Wat doen ek met musiek?

Toortsie het gevra, dus moet ek ‘produce’, nè.

Ek het in st  1 begin musiek neem. Ek onthou dat ons nog nie ‘n klavier gehad het nie en dat ek by die tannie oor die straat moes gaan oefen.

Later daardie jaar koop my pa toe vir ons ‘n klavier op die Paasskou vir die som van 232 pond 10 sjielings. ( Die jaar daarna het hy vir ons ‘n erf op Struisbaai gekoop vir 200 pond, om ‘n idee van pryse te gee). Die klavier was was ‘n Schindhelm, een van die eerste klaviere wat op Wellington gemaak is, met ‘n pragtige klank en die ongelooflike vermoë om BAIE sag ook te kan speel, iets wat soms sukkel by ander klaviere. Vandag is my klavier oud en afgeleef, en het eintlik  baie aandag nodig, maar ek steeds mal oor hom.

Soos Toorts, het ek eksamen na eksamen gespeel, my eerste sommer al in my eerste jaar, in st 1, en my sewende eksamen in St 8. Dit beteken dat ek hier erens ‘n jaar moes geskiep het, waarskynlik st  4, maar ek is nie seker nie.

Die eerste fout het gekom toe my musiekjuffrou gevoel het dat ‘n mens nie ‘ryp’ is vir Finaal in St 9 nie, dus moes ek weer ‘n jaar skiep en Finaal in Matriek doen.

Die tweede fout was die Hoërskool wat die vorige jaar baie swak matriekuitslae gehad het, en gevoel het dat hulle leerlinge alles moet probeer om meer onderskeidings te kry. Ek is dus ten sterkste afgeraai en geïndoktrineer, om NIE finaal in Matriek te doen nie en liewer my onderskeidings na te jaag. Ek kan mos altyd Finaal later doen.

Ai toggie, en daar was niemand met ondervinding wat my kon waarsku nie! Daar was niemand, nie eers my musiekjuffrou, wat vir my ingelig het dat Finaal baie meer werd is as ‘n onderskeiding nie. En as ek so terugkyk, glo ek nie my Finaal sou enigsinds my matriekuitslae beïnvloed het nie. Ek het mos in elk geval die musiekstukke en toonlere ens geoefen soos altyd. Ek het ( teësinng, maar plig kom voor plesier) net nie die eksamen gedoen nie.

Uit die skool en op universiteit, en latere onderwysposte op ander dorpe , het gemaak dat ek vir die volgende 20 jaar nooit ‘n eie klavier gehad het nie. Ja, ek kon ( en het) soms in die konservatorium gaan oefen, so op my eie, ek kon in die skoolsaal  gaan oefen,  so tussen my skoolhouery en nasien deur, maar toe ek eers getroud het, was dit net vakansies by die see wat ek en my klavier weer mekaar ontmoet het. Ek dink finaal is finaal verby vir my.

Maar wat ek eintlik wil vertel, is van die oefenry. Elke middag moet ‘n mens mos OEFEN. En vir ‘n dogtertjie soos ek was dit nou sommer baie vervelig. Dus het ek soms gemaak of ek die Siembamba tannie is, of soms Saartjie Bouman. Dan vertel ek vir die maatjies stories, en speel my toonlere om by die storie te pas. En ‘n ander deel van die storie is die musiekstukkies. Natuurlik gaan so ‘n storie gepaard met ‘n paar ekstra akkoorde en tussen-in trillinkies, of my eie opgemaakte stukkies, want die musiek moet mos by die storie pas.

So moes my ma eendag weg wees, en toe sy terugkom vra sy die huishulp of ek geoefen het. En die huishulp, ‘n Sotho mama, verklaar plegtig dat ek nie geoefen het nie, net gespeel het – en daar kry ek pak slae!  Valslik en onregverdig! Ek het jarelank daaroor gebrom. En ek wonder steeds hoekom mense geneig is om eerder grootmense as kinders te glo. Kinders jok baie swakker as grootmense en ek was juis een wat glad nie kon jok nie.

Maar musiek is vir my lekker. Ek is veral lief vir lekker akkoorde. Met my koördinasie is ek beslis beter met musiekstukke met lekker groot akkoorde met baie emosie, eerder as die super vinnige stukke met die enkele nootjies. Nie dat daar fout was met my spoed nie, ek verkies net hierdie lekker groot magtige klanke.  Gee vir my Chopin!

Maar helaas, selfs al staan die klavier nou hier in my huis, is tyd ‘n faktor, en dis baie lekkerder om net te gaan sit en speel as om te moet oefen en oefen. So ek het so ‘n paar geliefde stukkies, meestal minder klassiek, en dan hou ek daarvan om te tokkel en sommer steeds my eie goed op te maak soos ek speel. Ek speel amper alles in C, soms F of G, maar my linkerhand ken net die C akkoorde baie goed!  Miskien klink dit vir niemand na iets nie, en waarskynlik gaan ek nooit ‘n komponis word nie, maar vir my is dit steeds lekker om soms sommer my eie goed te speel soos die gevoelente my lei.

So het ek nou toevallig nou die dag iets gespeel wat ek my verbeel my eie komposisie is, en omdat ek ‘n nuwe selfoon het, het ek dit probeer opneem. Net mooi 2 dae voor Toorts my die opdrag gegee het!  Hier is dit dan, en luister ook tog asseblief nie krities nie!

Oja, en dan vra ek asseblief vir Maankind en Herriemerrie om te vertel wat hulle doen met musiek Jaaa, ek sien Maankind en Zena is reeds getag, so wat van Kameel en Olga? Vertel ons bietjie wat doen julle met musiek?

 

 

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in die tale wat ons praat, gedigte en rympies (seestrome van verlange), Los opdrifsels. Bookmark the permalink.

9 Responses to Wat doen ek met musiek?

  1. MaanKind sê:

    Ek kan verlange hoor!

  2. Toortsie sê:

    Seegogga, jy is ‘n ware kunstenaar. Ek is dalk sterk op harmonieë, maar kon nog nooit ‘n nuwe wysie uitdink nie. Jy moet meer liedjies skep.

  3. thysleroux sê:

    Nice inskrywing… ek is altyd mal oor “musiek” inskrywings 😉

  4. Kameel sê:

    Ai en daar raak my hart sommer so week oor daardie dogtertjie voor die klavier, met haar storietjies. Ek dink dit moet net so lekker wees om voor ‘n klavier te gaan sit en te speel… Finaal of te nie, jy is bevoorregd. (As bevoorregd verkeerd gespel is “sorry,” maar ek is nou moeg in die woordeboek gekyk omdat my kop nie meer wil onthou hoe spel ‘n mens elke liewe woord nie.)

    • seegogga sê:

      Dit is lekker, Kameel, maar om te kan speel, moet ;n mens oefen! Toemaar, ons verstaan alles wat jy skryf en ons HOU daarvan. Vertel ons bietjie wat doen ju met musiek toe? ek gaan jou nou tag

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s