Ouma se bababoek, brief 8. ‘n Paar praktiese tips en dag versus nag

Liewe Leanie, Annika en Lienkie

Goeie aarde, hierdie bababoek is baie deurmekaar, want die tweeling het mos bietjie gou gekom en die ouma het ‘n bietjie stadig geskryf, dus is alles glad nie in volgorde nie.

Dus skryf ek gou hier ‘n paar praktiese dinge, al het ek nog basiese beginsels at ek wil beskryf.  Jy weet dit seker al Leanie, maar aangesien jy, Annika, nou daar help en jy, Lienkie, nog dalk ook eenfag Mamma gaan word, skryf ek dit maar.

Slaaptyd: Deesdae glo die wat weet, dat babatjies op hulle ruggie moet slaap. Vroeer was dit taboe en moes hulle op hulle sy of maag slaap. Julle het op julle sytjies grootgeword. Een slapie op die reggtersy, die volgende slapie op die linkersy.Geen kussing word gebuik nie,omdat die babatjie mag versmoor. Aangesien ‘n babatjie vanself altyd met sy koppie sywaarts le, is rug seker reg, maar ek dink tog mens moet seker maak dat hy nie elke keer sy koppie in dieselfde rigting draai nie. Ons wil nie skewe koppe he nie! Ek glo ook nie sywaarts is verkeerd nie, dit voorkom dalk weer plat koppe!. As ‘n babajie styf toegedraai word soos pasgebore babatjies gedoen word, sal ek nie die maagligging aanbeveel nie. Dit moet erg ongemaklik wees. Sodra hy egter los le en self sy koppie kan lig en beweeg, geniet hulle soms hierdie maagligging, soos klein Markus ook in die hospitaal gedoen het. Maar dan moet sy armpies en beentjies los wees sodat hy hulle kan beweeg soos hy wil.

Sing gerus vir jou babatjie. Jou stem maak hom rustig en later assosieer hy waarskynlik ‘n sekere liedjie met slaaptyd. Wieg? Vroeer het hulle mos wiegies gemaak wat soos ‘n swaaitjie liggies een en weer geswaai het, en dan het die babatjie salig geslaap. Hulle hou hulle daarvan om gewieg te word of heen en weer ‘n stootwaentjie gestoot te word. Dis egter soms ‘n tydsame proses en daar was selfs een of tweekeer wat ons met die motor om die blok gery het om jou aan die slaap te maak, Leanie!  Die ideaal is seker dat ‘n mens die babatjie in die cot sit en dat hy self so aan die slaap raak. Ek kon dit nooit regkry nie, behalwe met Annika wat om een of ander rede nie van wieg gehou het nie. Ek moes wel sing vir haar. Met my stemprobleem van destyds het “doedoe babatjie”  en lamtietie damtietie alles so op een noot uitgekom- ‘n basnoot!, maar babatjies is nie kieskeurig nie, hulle wil net daardie liefde en nabyheid he.

Ek glo GLAD NIE daaraan om ooit ‘n babatjie in ‘n cot te sit en te laat le en huil tot hy slaap nie. Ek dink dis gemeen en wreed en ek kan nie glo dat party bababoeke dit voorstel nie. Ek was eenkeer in ‘n huis waar ek ‘n mamma dit  sien doen het en ek wou mal word. Ek dink dit druis in teen alles wat liefde en versorging beteken, en is doodseker daardie arme kindertjies het ‘n sielkundige knou gekry.

Wakkertyd. Geleidelik bly babatjies al langer en langer wakker. Nou is dit speeltyd. Snaakse geluidjies mooi prentjies , sagte speelgoedjies, musiek ag, alles waaraan jy kan dink  en baie praat! Babatjie kan gestimuleer word met kleure, teksture, vorms, klank en taal, want dis mos wat alle boeke voorstel: Stimuleer jou babatjie soveel moontlik en bevorder so sy intelligensie. Dis wel waar, maar wat die boeke nie se nie, is dat normale speel en troetel nog meer waardevol is as enige iets. Ek het altyd my verstom hoe jou pa met jou kon speel, Leanie, en jy was maar  2 weke oud!  Lag, snaakse geluidjies en grappies en hy het dit net soveel geniet soos jy!

‘n Klein woord van waarskuwing. Met klein babatjies moet mens nie  rof speel deur hulle bv te vinnig te beweeg nie. Dis gevaarlik as hulle koppies te vinnig ruk.

Die probleem met ‘n mamma wat self huiswerk doen, is dat tyd so beperk is en die  werk so baie. Hierdie wakkertyd van die babatjies is egter belangriker as ‘n netjies huis, belangiker as fyngebak of ingewikkelde kos op die tafel. Daar het tannie Letta en haar ouers ‘n goeie voorbeeld gestel. Die huis het gedurig vol speelgoed gele, dit was moeilik om een mis te trap. Die kindertjies was meestal maar vuilerig met deurmekaar hare. Eenkeer het ‘n potplant in haar sitkamer omgeval en die grond het uitgeval. Die volgende week was die hopie grond steeds daar op die vloer, maar nou was dit ‘n sandput. Tannie Letta was miskien ‘n uiterste geval, maar haar kinders was sielsgelukkig en emosioneel gesond en het ook later op universiteit baie goed gevaar.

Jou kindertjies is nou nog te klein vir sandputte, maar hulle  is nie te klein om mee gespeel te word nie!

Dagtyd en nagtyd . Die mens is ‘n dagdier, daarom kan ons nie in die donker sien nie. Die koms van elektrisiteit het ons ure verskuif, maar ons is biologies steeds nes die hoenders. Donker:slaap, lig:wakker. Daarom slaap ons ook baie lekkerder in die donker, en daar is selfs navorsing gedoen wat bevind het dat dit werklik donker moet wees as mens behoorlike slaaprus  wil kry vir volgehoue goeie gesondheid.

‘n Pasgebore babatjie slaap egter dag en nag omtrent eweveel. Hy moet  geleidelik leer dat nagtyd uitsluitlik slaaptyd is en dagtyd wakkertyd.  Daarom speel mens bedags met hom die kort rukkies wat hy wakker is, en gesels met om en wys vir hom goedjies.    Ek glo nie daaraan om hom bedags in ‘n donker kamer te laat le en slaap nie. Dis mos dag. Hy moet ook leer om te slaap met al die gewone daaglikse geluide wat bedags plaasvind- mense wat gesels, radio wat speel ens. As hy net gewoond is om in stilte en donkerte te slaap, sukkel die mamma baie en sluip jy heeldag soos ‘n skelm in jou huis rond of sit daar, te bang om te roer! As hy wil wakker word, moet hy maar wakker word, dis mos dag!( Maar ek weet uit ondervinding dat ‘n mens soms enigiets sal doen, selfs sluip, net om nie babatjie wakker te maak nie, omdat jy so min tyd vir jouself kry! )

Nagtyd is egter slaaptyd.  Die moeilikeid is dat babatjie nie altyd weet dis slaaptyd nie. Daarom glo ek nie daaraan om nou skielik die lig aan te sit as babatjie wakker word vir sy voeding nie.  Jy maak hom wakker! Jy maak ook jouself wakker! Dis goed om erens ‘n ganglig te laat brand sodat jy darem kan sien wat jy doen. Sit vooraf die doekies  gereed sodat doekruil sommer maklik sonder enige gesukkel in die donker skemer kan plaasvind. Jy maak net sagte sjuu-sjuu en ander fluistergeluidjies as jy met ou babatjie werk, dis mos nou slaaptyd, nie speeltyd nie. Doekie geruil, babatjie gevoed en SLAAP. Daarom is dit baie makliker en vinniger as babatjie se cot langs jou bed saan en  jy self nie hoef op te staan nie. Elke opstaan maak jou verder wakker en jy verloor ongelooflik baie slaap. As die doek nie sopnat is nie, tel sommer babatjie by jou in die bed sonder dat jy opstaan of doekruil en slaap salig verder terwyl hy drink en self lekker slaap. so kry julle almal meer rus.   Babatjies is die beste nabootsers denkbaar. As julle slaap, slaap hulle ook salig.

Dis nou  wetenskaplik bewys dat babatjies by die mamma langer slaap, meer drink, en rustiger babatjies is en later meer selfstandige en onafhanklike volwassenes. Ek het dit prakties self evaar met julle 3, net jammer so min mense wil dit glo, omdat hulle al die jare so aparte slaap verkondig het en self so grootgemaak is. Hoe meer ek na verskillende bevolkings kyk, lyk dit vir my of dit slegs die hoogontwikkelde blanke rasse het wat hierdie verkeerde tradisie van aparte  babakamers het vir pasgebore babatjies en self onder hulle glo die meeste mammass steed dat die wiegie langs die die bed moet staan..

Wees tog nou asseblief  modern en luister na hierdie nuutste tegnologie( wat eintlik so oud soos die aarde self is, ne!) en sit die cot lang jo bed- met albei babatjies in. Hulle kan koppenent , voetenent slaap as jy hulle nie langs mekaar wil het nie, maar langs mekaar is ook nie verkeed nie- hulle is mos boeties! Beproef dit as jy moeg is. Op hierdie blog was dit vir my opvallend dat daar nie een persoon is wat besware teen saamslaap geopper het nie, maar dat daar heelwat voorstanders daarvan was: Almal mammas wat uitgevind het wat die maklikste en beste vir hulle gewerk het. So word mens ook nie kwaad as jou babatjie wakker word nie, want hy pla regtig 100% minder! En jy het meer krag omdat jy lekkerder slaap! En almal voel veiliger, liefdevoller, gelukkiger en meer uitgerus.

Badtyd: Ai watter heerlike tyd om met jou babatjie te speel! Ongelukkig het ek al dikwels agtergekom dat hospitale nie altyd vir die nuwe mamma mooi leer nie, en dan is die babatjie ongelukkig as hy bad, en dis niks lekker nie. Dis baie belangrik dat die babatjie die hele water-ervaring moet geniet, en hulle doen dit ook, as ‘n mens net reg te werk gaan.

Toets eerstens die water met jou elmboog, nie met jou hand nie. Die water moet veltemperatuur wees en jou elmboog sal skaars voel dat hy natword as die temperatuur reg is.  ‘n Nuwe babatjie skrik maklik vir nuwe goed. Daarom draai jy hom eers in sy doekie toe sodat hy veilig voel, en dan laat sak jy hom met toedraaidoek en al STADIG in die water in in jou arm. Hy moet dit skaars voel. Nou vou jy die doekie STADIG oop sodat hy geleidelik aan hierdie nuwe sensasie gewoond raak. Sjoe! Iets voel mos nou baie lekker! Siedaar babatjie geniet die bad! Na ‘n paar keer so, is die doek nie meer nodig nie, en babatjie is dol oor badstyd!  As jou babatjie dit nie geniet nie, doen jy erens iets verkeerd. Begin die volgende dag dan voor af, soos bo beskryf. Badtyd is speeltyd! Wanneer die outjie nou reeds gewoond is dat dit lekker is in die water, kan begin word om dun straaltjies water op sy koppie te gooi sodat dit sommer oor sy gesiggie ook loop. Pasop om hom nie skrik te maak nie. Hy moet egter gewoond raak aan water oor sy kop en gesig. Hy moet mos eendag hier in die see kom swem. Badtyd is gewoonlik VOOR ‘n voeding net voor slaaptyd. As babajie se velletjie  lekker skoon is en lekker skoon kleertjies aan het, slaap hy gewoonlik heerlik. Daarom is badtyd tradisioneel saans so 5-6nm se kant. Dis egter nie die wet van die mede en perse nie!Hou egter altyd jou badtyd op dioeselfde tyd van die dag. om ‘n mate van roetine te probeer bewerkstellig. Sommige mammas voer ook hulle babatjie’n bietjie voor badtyd. Ek self het dit nooit gedoen nie, ( nooit daaraan gedink nie!),maar as julle uit daardie water uitgekom het, was julle altyd dadelik rasend honger!

Maak seker dat jy nie produkte gebruik wat jou baba se velletjie irriteer nie. Gewone aquasroom is die minste irriterend en ook die goedkoopste. Aquasroom vorm die basis van alle rome, maar sonder die byvoegings. Baie babaprodukte bevat bv  lanolien, iets waarvan Annika se velletjie nou net mooi niks gehou het nie.

Drinktyd. Nouja, ons weet noual dat voeding op aanvraag die regte ding is. Normaalweg ruil mens doek om net voor voeding, omdat baba meestal aan die slaap raak terwyl hy drink. Ja, moedersmelk is so goed soos slaapmedisyne! As jy babatjie egter te honger raak, voer maar eers. Ek het gehoor babatjies kry iets soos maagpyn as hulle honger is. Hulle is nie soos ons wat kan uithou nie, hulle wil kos he: NOU!!!

Wanneer baba borsmelk drink , is sy koppie gewoonlik vanself in die regte posisie, nl effens hoer as die res van sy lyf. As hy egter bottel drink, is dit belangrik dat jy hom ook so vashou. Moenie jou babatjie neersit met ‘n bottel nie, hy het die koestering nodig. Verder moet hy nooit plat le en drink nie. Die melk loop dan by sy oorpypies in en hy kry maklik oorontsteking, wat baie seer is. As jou babatjie niks makeer nie, maar die heeltyd vasgehou wil word en kerm as hy le, is oorpyn dikwels die oorsaak. Dis seerder as hulle le as wanneer hulle regop gehou word.

Dan moet die bottel ook in die regte posisie wees,nl die melk moet die tietie heeltemal vul en nie net halfpad nie, ander sluk hy wind.- met ongemaklike nagevolge.

Die meeste babatjies is maar geneig tot windjies  na ete en moet eers ‘n bietjie liggies op die ruggie of onder die boudjies getik word om die windjies te laat uitkom. As so ‘n windjie opgebreek is, voel babatjie sommer baie beter en slaap lekkerder.

Maar wag, dit lyk my so na badtyd hier, en dus se ek eers totsiens, tot volgende keer. Dis tyd dat ek weer ‘n basiese beginsel neerskryf , ‘die belanrikste een van almal. Tot volgende keer dus, goeienag.

Baie liefde

Mamma

Om brief 9 te lees, klik hier.

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in ouma se bababoek ( ouerleiding). Bookmark the permalink.

1 Response to Ouma se bababoek, brief 8. ‘n Paar praktiese tips en dag versus nag

  1. Terug pieng: Ouma se bababoek, brief 7: Update oor borsvoeding, reels, en roetine. | Seegogga se Bloggie

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s