Die storie van Rus ‘n Bietjie

Van al die huisies op L’Agulhas, is Rus ‘n Bietjie seker een van die oudste. Soos dit vir ons lyk is hy in so 1938 gebou.

Die ou huisie het uit 2 vertrekke bestaan en ‘n buitetoilet ( ‘n emmertoilet), met ‘n rietdakkie. ‘n Regte klein vissershuisie, dus, en net ‘n hanetreetjie van die see af.

Deur die jare is daar bygevoeg. Eers ‘n motorhuis. Toe is besluit dat die stukkie tussen die motorhuis en die huis maar netsowel ‘n dak en twee mure kan bykry. Die garage word dus ‘n buitekamer. Nog later is ‘n klein stoepie gebou. En toe word water aangele en ‘n deel van die stoepie afgeskort vir ‘n kombuisie.

Alles word so goedkoop moontlik gedoen. Ou bootdeure word gebruik, ( en vandag nog moet hemelbesems koes om in die kombuis te kom), want dis mos sommer ‘n strandhuisie. Nie een enkele ekstra muur word ingetand nie. Dit word sommer net gebou, met ‘n bietjie pleister om die slootjies tussen die mure toe te maak.

Toe word die ander deel van die stoepie ‘n stoepkamer.

Nog later word die agterste deel van die ou garage, wat nou ‘n buitekamer is, afgeskort, en dit verander in ‘n badkamer met ‘n bad en wasbak. Die toilet is mos buite. ‘n Rooi plankdeurtjie word ingesit in ‘n ewe lae deurkosyn.

Maar kyk, elke jaar hou ons daar vakansie dat dit so klap. My ouma- hulle het jare lank Rus ‘n Bietjie by oom Toekie gehuur en dan het al 11 hulle kinders met die gades en kleinkinders gekom Kersfees hou. Ek weet nou nog nie waar almal geslaap het nie, ek weet net ek was saam met ouma en oupa in die kamer en het snags gele en luister na die veskillende wysies wat my oupa gesnork het. Slaap was buite die kwessie.

Ek onthou wel die hoenderhok onder in die erf, met die kersfeeskalkoen in. So ook die houttrappie wat bo-oor die ogiesdraad gegaan het, en waaroor ons geklim het om by die see uit te kom. Ek onthou die wonderlike Soldatepoel waar ons bedags geswem het, die allekrukke wat ons saans van die rotse af gepluk het,  die flits vandie vuurtoringlig oor die water,die heerlike kersfeesete, elk met sy bord op sy skoot, waar hy ookal sitplek kry, die gevoel van behoort, behaaglikheid en  geluk. En dan ook: Die reuse branders, die wit skuim en die alomteenwoordige gedruis van die see.

Toe, eendag, kom die eienaar se oom daar aan met ‘n spoeltoilet, en hy verklaar dat hy dit in die badkamer gaan inbou. Almal se dat daar nie plek is nie, maar ons boerenasie is ‘n koppige nasie, en die oom begin te werk. Om die toilet so te kry dat hy agter die bad inpas, moes die toilet effens dieper as normaal in die grond gesink word  en die waterbak gelig word om plek te maak vir ‘n mens se rug. Die stukkie muur is ook te smal vir die waterbak, dus word daar ‘n gat in die muur gemaak vir ekstra plek- nogal ‘n netjiese vierkantige gat. ‘n Stuk bloudraad ondersteun die smal waterpyp, ‘n besemstok word die handdoekreeling. Rus ‘n Bietjie kry nie net water nie, maar word geleidelik al geriefliker.

Ek het my man in Johannesburg ontmoet, ‘n regte Transvaler. Toe ons trou, vertel hy my ma van ‘n ou skoolvriend wat daar in Johannesburg saam met hom op skool was, wie se ouers ‘n huisie op L’Agulhas gehad het. Al Badenhorst wat my ma ken, is oom Toekie, by wie haar ouers altyd Rus ‘n Bietjie gehuur het. Kan jy glo? Dis toe altyd my man se vriend se ouers! Blye wedersiens!

‘n Paar jaar later besluit  die vriend om Rus ‘n Bietjie te verkoop. Ons help kliphard soek vir ‘n koper. Ek vertel vir al my familie , want Rus ‘n Bietjie is mos deel van ons, en dit sal vreeslik wees as hy nou in vreemde hande val.

My man se Transvaler-broer het juis daardie tyd eiendom as belegging gesoek, en Rus ‘n Bietjie was ‘n “bargain”. Hy maak ‘n belaglike aanbod – en dit word sowaar aanvaar, maar toe ons hom die goeie nuus meedeel, se hy dat hy intussen van plan verander het- te ver van Transvaal af en te veel werk aan die huisie.

Ja, julle raai reg. My man voel sleg en se sommer op die ingewing van die oomblik: “Toemaar, dan koop ek hom!”  Dis Saterdagmiddag maar hy is nie links nie en skryf dit op ‘n stukkie papier, en laat die betrokke partye teken.

Ons gesin en res van die familie is verslae. Waar gaan ons ooit die geld kry? My BCom Buurvrou vertel my dat eiendom nie ‘n goeie belegging is nie- rente ens. Ek self wonder wat ons nadese gaan eet.

Dit kan nie hoer of laer nie, ons moet NOU ry en gaan kyk wat ons aangevang het. Ons het nie eers ‘n sleutel van die eendeurhuisie nie, maar ons ry die pad see toe, en stap om die klein geboutjie en gaan staan op die stukkie stoep. Ek voel bewerig en ontredderd. Ek wou nie Rus ‘n Bietjie in vreemde hande laat val nie, maar nooit in my wildste drome het ek daaraan gedink dat ons SELF hom kan koop nie – met watter geld?

Dit was 14 Januarie, net na die Desembervakansie en NIE walvistyd nie, maar glo my, terwyl ek nog daar so staan en kyk vir die see, spring daar ‘n walvis.Hy is so naby  dat ons die wit goeters opsy vel kan sien. Hy spring en spring en ons almal sien die wonder.

Net daar is  alle twyfel verby! Ons drapstap winkels deur vir “specials” op verf, rollers, messe en vurke ens. Ons gebruik 5 liter Mendall-emmertjies om al die krake toe te stop en verf  en skrop sonder om die plankdeurtjies skade te doen. Ons gooi ‘n mat oor die kraak in die sitkamer vloer en verf vrolike “scollops” op die dak soos Hansie en Grietjie se huisie( wat die mense hier met hulle besondere sin vir die praktiese dadelik “die dak met die visskubbe op” gedoop het).

Kort -kort wil iemand Rus ‘n Bietjie koop. Trouens, net die dag nadat ons hom gekoop het, kon on R70000 wins maak. Maar ‘n mens maak nie wins uit jou vriende nie, en bowendien is ons mos toe ‘gehook”.

Vandag 14 jaar later  is ek steeds mal oor ou Rus ‘n Bietjie. Ons het intussen die buitekamer in ‘n binnekamer verander, en ‘n heerlike onderdakstoep en braai aangebou. Maar die badkamertjie met sy gat in die muur is nog daar, so ook die buitetoilet met sy luggate uit die emmerdae. Rus ‘n Bietjie is steeds Rus ‘n Bietjie en dit veskaf my oneindige sielerus.

Deur verhuring aan vakansiegangers, doen Rus’n Bietjie ook sy deel om die verbande te betaal.  Klik hier as julle meer foto’s en beskrywing wil sien, asook kontakbesonderhede.

Elke keer as ek ou Rus ‘n Bietjie gaan skoonmaak, lê ek eers ‘n bietjie in die hangmat op sy stoep en hou ‘n klein bietjie vakansie, so terwyl ek my koeldrank drink.

Dankie my man, dat jy soms ‘n bietjie impulsief is!

Uitrsig vanuit Rus ‘n Bietjie se stoep

Posted in Die Overberg: my wereld., Seestories | 10 Kommentaar

Sondag afskeid

Dis Sondagaand, blues tyd, en vandag sit ons met harte in ons keel, maar tog ook nie.

Daar is ‘n tyd vir elkeen van ons om afskeid te neem van geliefdes, van die lewe, en voort te gaan hemel toe, Skepper toe. So is dit vandag met ons goeie vriend X.

Dis ongeveer 5 jaar gelede toe die kerk ons ingedeel het in ‘n omgeegroep, saam met mense wat ons nie goed geken het nie, mense wat ons nie gekies het nie, maar mense wat ook die behoefte aan ‘n omgeegroep gehad het.

So het ons klompie relatief vreemdes, mekaar gevoel-voel in die begin, en ewe styf koek en tee bedien voor of na ons ‘n bietjie Bybelstudie gedoen het. Mettertyd het ons mekaar leer ken, en mekaar se laste begin dra. Ek glo regtig dat dit die Here is wat ons klompie bymekaar gesit het, en nie die ou wat die omgeegroepe gereel het nie- hy ken ons immers ook nie.

Die wysheid en die onderskraging in die groepie is verstommend. Dis al donkiejare dat ons nie meer koek en tee nie, maar dat ons saam eet, kompleet met poeding en soms wyn. So word elkeen se lief en leed met empatie hanteer, en word ons almal ongelooflik onderskraag, altyd met die LIEFDE  van ‘n mede Christen.

Elke lid in die groepie lewer op sy eie manier ‘n ongelooflike bydrae om ons ander te verrryk. Sommigee met humor, ander met kennis, ander met wysheid en ander met insig. Saam het ons al sosaties gemaak dat ons blou word, vir die kerkbasaar, ons het iemand in nood gehelp om weer op sy voete te kom, ons het ‘n arm man gehelp om sy halfklaar huisie klaar te bou,  ‘n bejaarde in die siekeboeg te versorg, werk  gekry  vir ‘n werklose , stelasies gebou vir een van ons se kinders se projek, ens. Maar die meeste van alles, was die liefde en onderskraging wat vanuit die groep na elke individu in die groep gegaan het.

Vandag egter, is dit ‘n tyd van afskeid. X het siek geraak, drie jaar gelede al, en die dokters kon nie vir hom iets doen nie. Hierdie naweek het hy in ‘n koma verval. Ons is laat kom en het die heel dag daar rond gesit, beurte gemaak om te help waak, koffie te maak, eetgoed aan te dra, te ondersteun en te gesels.

My hart is seer oor hom, wat altyd so ekstra mooi met sy vrou gepraat het. Die groep sal leeg wees sonder hom.

Terselfdertyd is ek bly dat ons die voorreg gehad het om daar te wees, en te kan help, dat hy die voorreg het om te sterf, in sy eie bed,omring met vriende en familie wat vir hom lief is, dat hy rustig is omdat hy weet waarheen hy gaan.

Liewe X, ek groet jou vannaand, met hartseer, maar veral met dankbaarheid, omdat jy tot op die laaste hier kon wees met jou wonderlike rustigheid en wysheid, dankbaarheid dat jou pyn verdwyn het, daar waar jy nou in die koma le, en dankbaarheid  dat ek die voorreg gehad het om jou te ken.

Tot ons eendag weer ontmoet, vaarwel.

Posted in Los opdrifsels | 6 Kommentaar

Ouma se bababoek nr 4, liggaamlike kontak, sjuut en borsvoeding

Liewe Kinders

Jammer ek het so lanklaas geskryf, dit gaan maar dol- heeltemal te dol vir ‘n “ouma!”

Kom ons gaan bietjie terug. Ons het gesien dat die mens, hoewel baie beskaafd, nog steeds deel van die soogdiere is en dus sekere basiese soogdier-karaktertrekke het, oa. die versorging van sy kinders met liefde en deernis tot hulle groot genoeg is om vir hulleself te sorg.

Hierdie versorging van kindertjies is instinktief. Daarom het mens( en dier!) ‘n ingebore affiniteit vir klein diertjies of babatjies. Hierdie aantrekkingskrag van babatjies is so sterk dat dit soms gebeur dat diere van verskillende spesies mekaar se kleintjies grootmaak. Ook by die mens is dit die geval.

By ‘n mens, wat eintlik maar min op sy instinkte staatmaak, is moederskap ‘n tyd waar jou instinkte superskerp is. Die instinkte help jou om ‘n goeie mamma vir jou kinders te wees en te weet wat aangaan met jou babatjie.

Jou babatjie moet by jou wees, hoe nader, hoe beter. Liggaamlike kontak is baie belangrik vir sy ontwikkeling. Slaaptyd is ‘n lekker tyd vir hierdie liggaamlike nabyheid en dis natuurlik dat jou babatjie by jou slaap. Dit versterk ook die goeie band tussen ouer en kind, wat later in die tienerjare so belangrik is.

Hier kom klere ook in gedrang. Deesdae word babatjies so toegemaak in babygrows wat hulle van kop tot toon bedek, maar eintlik moet hy kaal wees. Deur minder klere aan te he, het hy meer velkontak met sy omgewing en sy ma. Nie net word die behoefte aan aanraking beter bevredig nie, maar sy tas-sensasies word beter ontwikkel. In een studie wat ek gelees het ( en moenie nou vir my vra wie en waar nie, ek het dit jare gelede reeds gelees) het hulle uitgevind dat kinders wat in die somer gebore is, effens intelligenter is as kinders wat in die winter gebore is. Dit is volgens hulle omdat babas in die somer minder klere dra  en dus meer teksture voel en gouer meer dinge ervaar. Ek het nogal daarvan gehou om julle nie te dik aan te trek met slaaptyd nie, en eerder ‘n warmer kombersie te gebruik. ‘n Ander studie het bevind dat swart babatjies tot op seker so 3 jaar, verder ontwikkel is as wit babatjies, omdat hulle die hele tyd op hulle ma se rug sit( liggaamlike kontak en emosionele  sekuriteit agv nabyheid) en oral saam met die ma gaan en sien wat sy doen.

Dan het ons ook gesien dat die ma  dadelik moet reageer as haar babatjie huil. Dis sy metode van kommunikasie. Tel hom op! Meestal hou hulle sommer dadelik op met huil, wat dalk vir jou se hy het sommer verlang na bietjie aandag! Maar wat se ons vir iemand as hy moet stilbly? Dis reg:”SJUUUT!” Dit werk met grootmense, en ek kan julle verseker dit werk soos ‘n bom met babatjies! Ek kan nie verstaan hoekom so min mense dit vir hulle babatjies se nie. My ouma het mos altyd, terwyl sy in die kombuis werk, so ‘n sjuu-sjuu=sjuu geluid geneurie-sing. Ek het altyd gewonder hoekom. Jare later, toe ek vir jou op haar knie sit, Leanie, gaan my ouma dadelik oor in die “sjuu-sjuu-sjuu” mode. Toe besef ek eers dat sy mos al die jare kombuiswerk moes doen met ‘n babatjie by haar – sy het immers 12 gehad! Die sjuuu-geluid is iets waarvan babatjies baie hou, en wat hulle rustig maak ( is dit wat hulle in die baaarmoeder gehoor het?). Daarom se mense vandag nog in alle tale “sjuut” as jy wil he iemand moet stilbly.

Terwyl ons nou so nader aan die natuur praat, is die volgende stukkie waaroor ons moet gesels, borsvoeding.

Almal weet nou al dat moedersmelk die  allerbeste vir die klein babatjie is en dat dit hom ook beskerm teen siektes. Nou die dag het ‘n verpleegster-blogger gese hoe die nasies verskil. As ‘n wit vrou gevra word hoe sy haar baba gaan voed, se sy sy gaan probeer om te borsvoed. ‘n Swart mamma antwoord eenvoudig: borsvoeding. Daar is geen alternatief nie.

Die  pasgebore babatjie, het een belangrike refleks: om te suig. As enigiets aan sy gesiggie raak, draai hy sy kop in daardie rigting en begin suig! Dis te dierbaar om te sien. Hulle suig letterlik aan alles wat voorkom. Soms sal hulle aan hulle handjies ook suig. Dit maak glad nie saak nie, hulle gaan nie noodwendig duimsuiers word nie, trouens, borsbabas is minder duimsuiers as ander.

Berei jouself vir borsvoeding voor terwyl jy swanger is, deur jou tepeltjies te rol en te knie en te trek, sodat jy gewoond raak aan al die aanraking. Dan word hulle nie so maklik seer nie. Dit help om ‘n goeie room in te vryf- vra die apteker.

Aanvanklik sit ‘n mens die babatjie ‘n kort rukkie aan elke bors, seker so 5 -10min, en maak dit geleidelik langer. Met tweelinge ruil hulle nie die babas om nie, maar as die outjie nou aan die linkerbors gedrink het, moet hy volgende keer aan die regterbors drink. Tannie Coralie het my vertel dat sy vir elke outjie ‘n karton horlosie gemaak het wat vir haar kon aandui wanneer die laaste keer was wat die babatjie gedrink het, en aan watter bors. Dit help, want ‘n mens raak maklik deurmekaar.

Dit is ook so dat borsbabatjies gouer honger word en dus meer dikwels drink as bottelbabas. Die algemene teorie is nie meer die van vaste roetine nie, maar voed op aanvraag. Dit is nogal hard op die mamma, maar dit is ook so dat hoe meer die babas drink, hoe meer melk het jy. ( jy moet natuurlik baie vloeistowwe ook drink)Later, as die aanvanklike gevoeligheid van die borste verdwyn het, laat jy jou babas drink so lank hulle wil , en hulle raak ook gewoonlik sommer lekker aan die slaap – en jy ook, as jy nou gemaklik le of sit. Dit het altyd vir my gevoel ek gee vir my kinders slaapmedisyne is as ek borsvoed. Dis ongelooflik hoe hulle ogies sommer toegaan.

Wat borsvoeding aan betref, is dit belangrik dat jy as mamma moet ontspan. Eers dan”sak” jou melk en vloei maklik. Sit mooi musiek op, sit of le gemaklik en geniet die oomblik. Die huiswerk kan wag – dis nou babatyd! Borsvoeding is nog ‘n wonderlike geleentheid vir “bonding”. Dit help om by ‘n organisasie aan te sluit wat hulle beywer vir borsvoeding, en wat vir jou waardevolle raad kan gee, as jy dalk sukkel.

As ‘n mens eers geoefen is om jou melk te laat ‘sak’ het jy ook nie meer ‘n borspomp nodig indien jy jou wil uitmelk nie. Jy druk net so ligggies op die bors soos die babatjie sal suig, en die melk vloei!

Hoe lank borsvoed ‘n mens? Tannie Altalise, wat met honde geboer het, het hierdie interessante brokkie deurgegee. Soogdiere voed hulle babas so lank as wat hulle dragtig is. Honde is bv twee maande dragtig en babahondjies word net tot op 8 weke gevoed, daarna is hulle heeltemal gespeen. Blykbaar is dit met alle soogdiere so.

Dit beteken dat die natuurlike tyd om op te hou borsvoed, 9 maande is.  Ek het jou op 6 maande  van die bors afgehaal , Leanie, en oneindig moeilikheid opgetel. Pleks ek langer aangehou het! Annika en Lienkie het ek tot op ‘n jaar geborsvoed, en dit het goed gewerk. Ek dink daar is baie waarheid in tannie Altalise se teorie, dus hou uit en aan. Dis in elk geval die allerminste moeite!

En so word ons as hoogsbeskaafde wesens skielik weer aards. Daar is min dinge wat jou so af aarde toe bring as geboorte en moederskap. So “back to nature!”

Dit maak jou nederig by die besef van die wonder van die skepping en die ongelooflike voorreg om ‘n kindjie ( of dalk twee kindertjies) groot te maak. ‘n Mens kan God net dank vir sy genade.

Maar wag, dis alweer slaaptyd. Lekker slaap en baie liefde!

Mamma

Om nr 5 te lees, klik hier.

Posted in ouma se bababoek ( ouerleiding) | 4 Kommentaar

sundaynightblues

Dis alweer Sondagaand, blues tyd en haar hart loop ver paaie.

Sy wonder weer oor die lewe, die lief en die baie leed.

Hoe ver draai die liefde?

Hoe onselfsugtig is ware liefde?

Hoe onselfsugtig is sy werklik?

Hoe kry ‘n mens sy hart weer heel?

Dis Sondagaand, blues tyd, en haar hart dra swaar aan hom.

Posted in gedigte en rympies (seestrome van verlange), Los opdrifsels | 3 Kommentaar

KRATER 5. Bedskapades

 

Eendag , lank gelede, was ek jonk en mooi en verlief. ( Ja sowaar!)

Die enigste sitplek in my woonstel was maar die bed, ‘n outydse yster en koper driekwartbed, baie mooi, en wyer as ‘n gewone enkelbed. En wie sit nou as jy lekker agteroor teen die tralies kan le?

Die outjie van my drome het juis so agteroor gele, ewe onskuldig.

Ek  besluit entoesiasties om op die bed te duik soos ek gewoonlik doen as ek alleen is, hardloop  vorentoe, duik…..en val aan die anderkant af.

Ja, wat sal ek se? By Merino, ons restourant, na verskeie glipsies met glasies wat stort ( of val) spot hulle my lekker. Ek drink mos net koeldrank, en die rede “Sy het nie alkohol nodig nie… “

Posted in kraters en ander skandes (humor) | 4 Kommentaar

Rush, rush, rush

Hoe meer haas, hoe minder voel.

1 Kommentaar

Krater 4. These shoes are made for walking….

 Dit was oggend en ek was laat, soos dit maar met sommige ma’s van klein kindertjies gaan.

Ek jaag om klaar te kry, die lang pad deur die Pretoria oggendverkeer te ry en nog steeds betyds by die skool te wees. Ons moet mos eers almal saam in die personeelkamer vergader voordat die skool begin.

Ek hardloop vervaard die gang af, en naby die deur gly ek ook so effens.

“Dis nie vandag my dag nie,” se ek vir ‘n kollega wat daar staan.

“Haai ja siestog, ” se sy,” en ek sien jou skoene pas ook nie so mooi nie. ”

Ek kyk af en sien dit ook: Aan my linkervoet het ek ‘n groen suede wighakskoen aan, en aan my regtervoet ‘n pikswart, blink  hofskoen…

Nouja, ten minste het ek die personeel se dag gemaak. Elke keer as hulle my sien , het hulle opnuut gerol van die lag!

TIP: My ma het natuurlik later vir my vertel wat ek eintlik moes gedoen het.  Ek moes gese het dat dit nou hoogmode is- ek het nog so ‘n paar tuis ook. Onthou dit tog as julle dit dalk eendag oorkom.

Posted in kraters en ander skandes (humor) | 5 Kommentaar

Ouma se bababoek. Brief 3: Slapies by mamma?

Goeienaand Leanie, Annika en Lienkie

Vandag wil ek praat oor’n ding waar die mense jare lank al oor stry. Slaaptyd!

Kom ons gaan terug na die natuur.  Soogdiere versorg mos hulle kleintjies tot hulle groot is. Kleintjies slaap baie en soms moet die mamma -dier hulle alleen laat om te gaan jag vir kos. Dis gewoonlik terwyl hulle slaap. As sy hulle hoor huil, kom sy egter dadelik na hulle toe.

Maar soms moet die mamma -dier ook slaap, rus of ontspan. Waar gaan slaap sy? Los sy haar babas op een plek en gaan slaap agter die bult op ‘n ander plek? Ek kan my nou nie indink dat ek weet van een dier wat dit met sy pap klein babatjie doen nie. Die mamma-hond, kat, bok, olifant, muis, noem maar op, is soveel moontlik by sy babatjie, hoe kleiner die babajie, hoe meer.

Primate ( apies, bobbejane sjimpansees ens) se kleintjies is sommer die heeltyd by hulle. Die kleintjies klou vir lewe en dood van aan die ma en gaan sommer oral saam. Geen bababobbejaantjie slaap in een boom en sy ma in ‘n ander boom nie! Kangaroos ea het selfs ‘n spesiale buidel waarin die kleintjie bly en soort van permanent hom aan die ma vasheg tot ‘n sekere ouderdom.

Nou wat is dit dan nou met die moderne mens dat hy dink die beste ding is vir sy piepklein, pasgebore, hulpelose babatjie om in een kamer te slaap met sy ma myle van hom af in ‘n ander kamer, daar waar sy hom skaars kan hoor? Wie op die aarde het so ‘n simpel plan uitgedink? Dalk een of ander man wat sy vrou net vir homself wil he?

Sover ek weet, het die oermense hulle babatjies by hulle gehad, nes die ander primate (en of ons dit nou wil weet of nie- ons is ook primate en dit doen niks afbreuk aan ons geloof nie). Maar erens, soos die beskawing gevorder het, het mense begin om al minder en minder fisies betrokke te raak by mekaar en by hulle kinders. (Ek sal nie verbaas wees as die Britte se ‘stiff upper lip’ iets hiermee te doen het nie, maar voordat ek heeltemal aangekla word van rassisme, sal ek liewer hierdie woorde terugtrek).

Die babatjie het ‘n behoefte aan sy ma se aanraking. Trouens dis baie belangrik vir sy fisiese sowel as emosionele ontwikkeling. Dit is ‘n feit dat babatjies wat bv alleen in hospitaalbedjies of broeikaste le, nie so gou gesond word en nie so vinnig ontwikkel soos babatjies wat by die ma  bly nie.(onthou julle hoe ons hans- eendkuikentjies altyd kleiner was as die wat by die ma -eend was?)  Daarom word vroeggebore babatjies deesdae in ‘n tipe mensgemaakte buidel teen die ma se lyf gedra. Dis daardie blote fisiese kontak wat ‘n hemelbree verskil maak  aan die kindjie se ontwikkeling, fisies, emosioneel en intellektueel.

In hospitale en kinderhuise is selfs so ‘n sindroom te bespeur: die “inrigtingskind.” Kinders wat lang tye van babadae af in hospitale le, word emosioneel afgestomp, is minder intelligent en kan nie persoonlike verhoudings opbou nie.

Dit is natuurlik uiterste gevalle van kinders wat geen regte aandag en liefde van een persoon af kry nie en ek glo noudat mense van die probleem bewus is, word daar baie gedoen om dit te bekamp. So sal hulle dalk al die babas in dieselfde saal sit omdat dit makliker is om aandag te gee as een huil en omdat die babas mekaar kan sien en kommunikeer. Maar wag, ek dwaal nou te veel af.

Die punt wat ek wil maak, is dat die babatjie veilig en gekoester voel as hy hier langs sy ma le, en dat dit natuurlik en reg is dat dit so moet wees. Daarom slaap hy baie beter en word minder wakker.

Dit is vir die ma ook lekker en ‘n groot gerusstelling om haar babatjie so by haar te he. Borsvoeding is die heel maklikste sommer so in die bed met haar kindjie in haar arms. (Ek weet nou net nie wat as albei gelyk wil drink nie. Miskien weet ‘n tweeling-ma raad?) Die mamma slaap ook op haar lekkerste, want sy weet sy hoef nie bekommerd te wees dat sy nie haar babatjie sal hoor as hy wakker word, stik of een of ander probleem het nie. Sy sal NOOIT haar babatjie dood le nie, die instink om hom te beskerm is nou eenmaal te sterk.

Nou waarom beveg ons dit so sterk? Waarom glo ons die kind sal bederf raak as hy by sy ma wil wees? Die babatjie weet niks van  van allerlei sielkundige teoriee af nie – hy wil sy ma he en klaar. Dit is sy natuurlike primitiewe behoefte en dis ‘n behoefte wat ons maar kan bevredig. Jesus se : “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.” Markus 10:14 . As Jesus dan nie kindertjies wegwys nie, waarom wil ouers, as primere versorgers van hierdie selfde  kindertjies hulle dan wegwys as die kindertjies na hulle toe wil kom?

Jy sal NIE jou baba bederf deur hom naby jou te hou of by jou te laat slaap nie. Dit sal van hom ‘n gebalanseerde gelukkige mens maak, sterk in die wete dat sy behoeftes ook belangrik is.

Ek het natuurlik hierdie goed op die harde manier geleer, eers toe ek tydelik verlam was na ‘n motorongeluk( al weer) en nie self kon opstaan om jou uit jou wiegie te tel nie, Leanie. Dit was makliker om jou by my in die bed te hou.

Toe weer, toe jy ses maande oud was en ons na ‘n ander huis toe getrek het, het ons jou in jou”babakamer” laat slaap. Jy het sewe keer ‘n nag wakkergeword -elke nag! Jou pa het die slaap van die onskuldige geslaap, terwyl ek op en af gestrompel het in die donker gang.

(Ek wil nog eendag ‘n loflied skryf vir al die ma’s wat snags op en af skuifel in die gange van donker huise terwyl die res van die wereld slaap. Elke nag as die wereld gaan slaap, begin die ma’s met hierdie middernagtelike sagte gestrompel babakamer toe en terug , kinderkamer toe en terug, badkamer en kombuis toe en terug… Niemand praat ooit van die duisende skuifelende figure wat snags saggies die huise patroleer , en dan bedags moet fris sprankel en skitter nie.)

Dit laat my nou dink aan tannie Rina met haar vier seuns. Sy kom sit mos eendag by my so behaaglik agteroor en se:” Weet jy wat? Ek het gisteraand deurgeslaap! Die eerste keer in twaalf jaar!”

In elk geval, geen siel kan dit hou nie en een nag toe ek so vaak en moeg was dat ek net die baba teen die muur wou gooi en verder gaan slaap, het ek met jou in my arms bed toe gestrompel- en salig verder geslaap – en jy ook. Einde van die storie.

Die volgende dag is die cot terug langs my bed en die eerste keer wat jy wakker geword het nadat ek gaan slaap het, het ek jou ingetel en het ons albei rustig en in vrede verder geslaap. Oom Kleintjie glo vas dat die cot vir twee jaar lank net daar moet staan: langs die ma se bed.

Jy het een van twee opsies. Jy kan by jou babas slaap in hulle kamer op ‘n ekstra bed. maar dan is jy nie by jou man nie, of jy kan jou babas by jou in die bed tel EN by jou man wees. Die geheim is: Koop ‘n groot bed! Moenie die kinders tussen hom en jou sit nie, hou hulle aan jou kant, sodat hy nie so baie wakker word nie. Een troos: jy gaan nie koud kry met  jou man aan die een kant en ‘n tweeling aan die ander kant nie! En as hulle nie stil le nie, grom maar so liggies soos die mamma leeu.  Jy kan hulle ook saggies in die cot terugtel as jy voel jy het asem nodig, maar omdat die cot langs jou staan, hoef jy nie eers op te staan om dit te doen nie. Gou-gou raak jy dit gewoond om so te slaap, jou man en jou babas ook.

Dus terug na die fundamentele uitgangpunte: Die mens is nie gemaak om alleen te wees nie, soek fisiese aanraking en kontak. Die Bybel se hoeka: “As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is warm word?” Prediker4:11.  Hy praat waarskynlik van die huwelik, maar ook van die mens as geheel.

Moenie teen die prikkels skop nie, doen wat die gemaklikste en minste moeite is en die naaste aan die natuur: die “familybed”.  Gou- gou, hier by 2-5 jaar ouderdom, is die saamslapery iets van die verlede en het jy jou hele res van jou lewe om alleen saam met jou man te slaap.

Nou het ek genoeg geskryf. Kom ons sit en wag om te kyk of iemand hier lees en kommentaar skryf, want ek weet daar is baie verskillende uitgangspunte!

En dis rerig laat. Lekker slaap terwyl julle nog kan.

Baie liefde

Ma.

Om nr 4 te lees, klik hier.

Posted in ouma se bababoek ( ouerleiding) | 13 Kommentaar

Bloumaandagblues

Dis Maandagmore en ek voel sommer na weghardloop oor alles wat ek moet doen.

Eerste moet ek 100 kaartjies verkoop- voor Donderdag! Die kabaret “Die verdwyning van Poksie Pienaar is DONDERDAGal hier- ek het nog net 2 verkoop…. Dit gaan mooi wees, en kos net R50 , dus kan julle bloggers tog assebliefie elkeen een koop- of die geld stuur vir my vir liefdadigheid…..

Verder moet ek troureelings tref vir my kind se troue oor ‘n maand-en daar is duisende goed te doen…… En ek moet nog ‘n “outfit” kry om aan te trek!

Daar le berge wasgoed in die kombuis…..

Ek moet rekeninge betaal, Strandhuisbesprekings finaliseer( almal wil paasnaweek kom…..),  ens ens.

Ek moet panelbeater toe met my opgesmashde kar, die eisvorms invul( ek kry dit nooit reg om ‘n vorm in te vul sonder ‘n paar uitkrappe nie), die krane by die see laat herstel voor die volgende mense kom, die gasman kontak…….die katte se kos is ook op.

Dis makliker om te blog as om te lewe!

 Maar koop tog net eers ASSEBLIEF ‘n kaartjie!

Lewer kommentaar

Aandag alle motorvervaardigers en ander uitvinders !!!!

Hiedie was een van my eerste skrywes, lank gelede, en nog een van my idees. Noudat ek ‘n Aandag kategorie begin het, het ek besluit om dit te reblog. Miskien eendag, word iemand anders ryk uit my idees uit! Mmm,miskien moet ek die kategorienaam verander na: idees hoe om ‘n miljoener te word……

“Ek het al lankal gewonder, en dit ook een aand breedvoerig met my man bespreek, hoekom hulle dan nie motorkarre maak soos die rubberducks nie.

Kyk, rondom die rubberduck is daar mos so’n breë, luggevulde rubber”tube”, lekker styf gepomp, en my verstand se vir my, hy kan maar stamp. Hy gaan miskien “puncture’ of selfs bars, maar daardie stukkie boot in die middel gaan mos niks oorkom nie.

Nou hoekom op die aarde het karre nie ook so ‘n beskermende “stamp- proof”‘ rubber tube rondom nie? Sal die mense binne- in nie veiliger wees nie? Die assuransie minder? Die hele vervanging van opgesmashde karre minder? Die geld in die sak meer? Die hele motor-ry sensasie minder stresvol? Die lewensvreugde meer?

Ek kan nie glo dat niemand behalwe ek nog daaraan gedink het nie.  Of probeer die motor- industrie net geld maak met ons arme drommels wat van vervoer afhanklik is?

Ek het eergister uit die parkeerterrein gery en die motor langs my skrams getref. Net skrams. ‘ n Rubberbumper sou op die aarde niks oorgekom het nie- nie een van die twee karre s’n nie. Maar nou’s die ding mos van blik……

En gister is ek solid in ‘n pilaar in met die kar se voorkant. Die rubberbumper sou my liggies teruggebons het. Maar nou het ek mos ‘n blikkasarm………..

En vanoggend moet ek met die einste stuk blik Kaap toe ry! Bid asb vir my!!!”

So, Motorvervaardigers, gee aandag! Julle sal motorry soveel lekkerder maak! Dit ou wat eerste dit doen, gaan die wêreld eerste laat regop sit! ( veilig in ‘n opgeblaaste motortjie!)

Posted in Aandag! Verbeter die lewe en word 'n mijoener! | 8 Kommentaar

Die rooi kolletjies

Ek sien al lankal die mooi wereldkaartjies by party blogs en ek dag: Ek wil ook so ‘n plat aardbolletjie he! Na vele probeerslae gee ek effens moed op, want daardie heel laaste stukkie as jy dit doen, kry ek nie reg nie- tot Toortsie al weer vir my ‘n persoonlike les kom gee.

Nou pryk hy daar en dis vir my te mooi. My rooi kolletjies is maar min, maat laat my nogtans verstom: Suid Afrika 35, Ysland 9. VSA 4, Engeland 4, Nederland 2, Australie 1 en Taiwan 1

Liewe land- Ysland! Dis mos die plek waar die stories soms gebeur, en is dit nie ook daar waar vader Krismis woon nie? Verstaan julle in Ysland dan Afrikaans? Of is julle Suid Afrikaners wat die koue trotseer? Ek sou so graag wou weet wie julle is en wat julle doen. Wil julle nie maar antwoord nie?

Dan is daar  Taiwan. Is dit jy, Boer in Ballingskap? Australie- dalk my Elsabe vriendin? Maar hoe weet sy van my blog? Verder is daar  Engeland en die VSA. Ek weet daar is sommer baie Suid- Afrikaners daar. Dankie dat julle lees! En my Britse vriende van Barnard Castle? Kan dit wees dat julle ook hier rondloer?

Die Nederlandertjies ken ek, dink ek, maar ai, dis wonderlik om julle rooi kolletjies te sien.

Dus se ek dankie. Dankie dat julle darem hier inklok en lees. Hoe lyk dit: wil julle nie ‘n bietjie van julleself vertel nie? Ek sal dit baie waardeer.

Ek is mal oor my mooi rooi kolletjies!

Posted in Los opdrifsels | 20 Kommentaar

DAAR IS NIKS SOOS WARE LIEFDE………

I give to you, and you give to me- true love, true love…..

Nou onlangs het twee van my vriendinne geskei – dit nou behalwe die hele paar ander kennisse waarvan ek net verneem het. True love?

Dit was toe nie.

Erens, somewhere, gaan iets verkeerd. En ‘n mens kry seer en stomp af en maak toe. Beskerm jouself. Wat het geword van true love? Waarom word ‘n mens so seergemaak deur iemand wat veronderstel was om jou lief te he? En waarom is ons so besitlik?

Gee ware liefde nie juis vryheid nie? Waarom dan al die ongeluk? Is liefde nie dalk eintlik selfsugtig nie? Is dit ware liefde – dat jy iemand net vir jouself wil he?

Ek glo ware liefde is as jy die persoon vir wie jy lief het, se behoeftes bo jou eie stel. Of is dit? Beteken dit dan dus dat hy/sy kan maak net wat hy wil en jy is steeds lief vir hom?Wat is ware liefde? En wat is ‘n huwelik?

Posted in Los opdrifsels | 15 Kommentaar

Die taal van geheime liefde

Met duisend malende woordgedagtes

krap ek eentonig strepiespatrone in my boek,

daar waar ek jou wil skryf…

Posted in die tale wat ons praat, gedigte en rympies (seestrome van verlange) | Lewer kommentaar

Die taal van tyd en ouderdom

 Hoe het die spinnerakke van die tyd die ratwerk vasgevang en laat roes?

En waarom?

Posted in die tale wat ons praat | 1 Kommentaar

Ouma se bababoek 2: Huilende babatjies en die bevrediging van behoeftes

Liewe Leanie, Annika en Lienkie

My gedagtes is nog nie heeltemal agtermekaar met hierdie bababoek nie, so julle moet maar verskoon as my onderwerpe bietjie deurmekaar is. My seksboek het ek mos begeesterd op ‘n ou oefenigboek geskryf en uitgekrap en oorgeskryf en herrankskik. Maar  hierdie boekie doen ek sommer direk hier, hier op my blog. Dus is hier nie geskaaf en goed oordink nie. Maar ek sal probeer.

Ek dink ek moet eers by die basies fundamentel uitgangspunte begin.

Ons het nou reeds gesien dat instink ‘n belangrike rol speel. Wat is ‘n mens se instinktiewe gedrag as jou babatjie huil? Ek neem aan julle het gedink: Troos.

Wel, julle is heeltemal reg. ‘n Babatjie is ‘n klein, hulpelose dingetjie wat nie kan praat nie, en absoluut niks vir homself kan doen nie. Hy kommunikeer egter tog baie goed met jou! Ja, as hy gelukkig is, sal hy lag of tevrede lyk, en as iets hom pla, sal hy huil. Hy gaan nie huil sommer vir die plesier nie, nee, as hy huil, is daar ‘n rede. En jou eerste reaksie as ma, sal wees om hom te probeer gelukkig maak sodat hy ophou huil.

Dit is ook reg so. Huil is die babatjie se enigste manier om te kommunikeer, en julle as ouers moet aandag gee:DADELIK!

Hier is nogal ‘n diep sielkundige teorie. As jy dadelik aandag gee, se jy vir jou kindjie:Ek is lief vir jou. Jy is belangrik. Jou behoeftes is belangrik. Dit is die begin van ‘n goeie verhouding met jou kind,en ook ‘n goeie selfbeeld vir hom. Ignoreer jy die huil, se jy die teenoorgestelde:Jou behoeftes is nie belangrik nie en maak nie saak nie, JY is nie belangrik nie, ek is nie lief vir jou nie. Negatief verby!

Daarom glo ek nie daaraan om ‘n kind in die bed te laat le en huil omdat dit nou bv slaaptyd is  nie. Nee, jou instink se vir jou jy moet jou babatjie gaan optel en troos, en dis ook wat jy moet doen, al wil geleerdes jou ook wat se. Kyk maar weer na die natuur- hoe onmiddellik besorg die ma-hond of ma-kat is as hulle kleintjies kerm.

Waarom huil ‘n babatjie? Hy is dalk honger, kry koud kry warm, het ‘n vuil doekie, sy klere is dalk te styf, of krap dalk, hy het dalk maagpyn of windjies, hy voel dalk jeukerig en taai, of hy voel siek. Of, hy het eenvoudig behoefte aan nabyheid en aanraking.

Hiedie behoefte aan nabyheid en aanraking moet asb nooit onderskat word nie. Babatjies het ‘n groot behoefte aan liefdevolle aanraking ( vel tot vel kontak) en nabyheid.(cuddling). Hoe meer, hoe beter!  Babatjies wat by die mamma slaap, of in wiegie langs die bed huil ook minder as babatjies in ‘n ander kamer, want sodra hy roer, sit die mamma dalk haar hand op hom, of in die bed, “cuddle’ hom ‘n bietjie,en babatjie voel getroos. Opvallend was dit vir my toe ek babakatjies hans grootgemaak het. Hulle het vreeslik gemiaau ( huil). Darenteen is babakatjies by die mammakat baie stil en tevrede.  Hulle het die sekuriteit van die mammakat se liefdevolle aanraking en nabyheid, wat die ander katjies ongelukkig moes ontbeer, al het ek my bes probeer.

Dit kan natuurlik baie frustrerend wees as jy nie kan agterkom hoekom jou babatjie huil nie, maar wees verseker daar is ‘n rede – en jy moet dit soek. Dit is nie stoutigheid nie, soos die ouer mense my graag wou wysmaak toe julle klein was nie. My vriende het my goeie raad gegee: “‘n BABA ONDER EEN JAAR OUD IS NOOIT STOUT NIE.” Onthou dit asb as jy erg gefrustreed raak omdat jou babatjie dalk aanhou kerm en lastig is.

Ek onthou nog goed die eerste vakansie met jou hier by die see, Lianie. Jy was so 4 maande en het skielik begin huilerig raak, wou net op die arm wees en glad nie in jou cot nie. Die ou tannies het almal vir my gese jy is bederf en wil net opgetel wees. En ek het dit begin glo, maar ek het geweet dat jy nie gewoonlik so is nie. Toe vat ek jou dokter toe, teen almal se aanbevelings in. My arme kindjie, jy het al die tyd oorontsteking gehad en dit was jou seer oortjie wat jou so huilerig gemaak het!

Tannie Rosie het altyd gese dat sy en haar man hard probeer het om in al die behoeftes van hulle kinders te voorsien. Vandag het sy pragtige suksesvolle kinders met goeie gesinsverhoudinge.

Maar wag, dis baie laat ek ek moet nou eers bed toe.

Lekker slaap my lieflingkinders.

Ma

om nt 3 te lees, klik hier.

Posted in ouma se bababoek ( ouerleiding) | 6 Kommentaar

It’s summer!

IT’S SUMMER

It’s summer, and off to the sea I go,

not to swim, walk on the beach, or suntan, 

but to work – washing toilets, making beds, sweeping floors.

It’s summer, so off to the sea I go!

 

http://www.stayhere.co.za/ads/rusnbietjie

http://www.stayhere.co.za/ads/erika

http://www.stayhere.co.za/ads/anniesflat

Posted in Die Overberg: my wereld., English blogs, gedigte en rympies (seestrome van verlange), Los opdrifsels, Seestories | 2 Kommentaar

Brilsielkunde 2: kontaklense

Wel, hier gaan die nou nie eintlik oor die sielkunde nie, maar oor die bevryding van kontaklense.

Daar is min dinge so wonderlik soos weggooibare kontaklense. Ek daag elke brildraer uit om dit te probeer. Die goed is deesdae so gemaklik, en as hy jou pla, haal hom uit en sit ‘n ander een in.

Toe ek uiteindelik genoeg geld en moed het, het ek vir my van daardie harde kontaklense gekry. Die goed was maar ongemaklik en omdat dit makliker was om af te kyk, was draers geneig om hulle koppe agteroor te gooi en so uit die hoogte na mense te staar- ook nie baie bevorderlik vir interpersoonlike verhoudinge nie!

Gelukkig kon sagte kontaklense toe in, en later nog beter, weggooibare kontaklense! Niemand kruip meer op die mat rond op soek na ‘n verlore lens nie. Die goed val nie uit nie en as die onwaarskynlike wel gebeur, gaan haal jy sommer ‘n ander.

Die voordele is eindeloos: Jou oe brand nie meer as jy uie skil nie; jy kan actually uiteindelik sien hoe lyk die kos in die pot as jy die deksel oplig; jy is ligter – en sommer ook koeler; jy is baie beslis mooier; jy kan van daardie cheapstuff mooi modesonbrille dra en steeds sien; jy soen beslis baie lekkerder; jou eyemake-up word uiteindelik deur iemand gesien- en natuurlik jou pragtige kykers( waarvan jy nou sommer die kleur ook kan verander, sou jy wou); jy kan swem en steeds sien  en jy kan lekkerder in die bad le en boek lees.

Weg met die bril!………. Tot jy so jou 50’s slaan.

Ek neem aan versiendes het dalk nie die probleem wat ons bysiendes het nie. Hulle brille of lense help hulle om naby te kyk. Ons bysiendes moet gehelp word om ver te sien, naby is ons dooddollies. Maar nou kom die senior jare en jou oe raak geleidelik al meer versiende, al is jy nog bysiende ook. Dus word jou lense te STERK om naby te sien.

Oplossing? Koop van daardie goedkoop leesbrilletjies. Gewone ouens met goeie oe doen dit mos ook. Frustrasie!! ‘n Mens loop die helfte van die dag rond op soek na jouu leesbril! Hy is nooit daar waar jy hom nodig het nie. ‘ Gewone bril kan jy darem gou afhaal en dadelik weer opsit, maar ‘n leesbril word mos net nou en dan gebruik! Kontaklense kan jy nie sommer vinnig uithaal en insit as jy wil lees nie, dus is daar ‘n ander oplossing: eers was dit bi-fokale brille en toe later Multi-focals.

Ai tog! Weer terug na die bril? Aikona, se ek. Ek is nog nie gereed daarvoor nie. Die oogkundige het ook nie raad nie, die kontaklense vir sulke oe is blykbaar nie suksesvol nie.

Toe maak ek maar my eie plan- en hy werk baie goed! Ek sit net een lens in. Nou kan die een oog naby sien, en die ander ver. Probleem opgelos! ( Maar ek wonder steeds heimlik wat die oogkundige gaan se). Ek dra dit nou al jare so, en het nog nie agtergekom of dit nadelig is of nie, maar ek kom goed reg en brilloos. Daar is effense blur aan die een kant as ek ver kyk, en ‘n efffense blur aan die anderkant as ek naby kyk, maar die brein kompenseer, en ek sien dit nie eers meer raak nie.

Die vriendin wat altyd so saam met my gaan sokkie het, het so ‘n jaar gelede wel die operasie gehad. Sy beveel dit ten sterkste aan. ” Maar Rina, se my, dra jy nou glad nie bril nie? Wat van ver sien en naby sien?” vra ek.

“Nee, ou Anna-Marietjie, niks bril nie. Hulle het my een oog geopereer dat hy ver kan sien, en my ander oog dat hy naby kan sien”.

Daar het julle dit.

Posted in brilsielkunde | 5 Kommentaar

Brilsielkunde Deel 1

Dit was in st 5 toe ek agterkom ou Frannie kan baie beter as ek op die bord sien. Ek en sy het langs mekaar in die skoolbank gesit, en sy het altyd vir my gelees wat op die bord staan. Ek dag natuurlik dat sy besonder goeie oe het. Ek het nie vir een oomblik gedink dat daar dalk iets met my kon skort nie.

Toe kom die eksamen. Frannie mag nie help nie, en ek staan op om te gaan kyk wat Meneer op die bord geskryf het. Gou word ek uitgejou: Ek sit aan, ek probeer aandag trek, ek wil net wys ek’s slim…….Toe staan ek maar nie meer op nie, en skryf die grootste klomp tjol denkbaar…

Ek was heel trots toe ek almal kon verkeerd bewys en eendag met ‘n bril by die skool aankom. Min het ek geweet………

Net brildraers weet van die swaar gewig die heeltyd hier op jou neus; die bril wat gedurig teruggestoot moet word as hy afgly in die hitte omdat jou neus sweet; die glase wat toewasem as jy skielik van ‘n warm vertrek na buite gaan, of inkom, of in die kospotte loer, of sommer net omdat hulle lus het, die brilglase wat asvaal aanpak van die seelug; die bril wat skeef van jou neus afhaak as jy ‘n ou soen ( en as hy ook ‘n bril het haak julle brille mos aan mekaar vas), die bril wat soms wegraak, of nog erger – breek en dan’s jy gestrand……..

Hierdie mini- verhandeling  sonder enige wetenskaplike bewyse gaan egter oor my teorie – die teorie dat brildra die sosiale lewe van die individu negatief beinvloed. (As ek reg is, het Einstein ook jare lank sy relatiwiteitsteorie gehad voordat dit uiteindelik tog as waarheid bewys is…)

‘n Voorsmakie van hoe die bril jou wegskerm van mense, het gekom met die eerste groepfoto’s vir die skool se jaarblad. Daar staan ons hele groep toe, opgeline, en die fotograaf klik lekker. Op die foto is daar rye en rye pragtige jong adolessente, glimlaggend en vriendelik. Almal behalwe ek. Daar waar my oe moes wees, was twee wit kolle in ‘n donker raam. Die glase het die flash weerkaats, en die fotograaf het nie moeite gedoen om nog ‘n foto te neem nie.

Dit was die laaste keer dat ek ‘n foto met ‘n bril op laat neem het, maar dis ook nogal ‘n sigbare bewys van my teorie. Die glase  was ‘n SKERM tussen my gesig en die wereld , en die weerkaatsing het dit goed illustreer.. Sonder oe, is die gesig nie OOP nie, en kan iemand dus nie daardie gesig so goed SIEN nie, en dus nie so goed met hom KONTAK MAAK nie.

Daar is diegene wat met my sal verskil en se dat ‘n bril geen effek het nie en dat mense nie negatief teenoor brildraers reageer nie, en dat ‘n bril jou soms eintlik mooier maak. Dis die mense wat duidelik nooit gaan sokkie het met ‘n bril op nie.

As eerstejaar op Tukkies moes ons die bokjolle bywoon. Ek was ook baie lief vir dans . Maar net as iemand my vra! Daardie jare is baie meer vas as los gedans en wie wil nou soos ‘n muurblom die hele aand sit en hoop jy word gevra? Dit het altyd ‘n hele rukkie geduur voordat ek en my vriendin, ook ‘n brildraer, gevra is. Sodra die ouens dan agterkom dat ons lekker kan dans, is die saak reg en sit ons nooit weer uit nie. Maar hoe gemaak dat hulle ons kan vra?

Een aand besluit ons om sonder ons brille te gaan : Voila! Toe ons by die deur instap, word ons weggeraap op maat van die musiek. Toe begin ons eksperimenteer. Elke keer as ons ons brille op het, vat dit ‘n halwe aand om gevra te word.  Elke keer as ons sonder brille gaan, word ons dadelik gevra! ( Daar was immers niks verkeerd met ons “looks” nie!)

Vir die res van my Varsity loopbaan  het ek dus brilloos en blind gaan sokkie en gedans dat die stof so staan. Dit het baie goed gewerk in die skemer lig van die saal, behalwe nou vir ‘n paar klein insidente, soos die paar keer dat die ou my oor en oor moes vra omdat ek gedog het hy praat met iemand anders, of die keer toe ek gretig opgespring het, net om uit te vind die ou het die meisie langs my gevra, nie vir my nie!

So het ons brillose afsprake ook begin. Daar was kere wat ek in die fliek gesit het en alles mooi beluister het sonder om veel te sien- ek dink een van die flieks was nog die storie van Anne Bolyn.

En in my kop het die teorie begin broei.

Waarom vra die ouens jou nie as jy ‘n bril op het nie? As jy vir hulle daaroor uitvra, sal almal se dat hulle geen vooroordele teenoor brildraers koester nie. Maar hulle vra jou tog nie so maklik nie. Ek dink dis omdat hulle jou nie SIEN nie. Veral in die dowwe lig, kyk jy vir die blink van iemand se oe. Die oe is ‘n belangrike deel van die prentjie wat jou gesig vorm. Nou word jou gesig ‘op-geclutter” met ‘n bril. Die gesig is nie oop en skoon nie, maar vol clutter. Verder maak die glase die deel agter hulle byna onsigbaar vir die toeskouer. In plaas van helder duidelik gedefineerde oe, is dit dowwe goed, weggesteek agter glas wat reflekteer, of donkerder is , en alles valer en minder duidelik maak. In plaas van ‘n skoon, oop duidelike gesig met sy besondere trekke, is alles so half op een vlak, met min diepte, min spesifieke gesigskontoere en min oe. Dus kyk di toeskouer hom onbewustelik mis, en sien die helder , oop, goed gedefineerde gesig met die duidelike oe, langs jou, eerste raak. Dink net hoeveel moontlike liefdes is net daar gekelder- by die eerste mis-sien!

(En net ingeval julle nog twyfel: hoeveel mej Suid-Afrikas, mej Werelds  of enige ander skoonheidskompetisie wenner het jy al met ‘n bril opgesien? En hoeveel deelnemers aan so ‘n kompetisie het jy al met bril op sien deelneem? Niemand nie????? As byna die helfte van die wereld se mense bril dra, wil julle my nou vertel dat mense met swakker oë minder mooi is as mense met goeie oë??? Nie????  Nou hoekom neem hulle nie deel met hulle brille nie, hê? En sou hulle nou deelneem – wat sou hulle kanse gewees het om te wen met bril en al?)

Die glase is  ‘n skerm tussen jou en die persoon wat na jou kyk. Dit maak jou minder bereikbaar. Vgl bv ‘n olieverfskildery versus die waterverfskildery. Dit is heeltemal foutief om ‘n olieskildery agter glas te raam, nie net omdat hy niks sal oorkom sonder die glas nie, maar omdat die glas iets van die prent wegneem. Die glas is ‘n skerm tussen die toeskouer en die prent. Dis in die pad en bederf die kykgenot. Wel, ‘n bril is nog meer so.

Gereelde brildraers sal kan getuig dat hulle soms daardie skerm gebruik om agter weg te kruip. Hulle voel dan “kaal” sonder hulle bril. Hulle het gewoond geraak aan die veilige afstand wat die bril tussen hulle en hulle medemens skep. Sou daar verskille in hulle interpersoonlike verhoudings wees teenoor die wat nie bril dra nie? Ek wonder.

Maar genoeg vir een dag. Het julle gehoor van die student wat op ‘n blind date gegaan het en haar bril bo in die kamer gelos het? Toe sy onder  kom en die ou ontmoet, lyk hy vir haar na niks watwonders nie, en sy besluit dat hy nie die moeite werd is om voor blind deur die lewe te gaan nie. ‘Ag, verskoon my net gou ‘n oomblik?” vra sy en hol gou die trappe op om haar bril te gaan haal. Toe sy weer onder kom, sien sy dat hy nou ook sy bril opgesit het……

Posted in brilsielkunde | 3 Kommentaar

KRATER 3 Beauty is painful

Tog snaaks hoe fyngevoelig ‘n mens is as jy jonk en nog meer onseker van jouself is. Die dinge wat jy nou goed kan hanteer, was dikwels “Major issues” vir jou as jongmens. Krater maak bv. (Die teenoorgestelde is ook waar- dinge waaraan jy as jongmens jou nie so erg gesteur het nie, bv ander se pyn)

Vroeer jare, as student op Tukkies, het ek en my vriendin gou agtergekom dat ons ons brille moes afhaal as ons wil mooi lyk. Kontaklense was nog nie in daardie jare ‘n opsie nie.

(Ek wou nog altyd ‘n tesis skryf oof die effek wat die dra vin ‘n bril op verhoudings het, maar twyfel of ek daarby sal uitkom, dus kan ‘n sielkunde student wat ‘n onderwerp soek, my kontak vir riglyne. Ek glo daar is ‘n saak uit te maak daarvoor)

Wel, dit was een van daardie aande wat dit nie so nodig was om te kan sien nie, ek het ‘n nuwe liefde gehad en ek wou ekstra mooi lyk, dus weg met satan!  Toe my vegetarier kerel ( ek noem hom daar erens in Ma se seksboek) dus my laat roep oor die interkom, stap ek blindemol- blindemol die trappe af.

Onder gekom, sien ek hom met die meisie by die ontvangstoonbank staan en gesels. Ek trippel bakvissie -bakvissie vorentoe , gryp hom aan sy skouer om hom te laat omdraai, en se ewe guitig en voor op die wa:” Haai! Hier is ek!”

Toe hy omdraai – is dit ‘n wildvreemde!

Daar staan ek toe, verdwaas en krater!

Die ergste was egter dat my vegetariertjie op die bankie teen die muur gesit het- en die hele petalje aanskou het!

Posted in brilsielkunde, idioomstories, kraters en ander skandes (humor) | 22 Kommentaar

Ouma se bababoek. Brief 1: moederlike instink

Liewe Kinders

Hierdie briefies is nou vir Leanie, maar ek skryf sommer vir julle ander twee ook, wat dalk nog ook die voorreg gaan he om kindertjies te he.

Hoe het die jare nie gevlieg nie! Van daardie eerste keer toe ek jou vasgehou het, Leanie, tot vandag dat ek die woord”Ouma” sowaar hier kan tik! Wel , ek is natuurlik nog nie ouma nie, maar die hoop beskaam nie, en hopelik is ek oor 3 maande wel ‘n ouma!

Jy het ons natuurlik almal ontkant betrap, want toe verwag jy sommer ‘n tweeling!!! Hoe kan ek jou nou raad gee? Ek weet NIKS van tweelinge af nie! Ek hoop maar die mede-bloggers wat hier lees, gaan hulle stuiwer in die armbeurs gooi en help raad gee.

Ai my kind, een ding moet jy sommer nou dadelik verstaan: Soveel mense, soveel dinge. Dis maar die mens se natuur om vir almal te wil raad gee en hoe meer mense , hoe meer verskillende rate en raad gaan jy kry. Dit sal dalk voel of jy wil mal word, want die een se sus, en die ander so. Luister maar wat almal se, dink daaroor of jy  daarmee saamstem, en doen dan maar jou eie ding! Dws, gebruik die raad wat vir jou die beste werk. En as jy glad nie weet nie, gaan kyk maar na die natuur.

Selfs die mediese wetenskap verander en die sielkundiges verskil van mekaar, afhangende uit watter leerskool hulle kom. Ek vind egter dat die diere van die veld geen boeke opgeswot het nie, geen groot sielkundige wysgere  het wat vir hulle voorgeskryf nie ( behalwe nou die boer, en hy dink aan finansies), en selfs geen teologiese teorie nie. Wat hulle wel het, en BAIE daarvan, is instink.

Wel, my kind, jy as toekomstige mamma, sal waarskynlik agterkom dat jy ook INSTINK het- sommer baie daarvan. Ek wil asb sommer nou vir jou vra: Luister vir jou instink! Hy is selde verkeerd. Wees ingestel op jou kinders. Jou instink sal vir jou se  of hulle honger is, of hulle siek is en wat jy moet doen. Niemand ken haar kindjie beter as ‘n mamma nie, en al voel jy ook hulpeloos as jy nie weet wat om te doen nie, doen wat jou instink vir jou se, die beste vir jou kindjie(-s!- daar’s mos twee!) se welsyn sal wees.

Nou gaan jy vir my se ek praat nonsens.  In die skool vir serebraal gestremdes waar ek gewerk het, het ek dit egter telke male gehoor. Die dokters dink die outjie makeer niks, die pa ook, en op die oppervlak lyk hy reg, maar die ma het altyd “gevoel” daar is iets verkeerd. Die pediaters het ook vir ons geleer  Luister vir die ma!  Die ma is selde verkeerd. Daarom het ons altyd baie aandag aan die ma se opmerkings gegee, en haar kommentaar altyd in ‘n ernstige lig beskou, maak nie saak op watter vlak van ontwikkeling sy dalk was nie.

As jy dus absoluut niks weet van babatjies nie, gaan  jou instink jou tog deurdra. ‘n Mens het ‘n goeie skoot kennis nodig en nog ‘n groter skoot instink en liefde. Gewapen met kennis, liefde en instink, kom jy ver, maar sonder die kennis sal jy dit ook nog maak. En dis nogal ‘n troos ne! Die natuur het jou gewapen met byna alles wat nodig is om jou babatjie goed te versorg.

Ek gaan maar tog vir die wis en onwis vir jou ‘n paar goedjies neerskryf wat ek as ma van 3 geleer het. Gebruik dit maar as jy wil. Soos enige ou tannie, wil ek ook mos graag my raad uitdeel, en ons ou tannies is mos ervare. Maar onthou tog daardie stukkie van die instink, en gebruik hieruit wat vir jou aanvaarbaar en reg is.

Volgende keer sal ek nou met my ouma-raad begin!

Ek hoop jy slaap vannaand lekker, al maak daardie twee woelwatertjies dit klaar al ongemaklik om lekker te le.

Baie liefde

Ma

As jy nog wil lees, klik hier.

Posted in ouma se bababoek ( ouerleiding) | 8 Kommentaar