Liewe Nuwe Jaar

Liewe Nuwe Jaar

Baie dankie dat jy hier opgedaag het.

Ek ken jou nog nie, maar ek hoop tog ons sal vriende wees. En laat ek maar eerlik wees, ek is nog maar ‘n bietjie onseker oor ons toekoms saam. Daar is so baie dinge wat rondwoel in my kop. Moet ek hierheen of daarheen? Hoe gaan my finansies dit hou?  Watter draaie gaan jy gooi?

Jy het sommer op ‘n hoë noot afgespring: ‘n heerlike en suksevolle familiebyeenkoms op 1 Januarie; ‘n gebarste waterpyp en vloed in my nuwe woonstelletjie wat ek verlede jaar gebou het op 4 Jauarie; ‘n Byna ongelooflike vloed en oorstromings hier in die middel van ons droë  seisoen  op 6 Januarie. Dit lyk my jy beplan vir ons ‘n jaar vol verrassings – soos byna elke jaar né?

Maar ek het al geleer dat jare verskil. Daar was die kinderjare, die studentejare, die jaar van liefdesdramas , die jaar op Stellenbosch – my heel lekkerste jaar, Die jaar van troues, toe amper almal wat ek geken het getrou het, die jaar van babas, die jaar van rampe, die ongelukkige jaar van verskeie sterftes,  die jaar van hartseer, die hele paar jaar van baie werk, die koue jare, die warm jare….. so kan ek aangaan. Elkeen van julle het sy eie karakter. Sommige staan uit en word tot vandag deur my goed onthou, ander is meer vaag en algemeen.

Verlede jaar was vir my die jaar van herinneringe, maar ook die jaar van ry ; baie baie kilometers op die teerpaaie, en ook op die paaie van my hart.

Hoe gaan jy wees, 2014? Ek weet nie waarom die getal 14 my aan my ma laat dink nie. Miskien omdat sy op 14 Maart verjaar het? Sy was statig, besadig en effens konserwatief. Tog was sy ‘n goeie kunstenaar en het sy ‘n fyn sin vir humor gehad – en  sy het altyd so ‘n goeie algemene kennis gehad.

Liewe Jaar, jou dramatiese begin is nie heeltemal soos sy nie, en as jy so voortgaan, sal dit goed wees, want ek sal nie tyd he om te gaan sit en dink en tob nie. Ek is is bietjie bang vir al die dink en tob van die laaste tyd. Dit is tyd dat ek tot aksie oorgaan en as jy so aanhou, Jaar, dan gaan jy my mos help en sommer my besluite vir my neem en makliker maak.

Ai Jaar, ek wil tog vir jou vra: wees onse mensekinders maar genadig. Ek weet jy moet ook smart en verdriet saambring, maar sorg tog asseblief vir genoeg ligpuntjies en ‘n ietsie om oor te lag -veral tog ietsie om oor te lag. Ek persoonlik het dit baie nodig,  maar ek dink baie mense hier in ons land ook. Ag en ‘n bietjie beter finansies sal ook natuurlik baie welkom wees.

Welkom dan hier, Liewe Nuwe Jaar, ek hoop ons twee sal groot vriende word.

Seegogga

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in Los opdrifsels. Bookmark the permalink.

6 Responses to Liewe Nuwe Jaar

  1. Andre Kotze sê:

    Baie mooi! Stuur dit gerus in vir Tjailatyd op RSG!

    Andre Kotze

  2. Toortsie sê:

    Liewe Seegogga, mag 2014 vir jou baie vreugde bring. Nuwe hoop, uitdagings. Iewers kom drink ek weer koffie as die jaar aan die gang is, en jy mag natuurlik by MY ook kom koffie drink . 🙂

  3. seegogga sê:

    liewe Liggie, ek hoop julle het nie te veel skade gehad met die vloed nie, en dat dit verder weereens ‘n goeie jaar sal wees. En koffie is altyd lekker saam met jou!

  4. Kameel sê:

    Liewe seegogga, die nuwejaar is ook al amper halfmaandoud. Mag Hy Sy lig oor jou straal, en vir jou vrede gee… al is dit ook te midde van storms wat woed. Geloof, hoop, en liefde in oorvloed vir jou in 2014. 🙂

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s