Van al die huisies op L’Agulhas, is Rus ‘n Bietjie seker een van die oudste. Soos dit vir ons lyk is hy in so 1938 gebou.
Die ou huisie het uit 2 vertrekke bestaan en ‘n buitetoilet ( ‘n emmertoilet), met ‘n rietdakkie. ‘n Regte klein vissershuisie, dus, en net ‘n hanetreetjie van die see af.
Deur die jare is daar bygevoeg. Eers ‘n motorhuis. Toe is besluit dat die stukkie tussen die motorhuis en die huis maar netsowel ‘n dak en twee mure kan bykry. Die garage word dus ‘n buitekamer. Nog later is ‘n klein stoepie gebou. En toe word water aangele en ‘n deel van die stoepie afgeskort vir ‘n kombuisie.
Alles word so goedkoop moontlik gedoen. Ou bootdeure word gebruik, ( en vandag nog moet hemelbesems koes om in die kombuis te kom), want dis mos sommer ‘n strandhuisie. Nie een enkele ekstra muur word ingetand nie. Dit word sommer net gebou, met ‘n bietjie pleister om die slootjies tussen die mure toe te maak.
Toe word die ander deel van die stoepie ‘n stoepkamer.
Nog later word die agterste deel van die ou garage, wat nou ‘n buitekamer is, afgeskort, en dit verander in ‘n badkamer met ‘n bad en wasbak. Die toilet is mos buite. ‘n Rooi plankdeurtjie word ingesit in ‘n ewe lae deurkosyn.
Maar kyk, elke jaar hou ons daar vakansie dat dit so klap. My ouma- hulle het jare lank Rus ‘n Bietjie by oom Toekie gehuur en dan het al 11 hulle kinders met die gades en kleinkinders gekom Kersfees hou. Ek weet nou nog nie waar almal geslaap het nie, ek weet net ek was saam met ouma en oupa in die kamer en het snags gele en luister na die veskillende wysies wat my oupa gesnork het. Slaap was buite die kwessie.
Ek onthou wel die hoenderhok onder in die erf, met die kersfeeskalkoen in. So ook die houttrappie wat bo-oor die ogiesdraad gegaan het, en waaroor ons geklim het om by die see uit te kom. Ek onthou die wonderlike Soldatepoel waar ons bedags geswem het, die allekrukke wat ons saans van die rotse af gepluk het, die flits vandie vuurtoringlig oor die water,die heerlike kersfeesete, elk met sy bord op sy skoot, waar hy ookal sitplek kry, die gevoel van behoort, behaaglikheid en geluk. En dan ook: Die reuse branders, die wit skuim en die alomteenwoordige gedruis van die see.
Toe, eendag, kom die eienaar se oom daar aan met ‘n spoeltoilet, en hy verklaar dat hy dit in die badkamer gaan inbou. Almal se dat daar nie plek is nie, maar ons boerenasie is ‘n koppige nasie, en die oom begin te werk. Om die toilet so te kry dat hy agter die bad inpas, moes die toilet effens dieper as normaal in die grond gesink word en die waterbak gelig word om plek te maak vir ‘n mens se rug. Die stukkie muur is ook te smal vir die waterbak, dus word daar ‘n gat in die muur gemaak vir ekstra plek- nogal ‘n netjiese vierkantige gat. ‘n Stuk bloudraad ondersteun die smal waterpyp, ‘n besemstok word die handdoekreeling. Rus ‘n Bietjie kry nie net water nie, maar word geleidelik al geriefliker.
Ek het my man in Johannesburg ontmoet, ‘n regte Transvaler. Toe ons trou, vertel hy my ma van ‘n ou skoolvriend wat daar in Johannesburg saam met hom op skool was, wie se ouers ‘n huisie op L’Agulhas gehad het. Al Badenhorst wat my ma ken, is oom Toekie, by wie haar ouers altyd Rus ‘n Bietjie gehuur het. Kan jy glo? Dis toe altyd my man se vriend se ouers! Blye wedersiens!
‘n Paar jaar later besluit die vriend om Rus ‘n Bietjie te verkoop. Ons help kliphard soek vir ‘n koper. Ek vertel vir al my familie , want Rus ‘n Bietjie is mos deel van ons, en dit sal vreeslik wees as hy nou in vreemde hande val.
My man se Transvaler-broer het juis daardie tyd eiendom as belegging gesoek, en Rus ‘n Bietjie was ‘n “bargain”. Hy maak ‘n belaglike aanbod – en dit word sowaar aanvaar, maar toe ons hom die goeie nuus meedeel, se hy dat hy intussen van plan verander het- te ver van Transvaal af en te veel werk aan die huisie.
Ja, julle raai reg. My man voel sleg en se sommer op die ingewing van die oomblik: “Toemaar, dan koop ek hom!” Dis Saterdagmiddag maar hy is nie links nie en skryf dit op ‘n stukkie papier, en laat die betrokke partye teken.
Ons gesin en res van die familie is verslae. Waar gaan ons ooit die geld kry? My BCom Buurvrou vertel my dat eiendom nie ‘n goeie belegging is nie- rente ens. Ek self wonder wat ons nadese gaan eet.
Dit kan nie hoer of laer nie, ons moet NOU ry en gaan kyk wat ons aangevang het. Ons het nie eers ‘n sleutel van die eendeurhuisie nie, maar ons ry die pad see toe, en stap om die klein geboutjie en gaan staan op die stukkie stoep. Ek voel bewerig en ontredderd. Ek wou nie Rus ‘n Bietjie in vreemde hande laat val nie, maar nooit in my wildste drome het ek daaraan gedink dat ons SELF hom kan koop nie – met watter geld?
Dit was 14 Januarie, net na die Desembervakansie en NIE walvistyd nie, maar glo my, terwyl ek nog daar so staan en kyk vir die see, spring daar ‘n walvis.Hy is so naby dat ons die wit goeters opsy vel kan sien. Hy spring en spring en ons almal sien die wonder.
Net daar is alle twyfel verby! Ons drapstap winkels deur vir “specials” op verf, rollers, messe en vurke ens. Ons gebruik 5 liter Mendall-emmertjies om al die krake toe te stop en verf en skrop sonder om die plankdeurtjies skade te doen. Ons gooi ‘n mat oor die kraak in die sitkamer vloer en verf vrolike “scollops” op die dak soos Hansie en Grietjie se huisie( wat die mense hier met hulle besondere sin vir die praktiese dadelik “die dak met die visskubbe op” gedoop het).
Kort -kort wil iemand Rus ‘n Bietjie koop. Trouens, net die dag nadat ons hom gekoop het, kon on R70000 wins maak. Maar ‘n mens maak nie wins uit jou vriende nie, en bowendien is ons mos toe ‘gehook”.
Vandag 14 jaar later is ek steeds mal oor ou Rus ‘n Bietjie. Ons het intussen die buitekamer in ‘n binnekamer verander, en ‘n heerlike onderdakstoep en braai aangebou. Maar die badkamertjie met sy gat in die muur is nog daar, so ook die buitetoilet met sy luggate uit die emmerdae. Rus ‘n Bietjie is steeds Rus ‘n Bietjie en dit veskaf my oneindige sielerus.
Deur verhuring aan vakansiegangers, doen Rus’n Bietjie ook sy deel om die verbande te betaal. Klik hier as julle meer foto’s en beskrywing wil sien, asook kontakbesonderhede.
Elke keer as ek ou Rus ‘n Bietjie gaan skoonmaak, lê ek eers ‘n bietjie in die hangmat op sy stoep en hou ‘n klein bietjie vakansie, so terwyl ek my koeldrank drink.
Dankie my man, dat jy soms ‘n bietjie impulsief is!
My rooitaal is nie van die beste nie, maar ek verbeel my iets van act in haste and regret in leisure. Tog moet ‘n mens net soms oë toeknyp en die saak deurvoer. Dit word seker blinde geloof genoem.
Ek het verlede jaar oorweeg om ‘n huis te koop, maar dit klink baie makliker as wat dit is
Dink net, as jy jou eie plek het, betaal jy vir jouself, nie vir ander nie. Vrder ios die pryse nou af, ensal waarskynlik begin groei as dieekonomie verbeter- afhangende die toekon=ms van die land. Ek het vandag goed hier op die blogs gelees wat my laat sidder. Moet ons nie alles verkoop en laat spaander nie?
Nee Seegogga!!! Ons moenie laat spaander nie!!! Waarheen gaan ons spaander? Die Chinese is ORALS!!! Ek het net so loop en sidder, en gisteraand toe ek gaan stap het, het ek ‘n stuk gedink wat ek wou skryf, maar nou is dit al weer uit my kop uit! Ons woon in die PARADYS!! En in die paradys is daar ook maar hier en daar ‘n slang.
Jou storie van Rus’nbietjie laat my terugdink aan my jare op Koppie Alleen as kind. Ag, dis so lekker!
Ja, Toortsie, ek dink darem ook ons woon in die Paradys! En gelukkig is hier maar min slange, dis nou behalwe die regte pofaddertjies hier en daar, maar hulle is nie so ‘n probleem soos die slange nie. Maar die bloggers praat my bang!
Hulle het my ook behoorlik bang gepraat. Tot ek Maandagaand by die Bybelstudie kom en hier is ons almal doodveilig en daar is geen probleem nie!
Terug pieng: Daar’s ‘n slang in die gras! | Seegogga se Bloggie
Hier, net hier wil ek kom vakansie hou….
Maar wanneer? Op die plaas is nooit ‘n wegbreektydjie nie
En die liewe see, my se see, is bitter vêr van die Bosveld (wat nou my woning is)…
As ek see toe gaan, is dit net Kaapse Suidkus. Daar is nie ‘n ander see nie….
Lief vir KleinBrak, Reebok en Tergniet se omgewing, maar ook hart verloor op Waenhuiskrans.
Maar soos die Engelse sê: Beggars can’t be choosers … en so is dit, ek kan nie kies en keur soos gewone swerwelinge nie, wat met ‘n einaknap begroting en ‘n lekker groot gesin (ons het 4 kinders en nou ‘n vyfde ene bygetrou), kan mens nie net inspring en enige plek nesskrop nie.
Maar hierdie… o – ek wens so….
Dankie vir die mooi woorde. Wie weet, eendag kom jou kans dalk, en dan bel jy my!
My Ouma en Oupa het op Bredasdorp afgetree. My Oupa se Ouers kom van daar. net so al die geslagte voor dit. ons familie plaas was Melkobos net buite Bredasdorp. my Oupa Groot het n dorps huis gehad in Mathee straat soos dit vandag bekend staan. sy Perde stalle is ook nog vandag in Bredasdorp verder op in Matthee Straat. (my nooiens van is SWART). hy het ook n vakamsie huis op Waenhuiskraans gehad. So met gevolg was ons elke Desember vakansie na Oupa Human hulle toe. Ek het natuurlik my Hart verloor op die mooiste plek op aarde, Struisbaai, Aghulas, Waenhuiskraans en Bredasdorp (waar al my voorvaders begrawe is). Van kleins af het ek altyd vir my oudste boetie vertel dat ek op Waenshuiskraans op die grot gaan trou. So het ek my man ontmoet en met die verlowing het my Ou Boet natuurlik my droom vir hom veretel en dit was so. 2011 trou ons op Arniston. ons het die drie weke in Rus n Bietjie gebly daai jaar oor Desember omdat ons 24/12/2011 getroud is. dit is die jaar ons 10 jaar huweliksherdenking en wou niks weet van op n ander plek bly nie. so ons kan nie wag om julle Desember te sien nie. Liefde Suretha Swart Slabbert
Soretha ek was so saam met julle bly toe ek hoor julle is daardie vakansie getroud. Ek kan nie glo dis al 10 jr gelede nie. Rus ‘n Bietjie wag vir julle!