Ouma se bababoek: Brief 19: babastoeltjies, loopringe en jumping gyms

Liewe Kinders

Wie het nou ooit gedink dat ouma se bababoek deur so baie mense gelees sal word? Elke liewe dag is daar ‘n hele klomp mense wat hier loer.

Daarom voel ek ek moet nou hierdie ding skryf wat al so lank op my hart lê, al is julle tweelingetjie nou al lankal verby hierdie stadium en al byne 3 jaar oud.

Kom ons begin met die Babastoeltjie: daardie hollerige harde plastiese stoeltjie met die handige handvatseltjie waarin mammas  babas so graag  in ronddra. Dan word die babatjie ewe gerieflik op die tafel neergesit, of in die kombuis op die werksoppervlak.  Nouja, dit is sekerlik ‘n handige dingetjie, veral as jy stad toe gaan of gaan kuier.

Maar dit val my op dat die babatjie daarin vasgegespe is en eitlik heeltyd maar net eintlik in een posisie lê/sit. Hoe moet hy nou sy spiertjies ontwikkel? Ek glo nogal aan ‘n babatjie wat los en vry le en skop, en vry is om om te rol wanneer hy sterk genoeg is. Sit jou babatjie onder ‘n tafel of iets hoog en hang ‘n paar klein speelgoedjies wat hy net- net kan bykom. Kyk hoe hy sy armpies swaai en skop om die speelgoedjies te laat beweeg. As hy geïnteresserd raak om goedjies by te kom, hou ‘n speeldingetjie in jou hand en terwyl die babatjie  daarna strek, beweeg jou hand een kant toe.  Nie lank nie, en siedaar: jou babatjie draai van sy rug na sy maag toe om – iets wat hy moet kan doen voordat hy kan kruip. Gee dus vir jou kindjie meer vryheid en minder tyd vasgegespe!

Onthou ook: armtyd is altyd  baie belangrik. Moenie jou babatjie neersit, met die bottel gestut met ‘n doek of iets nie. Spandeer maar die bietjie tyd aan jou kind en hou hom vas terwyl hy bottel drink, as jy dan nou nie borsvoeding doen nie. Die vel- tot vel kontak en die emosionele gevoel van veiligheid en geborgenheid wanneer jou babatjie so vasgehou word, kan nooit oorskat word nie.  Babatjies word nie bederf nie, hulle floreer op vertroeteling!

En dan die euwel: Loopringe Ai tog die mens, darem: As God wou gehad het babatjies moet  al van so twee- drie maande af al loop, sou hy hulle beentjies en ruggie sterk gemaak het. Maar hy het nie, en as jy dink jy maak jou babatjie sterker en leer hom loop in ‘n loopring, maar jy ‘n groot fout.

Loopringe is nie net baie sleg vir jou babatjie nie, maar ook baie gevaarlik! Het julle geweet dat loopringe in sekere lande, soos oa. Kanada, verbied is? Die rede is dat daar soveel ongelukke voorkom. Die babatjie val uit die loopring uit en daar is net een manier hoe hy kan val: op sy kop. So kry hulle harsingskudding, skedelbreuk of selfs erger. Daar is ook geen manier warop jy dit kan keer nie, want as dit gebeur, gebeur dit vinnig, en jou reaksie is eenvoudig te stadig. Ek wou die horries kry toe een van die tweelingetjie so reg voor sy pa en my op sy kop geval het, omdat ek nie my voet hard genoeg neergesit het oor die loopringstorie nie- ek is immers net die ouma en wie wil nou na my luister? Maar die fisio’s by ons skool het die nadele van loopringe baie goed by my ingedril, en nie een van julle was ooit in een nie.

Mammas, as iemand jou ‘n loopring present gee- gaan gooi hom weg( nadat jy hom eers stukkend gekap het)

Maar die loopring het ook baie ander baie nadele . Eerstens is die babatjie se skelet nog nie sterk genoeg om sy gewig te dra nie. Nou skop hy met sy voetjies op die grond en staan soms en dit kan lei tot bakbeentjies of andersom asook rugprobleme. Verder is die metode wat hy gebruik om te loop heeltemal foutief, en dit benadeel sy koördinasie en loopaksie later. As ‘n mens loop, moet jy jou hak eerste neersit en jou voet dan rol tot by die toon. In ‘n loopring “loop” ‘n babatjie meestal op sy tone, iets wat ‘n abnormale reakie by mense is.

Die belangrike ding is ook dat die baba nou regop is en verwyder van die dinge wat nou vir hom belangrik is vir sy ontwikkeling, nl naby kontak met allerhande voorwerpe en teksture, en ook naby kontak met  sy bene en voete. Hy het hierdie naby kontak met bv die mat of die laken se tekstuur, die stoffie, die speeldingertjie, , die afstand van sy voetjies van sy kop af ens nodig vir sy perseptuele ontwikkeling. Hy leer sy liggaam ken as hy vry lê en skop of aan sy tone suig. Die fisiese oefening van rol, sit en kruip word ook te min gedoen as hy heeldag in ‘n loopring rond gly.

Glo my , dis die heel beste vir die kindjie plat op die vloer waar hy kan leer om om te rol , sy beentjies op te lig in die kruipaksie, en om te oefen om te kruip. Kinders in loopringe kruip later as ander ( of glad nie!) en loop ook later, sover ek weet.

KRUIP IS BAIE BELANGRIK Het julle geweet dat kruip ingewikkelde koördinasie  tussen die regter en linkerkant van die liggaam ( en dus die brein) benodig? Wanneer hy sy linker-sowel as sy regterbrein gebruik vir ‘n taak, leer hy die twee helftes van die brein om saam te werk: belangrik vir kruising van die midlyn, wat weer belangrik is as mens later leer lees en ook skryf. Dink mooi hoe die regter knie en linkerhand gelyk vorentjie gaan en dan weer andersom. Hierdie aksie is baie belangrik vir die koördinasie , nie net van die kruipaksie nie, maar ook sy algemene koördinasie later as hy bv van links na regs moet skryf,  ens . Daar is sommige kinders met leerprobleme wat kan loop, maar nie kan kruip nie. Dis regtig uiters belangrik dat ‘n babatjie moet kan kruip en goed ook, en sommer lekker lank.

Laat hom dus maar oop die vloer lê, en soms op sy magie , soms op ‘n opgerolde doek onder sy magie. Sit vir hom speelgoedjies net effens buite bereik, sodat hy moet rek en strek en beweeg om dit by te kom. As hy net wil seil en nie tot kruip oorgaan nie, help hom deur hom effens op te lig sodat hy sy beentjies onder hom kan intrek. Help hom self om sy armpies en beentjies op die regte tyd vorentoe te sit, en prys alle suksesse baie. Leantjie, jy het al op 4 maande op en af in die gang geseil-kruip, en op so 5-6 maande reg gekruip! Ons kon nie glo hoe vinnig jy daarmee was nie.

JumpingJims Dis mos daardie swaaitjie wat in ‘n deur of erens opgesit word en dan sit die baba daarin en skop met sy voete op grond, en dan gaan die swaai op en af met sy rek bande. Ek hoor gelukkig nie meer eintlik daarvan nie, miskien is dit van die mark af. Ek hoop so, want dit is sleg! Die babajie is heeltyd besig om op en af te spring , met soms geweldige sterk rukgbewegings. Oe- oe….julle weet mos ‘n babatjie mag nie geskud word nie, omdat sy breintjie en rugmurg tog so maklik daarmee kan beskadig. Hierdie goed doen presies dit: dit skud die baba op en af – en soms in die deurkosyn vas. Die skok as hy op sy beentjies( wat nog nie sterk genoeg is om sy gewig te dra nie) is waarskynlik ook te veel. Nee, bly weg bly weg!

En nou is daar baie ander oumas wat baie vies vir my gaan wees en wat sê dat hulle kinders in loopringe grootgeword het , en dat daar niks fout met hulle is nie.Ook dit dit ‘n wonderlike “kinderoppasser” is . Moenie vir hulle luister nie!!!! As jy meer ook die saak wil weet, gaan praat met fisioterapeute,en arbeidsterapeute wat experts op die gebied is en wat vir jou baie mooier as ek sal kan verduidelik presies hoekom dit so sleg vir kindjie is. En as ‘n mens negatiewe dinge oor iets hoor, en jy is nie seker nie, LOS UIT! Jy wil mos die allerbeste vir jou kindjie gee!

As mens so lees, sien ek telkens: terug na die natuur. Moenie allerlei vreemde gadgets en speelgoed gebruik nie. Sit die kind op  die grond as hy nie op die arms is nie, en laat hom vry ontwikkel.

bababoek abba 001Abba Maar soms verseg ‘n babatjie om te lê en speel, Hy wil opgetel wees! En die mamma het soms baie goedjies wat gedoen moet word! Een ding wat ons by die mammas van Afrika kan leer is dit: as jy jou kind wil vashou, en jou werk ook nog wil doen. ABBA! Sit gerus die kind op jou rug! Die babatjie voel veilig en geborge, vas teen die ma se lyf soos hy dit graag wil hê. Sy beentjies is presies in die regte posisie vir sy heupies en die korrekte vorming van sy beentjies. Hy kan rondkyk en die wereld beskou. Die mamma se arms is vry om te werk. Die rug is ook die beste plek vir gewig. Daarom dra ons rugsakke as ons gaan bergklim of ver loop. As jy ‘n Afrika mamma ken, vra haar om jou mooi te wys hoe hulle dit doen. As jy van daardie drasakke het waarmee jy die kindjie op jou maag dra, sit hom op jou rug, maar bind steeds sy beentjies vas soos die Afrika mammas doen.Dit werk soos ‘n bom! Maar onthou tog net asb van daardie bondeltjie op jou rug as jy om ‘n draai loop of deur ‘n deur, né.

Nouja, genoeg vir een dag.

Lekker kind grootmaak!

Mamma

Om die volgende brief te lees, klik hier.

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in ouma se bababoek ( ouerleiding) and tagged , , , . Bookmark the permalink.

8 Responses to Ouma se bababoek: Brief 19: babastoeltjies, loopringe en jumping gyms

  1. Andre Kotze sê:

    Hallo Seegogga,

    Ons stem met alles saam! Net die abba kan dalk n probleem wees.

    ‘n Kollega antropoloog het jare gelede (1982) vir my gese dat abba die noodsaak van oogkontak en interaksie met die mamma omseil en dat dit die rede is waarom kinders soms uitdrukkingloos na vreemdelinge staar: omdat hulle nie genoeg met mamma gesels en gespeel het nie. Dalk is abba as noodmaatreel aanvaarbaar, maar ons soek kinders met gesigsuitdrukkings wat liefde en persoonlikheid uitstraal (glimlag behoort die eerste reaksie op ‘n ontmoeting te wees).

    Dis debatteerbaar, want tydens ons verblyf in Taiwan het kinders dikwels droewig aan die huil gegaan as hulle ‘n Westerling met ronde oe sien. Dalk is vreemdheid eerder die oorsaak van gebrekkige interaksie.

    Dankie vir die oulike wenke.

    Andre Kotze

    • seegogga sê:

      Hallo Andre, baie dankie vir jou interessante kommentaar. Nee, ek stem dat die mamma en pappa sommer baie met die babatjie moet speel en gesels. Abba moenie die oog-tot oog en persoonlike kontak vervang nie. Maar soms het mamma baie werk en babatjie is dalk vaak maar wil nie slaap nie, of net nie lus om soet op die vloer of in sy stootwaentjie te le nie. Dan is abba ‘n wonderlike oplossing. My eie kinders het so groot geword, maar ai, hierdie ongekoordineerde ma het hulle soms disnes geloop deur ‘n deur! Gelukkig het hulle nie skade oorgehou nie, en het nooit ‘n probleem met oogkontak gehad nie. Kinders reageer nie maklik op vreemdelinge nie- of hulle nou geabba was of nie.

  2. Kameel sê:

    Ek pleit natuurlik skuldig omdat ek nie in my dae van al hierdie dinge bewus was nie. Dit is eers nou met die kleinkinders wat ek die dinge gehoor het.

    • seegogga sê:

      Gelukkig is jy oop vir oortuiging, Kameel! Ek weet van oumas( en hulle kinders) wat niks wil glo wat ek hierbo gese het nie. Eers toe die fisio dit vir hulle vertel, het hulle gereageer.

  3. Terug pieng: Ouma se bababoek . Brief 10. Babas en dokters | Seegogga se Bloggie

  4. Terug pieng: Ouma se bababoek:. Brief 18. Die waarde van teken, verf, kleispeel, modderkoekies en mors! | Seegogga se Bloggie

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s