Liewe Nuwe Jaar

Liewe Nuwe Jaar

Baie dankie dat jy hier opgedaag het.

Ek ken jou nog nie, maar ek hoop tog ons sal vriende wees. En laat ek maar eerlik wees, ek is nog maar ‘n bietjie onseker oor ons toekoms saam. Daar is so baie dinge wat rondwoel in my kop. Moet ek hierheen of daarheen? Hoe gaan my finansies dit hou?  Watter draaie gaan jy gooi?

Jy het sommer op ‘n hoë noot afgespring: ‘n heerlike en suksevolle familiebyeenkoms op 1 Januarie; ‘n gebarste waterpyp en vloed in my nuwe woonstelletjie wat ek verlede jaar gebou het op 4 Jauarie; ‘n Byna ongelooflike vloed en oorstromings hier in die middel van ons droë  seisoen  op 6 Januarie. Dit lyk my jy beplan vir ons ‘n jaar vol verrassings – soos byna elke jaar né?

Maar ek het al geleer dat jare verskil. Daar was die kinderjare, die studentejare, die jaar van liefdesdramas , die jaar op Stellenbosch – my heel lekkerste jaar, Die jaar van troues, toe amper almal wat ek geken het getrou het, die jaar van babas, die jaar van rampe, die ongelukkige jaar van verskeie sterftes,  die jaar van hartseer, die hele paar jaar van baie werk, die koue jare, die warm jare….. so kan ek aangaan. Elkeen van julle het sy eie karakter. Sommige staan uit en word tot vandag deur my goed onthou, ander is meer vaag en algemeen.

Verlede jaar was vir my die jaar van herinneringe, maar ook die jaar van ry ; baie baie kilometers op die teerpaaie, en ook op die paaie van my hart.

Hoe gaan jy wees, 2014? Ek weet nie waarom die getal 14 my aan my ma laat dink nie. Miskien omdat sy op 14 Maart verjaar het? Sy was statig, besadig en effens konserwatief. Tog was sy ‘n goeie kunstenaar en het sy ‘n fyn sin vir humor gehad – en  sy het altyd so ‘n goeie algemene kennis gehad.

Liewe Jaar, jou dramatiese begin is nie heeltemal soos sy nie, en as jy so voortgaan, sal dit goed wees, want ek sal nie tyd he om te gaan sit en dink en tob nie. Ek is is bietjie bang vir al die dink en tob van die laaste tyd. Dit is tyd dat ek tot aksie oorgaan en as jy so aanhou, Jaar, dan gaan jy my mos help en sommer my besluite vir my neem en makliker maak.

Ai Jaar, ek wil tog vir jou vra: wees onse mensekinders maar genadig. Ek weet jy moet ook smart en verdriet saambring, maar sorg tog asseblief vir genoeg ligpuntjies en ‘n ietsie om oor te lag -veral tog ietsie om oor te lag. Ek persoonlik het dit baie nodig,  maar ek dink baie mense hier in ons land ook. Ag en ‘n bietjie beter finansies sal ook natuurlik baie welkom wees.

Welkom dan hier, Liewe Nuwe Jaar, ek hoop ons twee sal groot vriende word.

Seegogga

Posted in Los opdrifsels | 6 Kommentaar

Kersfeespresent, Kerskaartjie en Kerswense

Mmm, tog te snaaks. Deesdae lees almal skielik weer my bloggie: Dit is vakansietyd wat ek Desember 2011 geskryf het, asook  Om te copy en te paste wat ek in Desember 2012 geskryf  het.

Ek kyk na die searches. Ja, daar staan dit: mooi kersfees prentjies. Ek gaan tik dit op die internet. Dis mos daar waar die LIG tydskrif verlede jaar my prentjie gecopy en gepaste het sonder om tot vandag toe vir my erkenning te gee, selfs na my briefie aan hulle. Ja, sowaar: Daar is my prentjie HEEL EERSTE! Kliek maar op die blou as julle self wil sien. ( en die ergste van alles is dat ek my oorspronklike  ( en dus my bewys dat dit my eie skepping is) weggegooi het in ‘n vlaag van huisskoonmaak en probeer ontslae raak van

Platinum Afrikaans Huistaal Leesboek 7 saamgestel deur Adinda Vermaak, Johan van Lill en Nicol Faasen, uitgegee deur Maskew Miller Longman

Platinum Afrikaans Huistaal Leesboek 7 saamgestel deur Adinda Vermaak, Johan van Lill en Nicol Faasen, uitgegee deur Maskew Miller Longman

rommel ).

Intussen het ek darem hierdie week ‘n lekker presentjie gekry: ‘n Kopie van die Platinum Afrikaans Huistaal Leesboek 7.

Nou wat is so spesiaal aan hierdie skoolboek? HA! Op bladsy 33 is Seegogga se Bloggie!!!

Nou wil ek sommer dadelik vir Toortsie en al my medebloggers( ampertjies tik ek toe mos nou medeboggers!) dankie sê: As dit nie vir julle aanmoediging en goeie kommentaar en hulp met die tegniese aspekte was nie,  het ek nooit geblog nie, en sou hierdie gelukkie nooit gebeur het nie.

Adinda Vermaak ken my glad nie en  het toevallig  my bloggie op die internet raakgeloop en besluit hy moet in die boekie kom. Ek hoop nie hulle stenig my nie, maar ek moes nou hierdie bladsy kopiëer dat julle darem kan sien.

Seegogga se Bloggie in die graad 7 leesboek

Seegogga se Bloggie in die graad 7 leesboek

Om te blog het voorwaar vir my wêrelde oopgemaak waarvan ek net gedroom het, en ek glo vir julle ook. Blogvriende, interessante blogstories  en menings van soveel verskillende mense, Rolbos se stories wat ek elke aand in die bed lees,  het my lewe verryk , en  ook  die stuiwers wat ons self  in die armbeurs van die wereld gooi, né. Baie dankie, medebloggers en vriende wat ons bloggies lees en ook dankie aan Adinda Vermaak!

Aangesien ek nie dink ek kan nou beter nie, ( en uit pure luiheid) plaas en nou maar weereens my Kersfeesprentjie vir julle hier.

‘n Baie besondere Geseënde Kersfees  aan julle almal en lekker blog!

kersfees 001

Posted in Kersfees, Los opdrifsels | 4 Kommentaar

‘n Wereld staan verwonderd

Dit was ‘n naweek van verwondering- vir my, vir die hele wereld, maar snaaks genoeg nie vir baie Afrikaanse Suid Afrikaners nie. Hoekom nie? Vra ek myself af? Is hulle te vasgevang in hulle foutiewe indoktrinasie tydens hulle grootwordjare? Of is hulle maar net nie groot genoeg nie?

Een van die wysste manne op die aarde het gesterf, en sy uitlatings sal lank onthou word- en veral ook sy nalatenskap. 10 uit 10 vir die SAUK wat op so ‘n mooi wyse die geskiedenis van Suid Afrika en ook die geskiedenis van hierdie groot man vasgevat en aan ons vertoon het. Ek verstaan nou mooi hoekom Nelson Mandela, maar ook FW De Klerk  albei so die Nobelprys vir vrede verdien het. En ek voel oneindig trots en selfs weer patrioties.  Ons het ‘n pragtige land, ‘n spesiale land, en ek hoop die huidige regering het geluister na Nelson Mandela se  boodskap wat so  deur die TV beklemtoon is.

En al is ek dan nou laat agter 3, bring ek hulde. More sal ek weer aangaan met die lewe.

Vir die van julle wat die feeverhaal van sy lewe wil sien, gaan soek op Youtube. Dit is daar. Ook die verhaal van Suid Afrika.

Hier is ‘n paar van sy kwotasies, ‘n hele paar bladsye lank.

http://www.goodreads.com/author/quotes/367338.Nelson_Mandela

En hier is Johnie Clegg met die groot man wat saam op die verhoog verskyn. Ek weet net nie of die Franse in die gehoor geweet het wie werklik daar voor hulle staan nie!

Posted in feeverhale en ander stories, Los opdrifsels | 8 Kommentaar

nog musiek vir middernag

Liewe land, die tyd vlieg. Dis middernag( amper) en ek sit en ginnegaap en blogs lees. Dis nou nadat ek ‘n regte Desember-rush dag gehad het. Dit gaan elke jaar hierdie tyd so in die raambesigheid en ook die huisverhurings. Maar nou, hier skuins voor slapenstyd, is dit eers tyd vir blog lees – tog te heerlik.

So lekker slaap en weet: Dis amper Kersfees!

Posted in Kersfees, Los opdrifsels | 4 Kommentaar

Wat doen ek met musiek?

Toortsie het gevra, dus moet ek ‘produce’, nè.

Ek het in st  1 begin musiek neem. Ek onthou dat ons nog nie ‘n klavier gehad het nie en dat ek by die tannie oor die straat moes gaan oefen.

Later daardie jaar koop my pa toe vir ons ‘n klavier op die Paasskou vir die som van 232 pond 10 sjielings. ( Die jaar daarna het hy vir ons ‘n erf op Struisbaai gekoop vir 200 pond, om ‘n idee van pryse te gee). Die klavier was was ‘n Schindhelm, een van die eerste klaviere wat op Wellington gemaak is, met ‘n pragtige klank en die ongelooflike vermoë om BAIE sag ook te kan speel, iets wat soms sukkel by ander klaviere. Vandag is my klavier oud en afgeleef, en het eintlik  baie aandag nodig, maar ek steeds mal oor hom.

Soos Toorts, het ek eksamen na eksamen gespeel, my eerste sommer al in my eerste jaar, in st 1, en my sewende eksamen in St 8. Dit beteken dat ek hier erens ‘n jaar moes geskiep het, waarskynlik st  4, maar ek is nie seker nie.

Die eerste fout het gekom toe my musiekjuffrou gevoel het dat ‘n mens nie ‘ryp’ is vir Finaal in St 9 nie, dus moes ek weer ‘n jaar skiep en Finaal in Matriek doen.

Die tweede fout was die Hoërskool wat die vorige jaar baie swak matriekuitslae gehad het, en gevoel het dat hulle leerlinge alles moet probeer om meer onderskeidings te kry. Ek is dus ten sterkste afgeraai en geïndoktrineer, om NIE finaal in Matriek te doen nie en liewer my onderskeidings na te jaag. Ek kan mos altyd Finaal later doen.

Ai toggie, en daar was niemand met ondervinding wat my kon waarsku nie! Daar was niemand, nie eers my musiekjuffrou, wat vir my ingelig het dat Finaal baie meer werd is as ‘n onderskeiding nie. En as ek so terugkyk, glo ek nie my Finaal sou enigsinds my matriekuitslae beïnvloed het nie. Ek het mos in elk geval die musiekstukke en toonlere ens geoefen soos altyd. Ek het ( teësinng, maar plig kom voor plesier) net nie die eksamen gedoen nie.

Uit die skool en op universiteit, en latere onderwysposte op ander dorpe , het gemaak dat ek vir die volgende 20 jaar nooit ‘n eie klavier gehad het nie. Ja, ek kon ( en het) soms in die konservatorium gaan oefen, so op my eie, ek kon in die skoolsaal  gaan oefen,  so tussen my skoolhouery en nasien deur, maar toe ek eers getroud het, was dit net vakansies by die see wat ek en my klavier weer mekaar ontmoet het. Ek dink finaal is finaal verby vir my.

Maar wat ek eintlik wil vertel, is van die oefenry. Elke middag moet ‘n mens mos OEFEN. En vir ‘n dogtertjie soos ek was dit nou sommer baie vervelig. Dus het ek soms gemaak of ek die Siembamba tannie is, of soms Saartjie Bouman. Dan vertel ek vir die maatjies stories, en speel my toonlere om by die storie te pas. En ‘n ander deel van die storie is die musiekstukkies. Natuurlik gaan so ‘n storie gepaard met ‘n paar ekstra akkoorde en tussen-in trillinkies, of my eie opgemaakte stukkies, want die musiek moet mos by die storie pas.

So moes my ma eendag weg wees, en toe sy terugkom vra sy die huishulp of ek geoefen het. En die huishulp, ‘n Sotho mama, verklaar plegtig dat ek nie geoefen het nie, net gespeel het – en daar kry ek pak slae!  Valslik en onregverdig! Ek het jarelank daaroor gebrom. En ek wonder steeds hoekom mense geneig is om eerder grootmense as kinders te glo. Kinders jok baie swakker as grootmense en ek was juis een wat glad nie kon jok nie.

Maar musiek is vir my lekker. Ek is veral lief vir lekker akkoorde. Met my koördinasie is ek beslis beter met musiekstukke met lekker groot akkoorde met baie emosie, eerder as die super vinnige stukke met die enkele nootjies. Nie dat daar fout was met my spoed nie, ek verkies net hierdie lekker groot magtige klanke.  Gee vir my Chopin!

Maar helaas, selfs al staan die klavier nou hier in my huis, is tyd ‘n faktor, en dis baie lekkerder om net te gaan sit en speel as om te moet oefen en oefen. So ek het so ‘n paar geliefde stukkies, meestal minder klassiek, en dan hou ek daarvan om te tokkel en sommer steeds my eie goed op te maak soos ek speel. Ek speel amper alles in C, soms F of G, maar my linkerhand ken net die C akkoorde baie goed!  Miskien klink dit vir niemand na iets nie, en waarskynlik gaan ek nooit ‘n komponis word nie, maar vir my is dit steeds lekker om soms sommer my eie goed te speel soos die gevoelente my lei.

So het ek nou toevallig nou die dag iets gespeel wat ek my verbeel my eie komposisie is, en omdat ek ‘n nuwe selfoon het, het ek dit probeer opneem. Net mooi 2 dae voor Toorts my die opdrag gegee het!  Hier is dit dan, en luister ook tog asseblief nie krities nie!

Oja, en dan vra ek asseblief vir Maankind en Herriemerrie om te vertel wat hulle doen met musiek Jaaa, ek sien Maankind en Zena is reeds getag, so wat van Kameel en Olga? Vertel ons bietjie wat doen julle met musiek?

 

 

Posted in die tale wat ons praat, gedigte en rympies (seestrome van verlange), Los opdrifsels | 9 Kommentaar

as dit reen en jy’s alleen….

Wel eerstens weet ek nie hoe om kolletjies hierbo op die e te sit hierbo nie, maar ek glo julle sal vergewe.

Daar is so baie waaroor ek graag wil skryf, maar die energie, die moed en die deursettingsvermoe ontbreek. Miskien lê die fout in my hart, wat ek veral in die laaste tyd regtig diep ondersoek het. Miskien le die fout in die gevoel dat alles tevergeefs is en ‘n gejaag na wind.

Hierdie naweek het dit gereën, reën reën! Ai, die boere het darem al die meeste van hulle oeste geoes, hoop ek en vandag in die kerk was hulle dankbaar vir die groot oes, ten spyte van die harde reën.

Reën het ‘n mooi kant ook né, dit was skoon, dit gee lewe, en dit maak mens nostalgies so op ‘n Sondaggaand!

Maar kom ek hou op praat, en gee julle 2  spesiale liedjies vir hierdie reënnaweek. En mag dit vir almal wat hier raaklees, ‘n goeie week wees.

O, en dan my aller gunsteling: Geniet!

Posted in Die Overberg: my wereld., Los opdrifsels | Tagged , , , , | 10 Kommentaar

we’ll meet again

Nouja, daar is niemand wat hierdie liedjie kan sing soos Vera Lynn nie, maar ek was nie lus vir die hartseer oorlogbeelde saam net haar youutube weergawe nie. Die  gevoel van die koor ou omies wat saamsing en Vera self wat op die einde saamsing en haar goedkeuring gee, en ook die koningin, maak hierdie opname spesiaal. Hierdie liedjie is spesiaal gesing om hulde te bring aan Vera, en sy sit in die gehoor .

Ek kon nog nooit na hierdie liedjie luister sonder om ontroer te word deur die woorde nie.

En miskien spreek dit ook tot jou wat hier lees, al is die tweede wereldoorlog al verby. Wie weet in watter oorlog jy is -. watter geliefde jy erens langs die pad hoop om weer te vind?

Ek wou sommer die liedjie vir my bloggie gee, wat so afgeskeep word agv baie redes, maar nou, na die luister, loop my hart op ver paaie, en miskien jy wat hier gekliek het, se hart ook. Kom ons luister dit weer en geniet dit saam met hierdie uitgelese gehoor.

Lekker slaap!

Posted in die tale wat ons praat, Los opdrifsels | Lewer kommentaar

Kaalvoet in die reen- ‘n kraterstorie

Dis laaankal tyd vir ‘n kraterstorie, so hier is hy.

Ek begin gewoonlik goed met alles, maar êrens, somewhere, gaan iets gewoonlik verkeerd, né. Nie ernstig, doodsake nie, net sommer……. krateragtig?

Vir my verjaardag besluit my liewe dogter om haar ma te bederf: ‘n Aandjie  uit na die teater -‘n duur, maar spesiale uitstappie. Dis nie elke dag dat ek my verjaardag by haar in Holland vier nie!

Ons was hare en tittevate, trek ons heel mooiste klere aan. Ek het nie skoene wat deftig genoeg is, saamgeneem Holland toe nie, maar sy het ‘n paar hoëhak stewels wat mooi by my uitrusting met sy kant jassie sal lyk.

Die ongeluk is net; die stewels is ‘n nommer te groot vir my. Tissues voor in die toon sal darem seker die probleem oplos, glo ons.

Ons vertrek lekker vroeg, want ons wil voor die tyd ietsie lekker eet, maar dit reën, en gewapen met sambrele kry ons die treine en busse na ons bestemming. Noodwendig moet daar van die bushalte af gestap word.

Ons stap en stap fluks( in die reën onder die sambreeltjies). Kort-kort word die slimfoon se gps geraadpleeg, maar die teater is net weg!  Naderhand word daar by ‘n restourantjie gevra, maar hulle het nog nooit van so ‘n teater gehoor nie.

Teen die tyd is my arme drie-en-sestigjarige tone redelik vodde in die te groot skoene, maar ek kla nie, ek doen my bes om by te hou. Dit voel na kilometers en kilometers.

Toe tik my dogter weereens die informasie op haar foontjie in…… katastrofe! Ons het verkeerd gestap en is nou baie ver van die teater af! En ons moet jaag, wat dis amper tyd dat die show moet begin!

Ons hardloop, want nou moet ons gou ‘n taxi kry – wat ons nie kry nie, want dit reën en almal is vol! Gou ‘n stukkie trein ry -trappe af, trein  ry en weer trappe op, en HARDLOOP!

Nee, ek kan eenvoudig nie meer nie. Ek stop en pluk die stewels uit.  Toe hardloop ek verder in Amsterdam se strate:  sambreel en bootse onder my arm, en op my sykouse !

Ja, teen hierdie tyd is daar lankal nie vir een van ons meer tyd om te sukkel met sambrele nie. Ook nie met te groot stewels nie.  En ons lê oop soos ons hardloop, sykouse of te not.

En uiteindelik  kom daar ‘n taxi tot ons redding!

In die motor druk ek  die bootse oor my waternat voete en sliep slop, nat tot op die been,  en al druppend van kop tot toon, is ons die teater binne – gelukkig net 5 minute laat, en ons moes net ‘n klein bietjie wag om te kan binne-gaan.

My arme kind was hewig ontsteld, want sy wou graag haar ma bederf, en kyk nou net. Maar sy het! Sy het my ‘n onvergeetlike herinnering gegee! ‘n Lieflike teater, ( Cirque Stiletto) en ‘n lekker avontuur. Wie van julle het al ooit kaalvoet ( of op sykouse) in Amsterdam se strate rondgehardloop in die reën?

Eendag in die ouetehuis, sal ek nog lekker sit en grinnik daaroor.

so is ons van die huis af weg op pad teater toe

so is ons van die huis af weg op pad teater toe

op die eerste stasie, prim en propper onder ons sambrele

op die eerste stasie, prim en propper onder ons sambrele

en so het ons by die teater aangekom
en so het ons by die teater aangekom

Posted in Euro-trip, kraters en ander skandes (humor), Los opdrifsels | 14 Kommentaar

Amsterdam 2013

amsterdam skets 004Die lewe loop draaie . Soms so stadig dat jy dit nie agterkom nie, soms vinnig en dramaties. In hierdie tyd van verandering in my lewe, kom daar toe nog ‘n paar onverwagse kinkels, hobbeltjies in die bestaan.

Die eerste, minder aangename ding is die gesondheid, wat met die ouderdom ‘n hobbeltjie gemaak het. Daarna was ‘n lekker hobbeltjie ‘n week lange vakansie saam met ons omgeegroep by Calizdorp se lekker warmwaterbron. In hierdie koudste van koue winters was dit ‘n heerlike warm ervaring.

Maar die grootste, onbeplande draai  was ‘n maandlange besoek aan Holland, waar my kind bly. Glo my as ek sê dat ek dit nooit voorsien het nie en dat alles binne ‘n minder as ‘n maand gereël en gedoen is. En was dít nou ‘n lekker, onverwagse ( Hollandse) draai! Julle Kapenaars sal jaloers wees as ek sê dat die hele Augustus en die eerste deel van September wat ek daar was, heerlik WARM was – kaal arms, somerklere, warm en lekker! Sit daarby lekker kaas, wyn , shop, en sommer net geen verantwoordelikhede nie, by my dierbare kinders en kleinkinders, en jy het mos ‘n wenner!

Daarom dat ek bietjie slap gelê het met die bloggie, ne! Maar hier is ek nou weer, stadig maar seker!100_2336

‘n Stalletjie by die blommemark, Amsterdam.

100_2163Een van die talle gragte

100_2166 100_2390

Met die Rijksmuseum in die Agtergrond

100_2314‘n Wenner vir alle tye – bravo Vermeer!

100_2372Die paadjie van my kinders se huis na die plaaslike winkelsentrum in Amstelveen

100_2087Ouma in Uithoorn

100_2229Amsterdam by night

Posted in Euro-trip | Tagged , | 15 Kommentaar

Beskikbare datums vir akkommodasie in 2013

Beskikbare datums vir akkommodasie in 2013.

3 Kommentaar

Beskikbare datums vir akkommodasie in 2013

Lewer kommentaar

Twee plesiertjies en ‘n lekkerleesboek vir ‘n goeie doel.

my kort vir jou sop, 'n bundel kort-kort verhale ten bate van die SopkombuisSo in hierdie koue tyd koms daar tog soms onverwags ‘n verrassing.

In die slegte week waarin my 14 jarige dierbare ou hond vir die eerste keer in sy lewe deur ‘n nare mismaaksel van ‘n psigopatiese hond byna doodgebyt is, ek my bakkie opgefrommel het teen ‘n ander voertuig, en my huurders kennis gegee het, so in hierdie nare tyd, kom daar toe twee plesietjies.

Die eerste is: ‘My kort vir jou sop‘ ‘n bundel kort-kort ( en ook minder kort-) verhale wat deur ‘n verskeidenheid skrywers geskryf is vir liefdadigheid. Daar is van Suid Afrika se beroemdste en gewildste skrywers se werk in, maar ook my eie beskeie poging. Ek het hierdie week my eie kopie in die pos ontvang en lees sedertdien baie lekker -en voel tog te trots om my eie storietjie daar tussen die blaaie raak te loop. Dankie Trisa  Hugo vir ‘n wonderlike oorspronklike manier om die sopkombuis van Kleinmond te ondersteun, asook die Keinmond leesgroep. Ja, alle winste en tantieme van hierdie boek gaan netso vir Kleinmond se sopkombuis en leesgroep .

My kort vir jou sop het ‘n groot verskeidenheid verhale ( ‘n volle 102 verhale van 73 skrywers!) , is baie bekostigbaar, en dien ‘n goeie doel. Die e-boek weergawe is beskikbaar  in Kindle,( klik net hier ) en ePub formaat, ( Klik net hier ) en die gedrukte weergawe kan bestel word by Boekemakranka, Tweede Straat 11, Kleinmond, 7195. Of klik sommer hier en skryf jou bestelling. Julle kan hom maar koop -lekker om snoesig indie bed te lê en lees op hierdie koue wintersaande. Lees gerus ‘n leser se goeie resensie daar op Amazon as julle my nie glo nie. En as julle sukkel, kontak my en ek help julle die boek kry!

Die tweede plesiertjie is my gelukkige haai storie. Ek kry toe mos so ‘n jaar gelede ‘n e-pos van Adinda Vemaak, iemand van wie ek nog nooit gehoor het nie. Maar Adinda is toe altyd ‘n formidabele vrou in die onderrig van Afrikaans. Sy is ook die samesteller van ‘n leesboek vir Graad 7’s : Maskew Miller se Platinum Afrikaans reeks, en sy vra of sy my gelukkige haai-storie in die leesboek kan gebruik. Sy het dit hier op my bloggie opgespoor! Nouja, dis nou byna ‘n jaar gelede, maar vandag het ek ‘n e-pos van Maskew Miller af gekry. Die boek gaan nou gedruk word, ( met my storie in! ) en ek kry sowaar nog ‘n skrywerskopie ook. Lekker.

Somtyds so in die middel van die koue en die teespoede, kry ‘n mens nuus wat jou ‘n bietjie opkikker!

Posted in Los opdrifsels | Tagged , , , , , , | 10 Kommentaar

Dis middernag

Dis middernag. Dis stil en koud. En somtyds, so omstreeks middernag op ‘n Sondagaand, moet ‘n mens jou skryfidees bêre en net stil wees en jou laat meesleur. Dus sit ek die middernaglied op. Dis ‘n toe oë luister hierdie.

Posted in Los opdrifsels | 4 Kommentaar

gediertes met knypers

So lees ek mos nou die dag oor soekterme wat by Toortsie uitkom. Ek het lank gelede  ook eenkeer  oor my snaakse searches geskryf.

Vandag is die nou weer my beurt. Tog lekker ‘n bietjie plesierigheid. Ek is nou al gewoond aan eienaardige( onder die belt?) goed wat mense tik en by my uitkom., waarskynlik vanweë ‘Ma se seksboek’ . Goeters soos vroulike orgasme, stywe voël, los meisies, warm vry, ens.

En ek dag my seksboekie is mooi prim en propper en effens outyds!

Direk daarna kom toe stalagtiete en stalagmiete. Kon nie help om te dink dat die stalagtiete ook iets met ma se seksboek te doene gehad het nie, maar nee, ek onthou nou ek het oor koning Ludwig se grot geskryf.

Maar vandag vra iemand vir :”vroulike vagina” Ekskuus?

Dan is daar elke liewe dag ‘n hele paar mense wat navrae het oor die kleurwiel. “Watter 2 kleure moet mens meng om rooi te kry?”  is onlangs gevra. As julle nie weet, nie, gaan lees maar die bloggie! Of koop vir jou 3 kleure( rooi, blou en geel), en begin verf.

Behalwe die gereelde navrae vir ‘n tameletjieresep( wat ek nie het nie) en die vrae oor ware liefde( wat almal tog so graag wil hê), en baie gereëlde vrae oor babas na aanleiding van ouma se bababoek, is daar vandag toe iets heeltemal anders: ‘”gediertes met knypers”. Wat op aarde????

Toe kom ek mos agter dis nou ek -Seegogga!

Posted in kraters en ander skandes (humor), Los opdrifsels | 8 Kommentaar

Ouma se bababoek:. Brief 18. Die waarde van teken, verf, kleispeel, modderkoekies en mors!

lHiwerdie skildery deur 'n twee en 'n jalfjarige het 'n prys op 'n kunsjuitstalling gekry. Let op die sirkelvorm , en ook die strepies wat al rondom die sirkel duer die buiterand van die sirkel geverf is. Dit is net voordat die kindjie begin het om die mensfiguur te begin teken. endu meer realisties begin werk het. Let oook op die kleurgebruik. Slef op hierdie jong ouderdom het sy geweet dat elke kleur sy plek het en dat hulle soms kan mensg, maar nie te veel nie. NIe sleg vir twee en 'n hjalf jaar nie, ne! Ja dis 'n stukkie vgan jou eie prent, Leanie, somme so deur die glas gescan, en darom 'n bietjie dof.

Hierdie  is ‘n stukkie van ‘n skildery deur ‘n twee en ‘n halfjarige, wat ‘n prys op ‘n kunsjuitstalling gekry het. Let op die sirkelvorm , en ook die strepies wat al rondom die sirkel deur die buiterand van die sirkel geverf is. Dit is net voordat die kindjie beginhet om die mensfiguur te begin teken. en dus meer realisties begin werk het. Let ook op die kleurgebruik. Selfs op hierdie jong ouderdom het sy geweet dat elke kleur sy plek het en dat hulle soms kan meng, maar nie te veel nie. Dit is omdat sy gereeld geverf het. Nie sleg vir twee en ‘n half  jaar nie, ne! Ja dis ‘n stukkie van jou eie prent, Leanie, sommer so deur die glas gescan, en daarom ‘n bietjie dof.

Liewe Kinders

Baie geluk met die tweeling se tweede verjaardag! Vir hulle verjaardag wou ek graag VERF stuur, maar op die vliegtuig sou dit dalk probleme skep, toe stuur ek maar KRYT.

Ja, dis tyd vir kinderkuns – op papier, en soms sommer op jou vloer, yskas of dalk jou duvetoortreksel! Nee-wat ek oordryf nou, maar net soos kindertjies elke dag met musiek te doen  moet hê, moet hulle ook elke dag verf, teken , klei speel ( of modderkoekies bak) of iets kreatiefs met hulle handjies doen. Nie net is dit baie belangrik vir die fyn koördinasie en potloodgreep wat moet ontwikkel nie, maar dit ontwikkel ook sy visuele persepsie( begrip van wat hy sien , dws die verskille tussen vorms, grootte, naby of ver, hoogte ens), oog-hand koördinasie ( die hand moet kan reageer op weat die oë sien en die brein dus beveel) en die hele regterkant van die brein. Dit is juis die regterkant van die van die brein wat in die formele skoolopset uiters verwaarloos word en dis die regterkant van die brein wat lei tot kreatiewe denke en innoverende denke, so uiters belangrik vir enige beroep wat jy eendag wil beoefen, maar ook vir die uiting van jou gevoelens, jou praktiese vermoens, en vir jou kreatiewe wese wat lekker stokperdjies wil beoefen, graag iets wil skep en die lewe vir jouself interessant en lekker wil maak, en jouself as mens meer volledig.

Die eerste kunspogings van die kind is ook ‘n waardevolle kommunikasie middel. Waar ekspressiewe  taal nog by die klein kind te kort skiet, sal sy gevoelens baie goed uitgedruk word deur sy kunspogings!

Kenmerke van intelligente mense is gewoonlik dat hulle in feitlik alles redelik goed ontwikkel is. So is die meeste intelligente mense ook redelik goed belese, redelik in sport, musiek sowel as kuns, maw , hoewel ons almal verskillende aanlegte het, kan ons darem tot op ‘n redelike vlak alles doen.

Hoe is dit dan moontlik dat jy soms mense met doktersgrade kry, prokureurs  en ja, selfs aktuarisse, maar hulle teken soos ‘n sesjarige kind? Die skrywer van die boek” drawing on the right side of the brain”, Betty Edwards, sê dat iemand wat nie kan lees nie, ‘n analfabeet genoem word( illiterate), en iemand wat nie kan teken nie, inartisties( inartistic), , want net soos ‘n redelik opgevoede mense krulletjies en draaitjies op ‘n papier moet kan maak om letters voor te stel wat mense kan lees, net so moet hy prente kan maak wat mense kan sien en kan verstaan.  Almal wat kan skryf, moet kan teken, dis tog logies. En tog…..

Die fout is dat ouers hulle kinders nie genoeg geleentheid gee nie, of dat die kind nooit die regte aanmoediging kry nie , en dus hier by 5-6 jaar, wanneer hy begin om realisties te teken, sukkel,  tou op gooi en nooit weer probeer nie. Dis ook omdat hy nooit geller het om reg te KYK nie (maw met die regterkant van sy brein wat vorms ens onderskei nie). Net soos lees en syfervaardigheid aangeleer word en ontwikkel word, moet tekenvaardigheid aangeleer word en ontwikkel word. Net soos musiek belangrik is vir breinontwikkeling, so is teken, verf, kleispeel  en die speel met verskillende materiale en teksture( lees mors!)

Die probleem is dat dit verkeerd aangebied word.  Ouers  is so bekommerd oor mors en vuil word, dat hulle die kind nie geleentheid gee om te verf  nie.  Verder dink hulle soms verkeerdelik dat hulle die outjie moet leer om te teken. Dit werk nie so nie. Hy sal doen wat op sy ontwikkelingsvlak is, maar hoe meer geleentheid hy kry, hoe beter sal hy dit doen. Die outjie moet eintlik nie leer om te teken nie, hy moet leer om reg waar te neem- en dit is uit en uit ‘n regterbrein funksie. En as jy jou omgewing goed en fyn kan waarneem en interpreteer, kan jy dit ook beter verstaan en beheer.

Wat grootmense nie besef nie, is dat kinders ‘n ander idee  het van persepsie as grootmense, en dan die welmenende ouer, in sy poging om sy kind te leer, soms meer skade as goed doen.

Kom ons kyk eers hoe kuns by die kindjie ontwikkel. Hoewel die tempo verskil, sal alle kinders ook deur dieselfde stadiums van ontwikkeling gaan  in hulle kunsontwikkeling. Eers sal die klein kindjie net krap. Hierdie krap lyk miskien na niks, maar dit is net so waardevol soos die babatjie wat sy armpies swaai en skop in ‘n poging om beheer oor sy bewegings te kry, wat later sal lei tot kruip en loop.( Enige groot stukpapier sal werk, selfs koerantpapier). Dis belangrik om vir hom die geleentheid te gee om dit te doen.  Deur hulle in hulle babastoeltjies te sit, kan jy ‘n bietjie beheer uitoefen oor waar die krap plaasvind! As hulle groter is, is ‘n groot stuk plastiek op die vloer ook ‘n goeie opsie.

Na die aanvanklike heen en weer krap, begin die kindjie sirkelvormig krap. Dit is die begin van sy eerste pogings tot die mensfiguur!  Moenie hom leer nie, gee hom vrye teuels om te krap en te verf soos hy wil. Dit is juis hierdie voor-realistiese fase wat die mooiste kunswerke oplewer! Poeierverf of posterverf is ideaal vir hierdie stadium. Gee net die primêre kleure: rooi, blou en geel, en miskien wit. Die outjie sal aanvanklik ‘n bruin gemors maak, maar gou leer dat die rooi bo-oor die blou, pers maak, rooi en geel oranje  en wonderlik: blou en geel maak groen! Toe julle op hierdie stadium elke dag by julle klein tafeltjie geverf het, was dit vir my so mooi, dat ek ‘n bietjie silwer verf bygegee het, en daardie jaar het ons pragtige kerskaartjies gemaak met julle kleur avonture op!

Na die aanvanklike sirkels, sal die kindjie begin om sirkels te maak met kruise deur, of strepies al rondom die sirkel. Die skildery hierbo is ‘n voorbeeld van hierdie stadium. Weereens is dit die begin van die mensfiguur, al lyk dit vir die ongeoefende oog glad nie so nie! Dis belangrik om altyd positief oor jou kind se kunsswerke te wees. Sê positiewe goed, bv “ek hou hiervan!” “O , jy verf lekker!” “Dis mooi!”  Kuns is om geniet te word.  Terloops, hierdie sirkel met strepies deur en om, is vroeëre jare beskou as ‘n belangrike vredesteken.

Nou begin die eerste mensfigure. ‘n sirkel, met arms en bene wat uit die kop kom, met aanduidings van oë, neus en mond. Later sal pogings tot voete en hande bykom. Eers heelwat later kom die lyf by. Dis regtig belangrik om nie die kindjie se skewe humpty dumpty figure af te kraak nie! Dit help ook nie om te vra waar die lyf is nie, hy is nog nie ver genoeg ontwikkel nie! Verder is dit baie belangrik om te besef dat kinders die wêreld anders sien as grootmense. moet hom dus asseblief nie probeer leer hoe om ‘n mens ‘n voêl of ‘n huis te teken nie. Jy strem sy kreatiwiteit en uitdrukkingsvermoë.

Dis hier waar ek bietjie skepties is oor die ‘comic’figure, met hulle stereotipe oë, hande met net 4 vingers ens, wat deesdae so in die kinderboeke gebruik word. Help liewer jou kind se waarnemingsvermoë deur op ander tye saam met hom goedjies te bestudeer, bv blare – blomme, mamma se oë, hulle eie gesiggies voor die spieel, ens . Laat hulle op ‘n groot stuk papier lê en trek hulle lyfies af. Knip dit uit en plak erens vas. As hulle wil, kan hulle hulleself so inkleur en verf. So kan jy ook hulle hande en voete aftrek. As julle bad, gesels jy oor die liggaamsdele , tel die tone en vingers, ens! Waar hy eers hande en voete sonder vingers en tone sal maak, en later te veel of te min vingers ens, sal dit uiteindelik ontwikkel tot die regte getal, maar eers heelwat laterig, hoor!

Na die mensfiguur is die volgende ding ‘n huis. Dit gee ‘n mens sommer ook ‘n goeie aanduiding hoe belangrik die gesin vir kindertjies is. Nou begin die kind realistieser word (en sy prentjies minder mooi en verbeeldingryk) en dis belangrik dat hy in hierdie stadium baie aanmoediging kry, nie kritiek nie.  In plaas van te sê: “is dit ‘n hond?” ( Nee, Ma , hy wou eintlik ‘n perd geteken het, jou dommie!) Vra liewer:” vertel my van jou prent?” Knik instemmend, al lyk sy perd nog steeds vir jou meer na ‘n hond. MOENIE KRITISEER NIE! Dis ongelukkig op hierdie stadium, wanneer kinders ook met formele onderrig begin, dat die kunsaspek afgeskeep word en kinders, gefrustreerd met hulle pogings tot realisme, ophou teken. Dis dan wat die outjie dink: ek kan nie teken nie, en ophou. En dan kry jy daardie slim prokureur wat net stokmannetjies kan teken. Dis regtig belangrik dat die kindjie aanhou verf en teken, klei speel, en goeters met my handjies maak. Dit is nie die eindproduk wat  belangrik is nie, dit is die doen, wat tel. Hoe meer  kinders kans kry om veral te verf, hoe beter sal hulle kleursin en ook hulle perseptuele vermoëns van vorms in die ruimte ontwikkel.

Onlangs is berig oor die dogtertjie van 3 jaar oud wat een-man kunsuitstallings hou en hoe gewild dit onder die kopers is. Sy word aangeskryf as iemand met uitsonderlike kunstalent. Ek verskil hiervan. Ek dink julle het op daardie  ouderdom net sulke pragtige kunswerke gemaak. Die enigste verskil is dat haar ouers slim genoeg was om vir haar pragtige klaar voorbereide groot doeke te gee, in plaas van die afval computor papier waarop julle moes verf. Verder het hulle vir haar beter verf gegee, terwyl julle met poeierverf moes sukkel. Ek het op ‘n video gesien hoe sy langs haar groot doek sit en ‘n botteljie verf daarop uitgooi, en spat – pure plesier, en pure mors. Die groot geheim was aanmoediging en genoeg blootstelling aan die medium van verf. Sy het maar net so abstrak geverf soos julle, maar soos julle, het sy reeds geweet tot hoe ver ‘n mens kan mors en spat voor jou papier vol is en jy ‘n ander een moet neem, hoe ver jy jou verf kan meng voor dit ‘n morsige bruin raak,  hoe jy jou hele spasie moet benut en nie net hier onder in ‘n hoekie nie ,ens, iets wat ander kindertjies nie weet nie, omdat hulle te min die geleentheid kry om te “mors” met die kleure. As ek vandag steeds lees hoe volwassenes nie weet hoe ‘n mens eenvoudige kleure meng nie, dink ek aan julle wat reeds voor skool as deur middel van eksperimentering ( lees: mors!)en aanmoediging geweet het watter kleure basiese kleure is en watter kleure jy moet meng om die kleur te kry wat jy graag wil hê.

Ja, mors is nou eenmal lekker en gesond. Maar daar is darem maniere om te keer dat die mamma ‘n senu-ineenstorting kry. Gebruik bv ‘n groot plasiese tafeldoek waarop gewerk word, sommer op die vloer. Of so-nie net by die speeltafeltjie, met weereens die groot plastiese vloerbedekking onder.  En ou verfklere!

Sommige glo dat elke botteltjie verf sy eie kwassie moet hê, om te voorkom dat die kleure “vuil” word. Vir my was dit makliker om julle van die begin af te leer om die kwassie in ‘n groot plat bak water te was voordat jy dit in ‘n ander kleur verf sit. Sodoende kon julle sagter of helderder kleure maak.  Julle het ook van die aksie gehou. Dis mos nes ouma haar waterverf skilderye gemaak het! Die geheim is om nie die water in ‘n regop houer  te sit nie, maar in ‘n groot plat bak wat nie kan omval nie, verkieslik ‘n swaar bak wat nie maklik skuif nie. Die kleure verf word soms vuil, maar dis heel aanvaarbaar. So leer kindertjies mos die kleurkombinasies! Die groot geheim hier, is om net ‘n klein bietjie verf in elke botteltjie of bakkie te skep, waarmee geverf word tot dit op is, of tot dit te vuil raak. Volgende keer gebruik jy  weer “nuwe “verf. Dis vir hulle tog te lekker om weer nuwe verf te vra!

Gebruik asb groot vet stewige ronde kwasse vir klein kindertjies, van dieselfde soort waarmee mens olieverfskilderye kan maak, maar net met ‘n kort steel. Hierdie kwasse kan ‘n mens baie goedkoop by kunswinkels en self by sommige hardeware winkels kry. Kinders wil graag hulle lekker groot papiere vol verf. Klein kwassies bederf die effek, want dis eenvoudig te veel werk.

Stel jou kindjie bloot aan soveel mediums as wat jy kan.  Gaan net altyd na dat die goed nie-toksies is. Verf  is ‘n baie goeie medium. Gebruik poeierverf, guache, plakkaatverf of akriliese verf, wat lekker helder kleure het. Waterverf is te sag op die oog en te moeilik om ‘n goeie effek mee te kry vir ‘n klein kindjie. Poeierverf is goedkoop en kan op aanvraag met ‘n bietjie water gemeng word, maar ai, die tyd! In Suid Afrika maak Dala sommer klaar aangemaakte poeierverf in groot houers. Die kleure is sterk en die verf hou ook langer voor dit sleg word. Ek beveel dit sterk aan. Nou is dit maklik om sommer gou ‘n bietjie in ‘n Purity botteltjie  uit te gooi.

Vetkryt is ‘n lekker( minder morsige) opsie, maar dit moet lekker dik vorms wees en van goeie gehalte. Dis baie frustrerend om met kryt te werk wat nie wil vassit aan die papaier nie. Pastelle, oliepastelle sowel as gewone pastelle , val ook in hierdie kategorie.

Waak teen te veel koki’s. Die effek is wel onmiddellik en baie dramaties, maar die kleure kan nie meng en lekker inkleur soos met vetkryt, pastel of verf nie. Ek het julle maar min koki’s gegee om mee te speel. Dit was vir my nie ‘n goeie medium nie.

Potloodkryte is  ook nie die beste ding vir kleintjies nie. Die kleure is dikwels vaal en verbleik, die punt raak stomp of breek ,en is onnodige sukkel en frustrasie. Houtskool, daarenteen , is vir my ‘n goeie medium, want hoewel dit nie kleur het nie, kan jy dit smeer en lekker metlig en donker werk.

Gom, stukkies gekleurde papier , ou tydskrifte, stukkies lap, tou ens is alles goed waarmee lekker gespeel kan word.

Moet kinders inkleurboeke he? Volgens kenners behoort kinders liefs nie in te kleur nie, maar hulle eie prente te maak. Die rede is oa. dat die kinders leer om sulke inkleurboekprentjies na te teken in plaas van om hulle eie kreatiwiteit te gebruik. Hulle hou dus op teken, want die inkleurboekprentjies is mooier as hulle eie. Verder is baie van die prentjies nie realisites nie. Hier praat ek nou weer van die “strokieskarakter” oë wat glad nie is soos ‘n kindjie oë  sal teken nie, omdat niemand sulke oë het nie. Hy leer egter nou dat ‘n mens oë so kan teken en al sy nuwe prentjies lyk nou  soos strokieskarakters. Nog ‘n voorbeeld is voëls. Grootmense sal twee halfmaantjies teken wat aan mekaar raak en dit lyk soos ‘n voël wat vlieg. Kinders teken die hele voël met kop, gesig, vlerke ,stert en pote, al vlieg hy.

Ek dink tog dat dit soms wel waarde het om in te kleur. Hy leer om tussen die lyne te kan bly, jy leer om die prentjie te ontleed, om kleure te kies en aan te wend dat dit mooi lyk. Dit moet egter nie te  veel gedoen word nie, en moet nooit die plek van self teken inneem nie. Beperkte gebruik van ‘n inkleurboek behoort egter nie te veel skade te doen nie( volgens my), maar dis belangrik dat jy die boekie eers deurkyk .

Ek stuur nou sommer ook hier reseppies wat julle handig sal vind.

Vingerverf:                                                                                                                                                           Bestanddele:   1 koppie meel, 2 koppies suiker, 1 koppie koue water.                                                                                                  Metode: Meng. Kook op stoof terwyl jy nog 3 koppies water byvoeg. Verdeel die  dikkerige pasta en voeg voedselkleursel by.

Klei: ( bly sag)                                                                                                                                      Bestanddele: 500ml meel, 80 ml olie, 30 ml kremetart, 250ml sout, 500ml water.                       Metode: Meng alles in ‘n kastrol en verhit stadig. Gooi kleursel by.Roer heeltyd tot ‘n bal vorm.  Haal  af, en knie baie goed.  Bewaar in ‘n plastiese sakkie of houer in die yskas.

Soutkeramiek( word hard)                                                                                               Bestanddele: half koppie maizena of stysel, 1 koppie sout, half koppie koue water.                       Metode: Meng alles saam en kook in dubbelkastrol tot effens styf. Moenie te lank kook nie, anders word dit te hard. Knie baie goed.  hierdie klei word hard as dit droog is en kan in die oond gebak word en dan geverf word met akriliese verf( craft paint) en vernis word, vir bewaring.

Papiermache                                                                                                                                 4 Koerante, in stukkies geskeur, ( so ongeveer 2 vk cm groot), 3 liter water. Sit op stoof en prut vir so 20 min. Gooi nou die water af en druk die vloeistof uit. Gooi by 2 eetlepels  gom ( houtlym of koue lym) en 2 eetlepels muurpapier gom. meng.

Maak ‘n hoekie teen julle muur  waar die kunswerke uitgestal word, neem ‘n paar en fotostateer dit en maak muurpapier daarvan, lamineer dit en gebruik as plekmatjies op jou tafel, voer jou plafon daarmee uit, plak jou kasdeure daarmee toe, raam dit,  of vou dit op en stuur dit vir Ouma!

Lekker speel, lekker mors, en voel hoe daardie vingerverf so deur julle vingers krul! Ai, hoe verlang ek nou na die tyd toe ek gestaan en skilder het en julle langs my by julle tafeltjie gesit en verf het!

Baie liefde

Mamma

om ‘n volgende brief te lees, klik hier.

Posted in ouma se bababoek ( ouerleiding) | Tagged , , , , , , , , , , , , , | 18 Kommentaar

MY KORT VIR JOU SOP

 

My kort vir jou sop is ‘n bundel kort-kort verhale wat vir liefdadigheid geskryf is.  Die boek is die breinkind van Trisa  Hugo, die eienares van Boekemakranka, ‘n e-boek uitgewery. Alle tantieme gaan aan die Kleinmond sopkombuis, en die uitgewer se winste gaan aan dieKleinmond  leeskring, dws 100% liefdadigheid. Van Suid-Afrika se beste en bekendste skrywers het hier verhale geskryf, maaar, daar is sowaar ook ‘n storietjie in wat ek self  geskryf het. Kort, en op die laaste oomblik, maar hy het dit gemaak en ek voel baie trots! Koop tog asseblief die boek, geniet dit, want daar is wonderlike stories in, en weet dat jou geld gaan om honger magies te voed. Koop die boek hier deur op die link te klik. http://www.amazon.com/gp/product/B00CI1R14M/ref=as_li_ss_tl?ie=UTF8&camp=1789&creative=390957&creativeASIN=B00CI1R14M&linkCode=as2&tag=boekemakranka-20

die e-boek vol kort kortverhale vir liefdadighied

die e-boek vol kort kortverhale vir liefdadighied

Posted in Los opdrifsels | Tagged , , , , , , , | 7 Kommentaar

die pad is nog altyd net so mooi. en na die reen is hy vinnig besig om groen te word!

seegogga's avatarSeegogga se Bloggie

Ek ry gister hier weg, op pad Kaap toe, en opnuut verwonder ek my oor die ongelooflike mooi pad wat ons so dikwels moet ry. Vir iemand wat in die vaal, plat Vrystaat grootgeword het, is die pad Kaap toe elke keer ‘n wonderskone ervaring.

Eers is daar die op en af bultjies- die ruens. Jy kan vergeet om hier by ‘n ander motor verby te gaan, want die bultjies is op en af, soos golwe op die see, en jy kan glad nie sien wat voor aankom nie.

Dan is daar die blou berge in die verte, kleurvol verby. Die van julle wat as kind comics gelees het, sal dalk Jumbo the Friendly Giant onthou. Hy het altyd met sy rug teen so ‘n kleurvolle berg gele, met sy bene op sulke pragtige groen en bruin lande en die denneboompies het so oral rondom hom gegroei. Wel ons land lyk so:…

View original post 562 more words

1 Kommentaar

Waarvoor cater jy?

100_162017 lakens, 17 duvet oortreksels, 34 kussingslope, 34 handdoeke, 10 matjies ,6 vatdoeke., 1 onderlaken. dit is wat ek al heeldag besig is om te was en ek is nog nie klaar nie. Voor Donderdag kry ek 10 lakens, 10 duvet oortreksels, 20 kussinslope 20 handdoeke, 4 matjies , en die paasnaweek is die eerste lot hopelik droog en reg, want ek benodig  18 lakens 18 duvetoortreksels 36 kussinslope, 36 handdoeke 11 matjies, en na die naweek hoop ek ek het al die voriges klaar gewas want dan benodig ek weer  7 lakens, 7 duvetoortreksels, 14 kussingslope 14 handdoeke en ek weet nie hoeveel matjies nie. Amper vergeet ek om te noem van die skoonmaak – nie sommer bolangs nie, nee, elke keer moet dit ‘n springcleaning wees, of die mense kla. Ek tel 17 springcleanings van gister af tot die skool op 6 April weer begin – gewas, gehang, gevee geskrop deur me , myself en I.     Nee, ek jok, eenkeer gaan my kind my help en 2 of 3 keer my vriendin wat ‘n skoonmaakbesigheid wil begin. Dis die lewe van ‘n selfsorgeienaar met 4 eenhede. Daarvoor het ek studeer: Sielk(honns) en 2 onderwysdiplomas, dws 6 jaar naskoolse opleiding aan ‘n universiteit, en dan nog ‘n paar kleiner kursesies en goeters. Nou hoe lank studeer ‘n dokter nou weer?  O ja, en ‘n tandarts? en ‘n oogkundige? En wat van ‘n rekenmeester?  Dis nou behalwe die prakties. Daarvan het ek mos baie. Nee kyk, êrens was daar iets verkeerd met my sommetjies  en my beplanning! maar vanooggend, juis omdat ek nie gister kon klaarrkry met die springcleanings nie en dus sommer by die see oorgeslaap het, het ek die son op die see sien opkom,  sommer daar reg voor ou Rus ‘n Bietjie.  Wat ‘n voorreg!100_1628

Posted in Die Overberg: my wereld., Los opdrifsels, Seestories | 20 Kommentaar

Erika self catering accommodation Struisbaai

Erika self catering accommodation Struisbaai.

Lewer kommentaar

Tippie van Afrika

Daar is baie lande in die wereld, met verskillende mate van bekoring, maar daar is net  twee lande  wat jou rillings langs jou ruggraat afgee, as jy hulle name hoor.

Die eerste is Rusland:  Gevaarlik! Geheim!Sneeu Rooi plein! Siberië. count pushkin vodka!

Die ander is ‘n groot kontinent en ek kan nie dink dat enigeen die woord kan sê en nie aangeraak word deur die grootsheid, die misterie, die betowering, die ontsag daarvan nie: AFRIKA!

Afrika! ‘n Magiese woord. Groots, ru, ongerep, soos geen ander vasteland in die wêreld nie. En ons woon in hom! Ek is ‘n kind van Afrika. En ek is mal daaroor.

Ek  was bevoorreg om ‘n pa te hê wat ‘n natuurkind was en my geleer het om vreemde goed te eet, nie te veel om te gee wat mense van my dink nie en die avontuur van die natuur te omhels. Tog, het ek volgens my heeltemal te mak grootgeword.

Nou het ek ‘n dogtertjie raakgeloop. Eers het ek ‘n boek met foto’s van haar gesien. Ek het dit nie heeltemal geglo nie en gedink daar word oordryf, maar nou het ek haar gegoogle en sjoe! As daar nou ‘n kind van Afrika is, is dit sy, al is sy eintlik Frans.

Of ek my kinders die vryheid sou gee om so groot te word, weet ek nie, wat ek wel weet, is dat ek BAIE graag so sou wou grootword soos sy!

Haar naam is Tippie, en sy is nou ‘n tiener, maar sy het met die Afrika olifante rondgeloop toe sy nog doek gedra het – o ja en sommer die luiperds en jagluiperds ook. Hier is ‘n video, geneem toe sy seker so tussen 3 en 7 jaar oud was.

Miskien is daar van julle wat dit sal geniet. Ek dink nogal Slakkelak is ook so ‘n natuurkind. En dan dink ek, ons die kinders van Afrika, ons heeltemal te beskaafd! Ek wens ons kon almal so grootword!

Geniet dit. ( dis Frans, maar ‘n mens hoef nie teverstaan wat hulle sê nie).

Posted in Los opdrifsels | 10 Kommentaar