Die see verander altyd. Dit gee soms skatte waarvan ons net kan droom, avonture wat nooit weer herhaal sal word nie omdat dit so ongewoon is, en nes jy dink jy ken die see, dan gebeur daar iets nuuts.
Ek het verlede keer vertel van die groot skool dolfyne, die dag van die seesterre en die dag van die groen seepampoentjies- almal uitsonderlike gebeurtenisse. Ek het lank gelede vertel van Parrie , ons beroemde pylstert in die hawe en van ou Tandjies, die gelukkige haai.
Waarvan ek nog nie vertel het nie, is van ons nuutste inwoner.So ongeveer ‘n maand gelede het hy net hier opgedaag in die hawe: Robbie die rob.
Hier op Struisbaai sal ‘n mens soms ‘n rob in die water sien baai, maar nooit eintlik op die strand nie.As hulle hier lê is daar iets verkeerd en Robbie het swak en maer gelyk. Iets was verkeerd.
Hy het in sy toestand seker die beste plek moontlik vir homself uitgesoek: die hawe, waar daar gedurig vissersbote vol vis inkom, waar seuntjies op die kaai visvang, waar baie besoekers hom wil bederf en waar die visfabriek die visbinnegoed vir die voëls, die pylsterte en ook vir Robbie gooi.
Hoe het hy hier gekom? Agter die reuk van ‘n vissersboot se aas aan geswem? Niemand weet nie, maar toe ons weer sien, is hy hier. Eers het hy reg in die pad van die boottreilers gelê, soms luid gebulk en nader gewaggel as hy enigsins kos geruik het. Die restourant eienaar was dadelik bekommerd oor sy klante. Twee oseane akwarium is geskakel, Natuurbewaring en die veearts is geskakel, maar dit lyk of daar geen ander plek vir Robbie is , behalwe Struisbaai hawe nie – en soos mense is, het die vissers en die viswinkel se mense hom begin voer.
Daar is gou agtergekom wat fout is. Robbie is blind. Sy oë is die heeltyd toe, net sy linkeroog maak nou en dan op ‘n skrefie oop, maar dit is duidelik dat hy die vis wat voor hom neergesit word, ruik en nie sien nie.
Nou, na ‘n maand, is Robbie spekvet en baie sterker. Hy swem baie meer en is beslis besig om sy kragte te herwin. Dit lyk ook of die mense besig is om hom meer te aanvaar – hy is ‘n groot toeristeaantreklikheid!
Tog is dit vir my ontstellend om te sien hoe ongelooflik ongevoelig sommige mense is. Hulle sal hom met sand gooi of klippies, enigiets om reaksie te kry. In die begin het die vissers hom met ‘n besem uit die pad probeer kry van die boot treilers – ‘n onbegonne taak, want daardie logge liggaam kan ‘n mens nie wegvee nie! ‘n Jong tiener het hom een Saterdag begin skop en gou is die polisie gebel.Hulle het hom in hegtenis geneem en op die koop toe ook sommer dagga by hom ontdek .
Ek hoop egter dat die mense aan Robbie sal gewoond raak, soos hy aan hulle en dat hy veilig in die hawe sal bly so lank dit vir hom nodig is. Beter plek met meer kos gaan hy nie kry nie, en ons hoop sy lot is beter as die van Struisbaai se pelikaan. Maar dis weer ‘n ander storie vir ‘n ander keer.
Die see hou nooit op om te verras nie. Liewe vakansieganger, gaan soek seeskatte en wondelike herinneringe. Die beste plek om te begin, is sommer net hier: in Struisbaai se hawe!
Reblogged this on Accommodation:Struisbaai and Agulhas Akkommodasie: Struisbaai en Agulhas.
Robbie die Rob het definitief op die regte plek opgeëindig! Ek hoop ook dat hy ‘n lang en gelukkige lewe by julle sal hê. En daar is duidelik baie mense wat vir hom uitkyk 🙂 So mooi.
Ek het my hart verloor in Struisbaai! Agulhas se Wine Boutiqe , alles daar was vir my sò spesiaal! As ek darem kon aftree…..!!!
Ai, eendag, ne, Tertia! Vir my is dit die beste plek op aarde.
Amper vergeet ek van die lekkerste vye konfyt wat ek spesiaal daar by ‘n oom bestel het!
En dan is hier mos suurvytjiekonfyt ook , ne!
Oeeee suurvytjiekonfyt. Hoe lus het ek nou daarvoor!
Dankie vir ‘n baie interessante storie. Ek sal vir Robbie gaan hello sê.
So gee ek eendag ‘n botteltjie suurvytjie konfyt vir my Transvaal familie present – ‘n kleinnood uit die hart van ons area -iets wat hier suinig en met respek geeet word – ‘n delicacy. En ‘n paar maande daarna vertel sy my dat hulle nou nie juis beindruk was nie – en effens neus opgetrek het daarvoor en dit toe sommer vir die tuinjong gegee het!!! Ai!
Nou die dag vir Robbie en Parrie saam in die vlak water gesien. Wat ‘n voorreg.
Ek dink maar net Suurvye het ‘n smaak wat dalk vreemd is vir iemand wat dit nie ken nie. Maar ek? Ek is MAL daaroor!
En ek ook!!!
Lekker by die see…
Ja,, jy sal weet, Maankindjie! Die see daar by julle is seker net so spesiaal.
Dit was nou ‘n lekker storie!!! Net die beste vir Robbie 😉
Terug pieng: Dolfyne op Struisbaai | Seegogga se Bloggie
Mooi storie. Ons kom gewoonlik Juniemaande Agulhas toe en sal vir Robbie gaan opsoek as hy nog daar is.
Hoop julle het hom gesien? Hy ws vir ongeveer 3 weke weg, maar hwet laas naweek weer opgedaag!
Nee gits, ek was toe net een keer by die hawe en het hom toe sowaar gemis!
Toe daar so baie vakansiegangers met die langnaweke gekom het, het Robbie verdwyn – vir so 3 dae, toe is hy weer terug in die hawe. Ek was nou ‘n week laas daar en ek hoop maar hy is nog steeds daar. Ek gaan Vryadag weer en sal vir hom gaan soek.
Jammer jy het hom gemis. Hy is skaars deesdae- ‘n teken dat hy gesond word. Hy was onlangs vir 3 weke weg en toe daag hy weer op.
Hoop daai skopperige laatie is deeglik gestraf.
Ek hoop ook so!