Nou die dag het Kameel vertel van haar dogter se troue, en hoe die pragtige blomme wat hulle bestel het, toe by die verkeerde troue opgedaag het. Dit het my laat dink aan my eie en ook my 3 dogters se troues. Elke troue het sy eie katastrofe!
My eie troue was vol senutergende haakplekke. Eers het die dame wat die rok gemaak het, dit regtig verskriklik verbrou en op die ou einde was dit heeltemal te kort! Gelukkig het ek ‘n ma gehad wat kon toor met die naald, en deur ‘n stukkie in die middel in te las, aan die bostuk( wat gelukkig ook te kort was) en onder die belt gedeelte, kon sy die nodige lengte gee. Die los kant bostukkie het sy sommer heeltemal oorgemaak want ek het die spulletjie so bekyk en maar ekstra lap gaan koop, omdat ek geweet het ons gaan dit nodig hê.
Die troue was in ‘n markiestent in my ouers se groot seetuin op Struisbaai. Die dorpie was klein met min fasiliteite, so 33 jaar gelede, om presies te wees. Die Motel het pragtige ovaal eikehouttafels in hulle ontspanningsarea gehad, en die het my ouers lank voor die tyd met hulle gereël en bespreek vir die groot dag. Die dag voor die troue is die tafels afgelaai , en ons het dit mooi gedek- in stormwind, soos hy net op Struisbaai kan waai – julle ander Overbergers sal weet waarvan ek praat as ek sê dat die mans deur die nag kort kort moes gaan tentpenne vaskap en houtbalke onder op die seile pak om te keer dat die tent in ‘n valskerm verander.
Die volgende oggend het die wind al sagter begin waai, en toe ek 10 vm moes trou, was dit net ‘n ligte briesie – ‘n pragtige dag – behalwe nou vir die groot katastrofe.
Eers moes my aanstaande die wittebroodskar aan die brand stoot die afdraande paadjie af. Ons het met die vliegtuig van Johannesburg afgekom en sou met my pa se motor (waarmee hy nooit ry nie, hy hét mos sy seebakkie) met vakansie gaan. Na die karstotery en gepaardgaande senuwees, kry hy so warm dat hy sommer sy hempsmoue oprol.
Toe ons nou net mooi amper gereed is om kerk toe te vertrek, kom die Motel se vragmotor daar aangejaag. Hulle het vir ons verkeerde tafels gegee, en hulle het dit nou nodig vir ‘n ander funksie. Hulle kom hulle tafels haal en bring vir ons ander. Al die gepratery help net mooi niks, die motel laai hulle mooi eikehoutafels op en laai aaklige metaal tafeltjies af . Daar was geen tyd vir ons om iets aan die saak te doen nie, en my ouers vra my nefie en sy studentemaat om maar die troue te mis en gou die tafeltjies reg te sit voor die mense kom. Daar is min tyd oor. My aanstaande pluk sy baadjie aan en weg is almal kerk toe.
Dis toe ons uiteindelik weer by die markiestent kom, dat ons sou sien wat studente as prakties beskou: die bliktafeltjies was in ‘n lang ry in die middel van die markiestent af gepak: geen tafeldoek of blom in sig nie, en bo-op die tafeltjies was die bokse en kratte drank net so gepak vir maklike uithaal en drink!
Ek wou natuurlik iets oorkom, maar wat kan jy doen? Op die ou einde het ons tog heerlik troue gehou. Toe ons na die tyd uitgeput onspan , en my man sy baadjie uittrek, sien hy dat hy nog steeds sy opgerolde moue onder sy baadjie gehad het. In die haas het hy skoon vergeet om hulle af te rol en vas te maak voor hy sy baadjie aantrek.
Nouja, vandag 33jaar later, kan ons maar net oor alles lag.
Ek wil nou vir Slakkelak vra om vir ons van troukatastrofes te vertel, want sy is juis so stil deesdae. Waar is jy Slakkie?
Dankie seegogga, ek het nou heerlik gelees…. en jammer om te sê gelag. Sou dit nie ‘n lekker boek maak om al die troukatastrofes saam te bind nie?
Wil ook nog van die ander kinders se troues skryf.
Sien uit na katastrofe 2 😉
ja, Kameel!
😆 Daai jare was dit ‘n GROOT katastrofe. Vandag sal ek sommer die gaste vra om gou te help tafels dek! (Ek wonder darem?)
Wel, daar was nie eintlik tyd nie. Dit was ‘n buffet ete en die kostafel onder in die huis naby die grasperk, was gelukkig ongeskonde en mooi. Die mense het het maar sommer so op hulle skote sit en eet en rondgestaan ens….