Sondag afskeid

Dis Sondagaand, blues tyd, en vandag sit ons met harte in ons keel, maar tog ook nie.

Daar is ‘n tyd vir elkeen van ons om afskeid te neem van geliefdes, van die lewe, en voort te gaan hemel toe, Skepper toe. So is dit vandag met ons goeie vriend X.

Dis ongeveer 5 jaar gelede toe die kerk ons ingedeel het in ‘n omgeegroep, saam met mense wat ons nie goed geken het nie, mense wat ons nie gekies het nie, maar mense wat ook die behoefte aan ‘n omgeegroep gehad het.

So het ons klompie relatief vreemdes, mekaar gevoel-voel in die begin, en ewe styf koek en tee bedien voor of na ons ‘n bietjie Bybelstudie gedoen het. Mettertyd het ons mekaar leer ken, en mekaar se laste begin dra. Ek glo regtig dat dit die Here is wat ons klompie bymekaar gesit het, en nie die ou wat die omgeegroepe gereel het nie- hy ken ons immers ook nie.

Die wysheid en die onderskraging in die groepie is verstommend. Dis al donkiejare dat ons nie meer koek en tee nie, maar dat ons saam eet, kompleet met poeding en soms wyn. So word elkeen se lief en leed met empatie hanteer, en word ons almal ongelooflik onderskraag, altyd met die LIEFDE  van ‘n mede Christen.

Elke lid in die groepie lewer op sy eie manier ‘n ongelooflike bydrae om ons ander te verrryk. Sommigee met humor, ander met kennis, ander met wysheid en ander met insig. Saam het ons al sosaties gemaak dat ons blou word, vir die kerkbasaar, ons het iemand in nood gehelp om weer op sy voete te kom, ons het ‘n arm man gehelp om sy halfklaar huisie klaar te bou,  ‘n bejaarde in die siekeboeg te versorg, werk  gekry  vir ‘n werklose , stelasies gebou vir een van ons se kinders se projek, ens. Maar die meeste van alles, was die liefde en onderskraging wat vanuit die groep na elke individu in die groep gegaan het.

Vandag egter, is dit ‘n tyd van afskeid. X het siek geraak, drie jaar gelede al, en die dokters kon nie vir hom iets doen nie. Hierdie naweek het hy in ‘n koma verval. Ons is laat kom en het die heel dag daar rond gesit, beurte gemaak om te help waak, koffie te maak, eetgoed aan te dra, te ondersteun en te gesels.

My hart is seer oor hom, wat altyd so ekstra mooi met sy vrou gepraat het. Die groep sal leeg wees sonder hom.

Terselfdertyd is ek bly dat ons die voorreg gehad het om daar te wees, en te kan help, dat hy die voorreg het om te sterf, in sy eie bed,omring met vriende en familie wat vir hom lief is, dat hy rustig is omdat hy weet waarheen hy gaan.

Liewe X, ek groet jou vannaand, met hartseer, maar veral met dankbaarheid, omdat jy tot op die laaste hier kon wees met jou wonderlike rustigheid en wysheid, dankbaarheid dat jou pyn verdwyn het, daar waar jy nou in die koma le, en dankbaarheid  dat ek die voorreg gehad het om jou te ken.

Tot ons eendag weer ontmoet, vaarwel.

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in Los opdrifsels. Bookmark the permalink.

6 Responses to Sondag afskeid

  1. Vlam sê:

    Stem jy saam dat daar iets moois aan die dood is as mens so kan sterf? Ja, dis hartseer, maar dit voel of die paadjie die volle sirkel geloop het. Mens wil huil omdat hy weg is, maar terselfdertyd voel dit asof iets spesiaals plaasgevind het.

    Nou’s ek weer op my eie gedagtegang. 😉
    Sterkte!

    • seegogga sê:

      Ja, as die iemand is wat sy lewe gelewe het, sy kinders groot en uit die huis, ja, die sirkel is voltooi. Maar met my niggie se negejarige dogtertjie? Ek verstaan dit nie.

  2. toortsie sê:

    Ons groepie kom ook al ‘n leeftyd saam – destyds toe die “groepies” begin het in ons gemeente het die ds ernstig gewerk om ‘n plaaswyk-groep te begin. Wat ‘n voorreg! Saam het ons gegroei, saam uitgereik, saam vir mekaar gesorg, lief en leed gedeel. En dis so wonderlik dat ELKEEN in die groep sy eie gawes het, en sy eie bydrae lewer. Mag ons hele land vol van sulke “groepies” raak, soos ‘n web… kan jy dink wat dan kan gebeur??

  3. toortsie sê:

    Ekskuus, ek dink nou eers daaraan dat ek net van die groepies gepraat het. Ek is regtig jammer oor julle verlies. Baie sterkte

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s