Hierdie is deel 3 van die storie. Klik hier om vanaf deel 1 te lees.
X, die diepseeduiker , was ‘n baie interessante man. As kaptein van die Suid Afrikaanse Olimpiese diepsee duikspan in die dae voordat Suid Afrika uit die Olimpiese spele verban is, was hy nie ‘n sommerso duikertjie nie. ‘n Mens kan boeke oor hom skryf, en in boeke oor skeepswrakke, sal jy beslis sy naam kry.
Ek weet van ‘n geval vroeër jare, toe daar ‘n perongeluk belangrike weermagtoerusting in die see by Waenhuiskrans beland het. Die lugmag het vir X gevra om dit te gaan soek. Hy moes dit net vind, hulle sou dit uithaal. Daarvoor is hy ‘n klein fortuintjie aangebied. X het dit binne 20 minute gekry en was onmiddellik duisende rande( en in vandag se dae seker’n miljoen ?) ryker.
Maar hard werk, hard speel, dit was hy ook. Ek weet van ‘n keer toe hy lus was vir ‘n dop. Struisbaai Motel se kroeg was toe- dit was na-ure. X het eenvoudig bo-oor die muur geklim (dit was ‘n rietdak en die muur het nie tot bo teen die dak gegaan nie) sy drank gevat, die geld daar neergesit, asook die geld vir die glase en bottels wat hy in die proses gebreek het, en weer verder gaan kuier saam met sy vriende. So was hy.
Voor sy huis op Struisbaai was 2 pragtige reuse outydse kannonne wat X ook van een of ander wrak afgehaal het. Met een nuwejaar besluit hy om ‘n kanon af e vuur en skiet per ongeluk ‘n gat dwarsdeur die buurman se dak!
Oom D se familie het gese ek mag maar sy naam noem, maar my man het my gewaarsku om versigtig te wees, so ons hou hom maar oom D. Hy was jare lank die vuurtoringwagter op L’Agulhas en ‘n wonderlike karakter. Oom D was ‘n man van vele talente, en kon pragtig skilder, maar veral het hy ‘n ongelooflike kennis en liefde vir die see gehad. Vandag nog praat die mense van hom.
Oom D het graag met sy roeibootjie so ‘n entjie see-in gevaar, en dan die wonderlikste vis gevang. Op ‘n dag het oom D bietjie verder gevaar en is sy boot perongeluk omgekeer deur ‘n walvis.Dit was heeltemal te ver om land toe te swem, maar oom D het geweet dat hy net op sy rug moes dryf, en dat die see hom dan verderaan sou uitspoel. Dit het die see ook gedoen, ek dink 2 dae later. Intussen het almal gedink dat hy verdrink het. Maar nie oom D nie, nee, soos hy geweet het, het die see hom anderkant Suiderstrand uitgespoel, en hy het van daar af weer huis toe geloop. ‘n Man van staal en avontuur.
Oom Fagan was ook enig in sy soort. Bo-baas visserman met ongelooflike kennis van literatuur, en veral ‘n pragtige stem. Hy het nie geskroom om sommer by enige vreemde tent in te stap , homself bekend te stel en te gesels nie. So het almal hom later geken en ook van hom gehou, want hy kon interressant gesels. As hy ry, het hy altyd gesing- “Tru-la-lu-la lula”, “I’m in love with Vienna”, Galway bay. Ek dink baie keer as hy ‘n loopbaan van sang gemaak het, sou hy dalk net so gewild soos ou Blue Eyes gewees het. Hy het ‘n pragtige stem en die regte persoonlikheid gehad. Nie ‘n skaam haar op sy kop nie en in geen vormpie gegiet nie. Die dat mense vandag nog oor hom praat.
Oom Fagan het destyds die eerste koeldrankfabriek op Bredasdorp begin, nog voordat Coca Cola in Suid Afrika was,en het later op Struisbaai afgetree. Almal hier rond het geweet dat die twee buurdorpies, Napier en Bredasdorp, aardsvyande was en wanneer iemand oom Fagan gevra het hoe dit gaan, het hy altyd geantwoord:” Ag man, die hele wêreld is reg -en die helfte van Napier ook!”
Hy was ‘n ligte gerei-hengelaar en het sy vissie ‘gespeel’. Met sy slap stokkie, soos die mense dit genoem het, het hy partykeer die ongelooflikste visse uitgetrek. Dit was ook vir hom geen snaaksigheid om dou voor dag af te stap Mond toe en terug nie, ‘n afstand van seker so 10 km een rigting.
Toe oom Fagan op 72 jarige ouderdom in Pretoria gaan kuier, wou hy dieretuin toe. Hy is daar afgelaai en mooi vertel van die busse ens. Maar daardie aand kom hy aangestap na sy dogter se huis in Valhalla. Na ‘n hele dag in die dieretuin besluit hy toe sommer om liewers huis toe te stap- na die onderste punt van Valalla toe!
Hierdie 3 unieke karakters het dus aanklank gevind by mekaar en was goeie vriende. ‘Birds of a feather flock together’.
Die dag na die tinstropery, nooi X die twee ou omies vir ‘n dop. Toe word oom D lekker geterg oor sy tinstelery. Hy was uitoorlê en het maar lekker saamgelag. Oom Fagan was egter ‘n ou pokerspeler. Hoewel daar skimpe gegooi is, en hoewel hy nooit sou jok nie, het hy hom dom gehou en hulle kon niks uit hom wys word nie. Daardie jare het hy sy kar met sleutel en al in ‘n oop garage parkeer en enigiemand kon daar gaan soek het. Ek sal nie verbaas wees as X-hulle skelmpies daar gaan rondloer het nie.
Maar wat het oom Fagan dan met die tin gemaak?( Klik hier om deel 4 te lees).
Spinners? X hulle was gulsig om nie die arme oom d sy tinstafie te gun nie. 😉
seewier! hierdie storie raak al hoe interessanter. ek onthou die huis met die kanonne!! kan nou net nie onthou of hulle nog altyd daar staan nie, gaan die naweek kyk!! endan dink ek ook ek weet wie die lughuisman is. ag, as ek net die letters kan onthou!!! hoor hier, my pelle vertel almal hoe hulle angstig wag vir NOG ‘n episode!! (ek ook!!)
en as ek dit nie mis het nie – is die foto daar by die ou skip se omgewing geneem??
nee, dit kan nie daar wees nie, daar is ‘n bankie…
Dis daar so halfpad tussen Struisbaai en L’Agulhas. Die huis met die kanonne was net so regs van die hawe, maar die kanonne is jare gelede reeds verwyder toe die huis verkoop is, dink ek. Hy het natuurlik ‘n blanko tjek gegee vir die regmaak van die dak van sy buurman regoor die straatjie. Dit was ‘n groot kanon en ‘n groot gat.
Dankie dat julle lees. Ek het altyd die ou ooms se manewales baie geniet, al was dit maar hulle eie klein avontuurtjies op ‘n baie klein plekkie.
And we will tell you who the winner is……after the break!
Eish!
Die storie is nou so Tipies wat ek noem die ooms met die “karakter” Jy weet mos as jy so persoon raakloop, of leer ken, hoe ook al… Daar is net daardie “karakter” wat jy vir altyd sal onthou, soveel mense loop so deur jou lewenspad en jy sien letterlik duisende mense, maar daar is net so handjie vol wat jy so goed sal onthou want hulle het daardie tiepe van “karaktereienskap ” wat jou absoluut geboei het en so sy merkie in jou geheue kom maak lê het, … jy onthou hulle vir altyd.
Hierdie storie van jou, en die drie vrinne, is sulke mense wat se storie vir altyd oorvertel sal word. Dis pragtig, mens leef jou so in, in hul stukkie lewens verhaal.
Seegogga;
Ek het nie ‘n blog nie, ek boemel maar so rond en dan lees ek julle ouens raak daar in Ingrid se Kombuis,.. waar ek my skoentjies gewoonlik uitskop en met my pooitjies op die tafel gaan sit en koffie drink, lekkerste koffie in die land! 😉 So beland ek dan op sulke oulike blogs soos Seegogga s’n !! en Toortsie, en Skorie, almal wat so lekker kan skryf.
Ek het nou een keer te veel van daai koffie gehoor! Hoe kom ek by dié kombuis van Ingrid uit Smurf?
Sonlig;
Ek plaas vir jou die link hier na die kombuis toe, hoop nie Seegogga knyp my met daardie knypers nie, het nou nie haar toestemming gevra nie maar sy lyk heel vriendelik al het sy so paar knypers 😉
http://ingridventer.wordpress.com/
Nou waarom sal ek wil knyp? Nou leer ek ook sommer hoe om ‘n link te plaas.
Dankie Smurf en Skulpie! Sien julle daar!
Beautiful picture!!!
when I think here is winter and there is summer…. how particular!
Is this a novel… or just a remembering of the past? Well, Mr. X or your Uncle could for sure add some more suspence…
Since I love to write, I’m always very noisy… into other people stories!!!
Just dropping by… with a lot of curiousity, from a country very very far away
Serenity
:-)claudine
http://claudine2007.splinder.com
Hallo Claudine, welcome to my blog! No this is not a novel, it is just one of the things that actually happened in the days of yesteryear in a very small little town. If you understand Afrikaans you are probably from South Africa? And perhaps living in Spain or Italy?
Terug pieng: Seerowers! (Deel 2) | Seegogga se Bloggie