
Hierdie is ‘n stukkie van ‘n skildery deur ‘n twee en ‘n halfjarige, wat ‘n prys op ‘n kunsjuitstalling gekry het. Let op die sirkelvorm , en ook die strepies wat al rondom die sirkel deur die buiterand van die sirkel geverf is. Dit is net voordat die kindjie beginhet om die mensfiguur te begin teken. en dus meer realisties begin werk het. Let ook op die kleurgebruik. Selfs op hierdie jong ouderdom het sy geweet dat elke kleur sy plek het en dat hulle soms kan meng, maar nie te veel nie. Dit is omdat sy gereeld geverf het. Nie sleg vir twee en ‘n half jaar nie, ne! Ja dis ‘n stukkie van jou eie prent, Leanie, sommer so deur die glas gescan, en daarom ‘n bietjie dof.
Liewe Kinders
Baie geluk met die tweeling se tweede verjaardag! Vir hulle verjaardag wou ek graag VERF stuur, maar op die vliegtuig sou dit dalk probleme skep, toe stuur ek maar KRYT.
Ja, dis tyd vir kinderkuns – op papier, en soms sommer op jou vloer, yskas of dalk jou duvetoortreksel! Nee-wat ek oordryf nou, maar net soos kindertjies elke dag met musiek te doen moet hê, moet hulle ook elke dag verf, teken , klei speel ( of modderkoekies bak) of iets kreatiefs met hulle handjies doen. Nie net is dit baie belangrik vir die fyn koördinasie en potloodgreep wat moet ontwikkel nie, maar dit ontwikkel ook sy visuele persepsie( begrip van wat hy sien , dws die verskille tussen vorms, grootte, naby of ver, hoogte ens), oog-hand koördinasie ( die hand moet kan reageer op weat die oë sien en die brein dus beveel) en die hele regterkant van die brein. Dit is juis die regterkant van die van die brein wat in die formele skoolopset uiters verwaarloos word en dis die regterkant van die brein wat lei tot kreatiewe denke en innoverende denke, so uiters belangrik vir enige beroep wat jy eendag wil beoefen, maar ook vir die uiting van jou gevoelens, jou praktiese vermoens, en vir jou kreatiewe wese wat lekker stokperdjies wil beoefen, graag iets wil skep en die lewe vir jouself interessant en lekker wil maak, en jouself as mens meer volledig.
Die eerste kunspogings van die kind is ook ‘n waardevolle kommunikasie middel. Waar ekspressiewe taal nog by die klein kind te kort skiet, sal sy gevoelens baie goed uitgedruk word deur sy kunspogings!
Kenmerke van intelligente mense is gewoonlik dat hulle in feitlik alles redelik goed ontwikkel is. So is die meeste intelligente mense ook redelik goed belese, redelik in sport, musiek sowel as kuns, maw , hoewel ons almal verskillende aanlegte het, kan ons darem tot op ‘n redelike vlak alles doen.
Hoe is dit dan moontlik dat jy soms mense met doktersgrade kry, prokureurs en ja, selfs aktuarisse, maar hulle teken soos ‘n sesjarige kind? Die skrywer van die boek” drawing on the right side of the brain”, Betty Edwards, sê dat iemand wat nie kan lees nie, ‘n analfabeet genoem word( illiterate), en iemand wat nie kan teken nie, inartisties( inartistic), , want net soos ‘n redelik opgevoede mense krulletjies en draaitjies op ‘n papier moet kan maak om letters voor te stel wat mense kan lees, net so moet hy prente kan maak wat mense kan sien en kan verstaan. Almal wat kan skryf, moet kan teken, dis tog logies. En tog…..
Die fout is dat ouers hulle kinders nie genoeg geleentheid gee nie, of dat die kind nooit die regte aanmoediging kry nie , en dus hier by 5-6 jaar, wanneer hy begin om realisties te teken, sukkel, tou op gooi en nooit weer probeer nie. Dis ook omdat hy nooit geller het om reg te KYK nie (maw met die regterkant van sy brein wat vorms ens onderskei nie). Net soos lees en syfervaardigheid aangeleer word en ontwikkel word, moet tekenvaardigheid aangeleer word en ontwikkel word. Net soos musiek belangrik is vir breinontwikkeling, so is teken, verf, kleispeel en die speel met verskillende materiale en teksture( lees mors!)
Die probleem is dat dit verkeerd aangebied word. Ouers is so bekommerd oor mors en vuil word, dat hulle die kind nie geleentheid gee om te verf nie. Verder dink hulle soms verkeerdelik dat hulle die outjie moet leer om te teken. Dit werk nie so nie. Hy sal doen wat op sy ontwikkelingsvlak is, maar hoe meer geleentheid hy kry, hoe beter sal hy dit doen. Die outjie moet eintlik nie leer om te teken nie, hy moet leer om reg waar te neem- en dit is uit en uit ‘n regterbrein funksie. En as jy jou omgewing goed en fyn kan waarneem en interpreteer, kan jy dit ook beter verstaan en beheer.
Wat grootmense nie besef nie, is dat kinders ‘n ander idee het van persepsie as grootmense, en dan die welmenende ouer, in sy poging om sy kind te leer, soms meer skade as goed doen.
Kom ons kyk eers hoe kuns by die kindjie ontwikkel. Hoewel die tempo verskil, sal alle kinders ook deur dieselfde stadiums van ontwikkeling gaan in hulle kunsontwikkeling. Eers sal die klein kindjie net krap. Hierdie krap lyk miskien na niks, maar dit is net so waardevol soos die babatjie wat sy armpies swaai en skop in ‘n poging om beheer oor sy bewegings te kry, wat later sal lei tot kruip en loop.( Enige groot stukpapier sal werk, selfs koerantpapier). Dis belangrik om vir hom die geleentheid te gee om dit te doen. Deur hulle in hulle babastoeltjies te sit, kan jy ‘n bietjie beheer uitoefen oor waar die krap plaasvind! As hulle groter is, is ‘n groot stuk plastiek op die vloer ook ‘n goeie opsie.
Na die aanvanklike heen en weer krap, begin die kindjie sirkelvormig krap. Dit is die begin van sy eerste pogings tot die mensfiguur! Moenie hom leer nie, gee hom vrye teuels om te krap en te verf soos hy wil. Dit is juis hierdie voor-realistiese fase wat die mooiste kunswerke oplewer! Poeierverf of posterverf is ideaal vir hierdie stadium. Gee net die primêre kleure: rooi, blou en geel, en miskien wit. Die outjie sal aanvanklik ‘n bruin gemors maak, maar gou leer dat die rooi bo-oor die blou, pers maak, rooi en geel oranje en wonderlik: blou en geel maak groen! Toe julle op hierdie stadium elke dag by julle klein tafeltjie geverf het, was dit vir my so mooi, dat ek ‘n bietjie silwer verf bygegee het, en daardie jaar het ons pragtige kerskaartjies gemaak met julle kleur avonture op!
Na die aanvanklike sirkels, sal die kindjie begin om sirkels te maak met kruise deur, of strepies al rondom die sirkel. Die skildery hierbo is ‘n voorbeeld van hierdie stadium. Weereens is dit die begin van die mensfiguur, al lyk dit vir die ongeoefende oog glad nie so nie! Dis belangrik om altyd positief oor jou kind se kunsswerke te wees. Sê positiewe goed, bv “ek hou hiervan!” “O , jy verf lekker!” “Dis mooi!” Kuns is om geniet te word. Terloops, hierdie sirkel met strepies deur en om, is vroeëre jare beskou as ‘n belangrike vredesteken.
Nou begin die eerste mensfigure. ‘n sirkel, met arms en bene wat uit die kop kom, met aanduidings van oë, neus en mond. Later sal pogings tot voete en hande bykom. Eers heelwat later kom die lyf by. Dis regtig belangrik om nie die kindjie se skewe humpty dumpty figure af te kraak nie! Dit help ook nie om te vra waar die lyf is nie, hy is nog nie ver genoeg ontwikkel nie! Verder is dit baie belangrik om te besef dat kinders die wêreld anders sien as grootmense. moet hom dus asseblief nie probeer leer hoe om ‘n mens ‘n voêl of ‘n huis te teken nie. Jy strem sy kreatiwiteit en uitdrukkingsvermoë.
Dis hier waar ek bietjie skepties is oor die ‘comic’figure, met hulle stereotipe oë, hande met net 4 vingers ens, wat deesdae so in die kinderboeke gebruik word. Help liewer jou kind se waarnemingsvermoë deur op ander tye saam met hom goedjies te bestudeer, bv blare – blomme, mamma se oë, hulle eie gesiggies voor die spieel, ens . Laat hulle op ‘n groot stuk papier lê en trek hulle lyfies af. Knip dit uit en plak erens vas. As hulle wil, kan hulle hulleself so inkleur en verf. So kan jy ook hulle hande en voete aftrek. As julle bad, gesels jy oor die liggaamsdele , tel die tone en vingers, ens! Waar hy eers hande en voete sonder vingers en tone sal maak, en later te veel of te min vingers ens, sal dit uiteindelik ontwikkel tot die regte getal, maar eers heelwat laterig, hoor!
Na die mensfiguur is die volgende ding ‘n huis. Dit gee ‘n mens sommer ook ‘n goeie aanduiding hoe belangrik die gesin vir kindertjies is. Nou begin die kind realistieser word (en sy prentjies minder mooi en verbeeldingryk) en dis belangrik dat hy in hierdie stadium baie aanmoediging kry, nie kritiek nie. In plaas van te sê: “is dit ‘n hond?” ( Nee, Ma , hy wou eintlik ‘n perd geteken het, jou dommie!) Vra liewer:” vertel my van jou prent?” Knik instemmend, al lyk sy perd nog steeds vir jou meer na ‘n hond. MOENIE KRITISEER NIE! Dis ongelukkig op hierdie stadium, wanneer kinders ook met formele onderrig begin, dat die kunsaspek afgeskeep word en kinders, gefrustreerd met hulle pogings tot realisme, ophou teken. Dis dan wat die outjie dink: ek kan nie teken nie, en ophou. En dan kry jy daardie slim prokureur wat net stokmannetjies kan teken. Dis regtig belangrik dat die kindjie aanhou verf en teken, klei speel, en goeters met my handjies maak. Dit is nie die eindproduk wat belangrik is nie, dit is die doen, wat tel. Hoe meer kinders kans kry om veral te verf, hoe beter sal hulle kleursin en ook hulle perseptuele vermoëns van vorms in die ruimte ontwikkel.
Onlangs is berig oor die dogtertjie van 3 jaar oud wat een-man kunsuitstallings hou en hoe gewild dit onder die kopers is. Sy word aangeskryf as iemand met uitsonderlike kunstalent. Ek verskil hiervan. Ek dink julle het op daardie ouderdom net sulke pragtige kunswerke gemaak. Die enigste verskil is dat haar ouers slim genoeg was om vir haar pragtige klaar voorbereide groot doeke te gee, in plaas van die afval computor papier waarop julle moes verf. Verder het hulle vir haar beter verf gegee, terwyl julle met poeierverf moes sukkel. Ek het op ‘n video gesien hoe sy langs haar groot doek sit en ‘n botteljie verf daarop uitgooi, en spat – pure plesier, en pure mors. Die groot geheim was aanmoediging en genoeg blootstelling aan die medium van verf. Sy het maar net so abstrak geverf soos julle, maar soos julle, het sy reeds geweet tot hoe ver ‘n mens kan mors en spat voor jou papier vol is en jy ‘n ander een moet neem, hoe ver jy jou verf kan meng voor dit ‘n morsige bruin raak, hoe jy jou hele spasie moet benut en nie net hier onder in ‘n hoekie nie ,ens, iets wat ander kindertjies nie weet nie, omdat hulle te min die geleentheid kry om te “mors” met die kleure. As ek vandag steeds lees hoe volwassenes nie weet hoe ‘n mens eenvoudige kleure meng nie, dink ek aan julle wat reeds voor skool as deur middel van eksperimentering ( lees: mors!)en aanmoediging geweet het watter kleure basiese kleure is en watter kleure jy moet meng om die kleur te kry wat jy graag wil hê.
Ja, mors is nou eenmal lekker en gesond. Maar daar is darem maniere om te keer dat die mamma ‘n senu-ineenstorting kry. Gebruik bv ‘n groot plasiese tafeldoek waarop gewerk word, sommer op die vloer. Of so-nie net by die speeltafeltjie, met weereens die groot plastiese vloerbedekking onder. En ou verfklere!
Sommige glo dat elke botteltjie verf sy eie kwassie moet hê, om te voorkom dat die kleure “vuil” word. Vir my was dit makliker om julle van die begin af te leer om die kwassie in ‘n groot plat bak water te was voordat jy dit in ‘n ander kleur verf sit. Sodoende kon julle sagter of helderder kleure maak. Julle het ook van die aksie gehou. Dis mos nes ouma haar waterverf skilderye gemaak het! Die geheim is om nie die water in ‘n regop houer te sit nie, maar in ‘n groot plat bak wat nie kan omval nie, verkieslik ‘n swaar bak wat nie maklik skuif nie. Die kleure verf word soms vuil, maar dis heel aanvaarbaar. So leer kindertjies mos die kleurkombinasies! Die groot geheim hier, is om net ‘n klein bietjie verf in elke botteltjie of bakkie te skep, waarmee geverf word tot dit op is, of tot dit te vuil raak. Volgende keer gebruik jy weer “nuwe “verf. Dis vir hulle tog te lekker om weer nuwe verf te vra!
Gebruik asb groot vet stewige ronde kwasse vir klein kindertjies, van dieselfde soort waarmee mens olieverfskilderye kan maak, maar net met ‘n kort steel. Hierdie kwasse kan ‘n mens baie goedkoop by kunswinkels en self by sommige hardeware winkels kry. Kinders wil graag hulle lekker groot papiere vol verf. Klein kwassies bederf die effek, want dis eenvoudig te veel werk.
Stel jou kindjie bloot aan soveel mediums as wat jy kan. Gaan net altyd na dat die goed nie-toksies is. Verf is ‘n baie goeie medium. Gebruik poeierverf, guache, plakkaatverf of akriliese verf, wat lekker helder kleure het. Waterverf is te sag op die oog en te moeilik om ‘n goeie effek mee te kry vir ‘n klein kindjie. Poeierverf is goedkoop en kan op aanvraag met ‘n bietjie water gemeng word, maar ai, die tyd! In Suid Afrika maak Dala sommer klaar aangemaakte poeierverf in groot houers. Die kleure is sterk en die verf hou ook langer voor dit sleg word. Ek beveel dit sterk aan. Nou is dit maklik om sommer gou ‘n bietjie in ‘n Purity botteltjie uit te gooi.
Vetkryt is ‘n lekker( minder morsige) opsie, maar dit moet lekker dik vorms wees en van goeie gehalte. Dis baie frustrerend om met kryt te werk wat nie wil vassit aan die papaier nie. Pastelle, oliepastelle sowel as gewone pastelle , val ook in hierdie kategorie.
Waak teen te veel koki’s. Die effek is wel onmiddellik en baie dramaties, maar die kleure kan nie meng en lekker inkleur soos met vetkryt, pastel of verf nie. Ek het julle maar min koki’s gegee om mee te speel. Dit was vir my nie ‘n goeie medium nie.
Potloodkryte is ook nie die beste ding vir kleintjies nie. Die kleure is dikwels vaal en verbleik, die punt raak stomp of breek ,en is onnodige sukkel en frustrasie. Houtskool, daarenteen , is vir my ‘n goeie medium, want hoewel dit nie kleur het nie, kan jy dit smeer en lekker metlig en donker werk.
Gom, stukkies gekleurde papier , ou tydskrifte, stukkies lap, tou ens is alles goed waarmee lekker gespeel kan word.
Moet kinders inkleurboeke he? Volgens kenners behoort kinders liefs nie in te kleur nie, maar hulle eie prente te maak. Die rede is oa. dat die kinders leer om sulke inkleurboekprentjies na te teken in plaas van om hulle eie kreatiwiteit te gebruik. Hulle hou dus op teken, want die inkleurboekprentjies is mooier as hulle eie. Verder is baie van die prentjies nie realisites nie. Hier praat ek nou weer van die “strokieskarakter” oë wat glad nie is soos ‘n kindjie oë sal teken nie, omdat niemand sulke oë het nie. Hy leer egter nou dat ‘n mens oë so kan teken en al sy nuwe prentjies lyk nou soos strokieskarakters. Nog ‘n voorbeeld is voëls. Grootmense sal twee halfmaantjies teken wat aan mekaar raak en dit lyk soos ‘n voël wat vlieg. Kinders teken die hele voël met kop, gesig, vlerke ,stert en pote, al vlieg hy.
Ek dink tog dat dit soms wel waarde het om in te kleur. Hy leer om tussen die lyne te kan bly, jy leer om die prentjie te ontleed, om kleure te kies en aan te wend dat dit mooi lyk. Dit moet egter nie te veel gedoen word nie, en moet nooit die plek van self teken inneem nie. Beperkte gebruik van ‘n inkleurboek behoort egter nie te veel skade te doen nie( volgens my), maar dis belangrik dat jy die boekie eers deurkyk .
Ek stuur nou sommer ook hier reseppies wat julle handig sal vind.
Vingerverf: Bestanddele: 1 koppie meel, 2 koppies suiker, 1 koppie koue water. Metode: Meng. Kook op stoof terwyl jy nog 3 koppies water byvoeg. Verdeel die dikkerige pasta en voeg voedselkleursel by.
Klei: ( bly sag) Bestanddele: 500ml meel, 80 ml olie, 30 ml kremetart, 250ml sout, 500ml water. Metode: Meng alles in ‘n kastrol en verhit stadig. Gooi kleursel by.Roer heeltyd tot ‘n bal vorm. Haal af, en knie baie goed. Bewaar in ‘n plastiese sakkie of houer in die yskas.
Soutkeramiek( word hard) Bestanddele: half koppie maizena of stysel, 1 koppie sout, half koppie koue water. Metode: Meng alles saam en kook in dubbelkastrol tot effens styf. Moenie te lank kook nie, anders word dit te hard. Knie baie goed. hierdie klei word hard as dit droog is en kan in die oond gebak word en dan geverf word met akriliese verf( craft paint) en vernis word, vir bewaring.
Papiermache 4 Koerante, in stukkies geskeur, ( so ongeveer 2 vk cm groot), 3 liter water. Sit op stoof en prut vir so 20 min. Gooi nou die water af en druk die vloeistof uit. Gooi by 2 eetlepels gom ( houtlym of koue lym) en 2 eetlepels muurpapier gom. meng.
Maak ‘n hoekie teen julle muur waar die kunswerke uitgestal word, neem ‘n paar en fotostateer dit en maak muurpapier daarvan, lamineer dit en gebruik as plekmatjies op jou tafel, voer jou plafon daarmee uit, plak jou kasdeure daarmee toe, raam dit, of vou dit op en stuur dit vir Ouma!
Lekker speel, lekker mors, en voel hoe daardie vingerverf so deur julle vingers krul! Ai, hoe verlang ek nou na die tyd toe ek gestaan en skilder het en julle langs my by julle tafeltjie gesit en verf het!
Baie liefde
Mamma
om ‘n volgende brief te lees, klik hier.
Laat my aan my vriendin se sitkamermuur dink wat vol gekrap is met haar tweejarige kleinkind se kunswerk 🙂 Haar seun (pa van die kind) is intussen oorlede, en sy het besluit die kunswerk bly teen haar muur.
Mag ek hierdie stuk “steel?” Wil dit graag vir Chantè gee om te lees.
Regso, Kameel! Jou vriendin klink na ‘n goeie ouma!
Dit val so mooi in by my idees om Edward te laat “vuil” word in kuns, Dankei vir die resepte. Hulle het nogal genoem by sy skool hy is een van die min kinders wat nie omgee om alles vol verf te maak nie sy neus, voete vingers maak nie saak wat nie. Ek dink dit is omdat ek hom toelaat om te speel eerder as te vol stories is met mors nie. Jy moet dalk ‘n paar hints bysit om sekere goed uit die mat en van die muur af te kry.
Ha, Ha, Gogga! Resep om goed van die mat of muur af te kry: Rol mat vooraf op! Laat outjies net by hulle tafeltjie werk en hou kryt ens buite bereik as hulle nie daar sit nie. Laat hulle vra as hulle wil he as dit nie nou verftyd is nie, maar sit ook ‘n tydjie elke dag opsy daarvoor. Werk op oppervlaktes wat gewas kan word ( sommige mense beveel die badkamer aan!) verf ‘n raampie om die muurprente of verf jou huis oor as julle groot is!!!
”n Mens kry natuurlik wonderlike seep:” The Masters” handsoap wat spesiaal gemaak is vir “Grease, Paints, Stains, Inks, and Dyes. Dit werk regtig fantasties, maar ek het dit nog nooit in Suid Afrika gesien nie. My kinders koop dit vir my oorsee in kunswinkels. Dit word in die VSA gemaak , maar mens kry dit in Europa ook. Verder help Sunlight liquid, terpentyn, spiritus( afhangende watter verf jy gebruik) en elbowgrease.
Bly jy laat hom toe om mors. So leer outjies verskillende teksture, geure en smake ken en so ook hulle omgewing verstaan en beheer!
sug, as ek maar net mooi kon teken … maar ek dink dit was nooit my passie nie. ek was in ekstase toe ek voor die ander in my klas die woord “little” op my eie kon spel! soek juis iemand om vir my ‘n varkie te teken wat volleybal en sokker speel, want self gaan ek dit nie regkry nie. skimp, skimp 😉
o ja, en dis natuurlik in ruil vir jou posadres en ‘n pakkie switserse lekkernye … d-dag is egter oor 10 dae.
Karen ek is besig te teken! moet dit kleur he of negt wart en wit? wat is jou e-posadress vir stuur?
mmmm varkie? sal daaroor dink! Die idee is nie dat almal kunstenaars moert word nie, ons het alomal ons eie aanleg en belangstellings, maar almal moet tot ‘n redelike mate in staat wees om met die hand weer te gee wat die ogies sien, en ongelukkig skiet sommige mense ver te kort agv gebrek aan blootstelling en oefening.
Daardie pakke Switserese lekkernye was mmmmmmm hemels!
Ek het nie verder as stokmannetjies gevorder nie… en kon ook nie my kinders “leer” teken nie. Ons het baie baie stimulerende speletjies gespeel, maar helaas, ek het nie van die “mors” gehou nie! ai. Hulle het ook niks van inkleur gehou nie, ek dink wel die een seun het daarvan gehou. Meisiekind het gesê: Die tannie het ‘n wit rok aan. Dan hoef sy dit nie in te kleur nie.
ek is doodseker jy is een van die slagoffers van die tyd. as jy wil, sal jy redelik kan leer teken. Ai en die arme kinders moes soms mors! Nou oet julle mm,ar die kleinkindertjies laat vingerverf en mors!
Dankie vir die reseppies. Dit gaan handig te pas kom.
kry sommer ook ‘n bottel sunlight liquid!
Hi Seegogga, ek trek nou by Hfst 7 van Drawing on the Right Side of the Brain – te danke aan jou! Ek het nou die aan my eerste ‘real drawing’ gemaak (die modified contour drawing van die hand, Hfst 6) en kan kan nie vir jou se hoe happy is ek daarmee nie! Elke keer as ek die boek gebruik, se ek vir jou dankie 🙂
Ag, dis mos wonderlike nuus, Briefies! Ek se mos as mens kan skryf, kan jy teken. Ek dink ook dis ‘n ongelooflike goeie boek. Genietit !
‘nou die aan’ = nou die aand
het so afgelei!
Terug pieng: Ouma se bababoek: Brief 17, ‘n brief aan pappas | Seegogga se Bloggie