Die Juffrou. Deel 6.

Soms lei die lewe ‘n mens op vreemde paaie en die vriendskap tussen die juffrou en John was so ‘n pad.

Elke mens glo sekerlik dat die liefde tussen hom en sy geliefde uniek is. En sekerlik is dit ook, soos elke mens ook uniek is. Mike, ‘n  Duitse busbestuurder, het egter eenkeer aan haar gesê: ” People? Ze are all ze same. Ze all have ze nose in ze middle”.

Tog dink die juffrou, hier waar sy so terugkyk, dat die vriendskap/liefde van haar  en John uniek was, heel anders as die gewone en daarom is dit vir haar jammer dat hulle hulle so aan konvensies gesteur het.

Toe hulle tog uiteindelik die fyn lyn tussen vriendskap en liefde oorsteek, het dit so reg gevoel.

Maar John het reeds begin siek word, die depressie het meer en meer toegeslaan. Die “answer to a teacher’s dream” het verander in ‘n nagmerrie van alkohol, dagga en uiteindelik ‘n druip in sy derde jaar – hy, haar slimste, haar hardwerkendste oud-leerling, haar goeie vriend, haar geliefde.

Saam het sy en sy ma hulle bekommer en koppe bymekaar gesit en sielkundige hulp gekry, maar John was op sy eie missie – ‘n pad van selfvernietiging. In die proses het hy almal rondom hom weggestoot, seergemaak, net om die volgende oomblik weer in hulle arms te kom troos soek. Hoogs selfsugtig, hoogs onbetroubaar, hoogs onverantwoordelik, het hy deur die lewe geslinger op soek na sin.

Die juffrou het haar huis vir hom oopgemaak, en haar hart was mos al lankal oop en sy glo dat hy by haar ‘n plekkie gehad het om heen te vlug, ‘n veilige plek, waar hy welkom sou wees, dag of nag, in ‘n tyd toe daar nog ‘n verskil tussen die twee was.

Hy het haar oop hart gebruik en sy glo dat hy dit nodig gehad het, maar hy het dit ook vertrap en verwerp soos hy alle ander goeie goed wat na sy kant toe gekom het, vertrap en verwerp het.

In ‘n tyd toe die juffrou self byna nie meer kon staande bly teen sy siekte en negatiewe gedrag nie, het sy op ‘n ou skoolrapport van hom afgekom en al die onderwysers se lofredes gelees, ook haar eie. Kon dit dieselfde persoon wees, hierdie hoogsbegaafde, hardwerkende, verantwoordelike  gewilde,  goedgemanierde fyn opgevoede sensitiewe mens?

Soms het die lig tog deurgeskyn en haar weer moed gegee. Dan het die juffrou met hernude oorgawe vir hom gebid en haar voorgeneem dat hierdie deur moet oopbly, al gebeur wat, selfs al sou hy uiteindelik terug  Engeland toe, selfs al sou sy later trou. Haar deur sou oop bly as hy dit ooit sou nodig kry om te kom – haar beste vriend, haar geliefde, die ander deel van haarself: John.

Vir opvolg, klik hier.

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in Vertelling: Die Juffrou en John. Bookmark the permalink.

5 Responses to Die Juffrou. Deel 6.

  1. Terug pieng: Die Juffrou. Deel 5 | Seegogga se Bloggie

  2. Kameel sê:

    Dit is soos God se liefde vir ons is; al val ‘n mens hoe vêr weg…… die deur bly oop.
    Ek kan maar net weereens saam sug “John.”

  3. seegogga sê:

    Ja, Kameel. dit eintlik ‘n goeie ding wat jy daar se, om die Here se liefde te verduidelik.

  4. Toortsie sê:

    Ai ou Goggatjie…. 😉

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s