Krater 6, oftewel die dag toe ek die trein ingehardloop het

Sjoe, na al die stres van die afgelope rukkie, is dit tyd vir ‘n krater storie! En dis ‘n ware storie, hoor!

Vooraf moet ek net gou eers my hele sportloopbaan vertel. In my jare in die laerskool moes die hele skool in rye van 10 staan en dan hardloop. Die eerste 3 of 4 is dan gekies om aan die kleuresport deel te neem. Van sub A tot st 5 het ek TWEE keer TWEEDE LAASTE gekom. AL die ander kere HEEL HEEL HEEL LAASTE. Ek kan eenvoudig nie my bene so vinnig heen en weer beweeg soos ander mense nie. ( en as iemand vir my ‘n bal gooi, dan koes ek, maar dis nie hier relevant nie….) Maar nouja, ons het almal ons talente: ek kon darem teken.

Dit was so in 1976 dat ek in Johannesburg gaan skoolhou het na twee jaar op Kimberley.

Na daardie eerste vakansie laai my ouers my terug op die trein, die Transkaroo, gewapen met ‘n heerlike boks Nuy wyn, ‘n boks appels en ‘n pragtige groot gedraaide murgpampoen uit my pa se eie tuin.

Agtuur die volgende oggend stop die trein op Kimbeley stasie en ek besluit om my ou Kimberley-vriendinne te bel en te vertel waar ek is. Dit was die dae van platformskoene. Myne was 4 duim hoog en rooi, maar ek was jonk, en klim gou die hoe trappe van die oorbrug om op die hoofperron te bel, want die ander perron se tiekieboks was stukkend.

Ons gesels nog lekker , toe hoor ek ‘n treinfluitjie blaas. Volgens my horlosie was dit nog nie tyd nie, maar vir veiligheid groet ek maar en gaan terug. Toe ek by die af- trappe van die brug kom, en my trein sien, wil my hart gaan staan: Hy beweeg|!!!

Ek hardloop die trappe twee-twee af en werk mooi uit hoe ek die handreling gaan vasgryp en my inswaai net soos die cowboys altyd in die flieks maak. Onder gekom,  hardloop ek langs die trein en mik- mik ek telkens na die handrelings, maar die trein beweeg al hoe vinniger. Die trokke gaan een na die ander al  vinniger verby en uiteindelik besef ek dat ek my morsdood sal val as ek probeer.

Maar ek MOET hierdie trein haal-al my goed is daarop en ook my pa se pampoen!!! Ek hardloop nog so en wonder, toe kom die laaste trok verby. Die kondukteurtjie loer deur sy venstertjie. “Meneer, dis my trein!!! Kan hy nie stop nie????” skree ek  en ek hardloop dat my skoene so klap.

Die mannetjie se kop wip terug. Kan hy, wat heel agter sit, vir die ou heel voor laat weet dat hy die trein moet stop?

Die perron het baie mense op wat hulle geliefdes kom afsien het en nou vir hulle treinvriende staan en waai. Ek hardloop hulle almal verby. As daardie trein nie stop nie, moet ek weer terug voor al hierdie mense! En wat van my pa se pampoen? Hy MOET net eenvoudig stop! So haak my brein vas.

Ek hardloop nog so, toe sak die grond so onder my voete weg…..die perron is klaar! Ek ploeter voort oor die klippe op my rooi platforms. Daar is geen manier wat ek nou gaan omdraai en weer voor al daardie mense verbyloop nie!. Die trein word al hoe kleiner in die verte.

Uiteindelik, net toe ek eintlik begin besef het dat die trein nie gaan stop nie- toe stop hy!!!! Sowaar!

Ek le oop en hardloop volspoed ( oor die kluite  met 4duim platformskoene) verder. Toe ek uiteindelik by die kondukteurswa verbykom, pop die mannetjie se kop weer uit:” Is daar nog mense?” vra hy. Ek stoom verby tot by my wa en kompartement. Die mense, ( wat teen die tyd almal by die venters uithang) klap hande.

Heelwat later, in die eetsaal, kom die einste kondukteurtjie na my toe en vertel my hoe gelukkig ek was. Dis die Transkaroo die,’n sneltrein en eintlik stop hy nooit op ongeskeduleerde plekke nie.

‘n Jong meisie kom na my toe: “Is jy die meisie wat die trein ingehardloop het?” vra sy. “Ek het in my hele lewe nog nooit iemand so vinnig sien hardloop nie!”

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in kraters en ander skandes (humor), Treinstories and tagged , , . Bookmark the permalink.

25 Responses to Krater 6, oftewel die dag toe ek die trein ingehardloop het

  1. Dis waar ek ook altyd in die atletiek was!

  2. karen sê:

    fantastiese storie! die rooi skoene en al laat dit klink soos ‘n toneel uit ‘n fliek.

    • seegogga sê:

      Hallo Karen, ek het ook al gedink dit kan dalk gebruik word vir ‘n scene in ‘n slapstick comedy. As ek nou eendag ‘n film maak oor my lewe………

      • toortsie sê:

        Maar jy kan altyd vir Leon Schuster laat weet!! Ek is in dieselfde sportgroep as jy! Ek het altyd gesorg dat ek saam met ‘n seker meisie in die groep was, want ek weet ek kon haar weghardloop. Dus was ek 2e laaste!!

  3. 😆 😆

    Ek wonder nou wat was nou so spesiaal aan daardie pampoen? Dit wil gedoen wees – om so te hardloop sonder om jou nek te breek. Dalk was dit die probleem met atletiek, jy het altyd sonder die regte skoene gehardloop.

    Tannie Gypsie het ‘n storie hoe sy iewers kaalvoet op ‘n stasie agtergebly het.

  4. meermin sê:

    😉

    In die week was daar by ons by Winternest stasie (Klerksoord) ‘n trein ongeluk, nogal lelik gewees.

    Mens sal nooit sê dit het vanoggend gereën hier nie, dit is nou vreeslik warm buite.

    • seegogga sê:

      Ai, jammer te hoor. Hoop nie te veel het seergekry nie.

      • toortsie sê:

        My tannie Etta is (was) vreeslik lief daarvoor om met die trein te ry om vir haar dogter te gaan kuier. (tot sommer nog verlede jaar). Dan laai hulle die kar op die trein en daar gaan hulle almal tot in die Transvaal. Hulle trein het ook verlede jaar ontspoor en dit was vir haar ‘n geweldige sleg ervaring, soos mens kan dink! Sy het haar kleinkinders by haar gehad. Ek twyfel of sy weer sal trein ry.

  5. seegogga sê:

    Na ek getroud is , het ons ook die motor so op die trein gelaai. My man het toe nog vir die spoorwee gewerk. Gelukkig het jou tannie-hulle nie seergekry nie! Sjoe, dit moes ‘n geweldige skok gewees het!

  6. Dit klink nie vir my na ‘n krater storie nie, eerder soos fyn brag 😉

    • seegogga sê:

      Hallo Leon, jy moet eers omtrent ‘n kilometer ver op 4 duim hoe platform skoene hardloop oor ‘n spul kluite en klippers voor ‘n spul mense, voor jy kan praat, hoor! Maar, natuurlik voel ek heel in my skik oor daardie meisietjie se opmerking!

  7. Andy sê:

    Het nou baie lekker gelag vir jou storie! Dit sou ‘n skande gewees het om daardie pampoen en die wyn sommer net so te verloor, dis g’n wonder jy het so gehol nie.

  8. Pikkelik sê:

    Ek het nou so lekker gelag! Ek het ‘n brein wat alles in prentjies sien! Bwhahahaha! Ek is so trots op jou Goggatjie! 😀

    • seegogga sê:

      Hallo Pikkie! Bly jy’t dit geniet. Ek het intussen beluit dis ‘n Shopenhauer geval-wat jy wil he moet gebeur, sal gebeur.( ek was aflyn vir ‘n paar dae, laptop kaput. Sukkel nou met my man s’n.)

    • seegogga sê:

      My laptop is kaput!!!( ooreis, dalk??) Nou sukkel ek met my man s’n. Kom stadigaan reg, maar my e-mails wil steeds nie send nie!!! Een vd dae blog ek weer dat dit klap. ek is mos nou agter!

  9. toortsie sê:

    Seegoggaaaaaa!!!!! ons mis jouuuuuuuuuuu!!!

  10. Terug pieng: Iets opwindends nr 1: joolblad eskapades | Seegogga se Bloggie

  11. Ek is nou heeltemal uit asem en my hare skoon deurmekaar gehardloop.. Gelukkig mies jy nie ‘n bal vang nie

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s