Jippie!!!
Toortsie het my nou mos aangesê om op vakansie te gaan- te gaan toer, saam met drie vriende. Ek sal mos nooit nee sê nie!
Ek wil so graag Kilimanjaro gaan klim, die Serengeti en die Gorongoza gaan verken, na Heidi se oupa se huisie in die berge gaan, en ook na Peter Pan se Neverland- die land van drome, waar alles is net soos jy dit wil hê. (ag, en sommer enige ander plek, solank iemand my net nooi.) O ja, en dan wil ek mos nog altyd met die fiets van Johannesburg na Kaapstad ry.
Daar is twee areas op aarde wat ‘n mens se gedagtes met ontsag, ‘n bietjie vrees en verwondering vul. Rusland, en Afrika. Geen ander land of area in die wereld skep hierdie gevoel nie. En van die twee, is AFRIKA die absolute towerwoord.
AFRIKA. donker, gevaar, avontuur, oerwoud, wildernis, olifante, safari, natuur, onvergeetlike ervarings, wonder……wat kan ek nog sê? Geen ander plek kom daar naby nie.
Vir Kilimanjaro vat ek mos vir Nataniël saam, en Toortsie en Xena. Nataniël, want as hy dit kon maak, sal ek dit dalk ook regkry,en hy gaan my mos laat lag, en die Toorts vir inspirasie. Xena sal vir ons al die feite omtrent die omgewing kan gee asook baie stof tot nadenke oor die toestande in Afrika.
Vir die res van die Afrika-belewenis, wil ek graag my 3 dogters en man ook saamneem. Ons het altyd so lekker in die Krugerwildtuin saamgery, en hulle skerp ogies mis nie ‘n dier nie. Die oudste sal ook sorg dat ons alreeds voor 6vm gestewel en gespoor in die landrover sit!
Vir die fietstoer, neem ek my goeie nefie. Hy is die enigste een wat ek al ontmoet het, wat dit ook graag wil doen. En dit kan nie te moeilik wees nie, dis mos afdraand! Ons sal darem lekker gesels tewyl ons so trap. Die enigste probleem is: hy trap vinnig en ek stadig!
Ek het jare gelede al probeer om na Heidi se oupahuisie in die berge te gaan, en was halfpad oppad daarheen, maar onverwagse sneeu, en my toermaat se sware tas (wat ek heeltyd moes help dra), en die feit dat sy nie dieselfde begeerte as ek gehad het nie, het gemaak dat ek toe nooit daar uitgekom het nie. Maar ai, Heidi is al die jare, tot vandag toe nog, een van die mooiste stories wat ek ooit gelees het en een van my gunsteling boeke wat ek nog vir my kleinkinders gaan lees, dus wil ek nog al die jare graag gaan. Boer in Ballingskap was mos eenkeer daar en het die mooiste foto’s geneem en alles gedoen wat ek nog altyd wou doen( kyk gerus daar deur op sy naam te klik), en dit het my sommer nog meer lus gemaak. My 3 dogters moet weer saam, want hulle is ook lief vir Heidi, en op pad sal ons beslis ook by die mooi Europese winkeltjies moet inloer, want hulle hou van SHOP! O-ja, en erens moet ons gaan fondue hou en bokmelk kaas eet.
Vir die Immer-nimmerland van Peter Pan kies ek my hartsvriend, wat eintlik alreeds saam met my daar getoer het. Maar eintlik is dit dalk nie so ‘n goeie ding om hom saam te nooi nie. Is dit die land van drome of die land van die dood? Wie sal weet? Peter word nooit groot nie. Pan is die god van die dood. En waarom kom Peter nooit permanent terug na die hede toe nie?
Neewat, laat ons nou nie morbied word nie. Kom ons speel dis die land waar ons ewig kind bly, met al die avonture wat ons graag wil hê, met al ons mooiste drome, saam met die vriende wat ons graag daar wil hê, waar ons altyd wen en waar ons altyd kan vlieg (met feetjiestof besprinkel) en kraai van geluk. En as daar so ‘n plek is, kan julle wat hier lees almal saamgaan!
Dit was nou lekkerlees seegogga. Nooit besef jy is so avontuurlustig nie. Mag ek maar saam Kilimanjaro gaan klim….. vir Nataniël jy verstaan…. ek is gek na mense wat my laat lag 😉
Ons sal moet begin oefen, Kameel!
Sjoe, dankie dat ek mag saamgaan! Ek is JUIS so lief vir Afrika!
Klim saam met jou neef op ‘n tandem! dan hou jy lekker by! Dankie, ek het HEERLIK gelees!
Ek het jou kommentaar aan hom genoem en toe se hy” What?, and ruin a good friendship?”
Rerig ‘n nice kombinasie van plekke. Sou ook dieselfde wou – as ek kon 🙂
Kom saam! In die Neverland is alles moontlik.
Dankie, ek sal…twist my rubber-arm… 🙂 Miskien kan ons oppad huis-toe ‘n draai maak in Wonderland (soos in Alice) – just for fun 😉
Dis ‘n goeie idee, Briefies! Ek wou nog altyd voel hoe dit is om so groot soos klein Duimpie te wees – of dalk ‘n reus. Ek hoop net ons kan weer daar uitkom – ek kan nie baie goed kaart speel nie, jy sal ons weer daar moet uitkry.