Laaste skryfgedagtes voor Kersfees

‘n Jaar is verby – dis Desember, Kersfeestyd. Ek vra myself af: Waar het my bloggie heen verdwyn?  Wat het gebeur dat ek opgehou skryf het? Baie aande het ek hier gesit en dink ek moet ietsie skryf – maar wat? En hoe langer die tyd verbygegaan het, hoe minder het ek geweet wat.

As mens so lanklaas iets gesê het, moet jy tog iets belangrik sê as jy weer begin, en daarom word dit al moeiliker en moeiliker om weer te begin. Van uitstel kom  afstel sowaar.

Ek verwonder my aan Toortse, Kameel en al julle ander wat van krag tot krag gaan. Toortsie het selfs ‘n boek aan die kom en haar kop loop oor van idees. Myne loop leeg.

Ek het onlangs vir Amos vd Merwe ontmoet. Waar kry hy die tyd om die pragtige boek, ‘KLEUR’  oor Randall Wicomb te skryf , en nog sy lieflike ROLBOS stories  ook te blog?

As jy wil skryf, is die beste oefening natuurlik om elke dag te skryf.  Skryf skryf, maak nie saak wat nie. Dus skryf ek nou hier, maak nie saak wat nie. Eendag sal daar weer doel in die skryfwerk kom. En dan sal ek julle vertel van nog engele op my paaie – die aand toe ek die bok getref het , miskien ‘n boekresensie of twee, en die storie van die juffrou en Lawrence,  wat ek nog altyd wou vertel, en die ou storie van Struisbaai se pelikaan  en natuurlik verder werk aan ouma se bababoek.

Maar nou is dit eers somer, son, see en wasgoed- berge en berge wasgoed, huurders, besoekers, familie.

Daarom wens ek almal van julle ‘n baie geseende Kersfeestyd toe – ‘n Tyd wat gevul is met Goddelike Liefde en Vreugde. Mag dit met julle almal baie goed gaan.kerfeeskers 001

Ag en gee tog asseblief vir my Stille Nag se pragtige ou ( regte) woorde terug!

 

 

 

Posted in Kersfees, Los opdrifsels | 18 Kommentaar

Pros’t

Pro’st


gedigte en wyn 001

Daar’s baie te sê vir gedigte en wyn-

So na aan ons vreugde so digby ons pyn.

En om saam te drink en saam te lees

vergroot die genot, verminder die vrees.

Ja, daar’s baie te sê vir gedigte en wyn  –

Hoe soet is ons vreugde en hoe diep is ons pyn.

( geskryf Junie 1979 na 6 mnde op Stellenbosch waar my nefies my die wynkultuur geleer het)

Posted in gedigte en rympies (seestrome van verlange), Los opdrifsels | Tagged , , , | 12 Kommentaar

Oor mense wat mal is

Vannaand moes ek ‘n tweede gedig op Facebook plaas in ‘n gedigplaas-uitdaging.  Ek plaas dit sommer ook hier.

My keuse is’n gedig van Adam Small. Hy het destyds by Maskew Miller gewerk en toe hy tydens besoek op Kimberley was, het ek hom gevra om my Afrikaanse matriek en 9’s te kom toespreek oor sy gedigte en veral ook sy boek Oos Wes Tuis Bes Destrik Ses. waaroor ek mal was en was nuut op die rakke was. Di was April 1975. by die Elizaberth Conradieskool vir fisiese gestremde leerlinge. Dit is nou net mooi 40 jaar gelede!

Ek was so opgewonde dat so ‘n beroemde dramaturg en digter bereid was om ons te kom toespreek. Ek het ‘n mooi tafel gedek met allerlei lekker eetgoedjies en die hele personeel ook genooi om te kom luister en na die tyd saam tee te drink en gesellig te verkeer.

Adam Small het baie mooi met die kinders gesels en vir die gehoor van sy gedigte voorgelees en verduidelik. Hy het ook my boek geteken. Toe dit teetyd is , verdwyn al die personeel soos groot spelde en ek en Adam Small bly feitlik alleen agter by die teetafel.

Na die tyd vind ek uit dat die personeel smoorkwaad was omdat ek sowaar vir hom uit ons gewone teekoppies uit laat drink het en nog verwag het dat hulle ook saam moet drink in dieselfde lokaal.

Ek hou so baie van hierdie gedig oor die afbreek van distrik 6. Niemand kon dit mooier gesê het nie..

Proud ou gabouproud ou gabou 001 (913x1280)
pathetic pêllie
stil ou
djy fancy djy staan nog
one-way
djy fancy nog; one day, one day?
‘Is wishful thinking daai
proud ou gabou
pathetic pêllie
quiet ou
djy word gedemolish sê ek vi djou!
Wat was djy?
‘n Cash-store?
‘n Kerk?
Ma daai was once upon a time, pêllie,
once upon a time…
Nou wiet ek nie exactly wát is onse crime
ma ek en djy
is suppose’ om te wiet crime doesn’t pay!
So pêllie,
dis geskryf en gesign en dis ‘n must
djy sil vanish hieso in ‘n cloud of dust!

Hoor djy die perepote van die bullodozers?

Ek sil djou mis…
Nou sak djou kop
Nou briek djou hart
Ko lat ons hyl dan, ma nie te hard nie
oor mense wat mal is, pellie,
soes djy val…
dja, mál, pêllie

En nou is ou Antjie Krog, wat ook so pragtig dig, weer mal.

Posted in die tale wat ons praat, gedigte en rympies (seestrome van verlange), Los opdrifsels | Tagged , , , | 15 Kommentaar

Dis ‘n Nuwe Jaar en ons is deurmekaar

Liewe land, die jaar is amper om en ek het nog niks geskryf nie.
Nie gelukkige Nuwe jaar, nie, nie vakansiestories nie, nie diepe meditasies of lawwe kraterstories nie. Niks.
Pure luigeit!

Ter verskoning wil ek se dat hierdie Nuwe jaar dramaties is. Wow!

Te midde van vol vakansie huise en bondels en bondel en BONDELS wagoed, het my kinders van oorsee af weer terug geimmigreer, en Donderdagaand wat verby is, het my man gehoor dat hy Maandagoggend (vandag) op ‘n ander dorp begin werk.

Alles sou nog goed en wel gewees het, maar toe klik ek mos vannaand oudergewoonte op my stats om te kyk of iemand darem nog die bloggie lees, al het ek so lanklaas geskryf. AG NEE! WAAR IS DIE STATS???? Ek klik en druk en soek en uiteindelik kry ek die nuwe goeters waarvan ek sommer dadelik besluit ek nie hou nie. Hoekom is dit so ‘n gesukkel om daar uit te kom?

Nee-man WordPress! Ek wil ook nie soek na my dashboard nie. Bring terug al daardie opsies as ek op my krappie klik! ( of raak ek nou te oud vir nuwe dinge?)

Hoe voel julle?

Posted in Los opdrifsels | 29 Kommentaar

Wil jy see toe gaan? Nog kans vir ‘n seevakansie!!!

3 Kommentaar

I believe I can fly nr 1

BEKKIE POSTER 001

Nege jaar gelede het ek ‘n voëltjie present gekry: ‘n Blou Indiese ringnek papagaaitjie op presies te wees.

Soos alle jong voëltjies, het Bekkie ook probeer vlieg. Die probleem was dat hy dit nie kon regkry nie, want hy was gebreklik: sy vlerke was geknip, juis sodat hy NIE moet kan vlieg nie.

Dink ‘n bietjie aan jou eie mens-kinders. Kap jy hulle been af sodat hulle nie kan hardloop en seerkry nie? Sluit jy hulle in hulle kamer toe sodat hulle nie kan uitgaan en die wereld verken nie, en dalk in die proses verlore raak, doodgaan in motorongelukke of ander tragedies nie?

Ek het die gestremde voël baie jammer gekry. Hy het nie gevra om saam met mense in ‘n huis te woon nie, en die een ding wat ons almal so graag sou wou doen, die een ding wat hy regtig goed sou kon doen en waarvoor hy geskape is, is hom ontneem. Daarom het ek besluit om nooit ooit weer sy vlerke te knip nie.

Bekkie het na die eerste verveer stadium verander in ‘n normale voëltjie- ‘n sterk vlieër wat soos ‘n swaeltjie hoog deur die lug kon klief as hy so voel.

Goed-goed, ek het hom maar verkieslik net in die huis laat rondvlieg soos hy wil, maar op gereelde basis het hy soms uitgeglip, gewoonlik as ek ook buite is, en dit dan vreeslik geniet om in die hoogste takke van ons hoë jakarandaboom te sit, oor die dak te vlieg na die boom voor op die sypaadjie, soms oor die straat na die bure se boom en soms oor die rolbalbaan tot aan die oorkant van die agterste straat.

Bekkie is nou nie die slimste ringnek wat ek al gesien het nie- hy het nooit geleer om sy eie hok oop te maak soos ander wat ek ken nie, en hy het nooit Afrikaans bemeester nie, maar hy kon darem wegkruipertjie speel en hy het beslis geweet waar sy huis is.

Bekkie bo in die bure se jakarandaboom

Bekkie bo in die bure se jakarandaboom

In die begin was ek paniekerig en het elke keer die ergste gevrees, maar met die jare het dit duidelik geword dat Bekkie nou al sy omgewing ken, dat hy weet waar sy huis is, en dat hy nie wil wegvlieg nie, maar sommer net ‘n bietjie buite wil wees en ja, bietjie aandag wil he, want as hy weer ingekom het, het hy met opgewonde geselsgeluide vir my vertel van al sy avonture.

Eendag het n kaalwang arend op hom afgepyl- reg voor my oë! Bekkie het afgeduik in die bure se tuin in, met die arend kort op sy hakke. Kort daarna het die arend weer opgestyg – sonder ‘n voëltjie in sy kloue. Na 2 uur se soek het ek Bekkie weer gekry waar hy steeds doodstil tussen fyn lae takkies sit en wegkruip het vir die arend. Ek glo as hy nie so goed kon vlieg nie, was hy aandete vir die roofvoël.

Een nag het hy selfs buite geslaap omdat ‘n kwaai bui reën geval het net toe hy wou inkom. Die heelnag het dit gestortreën, maar die volgende oggend het hy luidkeels van hom laat hoor, vroeg-vroeg die kombuis ingevlieg en die heeloggend gesit en slaap na al sy ontberinge.

Tot verlede week. Ek moes Struisbaai tot om huise te gaan skoonmaak, toe meneertjie besluit dat dit tyd is om uit te vlieg. Hy het geskrik vir ‘n swart spreeu in die vyeboom en is om die huis en weg. Ek het geroep, maar toe ek hom nie kry nie, het ek gereël dat iemand in die huis sit sodat al die deure kan oop bly en is gou Struisbaai toe. Dit is ‘n feit dat papagaaie so twee dae lank naby hulle huis bly as hulle dalk uitkom en Bekkie ken die area.

Teruggekom, vertel die meisie my dat hy wel weer ingevlieg het, maar vir haar geskrik het en toe weer by die deur uit is voordat sy die deur kon toemaak. Ek het geroep en gesoek , maar Bekkie was weg – ‘n hele week lank, en ek het begin glo dat hy dood is – ‘n valk het hom gevang, ‘n kat of dalk het hy erens vasgevlieg.

Beloning is beloof, met pamflette op elke supermark en kafee muur asook oral op Facebook, maar Bekkie het soos ‘n groot speld verdwyn.

My tuinman benodig die beloning en doen navrae. Hy vind uit dat ‘n vriend van hom by die garage op die hoek gesien het hoe iemand ‘n papagaai vang op dieselfde dag dat Bekkie weggeraak het. Die persoon het hom blykbaar uit die boom uit natgespuit todat hy op die grond geval het en toe het hulle ‘n lap of kombers oor hom gegooi om hom te vang.

Hulle gaan wys my die huis, ek bel rond, en daar vind ek weer my voëltjie (jippiee!)- by die bure agter my, vlerke kort geknip en doodstil van skok. ( hy is nou nog buitengewoon stil – post traumatiese stres?)

Nouja, ek is só bly en dankbaar Bekkie is weer terug! My gebede is verhoor! Ek glo ook hy sou self teruggekom het as hy nie gevang was nie. Ek kan ook nie die mense kwalik neem nie, ek sou ook ‘n papagaai probeer vang het as ek een in my boom kry.

Maar : Waarom het hulle nerens probeer navraag doen wie het ‘n mak papegaaitjie verloor nie??? Het hulle sowaar my nooit hoor roep nie? En waarom wou hulle die hele beloning he en nie ‘n derde afstaan aan die manne wat my gehelp het om hom op te spoor nie? (Die manne het dit beslis baaie meer nodig as hy. Dit kos my nou taamlik dubbeld, want reg is reg.) Ons was immers goeie kennisse en het vroeër jare baie saam gekuier? En as hy nie geweet het my voëltjie is weg nie, waarom het hy die naam”Bekkie” op hom getoets en toe geglo dat hy geen reaksie kry nie? Sowaar?

Meneer, waarom het jy hom natgespuit elke keer as hy sy harde fluite gee? Besef jy nie dat voeltjies soggens moet fluit nie – dis hulle natuur en het jy regtig nie geweet of gedink dat hy eintlik vir my, sy regte baas, roep nie? Bekkie het my probeer antwoord as ek hom roep, maar jy het hom elke keer verskrik sodat hy nou soggens doodstil in sy boksie wegkruip ipv van om die dag toe te juig. Skaam jou! En waarom het jy dadelik sy vlerke so kort geknip?

Bekkie probeer nog vlieg, want hy hoop nog hy kan, maar land dan ongelukkig op die grond- tussen my 3 katte. Hy sal moet wag tot so April se kant wanneer hy hopelik klaar verveer het om weer te kan doen waarvoor hy geskape is : vlieg!

Om oor die beginsels oor die knip van vlerke te lees, klik hier.

Om van Bekkie se avontuur op Worcester te lees, klik hier.

Posted in feeverhale en ander stories, Los opdrifsels, Voels en beginsels: I believe I can fly | Tagged , , , | 18 Kommentaar

Ouma se bababoek: Brief 20. Kindgrootmaak met humor

Liewe Kinders

Sjoe ek het lanklaas geskryf. Die tyd ontbreek net.

Ek wil baie graag nog skryf oor die waarde van feeverhale, maar moet nog eers bietjie oplees.

Intussen wil ek ook skryf oor positiewe gesindheid en humor.

Liewe kinders, dit is nie aldag maklik om ouers te wees nie. Kinders kan vreeslike goed aanvang. Soos ‘n vriendin van my wat eendag in die kombuis gekom het, net betyds om te sien hoe die laaste van die dosyn eiers op die vloer stukkend gegooi word. Rondom die gemors het haar tweejarige  tweeling seuntjies met onskuldige oë gesit. Hulle soek die kuikentjie, Mamma , maar hier is dan niks!

Dan is daar my ouma wat troukoeke gebak en versier het. Sy het die koek se pragtige versiersuikerblommetjies waaraan sy ure spandeer het, in ‘n bord naby die voordeur gesit, sodat die koel luggie die blommetjies bietjie droër kan maak. Die bruid sou die middag die koek kom haal. Toe kom my ma se twee klein sussies daarop af en eet al die blommetjies op……My ouma het eers in die kamer gaan lê en huil. Toe het sy opgestaan, vir elkeen hulle straf gegee soos dit hoort, en toe maar haastig weer begin blommetjies maak….

Dit help om te onthou dat kindertjies maar net kindertjies is. Hulle verstaan die wereld nie soos ons nie. Wat ons so maklik as stout afmaak, is hulle manier om die wereld te leer ken en verstaan. Dit help om ‘n bietjie te lag oor al die katastrofes. Behou jou sin vir humor. Die wereld gaan nie sommer vergaan nie!

Hierdie koor het besluit om vir ouers ietsie te gee om oor te glimlag en bietjie ‘the joys of motherhood ‘ te besing.

 

Posted in Los opdrifsels, ouma se bababoek ( ouerleiding) | 13 Kommentaar

Tips vir ‘n seevakansie.

seegogga's avatarAccommodation:Struisbaai and Agulhas Akkommodasie: Struisbaai en Agulhas

 Hierdie is my eerste poging vir die kommersiële mark. Dis egter ‘n onderwerp wat my na aan die hat lê en lesers wat ‘n vakansie hier by ons see beplan, kan gerus lees wat ek hier kwytgeraak het!

Enjoy your summer holiday!

<img src="summer holiday.jpg" alt="Summer holiday" width="300" height="200">

Happy Summer Holiday!

“We’re going where the sun shines brightly, we’re going where the sea is blue……” It is time for the great migration – to the seaside. Yes, it is almost time for the summer holidays!

Summer Holiday Tips

Here are a few tips and secrets you need to know to help you enjoy your seaside summer holiday:

Travel lightly

This valuable lesson I learned when the airways lost my luggage years ago and I had to spend…

View original post 837 more words

Tagged , , , , , | 6 Kommentaar

4 jaar

verjaardagkoek 001Gisteraand kry ek die WordPress Boodskap: Seegogga is 4 jaar oud!

Sowaar? Kan dit al so lank wees?

In hierdie 4 jaar het ek begin met al die verskillende tale wat ons praat, en toe Ma se seksboek briewe begin. Dit is later in boekvorm uitgegee.

Daar is seestories oor ons area en die storie van die Gelukkige Haai is raakgelees deur Adinda Vermaak wat ‘n leesboek vir gr 7 leerlinge saamgestel het. Sy was so goed om die haaistorie daarin  te plaas (jippie!)

Een van my vinnige prentjies op die bloggie is deur die LIG tydskrif gecopy en gepaste en geplaas( gegaps?)  sonder om my daarvoor erkenning te gee. (Jippie?)

Ek het Maankind ontdek en ‘n storietjie in haar boek ” My kort vir jou Sop” gekry.(Jippie!)

Ek het ontdek dat ons eie omgewing wonderlike goed het om oor te skryf en het selfs ‘n blog begin vir my strandplekkies. En nou en dan kry ek ‘n bespreking agv die bloggie!( Jippie!)

Na aanleiding van ‘n wenk van Toortsie, het ek begin skryf aan Ouma se bababoek briewe. Dit word die heel meeste van al my skrywes gelees. Ek hoop om in die toekoms nog inskrywings daar te maak. Daar is nog ‘n paar goed wat gese moet word. Ek  hoop net dat my eie kinders ook nog daar sal lees.

Seegogga het wonderlike blogvriende gemaak en ek geniet elke dag almal se skrywes . Al lewer ek nie baie kommentaar nie( dis ‘n nagmerrie om op ‘n selfoon foutlose kommentaar te lewer), moet jy asb weet: Jy word gelees: deur Seegogga! Julle verstom my ook met julle algemense kennis, kennis van die taal, julle wysheid en julle skryftalent. Die internet op die sel maak dit soveel lekkerder om te lees -laataand in die bed, langs die see, gou -gou in ‘n restourant, oral waar jy vir iets moet wag……

Die bloggie het my gehelp om my gedagtes te orden in ‘n tyd toe die lewe rondom my baie deurmekaar was.  Bloggietyd is bederftyd – en ons almal het bietjie bederf nodig.

Liewe Blogvriende, dankie dat julle dit alles vir my moontlik gemaak het. Eet nou maar ‘n stukkie koek vir my part ook, hoor.

Mmmm , ek sien nou vandag dat my spesiale blogmaatjie – die een waar dit alles begin het en wat my geleer blog het,  OOK 4 jr oud geword het. Baie geluk Toorts, Kameel en Bokbaaivygie!

 

 

 

 

18 Kommentaar

goue see in die middel van die nag

Dis laatnag. Die stormwind loei om die hoeke van die huis. Dis koud en ek sit so na as moontlik aan die kaggelvuurtjie met sy laaste stompie op. Dis winter soos dit net in die Kaap winter kan wees in Septembermaand.

Toe ontdek ek die goue see wat ek afgeneem het, April vanjaar. Soms as die wind woed, en die grys kombers die aarde toemaak, is dit goed om te sien hoe kosbaar ons seeskatte is. IMG_1201IMG_1216IMG_1228

IMG_1079 IMG_0699

Posted in Die Overberg: my wereld., Los opdrifsels, Seestories | Tagged , , , , | 8 Kommentaar

Van Uitstel kom Afstel

Elke liewe dag kyk ek na my bloggie. Ek sien tot my verstomming hoe die leserstalle groei en groei – dit ten spyte van die feit dat ek 2 maande laas geskryf het.

Elke dag dink ek ek moet iets skryf. Dis nou al twee weke wat ek mik om oor ou Rusky te skryf – ons geliefde hondjie wat nie meer met ons is nie. Maar ek wil ‘n mooi foto bysit – en die foto is weg en ek het nie regtig tyd om dit te soek nie.

Ek wil graag die storie van Struisbaai se pelikaan vertel, maar ek moet eers my feite bietjie agtermekaar kry. Ek wil al jare lank die storie van Toortsie se liggie, ons eie liggie hier aan die Suidpunt van Afrika vertel, en ek hét eintlik al die navorsing gedoen en al die feite op ‘n papier neergeskryf – jarre gelede al. Die papier is nou al weg…

Ek wil nog eendag ‘n lys maak van alle oorsese skole en universiteite wat Afrikaans as vak doseer, maar…

Ek het nog ‘n hele paar goed op my lysie.

Ai, dis baie makliker om elke dag net gou na die stats te loer en te sien dat die bloggie darem nog asemhaal, selfs al ontbreek nuwe skrywes, blogs en idees. Dit raak al hoe moeiliker om te sit en te skryf!

Van uitstel kom afstel! Dis die dat ek nou vannaand sommer hier sit en bietjie nonsens skryf – net om darem iets te skryf.

Voel julle ook soms so?

Ter versagting wil ek net pleit dat ek besig is met ‘n skilpadstorie en hy ry my. Maar as dit werk, en ek hoop dit realiseer, dan sal dit wonderlik wees. en dan sal ek daaroor skryf hier op die bloggie.

En ten slotte wil ek julle sommer  hier op die Donderdagaand vertel van Louis die Laeveld leeu  wat my al heel week tickle. Hy sit mos nou die dag daar in sy strokiesprentjie in die Burger en hy gesels met sy vriend, die bobbejaan. “Het jy geweet dat mense afstammelinge van bobbejane is?” vra hy.” “Mense was in die oertyd bobbejane.”

“Ag nee!” sê die bobbejaan:” En wat het dan toe verkeerd geloop?”

 

Posted in idioomstories, Los opdrifsels | Tagged | 12 Kommentaar

As Pappa huis toe kom

As Pappa huis toe kom

As pappa huis toe kom 001

As Pappa huis toe kom

saans as die lang skadu’s op die gras kruip

en my bene moeg en stowwerig is

as die dag al lank en oud voel

soos ‘n lang motorrit en vervelig,

dan voel ek nuwe lewe bokspring

en sing;

dan huppel ek hom tegemoet

en die wind jaag my aan.

Ek duik in sy arms in,

want nóú gaan die dag begin

as Pappa huis toe kom!

Ja gelede geskryf na aanleiding van my kinders se opgewondenheid as hulle pa van die werk af gekom het en dan met hulle lekker rowwe speletjies gespeel het soos net ‘n pa kan.

Aangesien dit more Vadersdag is…..

Posted in gedigte en rympies (seestrome van verlange), Los opdrifsels | Tagged , , , , | 6 Kommentaar

Kraterstorie Troukatastrofes nr 2: Vonkel ogetjie vonkel

Dis Donderdagmiddag voor die groot dag. Later die middag moet ons 14 emmers groen loof gaan aflaai vir die saal se opmaak,maar nou is ek en my oudste eers besig om die finale afrondingswerk te doen aan die troukoek wat sy self gebak het.

Ek is besig om met ‘n lang dun kunstenaarskwassie die sjokoladeversiering aan die een kant bietjie in te verf. Die kwassie se agterkant is splinterig en gehawend , want my papagaai hou daarvan om daaraan te kou, maar die haartjiesgedeelte is mos nog reg. Die koek staan op ‘n koekstaander.

”Die koek staan nie in die middel nie!” verklaar my oudste .Sy buk vinnig vorentoe om die koek te skuif – en land met haar oog binne-in die kwassie se agterste punt. Of liewers: Die gesplinterde houtsteel van die kwassie druk met vors in haar lieflike groenerige oog in!

EINA! Haar oog is dadelik bloedbelope en BAIE seer!  Ons ry om ‘n oogkundige in die hande te kry,  maar daardie dag is daar geen oogkundige op ons dorp nie! Die sekretaresse van die oogkundige is egter baie oulik en bel ‘n oogspesialis in Kaapstad en verduidelik die noodsituasie. Die kind trou oor 1 en ‘n halwe dag, en dan moet die oog reg wees! Dié beveel aan dat ons hom in Kaapstad kom sien.  Dis meer as 2 uur se ry van ons af, dis reeds omtrent 3 .30nm en daar is eenvoudig geen tyd nie. Is daar ‘n ander plan?  Ons moet dokter toe dat sy kan kyk of daar splinters in die oog is, indien nie, kan hy oogdruppels voorskryf.

Die dokter loer met ‘n vergrootglas na haar seer ogie. Die cornea het seergekry, maar dit lyk darem nie of daar enige splinters in die oog is nie. Terug na die oogkundige se sekretaresse. Die gawe oogarts in Kaapstad, wie hy ookal mag wees, gee sowaar vir ons ‘n voorskrif van oogdruppels wat antibiotika sowel as cortisoon bevat en beveel dat sy dit elke halfuur in die oog moet gooi – o-ja, en sy moet te alle tye ‘n oogklap dra. Mmmm die oogdruppels word gegooi , maar ‘n oogklap soos ‘n seerower? Aikona!

Net toe lui die telefoon. Dis my man se werk. Ek moet nou nie skrik nie, maar hy het ‘n klein ongelukkie gehad en hulle het hom hospitaal toe geneem. Sal ek hom asseblief daar gaan haal?

By die hospitaal word die pa wat die bruid die kerk moet inneem, met ‘n rolstoel uitgestoot. Hy kan nie eintlik loop nie, want ‘n houtstomp het hom in sy been gesteek en die spier en senuwee beskadig. Hy het in die veld ‘n stuk hout opgetel , wat toe altyd ‘n pofadder was. Die slang is eenkant toe, en hy anderkant toe – en toe val hy oor die stomp….

Daardie aand sit ons gesinnetjie toe met tonne loof wat gesny en saal toe gekarwy moet word, en twee kranklikes, – die einste twee wat Saterdag moet “shine”.

Ken julle ‘n seer oog wat heelnag traan? Die voornemende bruid het nog in die nag wakker geword en gehuil omdat haar oog so pyn. Toe my pragtige kind die Vrydagoggend voor die troudag opstaan, is haar oog dik geswel en bottoe. Die vel hang sulke riwwe hier oor haar wang, asof sy ‘n boksgeveg verloor het.

Dit was tyd vir positiewe denke. ” Ons het nou gebid vir hierdie oog, en jy glo nou net hy sal more reg wees.” ” Jy sê net vir jou oog, hy  is more reg!” “Glo dit!”  Die oogklap word uitgepluk en met’n wattetjie onder word hy pliggetrou heeldag gedra tot slapenstyd. Elke halfuur word die druppels gegooi. Die oog lyk sleg, maar ons hou vol met positiewe denke.

My tannie bel. Sy het nou so gedink: as die oog nie reg is nie, gaan koop ons ‘n klomp oogklappies en plak hulle vol sequins. Dan dra ons almal die klappies en sê dis deel van die trou-uitrusting….

Daardie Vrydagaand eet ons almal lekker saam in ons restourant, my kind met oogklap en al en ons bly positief, al lyk die getuienis verdoemend. My man  met krukke. (Hy kan darem intussen al ‘n paar treë gee- met moeite. ) Ook hy moet sy been bemoedig en aanspreek.

Ek is vandag spyt dat ek nie foto’s geneem het van daardie oog en daardie been nie, want hulle het regtig baie sleg gelyk. My man het nou, 6 jaar later, steeds ‘n lelike litteken van sy ontmoeting met die slang en die stomp en êrens op ‘n video het ons ‘n deeltjie waar my kind met oogklap en al weereens nog die ” weddingplanner” se onversadigbare lus na groen loof probeer bevredig.

Maar julle moet my glo ( en ons kon dit self byna nie glo nie!) as ek julle vertel: Toe my dogter daardie Saterdagoggend wakker word, is haar oog reg! 100%!!! Wow! Dankie liewe Vader, ons gebede is verhoor! Dis ‘n wonderwerk! My man kon haar die paadjie af begelei ( met moeite, maar nie so dat iemand dit sal agterkom nie) en my kind het geblom.

Dit was ‘n pragtige troue, al die dramas ( en loof) ten spyt.

 

 

Posted in kraters en ander skandes (humor), Los opdrifsels, troustories | 16 Kommentaar

kraterstorie 20 : troukatastrofes nr 1: Dek tafeltjie dek

Nou die dag het Kameel vertel van haar dogter se troue, en hoe die pragtige blomme wat hulle bestel het, toe by die verkeerde troue opgedaag het. Dit het my laat dink aan my eie en ook my 3 dogters se troues. Elke troue het sy eie katastrofe!

My eie troue was vol senutergende haakplekke. Eers het die dame wat die rok gemaak het, dit regtig verskriklik verbrou en op die ou einde was dit heeltemal te kort! Gelukkig het ek ‘n ma gehad wat kon toor met die naald, en deur ‘n stukkie in die middel in te las, aan die bostuk( wat gelukkig ook te kort was) en onder die belt gedeelte, kon sy die nodige lengte gee. Die los kant bostukkie het sy sommer heeltemal oorgemaak want ek het die spulletjie so bekyk en maar ekstra lap gaan koop, omdat ek geweet het ons gaan dit nodig hê.

Die troue was in ‘n markiestent in my ouers se groot seetuin op Struisbaai. Die dorpie was klein met min fasiliteite, so 33 jaar gelede, om presies te wees. Die Motel het pragtige ovaal eikehouttafels in hulle ontspanningsarea gehad, en die het my ouers lank voor die tyd met hulle gereël en bespreek vir die groot dag. Die dag voor die troue is die tafels afgelaai , en ons het dit mooi gedek- in stormwind, soos hy net op Struisbaai kan waai – julle ander Overbergers sal weet waarvan ek praat as ek sê dat die mans deur die nag kort kort moes gaan tentpenne vaskap en houtbalke onder op die seile pak om te keer dat die tent in ‘n valskerm verander.

Die volgende oggend  het die wind al sagter begin waai, en toe ek 10 vm moes trou, was dit net ‘n ligte briesie – ‘n pragtige dag – behalwe nou vir die groot katastrofe.

Eers moes my aanstaande die wittebroodskar aan die brand stoot die afdraande paadjie af.  Ons het met die vliegtuig van Johannesburg afgekom en sou met my pa se motor (waarmee hy nooit ry nie, hy hét mos sy seebakkie) met vakansie gaan. Na die karstotery en gepaardgaande senuwees, kry hy so warm dat hy sommer sy hempsmoue oprol.

Toe ons nou net mooi amper gereed is om kerk toe te vertrek, kom die Motel se vragmotor daar aangejaag. Hulle het vir ons verkeerde tafels gegee, en hulle het dit nou nodig vir ‘n ander funksie. Hulle kom hulle tafels haal en bring vir ons ander. Al die gepratery help net mooi niks, die motel laai hulle mooi eikehoutafels op en laai aaklige metaal tafeltjies af . Daar was geen tyd vir ons om iets aan die saak te doen nie, en my ouers vra my nefie en sy studentemaat om maar die troue te mis en gou die tafeltjies reg te sit voor die mense kom. Daar is min tyd oor. My aanstaande pluk sy baadjie aan en weg is almal kerk toe.

Dis toe ons uiteindelik weer by die markiestent kom, dat ons sou sien wat studente as prakties beskou: die bliktafeltjies was in ‘n lang ry in die middel van die markiestent af gepak: geen tafeldoek of blom in sig nie, en bo-op die tafeltjies was die bokse en kratte drank net so gepak vir maklike uithaal en drink!

Ek wou natuurlik iets oorkom, maar wat kan jy doen? Op die ou einde het ons tog heerlik troue gehou. Toe ons na die tyd uitgeput onspan , en my man sy baadjie uittrek, sien hy dat hy nog steeds sy opgerolde moue onder sy baadjie gehad het. In die haas het hy skoon vergeet om hulle af te rol en vas te maak voor hy sy baadjie aantrek.

Nouja, vandag 33jaar later, kan ons maar net oor alles  lag.

Ek wil nou vir Slakkelak vra om vir ons van troukatastrofes te vertel, want sy is juis so stil deesdae. Waar is jy Slakkie?

 

Posted in idioomstories, kraters en ander skandes (humor), Los opdrifsels, Seestories, troustories | Tagged , | 4 Kommentaar

Toortsie se liedjiespeletjie: Speel saam, dis gratis!

Toortsie het ‘n lekker speletjie uitgedink: iets plesierig en heel musikaal. Ons kan vir haar enigiets vra, en sy antwoord met ‘n gepaste liedjie.

Nou gaan ek, in opdrag van haar, dieselfde doen. Julle kan my enigiets vra, en ek gaan probeer om met ‘n liedjie te antwoord_ en meer nog, ek gaan probeer om die videotjie van Youtube by te sit, as daar so-iets oor daardie liedjie bestaan!!  Dan kan julle wat wil, sommer luister ook. Yebo, ja, yes! Maar wees tog asb genadig met julle vrae asb!

Ek nooi dus elkeen wat hier lees uit om iets te vra. Tik net jou vraag in hier by die comment venstertjie, en kyk of ek dalk vir jou met ‘n liedjie kan antwoord. As jy wil weet wat my antwoord is, moet jy net daar onder op “stel my in kennis van nuwe kommentaar” ook klik, dan sal jy ‘n e-mail kry wanneer ek  antwoord.

Dis pret! Speel saam!

Ek tag ook sommer vir Herriemerrie wat deesdae so skaars is, om saam te speel, asook Alleman.

Nou toe; Ek is reg vir julle Laat waai!

14 Kommentaar

Aandag alle Overberg skrywers, bloggers en belangstellendes: ‘n Storiefees by Van Brakelstoor!

Nouja, as ‘n mens blog, is jy lief vir skryf, ne! Sommige van ons skryf oor ons gevoelens, of ons eie idees oor dinge. Sommige van ons skryf stories. Sommige van ons skryf inspirered en opbouend oor positiewe denke. En sommiges van ons het selfs ons eie e-boek uitgewery. Wat ek wel weet, is dat die Overbergers lief is vir stories vertel en stories skryf. Van die beste skrywers is Suid Afrika vind jy net hier; in die OVERBERG.Lees ook hier.

Nou is hier is storiefees vir oud en jonk, professioneel en amateur, en ek wil graag vir julle almal nooi om te kom deelneem. Trisa, met jou kennis kan jy dalk die wereld van die e-boeke vir ander verbreed, en so nuwe werk kry. Sal dit nie wonderlik wees as Chanette Paul ook haar boeke hier kom uitstal nie?

Aandag alle Overberg skrywers en bloggers en belangstellendes. Kyk asb na Ernie Mellet se skrywe en advertensie:

“Hallo almal,

Hoop dit gaan goed. Ek is darem ook weer aan die gang en sien baie uit na die Storiefees. Ons kan verstaan dat sommige van die skrywers van die Suid-Kaap dit nie sal bywoon nie as gevolg van die afstand, maar ons wil ‘n beroep doen op mense van die Overberg, Strandveld en Boland om moeite te doen om daar te wees. Dit is ‘n geleentheid waar niemand op niemand gaan neersien nie, maar julle sal vriende kan maak wat soos jy voel oor skryfwerk al mag die genre waarin hulle werk heeltemaal anders wees as waarin jy eksperimenteer.

 

Ek wil dus ‘n beroep doen op skrywers wat reeds betrokke is, om hierdie epos aan mense te Forward wat in bostaande area woon om hulle daarvan in kennis te stel. Ek het gehoor dat daar baie skrywers is wat in hierdie gebied afgetree het. Hulle kan gerus kom sommer om net te kom gesels of te kom luister. Daar is geen komplot om julle werk te “steel” nie; vra vir die ander skrywers wat betrokke is. Kopiereg bly joune en ons sal niks gebruik sonder om toestemming te vra nie. Dit is ook nie ploeg met ander se kallers nie; die ATKV is ‘n Nie-Winsmakende-Organisasie.

 

Ons sal enige tyd aan belangstellendes skrywers se besonderhede gee wat reeds betrokke is (daar is 50!) sodat julle eers met hulle kan gesels. Ons het niks om weg te steek nie. Dit is bloot outydse diens aan ‘n groep mense om hulle beter te laat presteer tot hulle eie voordeel en tot voordeel van die lesers met wie hulle hulle werk deel.

 

Ons moet asseblief stiptelik om 11:00 begin. Skrywers wat hulle eie werk wil voorlees, moet my kontak asseblief.                                                                                                                                         ALMAL MOET PLEKKE BESPREEK TEEN 5.5.2014!  Waar kry jy sulke waarde vir R30??????

Ek kan 4 Swellendammers oplaai op pad soontoe en weer terugbring. Ek vertrek 08:00 uit Suurbraak.

 

Mag ons van hierdie geleentheid ‘n fenominale sukses maak waar nuwe woema oorgedra kan word aan hulle wat op die oomblik vir stowwerige laaie skryf en hulle uit hulle kokonne laat bars tot voordeel van die nuwe gehoor aan wie ons hulle gaan voorstel. Kreatiwiteit het nie grense nie.

 

Ons sien uit om julle daar te sien.

 

Groetnis tot dan

 

ERNIE

 

 

ATKV SUURBRAAK

AMATEUR SKRYWERS BOND                       HOOFRAADGEWER, SKRYWER en AANBIEDER:                                        ERNIE MELLET 079.333.0055, erniemellet@telkomsa.net

Ons help beginner- en amateurskrywers en digters

 

KOM LAG…EN HUIL SAAM !!!

OVERBERG STORIEFEES vir

AMATEUR SKRYWERS!  (14 – 90+ jaar)

Saterdag 10 MEI 2014, 11:00 – 15:00, Van Brakelstoor (R326/R316) Caledon.

 

Ontmoet die land se ONBEKENDSTE SKRYWERS!     INFORMEEL en GESELLIG.      Skreeusnaaks tot Trane-trekkerig

BEPERKTE SITPLEK!     VOORAFBESPREKING NOODSAAKLIK BY ERNIE TEEN 5.5.2014!    TOEGANG: Net R30 BY DIE DEUR vir Groentesop en Tuisgebakte Brood-middagete. Graad 9-Leerders tot 90-plussers welkom.       Enige gebied.                                                                      Gratis eksemplaar van Trilogie van Spanning. 200 bladsye.                                                                    Die ASB se eerste boek Storie Skryf is Lekker! te koop teen kosprys: R60. 232 Bladsye!                Ook ander bundels en boeke teen goeie pryse.

 

 

HET JY AL OOIT ‘N AFRIKAANSE KORTVERHAAL, KITSVERHAAL, STORIE, VERSIE, RYMPIE, GEDIG, TONEELSTUK OF LIEDJIE GESKRYF?      Kort jy motivering of skryfvriende?

 

KOM LEES JOU WERK VOOR, DRA DIT VOOR, VOER DIT OP OF SING DIT, WANT ANDER BEGINNER-SKRYWERS GAAN DIESELFDE DOEN. OF HULLE GAAN DIT AAN ONS STUUR SODAT ONS MANUSKRIPTE KAN OORWEEG OM DEUR ONS VOORGELEES TE WORD BY DIE STORIEFEES.

 

AS JY HULP SOEK MET JOU SKRYFWERK WAT MISKIEN IN ‘N LAAI Lê EN STOF VERGADER, STUUR DIT AAN ONS SODAT ONS JULLE KAN HELP. DIS GRATIS. ONS KRITISEER NIE.     EPOS EIE WERK VERKIESLIK INARIAL FONTGROOTTE 12. ONS HELP OOK MET MANUSKRIPTE WAT JY AAN UITGEWERS STUUR OF SELF WIL PUBLISEER.                                DIS ONS BYDRAE OM AFRIKAANS TE BEVORDER…

 

SIEN JULLE BY DIE STORIEFEES !!!!

 

Posted in Die Overberg: my wereld., die tale wat ons praat | 1 Kommentaar

Seeskatte; Die storie van Robbie die Rob

Die see verander altyd. Dit gee soms skatte waarvan ons net kan droom,  avonture  wat nooit weer herhaal sal word nie omdat dit so ongewoon is, en nes jy dink jy ken die see, dan gebeur daar iets nuuts.

Ek het verlede keer vertel van die groot skool dolfyne, die dag van die seesterre en die dag van die groen seepampoentjies- almal uitsonderlike gebeurtenisse. Ek het lank gelede vertel van Parrie , ons beroemde pylstert in die hawe en van ou Tandjies, die gelukkige haaiIMG_1169

Waarvan ek nog nie vertel het nie, is van ons nuutste inwoner.So ongeveer ‘n maand gelede het hy net hier opgedaag in die hawe: Robbie die rob.

Hier op Struisbaai sal ‘n mens soms ‘n rob in die water sien baai, maar nooit eintlik op die strand nie.As hulle hier lê is daar iets IMG_1170verkeerd en Robbie het swak en maer gelyk. Iets was verkeerd.

Hy het in sy toestand seker die beste plek moontlik vir homself uitgesoek: die hawe, waar  daar gedurig vissersbote vol vis inkom, waar seuntjies op die kaai visvang, waar baie besoekers hom wil bederf en waar die IMG_1171visfabriek die visbinnegoed vir die voëls, die pylsterte en ook vir Robbie gooi.

Hoe het hy hier gekom? Agter die reuk van ‘n vissersboot se aas aan geswem? Niemand weet nie, maar toe ons weer sien, is hy hier. Eers het hy reg in die pad van die boottreilers gelê, soms luid gebulk en nader gewaggel as hy enigsins kos geruik het. Die restourant eienaar was dadelik bekommerd oor sy klante. Twee oseane akwarium is geskakel, Natuurbewaring en  die veearts is geskakel, maar dit lyk of daar geen ander plek vir Robbie is , behalwe Struisbaai hawe nie – en soos mense is, het die vissers en die viswinkel se mense hom begin voer. IMG_1177

Daar is gou agtergekom wat fout is. Robbie is blind.  Sy oë is die heeltyd toe, net sy linkeroog maak nou en dan op ‘n skrefie oop, maar dit is duidelik dat hy die vis wat voor hom neergesit word, ruik en nie sien nie.

Nou, na ‘n maand, is Robbie spekvet en baie sterker. Hy swem baie meer en is beslis besig om sy kragte te herwin. Dit lyk ook of die mense besig is om hom meer te aanvaar – hy is ‘n groot toeristeaantreklikheid!

Tog is dit vir my ontstellend om te sien hoe ongelooflik ongevoelig sommige mense is. Hulle sal hom met sand gooi of klippies, enigiets om reaksie te kry. In die begin het die vissers hom met ‘n besem uit die pad probeer kry van die boot treilers – ‘n onbegonne taak, want daardie logge liggaam kan ‘n mens nie wegvee nie! ‘n Jong tiener het hom een Saterdag begin skop en gou is die polisie gebel.Hulle het hom in hegtenis geneem en op die koop toe ook sommer dagga by hom ontdek .

Ek hoop egter dat die mense aan  Robbie sal gewoond raak, soos hy aan hulle en dat hy  veilig in die hawe sal bly so lank dit vir hom nodig is.  Beter plek met  meer kos gaan hy nie kry nie, en ons hoop sy lot is beter as die van Struisbaai se pelikaan. Maar dis weer ‘n ander storie vir ‘n ander keer.

Die see hou nooit op om te verras nie. Liewe vakansieganger, gaan soek seeskatte en wondelike herinneringe. Die beste plek om te begin, is sommer net hier: in Struisbaai se hawe!IMG_1184IMG_1183

Posted in Die Overberg: my wereld., Los opdrifsels, Overberg, Seestories | Tagged , , , , , , , | 21 Kommentaar

Dolfyne op Struisbaai

Like ·  · Promote · 
  • Klik op die prentjie om hierdie mooi video van Struisbaai Fishing Adventures te sien. Hulle het my toestemming gegee dat ek dit kan plaas.

By die see gebeur daar altyd iets! Soos die see nooit twee dae lank dieselfde is nie, so is die gebeutertenisse ook altyd ‘n verrassing.

Ek onthou hoe ek en die kinders een winderige koue Sondagmiddag af see toe is. Niemand wou water toe gaan nie, agv die gure weer, maar ek het voet by stuk gehou dat ‘n mense nie ‘n hele  naweek see toe kan gaan en dan nooit eers by die see self uitkom nie.

Toe ons daar by die twee ou mure van Struisbaai kom ( vandag Die Blokke genoem), lê daar seesterre: duisende en duisende! ‘n Mens kan nie trap nie, of jy trap op een. Hulle is almal redelik groot en grys. Die wat op die sand lê, is opgekrul en lyk dood, en die in die water lewe . As die “droë” seesterre in die water teruggesit word, het hulle pote weer oopgekrul en het hulle weer begin lewe kry! Ons het begin om die op die sand terug te sit in die water – ‘n onbegonne taak, want daar was duisende! Vergete was die wind, die koue en die gure weer. My kinders het hulle gate uit geniet en een van daardie wonderlike seeoomblikke beleef- iets wat hulle dalk nooit weer so sal sien nie.

‘n Ander keer het ons by die walle op daardie groen pampoentjie skulpies afgekom. Ook duisende en mooi groot ook! Ons het daardie dag 3 streepsakke vol seepampoentjies opgetel  – strus bob!.Gelukkig tog dat my pa die sakke agter in sy bakkie gehad het. As hy meer sakke gehad het, sou ons hulle ook kon vul. Ek het nog nooit weer so ‘n oorvloed van die groen skulpe beleef nie.

Hier op die video hierbo, sien julle ook ‘n wonderlike gesig- ook iets wat nie aldag op Struisbaai voorkom nie. Die dolfyne -honderde van hulle! Dit moet seker deel wees van die ‘dolphin run’ wat elke jaar plaasvind as die vis loop, maar ai, dis mooi!

En dan is daar ons nuutste onverwagse aanwins in die hawe – maar meer oor hom in my volgend blog. Klik hier om van hom te lees.

Liewe Transvaalse besoekers, onthou tog , as die weer dalk nie is soos u bestel het nie, die see is altyd opwindend. Daar gebeur altyd iets. al is dit ook nou net die skuimende groot branders en die seevoëls wat vlieg, maar iets sal jy kry wat spesiaal is.

Struisbaai bo!

Posted in Die Overberg: my wereld., Los opdrifsels, Seestories | Tagged , | 7 Kommentaar

plek vir Paasnaweek

Jippie!!! Ek het huurders vir Erika gekry!

In my vorige blog het ek mos vertel van die kanselasie gister, nè. Wel, vanoggend vroeg kry ek ‘n telefoonoproep van ‘n vorige klient. Ja, Erika is bespreek vir die naweek. Ai, ek is regtig dankbaar. En ek is ook baie bly Toortsie-hulle kan weer eet!! Ja, sy het mos haar sleuteltjie weer opgespoor. Dit gaan goed hier in die Overberg!

Maar weet julle, Paasnaweek le om die draai, en ten spyte van baie navrae, het ek nog steeds 1 woonstel, Annie’s Flat, oop vir die paasnaweek.  Kyk asb na Annies’s flat hier deur hier te klik.

Annies is geskik vir maksimum 4 persone, maar is absoluut ideaal vir 2. Die prys vir die paasnaweek is R500per nag vir 2 persone , R550pn vir 3 persone en R600pn vir 4 persone. Let asb daarop dat Paasnaweek uit 4 nagte bestaan en dat u bespreking dus ten minste vir 4 nagte moet wees, indien enige van u nagte binne die Paasnaweek val.

Versprei tog asseblief die woord. Daar is altyd soveel mense wat plek soek vir Paasnaweek. Stuur hulle hierheen. Vir alle navrae, skakel 0845874228 of e-pos seegogga@gmail.com

En as julle dalk wonder of dit die moeite werd is, kyk en luister ‘n bietjie na die Struisbaai liedjie! Ek self kan nie wag vir my paar dagies vakansie daar nie.

 

Posted in Die Overberg: my wereld., Los opdrifsels, Overberg, Seestories | Tagged , , , | 3 Kommentaar

plek vir hierdie naweek!

5 Kommentaar