Liewe Leanie, Annika en Lienkie
Dit bring my by die emosionele verskille tussen die geslagte. Ook hier is daar ‘n groot verskil tussen die manlike en vroulike geslag.
Lees die ouens in julle lewe graag liefdesstories? Waarskynlik nie. Boeke oor rugby, motors en sulke goed, ja. Maar Mills en Boon en sepies soos The Bold and the Beautiful is net eenvoudig meer ‘n vroueding.
Ons vind ander se liefdesverhale so interessant en ons eie is gedurig in ons gedagtes. Die man se lewe is meer in kompartemente. Hy speel rugby of hy konsentreer op sy werk, of hy dink aan sy meisie, maar nie aan al drie gelyk nie. Hulle se dat ‘n man al die aspekte van sy lewe netjies in ‘boksies’ pak en liaseer. Hulle word in sy gedagtes een vir een oopgemaak, bekyk en weer gebere. ‘n Vrou se gedagtes is ‘n deurmekaar gemaal soos klere in ‘n tuimeldroer. Sy dink sommer so aan alles gelyk!
Vergelyk ‘n fliek oor gevoelens wat ons op ‘varsity gesien het ( voor die dae van selfone): ‘n Jonggetroude egpaar verslaap en die man is laat vir werk. Hy trek haastig aan, gryp sy kosblik en waai by die deur uit sonder om vir sy vrou totsiens te soen.
Sy vrou staan verslae by die halfgeeete bord pap. Hy is werk toe en het haar nie eers gegroet nie! Hy het haar nie meer lief nie! Haar hele dag is geruineer. Sy begin dalk selfs wonder op wie hy dan ‘n ogie het. Sy voel verskriklik “af” en raak depressief. Vyfuur kom hy vrolik by die huis en gee haar ‘n klapsoen. Sy lag nie. Sy is kwaad en teleurgesteld. Hoe kan hy sommerso maak asof niks verkeerd is nie? Hoe skynheilig!
Intussen weet die man glad nie wat hy nou verkeerd gedoen het nie. Hy kan glad nie eers onthou dat hy haar nie behoorlik gegroet het nie. Hy het nie geweet daar is ‘n probleem nie, hy is dan nog net so lief vir haar soos altyd. Maar hy vererg hom dalk nou vir haar ‘nonsens’.
“Love is for a man a thing apart.
It is a woman’s whole existence.”
Hoewel seuns of mans dalk baie lief is vir hulle maat, is hulle baie minder ingestel op klein dingetjies en dalk minder romanties as wat ons sou wou he.
Ek het reeds gese dat ouens daarvan hou om bewonder te word. Wees vir hom ‘n goeie vriend deur belang te stel in wat hy doen ( al voel jy dalk vere vir rugby en al verstaan jy dalk niks van karre af nie).
Luister aandagtig en vra dan intelligente vrae en laat hom goed voel. As hy met jou oor sulke goed kan praat, sal hy ook meer gemaklik voel om oor gevoelens te praat- iets waaroor ouens gewoonlik nie so maklik praat nie. Deur ‘n goeie luisteraar te wees, gee jy hom kans om sy persoonlikheid te openbaar en so leer jy hom beter ken. En so hou hy ook meer van jou!
Hoe is mens ‘n goeie luisteraar(vriend)? Deur aandagtig te luister en dit te onthou deur dit bv te herhaal om seker te maak dat jy reg gehoor het, deur mee te leef en simpatieke geluide te maak, bv “Sjoe!” “Wow!” ens. Wees egter versigtig om sommer jou eie opinie te gee, tensy dit gevra word bv ” Ek dink jy moet dit en dat doen.” Moet liewer nie sulke kommentaar gee nie. ‘n Mens kan baie diep op hierdie ‘aktiewe luister’ en empatie betoon, ingaan. Ek stel voor julle lees meer daaroor in sielkunde boeke of vra my. Die hoofsaak is om gevoelens te reflekteer.
Ouns hou nou ook meer daarvan om oor hulle eie goed te praat as om die heeltyd na jou meisieprobleme te luister. Ons meisies het mos baie keer allerhande klein probleempies met iemand wat vir ons ‘n skewe woord gese het of ons hare wat nie wil reg nie of ons alewige lyf- en klereprobleme en dan nog ook ons emosies!
Praat liewer met jou vriendinne oor hierdie goeters. Ouens wil dit nie hoor nie en verstaan dit ook nie so lekker nie. Hulle is meer konkreet. Hulle hou egter daarvan om positiewe goed te hoor( positiewe kommentaar, positiewe gevoelens. goed waarvan jy hou of wat vir jou mooi is).
Sorg dat julle mekaar se beste vriende word. As ‘n mens emosioneel naby aan mekaar voel en vir mekaar lief voel, het enige fisiese aanraking soveel meer betekenis. Om te soen en te vry is dan ‘n uitdrukking van julle liefde en gaan nie net oor die seksuele aantrekkingskrag nie. En dit is ‘n onbeskryflike wonderlike gevoel.
Lekker slaap en soete drome.
Ma
-33.916698
18.416700
Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.