis van mekaar aan mekaar vasgeplak word sodat dit nie kan buig nie. Dan word dit gebruik as basis waarop concrete slabs gegooi word vir bv dubbelverdieping geboue omdat dit nie kan skeeftrk nie. Dit is so groot soos ‘n vel hardboard Dit het ons gebruik vir Jack’s , ons dansplek, se vloer en dit het mooi gelyk en goed gehou. Marine ply lyk dieselfde, behalwe dat dit nog meer waterdig is, volgens die hardeware man, maar ongelukkig ook duurder. Die hout lyk egter mooier, met nie juis kwaste nie shutterboard het baie kwaste, wat ook mooi lyk. Ek weet nie of ek die regte besluit geneem het nie, maar ons het toe die marine ply gebruik omdat ons dit vir feitlik dieslfde prys as die shutterboard kon kry. Dit is egter net 12mm dik, ipv die shutterboard wat heelwat dikker is. Die dunner bord het gemaak dat ons minder aan die onderkant van die deure moes afsny. Sal maar sien of dit buckle met die jare, en was al bekommerd omdat ek nie die dikker shutterboard gebruik het nie . Soos jy op prentjies kan sien, lyk dit nogal mooi, is regte hout, maar goedkoop!

  3. Kameel sê:

    Die woonstel lyk pragtig seegogga…. ai, en daardie pootjiesbad!!! Ek lief ‘n pootjiesbad 😉 Vul my net so ‘n bietjie in; wie bly dan in die groothuis dat julle in die woonstel moet bly?

    • seegogga sê:

      Ai, Kameel, die finansies pla! Ek verhuur die groot huis bo ook aan vakansiegangers, en ons kan gaan net wanneer ons wil, maar Desembervakansies is groot skeptyd, en dis vir my die moeite werd om dit aan ander te verhuur en self in dieklein woonstelletjie onder te bly. Verlede jaar het ek die week tussen Kersfees en Nuwe jaar vir ons self uitgehou, maar toe maak Safari ‘n besprekingsfout en daag die huurders die dag na Kersfees op ipv ‘n week later! Die arme mense kom toe al die pad van Johannesburg af, en toe is ons maar weer uit…..

  4. Toortsie sê:

    Die lekkerte van jou eie sleutel hê, is dat jy dit oor kersfees kan verhuur vir al die vakansiegangers en 3 Januarie self daar kan ingaan! Dis baie mooi. Geluk!

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s