Die taal van die ouderdom

                             Memories

Summertime’s so long ago

it’s now winter in my soul.

The future holds so little charm

but sweet memories are a balm.

Memories of days gone by

memories of you and I:

A bond so unique, so rare,

                                                          with such a lot of tender care….

                                                So here I sit day by day

                                                   dreaming the time away,

                                                        missing the summers of long ago,

                                                it’s now winter in my soul.

Posted in die tale wat ons praat, English blogs, gedigte en rympies (seestrome van verlange) | 4 Kommentaar

Ouma se bababoek, brief 8. ‘n Paar praktiese tips en dag versus nag

Liewe Leanie, Annika en Lienkie

Goeie aarde, hierdie bababoek is baie deurmekaar, want die tweeling het mos bietjie gou gekom en die ouma het ‘n bietjie stadig geskryf, dus is alles glad nie in volgorde nie.

Dus skryf ek gou hier ‘n paar praktiese dinge, al het ek nog basiese beginsels at ek wil beskryf.  Jy weet dit seker al Leanie, maar aangesien jy, Annika, nou daar help en jy, Lienkie, nog dalk ook eenfag Mamma gaan word, skryf ek dit maar.

Slaaptyd: Deesdae glo die wat weet, dat babatjies op hulle ruggie moet slaap. Vroeer was dit taboe en moes hulle op hulle sy of maag slaap. Julle het op julle sytjies grootgeword. Een slapie op die reggtersy, die volgende slapie op die linkersy.Geen kussing word gebuik nie,omdat die babatjie mag versmoor. Aangesien ‘n babatjie vanself altyd met sy koppie sywaarts le, is rug seker reg, maar ek dink tog mens moet seker maak dat hy nie elke keer sy koppie in dieselfde rigting draai nie. Ons wil nie skewe koppe he nie! Ek glo ook nie sywaarts is verkeerd nie, dit voorkom dalk weer plat koppe!. As ‘n babajie styf toegedraai word soos pasgebore babatjies gedoen word, sal ek nie die maagligging aanbeveel nie. Dit moet erg ongemaklik wees. Sodra hy egter los le en self sy koppie kan lig en beweeg, geniet hulle soms hierdie maagligging, soos klein Markus ook in die hospitaal gedoen het. Maar dan moet sy armpies en beentjies los wees sodat hy hulle kan beweeg soos hy wil.

Sing gerus vir jou babatjie. Jou stem maak hom rustig en later assosieer hy waarskynlik ‘n sekere liedjie met slaaptyd. Wieg? Vroeer het hulle mos wiegies gemaak wat soos ‘n swaaitjie liggies een en weer geswaai het, en dan het die babatjie salig geslaap. Hulle hou hulle daarvan om gewieg te word of heen en weer ‘n stootwaentjie gestoot te word. Dis egter soms ‘n tydsame proses en daar was selfs een of tweekeer wat ons met die motor om die blok gery het om jou aan die slaap te maak, Leanie!  Die ideaal is seker dat ‘n mens die babatjie in die cot sit en dat hy self so aan die slaap raak. Ek kon dit nooit regkry nie, behalwe met Annika wat om een of ander rede nie van wieg gehou het nie. Ek moes wel sing vir haar. Met my stemprobleem van destyds het “doedoe babatjie”  en lamtietie damtietie alles so op een noot uitgekom- ‘n basnoot!, maar babatjies is nie kieskeurig nie, hulle wil net daardie liefde en nabyheid he.

Ek glo GLAD NIE daaraan om ooit ‘n babatjie in ‘n cot te sit en te laat le en huil tot hy slaap nie. Ek dink dis gemeen en wreed en ek kan nie glo dat party bababoeke dit voorstel nie. Ek was eenkeer in ‘n huis waar ek ‘n mamma dit  sien doen het en ek wou mal word. Ek dink dit druis in teen alles wat liefde en versorging beteken, en is doodseker daardie arme kindertjies het ‘n sielkundige knou gekry.

Wakkertyd. Geleidelik bly babatjies al langer en langer wakker. Nou is dit speeltyd. Snaakse geluidjies mooi prentjies , sagte speelgoedjies, musiek ag, alles waaraan jy kan dink  en baie praat! Babatjie kan gestimuleer word met kleure, teksture, vorms, klank en taal, want dis mos wat alle boeke voorstel: Stimuleer jou babatjie soveel moontlik en bevorder so sy intelligensie. Dis wel waar, maar wat die boeke nie se nie, is dat normale speel en troetel nog meer waardevol is as enige iets. Ek het altyd my verstom hoe jou pa met jou kon speel, Leanie, en jy was maar  2 weke oud!  Lag, snaakse geluidjies en grappies en hy het dit net soveel geniet soos jy!

‘n Klein woord van waarskuwing. Met klein babatjies moet mens nie  rof speel deur hulle bv te vinnig te beweeg nie. Dis gevaarlik as hulle koppies te vinnig ruk.

Die probleem met ‘n mamma wat self huiswerk doen, is dat tyd so beperk is en die  werk so baie. Hierdie wakkertyd van die babatjies is egter belangriker as ‘n netjies huis, belangiker as fyngebak of ingewikkelde kos op die tafel. Daar het tannie Letta en haar ouers ‘n goeie voorbeeld gestel. Die huis het gedurig vol speelgoed gele, dit was moeilik om een mis te trap. Die kindertjies was meestal maar vuilerig met deurmekaar hare. Eenkeer het ‘n potplant in haar sitkamer omgeval en die grond het uitgeval. Die volgende week was die hopie grond steeds daar op die vloer, maar nou was dit ‘n sandput. Tannie Letta was miskien ‘n uiterste geval, maar haar kinders was sielsgelukkig en emosioneel gesond en het ook later op universiteit baie goed gevaar.

Jou kindertjies is nou nog te klein vir sandputte, maar hulle  is nie te klein om mee gespeel te word nie!

Dagtyd en nagtyd . Die mens is ‘n dagdier, daarom kan ons nie in die donker sien nie. Die koms van elektrisiteit het ons ure verskuif, maar ons is biologies steeds nes die hoenders. Donker:slaap, lig:wakker. Daarom slaap ons ook baie lekkerder in die donker, en daar is selfs navorsing gedoen wat bevind het dat dit werklik donker moet wees as mens behoorlike slaaprus  wil kry vir volgehoue goeie gesondheid.

‘n Pasgebore babatjie slaap egter dag en nag omtrent eweveel. Hy moet  geleidelik leer dat nagtyd uitsluitlik slaaptyd is en dagtyd wakkertyd.  Daarom speel mens bedags met hom die kort rukkies wat hy wakker is, en gesels met om en wys vir hom goedjies.    Ek glo nie daaraan om hom bedags in ‘n donker kamer te laat le en slaap nie. Dis mos dag. Hy moet ook leer om te slaap met al die gewone daaglikse geluide wat bedags plaasvind- mense wat gesels, radio wat speel ens. As hy net gewoond is om in stilte en donkerte te slaap, sukkel die mamma baie en sluip jy heeldag soos ‘n skelm in jou huis rond of sit daar, te bang om te roer! As hy wil wakker word, moet hy maar wakker word, dis mos dag!( Maar ek weet uit ondervinding dat ‘n mens soms enigiets sal doen, selfs sluip, net om nie babatjie wakker te maak nie, omdat jy so min tyd vir jouself kry! )

Nagtyd is egter slaaptyd.  Die moeilikeid is dat babatjie nie altyd weet dis slaaptyd nie. Daarom glo ek nie daaraan om nou skielik die lig aan te sit as babatjie wakker word vir sy voeding nie.  Jy maak hom wakker! Jy maak ook jouself wakker! Dis goed om erens ‘n ganglig te laat brand sodat jy darem kan sien wat jy doen. Sit vooraf die doekies  gereed sodat doekruil sommer maklik sonder enige gesukkel in die donker skemer kan plaasvind. Jy maak net sagte sjuu-sjuu en ander fluistergeluidjies as jy met ou babatjie werk, dis mos nou slaaptyd, nie speeltyd nie. Doekie geruil, babatjie gevoed en SLAAP. Daarom is dit baie makliker en vinniger as babatjie se cot langs jou bed saan en  jy self nie hoef op te staan nie. Elke opstaan maak jou verder wakker en jy verloor ongelooflik baie slaap. As die doek nie sopnat is nie, tel sommer babatjie by jou in die bed sonder dat jy opstaan of doekruil en slaap salig verder terwyl hy drink en self lekker slaap. so kry julle almal meer rus.   Babatjies is die beste nabootsers denkbaar. As julle slaap, slaap hulle ook salig.

Dis nou  wetenskaplik bewys dat babatjies by die mamma langer slaap, meer drink, en rustiger babatjies is en later meer selfstandige en onafhanklike volwassenes. Ek het dit prakties self evaar met julle 3, net jammer so min mense wil dit glo, omdat hulle al die jare so aparte slaap verkondig het en self so grootgemaak is. Hoe meer ek na verskillende bevolkings kyk, lyk dit vir my of dit slegs die hoogontwikkelde blanke rasse het wat hierdie verkeerde tradisie van aparte  babakamers het vir pasgebore babatjies en self onder hulle glo die meeste mammass steed dat die wiegie langs die die bed moet staan..

Wees tog nou asseblief  modern en luister na hierdie nuutste tegnologie( wat eintlik so oud soos die aarde self is, ne!) en sit die cot lang jo bed- met albei babatjies in. Hulle kan koppenent , voetenent slaap as jy hulle nie langs mekaar wil het nie, maar langs mekaar is ook nie verkeed nie- hulle is mos boeties! Beproef dit as jy moeg is. Op hierdie blog was dit vir my opvallend dat daar nie een persoon is wat besware teen saamslaap geopper het nie, maar dat daar heelwat voorstanders daarvan was: Almal mammas wat uitgevind het wat die maklikste en beste vir hulle gewerk het. So word mens ook nie kwaad as jou babatjie wakker word nie, want hy pla regtig 100% minder! En jy het meer krag omdat jy lekkerder slaap! En almal voel veiliger, liefdevoller, gelukkiger en meer uitgerus.

Badtyd: Ai watter heerlike tyd om met jou babatjie te speel! Ongelukkig het ek al dikwels agtergekom dat hospitale nie altyd vir die nuwe mamma mooi leer nie, en dan is die babatjie ongelukkig as hy bad, en dis niks lekker nie. Dis baie belangrik dat die babatjie die hele water-ervaring moet geniet, en hulle doen dit ook, as ‘n mens net reg te werk gaan.

Toets eerstens die water met jou elmboog, nie met jou hand nie. Die water moet veltemperatuur wees en jou elmboog sal skaars voel dat hy natword as die temperatuur reg is.  ‘n Nuwe babatjie skrik maklik vir nuwe goed. Daarom draai jy hom eers in sy doekie toe sodat hy veilig voel, en dan laat sak jy hom met toedraaidoek en al STADIG in die water in in jou arm. Hy moet dit skaars voel. Nou vou jy die doekie STADIG oop sodat hy geleidelik aan hierdie nuwe sensasie gewoond raak. Sjoe! Iets voel mos nou baie lekker! Siedaar babatjie geniet die bad! Na ‘n paar keer so, is die doek nie meer nodig nie, en babatjie is dol oor badstyd!  As jou babatjie dit nie geniet nie, doen jy erens iets verkeerd. Begin die volgende dag dan voor af, soos bo beskryf. Badtyd is speeltyd! Wanneer die outjie nou reeds gewoond is dat dit lekker is in die water, kan begin word om dun straaltjies water op sy koppie te gooi sodat dit sommer oor sy gesiggie ook loop. Pasop om hom nie skrik te maak nie. Hy moet egter gewoond raak aan water oor sy kop en gesig. Hy moet mos eendag hier in die see kom swem. Badtyd is gewoonlik VOOR ‘n voeding net voor slaaptyd. As babajie se velletjie  lekker skoon is en lekker skoon kleertjies aan het, slaap hy gewoonlik heerlik. Daarom is badtyd tradisioneel saans so 5-6nm se kant. Dis egter nie die wet van die mede en perse nie!Hou egter altyd jou badtyd op dioeselfde tyd van die dag. om ‘n mate van roetine te probeer bewerkstellig. Sommige mammas voer ook hulle babatjie’n bietjie voor badtyd. Ek self het dit nooit gedoen nie, ( nooit daaraan gedink nie!),maar as julle uit daardie water uitgekom het, was julle altyd dadelik rasend honger!

Maak seker dat jy nie produkte gebruik wat jou baba se velletjie irriteer nie. Gewone aquasroom is die minste irriterend en ook die goedkoopste. Aquasroom vorm die basis van alle rome, maar sonder die byvoegings. Baie babaprodukte bevat bv  lanolien, iets waarvan Annika se velletjie nou net mooi niks gehou het nie.

Drinktyd. Nouja, ons weet noual dat voeding op aanvraag die regte ding is. Normaalweg ruil mens doek om net voor voeding, omdat baba meestal aan die slaap raak terwyl hy drink. Ja, moedersmelk is so goed soos slaapmedisyne! As jy babatjie egter te honger raak, voer maar eers. Ek het gehoor babatjies kry iets soos maagpyn as hulle honger is. Hulle is nie soos ons wat kan uithou nie, hulle wil kos he: NOU!!!

Wanneer baba borsmelk drink , is sy koppie gewoonlik vanself in die regte posisie, nl effens hoer as die res van sy lyf. As hy egter bottel drink, is dit belangrik dat jy hom ook so vashou. Moenie jou babatjie neersit met ‘n bottel nie, hy het die koestering nodig. Verder moet hy nooit plat le en drink nie. Die melk loop dan by sy oorpypies in en hy kry maklik oorontsteking, wat baie seer is. As jou babatjie niks makeer nie, maar die heeltyd vasgehou wil word en kerm as hy le, is oorpyn dikwels die oorsaak. Dis seerder as hulle le as wanneer hulle regop gehou word.

Dan moet die bottel ook in die regte posisie wees,nl die melk moet die tietie heeltemal vul en nie net halfpad nie, ander sluk hy wind.- met ongemaklike nagevolge.

Die meeste babatjies is maar geneig tot windjies  na ete en moet eers ‘n bietjie liggies op die ruggie of onder die boudjies getik word om die windjies te laat uitkom. As so ‘n windjie opgebreek is, voel babatjie sommer baie beter en slaap lekkerder.

Maar wag, dit lyk my so na badtyd hier, en dus se ek eers totsiens, tot volgende keer. Dis tyd dat ek weer ‘n basiese beginsel neerskryf , ‘die belanrikste een van almal. Tot volgende keer dus, goeienag.

Baie liefde

Mamma

Om brief 9 te lees, klik hier.

Posted in ouma se bababoek ( ouerleiding) | 1 Kommentaar

Ouma se bababoek, brief 7: Update oor borsvoeding, reels, en roetine.

Liewe Leanie, Annika en Lientjie

Ag hierdie ouma is tog so bly die ou tweelinkie is uit daardie nare broeikaste en by die huis! Die beste broeikas is die wereld is mos die baba se eie mamma!

Maar nou kom al die verantwoordelikhede skielik op jou en jou man af, Lienkie, en dis nou sommer dubbele verantwoordelikede vir julle, wat nie ervare ouers is nie!

Daarom wil ek jou nou sommer eers gerusstel Lienkie.

Ek weet dat die hospitaal sekere standaard roetines het. Dis, in teenstelling met wat julle dink, nie noodwendig die heel beste vir die babatjies nie, wel die maklikste vir die hospitaal. Die verpleegster het eenvoudig nie tyd om 24uur lank een babatjie op te pas nie. Hulle het nie tyd om met ‘n duppertjie voggies in die mond te drup nie, of heeltyd te monitor  of rond te dra nie. Sekere praktiese gewoontes word ook in bababoeke geskryf en ek het dit ook al vir jou vertel, maar reels is mos gemaak om gebreek te word- deur niemand minder nie as die baba self!

Ek kry nou die dag so ‘n-mail grappie. Daar staan geskryf: New ruler of the world. Onder die opskrif is ‘n prentjie van ‘n babadogtertjie met ‘n dummie in die mond en rattle in die hand. Inderdaad!!! Julle gaan van nou af regeer word! En julle het sommer twee wereldleiers!

Dit werk so. Tradisioneel slaap die babatjie 4 uur lank . As hy wakker is, word hy mee gespeel en weer drooggemaak net voor sy volgende voeding, omdat hy gewoonlik aan die slaap raak terwyl hy drink, en dan wil jy hom nie pla nie. As ‘n babatjie slaap- los hom uit! Moenie slapende honde wakkermaak nie! Dan slaap hy soet vir die volgende 4 uur.

Maar ai, dit werk ongelukkig net nie so nie! Die babatjie is die nuwe ruler en hy besluit dalk hy wil elke 2 uur kos he, of selfs weer na ‘n uur!! ( of ‘n halfuur!) Hy besluit dalk om sy roetine te wissel deur net een uur te slaap, of hy besluit dat hy na hy gedrink het ‘n hele ruk eers wil kreun en steun. En jy as mamma sal vriendelik dog ferm gedwing word om dit maar so te aanvaar, dis nou te se as jy ‘n gelukkige babatjie wil he.

Daarom wil ek vir jou die raad gee. Dis goed om elke dag op dieselfde tyd badtyd te he, gewoonlik net voor jy graag wil he dat hulle die aand moet slaap, want hulle slaap gewoonlik lekker na bad en voer. Daar is egter mense wat dit verkies om hulle babatjies soggens te bad. Dis  goed om te bad voordat jy voer. Sommige  babatjies word egter so gou honger dat dit beter is om hulle te voer of halfpad te voer VOOR  jy bad. Dis goed om doek om te ruil voor jy voer, maar sommige babatjies is so honger dat dit beter is om hulle eers te voer voor die doekruil. Dis goed om die babatjie elke aand op dieselfde tyd te laat slaap, maar sommige babatjies is net nie dan vaak nie! Dis goed om hom elke keer sy200ml( of wat ookal ) te laat dink, maar babajies is nie altyd ewe honger nie!!

Dus wil ek vra: laat jou lei deur jou babatjies. As hulle honger is, voer. Moenie hulle laat wag nie, hulle moet dan nou juis gewig optel! Moenie jou vasstaar teen milliliters nie, kyk of jou babatjie tevrede is, en genoeg piepie.   Moenie bekommerd wees oor doeke, volumes en horlosies nie, wees bekommerd oor jou babatjie se geluk. Daar is niks wat so ontstellend is vir baba sowel as mamma, as ‘n huilende, ongelukkige babatjie nie. Ek self het eenkeer my bloes oopgeruk dat die knope die kamer vol spat, omdat jy van honger gehuil het, en ek nie die knopies vinnig genoeg kon oopkry om te voer nie. Die mamma het ‘n dierlike instink wat nie onderskat of onderdruk moet word  ten koste van die babatjie nie.

In Suid-Afrika is daar op elke dorp ‘n kliniek en tradisioneel neem die mamma elke week haar babatjie kliniek toe. Dan word hy geweeg en ondersoek en sy gewig word op sy gesondheidskaart ingevul. Daar kry hy ook sy inentings op sy tyd en die suster is daar om om by te staan met enige vrae. Dit word elke week gedoen en dis ‘n gratis diens. Ek weet nie hoe dit in ander lande is nie, maar vind asb uit. So leer mens ander mammas ken, en word jy elke week gerusgestel dat jou babatjie na behore groei.

‘n Groot probleem vir nuwe mammas is om te weet hoeveel hulle babatjies drink as hulle borsvoeding doen. Dis regtig nie so belangrik nie!  Voer hom so dikwels as wat hy wil drink, selfs al is dit net ‘n bietjie op ‘n slag. Hy sal kla as hy honger is en tevrede wees as sy magie vol is.

Dit is baie belangrik  dat jy besluit of jy bors- of bottelvoeding wil doen.   Borsvoeding is natuurlik die beste, nie net alleen vir die voordele van die moedersmelk nie, maar ook vir die mond en kaakontwikkeling, die fisiese kontak en die emosionele sekuriteit wat daarmee gepaard gaan. Babatjies word verwar as jy in hierdie vroee stadium  die bottel bysleep, omdat die suigaksie verskil, en verwerp dan die bors, tot nadeel van homself. As jy onseker hieroor is, kontak La Lesche, maar ek het dit destyds geleer, en dit nou weer by die arbeidsteapeut gehoor. Bors en niks anders nie, as jy wil aanhou met borsvoeding. Borsvoeding stimuleer ook melkproduksie , wat weer goed is vir volgehoue borsvoeding, maar ook vir die hersel van jou figuur! Dit laat jou baarmoeder beter saamtrek, herstel  en krimp tot sy vorige grootte. Die wagwoord is dus: hoe meer hoe beter!

Ek sou se dat jy ‘n bottel net moet gebruik vir water of flou rooibostee, as jy dan voel jou babatjie het iets anders as melk nodig. Oefen ook met ‘n koppie as jy krag het, maar los maar liefs die bottelvoedings.

Ten slotte wil ek graag he jy moet weet dat ek hierdie goed nie sommer net se omdat ek so dink nie. Ek het lank gewerk in skole met kinders wat fisiese, neurologiese en/of emosionele probleme het. Saam met arbeidsterapeute, fisioterapeute , spraakterapeute en kinderartse en neuroloe het ons ‘n span gevorm waar die kind of baba en sy plan van aksie volledig deur die span bespreek en beplan is. Algaande leer ‘n mens heelwat van die moets en moenies, en ek hou ook daarvan om op te lees as ek nie weet nie. Verder het ek mos julle drietjies ook grootgemaak. Ek is die eerste een wat sal se dat ek nie weet nie, as ek onseker is. Ek glo daaraan om kenners te raadpleeg as ek nie is nie, en nie net voort te gaan soos tradisioneel die gebruike is nie. Ek glo dat ‘n mamma haar eie oordeel moet gebruik nadat sy seker gemaak het dat sy kennis het, omdat kennis( veral sielkundige kennis, want dis’n jong beroep wat dikwels op bespiegeling berus eerder as konkrete navorsing) wat ‘n mens inwin nie noodwendig altyd korrek is nie. So het hulle jare lank rigiede voedingprosedures beklemtoon, maar dit later weer verwerp en teruggegaan na die natuur. So is dit nou ook met die lawwe idee dat ‘n babatjie alleen heelnag in ‘n donker kamer moet le en slaap waar niemand kan hoor as hy ongemaklik is nie, of andersom die uitermatige gebrek aan dissipline wat deur Spock voorgeskryf is.

Ek glo dat jy moet teruggaan na die natuur, as jy onseker is( God maak nie foute nie) en dat jy moet konsentreer op jou babatjie en ‘n positiewe band met hom. So ontwikkel jou instinkte sterker. Die broeikas en al die pype en goeters het dalk hier bietjie ingemeng, maar dis nou  tyd om absoluut te konsentreer op jou babatjie. Jammer vir die wat nie saamstem nie, maar ek glo hulle het nou eerste preoriteit, bo ou man , jou kuiergaste of enige sosiaal aanvaarde konvensies. Hoe lank is die kindjie ‘n pap babatjie? En hoe lank moet hy leef met emosionele issues, positief of negatief, wat hy hier opgedoen het? Heelwat later, as jy en jou babatjies gevestig is in julle borsvoeding, julle emosioele bande en julle fisiese herstel, kan jy weer begin konsentreer op ander goed. Nou is dit jy en jou babatjies, Leanie, en moenie dat sosiale verpligtinge , huis skoonmaak, man of selfs ek inmeng nie. Klim in die bed (met jou babatjies) en slaap soveel jy kan, speel met hulle soveel as wat jy wil, troetel hulle soveel jy kan, laat hulle drink as hulle “e”se, en geniet hulle.

Later, geleidelik, sal jou lewe vanself na normaal terugkeer. Nou, vir die volgende maand of so is dit net baba en ma-tyd!

Baie liefde en soet slapies saam met die tweeling!

Mamma

Om die volgende brief te lees, kliek hier>

Posted in ouma se bababoek ( ouerleiding) | 6 Kommentaar

Ouma se bababoek, brief 6: Tweeling! Update oor saamslaap en liggaamlike kontak

Liewe Leanie, Annika en Lienkie,

Wel. eers wil ek se:Leanie en Riek, baie baie geluk met die geboorte van julle tweeling!!! Sjoe, hulle is twee pragtige ou seuntjies, en hierdie ouma is sommer klaar lief vir hulle. Dis regtig wonderlik hoe vinnig hulle herstel het na so ‘n vroee geboorte. Dit gee ook sommer ‘n klein ideetjie van hoe vinnig ‘n babatjie ontwikkel.

Nou is jy sommer ook die eerste mamma van julle drietjies, Leanie, en eensklaps, sonder dat jy nou juis ‘n keuse het, verander jou hele lewe dramaties. Skielik is jou man nie meer die enigste belangrikste man in ou lewe nie, jy het nou ook sommer 2 VIP’S. waaraan jy feitlik al jou tyd aan gaan bestee!

Onthou maar weer die gesegde: Jy het net een kans om jou kind reg groot te maak.

Ek weet jy wil dit graag na die beste an jou vermoe doen met die kennis tot jou beskikking. Niemand is perfek nie, ek was ook allermins die perfekte ma, maar ons probeer mos almal, so moenie jouself te veel kasty nie, maar dit help tog om op te lees oor die jongste bevindings en beginsels en dan natuurlik verder die moederlike instink.

En raai nou net wat is die jongste bevindings? Die jongste wetenskaplike navorsing oor kindersorg bewys ( na jare se bespiegel en toetse en proefnemings en waarskynlik duisende rande ook) presies die wat in die oertye getel het, nl hoe nader aan die natuur, hoe beter!

Dit beteken dus: hoe kaler, hoe beter, hoe nader aan die mamma, hoe beter, en borsvoeding op aanvraag!

Ek het pas met ‘n jong arbeidsterapeut gesels. Volgens haar is dit nou wetenskaplik bevind dat dit beter is as die babas by die mammas slaap en wel om die volgende redes:                 1. Die mamma se hartklop help om die baba se hartklop te reguleer. Die baba se hartklop is dus meer reelmatig en werk nie so hard nie. (Die een hart leer dus die ander?).

2.Die mamma se liggaamshitte help om die babatjie se liggaamshitte te reguleer. Word die babatjie se lyfie te koud, word die mamma se liggaam warmer om hom warm te maak, en word die babatjie te warm, koel die mamma se lyf hom weer af. Fantasties ne, die natuur? Velkontak is belangrik, en daarom is min klere belangrik: vel tot velkontak moet dit wees. Daarom is dit veral vir vroeggebore babatjies belangrik om by die mamma of selfs op die mamma te le. Magdalene se vroeggebore klein seuntjie moes twee weke lank net so op sy mamma le in die hospitaal, eso  tussen haar borste. Hospitale verskil hieroor omdat almal nie genoeg fasiliteit het om dit te doen nie, maar dit is die ideaal. Soveel moontlik by die mamma in die bed, of so nie in ‘n spesiale buidelsak voor op haar bors, as die mamma rondloop.

3. Babatjies slaap rustiger en meer  en meer weerstandig teen siektes by sy mamma as alleen. Sodoende groei hy gouer en beter en is gelukkiger( en die ma kry ook meer slaap in!).

4. Wiegiedood kom minder voor by babatjies wat by die mamma slaap. (Lg is op hoorse deur iemand wat erens iets gelees het, maar ek sal gaan oplees daaroor. Jy kan ook maar oplees wanneer jy kan, daar sal wel goed op die internet beskikbaar wees.)

5. Die ma se asemhaling reguleer die babatjie se asemhaling.

Nou toe nou!!! Alles wat die oermamma en al die soogdiere nog altyd INSTINKTIEF gedoen het, is sowaar toe  nog al die tyd die beste! ( Ten spyte van eeue se ontwikkeling van die mens, die hoogsontwikkelde wese van almal op aarde!) Hulle het dus nou na jare se navorsing uitgevind wat elke hond, kat en bobbejaan nog altyd geweet het.

So glo dit nou maar asseblief, want dis mos nou wetenskaplik bewys. Hopelik sal die moderne mens wat so ver van die natuur af geleef het, nou weer terugkeer na die natuurlike wese en sy natuurlike instinktiewe maniere, soos God hom geskape het.( En hierdie wetenskaplike bewyse het sommer nog iets bewys ook: God maak nie foute nie!)

Dus, liewe Leanie, BACK TO BASICS! Jou babatjies is vroeggebore, baie klein en nog nie heeltemal stabiel wat liggaamshitte betef nie. Vergeet asb van die standaardkonvensies en gaan terug na die natuur. Dis die beste ding wat jy vir jou babatjies kan doen en jy sal sien daar is niks lekkerder as om presies dit te doen nie. Dit is ‘n aanpassing, ja, en vir die pappa ook, maar die lewe is vol aanpassings en hoe makliker ‘n mens aanpas, hoe beter. Dit is goed as die pa ook weet dat dit nou eers tyd is om die allerbeste vir die babatjies te doen, al strook die nie met wat ‘n mens altyd vooraf beplan het of soos jy self grootgemaak is  nie.

Lekker snoesig slaap langs daardie twee bondeltjies lewe!

Baie liefde.

Mamma.

OM NR 7 TE LEES, KLIK HIER

Posted in ouma se bababoek ( ouerleiding) | 7 Kommentaar

af-lyn, sonder reddingsgordel, vry en verlore

Nouja, na ek laas so lekker die trein ingehardloop het, gebeur daar toe iets: iets vreesliks. Net mooi so na die treinstorie, toe ek lekker goed voel oor my blog.

My laptop, wat my absolute plesier gegee het die afgelope amper 3 jaar, besluit dat hy nou genoeg gehad het.

Ek moes die tekens van ooreising raakgesien het. Sy traagheid om  te begin werk, sy koors met tye, en soms, sy stakings. So algaande het hy meer opstroppelos geword, al hoe meer lus om  sommer net niks te doen nie, en toe uiteindelik sy finale staking.

 Arme laptop- ek het jou ooreis! Maar al my mooipraat wou niks help nie, hy het besluit dat hy nou genoeg gehad het, en die computerdokter se dat hy dalk ‘n nuwe hardeskyf moet kry.

Ag, nee! Net nie dit nie!!! Ek moet mos oorsee, het nie geld vir siek computers nie!

 Nou probeer ek my man se nuwe laptop- ‘n ander soort as myne. Dis al  asof die lettertjies op ander plekke is- ek sukkel om hulle te vind. Ek kan ook nie e-mail nie, iets blok my outgoing mail. van telkom af, en die g-mail wat ek vir myself gestuur het as toets, is summier deur hom geklassifiseer as SPAM.Toe ek dit wil unspam, toe blok hy my heeltemal. Al my g-mail na myself word nou permanently gedelete!!!!

Maar die ergste van alles is dat ek saans, middernag, as dit my blogtyd is, nie ‘n laptop het nie, want dan is hierdie meneertjie besig om woeste musiek te maak by Jack’s, ons nightspot. Elke aand vanaf 7 nm tot so 4 vm sit ek hier- unplugged, af-lyn, en verlore. Ek sit nou hier in blues tyd en blues kry oor tegnologie!

 Maar nouja, alles het sy voordele ne,  ek het vir ‘n verandering weer tv gekyk en nogal ‘n mooierige ou fliek op tcm gesien.  Ek het die hele eetkamer oorgeskuif en reggepak, so ook my raamtafel en spaarkamer. Soms is dit goed op laptop-vry te wees, ne! 

Wees dus asb geduldig met die uwe.

Posted in Los opdrifsels | 5 Kommentaar

Krater 6, oftewel die dag toe ek die trein ingehardloop het

Sjoe, na al die stres van die afgelope rukkie, is dit tyd vir ‘n krater storie!

En dis ‘n ware storie, hoor!

Vooraf moet ek net gou eers my hele sportloopbaan vertel. In my jare in die laerskool moes die hele skool in rye van 10 staan en dan hardloop. Die eerste 3 of 4 is dan gekies om aan die kleuresport deel te neem.

Van sub A tot st 5 het ek TWEE keer TWEEDE LAASTE gekom. AL die ander kere HEEL HEEL HEEL LAASTE. Ek kan eenvoudig nie my bene so vinnig heen en weer beweeg soos ander mense nie. ( en as iemand vir my ‘n bal gooi, dan koes ek, maar dis nie hier relevant nie….) Maar nouja, ons het almal ons talente: ek kon darem teken.

Dit was so in 1976 dat ek in Johannesburg gaan skoolhou het na twee jaar op Kimberley.

Na daardie eerste vakansie laai my ouers my terug op die trein, die Transkaroo, gewapen met ‘n heerlike boks Nuy wyn, ‘n boks appels en ‘n pragtige groot gedraaide murgpampoen uit my pa se eie tuin.

Agtuur die volgende oggend stop die trein op Kimbeley stasie en ek besluit om my ou Kimberley-vriendinne te bel en te vertel waar ek is. Dit was die dae van mini’s en platformskoene. Myne was 4 duim hoog en rooi, maar ek was jonk, en klim gou die hoe trappe van die oorbrug om op die hoofperron te bel, want die ander perron se tiekieboks was stukkend.

Ons gesels nog lekker , toe hoor ek ‘n treinfluitjie blaas. Volgens my horlosie was dit nog nie tyd nie, maar vir veiligheid groet ek maar en gaan terug. Toe ek by die af- trappe van die brug kom, en my trein sien, wil my hart gaan staan: Hy beweeg|!!!

Ek hardloop die trappe twee-twee af en werk mooi uit hoe ek die handreling gaan vasgryp en my inswaai net soos die cowboys altyd in die flieks maak.

Onder gekom, hardloop ek langs die trein en mik- mik ek telkens na die handrelings, maar die trein beweeg al hoe vinniger. Die trokke gaan een na die ander al vinniger verby en uiteindelik besef ek dat ek my morsdood sal val as ek probeer.

Maar ek MOET hierdie trein haal – al my goed is daarop en ook my pa se pampoen!!! Ek hardloop nog so en wonder, toe kom die laaste trok verby. Die kondukteurtjie loer deur sy venstertjie. “Meneer, dis my trein!!! Kan hy nie stop nie????” skree ek en ek hardloop dat my skoene so klap.

Die mannetjie se kop wip terug. Kan hy, wat heel agter sit, vir die ou heel voor laat weet dat hy die trein moet stop?

Die perron het baie mense op wat hulle geliefdes kom afsien het en nou vir hulle treinvriende staan en waai. Ek hardloop hulle almal verby. As daardie trein nie stop nie, moet ek weer terug voor al hierdie mense! En wat van my pa se pampoen? Hy MOET net eenvoudig stop! So haak my brein vas.

Ek hardloop nog so, toe sak die grond so onder my voete weg…..die perron is klaar! Ek ploeter voort oor die klippe op my rooi platforms. Daar is geen manier wat ek nou gaan omdraai en weer voor al daardie mense verbyloop nie!. Die trein word al hoe kleiner in die verte.

Uiteindelik, net toe ek eintlik begin besef het dat die trein nie gaan stop nie- toe stop hy!!!! Sowaar!

Ek lê oop en hardloop volspoed ( oor die kluite met 4duim platformskoene) verder. Toe ek uiteindelik by die kondukteurswa verbykom, pop die mannetjie se kop weer uit:” Is daar nog mense?” vra hy. Ek stoom verby tot by my wa en kompartement.

Die passasiers, wat teen die tyd almal by die venters uithang, klap hande.

Heelwat later, in die eetsaal, kom die einste kondukteurtjie na my toe en vertel my hoe gelukkig ek was. Dis die Transkaroo die,’n sneltrein en eintlik stop hy nooit op ongeskeduleerde plekke nie.

‘n Jong meisie kom na my toe: “Is jy die meisie wat die trein ingehardloop het?” vra sy. “Ek het in my hele lewe nog nooit iemand so vinnig sien hardloop nie!”

Posted in kraters en ander skandes (humor), Treinstories | Tagged , , | 31 Kommentaar

Tweeling

Geboorte:  Die gevaarlikste tyd in jou hele lewe, se die wat weet.

Gister het ek ouma geword!!! Klein Markus en Willem  is hier in die wereld, in Holland  om presies te wees, en ek sit  ver ondertoe in Suid-Afrika, maar my hart is daar!

Omdat die tweetjies so vroeg is, is Willem( ek mag nie Willempie se nie) baie klein, maar ok. Markus is groter, maar sukkel met sy longetjies. Bid asb vir hom!

En hierdie ouma, wat hulle nog nie eers gesien het nie, is klaar so lief vir hulle! Wonderlik hoe die hart werk, ne. Bloed is beslis dikker as water.

(Ns.Ek voel natuurlik ek is nou bietjie laat met my bababoek. Sal maar kyk hoe ver ek kom.)

9 Kommentaar

Die taal van geheime liefde: 2.Verlange

Allenig moet ek bed toe gaan

dis donker in die gang

en ekke kan vir niemand se

hoe ek na jou verlang…..

Posted in die tale wat ons praat, gedigte en rympies (seestrome van verlange) | 8 Kommentaar

Ouma se bababoek. brief 5: werk of tuisbly en kind grootmaak?

Liewe Leanie, Annika en Lientjie

Sjoe, ek het omtrent lanklaas geskryf.  My tyd is darem nou weer my eie en ek wil graag vandag praat oor iets wat vir my baie belangrik is.

Julle het nou seker al agtergekom dat ek nogal glo in die natuur, die instink en die basiese behoeftes van alle mense, en die geloof in ‘n liefdevolle Vader.

Vandag wil ek vra: Waarom kry ‘n mens kinders? Vandag se dae is daar genoeg voorbehoedmiddels om te verseker dat jy nie sommer sal swanger raak nie ( maar onthou tog ons familie-reputasie van super vrugbaarheid , ne! Moenie kanse vat nie!!!).

‘n Mens kan dus vandag KIES of jy wil swanger raak of nie. Tog KIES baie mense om wel kinders te he. Hulle het ‘n inherente basiese BEHOEFTE om kinders te he en te versorg. Dis weereens ‘n basiese instinktiewe behoefte uit die natuur, wat die voortplanting van die spesies verseker. Die behoefte aan ‘n eie kindjie is veral in ons vroulike geslag baie sterk- so sterk dat sommige vrouens selfs tot die uiterste sal gaan om babas te steel as hulle behoefte nie anders bevredig kan word nie. ‘n Mens het ‘n groot behoefte daaraan om ‘n babatjie te he wat jy kan versorg en vertroetel en grootmaak.

Nou waarom gebeur dit deesdae al hoe meer dat mense kindertjies kry, en dan sommer vroeg-vroeg na geboorte, gaan sit hulle die kindjie in ‘n creche en gaan werk weer? Die redenasie is dat hulle die geld nodig het. Maar mis hulle nie die doel  erens nie?

Die taak van die ouer is om self sy kind groot te maak. Dis hoekom hy die voorreg gekry het om ‘n kindjie te he. ( en onthou, in vandag se tyd het hy dit mos GEKIES!, Ja, selfs jy, Steve!)  Die ouer is die primere versorger van sy/haar kind, en ook die persoon wat waarskynlik die liefste vir die kindjie is. Ons het ook gesien dat die moeder ‘n instinktiewe aanvoeling vir haar kind het wat partykeer beter is as wat die beste wetenskaplike kan he.  Geen creche kan eers naanstenby so goed wees vir ‘n kindjie as moederlike liefde en aandag nie. Geen geld ter wereld kan vergoed vir die gebrek aan ouerlike liefde en versorging nie. En wil ons nie graag vir ons kinders die beste gee wat ons kan nie?

Die eerste paar jaar in ‘n kindjie se lewe is die tyd wat hy vinniger ontwikkel as enige ander tyd in sy lewe. In die eerste 5-7 jaar van ‘n kindjie se lewe ontwikkel hy van ‘n selletjie tot ‘n volwaardige mensie waarin al sy groot en fyn spier-koordinasie vasgele is, sy taalvermoe, sy visuele en ouditiewe, tas- en smaakpersepsies, asook sy persoonlikheid en waardestelsel. Dit is werklik die belangrikste tyd in jou hele lewe , want dit beinvloed die res van jou lewe op dramatiese wyse.

Gida, ‘n arbeidsterapeut het my nou die dag ‘n interessante ding vertel. Sy werk met kinderhuiskinders. Onthou julle dat ek voorheen gepraat het van die “inrigtingskind?” Daar is nou vasgestel dat kinders wat bv van kleinsaf in kinderhuise of inrigtings is, se breine fisies kleiner is en verskil van ander kinders wat in hulle eie ouershuise grootword. Daar word nou navorsing oor gedoen. Dit laat my nou weer dink aan ons hans- eendjies wat altyd kleiner was as die eendjies wat van geboorte af by hulle ma-eend was.   Die fout het nie by die kos gele nie- hulle het dieselfde kos gekry. Die omgewing was ook dieselfde – hulle het ook buite in die sonskyn op die gras geloop en ook dieselfde swemtyd in dieselfde dammetjie gekry.  Die verskil was bloot dat hulle nie saam met die mamma- eend rondgeloop het nie en nie saans onder haar warm donsies styf teen haar lyf gele het nie.( al het hulle lekker warmwatersakke gehad), en sekerlik het hulle ook nie haar liefde ervaar nie. Hierdie agterstand het hulle ook nooit ingehaal nie, al is hulle later by haar gesit.

Is die babatjie in die creche nie ‘n bietjie soos die hans eendjies nie? Of soos die inrigtingskindjie nie? Ek vra maar net. Hoeveel individuele aandag kry hy? Hoeveel  fisiese troeteling( cuddling?) Hoeveel word met hom gepraat, gespeel, gesing? Hoeveel word aandag gegee aan sy fisiese en emosionele behoeftes? Hoeveel  aandag word aan sy waardestelsel gegee? Tannie Soria se altyd dat haar ma haar geleer het:”‘JY KRY NET EEN KANS OM JOU KIND GROOT TE MAAK.”

Meer as enige ander tyd in jou kind se lewe, is dit belangrik dat jy hierdie eerste paar jaar in jou kind se lewe hom sover moontlik self versorg. Net jy het die ouerliefde en die instink om dit te doen. Ouma en oupa is dalk die tweede beste, omdat hulle ook die liefde het, maar ai, oumas en oupas is ‘n bietjie  geneig om oorbeskermend te wees.

Hiemee, se ek nie dat jy nie hulp moet kry om jou te help met jou kindjie se versorging nie, nee hoe meer hulp jy het, hoe beter. Dis nodig dat jy iemand het om jou te help sodat jy soms net’n bietjie kan asem skep en jou geduld weer kans kry om te herlaai. Dis goed om so nou en dan ‘n bietjie ek-tyd te he – niemand kan aaneen 24 h per dag werk nie. Maar om heeldag elke dag van 8-5 hierdie grootste van alle werke vir iemand anders te gee,  is eenvoudig net nie die beste vir jou kind nie, arm of te not.

Bly dus asseblief tuis, ten minste tot jou kindjie skool toe gaan. Dan kan jy ‘n oggendwerk soek. Indien regtig nodig, soek iets wat jy deeltyds tuis kan doen vir ekstra inkomste. Dan kan jy bv saans as die kinders slaap daaraan aandag gee. Kry HULP- met huiswerk en soms versorging van die kindertjies vir kort rukkies, or reel met ‘n vriendin dat julle soms mekaar se kindertjies oppas. Pa kan saans sy deel doen om die kindertjies te versorg, sodat die ma ‘n bietjie iets anders kan doen.

Onthou dus die doel van ouerskap, en moenie die allerbelangrikste( en moeilike) werk op iemand anders afskuif nie.

Maar die laat, en slaaptyd.

Vryf maar so ‘n bietjie oor daardie boepie, en se vir die tweeling, Ouma se goeie nag!

Liefde

Ma

Vir nr 6, klik hier.

Posted in ouma se bababoek ( ouerleiding) | 9 Kommentaar

Hang-over

Hier sit ek nou- met ‘n hang-over.

Nee, ek drink mos net koeldrank, onthou! Volgens die outjies by Merino het ek mos nie alkohol nodig nie. Wel ek het dit ook nie nodig om ‘n hang-over te kry nie!

Die afgelope weke se reelings en organiserinngs en “worries” en oor reel en weer organiseer, die verf van die lap, en uiteindelik Gerda en Philip se troue met sy eie stres ( Gaan dit reen? Moet ons nie liewer kerk toe nie? Wie moes die sjampanje op die tafel gesit het? Hoekom is dit nog nie hier nie? Wat gaan aan met die DJ? ens ens ), is alles skielik verby.Die kinders laart weet dat hulle in Phuket is, waar dit ookal mag wees, en dat hulle more op ‘n olifant deur die bos gaan ry. Ek het die meeste van die geleende goed al weer gaan teruggee. Die wasgoed is gewas en die huis lyk alweer min of meer normaal.

Nou sit ek met hierdie hang-over. Ek moet aangaan met my lewe, maar ek sit net heeldag en troufoto’s kyk- oor en oor. Dit was wonderlik en ek is nog nie gereed om weer terug te gaan na die normale daaglikse lewe nie. Ek wil ouma se bababoek blog( ek is bietjie agter) en allerhande goeters. Maar gee nog bietjie kans. Hierdie tannie raak nou oud en STADIG. Klik hier as julle wil sien wat ek doen. http://www.bravenboer.co.za/wedding-gerda-and-philip/

LEKKER SLAAP!

7 Kommentaar

Die prinses en haar waternimfe

Dis Saterdagoggend, 2 April. Die groot dag het aangebreek, en dis tyd vir sjampanje ontbyt by Mozarts. ( dis nou na die heerlike aandete by Merino Grill die vorige aand en die kuiertjie daarna by Jacks tot 2 vm). Dit reen. Wat nou? Is dit tyd vir plan B? Maar nee, ons glo en vertrou dat die weer gaan saamspeel.

Die dag vlieg onder ons uit. Dis haarkapper toe, dan kom die grimeer-kunstenaar, die fotograaf en video-man, en die huis is vol mense en almal het honderde reelings. Op een of ander manier is ons betyds reg en ry die pad uit see toe.

Wonderbaarlik het die reen opgehou., die stormwind het gaan le, Die son breek so halfpad deur en skyn blink op die water, daar waar die bootjies le. Die Here se seen rus hier op hulle, dit glo ek.

Die prinses en haar seenimfe verskyn vanuit die water.(Dankie Malan van Cape Agulhas Backpackers!!!) Die ridder en sy diensknegte wag hulle in….

Die pragtige boodskap word gegee deur Bianca, hulle tokkelok vriendin. Mag hulle daardie makarios liefde vir altyd ervaar.

Die saal pragtig, die onthaal heerlik. (Dankie Carin Groenewald en Charmaine Zondagh!!!) Die musiek reg vir oud en jonk( Dankie DJ Mike!)

Wat kan ek meer se?  Dis ‘n sprokiestroue. (Dankie Vader vir u genade . Seen hulle asseblief)

Kyk maar by Bernard Bravenboer se fotoblog . Die foto’s het pas verskyn as jy dalk die mooi foto’s wil sien.

En ek is terug in blogland.

Posted in Die Overberg: my wereld., Los opdrifsels, Seestories, troustories | 10 Kommentaar

Skuldig!!!

Hier sit ek nou op die Maandagogggend en EK HET NIE TYD NIE!!! Met ‘n troue oor 5 dae en DUISENDE goeters wat nog gedoen moet word, het hierdie ma allemins tyd om voor die rekenaar te sit en speel. Ma dis presies wat ek doen! Ek lees blogs, gee kommentaar, loer na my stats en nou skryf ek, want ek voel skuldig- ek verwaarloos my blog! Ek het sopas weer die einde van my feeverhaal bietjie verbeter,( die die prins en die diensmeisie, ‘n feeverhaal met julle eie einde), die katvideo van Karen op http://www.vet8zuerich.wordpress.com  op my facebook gesit( dit was SO CUTE!)  ….

Maar wag, ek moet werk, werk ,werk! Sien julle volgende week na die troue as alles goed gaan. En gaan lees die ondeunde http://www.toortsie.wordpress.com se huweliksraad!

6 Kommentaar

Ma se seksboek. brief 27 Bestellings

Liewe lesers

Baie dankie dat julle saam met my hierdie boekie deurgewerk  het. Dis deur julle inspirasie dat ek sover gekom het om dit te druk en uit te gee.  Die boekie is nog nog nie by boekwinkels beskikbaar nie, maar ek het reeds 152 verkoop, sommer so uit die hand uit, en ek kry ongelooflike goeie kommentaar terug, ook van mense wat nie weet dat ek dit self geskryf het nie.

Ek sien daar is iemand ( of dalk meer as een) wat besig is om die briefies stelselmatig deur te lees op die internet. Dankie dat u dit doen. Dit wys darem dat u dit interessant vind, anders sou u mos opgehou het.Wil u nie asseblief kommentaar lewer nie?

Indien u of enigiemand anders wat hier lees, die boekie wil aankoop, kan u vir my ‘n email stuur na  seegogga@gmail.com  Die koste is slegs R40 plus posgeld ( R 100 by postenet, maar goedkoper by die poskantoor.) Ek sal dit dadelik aanpos. u kan my ook skakel by 0845874228

Nogmaals dankie vir julle almal se ondersteuning en inspirasie.

Baie groete.

Anna-Marie

Posted in Ma se seksboek | 2 Kommentaar

Die prins en die diensmeisie- slot.

Die skrywe van hierdie feeverhaal het my stoutste vervagting oortref. Binne 10 dae het hierdie storie al my vorige inskrywings verbygesteek en die  stukkie geword wat die meeste van al my goed gelees is! Ons mense hou van stories!

Baie dankie vir almal van julle wat die mooiste en kreatiefste eindes uitgedink het. Wie sou kon dink dat ‘n storie soveel draaie kon he? 

Ek het nou ook my eie slot uitgedink en dit by die laaste kommentaar by my blog: “Die prins en die diensmeisie, ‘n feeverhaal met julle eie einde”getik. Indien julle dalk belangstel, kan julle dit daar gaan lees. Baie dankie vir julle belangstelling!

Posted in feeverhale en ander stories, Los opdrifsels | Lewer kommentaar

Peter Pan, Heidi en ander

Ek grawe my ou kinderboeke uit, my aller-gunsteling boeke, in opdrag van Toortsie.

Vir my is daar nie mooier boeke as kinderboeke nie.

Vandag gesels ek met Heidi en ek wil haar in my arms toevou. Arme Heidi. Sy was net so ongelukkig soos my prinsie in my feeverhaal. Maar sy het ‘n wonderlike oupa gehad wat haar verstaan het!

” Liewe Heidi, kan ek maar vandag saam met jou en jou oupa kaas braai? Kan ek? Sowaar? En kan ek saam met jou en Peter op die berg gaan hardloop en blommetjies pluk? Dankie kindjie, jy is so gaaf.

“En Heidi, kan ek maar vir Peter Pan saambring? Jy weet hy soek mos ‘n mamma om vir hom te sorg daar in die Neverland. Rerig? Ek weet hy sal vir Tinkerbell saambring en miskien, net miskien gooi hy vir ons ‘n bietjie feetjiestof oor en dan kan ons ook vlieg- na die land van ons drome toe, daar waar alles is wat ons graag wil he en waar ons net gelukkig is. Ek sal daar op Black Beauty ry en die wind sal deur my hare waai, Peter sal kraai van geluk en ons red as die seerowers ons wil vang( ag ek is mos mal oor Peter, en juis daarom hou Tinkerbel glad niks van my nie. Sy laat my nogal dink aan my prinsie se kwaai prinses). Fraulein Rottenmeier sal dalkies selfs deur die krokodil ingesluk word!

“As ons koud kry, sal ons onder Tanya se ouma se lappieskombers inkruip en vir mekaar stories vertel- mooi feeverhale van prinse en prinsesse waar die goeie altyd seevier en die slegte altyd verloor; of miskien die storie van die verlore seun, wat vir jou so mooi is.

Hoe lyk dit Heidi? Soos ek jou ken, sal jy glad nie omgee nie. Ek weet net nie wat jou Peter gaan se nie. Hy sal bepaald dink ons is net simpel meisiekinders. En ek kan jou wed, hy gaan niks van Peter Pan hou nie- sommer net. Seuns is mos so.”

Posted in Boeke en flieks, feeverhale en ander stories, Los opdrifsels | 7 Kommentaar

Oor prente en feeverhale

Wat? Is dit sowaar al weer Sondagaand? Ek kan dit nie glo nie- dat die week so onder my uitgevlieg het nie.

Dis nie dat ek nie wou blog nie, nee, ek het! Of altans ek het probeer! Eenkeer het ek aan die slaap geraak voor die rekenaar en alles afgevee, en die volgende keer het ek iets verkeerd gedoen- en weereens alles afgevee.

Die probleem was dat ek nie ‘n nuwe blog wou skryf nie( dan sou dit onder drafts gesave gewees het), maar dat ek ‘n einde vir my feeverhaal wou geskryf het. Dit doen mens mos onder”comments” en lyk my die rekenaar save nie comments wat nog nie gepost is nie ( o ,taal, my taal, my soetste taal).

Die rede is die lap wat elk hierdie week moes verf- ‘n straatjie in Parys, 4m hoog, 6m breed, vir die komende troue. Met my 60 jarige lyf  het ek op en af gekniel gekruip en gebuk om die stuk lap op die vloer te verf. Toe het ek Vrydagaand tot 4vm in ons Jacks-klub rondgehang om te wag tot alles klaar is, (my man en kind was darem ook daar, en sy het besluit dat sy moet dans dat dit klap, want dis die laaste keer wat sy dit as ongetroude kan doen), 5vm gaan slaap, 6.30vm opgestaan ( dws na 1 en ‘n halwe uur) om my man op te help om na sy aanstaande skoonseun se ramnaweek in Saldanna te gaan, en 10 vm self in die pad geval Worcester toe na my dogter se kombuistee. ( en ek moes al die pad jok, jok, jok om haar te mislei, sodat sy nie agterkom waarom ons nou eintlik regtig Worcester toe is nie.)  Saterdagaand weer wakker tot 3vm……Alles baie lekker en besig, maar nie aan te beveel as verjongingskuur nie.

Ek het egter die afgelope 2 weke iets geleer. Mense, maak nie saak watter ouderdom nie, hou van verhale- feeverhale.  Van al my bloginskrywings, is my feeverhaal die meeste gelees, en dit binne 2 weke. Elke dag is daar nog ‘n paar nuwe lesers by.

Ek het geleer die hele lewe kan vertel word in die vorm van ‘n feeverhaal. Feeverhale is ‘n belangrike manier om perspektief op die lewe te kry. Ek dink dis dalk hoekom feeverhale so belangrik vir ‘n kind se ontwikkeling is. ‘n Mens dink dalk dis ver verwyder van die werklikheid,maar eintlik IS dit die werklikheid, baie vereenvouding sodat ‘n mens mooi die goeie en die slegte daarin kan herken.

Ek het ook geleer: ons Bloggers KAN ‘n storie vertel. En hulle HET ‘n GROOT verbeelding. Hier het die mooiste eindes uitgekom! Baie dankie aan almal wat deelgeneem het! Sommige van julle het selfs TWEE verskillende eindes geskryf, albei mooi.

Baie dankie aan almal wat deelgeneem het en soveel verskillende moontlikhede ontgin het. Ek het ook intussen ‘n einde uitgedink, wat ek graag wil aanheg ( en al tweekeer probeer het, ne) , maar die tyd ontbreek en hopelik doen ek dit hierdie week. Intussen is almal natuurlik steeds welkom om die verbeelding te laat loop.

Nou kom Toortsie weer met haar feeverhaal karakterspeletjie, en ek is seker ons gaan almal net so lekker daar saamspeel.

Maar die Sondagaand, bluestyd is verby( daar was nie tyd vir blues nie), en ek dink …dis SLAAPTYD!!!

Posted in feeverhale en ander stories, Los opdrifsels | 5 Kommentaar

Sondagaand….blues? Of nie?

Vannaand is dit weer Sondagaand. Die kombuisvloer is toe onder berge wasgoed ( 3 strandplekke s’n sowel as ons eie huis s’n) en die wasmasjien grom-grom reelmatig- hy is reeds besig met sy tweede bondel.

En tog is die blues vannaand weg. Sien, gister en vandag was ons by Rus ‘n Bietjie( sien vorige skrywes).Heel onbeplan en onverwags het die gier ons Saterdagmiddag gepak, Rus ‘n Bietjie was vir ‘n verandering nie verhuur nie, en toe ry ons sommer- seker die eerste keer in meer as ‘n jaar wat ons weer ‘n Rus ‘n Bietjie self gaan bly het. En was dit nou lekker! 

Die see was blou, die branders groot, die weer ongelooflik. Ons het tot laatnag buite op die stoep gesit, en vanoggend sommer daar gebrekfis ook. Gisteraand het ek vir die eerste keer aan Parrie, die pylstert, gevat-sag soos fluweel voel hy- ‘n belewenis. Volgende keer gaan ek ‘n pakkie pilchards kry en vir hom gee, sowaar.

Vanoggend vroeg het ek en manlief ‘n lang ent langs die see gaan stap- (en Toortsie se vuurtoring weereens afgeneem) skielik het ons genoeg tyd om dit te doen. Dis my jongste en haar verloofde se laaste naweek by ons voordat hulle op 2 April man en vrou word, en dit was haar idee dat ons sommer uitry en by die see gaan braai- toe word dit sommer ‘n naweek!  Vanmiddag vars geelstert op die kole, en le en droom in die hangmat….idillies.

Ons was ver weg verwyder van die werklikheid, en soms is dit nodig om sommer net ‘n bietjie anderland toe te gaan.

Maar nou is ons terug, met harte vol dankbaarheid oor al ons seeninge. Ons sit die televisie aan- en sien die ongelooflike verwoesting in Japan.

Posted in Seestories | 5 Kommentaar

Die prins en die diensmeisie: ‘n Feeverhaal met julle eie einde

Eendag was daar ‘n prins. Hy was jonk en alleen, want hy moes in ‘n vreemde koninkryk in ‘n vreemde land vol vreemde mense gaan woon. Hy kon ook nie hulle taal praat nie.

Die diensmeisie wat aangestel is om hom te leer, het hard probeer om die nuwe taal vir hom te leer. Hy het hard gewerk en gou kon hy die taal praat. Sy het hom vertel van die land se gebruike en ook die land se lekker kos ( biltong en braaivleis).  Hy het haar weer sy  eie land se kos geleer eet. ( baked beans on toast).

Ja, hulle het vriende geraak, wat nou nie eintlik moes wees nie, want sy was mos ‘n diensmeisie en hy was mos ‘n prins. Die diensmeisie het toe later weggegaan en in ‘n ander kasteel gaan werk, maar die prins het haar gereeld kom opsoek en haar dan verras met die nuwe taal wat hy so mooi kon praat. Dit het haar hart baie bly gemaak.

Daar was egter ‘n probleem. Die prins was hartseer.  Hy het baie na sy ou land verlang. Hy het  ook lief geraak vir ‘n meisie van die nuwe land,  maar sy het  lelik gemaak met hom. Sy het natuurlik nie geweet dat hy ‘n prins is nie, en ook maar goed, want dan sou sy gemaak het of sy goed is en met hom getrou het, en dan sou die prins mos nog meer hartseer geword het.

Elke keer as die prins so hartseer word, het hy na sy ou diensmeisie toe gegaan. Vir haar kon hy vertel hoe hy verlang na baie dinge en hoe hartseer hy was. Dan het sy vir  hom lekker goedjies gemaak om te eet, na sy stories geluister, en probeer om hom te laat lag. Ai, hulle kon so lekker lag.

Maar soms, as hy huil, het sy hom in haar arms geneem en sy hare gevryf en probeer troos. Hy was haar prins en sy was baie lief vir hom. En wie weet? Miskien was hy lief vir haar ook. Hoekom het hy dan aanmekaar na haar toe gegaan? Sy was mos nie meer sy diensmeisie nie?

Toe kom die dag dat die diensmeisie se nuwe werk haar ver weg stuur. Sy moes weggaan en haar prins agterlaat. Die hartseer prins besluit toe dat hy maar wil teruggaan na sy ou land toe. Wie weet? Miskien kan hy daar ‘n kasteel kry? Dalk is hy daar minder hartseer, tussen mense wat soos hy is.

In sy ou land, die land waar die prins gebore is, gaan dit toe ook sowaar beter met hom. Daar het die mense beter verstaan hoe hy dink, en hy het ook ‘n ou kasteel gekry. Hy is oorval van diensmeisies wat graag vir hom wou werk en ‘n paar prinsesse het ook hulle flikkers vir hom gegooi.

Die prins het gesond geword en was nie meer so hartseer nie! Hy het egter na sy ou diensmeisie wat hom so gehelp het in die vreemde land, verlang. Dan het hy vir haar boodskappe gestuur. Miskien wou hy weer he dat sy vir hom moet kom werk. Miskien het hy sommer net verlang om bietjie met haar te gesels. Sy het hom so goed geken, beter as al die ander mense. (Maar hy het altyd onthou dat sy net ‘n diensmeisie is, en hy ‘n prins).Wie sal weet?

Die diensmeisie het haar prins diep in haar hart gebere. Sy was so bly dat dit nou goed gaan met hom, maar sy het altyd geweet dat hy ‘n prins is, en sy net ‘n diensmeisie  en dat sy eintlik nie vir hom lief moet wees nie.

Toe trou sy met ‘n boer van haar eie land, ‘n goeie man en ‘n harde werker. Hulle het 3 pragtige kinders gekry en die diensmeisie was baie gelukkig. Maar in haar hart was mos nog haar onthouprinsie ook. en ek sien nou dat dit verkeerd van haar was om hom daar te bere. Sy moes hom weggooi het, lank gelede al. Maar sy het nie- hy was mos haar prins.

Toe die prins hoor dat sy diensmeisie getroud is, het hy haar in sy hart weggebere en voortgegaan om sy koninkryk te bou. Hy het ook daar in sy eie land ‘n prinses ontmoet. Sy was pragtig en die prins het met haar getrou. Hulle het in ‘n pragtige kasteel gewoon en en twee pragtige kinders gehad- ‘n klein prinsie en ‘n klein prinsessie. Hulle was baie gelukkig. Maar in die prins se hart het hy mos sy onthou-diensmeisietjie weggebere- wat hy nie moes gedoen nie. Hy moes haar lankal weggegooi het, maar hy het nie.

Jare later, toe die kinders groot is en die  diensmeisie en die prins albei al ‘n bietjie grys en vol plooie, loop die twee mekaar weer raak. Wel nou nie regtig nie, hulle is mos ‘n verskillende lande, maar ook daar waar hulle gewoon het, het daar moderne uitvindsels gekom en as hulle in ‘n kristalbal kyk, kon hulle mekaar sien en so gesels. Die prins het vertel van sy koninkryk en sy mooi kinders, die diensmeisie het vertel hoe dit met haar gaan en haar mooi kinders. Sy is so bly dat dit goed gaan met haar prins, want sy onthou hoe hartseer hy altyd was. Hulle het ook weer onthou hoe sy vir hom die vreemde taal geleer het. Hy kon die taal sowaar nog onthou!

Toe word die prinses baie kwaad. Sy slaan sommer die prins oor die kop! Hoe durf hy met sy ou diensmeisie gesels asof hulle vriende is? Sy verbied die prins om ooit weer met die diensmeisie te praat!

Die prins word baie hartseer. Hy het mos niks verkeerd gedoen nie? Hoe dan nou?

Die diensmeisie is in ‘n toestand. Niemand moet iets aan haar prins doen nie! Hy is mos ‘n prins! Dit was so lekker om weer met haar prins te gesels. Sy het nie geweet dat dit verbode is nie! Ag, die diensmeisie voel sommer baie sleg, want sy wil tog nie iets doen wat haar prins weer ongelukkig maak nie. Sy weet ook dat sy nou nooit na sy kasteel toe sal kan gaan as sy dalk eendag in sy verre land sou kom nie. ( Sy en haar boer wil so graag op reis gaan om die wereld te sien).

Die diensmeisie probeer die outhouprinsie terugdruk in haar hart in, maar hy is te groot. Sy kry dit nie reg nie. Wat kan sy doen?

En nou weet ek ook nie verder nie. Skryf julle tog asseblief vir my die einde van hierdie verhaal. En onthou: ‘n Feeverhaal moet ‘n gelukkige einde he!

Posted in feeverhale en ander stories | 35 Kommentaar

Die storie van Rus ‘n Bietjie

Van al die huisies op L’Agulhas, is Rus ‘n Bietjie seker een van die oudste. Soos dit vir ons lyk is hy in so 1938 gebou.

Die ou huisie het uit 2 vertrekke bestaan en ‘n buitetoilet ( ‘n emmertoilet), met ‘n rietdakkie. ‘n Regte klein vissershuisie, dus, en net ‘n hanetreetjie van die see af.

Deur die jare is daar bygevoeg. Eers ‘n motorhuis. Toe is besluit dat die stukkie tussen die motorhuis en die huis maar netsowel ‘n dak en twee mure kan bykry. Die garage word dus ‘n buitekamer. Nog later is ‘n klein stoepie gebou. En toe word water aangele en ‘n deel van die stoepie afgeskort vir ‘n kombuisie.

Alles word so goedkoop moontlik gedoen. Ou bootdeure word gebruik, ( en vandag nog moet hemelbesems koes om in die kombuis te kom), want dis mos sommer ‘n strandhuisie. Nie een enkele ekstra muur word ingetand nie. Dit word sommer net gebou, met ‘n bietjie pleister om die slootjies tussen die mure toe te maak.

Toe word die ander deel van die stoepie ‘n stoepkamer.

Nog later word die agterste deel van die ou garage, wat nou ‘n buitekamer is, afgeskort, en dit verander in ‘n badkamer met ‘n bad en wasbak. Die toilet is mos buite. ‘n Rooi plankdeurtjie word ingesit in ‘n ewe lae deurkosyn.

Maar kyk, elke jaar hou ons daar vakansie dat dit so klap. My ouma- hulle het jare lank Rus ‘n Bietjie by oom Toekie gehuur en dan het al 11 hulle kinders met die gades en kleinkinders gekom Kersfees hou. Ek weet nou nog nie waar almal geslaap het nie, ek weet net ek was saam met ouma en oupa in die kamer en het snags gele en luister na die veskillende wysies wat my oupa gesnork het. Slaap was buite die kwessie.

Ek onthou wel die hoenderhok onder in die erf, met die kersfeeskalkoen in. So ook die houttrappie wat bo-oor die ogiesdraad gegaan het, en waaroor ons geklim het om by die see uit te kom. Ek onthou die wonderlike Soldatepoel waar ons bedags geswem het, die allekrukke wat ons saans van die rotse af gepluk het,  die flits vandie vuurtoringlig oor die water,die heerlike kersfeesete, elk met sy bord op sy skoot, waar hy ookal sitplek kry, die gevoel van behoort, behaaglikheid en  geluk. En dan ook: Die reuse branders, die wit skuim en die alomteenwoordige gedruis van die see.

Toe, eendag, kom die eienaar se oom daar aan met ‘n spoeltoilet, en hy verklaar dat hy dit in die badkamer gaan inbou. Almal se dat daar nie plek is nie, maar ons boerenasie is ‘n koppige nasie, en die oom begin te werk. Om die toilet so te kry dat hy agter die bad inpas, moes die toilet effens dieper as normaal in die grond gesink word  en die waterbak gelig word om plek te maak vir ‘n mens se rug. Die stukkie muur is ook te smal vir die waterbak, dus word daar ‘n gat in die muur gemaak vir ekstra plek- nogal ‘n netjiese vierkantige gat. ‘n Stuk bloudraad ondersteun die smal waterpyp, ‘n besemstok word die handdoekreeling. Rus ‘n Bietjie kry nie net water nie, maar word geleidelik al geriefliker.

Ek het my man in Johannesburg ontmoet, ‘n regte Transvaler. Toe ons trou, vertel hy my ma van ‘n ou skoolvriend wat daar in Johannesburg saam met hom op skool was, wie se ouers ‘n huisie op L’Agulhas gehad het. Al Badenhorst wat my ma ken, is oom Toekie, by wie haar ouers altyd Rus ‘n Bietjie gehuur het. Kan jy glo? Dis toe altyd my man se vriend se ouers! Blye wedersiens!

‘n Paar jaar later besluit  die vriend om Rus ‘n Bietjie te verkoop. Ons help kliphard soek vir ‘n koper. Ek vertel vir al my familie , want Rus ‘n Bietjie is mos deel van ons, en dit sal vreeslik wees as hy nou in vreemde hande val.

My man se Transvaler-broer het juis daardie tyd eiendom as belegging gesoek, en Rus ‘n Bietjie was ‘n “bargain”. Hy maak ‘n belaglike aanbod – en dit word sowaar aanvaar, maar toe ons hom die goeie nuus meedeel, se hy dat hy intussen van plan verander het- te ver van Transvaal af en te veel werk aan die huisie.

Ja, julle raai reg. My man voel sleg en se sommer op die ingewing van die oomblik: “Toemaar, dan koop ek hom!”  Dis Saterdagmiddag maar hy is nie links nie en skryf dit op ‘n stukkie papier, en laat die betrokke partye teken.

Ons gesin en res van die familie is verslae. Waar gaan ons ooit die geld kry? My BCom Buurvrou vertel my dat eiendom nie ‘n goeie belegging is nie- rente ens. Ek self wonder wat ons nadese gaan eet.

Dit kan nie hoer of laer nie, ons moet NOU ry en gaan kyk wat ons aangevang het. Ons het nie eers ‘n sleutel van die eendeurhuisie nie, maar ons ry die pad see toe, en stap om die klein geboutjie en gaan staan op die stukkie stoep. Ek voel bewerig en ontredderd. Ek wou nie Rus ‘n Bietjie in vreemde hande laat val nie, maar nooit in my wildste drome het ek daaraan gedink dat ons SELF hom kan koop nie – met watter geld?

Dit was 14 Januarie, net na die Desembervakansie en NIE walvistyd nie, maar glo my, terwyl ek nog daar so staan en kyk vir die see, spring daar ‘n walvis.Hy is so naby  dat ons die wit goeters opsy vel kan sien. Hy spring en spring en ons almal sien die wonder.

Net daar is  alle twyfel verby! Ons drapstap winkels deur vir “specials” op verf, rollers, messe en vurke ens. Ons gebruik 5 liter Mendall-emmertjies om al die krake toe te stop en verf  en skrop sonder om die plankdeurtjies skade te doen. Ons gooi ‘n mat oor die kraak in die sitkamer vloer en verf vrolike “scollops” op die dak soos Hansie en Grietjie se huisie( wat die mense hier met hulle besondere sin vir die praktiese dadelik “die dak met die visskubbe op” gedoop het).

Kort -kort wil iemand Rus ‘n Bietjie koop. Trouens, net die dag nadat ons hom gekoop het, kon on R70000 wins maak. Maar ‘n mens maak nie wins uit jou vriende nie, en bowendien is ons mos toe ‘gehook”.

Vandag 14 jaar later  is ek steeds mal oor ou Rus ‘n Bietjie. Ons het intussen die buitekamer in ‘n binnekamer verander, en ‘n heerlike onderdakstoep en braai aangebou. Maar die badkamertjie met sy gat in die muur is nog daar, so ook die buitetoilet met sy luggate uit die emmerdae. Rus ‘n Bietjie is steeds Rus ‘n Bietjie en dit veskaf my oneindige sielerus.

Deur verhuring aan vakansiegangers, doen Rus’n Bietjie ook sy deel om die verbande te betaal.  Klik hier as julle meer foto’s en beskrywing wil sien, asook kontakbesonderhede.

Elke keer as ek ou Rus ‘n Bietjie gaan skoonmaak, lê ek eers ‘n bietjie in die hangmat op sy stoep en hou ‘n klein bietjie vakansie, so terwyl ek my koeldrank drink.

Dankie my man, dat jy soms ‘n bietjie impulsief is!

Uitrsig vanuit Rus ‘n Bietjie se stoep

Posted in Die Overberg: my wereld., Seestories | 10 Kommentaar

Sondag afskeid

Dis Sondagaand, blues tyd, en vandag sit ons met harte in ons keel, maar tog ook nie.

Daar is ‘n tyd vir elkeen van ons om afskeid te neem van geliefdes, van die lewe, en voort te gaan hemel toe, Skepper toe. So is dit vandag met ons goeie vriend X.

Dis ongeveer 5 jaar gelede toe die kerk ons ingedeel het in ‘n omgeegroep, saam met mense wat ons nie goed geken het nie, mense wat ons nie gekies het nie, maar mense wat ook die behoefte aan ‘n omgeegroep gehad het.

So het ons klompie relatief vreemdes, mekaar gevoel-voel in die begin, en ewe styf koek en tee bedien voor of na ons ‘n bietjie Bybelstudie gedoen het. Mettertyd het ons mekaar leer ken, en mekaar se laste begin dra. Ek glo regtig dat dit die Here is wat ons klompie bymekaar gesit het, en nie die ou wat die omgeegroepe gereel het nie- hy ken ons immers ook nie.

Die wysheid en die onderskraging in die groepie is verstommend. Dis al donkiejare dat ons nie meer koek en tee nie, maar dat ons saam eet, kompleet met poeding en soms wyn. So word elkeen se lief en leed met empatie hanteer, en word ons almal ongelooflik onderskraag, altyd met die LIEFDE  van ‘n mede Christen.

Elke lid in die groepie lewer op sy eie manier ‘n ongelooflike bydrae om ons ander te verrryk. Sommigee met humor, ander met kennis, ander met wysheid en ander met insig. Saam het ons al sosaties gemaak dat ons blou word, vir die kerkbasaar, ons het iemand in nood gehelp om weer op sy voete te kom, ons het ‘n arm man gehelp om sy halfklaar huisie klaar te bou,  ‘n bejaarde in die siekeboeg te versorg, werk  gekry  vir ‘n werklose , stelasies gebou vir een van ons se kinders se projek, ens. Maar die meeste van alles, was die liefde en onderskraging wat vanuit die groep na elke individu in die groep gegaan het.

Vandag egter, is dit ‘n tyd van afskeid. X het siek geraak, drie jaar gelede al, en die dokters kon nie vir hom iets doen nie. Hierdie naweek het hy in ‘n koma verval. Ons is laat kom en het die heel dag daar rond gesit, beurte gemaak om te help waak, koffie te maak, eetgoed aan te dra, te ondersteun en te gesels.

My hart is seer oor hom, wat altyd so ekstra mooi met sy vrou gepraat het. Die groep sal leeg wees sonder hom.

Terselfdertyd is ek bly dat ons die voorreg gehad het om daar te wees, en te kan help, dat hy die voorreg het om te sterf, in sy eie bed,omring met vriende en familie wat vir hom lief is, dat hy rustig is omdat hy weet waarheen hy gaan.

Liewe X, ek groet jou vannaand, met hartseer, maar veral met dankbaarheid, omdat jy tot op die laaste hier kon wees met jou wonderlike rustigheid en wysheid, dankbaarheid dat jou pyn verdwyn het, daar waar jy nou in die koma le, en dankbaarheid  dat ek die voorreg gehad het om jou te ken.

Tot ons eendag weer ontmoet, vaarwel.

Posted in Los opdrifsels | 6 Kommentaar