Ma se seksboek. Brief 13: Hart en verstand

Liewe Leanie, Annika en Lienkie

Ons praat nou so baie oor die fisieke aspek van die verhouding. Dit is egter die emosionele deel van die verhouding wat belangriker is.

Is jy vriende met jou ou? Het julle dieselfde waardes? Is daar iets in hom wat jou hart raak? IS jy lief vir hom? Kan jy sien hy is lief vir jou? Is hy eerlik? KAN JY HOM VERTROU? liefde en respek impliseer vertroue. Immers gee jy jou hart vir hom om vas te hou. En ‘n mens kan nie iets so kosbaar vir sommer enigeen gee nie. (En as jy nie jou hart kan gee nie, beslis ook nie jou lyf nie). Pas dus jou hart mooi op.

‘n Mens kan redeneer dat jy nie kan keer op wie jy verlief raak nie – dit gebeur sommer net. Veral in die flieks lyk dit so. Onwaar! In jou lewe gaan jy baie ouens en mans ontmoet wat jou hart vinniger laat klop – ook ander meisies se ouens, getroude mans, hartebrekers ( players – soos Lienkie sou se), ateiste, drinkers (boozers), ens. Daar is baie visse in die see en baie tot wie jy aangetrokke kan voel – as jy dit toelaat.

Maar ‘n mens het ‘n verstand ook. En glo dit of nie, hy kan en is sterker as jou hart. GEBRUIK HOM! As dit nie so was nie, was ons almal al in buite-egtelike verhoudings en sou die huwelik sinneloos wees.

‘n Mens KAN  iemand ontmoet en BESLUIT: “Nee, nie vir my nie, al wil jou hart dalk bokspringe gee. Gebruik dus jou verstand voor jy jouself toelaat om halsoorkop verlief te raak. My kinders, kies tog iemand op wie jy kan vertrou. Iemand wat volkome eerlik is. Jy wil rustig slaap snags. Jy sal veilig, gekoester voel in sy arms.

As jy egter die regte persoon vind – die een wat aan jou standaarde voldoen, maar wat ook jou hart vinniger laat klop, die een wat ook so oor jou voel, is dit ‘n wonderlike ervaring en is julle fisiese verhouding nie net seksueel van aard nie, maar byna heilig – soos ‘n gebed.  So ‘n verhouding vervul ‘n mens met ‘n wonderlike geluk en vrede, so anders as ‘n blote seksuele verhouding, wat “leeg” voel en selfs “vuil”.

Ek bid dat julle in julle verhoudings met julle ouens so sal voel – en hulle so oor julle – dat julle verhoudings in die hemel gemaak sal wees.

Lekker slaap en liefde.

Ma

Posted in Ma se seksboek | 8 Kommentaar

Ma se seksboek. Brief 12: Om te vry

Liewe Kinders

Kom ons gesels vannaand ‘n bietjie meer oor “vry”. In my tyd  het ons definitief nooi ge’vry’ nie. Dit was platvloers!  Ons het opgesit, gekafoefel, gekoeksister of wat ookal. Maar nouja, eintlik is vry ‘n goeie baie outydse Afrikaanse woord. En dis lekker!

Die probleem is dat ouens hou van ‘n lekker vrytjie, sonder noodwendige emosionele verbintenis. Meisies wil weer he die ou moet van hulle hou. Sommige meisies verkeer onder die waan dat die ouens meer van hulle sal hou as hulle hulle toelaat om te vry. Geensins! Die ou sal vat wat hy kan kry, ja. Hy sal dalk selfs ‘n bietjie met die meisie uitgaan – om te kry wat hy wil.  Maar die meisie vir wie hy regtig lief raak, is ook een vir wie hy respekteer.

           ‘n Man gee liefde om seks te kry,

          ‘n Vrou gee seks om liefde te kry.

Ongelukkig  is dit waar in baie gevalle.  En die meisie besef nie dat die ou wat rerig vir haar lief is, vir haar lief sou geword het sonder die vry ook nie, of selfs dalk juis omdat sy nie so maklik ingee nie ( die ewige jagter).

Die ander probleem is druk – van jou ouderdomsgroep, van die media – die pers en TV, en van die ou self.  Aangesien baie tieners baie losse sedes het en sommer vroeg-vroeg baie ernstig vry of saam slaap, kan ‘n mens maklik voel dat jy agter die tyd is, outyds of koekerig. Op die TV ontmoet die paartjie mos mekaar, soen en dan waai die klere en volg ‘n stomende ( pornografiese?) bedtoneel. Aangesien ons almal dit so baie sien ( is daar nog ‘n fliek sonder so ‘n buite-egtelike bedtoneel?), kan ons maklik begin dink dat dit maar so moet wees.

Voeg nou hierby ‘n man met normale sterk drange.  Jy voel dalk dat jy iets moet toelaat omdat dit algemeen is – almal doen dit.  Die vraag is of jy regtig gereed is daarvoor- en ons praat nie van ouderdom nie.

‘n Mens is eers gereed vir die volgende trappie as jy regtig smag daarna en al ‘n hele ruk lank wens die ou wil nou dit of dat doen. Voor jy so voel, moet jy hom terughou.

As jy iets toelaat voor jy emosioneel en fisiek daarvoor  gereed is, geniet jy dit in elk geval nie soos dit geniet behoort te word nie, en nog meer: jy doen jouself skade aan.

En na so ‘n eerste soen is ‘n meisie eenvoudig nog nie gereed vir ‘n warm vryery of seks nie, al wys hoeveel flieks dit.  Onhou, flieks is meestal deur mans gemaak ( wat nie wil weet dat meisies in trappies werk nie) en wat boonop weet dat hulle iets moet doen sodat mans ook na die fliek kyk, en dat so ‘n warm sekstoneel geld inbring.

Die oomblik dat jy oor iets skuldig voel, of ongemaklik, moet jy weet: jy het verder gegaan as waarvoor jy gereed was.

Waarom sou ‘n mens dan tog skuldig voel? Goed, ons glo ons moet wag tot ons getroud is voor ons seks het ( liefde maak, saam slaap ens). Wat voorafgaan is tog toelaatbaar? Die enigste rede waarom jy skuldig voel, is omdat jy nie emosioneel reg was nie. Jy voel dalk nie lief genoeg vir die ou nie, onseker oor jouself of oor sy gevoelens, jy voel dalk skaam of jy voel dalk nie sexy genoeg nie.

Los en vat jou tyd! En hy moet geduldig wees. As hy nie is nie, is dit ‘n groot waarskuwingsteken. Is dit die regte ou vir jou?

Lekker slaap en baie liefde.

Ma

Posted in Ma se seksboek | Lewer kommentaar

SMS-TAAL

Hi mev. huganit? xwl net weet of d hysi bd see d nawk vanaf Sat8 beskb of oop v bespr is. ds net x n my girlfriend. Danku.

Hi Smitti x jamme, ma hys kla bespr. Grute.

Hai A. wmj?  Hu laat mut ek ko?.

Hi G, 4nm byi bukwinkel. Vmi. Sl jy vnaand hie?

Nee, xam!

Ok sien later. g2g.

k lief jou

xxxxxxx

In Bybelse tye het die mense mos geskryf sonder klinkers. Daarom dat mense vandag nie weet of hulle moet praat van Jehova of Jahwe nie. Soos die beskawing gevorder het, is meer letters gebruik en was daar geen twyfel oor die korrekte woord asook die korrekte spelling van daardie woord nie.

Toe kom die selfoon. Na baie eeue se ontw., = os nou we da wa alle onodige letrs wegelat wrd.

 Eintlik moes ons dit geweet het.  Het George Orwell nie in die vyfigjare al in sy boek, 1984 geskryf van die Newspeak wat sal ontstaan nie? Orwell was meer reg as wat ons gedink het. Hy het net die mensdom bietjie oorskat. Hy moes sy datum so ‘n bietjie later gemaak het.

Liwe blog vrind, Wt dink jy vd nuwe taal? Sms taal = vi my  wondelik, al sukkl ek nog so n biki. K  dnk  dt h geko om te bly 4sure. lol.

Posted in die tale wat ons praat | 13 Kommentaar

Ma se seksboek. Brief 11:Homoseksualiteit

Liewe Kinders

Nouja, ons weet nou dat ‘n ou baie sterk seksuele gevoelens het en baie daarvan hou om jou vas te hou en te vat wat hy kan kry. Hy sal dalk baie verlief op jou wees, maar hy sal altyd die ander mooi meisies ook nog raaksien.  Onthou, hy is so gemaak.  Dit is normaal.  Om die waarheid te se, as hy nie so is nie, moet jy begin twyfel.

Kyk die kat uit die boom uit.  Hoe is hy andersinds?  Hy mag dalk net latent homoseksueel wees!  Vandag is gays meer openlik as in my tyd, maar nie almal klim uit die kas nie( erken dat hulle gay is nie).  Almal van ons wil graag normaal wees en het in ons kop die idilliese droom van ‘n gelukkige huis met ‘n man, vrou, kinders en ‘n hond(of kat). Ook die gay.  Daar is waarskynlik nie een gay wat nie liewer heteroseksueel sou wou gewees het nie. Daarom ontken party van hulle steeds hulle homoseksuele gevoelens en streef hulle droom na.

Ai, en hulle is SULKE gawe vriende en verstaan SO goed hoe jy voel en het SO dieselfde belangstellings. En ja, hulle het selfs ‘n sterk fisiese drang na jou ook! Maar dalk net na jou- ander meisies laat hulle koud. En jy sal hulle ook later koud laat.

Daar is goedjies wat hulle verklap: ‘n Baie mooi blyplek; ‘n sekere liggaamshouding; vriende wat verdag lyk. Luister vir jou sesde sintuig.

Malan-my-Lam was baie lief vir my(regtig!) en hy was ook nogal vryerig. Maar hy het dikwels in die begin van ons verhouding gese dat Wendy( vriendin van ons) eintlik meer sy geesgenoot is.  Sy was ook mal oor hom. Maar hoewel sy mooi was,  was sy nie vir hom hoegenaamd sexy nie. Sy’t hom glad nie op so ‘n manier aangetrek nie, ten spyte van haar deurskynenderige rokkies. (Asseblief! Mans???) Verder het hy hierdie pragtige gedekoreerde woonstel gehad, kompleet met persiese tapyte en hy was ook ‘n versamelaar van outydse meubels ens.  Ek het  hom ook twee of driekeer sien loop met “snaakse” vriende wat hy nie regig graag wou he ek moes ken nie. (Hulle was bv net besig om te groet, of haastig, of so).

Phil, my goeie gay vriend, het altyd vir my gese dat ek tog nie met Malan moet trou nie, maar wou nooit uitbrei nie. En gelukkig het ek nie! Malan het heeltemal ingekonk. Sy droom was aan skerwe. Hy het uiters promiskieus (met losse sedes) geword om sy droom te probeer herwin. (Sommige gays word juis so en probeer by soveel moontlik  meisies slaap om te bewys dat hulle wel hetero-seksueel is). Eers later, met terapie, het dit aan die lig gekom dat Malan eintlik homoseksueel was, maar dit nooit aan homself wou erken nie.

Ai ja.  Ek kry hom jammer, maar ek is baie dankbaar dat ek nie met hom getrou het nie.

Lekker slaap en baie liefde.

Ma

Posted in Ma se seksboek | 4 Kommentaar

Ma se seksboek. Brief 10: ontluikende liefde

Liewe Kinders

Ek moet dit maar nou net weer se: Daar is niks op aarde so mooi soos die ontluikende liefde tussen twee jong mense nie. Eers was dit Leanie en Johan, toe Annika en Conrad en nou Lienkie en Jaco. Dis pragtig om te sien hoe die outjie heeltyd aan jou wil raak, hoe hy lag en die teer uitdrukking in sy oe as hy na jou kyk. Dis pragtig om te sien hoe jy bloos en glimlag en straal. Geniet elke oomblik!

Lekker slaap en liefde.

Ma

Posted in Ma se seksboek | Lewer kommentaar

DIE TAMAAI HAAI

Bill Selkirk met sy bamboesvisstok en katrol wat van 'n fietspedaal se as gemaak is.

ANGLER’S PRAYER

LORD, grant that I may catch a fish

so big that even I,

in speaking of it afterwards,

may have no need to lie.

               Anon.

“Tamaai haai! Tamaai haai!” Dis April 1922 en dis die kinders van Hermanus wat so roep. Hulle het ‘n groot haai naby die Marine Hotel gesien.Daardie jare het daar dikwels sulke groot haaie is die see naby Hermanus se ou hawe geswem, en as iemand een gewaar het, was dit die algemene uitroep.

Op Hermanus het daar ook ‘n bobaas visserman gewoon: Bill Selkirk. Toe Selkirk die geroep hoor, los hy alles, vat sy sterk bamboesstok, en stap see toe.

Dit was die jare toe dinge nie sommer in ‘n winkel gekoop is en klaar nie. Selkirk se stok is omtrent 4 meter lank. Die katrol het hy self gemaak van die as van ‘n fietspedaal. Op die katrol het hy meer as 500m Ierse tou (Irish twine) en aan die voorpunt van die tou is meer as 3 meter sterk draad. Aan die draad het hy ‘n 4-gallon  parafienblik vasgemaak om as dobber te dien. Die blik het hy rooi geverf, en nog verder vol lug geblaas  deur ‘n fietswiel se klep wat hy aan die blik vasgesoldeer het. Heel voor is ‘n yslike handgemaakte hoek.

Net na 2 nm die middag byt die haai. Die rooi blik verdwyn skoon onder die water in. Selkirk se handgemaakte katrol het geen rem aan nie. Hy beheer die katrol met ‘n stuk leer om sy hand te beskerm en die visstok  rus in ‘n leersak om sy lyf.

Heen en weer oor die klippe hardloop Selkirk al agter die haai aan. Die wat Hermanus se kuslyn daar naby die hawe ken, sal weet dat hierdie geen geringe stelling is nie! Selkirk moet kophou om te keer dat die haai die tou met sy stert afsny of dit op die rotsriwwe deurskuur( of dat hy dalk self in die gevaarlike see beland!).

 Die winkels, poskantoor en bank sluit hulle deure om na die groot geveg te gaan kyk. Drie-uur gaan verby, vieruur, en almaardeur moet Selkirk hawe toe hardloop en terug

Uiteindelik, na 7 die aand, is die haai moeg en Selkirk kan hom inkatrol hawe toe. Hy het byna ses uur lank met die vis gespook.

In die hawe skiet hulle toe die vis met ‘n harpoen en al die omstanders help om hom uit te sleep.

Die nuus word wereldwyd in die koerante versprei: ‘n Groot witdoodhaai is gevang. Hy is 4,o3 m lank en weeg ‘n volle 987Kg- ‘n wereldrekord.

In die fotografiese museum op Hermanus kan mens gaan kyk na die tande van hierdie ‘tamaai haai.’ Die hoek is ongelukkig deur iemand gesteel.

Dis vir my baie jammer dat hierdie wereldrekord op die ou einde toe nie erken is nie, oa omdat Selkirk ‘n dobber gebruik het.

Tot vandag toe ( en ek het oral rondgebel om uit te vind) is daar volgens my wete nog nooit ‘n swaarder vis van die kant af gevang nie.

Posted in Die Overberg: my wereld., Seestories | 4 Kommentaar

Ma se seksboek. Brief 9: Koek en tert

Liewe Leanie, Annika en Lienkie

Ja, ouens is dus dikwels meer sexy, meer fisies en meer liberaal. Hulle soek soms meisies net vir ‘n lekker vrytjie en kry gewoonlik ook een. ‘n Spreekwoord onder hulle is: “In elke bos rose is daar ‘n steek”.  Menende: As daar ‘n groep meisies is, sal een van hulle wel ‘n los meisie wees (wat gesteek kan word). Soek en jy sal vind. Sommige van hulle speel dus soms rond en vlieg van blom tot blom soos enige betaamlike by en hulle vat wat hulle kan waar hulle kan.

Gelukkig is alle ouens darem nie ewe los van sedes nie. Maar vir hulle is hulle eie maagdelikheid nie so belangrik soos vir ‘n meisie nie. Hulle hou egter meestal daarvan dat die meisie met wie hulle wil trou, ‘n maagd moet wees. Hulle is nie mal oor “second-hands” nie.

As sekere “wilde” ouens egter die regte meisie ontmoet, sal hulle wel hulleself “commit”. So ‘n ou sal dan alles vir haar doen en selfs homself benadeel om vir haar die beste te kan gee.( die ridder).

Soms voel ouens baie diep oor hulle meisies. Hulle het lief, verlang en hulle harte word gebreek, nes ons s’n. Moet nooit hulle gevoelens onderskat nie en moenie met hulle speel nie. Hulle is mense net soos jy, met diep gevoelens en kry maklik seer.

Wees versigtig hoe jy trap.

Lekker slaap en baie liefde.

Ma

Posted in Ma se seksboek | 8 Kommentaar

Ete vir 4, vir R50 of minder

Toortsie het my die opdrag gegee om ‘n ete te maak van R50 of minder en hoewel ek nie ‘n kok is nie( ek het ander talente) het ek darem probeer. So hier is dit. Dalk geniet jy dit.

Spagetti bolognaise

1 groot ui: R1.50 Snipper

‘n Paar druppels olyfolie: R1.oo

Braai die ui in die olie tot deurskynend.

500gm Maalvleis: R24 Gooi by uie en meng.

1 Blikkie tamatie en uiemengsel: R9. Gooi by vleis en uie en roer tot gemeng.

1-2 Blokkies biefekstrak:R2. Krummel en roer in.

Sout, peper, worcestersous, bietjie asyn en baie oreganum: R2. Gooi by.

1 Huisie knoffel( opsioneel): R1 . Druk deur knoffel drukker en gooi by.

Prut nou hierdie mengsel stadig tot gaar met deksel op en roer nou en dan.

Terwyl bolognaise kook:

1 pakkie spagetti : R 9. Kook volgens die aanwysings op die pakkie in groot pot water sonder deksel. Gooi die stukkies een-een in die water sonder om dit te breek en druk geleidelik onder water soos die onderste dele sag word.

As spagetti klaar is, dreineer in vergiettes en skep in dieperige individuele bakkies. Skep die bolognaise bo-oor en eet met ‘n vurk. Die geheim is om net een stringetjie met die vurk teen die kant van die bakkie om en om te draai tot hy deur die vleisies tot rondom jou vurk le, en dan hap jy hom vinnig voor hy afval. Slurp die laaste stukkie string in.

Volgens my berekeninge is dit R 49 vir ‘n groot bak kos en as jy die sente wat ek afgerond het, bytel, het jy R 1.30 of so oor om bietjie gerasperde kaas ook oor te gooi.

Goed, nou moet ek ‘n paar mense vra om ook kos te maak maar wie? Ek hoop nie julle is al gevra nie, maar as julle is, besluit self of jy wil of nie!  Wat van Deurmekaargedagtes, Sout en peper’s blog, Om die kombuistafel en Hier kiep-kiep daar kiep? Kan julle vir ons kos maak vir minder as R50? Ek is seker julle kan.

Posted in Los opdrifsels | 2 Kommentaar

seewater

Vandag nog moet ek skryf oor water. Daar is nog 33 minute oor voor die dag om is. Ek besef ook weldeeglik dat ek nie Herriemerrie en julle ander se wonderlike skrywe oor water sal kan oortref nie.

So wat kan ek se na al julle mooi skrywes? Miskien moet ek vertel van die dag toe daardie groot stad, Johannesburg, se water opgeraak het.

Ek het mos daar gewoon, eendag, lank gelede, in ou Johies. (Dit was lekker dae, toe ons nog snags so 2vm by Fontana in Hillbrow gaan hoender koop het as ons honger was, maar dis nie waaroor die storie gaan nie.)

Dis  1982, die begin van die grootste droogte sedert 1933, maar ons weet nog niks daarvan nie.  Dis warm.  Onuitstaanbaar. My eersteling babatjie is so 4 maande oud en daardie middag tap ek vir ons ‘n heerlike bad koel water waarin ek en sy salig speel en lekker ‘bond’. Toe manlief net daarna tuiskom, is ons afgekoel en verfris.

Nie lank daarna nie, tap ek water- seker om kos te maak of iets-geen water nie! Nie ‘n druppel nie! Ons gaan al die krane na- niks! Probeer die geyser- dis mos ‘n opgaartenk- byna niks.

Die mense van Johannesburg het seker almal dieselfde idee as ek gehad en toe raak die watertoring leeg, maar ook die opgaarplek wat hom voed raak onklaar. Ons het vir meer as ‘n week sonder water gesit- ja, in daardie groot moderne stad, Johannesburg. Elke dag het die weermaglorries met opgaartenks gekom en dan moes ons met emmers die vuil rivierwater by hulle gaan tap. Elke huis kon een emmer kry. Ons is gewaarsku dat ons eers die water moes kook voor gebruik.

 Dit was ook die dae voordat weggooidoeke algemene gebruik was. Hoe was jy ‘n doek sonder water? Kan jy glo dat dit in Johannesburg kon gebeur? En dit was nie eers oorlog nie!

Maar nou woon ek by die grootste en mooiste water op aarde. ‘n Plek van sielerus.

Die foto hierbo is van Struisbaai Hawe, Parrie se huis. Die foto hieronder het ek ook self geneem. Die walvis, die grootste van alle soogdiere, is ook die saggeaardste, lyk dit my. Ons bootjie, ‘n rubberduck wat 7 passassiers op ‘n slag kon vat, het ver van van hom af gestop toe ons hom raaksien. Hy het ons vermaak met toertjies met sy reusagtige stert en toe het hy nader geswem en ons bekyk. En toe – swem hy  onder ons bootjie deur!  Watter wonderlike ervaring – hier in my waters. Ek is mos ‘n seegogga, onthou!

Posted in Die Overberg: my wereld., Seestories | 4 Kommentaar

Ma se seksboek: Brief 8: Vryheid en gebondenheid

Liewe Leanie, Annika en Lienkie

Ja, dis wonderlik om verlief te wees.

Dis egter wanneer ons so onbeskryflik lief voel vir ‘n ou dat ons partykeer te veel gee op fisiese ( en emosionele!) gebied. Ons wil graag vir hom alles gee wat ons het!

Ongelukkig werk dit nie altyd so nie. Party maak misbruik daarvan. Hulle soek meer die fisiese deel.  Jou gevoelens is minder belangrik.

Ander wil jou heeltemal oorheers. Hulle raak later baie besitlik, jaloers en voorskriftelik.  Wees versigtig vir ouens wat baie jaloers of besitlik is en bv. vir jou wil voorskryf wat jy moet aantrek ens., alles onder die vaandel van liefde. Jy word so ongemerk-ongemerk sy slavin. Pasop, so ‘n ou raak dikwels later geweldadig. LOS HOM!

Party voel weer bedreig. Hulle is bang om te diep betrokke te raak en voel maklik vasgevang in ‘n verhouding. Party raak heeltemal paniekerig as die meisie begin “moederlik” raak en bv sy kamer aan die kant wil maak of so-iets.

Onthou, hoewel ons dadelik hoogsverlief is en dolgelukkig is om die heeltyd by hom te wees en hom te koester en hy vir jou, is ‘n man se vryheid vir hom baie belangrik. Hy wil soms saam met sy vriende(“die boys”) wees en mansdinge doen, en hy wil nie vasgevang voel nie.

Vergelyk die volgende idiome: Hy het “die strop om die nek”; “Nog ‘n goeie ou het sy gat gesien” ens. Hierdie idiome word net vir die MAN gebruik. Kyk ook op die troues en op troufoto’s na die bruidegomme.  Die bruid is stralend: dit is die gelukkigste dag in haar lewe. Die bruidegom het soms ‘n gespanne trekkie om die mond en lag nie heeltemal so hartlik nie – en soms glad nie!

Pas dus op dat die ou nie voel jy wil hom vashou in ‘n verhouding nie.  Hy sal spartel om los te kom. Hy wil vry voel!

Lekker slaap my liefies.

Ma

Posted in Ma se seksboek | 5 Kommentaar

Die taal van die liefde 2: Ouerliefde

      Lied van ‘n Mamma by haar slapende kind

      Ek sal vir jou ‘n versie maak

      my liewe kleine kind.

      Ek sal vir jou ‘n liedjie sing

      wat fluister van die wind-

      van sterretjies en voeltjies,

      ‘n reenboog en die see,

      van blomme en van soentjies,

      van die vreugde wat jy my gee.

 

      Ek sal vir jou ‘n versie maak

      van die koue winternag-

      van ysreen teen die ruite

      toe ek by jou siekbed wag.

      Ek wag vir die nuwe more

      vir die son se nuwe dag

      Ek wag dat jy gesond word

      en vrolik vir my lag.

 

      Ek sal vir jou ‘n versie maak

      my liewe kleine kind,

      want na die donker nagte

      het ek jou lag weer teruggevind.

      En as jy lag is dit soos perels,

      diamante en robyn:

      Jy is soos kosbare skatte

       my liewe kindjie klein.

 

Posted in die tale wat ons praat, gedigte en rympies (seestrome van verlange) | 2 Kommentaar

Parrie kom huis toe

Eendag, lank gelede, in 1993 om presies te wees, was daar ‘n pylstert. Hy was die creepy crawly van Struisbaai Hawe en het met sy groot plat lyf die seebodem gepatroleer en die stukkies aas wat die kinders en vissers vir hom gegooi het, geniet. Op sy rug het klein vissies geswem, net soos in die Nimo-fliek.

Toe besluit wieookal om ‘n akwarium in Kaapstad te bou. Hulle noem dit die Twee Oseane Akwarium. al het Kaapstad eintlik net een oseaan, die Atlantiese Oseaan met sy koue water.

Die akwarium moes mos visse van twee oseane he, dus kom vang hulle toe die visse hier op Struisbaai en Agulhas, waar die koue Atlantiese en die warm Indiese Oseaan  albei regtig is, hier op die Suidpunt van Afrika.

(Die akwarium laat my nou dink aan Goggabyt se dieretuine! ‘n Akwarium is mos ‘n seedieretuin, of hoe?)

Nie lank nie, of die akwarium dink dat ‘n pylstert darem baie mooi sal lyk so tussen die ander visse in die tenk. En hulle weet waar om een te kry ook!

Struisbaai se pylstert word sommer maklik daar in die vlak watertjies gevang, tot groot ontsteltenis van die vissers en omstanders.

Maak kyk, toe is hierdie Suidpunters darem omge-ellie! Dis mos hulle eie troetel-pylstert wat nou hier gevang is! Hy het selfs ‘n naam – Parrie!

‘n Mens moet nooit ‘n Overberger onderskat nie. Koppiger kry jy nie sommer nie, en aan die voorpunt van hierdie geveg is die prins op die wit perd, dr Con Kruger.  Parrie moet terug en klaar.  As die akwarium ‘n pylstert wil he, moet hulle ‘n wilde een op ‘n ander plek gaan vang, nie in ons hawe nie.

Die storie maak opslae in die nuus, koerante en op TV. Die Burger konstateer selfs dat die pylstert “reageer op die naam van Parrie.”

Nie lank nie, na baie redekawel en ondersoek van die wet in hierdie verband, kom die beslissing: Die akwarium moet Parrie terugsit in die hawe.

Dis natuurlik geen geringe taak nie- Parrie is groot! Dis hyskrane en watertenks en goeters. Weereens maak Parrie opslae en verskyn wereldwyd  op koerant voorblaaie en op die TV.

Vandag nog, 18 jaar later, swem Parrie en sy familie  heerlik vry en gelukkig in Struisbaai se hawetjie rond. Mense kom van heinde en verre om vir hom te kom kyk, saam met hom te swem en hom te voer.

Daar het al filmspanne van oorsee gekom om hom af te neem en julle kan hom op ook op YOUTUBE in aksie sien.

Ek dink ons kan met reg se: hier, in die Overberg, hier op die Suidpunt van Afrika, woon die wereld se beroemdste Pylstert, Parrie,  lank en gelukkig. Hy het selfs sy eie ‘site’ op Facebook: https://www.facebook.com/ParrieTheStingray

100_1603 100_1604Erkenning: Die heel boonste een en heel onderste 3 foto’s is deur my geneem. Die foto’s van Parrie se terugplasing is geneem deur Mariette Fouche en die een waar die mense met hom speel is geneem deur Francois de Wet. Van hierdie foto’s en nog baie meer kan gesien word op Facebook deur hier te klik.

 

Om ‘n video van Parrie te sien, klik hier:

Posted in Die Overberg: my wereld., feeverhale en ander stories, Seestories | Tagged , , , , , , | 24 Kommentaar

Ma se seksboek Brief 7: Emosionele verskille

Liewe Leanie, Annika en Lienkie

Dit bring my by die emosionele verskille tussen die geslagte. Ook hier is daar ‘n groot verskil tussen die manlike en vroulike geslag.

Lees die ouens in julle lewe graag liefdesstories? Waarskynlik nie. Boeke oor rugby, motors en sulke goed, ja. Maar Mills en Boon en sepies soos The Bold and the Beautiful is net eenvoudig meer ‘n vroueding.

Ons vind ander se liefdesverhale so interessant en ons eie is gedurig in ons gedagtes. Die man se lewe is meer in kompartemente. Hy speel rugby of hy konsentreer op sy werk, of hy dink aan sy meisie, maar nie aan al drie gelyk nie. Hulle se dat ‘n man al die aspekte van sy lewe netjies in ‘boksies’ pak en liaseer. Hulle word in sy gedagtes een vir een oopgemaak, bekyk en weer gebere. ‘n Vrou se gedagtes is ‘n deurmekaar gemaal soos klere in ‘n tuimeldroer. Sy dink sommer so aan alles gelyk!

Vergelyk ‘n fliek oor gevoelens wat ons op ‘varsity gesien het ( voor die dae van selfone): ‘n Jonggetroude egpaar verslaap en die man is laat vir werk. Hy trek haastig aan, gryp sy kosblik en waai by die deur uit sonder om vir sy vrou totsiens te soen.

Sy vrou staan verslae by die halfgeeete bord pap. Hy is werk toe en het haar nie eers gegroet nie! Hy het haar nie meer lief nie! Haar hele dag is geruineer. Sy begin dalk selfs wonder op wie hy dan ‘n ogie het. Sy voel verskriklik “af” en raak depressief. Vyfuur kom hy vrolik by die huis en gee haar ‘n klapsoen. Sy lag nie. Sy is kwaad en teleurgesteld. Hoe kan hy sommerso maak asof niks verkeerd is nie? Hoe skynheilig!

Intussen weet die man glad nie wat hy nou verkeerd gedoen het nie. Hy kan glad nie eers onthou dat hy haar nie behoorlik gegroet het nie. Hy het nie geweet daar is ‘n probleem nie, hy is dan nog net so lief vir haar soos altyd. Maar hy vererg hom dalk nou vir haar ‘nonsens’.

“Love is for a man a thing apart.

     It is a woman’s whole existence.”

Hoewel seuns of mans dalk baie lief is vir hulle maat, is hulle baie minder ingestel op klein dingetjies en dalk minder romanties as wat ons sou wou he.

Ek het reeds gese dat ouens daarvan hou om bewonder te word. Wees vir hom ‘n goeie vriend deur belang te stel in wat hy doen ( al voel jy dalk vere vir rugby en al verstaan jy dalk niks van karre af nie).

Luister aandagtig en vra dan intelligente vrae en laat hom goed voel. As hy met jou oor sulke goed kan praat, sal hy ook meer gemaklik voel om oor gevoelens te praat- iets waaroor ouens gewoonlik nie so maklik praat nie. Deur ‘n goeie luisteraar te wees, gee jy hom kans om sy persoonlikheid te openbaar en so leer jy hom beter ken. En so hou hy ook meer van jou!

Hoe is mens ‘n goeie luisteraar(vriend)? Deur aandagtig te luister en dit te onthou deur dit bv te herhaal om seker te maak dat jy reg gehoor het, deur mee te leef en simpatieke geluide te maak, bv “Sjoe!” “Wow!” ens. Wees egter versigtig om sommer jou eie opinie te gee, tensy dit gevra word bv ” Ek dink jy moet dit en dat doen.” Moet liewer nie sulke kommentaar gee nie. ‘n Mens kan baie diep op hierdie ‘aktiewe luister’  en empatie betoon, ingaan. Ek stel voor julle lees meer daaroor in sielkunde boeke of vra my. Die hoofsaak is om gevoelens te reflekteer.

Ouns hou nou ook meer daarvan om oor hulle eie goed te praat as om die heeltyd na jou meisieprobleme te luister. Ons meisies het mos baie keer allerhande klein probleempies met iemand wat vir ons ‘n skewe woord gese het of ons hare wat nie wil reg nie of ons alewige lyf- en klereprobleme en dan nog ook ons emosies!

Praat liewer met jou vriendinne oor hierdie goeters. Ouens wil dit nie hoor nie en verstaan dit ook nie so lekker nie. Hulle is meer konkreet. Hulle hou egter daarvan om positiewe goed te hoor( positiewe kommentaar, positiewe gevoelens. goed waarvan jy hou of wat vir jou mooi is).

Sorg dat julle mekaar se beste vriende word. As ‘n mens emosioneel naby aan mekaar voel en vir mekaar lief voel, het enige fisiese aanraking soveel meer betekenis. Om te soen en te vry is dan ‘n uitdrukking van julle liefde en gaan nie net oor die seksuele aantrekkingskrag nie. En dit is ‘n onbeskryflike wonderlike gevoel.

Lekker slaap en soete drome.

Ma

Posted in Ma se seksboek | 11 Kommentaar

Ma se seksboek. Brief 6: Die taal van die liefde

Liewe Kinders

“Die taal van die liefde”

Ai, ons pluis noe die saak mooi uit, maar om goeie fisies pasmaats te wees kom nie altyd so natuurlik soos ‘n mens sou dink nie. Ervaring speel nogal ‘n rol, en veral konsiderasie.  Ons weet mos nie altyd wat ‘n ou “trigger” nie en hulle ken weer nie vir ons nie.  Hy dink dalk hy doen die regte ding, maar eintlik het hy nie ‘n “clue” nie – en hy wil so graag dien wat vir jou lekker is. Help hom deur bv jou lyf reg of weg te draai, sy hand te neem en op die regte plek te sit en ook deur vir hom te se as iets vir jou lekker is.

Moenie skaam wees om daaroor te gesels nie. ‘n Konsidererende liefdesmaat wil graag sy maat plesier en dit is vir hom ‘n prestasie as dit wat hy doen, vir haar lekker is. ‘n Mens kry natuurlik ook die ander, selfsugtige tipe wat net om sy eie bevrediging gepla is. Leer hom gou reg of los hom uit!

Let ook op wat vir hom lekker is. Hieroor kan ek baie verte, maar dis net vir Leanie se ore.

Wat sy kop ( die een met die taalsentrum in!) en gesig aanbetref, is ‘n man se nek en ore baie gevoelig en normaalweg hou hulle daarvan op daar gestreel en gesoen te word. Natuurlik hulle hele lyf ook! Vergelyk hulle biettjie met Rusky of enige ander hondjie. VLUU L210  / Samsung L210Streel hom ‘n bietjie en hy dop om, kry so ‘n glaserige uitdrukking in sy oe en le bene in die lug en geniet die streling sonder enige inhibisies. Partykeer dink ek mans is net so.  Hulle geniet dit om so gepamperlang te word en is glad nie skaam vir hulle lyf nie!

Ons is mos vol allerhande “hang-ups” en inhibisies. Miskien is dit goed so. Dit beskerm ons.  Maar as ons eers getroud is, moet ons al hierdie inhibisies agterlaat. Jou man sal dink jou HELE lyf is pragtig. Glo hom en wees so vry soos hy.

Lekker slaap en liefde.

Ma

Ma, ek’s verlief, oftewel Ma se seksboek, is nou in die handel beskikbaar. Koste slegs R 35 +posgeld van R15 =R50.

Om u kopie te bestel, sms u naam en kontakbesonderhede na 0845874228.

image

Om verdere hoofstukke te sien, klik hier.

Posted in Ma se seksboek | 3 Kommentaar

Vriende

Wat is ware vriende? In Vrae oor Vriendskap deur Deurmekaargedagtes is daar so mooi daaroor geskryf en daardie wyse man, Khalil Gibran aangehaal. Hy het ons mooi vertel hoe so ‘n vriendskap moet wees. En ek het gese dat ek so ‘n vriend het soos wat daar beskryf word.

Maar die wereld wil dit nie hoor nie- dat ‘n manlik en vroulik waarlik so kan vriende wees nie. Is dit die tipe stereotipering waarvan Krokodil gepraat het, wat dit veroorsaak? Waarom is almal so skepties daaroor? Is dit omdat die wereld so sondig is en daar so maklik iets verkeerd kan loop? Of is dit bloot omdat hulle nog nooit so ‘n vriendskap gehad het nie? ‘n Volkome onselfsugtige vriendskap? So onselfsugtig dat jy terugtree en die vriendskap vernietig ter wille van die vriend?

Is daar ‘n verskil tussen so ‘n ware vriendskap en liefde tussen man en vrou? Ek  dink so, maar wat dink jy? Is daar ware liefde sonder so ‘n vriendskap?

Die  band gebreek,

die woorde stom.

Maar in my hart

onthou ek hom.

 Het jy so ‘n vriend/in? En wat se die wereld daarvan?

Posted in gedigte en rympies (seestrome van verlange), Los opdrifsels | 11 Kommentaar

Ma se seksboek Brief 5: Die ridder en die prinses

Liewe Leanie, Annika en Lienkie

Soos julle ouderdomme verskil, so ook julle seksuele behoeftes. Op jou ouderdom, Lienkie, behoort dit net drukkies en soentjies te wees. Jy het nou ‘n outjie wat baie ervare is, meer as die normale skoolseun. ………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………….

Lienkie, ek kan eintlik hoor hoe sug jy. Dis dan nou juis alles wat jy nie wil hoor of doen nie. Die probleem is dat die verhouding maklik te fisies kan raak en dat die emosionele sy van die verhouding afgeskeep kan raak. En dan ontstaan daar leemtes.  ……………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………….So laat hom goed voel ook.

Maar behou die misterie. Laat hom altyd maar ‘n bietjie wonder en laat hom aan die jag bly. Dit maak jou vir hom onweerstaanbaar.

Groetnis en lekker slaap, doringrosies!

Ma

Ma, ek’s verlief, oftewel Ma se seksboek, is nou in die handel beskikbaar. Koste slegs R 35 +posgeld van R15 =R50.

Om u kopie te bestel, sms u naam en kontakbesonderhede na 0845874228.

image

Om nog te lees, klik hier

Posted in Ma se seksboek | 1 Kommentaar

Na aanleiding van Leon se jakarandafoto

Nostalgie

Waar is die jare van pers

jakarandablare

wat tapyt op die sypaadjies

van die systraatjies

saans? En die soet jasmyntrossies

-vir my ook ‘n bossie?-

Van saamswot by die Dal

tot die skemerlig val

en ons hand aan hand swaai,

van geluk tiekiedraai?

Die lewe het ons ingesluk.
 
 
 

 

Posted in gedigte en rympies (seestrome van verlange), Los opdrifsels | 7 Kommentaar

Ma se seksboek Brief 4: Hoe werk ‘n man se kop?

Liewe Leanie, Annika en Lienkie

Kom ons gaan ‘n bietjie terug na ‘n man se seksuele drange. Julle weet dat hulle liggaam spermpies produseer- duisende en duisende. Dit word naderhand te veel en daarvan moet ontslae geraak word.

Julle het seker al gehoor dat jong seun en mans “wet dreams” kry. Hulle droom op ‘n goeie nag ‘n sexy droom en ejakuleer in hulle slaap, of hulle masturbeer.

Hierdie opbou van sperms maak dat die ou ook baie sexy voel en ‘n sterk drang het om verder te gaan en by die einddoel uit te kom in sy fisiese verhouding met sy meisie. Lank rondrol en vry maak hulle baie sexy en selfs ongemaklik. Hulle praat van “lovers balls”. Dit kan blykbaar selfs pynlik wees – die spermpies moet uit, maar hulle word teruggehou!…………………………………(uittreksel)

Ma, ek’s verlief, oftewel Ma se seksboek, is nou in die handel beskikbaar. Koste slegs R 35 +posgeld van R15 =R50.

Om u kopie te bestel, sms u naam en kontakbesonderhede na 0845874228.

imageom nog ‘n uitreksel te lees, klik hier.

Posted in Ma se seksboek | 7 Kommentaar

DAGBOEK

DIARY

A book-

messed up with writing and inkblots-

and all I have to talk to.

 

A book-

dirty, messy, falling apart-

and all I have.

Posted in die tale wat ons praat, English blogs, gedigte en rympies (seestrome van verlange) | 1 Kommentaar

Ma se seksboek. Brief 3: Superman en die trappies

Liewe Leanie, Annika en Lienkie

Behalwe dat ‘n man ‘n baie sterk seksdrang het, sterker as wat ons dalk vermoed, het hulle ook ‘n groot drang na prestasie. Hulle wil graag wen en hulle wil graag die einddoel bereik en hulle wil graag klaarkry- op alle gebiede. Daarom tree hulle soms oorhaastig op en besluit sommer vinnig oor ‘n ding en kom dalk later agter dat hulle verkeerd was.

So was Rupert, een van die deelnemers aan Survivor, so ernstig om hulle huis op die eiland gou klaar te bou, dat hy na niemand wou luister nie. Toe bou hy dit onder die grondoppervlak in plaas van hoer – met katastrofiese gevolge toe dit begin reen. Ons vroue sit weer ure en twyfel oor ‘n saak. Ons pluis elke ding in die fynste besonderhede uit en oordink alles haarfyn en nadat ons klaar ‘n besluit geneem het, twyfel ons dikwels nog steeds. Mans DOEN soms eers, dan dink hulle  en ons DINK ons eers lam voor ons doen!

Ek het eenkeer ‘n praatjie gehoor waar die (manlike)spreker gese het: Mans, luister tog na julle vrouens! Hulle het ‘n sesde sintuig en is waarskynlik reg!

Op seksuele gebied is die einddoel ejakulasie (saadstorting). In gewone taal se ons “kom”. Ek kry nog nie prentjies hier reg nie, dus moet julle gou iets teken. Teken gou ‘n klompie sig-sag trappies wat van links onder na regs bo loop. skryf onder die onderste trappie :VROU. Al langs daardie trappies trek jy nou ‘n reguit lyn wat ook van links onder na regs bo loop. Aan die bo-punt van die lyntjie teken jy ‘n pylpunt. Onder, by die begin van die reguit strepie van die pyl, skryf  jy :MAN. Heel onder die prentjie van die pyltjie het jy dus MAN en heel onder die prentjievan die trappies het jy VROU. Aan die bo-punt van albei prentjies skryf  jy die volgende woorde: seksuele vereniging. Julle sal sien dat die strepie van die man na die bo-punt baie korter is as die van die vrou, omdat hare ‘n klomp heen en weer strepies is soos jy die trappies geteken het.

Die man het ‘n drang om klaar te kry met die seksdaad en te ‘kom’,( hy wil dus soos superman sommer opvlieg) en vergeet partykeer van die baie trappies wat ‘n mens kan klim op pad daarheen.

In “Men are from Mars and women are from Venus” se John Gray dat mans aan die begin van ‘n verhouding stadig gaan omdat hy onseker voel hoe die dame gaan reageer op sy attensies. Soos die verhouding groei, wil hy egter vinniger by die einddoel kom, en hy weet nie dat dit juis die stadigheid is wat die vrou so onweerstaanbaar vind nie.

Die verhouding tussen ‘n ou en ‘n meisie moet egter wees soos ‘n babatjie wat eers sit, dan kruip en later loop en hardloop. Die kruipstadium is baie belangrik en as ‘n babatjie begin loop voordat hy behoorlik leer kruip het, het hy dikwels later probleme met koordinasie, of leerprobleme. Hy MOET  kruip en sommige kry selfs fisioterapie om hulle te leer kruip.

Die verhouding tussen ‘n ou en ‘n meisie of ‘n man en ‘n vrou het baie, baie trappies. Elkeen moet opgeklim word en ‘n rukkie by stilgestaan word om dit te geniet, anders gaan die wonder daarvan ongesiens verby en kan jy dit ook nooit weer terugkry nie. Jy kan te vinnig klim en dan is dit nie lekker nie of jy is spyt dat jy ‘n trappie gemis het. ‘n Paar voorbeelde van sulke trappies is:

Kyk vir mekaar en sien mekaar raak. Die Engelse se :”They are giving each other the eye”.

Ligte aanraking, bv skouers skuur. Ouens is lief daarvoor om  hulle vingers in die meisie se ribbekas e steek, konsuis om te kielie, of aan haar te stamp,bv by swembad, of so-iets.

Hande vashou.

Omhels.

Soen.

‘French kiss” – ondersoek met die tong. Daar is baie vorme van soen en hier kan lank stilgestaan word. ‘n Mens kan ure lank staan, sit of le en soen!

Soen op ore, nek en hals

Hande op die sitvlak.

Vasdruk van pubiese areas teen mekaar.

Bene in mekaar gestrengel.

Streel oor borste, tussen bene, eers met arms, bene dan met hande.

Ontklee.

Saam bad.

Streel van die hele liggaam met hande, die mond , tong en uiteindelik seks.

Hierdie trappies is vir ‘n vrou of meisie baie belangrik. Dit word ook ‘voorspel’ genoem. Die man geniet dit ook en dis vir hom lekker om te sien hoe sy vrou/meisie seksueel opgewonde raak.  ( VERVOLG……)image

Ma, ek’s verlief, oftewel Ma se seksboek, is nou in die handel beskikbaar. Koste slegs R 35 +posgeld van R15 =R50.

Om u kopie te bestel, sms u naam en kontakbesonderhede na 0845874228.

Om nog te lees, klik hier

Posted in Ma se seksboek | 9 Kommentaar