Brilsielkunde Deel 1

Dit was in st 5 toe ek agterkom ou Frannie kan baie beter as ek op die bord sien. Ek en sy het langs mekaar in die skoolbank gesit, en sy het altyd vir my gelees wat op die bord staan. Ek dag natuurlik dat sy besonder goeie oe het. Ek het nie vir een oomblik gedink dat daar dalk iets met my kon skort nie.

Toe kom die eksamen. Frannie mag nie help nie, en ek staan op om te gaan kyk wat Meneer op die bord geskryf het. Gou word ek uitgejou: Ek sit aan, ek probeer aandag trek, ek wil net wys ek’s slim…….Toe staan ek maar nie meer op nie, en skryf die grootste klomp tjol denkbaar…

Ek was heel trots toe ek almal kon verkeerd bewys en eendag met ‘n bril by die skool aankom. Min het ek geweet………

Net brildraers weet van die swaar gewig die heeltyd hier op jou neus; die bril wat gedurig teruggestoot moet word as hy afgly in die hitte omdat jou neus sweet; die glase wat toewasem as jy skielik van ‘n warm vertrek na buite gaan, of inkom, of in die kospotte loer, of sommer net omdat hulle lus het, die brilglase wat asvaal aanpak van die seelug; die bril wat skeef van jou neus afhaak as jy ‘n ou soen ( en as hy ook ‘n bril het haak julle brille mos aan mekaar vas), die bril wat soms wegraak, of nog erger – breek en dan’s jy gestrand……..

Hierdie mini- verhandeling  sonder enige wetenskaplike bewyse gaan egter oor my teorie – die teorie dat brildra die sosiale lewe van die individu negatief beinvloed. (As ek reg is, het Einstein ook jare lank sy relatiwiteitsteorie gehad voordat dit uiteindelik tog as waarheid bewys is…)

‘n Voorsmakie van hoe die bril jou wegskerm van mense, het gekom met die eerste groepfoto’s vir die skool se jaarblad. Daar staan ons hele groep toe, opgeline, en die fotograaf klik lekker. Op die foto is daar rye en rye pragtige jong adolessente, glimlaggend en vriendelik. Almal behalwe ek. Daar waar my oe moes wees, was twee wit kolle in ‘n donker raam. Die glase het die flash weerkaats, en die fotograaf het nie moeite gedoen om nog ‘n foto te neem nie.

Dit was die laaste keer dat ek ‘n foto met ‘n bril op laat neem het, maar dis ook nogal ‘n sigbare bewys van my teorie. Die glase  was ‘n SKERM tussen my gesig en die wereld , en die weerkaatsing het dit goed illustreer.. Sonder oe, is die gesig nie OOP nie, en kan iemand dus nie daardie gesig so goed SIEN nie, en dus nie so goed met hom KONTAK MAAK nie.

Daar is diegene wat met my sal verskil en se dat ‘n bril geen effek het nie en dat mense nie negatief teenoor brildraers reageer nie, en dat ‘n bril jou soms eintlik mooier maak. Dis die mense wat duidelik nooit gaan sokkie het met ‘n bril op nie.

As eerstejaar op Tukkies moes ons die bokjolle bywoon. Ek was ook baie lief vir dans . Maar net as iemand my vra! Daardie jare is baie meer vas as los gedans en wie wil nou soos ‘n muurblom die hele aand sit en hoop jy word gevra? Dit het altyd ‘n hele rukkie geduur voordat ek en my vriendin, ook ‘n brildraer, gevra is. Sodra die ouens dan agterkom dat ons lekker kan dans, is die saak reg en sit ons nooit weer uit nie. Maar hoe gemaak dat hulle ons kan vra?

Een aand besluit ons om sonder ons brille te gaan : Voila! Toe ons by die deur instap, word ons weggeraap op maat van die musiek. Toe begin ons eksperimenteer. Elke keer as ons ons brille op het, vat dit ‘n halwe aand om gevra te word.  Elke keer as ons sonder brille gaan, word ons dadelik gevra! ( Daar was immers niks verkeerd met ons “looks” nie!)

Vir die res van my Varsity loopbaan  het ek dus brilloos en blind gaan sokkie en gedans dat die stof so staan. Dit het baie goed gewerk in die skemer lig van die saal, behalwe nou vir ‘n paar klein insidente, soos die paar keer dat die ou my oor en oor moes vra omdat ek gedog het hy praat met iemand anders, of die keer toe ek gretig opgespring het, net om uit te vind die ou het die meisie langs my gevra, nie vir my nie!

So het ons brillose afsprake ook begin. Daar was kere wat ek in die fliek gesit het en alles mooi beluister het sonder om veel te sien- ek dink een van die flieks was nog die storie van Anne Bolyn.

En in my kop het die teorie begin broei.

Waarom vra die ouens jou nie as jy ‘n bril op het nie? As jy vir hulle daaroor uitvra, sal almal se dat hulle geen vooroordele teenoor brildraers koester nie. Maar hulle vra jou tog nie so maklik nie. Ek dink dis omdat hulle jou nie SIEN nie. Veral in die dowwe lig, kyk jy vir die blink van iemand se oe. Die oe is ‘n belangrike deel van die prentjie wat jou gesig vorm. Nou word jou gesig ‘op-geclutter” met ‘n bril. Die gesig is nie oop en skoon nie, maar vol clutter. Verder maak die glase die deel agter hulle byna onsigbaar vir die toeskouer. In plaas van helder duidelik gedefineerde oe, is dit dowwe goed, weggesteek agter glas wat reflekteer, of donkerder is , en alles valer en minder duidelik maak. In plaas van ‘n skoon, oop duidelike gesig met sy besondere trekke, is alles so half op een vlak, met min diepte, min spesifieke gesigskontoere en min oe. Dus kyk di toeskouer hom onbewustelik mis, en sien die helder , oop, goed gedefineerde gesig met die duidelike oe, langs jou, eerste raak. Dink net hoeveel moontlike liefdes is net daar gekelder- by die eerste mis-sien!

(En net ingeval julle nog twyfel: hoeveel mej Suid-Afrikas, mej Werelds  of enige ander skoonheidskompetisie wenner het jy al met ‘n bril opgesien? En hoeveel deelnemers aan so ‘n kompetisie het jy al met bril op sien deelneem? Niemand nie????? As byna die helfte van die wereld se mense bril dra, wil julle my nou vertel dat mense met swakker oë minder mooi is as mense met goeie oë??? Nie????  Nou hoekom neem hulle nie deel met hulle brille nie, hê? En sou hulle nou deelneem – wat sou hulle kanse gewees het om te wen met bril en al?)

Die glase is  ‘n skerm tussen jou en die persoon wat na jou kyk. Dit maak jou minder bereikbaar. Vgl bv ‘n olieverfskildery versus die waterverfskildery. Dit is heeltemal foutief om ‘n olieskildery agter glas te raam, nie net omdat hy niks sal oorkom sonder die glas nie, maar omdat die glas iets van die prent wegneem. Die glas is ‘n skerm tussen die toeskouer en die prent. Dis in die pad en bederf die kykgenot. Wel, ‘n bril is nog meer so.

Gereelde brildraers sal kan getuig dat hulle soms daardie skerm gebruik om agter weg te kruip. Hulle voel dan “kaal” sonder hulle bril. Hulle het gewoond geraak aan die veilige afstand wat die bril tussen hulle en hulle medemens skep. Sou daar verskille in hulle interpersoonlike verhoudings wees teenoor die wat nie bril dra nie? Ek wonder.

Maar genoeg vir een dag. Het julle gehoor van die student wat op ‘n blind date gegaan het en haar bril bo in die kamer gelos het? Toe sy onder  kom en die ou ontmoet, lyk hy vir haar na niks watwonders nie, en sy besluit dat hy nie die moeite werd is om voor blind deur die lewe te gaan nie. ‘Ag, verskoon my net gou ‘n oomblik?” vra sy en hol gou die trappe op om haar bril te gaan haal. Toe sy weer onder kom, sien sy dat hy nou ook sy bril opgesit het……

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in brilsielkunde. Bookmark the permalink.

3 Responses to Brilsielkunde Deel 1

  1. toortsie sê:

    Jou onwetenskaplike navorsing is HEELTEMAL korrek!!! en dit hoor jy van ‘n ander onwetenskaplike, wat weet van bril dra!!

  2. Ek dra van st 7 af ‘n bril. Ek is op geen manier die mees sosiale mens wat ek ken nie, maar ek was so nog voordat ek ‘n bril gedra het. 😉 Seker maar omdat ek ‘n stereotipiese brunet is: bril, nerd en al.

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s