Wie se skuld is dit? As daar iets verkeerd gebeur, is dit een van die eerste vrae wat by ‘n mens opkom. Iets of iemand moet die skuld dra!
Nou het Herriemerrie vanoggend so mooi daaroor geskryf. Vandat rekenaars die wereld ingekom het, het mense dit bestempel as satanisties en heidens en sondig. Selfde met MXit en nou Facebook. En Herriemerrie het tereg gese dat dit die mense is, nie die programme nie ,wat verantwoordelik is vir hulle dade.
Die feit is , mense wil hulleself ( en hulle vriende?) so graag verontskuldig. Hulle weier dus om verantwoordelikheid vir hulle dade te aanvaar.
Ons het hier op Bredasdorp ‘n restourant en ook ‘n kuierplek. Toegegee, die kuierplek het ‘n swak naam gehad toe my man dit gekoop het. Die “swak naam” bring my nou ook sommer weer by ‘n ding. Waarom het hy ‘n swak naam gehad? Was hy vuil? NEE. Was dit nare mense wat hom gehad het? NEE. Was die drank sleg? NEE. Wat was dan fout? Die klante? Kan jy kies wie na jou besigheid toe kom? NEE. Jy kan slegs optree wanneer iemand hom wangedra.
Ons het die plek opgegradeer en probeer om ‘n sekere gedragskode te handhaaf. Ek glo dit werk. Mense kom daarheen om lekker te kom dans en hulle geniet dit baie. Daar is egter ook van tyd tot tyd iemand wat hom wil wangedra . Hy word aangespreek of gevra om die perseel te verlaat.
Maar ons kry nogal baie kritiek van mense wat voel so ‘n plek is”verkeerd”.
Ek self was nog altyd baie lief vir lekker dans, en dis vir my mooi om te sien hoe die jong klomp, en ook die wat nie so jonk is nie, lekker sakkie-sakkie en ook los dans. En daar is ‘n jong boer in die omgewing wat fantasties hip-hop of breakdance of wat jy dit ookal noem.
Toe hoor ek die ou storie dat dans kan lei tot sonde, veral egbreuk. ( Volgens ons kerk was dans mos sonde – omdat dit tot sonde kan lei. Tot vandag toe mag ‘n mens nog nie in NG kerksaal dans nie, al is dans deesdae ‘n skoolvak en ‘n sport by die Olimpiese spele. Ballet en Ballroom, hip hop as dit op die verhoog gedoen word en moderne danse is blykbaar nie sonde nie, ook nie die sg Christelike danse nie, maar behoede jou as jy sosiaal wil dans met jou man of vriend of selfs in ‘n kring met jou vriendinne. Die dat troues waar die paartjie wil dans, nie in die kerksaal gehou mag word nie. Daar is mos dans EN wyn – ooooo sonde, al het onse JESUS self wyn gemaak vir ‘n troue. wyn word ook by die nagmaal gebruik.
Die redenasie is blykbaar dat dans kan lei tot sonde en egbreuk. Alkohol kan weer lei tot alkoholmisbruik.
Hallooooo! Kan jy ‘n plek die skuld gee vir ‘n mens se sonde? Kan mxit verantwoordelik wees vir tieners se ondergang? Of faceboek? Of dans? Of selfs alkohol? En ja selfs dwelms?
Wel , ek het nuus vir almal wat so redeneer. Die meeste buite- egtelike verhoudings ontstaan NIE op die dansvloer nie, maar in die werksplek – bewys deur statistieke en navorsing. Gaan lees maar enige boek oor ontrouheid in die huwelik.
Dit beteken dat ons eintlik nie moet gaan werk nie- dit kan lei tot sonde! Ons moet ook nie motor bestuur nie- dit kan lei tot ongelukke. Ons moet nie op straat loop nie. Dit kan lei tot aanrandings. Ons moet nie asemhaal nie. Dit kan lei tot dodelike siektes.
Eintlik moet ons nie lewe nie, want as jy lewe, kan jy maar verseker wees, gaan jy iets verkeerd doen omdat die wereld so boos is – nie jyself arme onskuldige bloedjie nie.
So ‘n redenasie is mos belaglik! ‘n Mens is ‘n wese met ‘n eie wil en taamlik baie vryheid. As hy verkeerde goed op facebook, mxit of sommer rekenaars in die algemeen wil doen, is dit sy eie skuld. As hy te veel wil drink of losbandig wil lewe, is dit sy eie skuld, nie die alkohol, of die plek se skuld nie. En as hy verkeerde goed wil dink terwyl mense lekker saam beweeg op lekker musiek, is dit sy eie skuld.
Dan is daar nog die verontskuldiging vir iemand se optrede: Siestog, hy het al swaar gekry agv moeilike huislike of ander omstandighede. Hoewel ‘n mens empatie het met so ‘n persoon en hom/haar graag sal wil help, moet ons net asseblief ook besef: Die lewe is nie regverdig nie. Ons het al almal swaar gekry. Waarom gaan party dan onder en ander strewe die hoer morele waardes na? Is die nie omdat party veranwoordelikhied vir hulle eie dade aanvaar en ander nie?
Kom ons leer dus ons kinders verantwoordelikheid – teenoor ander mense, hulle troeteldiere, hulle werk, maar veral teenoor hulleself. Jy is verantwoordelik vir jou eie gedrag, goed of sleg, jy is ook verantwoordelik vir jou eie geluk. Hou op om ander mense, plekke, drank, dwelms, mxit, facebook, of wat ookal die skuld te gee vir dit wat jy self doen.
En hopelik het jy ‘n anker in die geloof om jou te help.
Ek wonder altyd hoeveel beter die wêreld sal wees as mense verantwoordelikheid moet aanvaar vir hulle dade. Die vingerwysery vererger net alles en laat mense nie hand in eie boesem slaan nie. Hulle herhaal dus alles weer en wys dan net weer vingers.
Nes jy se, Xena. Vingerwys is die maklike uitweg, en jy ontken jou eie verantwoordelikheid.
HA-HA!
Die NG gemeentes mag nie in die kerksaal dans nie en die doppers mag GLAD NIE dans nie!
die oer-oue probleem – ek wil maak wat ek wil waar ek wil wanneer ek wil en nie die verantwoordelikheid daarvoor neem nie!! en dan soms sê iemand heel onskuldig iets in ‘n grap, dalk glad nie bewus van geraamtes in die kas nie, en DAN IS JY SOMMER SKULDIG!! gmf
Ja, die mensdom, ne! Maar ek slaan my hande saam oor die eng idees wat mense soms het van wat reg en verkeerd is en wat die redes is wat hulle aanvoer. Toegegee, sommige is om mense te beskerm, dikwels teen hulleself, bv wette teen die gebruik van dwelms. Ander is bloot belaglik, bv dat jy nie die ou woorde( dws die direkte vertaling) van Stille Nag meer in die kerk moet sing nie, want dit klink te “Rooms”.
Ag nee wat, as ek wil dans dan dans ek en as hulle wil dink dis duiwels dan woon die duiwel omtrent permanent in my huis – want hier dans ons.
Iets of iemand moet altyd die skuld kry maar nooit ooit die eienaar van daai vingers wat die knoppies druk nie – o nee.