Ma se seksboek. Brief 24: Liefde en respek

Liewe Kinders

Daar is nog duisende goed waaroor gepraat en geskryf kan word, maar miskien moet ek nou eers hier stop. Kom gesels gerus as daar iets is waaroor jy wonder.

Die hoofsaak van al hierdie hierdie dinge is liefde en respek.  Ek hoop julle het wonderlike vreugdevolle verhoudings met julle vriende en dat julle eendag wonderlike liefdevolle lewensmaats sal kry.  Ek hoop ook dat julle aan julleself sal skaaf om eendag goeie huweliksmaats vir julle mans te wees.

Lekker slaap en al my liefde.

Ma

Posted in Ma se seksboek | 15 Kommentaar

Seerowers!(deel 4)

(

Hierdie is deel 4 van die storie. Klik hier om van die begin af te lees.)
Nouja, ek het laas vertel hoe die twee ou karnallies, oom Fagan en oom D hulle lyf seerower gehou het.

Oom D het sy ‘gesteelde’ tinstaaf verloor omdat X dit weer terug’gesteel’ het en van oom Fagan se staaf het niemand iets geweet nie.

Hoe ernstig die omies die seerower- seerower speletjie opgeneem het, het eers later aan die lig gekom.

Dis ongeveer 10 jaar later. Oom Fagan besluit dat hy nou regtig oud word. Netnou gaan hy dood en dan weet niemand van sy tin nie. Toe sy dogter en haar man kom kuier, kommandeer hy sy skoonseun, Gert, om saam met hom te gaan ry- en hy moet sommer ook ‘n graaf saambring.

Oom Fagan neem sy skoonseun na ‘n familielid van hom se vakansiehuis. Die huis is in die hoofstraat van Struisbaai, maar die dorpie is nog klein en die meeste huise staan deur die jaar leeg. Ook die familielid kom maar net vakansies na sy strandhuis toe.

Daar gekom, haal oom Fagan ‘n papiertjie uit sy sak- ‘n seerowerskatkaart? Hy beveel sy skoonseun as volg. ” Staan met jou rug teen die wasgoedpaal reg voor die minnetokkaboom. Loop nou 3 tree vorentoe parallel met die wasgoedlyn. Draai 90grade regs. Wat sien jy?” Gert sien nou die hoek van die bure se huis.

” Stap nou 2 tree reguit na die hoek van daardie huis. Draai 90grade regs. Sien jy ‘n kragpaal? Stap 7 tree reguit na die kragpaal toe. Buk nou af en begin grawe.”
My man (ja, hy is Gert, die skoonseun en oom Fagan was my pa) begin grawe en sowaar, presies daar, grawe hy die staaf tin uit! Toe hoor ons vir die eerste keer die storie van die tin.

Oom Fagan en Gert is terug huis toe met die ‘skat’ sonder dat die familielid ooit geweet het dat daar byna 10 jaar lank ‘n staaf tin in sy agterplaas begrawe was.

By die huis gekom, moet skoonseun die staaf tin deursaag, want oom Fagan wil mos spinners laat maak! Dis nogal ‘n harde werk om so ‘n blok tin deur te saag, en skoonseun, wat die hele skattejag ook geniet het, vra toe of hy maar die handvatsel of oor van die tin vir hom mag afsaag ter herinnering.

Die het hy toe ook gedoen.

Oom Fagan het die een helfte van die tin na oom D toe geneem, want Oom D was die man wat die vorms gehad waarmee mens spinners maak. Oom D se kop het waarskynlik oortyd begin werk toe hy hierdie blok tin van lank gelede sien!

Sover ons weet, het oom D wel ‘n paar spinners met ‘n bietjie van die tin gemaak. Die orige tin het hy in ‘n streepsak gesit en vir oom Fagan teruggegee. Oom Fagan het die tin agter op sy bakkie gesit, maar op pad huis toe gou ‘n dop gaan drink en skoon van die tin vergeet.

Eers ‘n week later onthou hy van sy tin. Hy gaan haal die sak van sy bakkie af, maar binne- in die sak ontdek hy net ‘n klomp klippe. Sy tin is weg!

Ja, oom D het uiteindelik sy tin gekry! Finders keepers.

Maar wat het van die ander helfte van die tin geword? Die deel wat agtergebly het in die garage? Is dit gesteel? Is dit verkoop? Is dit dalk weer begrawe? Niemand van ons weet nie, en al 3 hierdie besondere karakters het reeds die tydelike met die ewige verwissel.

Die tin is weg – nes die Kruger miljoene.
In ons kluis lê die oor van die tinstaaf wat my man, Gert, afgesaag het, soveel jare gelede- ‘n stille getuienis dat daar wel so ‘n tinstaaf ( en so ‘n storie) was.
En miskien, net miskien lê daar erens op Struisbaai ‘n klein skat begrawe.

Hierdie 2 foto’s is van die oor van die tinstaaf waaroor die storie gaan (Inligting oor die moontlike wrak volg volgende keer).
Kliek hier om deel 5 te lees.

Posted in Die Overberg: my wereld., idioomstories, Seestories | 15 Kommentaar

Ma se seksboek. Brief 23: Swanger?

Liewe Leanie, Annika en Lienkie

Maar se nou net? Wat as julle te ver gaan? Wat as julle swanger raak voor julle getroud is? Wat as?

Een van die redes hoekom ek hierdie briefies geskryf het , is om julle voor te berei sodat julle sal besef hoe belangrik dit is om te wag totdat julle getroud is voordat julle een word met julle maat.

Hierdie eenword is die kroon op julle liefde, dit is die grootste geskenk wat julle mekaar kan gee, dat julle een word in liggaam en gees. Omdat seks so ‘n emosionele ervaring vir ‘n meisie is, is dit belangrik dat dit in die huwelik gebeur.

Dit is ook vir die outjie baie belangrik, al weet hy dit net nie. Het julle geweet dat baie mans later sukkel met skuldgevoelens en selfs depressie oor hulle rondslapery in hulle jong dae?  Hulle word ook groot en verantwoordelik en vaders van dogters, en besef dan die skade wat hulle aangerig het deur miskien ‘n jong meisie te verlei. Dis ‘n feit, maar dis te laat. Daar is niks wat hulle daaromtrent kan doen nie.

Julle, as emosionele wesens, sal net so geraak word deur voorhuwelikse seks, al wys AL die flieke dat dit algemeen is. Weerhou julle asseblief daarvan en bespaar julle dalk baie hartseer en skuldgevoelens.

Maar wat as dit dan tog gebeur en jy raak dalk swanger?

Onthou asseblief dat die babatjie nie gevra het om gemaak te word nie. Onthou ook dat jy nie ‘n lewe mag neem nie. In ons land is aborsie nou wettig, maar aborsie is ook moord op ‘n onskuldige babatjie, en hoe min jy ookal wil swanger wees, nog minder wil jy ‘n moordenaar wees!

Vroue wat wel aborsies gehad het, getuig feitlik almal daarna hoe spyt hulle is dat hulle dit gedoen het, en hulle ly aan sielwroeginge vir die res van hulle lewens. Dit druis ook teen ons Christelike geloof in. Is dit nie  God self wat lewe gee nie?

My kinders, ek bid dat dit nooit met julle sal gebeur nie, maar as julle wel swanger raak, onthou asb dat ‘n mens verantwoordelikheid moet aanvaar vir dit wat jy doen. Jy het ook ‘n verantwoordelikheid teenoor die mensie wat geskep is. Daar is baie getroude paartjies wat smag na ‘n eie kindjie. As jy nie gereed voel of in staat is om self vir jou kindjie te sorg nie, is aanneming wel ‘n goeie opsie. Aborsie nie!

Moet trou? Nee. ‘n Mens trou net met iemand vir wie jy werklik lief is en as julle gereed is daarvoor. ‘n Mens trou nie omdat jy ‘moet’ nie.  Is jy werklik lief vir hom en bereid om jou hele lewe met hom te deel? Is hy op dieselfde manier lief vir jou? Dan en slegs dan, kan julle trou.

Maar wat praat ek alles. Ek glo julle is reg grootgemaak en weet waar die grense le.

Ek is baie lief vir julle. Lekker slapies.

Ma

Posted in Ma se seksboek | 10 Kommentaar

SEEROWERS! ( DEEL 3)

Hierdie is deel 3 van die storie. Klik hier om vanaf deel 1 te lees.
X, die diepseeduiker , was ‘n baie interessante man. As kaptein van die Suid Afrikaanse Olimpiese diepsee duikspan in die dae voordat Suid Afrika uit die Olimpiese spele verban is, was hy nie ‘n sommerso duikertjie nie. ‘n Mens kan boeke oor hom skryf, en in boeke oor skeepswrakke, sal jy beslis sy naam kry.

Ek weet van ‘n geval vroeër jare, toe daar ‘n per ongeluk belangrike weermagtoerusting in die see by Waenhuiskrans beland het. Die lugmag het vir X gevra om dit te gaan soek. Hy moes dit net vind, hulle sou dit uithaal. Daarvoor is hy ‘n klein fortuintjie aangebied. X het dit binne 20 minute gekry en was onmiddellik duisende rande( en in vandag se dae seker’n miljoen ?) ryker.

Maar hard werk, hard speel, dit was hy ook. Ek weet van ‘n keer toe hy lus was vir ‘n dop. Struisbaai Motel se kroeg was toe- dit was na-ure. X het eenvoudig bo-oor die muur geklim (dit was ‘n rietdak en die muur het nie tot bo teen die dak gegaan nie) sy drank gevat, die geld daar neergesit, asook die geld vir die glase en bottels wat hy in die proses gebreek het, en weer verder gaan kuier saam met sy vriende. So was hy.

Voor sy huis op Struisbaai was 2 pragtige reuse outydse kannonne wat X ook van een of ander wrak afgehaal het. Met een nuwejaar besluit hy om ‘n kanon af te vuur en skiet toe ‘n gat – dwarsdeur die buurman se dak!

Oom D se familie het gesê ek mag maar sy naam noem, maar my man het my gewaarsku om versigtig te wees, so ons hou hom maar oom D.

Hy was jare lank die vuurtoringwagter op L’Agulhas en ‘n wonderlike karakter. Oom D was ‘n man van vele talente, en kon pragtig skilder, maar veral het hy ‘n ongelooflike kennis en liefde vir die see gehad. Vandag nog praat die mense van hom.

Oom D het graag met sy roeibootjie so ‘n entjie see-in gevaar, en dan die wonderlikste vis gevang. Op ‘n dag het oom D bietjie verder gevaar en is sy boot perongeluk omgekeer deur ‘n walvis. Dit was heeltemal te ver om land toe te swem, maar oom D het geweet dat hy net op sy rug moes dryf, en dat die see hom dan verderaan sou uitspoel. Dit het die see ook gedoen, ek dink ‘n dag later.

Intussen het almal gedink dat hy verdrink het. Maar nie oom D nie, nee, soos hy geweet het, het die see hom anderkant Suiderstrand uitgespoel, en hy het van daar af weer huis toe geloop. ‘n Man van staal en avontuur.

Oom Fagan was ook enig in sy soort : ‘n Bo-baas visserman met ongelooflike kennis van literatuur, en veral ‘n pragtige stem. Hy het nie geskroom om sommer by enige vreemde tent in te stap , homself bekend te stel en te gesels nie. So het almal hom later geken en ook van hom gehou, want hy kon interressant gesels.

As hy ry, het hy altyd gesing- “Tru-la-lu-la lula”, “I’m in love with Vienna”, Galway bay. Ek dink baie keer as hy ‘n loopbaan van sang gemaak het, sou hy dalk net so gewild soos ou Blue Eyes gewees het. Hy het ‘n pragtige stem en die regte persoonlikheid gehad- nie ‘n skaam haar op sy kop nie en in geen vormpie gegiet nie. Die dat mense vandag nog oor hom praat.

Oom Fagan het destyds die eerste koeldrankfabriek op Bredasdorp begin, nog voordat Coca Cola in Suid Afrika was,en het later op Struisbaai afgetree. Almal hier rond het geweet dat die twee buurdorpies, Napier en Bredasdorp, aardsvyande was en wanneer iemand oom Fagan gevra het hoe dit gaan, het hy altyd geantwoord:” Ag man, die hele wêreld is reg -en die helfte van Napier ook!”

Hy was ‘n ligte gerei-hengelaar en het sy vissie ‘gespeel’. Met sy slap stokkie, soos die mense dit genoem het, het hy partykeer die ongelooflikste visse uitgetrek. Dit was ook vir hom geen snaaksigheid om dou voor dag af te stap Mond toe en terug nie, ‘n afstand van seker so 10 km een rigting.

Toe oom Fagan op 72 jarige ouderdom in Pretoria gaan kuier, wou hy dieretuin toe. Hy is daar afgelaai en mooi vertel van die busse ens. Maar daardie aand kom hy aangestap na sy dogter se huis in Valhalla. Na ‘n hele dag in die dieretuin besluit hy toe sommer om liewers huis toe te stap- na die onderste punt van Valalla toe!
Hierdie 3 unieke karakters het dus aanklank gevind by mekaar en was goeie vriende. ‘Birds of a feather flock together’.

Die dag na die tinstropery, nooi X die twee ou omies vir ‘n dop. Toe word oom D lekker geterg oor sy tinstelery. Hy was uitoorlê en het maar lekker saamgelag. Oom Fagan was egter ‘n ou pokerspeler. Hoewel daar skimpe gegooi is, en hoewel hy nooit sou jok nie, het hy hom dom gehou en hulle kon niks uit hom wys word nie.

Daardie jare het hy sy kar met sleutel en al in ‘n oop garage parkeer en enigiemand kon daar gaan soek het. Ek sal nie verbaas wees as X-hulle skelmpies daar gaan rondloer het nie.
Maar wat het oom Fagan dan met die tin gemaak?( Klik hier om deel 4 te lees).

Posted in Die Overberg: my wereld., idioomstories, Seestories | 15 Kommentaar

Ma se seksboek. Brief 22: Imagoterapie

Liewe Leanie, Annika en Lienkie

Ek het gister gepraat hoe elke soort mens, die introvert( die skilpad) sowel as die ekstrovert(die donderstorm) moet aanpas om kommunikasie ( en vrede!) te probeer bewerkstellig.

Daar is tegnieke wat kommunikasie bevorder. Die eerste is om effektief te luister.  Kyk vir die persoon, knik instemmend met jou kop, herhaal wat hy se, en luister sonder om kommentaar te gee.  Maak seker jy verstaan reg, deur ding e te se soos: So jy se dit…. en dan te herhaal hoe jy nou verstaan het wat hy gese het.  Vra ook agterna:” Het ek dit nou reg gese?”

In Imagoterapie ( meer daaroor in die boeke:”Getting the Love you want” en “Keeping the love you find” se Harville Hendrix dat ‘n konfliksituasie as volg hanteer moet word:

1.Maak ‘n afspraak met jou maat en se dat jy graag met hom wil gesels.

2. Gaan sit regoor mekaar sodat julle mekaar in die oe kan kyk en hou mekaar se hande vas.

3.Persoon A, wat die probleem het, praat nou met haar maat en stel die probleem in ‘ek’ boodskappe, bv “Ek voel ongelukkig omdat jy altyd laat is, want ek kon ander goed in hierdie tyd gedoen het.”

4.Die maat( persoon B) wag tot A klaar gepraat het en weerhou hom daarvan om ‘in te chip’ en homself te verrdedig of beskuldigings terug te slinger. B herhaal dan wat A gese het soos bo beskryf, en vra of hy dit reg herhaal het. Hy hou aan om dit te herhaal totdat A tevrede is dat hy dit reg herhaal het, maw tot hy dit reg verstaan.( EN HY BLY KALM!!) Hy vra dan of daar nog iets is wat A wil se en herhaal dit ok weer.

5. Hierdie gesprek hou aan totdat A alles gese het wat hy wou, en B alles herhaal het en reg verstaan sonder om enige kommentaar te lewer.

6. B vat nou alles saam wat A gese het, en vra of hy iets uitgelaat het.

7. Nou gee B empatie deur A se gevoelens te reflekteer en te probeer begryp, bv Ek kan sien dat jy ongelukkig en kwaad voel omdat jy voel dat ek jou nie respekteer  as ek heeltyd laat kom nie, en dit maak vir my sin, want jy het baie werk en…… of so-iets.

8. As A nou tevrede voel dat B haar reg verstaan het, word die rolle omgeruil. Nou eers stel B sy kant van die saak. A moet op op haar beurt dieselfde reageer deur te herhaal sonder om kommentaar te lewer ens.

9. Na albei partye hulle kant gestel het op hierdie manier, kan gesamentlik na ‘n oplossing gesoek word.

Sjoe! Dis moeilik! ‘n Mens is mos kwaad! Dit voel ook “weird’ aan die begin. Maar aggressie en kwaai geoelens word opgelos deur dit in ‘n aanvarende atmosfeer te opper en dikwels los die probleem homself sommer op deur ‘oop’ te maak. Hoofsaak is dat die een die ander kans moet gee op uit te pak voordat hy kommentaar gee, en dat die uitpak op ‘n kalm en beheerste manier moet wees.  As julle sukkel met kommunikasie, en dalk ernstige probleme ondervind, probeer dit ‘n slag in plaas daarvan om in mekaar se keelgatte af te klim!

Dan kan julle julleself ook altyd herinner dat ‘n saak altyd twee kante het. Ag, en onthou tog: Moet nooit groot issues oor die foon uitpraat nie en moet tog nooit baklei  met smsse nie! ( en selfs nie eers mxit nie!) Die geskrewe woord is hard en permanent. Jy kan dit nooit weer terugtrek nie.  Daar staan dit dan swart op wit – en finaal.

Wag dus tot julle mekaar van aangesig to aangesig sien en genoeg tyd het. As jy rerig kwaad is, skryf dan ‘n brief en verbrand dit dadelik sodat net jy daarvan weet.  Jy kan dan die volgende dag as jy beter voel, meer logies redeneer.  Sms bloot dat jy nie nou daaroor wil praat nie, maar dat julle die saak sal bespreek wanneer julle mekaar weer sien.

Baie paartjies breek op tydens die “powerstruggle” omdat hulle nie daar verby kan kom nie – hulle ‘vlug’ en begin ‘n nuwe verhouuding met ‘n ander maat.

Ware liefde kom eers wanneer ‘n mens verby die “powerstruggle” kan kom en vrede kan maak met mekaar, mekaar kan aanvaar soos elkeen is en die ander een kan liefhe met foute en al.”warts and all” soos die Engelse se.

Nouja, haal diep asem, tel tot tien en……

Slaap lekker, my liefste kinders!

Ma

Posted in Ma se seksboek | 4 Kommentaar

Ma se seksboek. Brief 21: Konflik

Liewe Kinders

Ai, tog, ek dog ek is klaar met die boek, maar toe ek gisteraand vir Lienkie so hoor stry oor die foon, besef ek dat daar nog ‘n belangrike saak is, nl konflikhantering.

‘n Ou en ‘n meisie raak mos verlief en alles is “maanskyn en rose’.  In hierdie tyd kan daar dingetjies skeefloop, hoofsaaklik agv misverstande, maar meestal is ‘n mens gelukkig en jy wil nie jou maat se foute raaksien nie.  Daarna kom die magstryd, die “powerstruggle”.  Dinge wat voorheen nie saak gemaak het nie, begin jou nou irriteer.  Die een maat probeer die anderr verander en konflik ontstaan.  Wanneer ‘n mens in ‘n konfliksituasie is, neem die meer primitiewe deel van die brein oor- die instinktiewe deel wat die instinkte en primere veg of vlug reaksies beheer. Nou reageer mens nie meer met nugtere oordeel nie, maar volgens instink. Jou lyf skei waarskyn lik ook meer adrenalien af.

Hoe reageer mens instinktief? In die natuur is twee reaksies: veg of vlug. Die veg-reaksie is om met aggressie te baklei, bv om soos ‘n donderstorm te raas en tekere te gaan, of soos ‘n renoster. Die vlugreaksie is op verskeie maniere, bv deur weg te hardloop( bv die bok), deur eenvoudig jou toe te maak sodat niks jou kan raak nie (bv. die skilpad) deur onderdanig te wees(bv die hond) of te maak of jy dood is( bv sekers soorte insekte).

Mense reageer op dieselfde maniere.  Jou instinktiewe reaksie hang af van water soort mens jy is.  Party storm, raas en baklei met ‘n stortvloed woorde. Party hou alles binne, soos die skilpad wat sy kop intrek, party vlug liewer uit die situasie en gaan soek troos op ‘n ander plek, en party is oordrewe onderdanig om konflik te vermy.

Ongelukkig lei al hierdie reaksies tot groot ongelukkigheid, behalwe miskien vir die ou wat lekker aggressief is en stoom afblaas en dan weer afkoel.  Agterna wonder hy hoekom hy so kwaad was. Die ander krop egter op. Huulle krop op en krop op tot hulle bars – en dan is daar GROOT moeilikheid.

As altwee maats die vegreaksie het, gaan die hare waai in julle verhouding. Julle sal moet oefen om meer beheersd te wees en af te koel.

As altwee maats terugtrek, soos die skilpaaie, sal daar dae verrbygaan wat julle nie ‘n woord met mekaar praat nie.  Albei gaan ly aan stilstuipe- dodelik vir enige verrhouding.  As ‘n mens nie oop is vir kommunikasie nie, is daar nie ‘n verhouding nie.

As die een maat storm(renoster of haelstorm) en die ander terugtrek( skilpad) is daar ongelyke kommunikasie, en hoe meer die storm, hoe dieper trek die skilpad sy kop in.  En hoe dieper die skilpad sy kop intrek, hoe meer gefrustreerd word die storm en hoe meer storm hy. ( Ons vroumense is geneig om te storm en mans is beroemd daarvoor dat hulle terugtrek – in hulle grot in, soos Gray se).

Die ideaal is dat elke party kans het om sy griewe te lug. Eers dan is daar goeie kommunikasie. Om dit reg te kry, moet die haelstorm  moeite doen om minder te storm en homself in toom te hou. Die skilpad moet weer moeite doen om sy kop uit te steek en homself so te dwing om meer oop te wees in ‘n verhouding. Wanneer julle dit kan regkry, is daar goeie kommunikasie, en dus ook sommer goeie probleemoplossings!

Sjoe, dit is baie laat. Ek skryf liewer more verder en vertel hoe ‘n mens te werk kan gaan om dit te bewerkstellig.

Lekker slaap, en baie liefde, my kinders!

Ma.

Posted in Ma se seksboek | 4 Kommentaar

Seerowers! (Deel 2)

( Hierdie is deel 2 van die storie. Klik her om van deel 1 af te lees)

Nouja, ek het mos laas vertel hoe oom Fagan, die ou platjie, ‘n tinstaaf ‘gesteel’ het by die seerowers, diepseeduiker X en kollega, wat dit op hulle beurt weer van ‘n ou wrak ‘gesteel’ het.

Eventwel, gedagtig aan oom Fagan wat hulle so ‘n streep getrek het,  besluit X en sy medewerker om die volgende keer vir oom D te vra. Oom D is, nes oom Fagan, ‘n bobaas visser en ken die see ongelooflik goed.

Daar word geduik en gemonitor en die swaar stawe tin word een vir een uitgehaal. Oom D help inlaai, en dink so by homselwers: Ek wil ook so ‘n blok tin he!

So ongemerk tel X die stawe noukeurig. Hulle ken mos vir oom D. en hulle is amper seker dat oom D ook vir hom ‘n staaf gaan probeer vat, nes oom Fagan gedoen het. Uiteindelik, doodmoeg en hierdie keer terug in Struisbaai hawe, word die stawe van die boot afgetel en oorgedra na hulle kombi toe.

Oom D is nie links nie, nes oom Fagan vroeer, en hy laat ongemerk  ‘n staaf in die water val.

Hierdie keer het X- hulle dit egter verwag! In plaas van gaan kuier en te gaan slaap, soos mens gewoonlik na so ‘n dag op die see doen, wag hulle tot oom D weg is, en gaan gou terug hawe toe. Die staaf word maklik gekry en uitgehaal.

Dis vrek koud en X- hulle gaan koop vir hulle ‘n bottel brandewyn en, gewapen met die en nog ander nodige voggies, gaan kruip hulle agter die duin weg.( Dit was nog die ou Struisbaaihawe en daar was ‘n duintjie aan die een kant.

‘n Bietjie later gebeur ook toe waarvoor hulle gewag het: Oom D kom daar aan met sy snorkel en paddavoete en begin duik. Op en af in die hawe swem hy, maar hy kry nie sy tin nie! Intussen wil X en vriend hulle byna doodlag daar agter die duin.  Hullle weet presies hoe koud die water daardie dag is!  Toe oom D so na ‘n halfuur nog niks gekry het nie, besluit hulle om die ou genadig te wees. Hulle staan op en roep hom nader. “Los maar die tin, ons het dit lankal uitgehaal. Kom kry liewer vir jou ‘n dop!”

Die drie vriende het maar toe daar agter die duintjie  by Struisbaai se ou hawe gekuier tot die voggies op was . Hulle het  lekker aan die slaap geraak, sommer daar agter die duin.  A job well done.

Maar hoe weet ek dit nou alles? En wat het oom Fagan met sy tin gemaak? Klik hier om deel 3 te lees.

Posted in Die Overberg: my wereld., idioomstories, Seestories | 8 Kommentaar

Seerowers!(deel 1)

Die see hier by Kaap Agulhas, hier by die Suidpunt van Afrika, is seker een van die gevaarlikste stukkies see in Suid Afrika. Dit word nie verniet ” die begraafplaas van die skepe” genoem nie. En waar daar skeepswrakke is, is daar skatte – en ook duikers – op soek na ‘n fortuin?

Hier in ons geweste was daar vroeër jare ‘n baie beroemde diepseeduiker en sy span. Ek sal maar nie sy naam noem nie, ek weet nie wat van hom geword het en of hy nog leef nie, kom ons noem hom X. X was ‘n kenner en het hierdie seebodem soos die palm van sy hand geken. Hy het gereeld na Holland , Portugal en Spanje gegaan en dan in die argiewe die ou skeepsjoernale en roosters bestudeer. Sodoende kon hy uitvind waar watter skepe vergaan het, watter vrag hulle gedra het, ens. Dan het X gekom en die skip hier onder die water kom soek tot hy dit gekry het. Dis geen geringe taak nie, want meestal is so ‘n ou seilskippie van tot 300 jaar gelede geheel en al onder die sand bedek. Maar X was ‘n ekspert.

So het hy uitgevind van ‘n skip wat ‘n baie groot vrag tin op het. X het gesoek, en gevind – alles in die grootste geheimhouding. Nou moes die tin uitgehaal word, ook in die grootste geheimhouding.

X het op daardie stadium net een ander helper gehad, ‘n dinamietdeskundige, en as albei diep onder die water duik, het hulle iemand nodig gehad om die bootjie op die regte plek te hou, hulle tyd te monitor en te laat weet wanneer hulle moet opkom, altans dis hoe ek dit verstaan het.Wie anders is nou meer geskik as ‘n afgetrede ou omie,’n vriend van hulle, self ‘n besondere karakter en ‘n man wat die gevaarlike see net so goed soos hulle ken?

Daar was twee sulke omies op Struisbaai en L’Agulhas- groot visvangvriende en albei groot individue. Kom ons noem hulle Oom Fagan en Oom D.  Hierdie omies is ongelukkig albei lankal oorlede, maar die mense daar praat nou nog oor hulle- unieke karakters soos die Overbergers nou maar is.

So word die wrak oopgemaak, en tin word uitgehaal – ‘n skat van tin wat al honderde jare onder se see lê! En tin is duur! So ‘n tinstaaf is nie ‘n ligte ding nie. Dis ongeveer 100cm x 30cm x 30cm, of dalk groter, ek skat maar so uit geheue van lank gelede. Weerskante op die lang kante, was daar so ‘n langwerpige lip of oor waaraan ‘n mens die staaf kon optel- met moeite, want dit was swaar.

‘n Hele paar dae lank word geduik. Die wrak moet o.a. met dinamiet oopgeskiet word.

Die eerste dag wat daar van die tinstawe uitgehaal word,  is dit  Omie Fagan se beurt op die see. Hy kyk die spulletjie so en besluit dat hy ook mos hard werk hier op die bootjie. Tin is mos die ideale ding om spinners van te maak. Hy wil ook so ‘n staaf hê! Hy ken ook vir X en vriend baie goed. Hulle is mense wat hard werk en hard speel. Na so ‘n harde duiksessie gaan hulle hard kuier en sal nie sommer agterkom as daar een ou stafie weg is nie!

Die bootjie word bo tussen die duine op die land uitgery, waar niemand dit sal agterkom nie, en soos die stawe uitgelaai word, word hulle een vir een onder die sand agter die duin begrawe. Oom Fagan is nie links nie en begrawe ongemerk een staaf onder ‘n ander duin.  Die gaan hy toe  ‘n paar dae later stilletjies uithaal en gaan steek dit weg.

X en vriend kom natuurlik agter dat daar ‘n staaf kort- hulle weet mos hoeveel hulle uitgehaal het. Hulle ken ook Oom Fagan. Die ou bogger het natuurlik vir hom ook ‘n staaf gevat! Maar hulle kan mos niks bewys nie, en bowendien is die hele operasie mos hoogs onwettig en hoogs geheim, dus bly hulle doodstil en laat niemand agterkom dat hulle weet nie.

Oom Fagan was  hoogs in sy skik met sy tin, nie net oor die spinners nie , maar oor die hele seerower avontuur  en X en sy vriend  het ook nie te veel omgegee nie- hulle gaan mos nog baie kry en was in elk geval reeds skatryk van al die wrakke. There is honour among thieves.

Maar  wat gebeur toe volgende? Hierdie storie het nog ‘n paar draaie Klik hier op die blou woorde om die  deel 2 te lees)

Posted in Die Overberg: my wereld., idioomstories, Seestories | 23 Kommentaar

Ma se seksboek. Brief 20: Hoe ver?

Liewe Leanie, Annika en Lienkie

Julle wonder seker waarom ek nou in soveel detail beskryf wat julle eintlik eers moet uitvind in die huwelik?  Wel, gedagtig aan al die ‘moes’ troues deur die eeue, help dit nie om met oogklappe deur die lewe te gaan en te dink dat my eie kinders nooit voor die versoeking te staan sal kom nie.  Ek dink as ‘n mens al hierdie dinge VOOR  die huwelik weet, is jou kanse om te wag tot jy getroud is, beter.

Dit klink vergesog en wild, en miskien is dit ook, maar as jy kan leer om jou vriend seksueel te bevredig en hy vir jou, SONDER penetrasie, is julle behoefte tot volkome liggaamlike vereniging meer hanteerbaar.

Miskien praat ek nonsens.  Maar as ‘n mens reeds 4 jaar uitgaan, soos julle, Leanie, kan dit net moeilik wees om kuis te bly.  As ‘n mens dan ook voel dat julle definitief wil trou, maar nog nie finansieel gereed is nie, en die drange wil handuit ruk, is dit ‘n oplossing.  Maar wees uiters versigtig.!  Baie paartjies het al swanger geraak deur net met mekaar te ‘speel’.

Nouja, my ma sal tot in haar siel geskok wees, en baie ander ma’s ook.  Ek dink egter ek is redelik realisties as ek dink aan vandag se jongmense.  Ek self het laat getrou en algaande, weet julle reeds, gaan mens verder op die trappies en draai nie om nie.

Wees egter baie stadig.  Hou hierdie spel vir jou toekomstige huweliksmaat en nie sommer vir enige kerel nie.  Annika, jy en Conrad gaan nog nie lank genoeg uit nie!  En Lienkie, nou nog slegs drukkies en soentjies ( al is die ou ook hoe ernstig).  Soos met alle mense, is alle verhoudings ook uniek.  Wat vir een reg is, is nie vir ‘n ander reg nie.  Wees oopkop daaroor, maar om redelik ver te gaan met die ou wat jy jou lewensmaat wil maak, leer jou ook aspekte van hom ken wat bonuspunte of struikelblokke in die huwelik kan wees. Ek dink julle het drie pragtige vriende, maar julle ken hulle binneste beter as ek.

Lekker slaap en baie liefde.

Ma

Posted in Ma se seksboek | 2 Kommentaar

Vurige Suid Afrikaners

Toortsie en Olga  het nou ‘n ding hier beet, wat my nou weer aan ons vorige opdrag herinner: VUUR.

Daar is nog ‘n ding waaroor ons nog nie geskryf het nie: Vurige Suid Afrikaners.

Kyk, ons is mos al die jare ‘n koppige klompie. Kyk hoe het die Voortrekkers geredekawel en getwis waarheen hulle nou eintlik moes trek. En waarom het hulle nou eintlik weer besluit om te trek? Was dit nie omdat hulle ontevrede was nie?

Netso het die Overberg ontstaan: Omdat die dapperste en koppigste ( lees vurigste) boere besluit het om b0- oor daardie hoe Hottentotsholland berge te trek. So het hierdie Overberg mense elkeen hulle eie koppigheid gehad- niemand sou vir hulle voorskryf wat om waar en wanneer en hoe te doen nie. Die een was koppiger as die ander een, elk op sy eie unieke manier.

Daar was op Bredasdorp ‘n hele paar besondere karakters. Een van hulle was oom Snoekie wat so ‘n regte negosiewinkel gehad het. Elke middag het hy hom op die streepsakke vol koring-, meel- , suiker ens agter sy toonbank uitgestrek vir sy middagslapie. As  daar van sy “customers” in sy slaaptyd gekom het, het hy hulle weggewys en gese dat hy nou slaap. Hulle moet maar later weer kom!

My pa was ook ‘n ou karakter. Unieke ou omie was hy. Hulle was die mense wat die lewe interessant gemaak het, al wat dit nie altyd so maklik eom met hulle huis te hou nie.

Maar ek dwaal af. Die punt is dat ons ‘n vurige klompie korrelkoppe is, wat seker nodig is om te wees as jy in AFRIKA wil oorleef. Dit maak ook die lewe interessant. Die dat ons so lekker sterk voel oor goeters soos terroriste, die nuwe regering, die uitwyk na ander lande en ja, ook die TAAL.

Nou klets ons lekker oor taal, maar soms voel ek eintlik ons wat Afrikaans praat, is nie korrelkop genoeg nie! Ons laat onsself glo dat Afrikaans nie ‘n vaktaal is nie, nie ‘n besigheidstaal nie, ens. Ons stuur ons kinders soos vroeer, na Engelse skole, ons kla nie genoeg oor Engels op Stellenbosch nie, ons is soms heeltemal te ‘askies dat ek leef’.

Ek dink dat ons destyds met die aftakeling deur die Engelse ‘n minderwaardigheidsgevoel gekry het, en met die hele apartheidskwessie is dit versterk. En nou ly ons as volk aan depressie.   Of ons in SA bly of nie, kom ons maak ons kinders groot met nasietrots- soos die Amerikaners.  En leef dit uit: Trots Suid-Afrikaans.

Posted in Die Overberg: my wereld., die tale wat ons praat | 5 Kommentaar

VUUR

 ” Dis die vrolike vlam wat klap en kraak

en swaarkry tot lekkerkry maak

en die werk met lekkerkry klaar kry” (of so-iets) jare gelede deur Langenhoven geskryf. Ongelukkig le my Versamelde Werke nou ver hiervandaan en moet ek op my gebrekkige geheue staatmaak.

Ek het ‘n opdrag gekry van Olga af,  om oor vuur te skryf, en dis eintlik gevaarlik: ek is mos nou besig met ‘n seksboek!

Dink nou net daaraan dat vuur so ‘n belangrike rol in ons lewens speel, dat hy oral in die taal ook uitslaan: Hy is vurige vryer. Hulle het ‘n vuurwarm vryery aan die gang. Sy oe vlam van woede. Hulle is vuur en vlam vir die saak. Die nuus versprei soos ‘n veldbrand. Hy het baie brandewyn gedrink en is nou vuurwarm.Die chillies brand soos vuur. Fireballs is ronde lekkers. Moenie, verder moeilikheid soek nie, jy gaan net olie op die vuur gooi.  Hy brand van begeerte. Ens.

Watter vuur is vir my die lekkerste? Die braaivleisvuur? of miskien die kaggelvuur. Ek kan ure so in die vuur staar  en die vlammetjies bestudeer. Geen twee vure is ooit dieselfde nie, nes die see ook gedurigdeur verander. En soos ek nooit moeg raak om vier die see te kyk nie, so raak ek ook nooit moeg om vir sy teenoorgestelde, vuur, te kyk nie en my bene so behaaglik uit te strek  en lekker gekoester te voel in die warmte  van die vuurtjie nie. Miskien is dit die lekkerste van alles, dat die vuur, benewens sy noodsaaklikheid, sy potensiele gevaar  en sy dramatiese mooi voorkoms, ook so heerlik warm maak.

Nou is dit Leon, Skalk, en Dion se beurt, ne.

Posted in Los opdrifsels | 4 Kommentaar

Ma se seksboek. Brief 19: Vroulike seksuele ervaring

Liewe Leanie, Annika en Lientjie

Nouja, dit het tyd geword dat ons praat oor die vroulike seksuele ervaring……………………………………………………………………………..teks verwyder -in die boek volledig beskikbaar

Daar is meer as een soort orgasme. Die vaginale orgasme is……………………………………………………………………………………………….teks verwyder -in die boek volledig beskikbaar

Nouja, dit was ‘n mondvol.

Slaaptyd! Lekker slaap en liefde.

Ma.image

Ma, ek’s verlief, oftewel Ma se seksboek, is nou in die handel beskikbaar. Koste slegs R 35 +posgeld van R15 =R50.

Om u kopie te bestel, sms u naam en kontakbesonderhede na 0845874228.

Posted in Ma se seksboek | 5 Kommentaar

LIFE GOES ON

LIFE GOES ON …

Certain stages in life are pain

long stretched droughts without rain

barren earth beneath the rock

only the bones of an animal

 a withered flower

the memories of a lost love.

And yearning, yearning

one dwells in the past learning

not too easily

to accept

and try again.

But a wound is left to stay

the animal will not dart away

the flower will not bloom again

with the same vigor.

Still, life goes on

it rains again

the flowers bloom

the animals roam

until the next drought

the next stage

the next pain.

Posted in English blogs, gedigte en rympies (seestrome van verlange), idioomstories, Los opdrifsels | Tagged , , , , , , | 4 Kommentaar

Ma se seksboek. Boek 18: Die manlike ego

Liewe Leanie, Annika en Lienkie

Miskien moet ons nou eers ‘n bietjie gesels oor die manlike ego.

Ai, toggie die ego!  Aan die een kant is hy so verseker van homself, aan die anderkant kry die ego so maklik seer.  En hy moet die heeltyd “geboost” word. Deur jou!

Kyk maar hoe geniet die ouens die aandag van die meisies.  En hoe maklik val hulle as ‘n meisie haar flikkers vir hom gooi. Hy kom nie agter as sy by hom probeer aanle nie, hy dink net dis ‘n oulike meisie – en kom sy fout later agter.

Die wat baie meisies kry wat om  hulle draai, maak  dikwels maklik misbruik daarvan.  Maar hulle soek ook die aandagg van daardie een wat hom ignoreer.Hy wil ook haar aandag he. Maar die weet julle nou reeds.

Kom ons kyk na julle eie ouens.  Hulle wil ook baie graag die aandag en vleitaal he- maar van julle, want julle is die meisies wat hulle gekies het.  Moenie nalaat om hulle te komplimenteer en te prys nie.  Dit laat hulle lekker en geliefd voel. Bovenal is dit goeie maniere.

Wees altyd opreg, maar soek iets waaroor jy hom kan prys.  As hy vleis gebraai het, se virr hom hy het die vleis lekker gebraai( in plaas van : dit was lekker,)  As hy jou uitneem erens heen, se vir hom hy het ‘n wonderlike idee gehad ( in plaas van: dit was ‘n lekker aand) ens.

Hy het dit nodig om te voel dat hy reg doen.

Om die waarheid te se, hy wil graag soos ‘n koning voel.   Jy hoef  nie onderdanig te wees nie, maar daar is waarheid in die gesegde:” ‘n Man soek sy vrou kaalvoet en in die kombuis”.

Daar is klein dingetjies wat vir hulle baie belangrik is ( hoe simpel dit ookal mag klink). Bv: As ‘n ou of man by die huis  kom, soek hy sy meisie of sy vrou daar.  Hoekom weet geen mens nie, maar as julle nie daar is nie, is hulle ego gekrenk.  Hulle voel nie so geliefd nie. Miles, my Engelse vriend, het eendag heel ontsteld vir my gese: “When I come home, I want you here!” (en ons was nie eers getroud nie en dit was my ma- hulle se huis, nie syne nie!).. As julle my nie glo nie, vra maar ‘n paar getroude vrouens.  So sorg maar dat julle daar is as hy huis toe kom, en dra sy koffie/tee aan!( en wat van sy pantoffels, later?!)

Lees gerus die boek van Arnold Moll( ja, die oulike Michael Moll se pa): “Vrou van ‘n gelukkige man”.

Verder moet die man mos tradisioneel die leiding neem in alles.  Veral met deesdae se gelyke regte vir vroue ens, sukkel die mans maar om hulleself te handhaaf.

Dink hoe moeilik dit vir jou sal wees om na ‘n ou toe te gaan en hom te vra om die aand saam met jou te gaan koffie drink/ fliek/ dans of watookal.  Dink hoe jy sal voel as die ou se:” Nee dankie, ek stel nie belang nie”. Dink hoe jy sal voel as jy na jou ou toe gaan en hom wil omhels en soen en hy stoot jou weg en se:” Nee wag, nie nou nie” of “Hou nou eers op!”

Vir ‘n ou is hierdie wegstoot – verwerping, net so erg of erger as vir ons.  Dit tas hulle manlike ego aan.  Moenie verbaas wees as hy vir jou kwaad word nie!

Hoe dan gemaak?  Moet hom nie wegstoot nie, maar wees eerder spelerig of gesels baie, of so-iets.  Dis maar moeilik, maar probeer om hom nooit direk weg te stoot nie.  Eintlik wil jy net he hy moet stdiger op die trappies, Maar jy tas sy ego aan en dit voel vir hom soos verwerping.

Die Bybel leer ons dat huweliksmaats mekaar nooit seksuele omgang moet weier nie. 1 Kor 7: 1-5. gee die volgende raad oor die huwelik:” Ek kom nou by die dinge waaroor aan my geskryf het. Dit is goed vir ‘n man om sonder ‘n vrou te lewe, maar weens die gevare van onsedelikheid behoort elke man sy eie vrou te he en elke vrou haar eie man.  Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakaom, en net so ook die vrou teenoor haar man. Die vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar die man: netso beskik die man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar die vrou. Moenie mekaar omgang weier nie, behalwe met wedersydse toestemming en net vir ‘n bepaalde tyd 0m julle aan die gebed te wy.  Daarna moet julle weer saamkom, sodat die Satan julle nie miskien weens julle gebrek aan selfbeheersing verlei nie.”

Daar is baie wysheid hierin. Onthou dit as julle eendag self getroud is.

Maar nou is julle jonk en ongetroud en wil die outjie graag he jy moet keer.  Hy soek ‘n vrou met hoe sedes.   Dit help as hy weet hoe jy voel oor sake, maar selfs dan sal jy dalk moet keer. Speel met hom, lag, druk ‘n lekker in sy kies, maar stop hom op so ‘n manier wat nie sy ego aantas nie.

Andersinds streel jy sy ego waar jy kan, en jy het ‘n gelukkige kerel.

Lekker slaap  en baie liefde my kinders, more praat ons verder.

Ma

Posted in Ma se seksboek | 4 Kommentaar

Alle paaie gaan na Kaapstad

Ek ry gister hier weg, op pad Kaap toe, en opnuut verwonder ek my oor die ongelooflike mooi pad wat ons so dikwels moet ry. Vir iemand wat in die vaal, plat Vrystaat grootgeword het, is die pad Kaap toe elke keer ‘n wonderskone ervaring.

Eers is daar die op en af bultjies- die ruens. Jy kan vergeet om hier by ‘n ander motor verby te gaan, want die bultjies is op en af, soos golwe op die see, en jy kan glad nie sien wat voor aankom nie.

Dan is daar die blou berge in die verte, kleurvol verby. Die van julle wat as kind comics gelees het, sal dalk Jumbo the Friendly Giant onthou. Hy het altyd met sy rug teen so ‘n kleurvolle berg gele, met sy bene op sulke pragtige groen en bruin lande en die denneboompies het so oral rondom hom gegroei. Wel ons land lyk so: kleurvol groen en geel in die winter, met hier en daar bietjie pers, nou geelroom en bruin met hier en daar bietjie groen. Nooit net een kleur nie, altyd ‘n ryk palet van kleure , met die blou en pers strokiesverhaalberge om die rante.

Iewers op ‘n land is daar altyd ‘n paar skape, spierwit na hulle geskeer is, of vaal van die stof met hulle lang wolle. En iewers op die pad, sien jy waarskynlik ook ‘n wildsbokkie of twee en ‘n paar bloukraanvoels.

Dan klim jy op, deur die Houwhoek pas ( mooi naam, ne) en uiteindelik ( met die moontlikheid van bobbejane langs die pad) is jy heel bo op Sir Lowrey’s pas – en daar le die groot blou dam! Pragtig verby.

Dis sommer die gewone pad Kaap toe.

Dan is daar die kuspad. By van Brakelstoor (wat ‘n naam vir ‘n plek in die middel van niks!) draai jy af van die gewone pad, en dan ry jy pragtige heuwels en valleie binne, tot verby Stanford en Hermanus, daardie karaktervolle dorpies, en dan moet jy tog net nie die afdraai na Kleinmond misry nie ( soos my kinders eenkeer gedoen het- en weer op die sir Lowreyspaspad beland het). As jy nou Kleinmondafdraai gevind het, en net aanhou, kom jy op seker een van die mooiste paaie in die hele wereld. Al langs die see ry jy, kronkel- kronkel: afgrond en blou see links, hoë kranse van hoe berge regs. Ek onthou hoe ek en my jongste eendag met sononder daar gery het. Die son het ‘n pienk streep oor die hele lengte van die see gemaak, ongelooflik mooi, en onder, in die pienk lig, het ‘n skool dolfyne geswem- onbeskryflik.

Die van julle wat nog nie hierdie pad gery het nie, moet Kaap toe kom- julle het ‘n pad of twee om hier te kom ry!

Invoeging; Julie2016. Intussen hier hierdie kuspad net verbeter! Die pad tussen Bredasdorp, oor Elim en Baardskeerdersbos is intussen geteer, en hoe mooi is die nie! Nadat jy dalk by een van die wynplase op die pad gaan wyn proe het, kom jy eers by Elim, die ou morawiese sendingstasie met sy waterwiel, pragtige rye rietdakhuisies en vyebome. Elim se manne is expert rietdakdekkers.

Dan kry jy Baardskeerdersbos, ‘n dorpie enig in sy soort, wat vroeer baie afgelee was, maar vandag nog net so primitief, maar vakansieplek van die rykes geword het. Expect the unexpected! Dan kom ‘n mens by Gansbaai, daar waar jy na die haaie onder die water kan gaan kyk as jy dapper is, en die lieflike De Kelders waar jy die walvisse in die baai kan sien baljaar. Ongelooflik mooi. dan verder tot by Stanford en Hermanus soos bo beskryf.

Maar gister het ek die pad geneem wat tans die minste verkeer het en die maklikste ry: Die  Franshoekpas. Hoë berge, kronkels en 340 grade draaie, diep skeure, pragtige fynbos, ‘n belewenis. Onder in die vallei die mooi ou dorpie met al sy restourante , kunsgallerye en natuurlik sy Hugenote monument.

Daarna Stellenbosch,  die droomwereld: ‘n  tuin met huise tussenin, soos my kind hom graag beskryf, en uiteindelik Kaapstad, met sy mooi berg.

Ek ry die pad, en dink hoe wonderlik bevoorreg ons is om al hierdie natuurskoon te beleef- sommerso op ‘n gewone dag, wanneer ons Kaap toe jaag vir besigheid, dokters of kinders.

En ek dank God vir die genade.

Posted in Die Overberg: my wereld., idioomstories, Los opdrifsels | 20 Kommentaar

Ma se seksboek . Brief 17: Waarom wag?

Liewe Leanie, Annika en Lienkie

Kom ons kom ‘n bietjie terug na die fisiese verhouding tussen man en vrou.  As twee mense lief is vir mekaar, onwikkel die fisiese verhouding spontaan.  Kom ons veronderstel julle het vir julle ma geluister en die ou bietjie teruggehou( en ook julleself) en stadig  gegaan met die fisiese verhouding.

Soos julle verhouding groei, so sal julle fisiese verhouding groei en die behoefte na mekaar groter.  Naderhand is soen net nie meer genoeg nie!( LW, Lienkie, jy is nog baie jonk.  Daar le nog baie jare voor voordat jy kan dink aan trou.  Op jou ouderdom is drukkies, soentjies en lekker lang omhelsings genoeg!  Moenie verder gaan nie, spaar uit vir later!)

Julle sal begin wens die ou wil ‘n bietjie verder gaan.   Hy wil natuurlik lankal verder gaan en sal altyd probeer, maar nou sal jy hom toelaat. Onthou tog stadig op die trappies!

Tog, jy sal ‘n verandering in jou lyf bemerk.  Soos hy al lankal die drang tot seksuele omgang het, sal jy ook begin om baie opgewonde te raak.  Jy sal vind dat jou bekkenvloerspiere sterk saamtrek om jou gereed te maak. Onthou egter dat jy graag wil wag tot jy getroud is.

Ek glo regtig dat kondome nie die antwoord is nie.  Navorsing het ook nou bewys dat al die VIGS-voorkomingsprogramme totaal onsuksesvol was. Hierdie programme verkondig almal dat mens tog net asseblief ‘n kondoom moet gebruik, en het oral in die badkamers gratis kondome neergesit. Wel, ek glo nie daaraan nie.

Eerstens is kondome nie 100% veilig nie – en ons familie is SUPER vrugbaar( vgl. Julle oumagrootjie se 11 kinders, almal met kinders, en hulle kinders ook weer almal met kinders. Net een onbesonne misstap is genoeg om jou hele lewe te verander.

Onthou ook die hoofdoel van die seksdaad, naamlik voortplanting.  Ons glo dat God wil he dit moet BINNE die huwelik gebeur. As dit nie so was nie, sou ons nie emosionele verbintenisse ( liefde!) gehad het nie, en sou seks nie iets gewees het wat ons so geweldig emosioneel geraak het nie.

Soos dit nou is, raak ‘n mens lief vir iemand en geheg aan hom en wil by hom bly.  Ek glo dit is so sodat die ou babatjie wat gebore word, ‘n pa en ‘n ma kan he.  Hy het albei ouers nodig om ‘n gebalanseerde volwassene te word.

Die Bybel se ook dat die man en vrou ” een  vlees” word en dat dit wat God saamgevoeg het, geen mens mag skei nie.  Die huwelik is die wettigmaking van hierdie verbintenis.  Dit is die kroon op julle emosionele sowel as julle fisiese verhouding.. Wag dus tot jy getroud is.  Moenie hierdie grootse avontuur bederf nie.

Dis makliker gese as gedoen as ‘n mens lank uitgaan.  Leanie en Anika, dit kan regtig moeilik raak en later kan ‘n mens dalk voel, ag waarom nie, ons gaan tog trou?

Moenie! Hou uit, wag!  Jy wil nie graag die res van jou lewe teleurgesteld in jouself wees nie.  Jy wil ook graag eendag jou eie kinders met eerlikheid reg kan leer.

Dit is baie gevra, maar julle is kosbaar. Julle sal nooit spyt wees dat julle gewag het nie, glo my.

Lekker slaap en baie liefde.

Ma

Posted in Ma se seksboek | 8 Kommentaar

Ma se seksboek. Brief 16: Uitmaak

Liewe kinders

Ek is baie lief vir julle. Ek sal so graag elkeen wil beskerm teen hartseer en graag wil he julle moet altyd so gelukkig wees met julle kerels soos julle nou is. Ek kan maar net bid.

Maar waar daar liefde en geluk is, is daar gewoonlik ook pyn. So is die lewe maar. En as daar dalk pyn oor julle pad kom, huil gerus en treur, maar onthou altyd dat die lewe aangaan en dat daar weer nuwe geluk in die toekoms wag. Moet nooit dink die einde van ‘n verhouding is die einde van geluk nie. God is goed. En tyd heel wonde. Maar wat praat ek alles. Julle het nou al 3 sulke gawe ouens. Geniet hulle.

Lekker slaap en baie liefde.
Ma

Posted in Ma se seksboek | 2 Kommentaar

Sondagaand blues

Dis Sondagaand. Dit reen al heeldag so triestig-triestig. Nou, noudat die boere oes. Gaan dit hulle benadeel? Is dit sleg of nie? Ons het die water so nodig- maar nou?

In elk geval: Hier sit ek koud en triestig en het die Sondagmiddag depro. Kry julle dit ook, daardie lam velange na jy weet nie wat nie, en lang sugte en vae drome van dinge lank verby en dinge wat buite bereik is en sommer net so ‘n”sad” gevoel ” in general”?

Dis dan wanneer ek die telefoon optel en my ma bel ( maar sy leef nie meer nie). Of die hond gryp en om die blok stap ( maar dit reen), of blog (sonder dat ek eintlik iets konstruktiefs het om te se……) .

 Kry jy ook die blues? En wat maak jy dan?

 Ek het nou net ‘n idee gekry: Ek gaan pannekoek bak!( maar daar is nie eiers nie….)

Posted in Los opdrifsels | 7 Kommentaar

Ma se seksboek. Brief 15: Voels van verkeerde vere

Liewe Leanie, Annika en Lienkie

Julle pa het my stukkie oor verhoudings en verstand gelees.  Hy het my op ‘n belangrike puntjie gewys. ‘n Jakkels verander van haar, maar nie van streke nie. Anders gestel: ‘n Voel verander van veer, maar nie van kleur nie!  As ‘n persoon bv. ‘n drinker is, gaan hy nie ophou nie, as hy eenmaal sy meisie kul, gaan hy nie nou ‘n soet seuntjie word nie.  ‘n Ou wat eenkeer sy meisie hardhandig behandel, gaan dit weer doen.

Moet nooit, ooit dink dat jy ‘n man gaan verander nie.  Hy sal om verrgiffenis vra, hy sal sy goeie voetjie voorsit om jou te kry ,hy sal wonderlike beloftes maak, maar op die ou end keer hy terug na sy eie ware karakter.  En die persoon wat die seerste kry is jy.

Daarmee impliseer ek nie dat jy nie iemand moet vergewe nie, natuurlike moet jy, maar julle is jonk en ongetroud.  Dit is nie nodig dat jy iemand wat jou baie teleurgestel het, nog ‘n kans hoef te gee nie.

Dit is miskien nou hartseer om afskeid te neem, maar eerder nou as later, wanneer jy getroud is. Dan is die hartseer baie erger en die drama( om te skei) baie, baie groter.

Daar is baie visse in die see. Waarom jouself blootstel aan nog seerkry? Al se jou hart ook wat,  gebruik jou verstand en se nee.

Lekker slaap en liefde.

Ma

Posted in idioomstories, Ma se seksboek | Lewer kommentaar

Ma se seksboek . Brief 14: Geloof

Liewe Leanie, Annika en lienkie

Dit bring ons by die volgende aspek: GELOOF.

Julle gaan nou al drie vas uit. Bid vir God om vir julle die pad te wys – is dit die regte ou vir jou? Bid vir julle verhouding. Bid vir jou ou!

Bid ook saam met jou ou. As julle twee saam oor julle geloof kan praat, as julle saam kan bid, is dit wonderlik.

Geloof ( of die gebrek daaraan) is vir alle mense ‘n rigtingwyser en ‘n anker ( of nie). Sonder geloof raak ‘n mens maklik drywend. Geloof dra ‘n mens deur diep waters, dit hou jou op die regte pad, dit bind jou saam. Bid alleen, maar ook saam en jy sal sien dat julle verhouding ‘n nuwer, dieper dimensie kry. God sal vir julle duidelikheid gee oor baie dinge. Hy sal julle dra en beskerm.

Bid vir jou ou!

Lekker slaap en liefde.

Ma

Posted in Ma se seksboek | 4 Kommentaar