Ouma se bababoek. Brief 3: Slapies by mamma?

Goeienaand Leanie, Annika en Lienkie

Vandag wil ek praat oor’n ding waar die mense jare lank al oor stry. Slaaptyd!

Kom ons gaan terug na die natuur.  Soogdiere versorg mos hulle kleintjies tot hulle groot is. Kleintjies slaap baie en soms moet die mamma -dier hulle alleen laat om te gaan jag vir kos. Dis gewoonlik terwyl hulle slaap. As sy hulle hoor huil, kom sy egter dadelik na hulle toe.

Maar soms moet die mamma -dier ook slaap, rus of ontspan. Waar gaan slaap sy? Los sy haar babas op een plek en gaan slaap agter die bult op ‘n ander plek? Ek kan my nou nie indink dat ek weet van een dier wat dit met sy pap klein babatjie doen nie. Die mamma-hond, kat, bok, olifant, muis, noem maar op, is soveel moontlik by sy babatjie, hoe kleiner die babajie, hoe meer.

Primate ( apies, bobbejane sjimpansees ens) se kleintjies is sommer die heeltyd by hulle. Die kleintjies klou vir lewe en dood van aan die ma en gaan sommer oral saam. Geen bababobbejaantjie slaap in een boom en sy ma in ‘n ander boom nie! Kangaroos ea het selfs ‘n spesiale buidel waarin die kleintjie bly en soort van permanent hom aan die ma vasheg tot ‘n sekere ouderdom.

Nou wat is dit dan nou met die moderne mens dat hy dink die beste ding is vir sy piepklein, pasgebore, hulpelose babatjie om in een kamer te slaap met sy ma myle van hom af in ‘n ander kamer, daar waar sy hom skaars kan hoor? Wie op die aarde het so ‘n simpel plan uitgedink? Dalk een of ander man wat sy vrou net vir homself wil he?

Sover ek weet, het die oermense hulle babatjies by hulle gehad, nes die ander primate (en of ons dit nou wil weet of nie- ons is ook primate en dit doen niks afbreuk aan ons geloof nie). Maar erens, soos die beskawing gevorder het, het mense begin om al minder en minder fisies betrokke te raak by mekaar en by hulle kinders. (Ek sal nie verbaas wees as die Britte se ‘stiff upper lip’ iets hiermee te doen het nie, maar voordat ek heeltemal aangekla word van rassisme, sal ek liewer hierdie woorde terugtrek).

Die babatjie het ‘n behoefte aan sy ma se aanraking. Trouens dis baie belangrik vir sy fisiese sowel as emosionele ontwikkeling. Dit is ‘n feit dat babatjies wat bv alleen in hospitaalbedjies of broeikaste le, nie so gou gesond word en nie so vinnig ontwikkel soos babatjies wat by die ma  bly nie.(onthou julle hoe ons hans- eendkuikentjies altyd kleiner was as die wat by die ma -eend was?)  Daarom word vroeggebore babatjies deesdae in ‘n tipe mensgemaakte buidel teen die ma se lyf gedra. Dis daardie blote fisiese kontak wat ‘n hemelbree verskil maak  aan die kindjie se ontwikkeling, fisies, emosioneel en intellektueel.

In hospitale en kinderhuise is selfs so ‘n sindroom te bespeur: die “inrigtingskind.” Kinders wat lang tye van babadae af in hospitale le, word emosioneel afgestomp, is minder intelligent en kan nie persoonlike verhoudings opbou nie.

Dit is natuurlik uiterste gevalle van kinders wat geen regte aandag en liefde van een persoon af kry nie en ek glo noudat mense van die probleem bewus is, word daar baie gedoen om dit te bekamp. So sal hulle dalk al die babas in dieselfde saal sit omdat dit makliker is om aandag te gee as een huil en omdat die babas mekaar kan sien en kommunikeer. Maar wag, ek dwaal nou te veel af.

Die punt wat ek wil maak, is dat die babatjie veilig en gekoester voel as hy hier langs sy ma le, en dat dit natuurlik en reg is dat dit so moet wees. Daarom slaap hy baie beter en word minder wakker.

Dit is vir die ma ook lekker en ‘n groot gerusstelling om haar babatjie so by haar te he. Borsvoeding is die heel maklikste sommer so in die bed met haar kindjie in haar arms. (Ek weet nou net nie wat as albei gelyk wil drink nie. Miskien weet ‘n tweeling-ma raad?) Die mamma slaap ook op haar lekkerste, want sy weet sy hoef nie bekommerd te wees dat sy nie haar babatjie sal hoor as hy wakker word, stik of een of ander probleem het nie. Sy sal NOOIT haar babatjie dood le nie, die instink om hom te beskerm is nou eenmaal te sterk.

Nou waarom beveg ons dit so sterk? Waarom glo ons die kind sal bederf raak as hy by sy ma wil wees? Die babatjie weet niks van  van allerlei sielkundige teoriee af nie – hy wil sy ma he en klaar. Dit is sy natuurlike primitiewe behoefte en dis ‘n behoefte wat ons maar kan bevredig. Jesus se : “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.” Markus 10:14 . As Jesus dan nie kindertjies wegwys nie, waarom wil ouers, as primere versorgers van hierdie selfde  kindertjies hulle dan wegwys as die kindertjies na hulle toe wil kom?

Jy sal NIE jou baba bederf deur hom naby jou te hou of by jou te laat slaap nie. Dit sal van hom ‘n gebalanseerde gelukkige mens maak, sterk in die wete dat sy behoeftes ook belangrik is.

Ek het natuurlik hierdie goed op die harde manier geleer, eers toe ek tydelik verlam was na ‘n motorongeluk( al weer) en nie self kon opstaan om jou uit jou wiegie te tel nie, Leanie. Dit was makliker om jou by my in die bed te hou.

Toe weer, toe jy ses maande oud was en ons na ‘n ander huis toe getrek het, het ons jou in jou”babakamer” laat slaap. Jy het sewe keer ‘n nag wakkergeword -elke nag! Jou pa het die slaap van die onskuldige geslaap, terwyl ek op en af gestrompel het in die donker gang.

(Ek wil nog eendag ‘n loflied skryf vir al die ma’s wat snags op en af skuifel in die gange van donker huise terwyl die res van die wereld slaap. Elke nag as die wereld gaan slaap, begin die ma’s met hierdie middernagtelike sagte gestrompel babakamer toe en terug , kinderkamer toe en terug, badkamer en kombuis toe en terug… Niemand praat ooit van die duisende skuifelende figure wat snags saggies die huise patroleer , en dan bedags moet fris sprankel en skitter nie.)

Dit laat my nou dink aan tannie Rina met haar vier seuns. Sy kom sit mos eendag by my so behaaglik agteroor en se:” Weet jy wat? Ek het gisteraand deurgeslaap! Die eerste keer in twaalf jaar!”

In elk geval, geen siel kan dit hou nie en een nag toe ek so vaak en moeg was dat ek net die baba teen die muur wou gooi en verder gaan slaap, het ek met jou in my arms bed toe gestrompel- en salig verder geslaap – en jy ook. Einde van die storie.

Die volgende dag is die cot terug langs my bed en die eerste keer wat jy wakker geword het nadat ek gaan slaap het, het ek jou ingetel en het ons albei rustig en in vrede verder geslaap. Oom Kleintjie glo vas dat die cot vir twee jaar lank net daar moet staan: langs die ma se bed.

Jy het een van twee opsies. Jy kan by jou babas slaap in hulle kamer op ‘n ekstra bed. maar dan is jy nie by jou man nie, of jy kan jou babas by jou in die bed tel EN by jou man wees. Die geheim is: Koop ‘n groot bed! Moenie die kinders tussen hom en jou sit nie, hou hulle aan jou kant, sodat hy nie so baie wakker word nie. Een troos: jy gaan nie koud kry met  jou man aan die een kant en ‘n tweeling aan die ander kant nie! En as hulle nie stil le nie, grom maar so liggies soos die mamma leeu.  Jy kan hulle ook saggies in die cot terugtel as jy voel jy het asem nodig, maar omdat die cot langs jou staan, hoef jy nie eers op te staan om dit te doen nie. Gou-gou raak jy dit gewoond om so te slaap, jou man en jou babas ook.

Dus terug na die fundamentele uitgangpunte: Die mens is nie gemaak om alleen te wees nie, soek fisiese aanraking en kontak. Die Bybel se hoeka: “As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is warm word?” Prediker4:11.  Hy praat waarskynlik van die huwelik, maar ook van die mens as geheel.

Moenie teen die prikkels skop nie, doen wat die gemaklikste en minste moeite is en die naaste aan die natuur: die “familybed”.  Gou- gou, hier by 2-5 jaar ouderdom, is die saamslapery iets van die verlede en het jy jou hele res van jou lewe om alleen saam met jou man te slaap.

Nou het ek genoeg geskryf. Kom ons sit en wag om te kyk of iemand hier lees en kommentaar skryf, want ek weet daar is baie verskillende uitgangspunte!

En dis rerig laat. Lekker slaap terwyl julle nog kan.

Baie liefde

Ma.

Om nr 4 te lees, klik hier.

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in ouma se bababoek ( ouerleiding). Bookmark the permalink.

13 Responses to Ouma se bababoek. Brief 3: Slapies by mamma?

  1. Twilight sê:

    Ek glo ook in saamslaap – een nag my oudste so “verloor”. Het hom geborsvoed in die bed en moes hom gaan terugsit het in sy wiegie. Toe ek wakker word, kon ek dit nie onthou nie en voel oral om my en toenemend meer paniekerig op die vloer rond. Later besef ek ek moet in die wiegie gaan kyk en daar slaap hy ewe rustig. Dit het my so laat skrik dat ek hom van toe af by my op die bed gehou het. En al die ander na hom is ook saamslapers gewees.

  2. Daar is ook al bevind dat babas wat saam met hulle ma’s slaap nie sommer slagoffers van wiegiedood word nie.

    Dit is nogal iets wat my baie amuseer. Met hoeveel liefde en sorg ‘n babakamer ingerig word en dan slaap die baba in elk geval by die ouers in die kamer vir ten minste die eerste 6 maande of meer.

    Die dae wat pa tog net nie gesteur moet word deur die baba wat hy help maak het, is ook verby. Deesdae is daar mans wat eintlik verkies om aktief by die baba betrokke te wees.

    Dit maak in elk geval vir my meer sin om die baba tussen die ma en die pa te laat slaap. So is daar aan twee kante ‘n buffer wat keer dat die baba van die bed afval. Ek kon nog nooit met ‘n teddiebeer reg deur die nag slaap nie. Dit het altyd op die vloer opgeëindig. Ek sien al hoe dit met ‘n baba ook gaan gebeur. Ek dink nie dat die klein asempie my skielik gaan leer om stil te slaap nie. Ek vertrou beskermingsinstinkte ook net so ver.

    • seegogga sê:

      Hallo Xena ! My eerste het so tussen ons geslaap, maar nr 2 en 3 het aan my kant geslaap, met die cot teen die bed om te keer dat hulle afval. Dit was omdat nr 2 so ‘n woelwatertjie was wat baie beweeg het in haar slaap, en my man moes hard werk bedags. Hierdie hele babakamer storie amuseer my net so. Maak jy dit reg vir die baba of om jou vriende te beindruk? Selfde storie met die kindjie se eerste verjaardag!

  3. toortsie sê:

    Wel, jy het nou vir my ‘n heel nuwe uitkyk oor die ding gegee. Jy kan net dink hoe goed het ek die pad in die donker geken na die 2ling se kamer wat albei op 3 uur voeding was!!! Ek het verkies om my kamer se bed leeg van kinders te hou, want ek het gevind die pa lê net soos hy wil en die kinders soos hulle, en dan is daar net geen plek meer oor vir my nie. Ek het dus by die babas gaan lê in die nag en kon later terugsluip as ek wou. so was pa en kinders gelukkig! maar die idee van ‘n groter bed (sommer ‘n kingsize) klink uitstekend!!

    • seegogga sê:

      Ek weet eerlikwaar nie hoe jy dit sou hou om elke 3 uur op te staan, te voed en weer terug te gaan nie! Gelukkig het jy daar ‘n bed gehad. Maar ek het nou aan ‘n tweeling-oplossing gedink. Sit een babatjie tussen die ouers en die ander aan die ma se kant. Jy kan hulle die volgende nag omruil. Soos hulle honger word, draai jy links en slaap verder en dan weer regs en slaap verder.Kanse is goed dat jy altwee tevrede sal kan hou deur net rond te rol ipv opstaan!

  4. toortsie sê:

    Met die tweeling het ek nog by die pa geslaap, heelnag. Dis eers met die laatlam dat ek so “slim” geword het om BY haar te gaan slaap! En dit was ook eers later – hier in die tandekrytyd

    • seegogga sê:

      Heelnag, dis noubehalwe elke 3 uur vir so ‘n halfuur lank……Sjoe! En jy lewe nog – en die 2ling ook! Dit moes moeilik gewees het|! ( ek moes lankal hierdie bababoek geskryf het sodat jy kon slaap kry!)

  5. seegogga sê:

    Hier is nou niks redenasies TEEN baba in die bed nie- miskien omdat ons as ma’s weet dit moet eintlik so wees? Een van die teoriee is dat die baba nie moet inmeng met die huwelik nie. ( nou hoe op aarde kan twee mense baba’s kry en hulle nie toelaat om in te meng nie? Is een van die doele van die huwelik nie juis om saam te kom ,vrugbaar te wees en te vermeerder nie?)
    Dit is egter so dat sommige mans jaloers word op die aandag wat die baba kry( ja siembamba, almal babas!). Die geheim is om nie die groot baba af te skeep nie, en ook nie die klein babatjie nie, dus maak dit ook vir my sin- die een baba(tjie) aan die een kant, en die ander(groot) een aan die ander kant. Dan moet albei mos gelukkig wees…..

  6. Terug pieng: Ouma se bababoek 2: Huilende babatjies en die bevrediging van behoeftes | Seegogga se Bloggie

  7. Terug pieng: My eie kamer | Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie

  8. netjane sê:

    Ek lees hierdie nou juis in een van daai dwalende oomblikke! Arjun het as Baba in sy eie kamer en bed geslaap, maar iewers as vroee kleuter in ons king size sy intrek geneem, maar toe skop die outjie ons flou! Gyan is op ‘n hibriede model, ek tel hom vir ‘n lekker snoesige slaap van so 4 uur af by ons in die bed. Ek vind net met baie klein babas is die doekruil ens makliker in hulle eie kamers?

  9. seegogga sê:

    Mm so daar is nou a ‘n tweede enetjie? Baie geluk! Met klein babas moet mens maar plekkie he vir doekomruil. Later het ek het die doek sommer so op die bed omgeruil en nog later glad nie, want hulle het meestal in die nag net gepiepie. Dan het ek net baba in die bed getel en verder geslaap terwyl hulle gedrink het. Maar elke kind verskil. My tweede enetjie het so gevroetel in die bed dat slaap maar onegalig was! Dan het ek haar soms weer terug getel in die wiegie langs my bed, as sy nou lekker slaap. Elke mamma moet maar doen wat vir haar die gerieflikste is met die minste slaapstoornis.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s