Alle paaie gaan na Kaapstad

Ek ry gister hier weg, op pad Kaap toe, en opnuut verwonder ek my oor die ongelooflike mooi pad wat ons so dikwels moet ry. Vir iemand wat in die vaal, plat Vrystaat grootgeword het, is die pad Kaap toe elke keer ‘n wonderskone ervaring.

Eers is daar die op en af bultjies- die ruens. Jy kan vergeet om hier by ‘n ander motor verby te gaan, want die bultjies is op en af, soos golwe op die see, en jy kan glad nie sien wat voor aankom nie.

Dan is daar die blou berge in die verte, kleurvol verby. Die van julle wat as kind comics gelees het, sal dalk Jumbo the Friendly Giant onthou. Hy het altyd met sy rug teen so ‘n kleurvolle berg gele, met sy bene op sulke pragtige groen en bruin lande en die denneboompies het so oral rondom hom gegroei. Wel ons land lyk so: kleurvol groen en geel in die winter, met hier en daar bietjie pers, nou geelroom en bruin met hier en daar bietjie groen. Nooit net een kleur nie, altyd ‘n ryk palet van kleure , met die blou en pers strokiesverhaalberge om die rante.

Iewers op ‘n land is daar altyd ‘n paar skape, spierwit na hulle geskeer is, of vaal van die stof met hulle lang wolle. En iewers op die pad, sien jy waarskynlik ook ‘n wildsbokkie of twee en ‘n paar bloukraanvoels.

Dan klim jy op, deur die Houwhoek pas ( mooi naam, ne) en uiteindelik ( met die moontlikheid van bobbejane langs die pad) is jy heel bo op Sir Lowrey’s pas – en daar le die groot blou dam! Pragtig verby.

Dis sommer die gewone pad Kaap toe.

Dan is daar die kuspad. By van Brakelstoor (wat ‘n naam vir ‘n plek in die middel van niks!) draai jy af van die gewone pad, en dan ry jy pragtige heuwels en valleie binne, tot verby Stanford en Hermanus, daardie karaktervolle dorpies, en dan moet jy tog net nie die afdraai na Kleinmond misry nie ( soos my kinders eenkeer gedoen het- en weer op die sir Lowreyspaspad beland het). As jy nou Kleinmondafdraai gevind het, en net aanhou, kom jy op seker een van die mooiste paaie in die hele wereld. Al langs die see ry jy, kronkel- kronkel: afgrond en blou see links, hoë kranse van hoe berge regs. Ek onthou hoe ek en my jongste eendag met sononder daar gery het. Die son het ‘n pienk streep oor die hele lengte van die see gemaak, ongelooflik mooi, en onder, in die pienk lig, het ‘n skool dolfyne geswem- onbeskryflik.

Die van julle wat nog nie hierdie pad gery het nie, moet Kaap toe kom- julle het ‘n pad of twee om hier te kom ry!

Invoeging; Julie2016. Intussen hier hierdie kuspad net verbeter! Die pad tussen Bredasdorp, oor Elim en Baardskeerdersbos is intussen geteer, en hoe mooi is die nie! Nadat jy dalk by een van die wynplase op die pad gaan wyn proe het, kom jy eers by Elim, die ou morawiese sendingstasie met sy waterwiel, pragtige rye rietdakhuisies en vyebome. Elim se manne is expert rietdakdekkers.

Dan kry jy Baardskeerdersbos, ‘n dorpie enig in sy soort, wat vroeer baie afgelee was, maar vandag nog net so primitief, maar vakansieplek van die rykes geword het. Expect the unexpected! Dan kom ‘n mens by Gansbaai, daar waar jy na die haaie onder die water kan gaan kyk as jy dapper is, en die lieflike De Kelders waar jy die walvisse in die baai kan sien baljaar. Ongelooflik mooi. dan verder tot by Stanford en Hermanus soos bo beskryf.

Maar gister het ek die pad geneem wat tans die minste verkeer het en die maklikste ry: Die  Franshoekpas. Hoë berge, kronkels en 340 grade draaie, diep skeure, pragtige fynbos, ‘n belewenis. Onder in die vallei die mooi ou dorpie met al sy restourante , kunsgallerye en natuurlik sy Hugenote monument.

Daarna Stellenbosch,  die droomwereld: ‘n  tuin met huise tussenin, soos my kind hom graag beskryf, en uiteindelik Kaapstad, met sy mooi berg.

Ek ry die pad, en dink hoe wonderlik bevoorreg ons is om al hierdie natuurskoon te beleef- sommerso op ‘n gewone dag, wanneer ons Kaap toe jaag vir besigheid, dokters of kinders.

En ek dank God vir die genade.

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in Die Overberg: my wereld., idioomstories, Los opdrifsels. Bookmark the permalink.

20 Responses to Alle paaie gaan na Kaapstad

  1. Ek gaan in Desember en Januarie Kaap toe!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

    Kan NIE wag NIE!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

    Gaan bietjie kuier in Gansbaai, Langebaan, Dubanville, Worcester en Franschhoek! :mrgreen:

  2. Olga sê:

    n mens voel altyd klein in die gesig van soveel skoonheid.

  3. toortsie sê:

    en dan moet jy sommer nie deur die Hugenote Tonnel by Worcester ry nie, maar oor die Du Toit’s kloof pas…. MOOI!!! En dis nie meer die verskrikking wat dit in die 1980’s was toe ons buffer aan buffer moes oorsukkel op ‘n paasnaweek nie. Die meeste motor’s ry deur die pas, waar mens in elk geval nie asem kry nie.
    En seegogga, as jy nou regtig avontuurlustig is, in die rigting van die Kaap, draai jy by Botrivier links in die rigting van Hermanus, neem dan die afdraai vir Kleinmond. Kort daarna kry jy ‘n grondpad na regs, in die berg in. Ek dink die bord sê Highlands. Dis verskriklik mooi. Die eerste gedeelte ry nie lekker nie, dis grondpad, bergpad, maar die pad raak later geteer. By enige T ry jy regs, tot jy by Peregrene uitkom. Oe, ek hoop jy kom reg. As jy verdwaal, vra maar vir iemand….

  4. toortsie sê:

    Die lekkerste lekker is nog steeds as ek van die Kaap af kom en by Botrivier oor die pas kom en die ruens se graanlande lê wyd voor my uitgestrek…. dan weet ek ek gaan HUIS toe….. there’s no place like home.
    Ek was nou MAL oor hierdie skrywe van jou!!! Dis mos MY wereld!!!

  5. seegogga sê:

    Ek is so bly jy hou daarvan. “So wyd as die Heer se genade le die velde in sterlig en skade” se Eugene Marais, maar ek se ” in sonlig en skade”. Die lappieslande is soooo mooi. Maar ai, waar ‘n ‘n foto van die canolalande? Ek gaan soek en opsit.

  6. Chris Beyers sê:

    Dankie vir sulke raak beskrywings van die mooi deel van ons land- het al 30 jaar gelede (1980 in matriek) daar weggetrek die wye wereld in, maar my kleintyd herinneringe word nou weer herleef met sulke pragtige woordeskat en waarderende beskrywings van jou kant af… Het as kind op ‘n Claas stroper saam met Oom Koos Fourie (Koos Komma) van die Kooperasie vanaf Kaapstad Bredasdorp toe gery, en kon toe die landskap baie mooi besigtig, want dit was ‘n baie stadige rit. Was vanaf begin 1982 tot einde 1985 in Bloemfontein, waar ek toe ook getroud is, en die Vrystaat met sy Golden Gate (het ook daar gaan stap) het ook ‘n baie sagte plekkie in my hart gekry. Dankie dat jy dit so mooi kan beskryf, en met ons deel!

    • seegogga sê:

      Hallo Chris, dankie vir jou mooi kommentaar. Gloden Gate is ook natuurlik pragtig, maar anders.Jy sal maar hier moet kom vakansie hou! Dis heerlik in die somer as jy wil swem, maar die mooiste tyd vir my is in die winter, as alles so groen is- en dis glad nie so koud soos die Vrystaat nie!

  7. seegogga sê:

    Reblogged this on Seegogga se Bloggie and commented:

    die pad is nog altyd net so mooi. en na die reen is hy vinnig besig om groen te word!

  8. Flenters sê:

    Mooi fotos, mooi beskrywing, mooi bestemming!

  9. brieweuitdievreemde sê:

    Mooi, mooi, mooi! Ja, die pad Kaap toe voel nooit vir my na ‘n straf nie – dis net te mooi. Die pad is sommer al deel van die lekkerte, al is dit op die N1 🙂 En die plekname – Seegogga, ek kry so lekker as ek hulle lees – oraloor ons land. Floukoprivier, byvoorbeeld, le net so voor Dwaal – wat ‘n plek is wat ek heel gou gaan besoek – dis my favourite-ste pleknaam in ZA. Dwaal. En Floukop is hoe ek al meer en meer voel in die lewe…. 🙂

  10. seegogga sê:

    Ja, Briefies , ons het wonderlike name. Hier by ons is Soetendalsvlei , Soetmuisberg, Heuningnesrivier, Baardskeerdersbos, en Hotagterklip en nie ver hiervandaan nie is Blombos, Vermaaklikheid, ens, maar die naam wat vir my net so mooi is soos Dwaal, is Soebatsfontein (In die weskus,) en die wat my altyd laat lag, is Koekenaap of Hotazel, mmmm miskien moet ons bietjie oor name blog….

    Wat so snaaks is aan VanBrakelstoor, is dat daar net hierdie een geboutjie is, maar dat die naam reusagtig groot op hom geskryf is sodat jy dit myle ver kan sien en moet dink dis BAIE belangrik!

  11. brieweuitdievreemde sê:

    Soebatsfontein… ek ken dit – hoe mooi! En as VanBrakelStoor lewensgroot op iets geverf is – good for him / her!! Waarom sou hy onbelangriker wees as die New York Stock Exchange? Hy is waarskynlik die spil waarom die hele as draai in daai geweste – so why not 🙂

    • seegogga sê:

      wel, dis by Van Brakelstoor waar jy afdraai stanford en Hermanus toe. Hy is ook so halfpad tussen Napier en Caledon. Jy sien iets, kry ‘n pap wiel of watookal net so duskant Van Brakelstoor en net anderkant vn Brakelstoor….

  12. Toortsie sê:

    Hoekom het ek nou by hierdie bloginskrywing uitgekom? Al wat ek weet, dit was HEERLIK om dit weer te lees. en die mooiste as ek hier lees, is die branders wat weerskante van die bladsy inkom…
    Dit was WEER EENS ‘n mooi bloginskrywing.

  13. Terug pieng: Alle Paaie gaan na Kaapstad | Accommodation: Struisbaai and Agulhas

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s